Heerlike Hoenderschnitzels

Hoenderschnitzels uit die boonste rakke – heerlik bros buite-om en sappig van binne.

Soos gesê, ek het nooit die diepvetbraaiding gedoen nie, maar nou dat ek ontdek het hoe om diepvetbraai met “airfry” en bitter min olie te doen, smul ek tog te lekker saam. En telkens staan ek verras met die eindresultaat. Iets in krummels gerol en gebraai kan maar bitter gou verkeerd uitdraai – kurkdroog met krummels wat afval of ‘n melerige gedoente. Maar na ‘n hele paar eksperimente in die Instant Vortex Airfryer het ek nou die kuns vervolmaak om die perfekte schnitzel binne ‘n ommesientjie te maak. Die geheim is om die filette eers goed te verkoel voordat jy dit gaarmaak sodat die krummels goed kan vaskleef. Dan verf jy dit liggies oraloor met ‘n dun-dun lagie olie. Belangrik ook is dat die filette in ‘n enkellaag in die laaitjie moet lê sodat dit eweredig goudbruin kan braai en vir die res sal die Instant Vortex Airfryer sorg – ‘n brosgebraaide korsie met sappige hoender binne, want binne slegs 10 min (of selfs minder) is die schnitzels gaar, so kans vir uitdroog is min.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Verkoeling: 30 min
Gaarmaak 10 min

HOENDER
4 hoenderborsfilette
Sout en peper
Mengsel van bruismeel en mielieblom
1 eier, geklits
Broodkrummels-en-sesamsaadmengsel
Olie
BYKOS
12—16 baba-aartappels
Gerasperde suurlemoenskil
Baba-tamaties aan die tak, indien verkies

1 HOENDER Sny ‘n paar kepe in die hoenderfilette en kap platter met die agterkant van jou handpalm. Geur met sout en peper. Rol in die meelmengsel, doop in eiergeel en rol dan in die broodmengsel. Plaas die hoender vir te minste ‘n halfuur in die yskas sodat die krummelmengsel goed kan kleef aan die hoender.
2 BYKOS Meng intussen die aartappels met ‘n klein bietjie olie en plaas in die laaitjie van die Instant Vortex Airfryer. “Airfry” vir 20 minute of totdat die aartappels bros en gaar is, draai om in die middel van die gaarmaaktyd. Rasper ‘n suurlemoen se skil oor.
3 Plaas die tamaties vir 2 minute in die Instant Vortex Airfryer en airfry tot ingekrimp en die velletjie net begin bars. Hou eenkant.
4 Verf die hoenderschnitzels alkant met olie en plaas die filette langs mekaar in die laaitjie van die Instant Vortex Airfryer. Airfry vir 10 minute of tot die hoender net gaar en brosbruin buite-om is (draai halfpad om).
5 Sit die hoenderschnitzels voor met die brosgebraaide aartappeltjies en gebarste tamaties.

Wil jy graag jou eie Instant Vortex Airfryer hê? Beskikbaar by @Home of Takealot.

‘n Nuwe manier van kook

Ek het julle seker nou lank genoeg aan ‘n lyntjie gehou oor waarmee ek doenig is in die kombuis.

En hier is dit nou – die CARMEN NIEHAUS COOKING TEA COLLECTION.

Twee bokse met my noukeurig uitgesoekte teeseleksie uit die Carmien-teereeks waarmee ek heeldag en aldag lank in die kombuis kook. Ek noem dit my “spice cupboard in a tea bag”!

Pleks van rye botteltjies speserye, staan daar boksies Carmién Tee in my speserykas waarmee ek graag eksperimenteer. Dit vra vir ‘n ietwat nuwe manier van kook met die geur en goedheid wat meestal saam met jou vloeistof by die kos ingemeng word, maar niks weerhou jou ook om die teesakkie se inhoud fyn te maal in ‘n stamper en vysel en dan nes ‘n gewone speserymengsel te gebruik nie.

Met die unieke rooibosteemengsels in die Carmién-teereeks kry mens die lekkerste geure en goedheid uit ‘n sakkie tee gebrou. Ek gebruik dit om vleis in gaar te maak, heerlike soppe mee te kook, selfs ‘n seekossop, in slaaisouse, poedings, noem maar op… ek bak ook al te graag daarmee.

In my reeks is daar tans twee bokse: die Floral & Fruity-boks bevat ‘n verskeidenheid tees met gewilde parfuumagtige blom- en vrugtegeure terwyl die Spice It Up-boks bestaan uit ‘n seleksie tees met sterk speserygeure wat sorg vir oemf en geurontploffings.

Gewapen met hierdie unieke kombinasie tees het jy niks ander geurgoed buiten miskien sout nodig nie. Die goedheid en geurigheid alles knus verpak in ‘n teesakkie.

Om jou touwys te maak hoe om met hierdie tees te kook is daar ook in elke boks ‘n reseptekaart vir elke tee met die allerlekkerste resep wat vir seker deel gaan word van jou “go to” resepversameling.

Beskikbaar by die Carmién Tee tee winkel by De Tol en op hul aanlyn winkel hier.

Lekker Bros Sonder Olie

Ek was nog nooit een vir enige diepvetgebraaide kosse nie, want ek kon net nie my gewete verby die feit kry dat die kos alles in olie gaargemaak word nie. Ja, die brosserigheid is heerlik, maar die skuldgevoel het die lekkerte oorheers. So vir jare lank het ek enige diesulke geregte bloot net vermy. Maar nou het daar vir my GROOOT uitkoms gekom – ‘n Instant Vortex air fryer, ‘n lekker grootte met ‘n 5.7 liter volume.

Die oulike masjientjie het knus ‘n staanplek tussen die broodrooster en ketel op my werksbank gekry, want anders as so baie ander masjienerige goed, is hierdie vierkantige airfryer mooi sag op die oog en kan maar heeldag lank in die oopte bly staan waar dit handig te pas kom, selfs al wil jy sommer net gou ‘n broodrolletjie opwarm.

En so het my liefdesverhouding begin – ek wat nooit maar nooit tjips wou gaarmaak nie, maak gereeld nou ‘n lekker groot bondel bros tjippes saam met ons Vrydagaand-hamburgers of klein bros aartappeltjies saam met Sondag se braaiboud.

Wat hierdie airfryer anders as ander maak is dat dit ‘n gemaklike reghoekige uittreklaai het, nie ‘n mandjie nie. Nie alleen is dit baie groter nie, dit maak ook soos ‘n droom skoon met glad niks wat vasbrand nie!

Wat my die meeste verbaas het, is die spoed waarteen die braaiertjie voorverhit – 2 min en dis by 205°C en die kos is ook binne ‘n ommesientjie gaar. Waak net daarteen om die laaitjie nie te oorlaai nie, maar regtigwaar, hy vat lekker baie op ‘n slag. Ek gooi deesdae beet en klein uitjies sommer so met skil en al in die laaitjie en binne 20 minute is dit al gaar. Jy het ook glad nie ‘n graad nodig om die airfryer te werk nie – die “touch screen” is eenvoudig en maklik verstaanbaar en daar’s verskeie programme wat jy kan gebruik. Ek het al bykans alles getoets, moet nou nog net ‘n koek of wat daarin ook uitprobeer, want ja, jy kan tot bak daarin. Moet sê, dis net per geleentheid en wanneer ek regtig groot moet kook wat ek deesdae my oond aanskakel. Verder doen ek alles wat voorheen ‘n oond (en diepvetbraaier) benodig het in my nuwe lugbraaiertjie. Teen R2 599 is dit regtig goeie waarde vir geld! Beskikbaar by @Home of Takealot.

Geniet Grenache

Grenache-wyne is tans die wyn van die oomblik, tog was dit vir lank glad nie geag nie. Gepars van druiwe wat afkomstig is van ou bosttokke, sal al wat wynmaker is egter nou hul oogtande gee om van hierdie druiwe in die hande te kry.

Die familie-wynkelder, Piekenierskloofwyne, is bevoorreg om die enigstes te wees wat steeds redelike hektare ou bosstok-grenache het op hul plase, Bergendal en Heidedal wat geleë is in die Piekenierskloofarea. Dié bosstokke is desjare terug nog aangeplant deur my pa, Carel van Zyl. Dit besit nou die prestige status as Ou Wêreldse Wyne. Hiermee word daar tans pryswennerswyne gemaak deur die talentvolle wynmakers, Jaco van Niekerk en Hendrien Vercuiel.

Piekenierskloof het onlangs ‘n heerlike wynproe op Riebeeck-Kasteel gehou waar hulle vir die uitgelese Baronne-wynklub van Gauteng, ‘n unieke Grenache-ervaring gebied het. Ek en die wynmaker, Jaco van Niekerk, het koppe bymekaargesit om vir elke wyn ‘n passende happie te maak wat nie net gespreek het tot die geurprofiel van die wyn nie, maar ook kosbare familie-herinneringe verteenwoordig het.

DIE SPYSKAART

Aarbei-slaai met prosciutto, bokkaas, spekboom en roket met ‘n aarbei-rooibos-vinaigrette en okkerneut-pralienkrummel oorgesprinkel
PIEKENIERSKLOOF GRENACHE WILHELMINA MCC (binnekort beskikbaar op die Piekenierskloof aanlyn winkel.)

Romerige filotertjies met olywe en pietersielie-en-suurlemoen-gremolata, afgerond met gekarameliseerde rooi uie
PIEKENIERSKLOOF GRENACHE BLANC 2021

Waterblommetjie-tempura met Thai-doopsousie
PIEKENIERSKLOOF GRENACHE ROSÉ 2021

Ta Martie’s hoenderpastei
CAREL VAN ZYL GRENACHE NOIR OLD VINE 2018

Marrokaase rafellamsboud op aartappel-rôsti
PIEKENIERSKLOOF TANNAT 2020

Dubbellaag sjokolade-vanielje-kaaskoek met bessiesous
PIEKENIERSKLOOF GRANACHE 2020

‘n Happie en wyn wat veral heelwat kommentaar uitgelok het was die Bolandse lekkerny, waterblommetjies, wat saam met die Grenache Rosé, wat lekker droog is met vars aarbei- en bessiegeure en roosondertone, voorgesit is.

Waterblommetjies het ruimskoots in die damme van die oorspronklike Van Zylplaas, Paardekop gegroei. Destyds is dit fyngekook met baie suurlemoensap en witpeper en voorgesit as toekos op die Sondagtafel. Vir die happie is die waterblommetjies slegs geblasjeer en hierdie varsheid het die varsheid van die Grenache Rosé goed gekomplementeer met die verrassende effense byt in die sousie goed geblus deur die rosé.

WATERBLOMMETJIE-TEMPURA MET THAISE SOUSIE

TEMPURA
250 ml (1 k) bruismeel
Knippie sout
160 ml (⅔ k) koue vonkelwater
10 ml (2 t) olie
2 eierwitte
WATERBLOMMETJIES
500 g waterblommetjies, harde blaartjies en stingel verwyder en geblansjeer
Olie vir diepvetbraai
THAISE SOUSIE
2 knoffelhuisies, gerasper
1—2 ontpitte brandrissies, gekap
15 ml (1 e) suiker
Sap van 1 lemmetjie
50 ml vissous
50 ml water

1 TEMPURA Meng die bruismeel en sout, voeg die water en olie by en klits goed tot glad. Laat een uur staan.
2 Klits die eierwitte styf net voor jy dit benodig en vou dit by die beslag in.
3 WATERBLOMMETJIES Doop die waterblommetjies in die beslag en diepvetbraai in sarsies in warm olie tot goudbruin. Dreineer op haddoekpapier en sit voor saam met die Thaise sousie.
4 THAISE SOUSIE Maak die knoffel en brandrissie fyn saam met die suiker in ‘n stamper met ‘n vysel. Voeg die lemmetjiesap, vissous en water by en meng goed.

Romerige Kerriehoender met Groen Rys

Ons eet gereeld kerrie in die huis – meestal geskoei op die matige aromatiese kerries soos ek by die kosfoendi, Cass Abrahams nog geleer het. By haar het ek ook geleer wat die waarde is om met jogurt te kook – amper om romerigheid by kos te voeg sonder om ‘n gereg ryk te maak. So in my yskas is daar altyd ‘n houer jogurt en ek meng dit ruimskoots by al wat gereg is in, hetsy in ‘n bredie of maak sampioensous daarmee of selfs slaaisous. In hierdie kerrie smaak dit hemels.

ROMERIGE KERRIEHOENDER MET GROEN RYS

Die kerriehoender is so halfwas geskoei op botterhoender. Doodmaklik om te maak, jy kan selfs net alles bymekaargooi, in die oond druk en daarvan vergeet.

Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaak: 20 min

JOGURTMENGSEL
500 ml (1 k) romerige jogurt
45 ml (3 e) aangemaakte nat kerriepasta
5 ml (1t) fyn komyn
15 ml (3 t) tamatiepasta
10 ml (2 t) bruinsuiker
10 ml (2 t) mielieblom
HOENDER
30 ml (2 e) olie
1 ui, fyngekap
3 cm-stuk gemmer, gerasper
3 knoffelhuisies, fyngedruk
1 kaneelstok
2 steranys (opsioneel)
8 hoenderborsfilette, in stukke gesny of hoenderporsies soos dytjies en boudjies
Groot hand vol koljanderblare vir bo-oor

1 JOGURTMENGSEL Meng al die bestanddele saam en hou eenkant.
2 HOENDER Verhit die olie en roerbraai die ui, knoffel en gemmer tot sag en geurig, voeg die heel speserye by.
3 Geur die hoender met sout en peper en braai in sarsies tot bruin.
4 Giet die jogurtmengsel oor, verlaag die hitte en prut tot die hoender sag en gaar en die sous lekker dik is. Sprinkel die koljanderblare oor en sit voor met die groen rys (sien resep onder).

Wenk: Vervang helfte van die jogurt met ‘n klein blikkie klappermelk
Roer ‘n blikkie kekerertjies of botterbone teen die einde by die hoender om dit meer te maak.

GROEN RYS: Meng 500 ml (2 k) gaar basmati-rys met 2—3 gekapte stingeluie, ’n goeie handvol gekapte vars koljander, basiel en ment en die gerasperde skil van 1 suurlemoen

Vinnige kerriemengsel: Meng 10 ml (2 t) garam masala, 15 ml (1 e) blaarmasala, 5 ml (1 t) geroosterde masala of selfs brejani-masala en gebruik dit pleks van die nat kerriepasta.

Veelsydige Biscotti

Ek het nou al vertel van die eindelose teedrinkkuiers wat ons gereeld saam met my ma op die noordestoep van haar huis meemaak. Noudat ek en my gesin teen die Weskus bly en permanent van die huis af werk, knyp ons, soos ons skedules dit toelaat, soms ook graag ‘n tydjie af om op die stoep te sit vir ‘n wyle en die uitsig oor die Langebaanmeer te geniet. Dan maak ons tee in mooi glaspotjies, hou dit warm op ‘n kersie-staander en geniet dit saam met ‘n beskuitjie of wat. Baie keer egter, maak ek sommer die teepot op my lessenaar staan waar ek dan daglank daaraan kan teug. Carmien se Earl Grey, gemaak met groen rooibos is my gunsteling oggendtee-drankie, ek geniet dit selfs ook soms met ‘n bietjie melk. Soos die son begin water trek, slaan ek oor na Carmien se Orange Camomile, ook gemaak van groen rooibos en ideaal om jou te help ontspan. Onthou, dat as jy hierdie tees se subtiele geure ten beste wil geniet, jy dit by 60° moet drink. Heeeerlik! Spesiaal vir ons stoepkuiers, bak ek hierdie biscotti – die resep is lekker veelsydig en jy kan verskeie soorte van sjokolade- amandel – tot gemmerbiscotti maak.

VEELSYDIGE BISCOTTI

Ek hou van biscotti wat sonder botter gemaak word.

Maak 15-20 biscotti
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 25 min
Uitdroogtyd: 20 min

160 ml (⅔ k) suiker
3 ekstragroot eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
5 ml (1 t) bakpoeier
knippie sout
500 ml (2 k) koekmeel

BYVOEGING
100 g pistasieneute, grof gekap
100 g bosbessies

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n bakplaat
1 Klits die eiers en suiker tot lig en romerig. Klits die vanieljegeursel by.
2 Sif die droë bestanddele by en meng goed deur die eiermengsel. Voeg enige van die byvoegings by (sien ook variasies).
3 Vorm in ‘n bol en plaas op ‘n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Werk met klam hande, want die deeg kan effe taai raak.
4 Verdeel die deeg in twee gelyke dele en vorm in twee ovaalvormige broodjies. Plaas op die gesmeerde bakplaat.
5 Bak 25 minute tot effens bruin en ferm. Laat omtrent 10 minute op die bakplaat afkoel.
6 Sny dan in dun diagonale skyfies van omtrent 5 mm met ‘n riffeltandmes.
7 Verlaag die oondtemperatuur tot 160°C. Pak die biscotti-skyfies in ‘n enkellaag op ‘n draadrakkie op ‘n bakplaat. Bak 10 minute aan elke kant tot droog.
8 Laat goed afkoel en bêre in ‘n lugdigte houer.

VARIASIES
Sjokolade-biscotti: Vervang 125 ml (½ k) van die koekmeel met kakao en die pistasieneute en bosbessies met gekapte pekanneute.
Amandelbiscotti: Vervang die totale hoeveelheid neute en bosbessies met heel amandels.
Gemmerbiscotti: Vervang die totale hoeveelheid neute en bosbessies met gekapte ingemaakte gemmer.

Smullekker kaaskoek vir raakvatter vroue

Augustus is vrouemaand en vir al die raakvattervroue in ons land wil ek almal graag bederf met my groot gunsteling: kaaskoek, gebakte kaaskoek. Ek het verskeie gunstelingresepte, maar die een wat ek aan die Weskus geproe het, bly nog my gunsteling. Die koek word lank en stadig gebak wat dit ‘n heerlike romerige tekstuur gee, al kry die koek self nie enige room in nie, ek gebruik ‘n kombinasie van maaskase. Dis ook nie so soet nie. Sedertdien gebruik ek dit as basis vir verskeie maniere van kaaskoek voorsit. Ek geniet veral die variasie met die sjokoladelagie bo-op (sien variasie vir ‘n tweekleurkoek).

KORS
250 ml (1 k) koekmeel
100 g koue botter, gerasper
125 ml (1/2 k) gekapte pekanneute
Bietjie yswater indien nodig

VULSEL
3 bakkies (230 g elk) gladde maaskaas, geroomde maaskaas en roomkaas
25 ml (5 t) mielieblom
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
3 ekstra-groot eiers
2 eiergele
180 ml (3/4 k) suiker
Knippie sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 23 cm losboompan

1 KORS Meng die meel en botter goed in ‘n voedselverwerker tot die soos broodkrummels lyk (of vryf die botter met jou vingerpunte in). Voeg die neute by en voeg net genoeg water by om ‘n stywe deeg te maak. Druk vas onder en halfpad teen die kante van die pan, prik die kors en verkoel. Bak 5 minute.
2 VULSEL Plaas al die bestanddele vir die vulsel in ‘n bak en meng tot glad. Giet in die kors. Verlaag temperatuur tot 100° C. en bak 1½ uur lank tot net gaar, maar steeds effe drillerig in die middel. Skakel die oond af en laat afkoel in die oond. Verkoel tot benodig

Variasie: vir tweekleurkoek: Verdeel die klaargemengde vulselmengsel in twee en voeg 60 ml (¼ k) kakao by een deel. Giet die wit mengsel in die kors en giet die kakaomengsel versigtig bo-op. Bak soos beskryf.

Ander soort kors: Meng 45 m (3 e) bruinsuiker met 250 ml (1 k) fyngekapte neute, 180 ml (3/4 k) hawermout en 125 ml (1/2 k) gesmelte botter en 1 effe geklitste eierwit.

Opgepofde Omelet

‘n Eier ‘n dag, laat die dokter wag – as ek nou maar die gesegde so effe kan verdraai, want die Suid-Afrikaanse department van gesondheid se dieetriglyne ondersteun die feit dat mens eiers daagliks in matige hoeveelhede kan eet. Nie net is dit ‘n goeie bron van kwaliteit-proteiene nie en onversadigde vette nie, dit bevat ook ‘n hele verskeidenheid ander nutriente wat help om die liggaam se immuniteitsisteem te ondersteun.

‘n Paar jaar terug tydens die gewilde realiteits-kookreeks, Kokkedoor, wat op Prins Albert geskiet is, het ek ‘n paar maal as beoordelaar opgetree. Ons het altyd in die prentjiemooi Dennehof-gasteplaas op die buiterant van die dorp oorgebly. Soggens is ons bederf met die heerlikste ontbyt onder die bome op die dek waaronder die leiwater kabbelend deurvloei. Pofferige omelet gemaak met 3 eierwitte met ‘n eiergeel deurgemarmer, was my gunsteling. Op Langebaan sit ons dit baie keer as ‘n groot tafelomelet voor wanneer ons laatoggend op die stoep kuier. Dan gebruik ek sommer eierbokse as plekmatjies as ons die tafel mooi wil dek.

RESEP

Genoeg vir 2 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: 5 min per omelet

VULSEL 1
1 klein ui (rooi of bruin), in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk.
olyfolie
100 g sampioene, in skyfies gesy
15 ml (1 e) basiliepesto
3-4 skyfies camembertkaas of selfs wit Cheddarkaas

VULSEL 2
4 baba-tamaties
olie
Sout en peper
15 ml (1 e) songedroogde tamatiepesto
Groot handvol baba-spinasie en/of gekapte koljanderblare
1 wiel feta-kaas

OMELET
6 eierwitte
olyfollie
2 eiergele
Sout en peper

1 VULSEL 1 Braai die ui en knoffel tot sag en gaar in bietjie olyfolie, voeg die sampioene by en braai tot bruin. Roer die pesto by. Skep uit.
VULSEL 2 Braai die tamaties in bietjie verhitte olie tot net effe gebars, Geur met sout en peper en roer die pesto deur. Skep uit.
2 OMELET Verhit ‘n kleefvrye pannekoekpan, verhit ‘n bietjie olyfolie daarin.
3 Klits die eierwitte styf, skep helfte in die pan en maak gelyk met ‘n spatula. Giet helfte van die eiergeel in ‘n dun straaltjie oor die eierwit.
4 Braai tot die omelet gaar van onder is en nie meer vassit aan die pan nie (die kante sal begin optrek).
5 Keer versigtig om met ‘n eierspaan en braai tot die anderkant ook net gaar is
6 Skep vulsel van jou keuse op, pak kaas op, vou toe en verhit tot net effe gesmelt. Sit dadelik voor.
7 Doen die tweede omelet op dieselfde manier.

Smullekker Groentebakkies

Smulkos in ‘n bakkie

Die voorraad peulgroente, sade, pitte, neute, allerhande soorte ryse en grane word by die dag groter in my koskas. So ook die groenteverskeidenheid in die groentelaai. Juis nadat ek dieetkundige, Liezel Engelbrecht se gesondheidsbrokkie oor rooivleis gelees het, het ek opnuut besef dat meeste van ons sal moet afskaal aan die hoeveelheid vleis, rooivleis veral, wat ons eet.

“Flexitarian” is die nuwe gonswoord, maw plantgebaseerde maaltye maak deel uit van jou eetplan en jy eet vleis per geleentheid.

Omdat hierdie neiging net groter en groter word, het ek die afgelope tyd baie geekspreimenteer met plantkosse. En ek geniet dit. Dis so ‘n barmhartige manier van eet, want die kosse is so bereid om hande te vat en is so ontvanklik vir al wat geur is. Die groot geheim is dus dat jy jou geurprofiele moet ken en nie skaam moet wees met geurgoed byvoeg nie. Verder beïndruk die verskillende teksture my ook telkens – die kombinasies van bros met sag en romerig is net ongelooflik. En dan is daar natuurlik die wonderlikste kleure van die groente wat jou net uitnooi om te eet!   

Knus langs my kombuisdeur het daar onlangs ‘n soetrissie-plantjie opgeslaan. Ek het nie gedink dit sou die Weskuswind oorleef nie, maar tog, toe ek my weer kom kry, hang dit vol blinkskil soetrissies. Party het ek groen geoes, ander langer laat hang tot hulle mooi rooi geskyn het. En dan maak dit die lekkerste bakkies waarin jy vir elkeen sy eie etetjie kan berei. Jy kan egter ook tamaties of eiervrug gebruik as bakkies, andersins gewoon net ‘n mooi keramiekbakkie. Hier is drie verskillende vulsels wat jy kan inskep.

RESEP

  • Genoeg vir 4—6 mense
  • Bereiding: 20 min
  • Gaarmaak: 30 min

BESTANDDELE

  • 4—6 rooi soetrissies vir elk van die vulsels

MET GRAANKOS

  • 250-500 ml (1-2 k) kokende groenteaftreksel
  • 250 ml (1 k) koeskoes, bulgur, sorghum of selfs bruin-basmati-rys
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 4 stingeluie, gekap
  • Olie
  • 5 ml (1 t) fyn komyn
  • 2 ml (1/2 t) fyn koljander
  • 125 ml (1/2 k) sultanas of gekapte Turkse appelkosies, geweek
  • 125 ml (1/2 k) gekapte neute
  • 60 ml (1/4 k) gekapte koljanderblare

MET RICOTTA EN SAMPIOENE

  • 230 g gemengde sampioene, opgekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • ¼ rooi ui, gekap
  • Olie
  • 5 ml (1 t) suurlemoesap
  • 225 g ricotta- of geroomde maaskaas
  • Sout en peper na smaak
  • Geroosterde sonneblomsade en mikro-kruie vir oorsprinkel

MET SPINASIE EN KEKERERTJIES

  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • Olie
  • Groot handvol baba-spinasieblare
  • 100 g songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
  • 1 blik (40 g) kekerertjies, gedreineer
  • 10—12 swart olywe, ontpit en grof gekap

VOORSIT

  • Ekstra sade, neute en kruie vir oorsprinkel

VOORBEREIDING

  • Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n bakplaat.
  • Sny die stingelent-kop van die soetrissies af en hou eenkant. Sny die wit kerngedeeltes uit.

GRAANKOS

1 Giet gelyke hoeveelhede aftreksel oor die koeskoes of bulgur en laat staan tot goed uitgeswel, vlok met ‘n vurk. (Kook die sorghum en rys in minstens dubbel die hoeveelheid aftreksel tot sag en dreineer.

2 Roerbraai die knoffel en ui in die verhitte olie tot sag, voeg die speserye by en roerbraai effens tot die geure goed gemeng het.

 3 Voeg die uiemengsel saam met die droëvrugte, neute en kruie by die koeskoes of bulgur. Geur met sout en peper.

MET RICOTTA

1 Roerbraai die sampioene, knoffel en ui in verhitte olie tot sag. Roer by die kaas in en geur met sout en peper.

MET SPINASIE EN KEKERETJIES

1 Roerbraai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag. Voeg die spinasieblare en songedroogde tamatie by en meng. Roerbraai tot die spinasie verwelk is. Roer die kekerertjies en olywe by.

OM TE BAK: Skep enige van vulsels in die soetrissie-magies, plaas die “deksel” terug en pak op die bakplaat. Bak sowat 20—30 minute of tot die soetrissie net sag is. Sprinkel sade, neute en kruie oor soos verkies en sit warm voor.

Woensdag Wenke: Hoeveel rooivleis eet jy?

Liezel Engelbrecht, geregistreerde dieetkundige, gesels hierdie week oor rooivleisinname en ander proteïenbronne. Besoek haar webtuiste of konnekteer met haar op Facebook en Instagram.

Gesondheidsvraag: Hoeveel rooivleis eet jy?

Hoewel rooivleis ‘n goeie bron van proteïen is (dit bevat ongeveer 21g per 90g gekookte porsie) en ook ander voedingstowwe soos yster, vitamien B12 en sink bevat, beveel die Wêreldkankernavorsingsfonds aan dat ons nie meer as 500 g rooivleis per week eet nie, wat verwerkte vleis (soos wors en kouevleis) insluit.

As jy dus van rooivleis hou kan dit beslis deel vorm van ‘n gesonde eetpatroon, maar navorsing wys dat oormatige inname daarvan die risiko van gesondheidsprobleme soos hartsiektes en kanker kan verhoog. Boonop weet ons almal teen die tyd dat dit ook sleg is vir die planeet om oormatige hoeveelhede vleis en ander dierprodukte te eet. Gelukkig is daar ‘n wonderlike verskeidenheid van hoë-proteïen kosse om van te kies.

Hier is ‘n paar plantbronne* om te probeer:

  • 1 koppie gekookte lensies = 16g
  • 1 koppie gekookte bone (bv. kekerertjies) = 14g
  • 2 eetlepels (30g) hempsade = 12g
  • 1 koppie gekookte quinoa = 10g
  • 100g tofu = 8g
  • 2 eetlepels (30g) lynsade = 7g
  • 2 plat eetlepels (30g) grondboontjiebotter = 7g
  • 1 koppie ertjies = 7g
  • 30g neute (bv. amandels) = 6g

Ander dierbronne van proteïene*:

  • 90g gekookte hoender = 21g
  • 90g gekookte vis = 21g
  • 1 blikkie gevlokte tuna = 24g
  • 1/2 koppie (125ml) maaskaas = 14g
  • 1 koppie jogurt (250ml) = 12g
  • 1 koppie melk (250 ml) = 8g
  • 1 eier = 7g

Het jy geweet?

  • Lensies en boontjies word beskou as styselagtige proteïene, maar dit is uitstekende veselbronne, iets waarvan die meeste van ons nie genoeg kry nie. Dit help boonop om jou meer versadig te laat voel.
  • Buiten proteïene bevat neute en sade ook vet, maar wees gerus dat dit onversadigde vette is, dus dié tipe wat as gesonder beskou word as versadigde vette van diere. Beide neute en sade is ook goeie bronne van vesel.
  • Die meeste groente en stysel bevat klein hoeveelhede proteïene (2-3 g per porsie), so saam met die ander plantproteïenbronne is dit is dus beslis uitvoerbaar om genoeg proteïene in te neem met eetpatroon oorwegend plantaardige dieet.

*Benaderde waardes. Kan verskil van tussen handelsmerke en variante.

Sjokoladerol

Ek is altyd daarop uit om te kyk hoe ek resepte gesonder maar steeds lekker kan maak – maw om meeste sleg uit ‘n gereg te haal sonder om die lekker op te offer. Hierdie sjokoladerol is eintlik te goed om waar te wees – dis koringvry, suikervry en bykans vetvry, maar smaak hemels, ‘n tipiese lekkergoed-resep (maw dis lekker, maar ook goed vir jou).

Deesdae verkies ek erythritol, ‘n suiker-alkohol wat nie in die bloedstroom opgeneem word nie, maar bykans net so uitgeskei word en ook in die keto-dieet gebruik kan word, as suiker-plaasvervanger. Dit werk goed in gebak. Andersins gebruik xylitol of as suiker jou nie pla nie, gebruik dieselfde hoeveelheid strooisuiker.

SJOKOLADEROL SONDER SONDE
Maak 12-15 snytjies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 20 min

VIR DIE SJOKOLADEROL
6 groot eiers, geskei
150 g erythritol (lae kilojoule suiker-plaasvervanger)
50 g kakao
Knippie sout
125 ml (½k) fyn amandels

VIR DIE VULSEL
375 ml (1½ k) natuurlike jogurt
50 g suikervrye donker sjokolade (80 %), gesmelt
100 g vars bessies

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n rolkoekpannetjie met kossproei en voer uit met bakpapier. Spuit weer en stuif liggies met kakao.

1 Klits die eiergeel en erythritol saam tot lig en romerig.

2 Vou die kakao, sout en fyn amandels in.

3 Klits die eierwit in ‘n skoon bak met ‘n skoon eierklitster tot styf, roer bietjie by die eiergeelmengsel in en vou die eiergeelmengsel dan by die eierwit in.

4 Giet in die rolkoekpan, maak gelyk en bak 20 minute tot sponserig in die middel.

5 Keer uit op ‘n vadoek, trek die papier af en rol op in die vadoek. Koel af.

6 VULSEL Meng 60–125 ml van die jogurt by die sjokolade in en meng goed.

7 Smeer die sjokoladesmeer oor die rolkoek en smeer van die jogurt bo-op. Pak van die bessies op en rol weer op.

8 Rond af met ‘n smeersel sjokoladesmeer bo-op en versier met bessies. Stuif kakao oor.

Woensdag Wenke: Kook met Knoffel

Knoffel, wat aan die uie-familie behoort, gee heerlik ‘n geur aan kos, maar indien dit verkeerd aangewend word, kan dit ‘n branderige, partykeer selfs bitter smaak kry. Die branderigheid sit in die middelste baie keer groenerige “steeltjie” en mens kan dit verwyder. Maar as jy die knoffel reg voorberei en byvoeg, gaan daardie effense brand jou nie veel meer pla nie.

1 Rasper die knoffel pleks van om dit fyn te kap met ‘n mes – gebruik ‘n skerp mikrorasper (Microplane) en rasper die knoffel, sommer met skil en al daarop, oor die kos in (vars gemmer werk net so goed so). Dis nie net baie minder moeite nie, maar gee ook kleiner, sagter (amper pastarige) stukkies wat veral maklik by delikate geregte soos bv. ‘n slaaisous of alioli sal inmeng.

2 Voeg die knoffel heel by – druk met jou handpalm op die platkant van ‘n mes op die knoffel – dit bars oop en jy kan maklik die velletjie verwyder. Voeg die heel knoffelhuisie by terwyl jy kook en verwyder dit voor opdiening.

3 Moenie te vroeg byvoeg nie – knoffel is delikaat en as jy dit te vroeg byvoeg teen te hoë hitte soos bv by ‘n roerbraai, kan dit brand en selfs ‘n effense bitter smaak kry. Voeg halfpad deur die kookproses by of andersins wanneer jy begin vloeistof byvoeg.

4 Maak ‘n pasta – plaas die geskilde knoffelhuisies saam met bietjie sout in ‘n stamper en vysel en maak fyn tot ‘n pasta (as jy kerrie maak, kan jy sommer die gemmer ook hierby fynstamp). Voeg halfpad deur kookproses by die kos.

Brejani

Ek hou van geregte wat lekker, maar nie te sterk, gegeur is. Veral die kosse uit die Maleise kookkultuur is my kos, want daar word met soveel respek met die speserye en kruie omgegaan. ‘n Stappie deur die Bo-Kaap met sy kleurvolle huisies is altyd ‘n wonderlike ervaring en ‘n besoek aan die speserywinkel ‘n hoogtepunt, waar ek my kan verloor in al die wonderlike smake, geure en kleure van die speserye. Gelukkig was ek in my jare as kosredakteur by Huisgenoot geseënd met kosassistente wat goed bekend was met die Maleise kookkultuur en ons is eerstehands touwys gemaak, tot in roti’s rol en en dhaltjies maak.

Pricilla Petersen, een van my eerste assistente in die kombuis, het ons baie keer vergas op die heerlikste kerries wat sy sommerso ongesiens uit oorskiet in die kombuis aanmekaar geflans het. Maar ek het my hart verloor op brejani. Uit die Wenresepte-posbus het daar gereeld heelparty lekker brejani-resepte op my tafel geland, maar dis hierdie resep van Priscilla wat vir my die maklikste bly om te maak. As ek baie mense moet kosgee, val ek gereeld hierop terug.

BREJANI
Genoeg vir 6—8 mense
Bereidingstyd: 15 minte
Marineertyd: 20—30 minute
Gaarmaaktyd: 45 minute

MARINADE
5 ml (1 t) birjani-heelspeserymengsel
15 ml (1 e) birjani-masala
10 ml (2 t) garam masala
5 ml (1 t) droë brandrissievlokkies
1 stuk pypkaneel
2 lourierblare
125 ml (½ k) natuurlike jogurt

HOENDER
8 hoenderporsies, kleiner gesny indien verkies
Sout na smaak

UIEMENGSEL
30 ml (2 e) olie
1 ui, fyn gekap
15 ml (1 e) gerasperde gemmerwortel
1 groen soetrissie, fyn gekap
4 knoffelhuisies, fyngestamp of gerasper
60 ml (¼ k) gekapte koljanderblare

RYS EN LENSIES
500 ml (2 k) gaar basmati-rys
250 ml (1 k) gaar lensies

AFRONDING
30 ml (2 e) botter
Groot handvol koljanderblare

VOORSIT
3 hardgekookte eiers, afgedop en in kwarte gesny (opsioneel)
Roti’s (opsioneel)
Gekapte tamatie-en-uie-sambal

1 MARINADE Meng al die bestanddele vir die marinade saam. Geur die hoender met sout en giet die marinade oor. Maak seker die hoenderporsies is goed bedek. Marineer 20—30 minute.
2 UIEMENGSEL Verhit die olie in ‘n groot diep kastrol en braai die ui, gemmerwortel en soetrissie daarin tot sag. Voeg die koljanderblare en knoffel by.
3 Giet 160 ml (⅔ k) kookwater in die kastrol en voeg die hoender met die marinade by. Verlaag die hitte, bedek en prut sowat 30 minute lank of tot die hoender gaar is.
4 AFRONDING Skep twee derdes van die hoender uit. Skep nou ‘n laag rys en dan ‘n laag lensies bo-op die hoender in die kastrol. Herhaal die lae en stip met botter. Bedek en laat 10 minute stoom oor lae hitte sodat die geure lekker kan deurtrek.
5 Strooi die koljanderblare oor en sit voor met die eierkwarte en roti’s (indien verkies) en tamatie-en-uiesambal.

Geurprofiel

Kook in ‘n geurbaan: MIDDE-OOSTERS EN AFRIKA-GEURPROFIEL

Om sake vir my in die kombuis te vergemaklik het ek oor jare vir my verskillende geurprofiele saamgestel van watter produkte in sekere wêrelddele ruimskoots gebruik en saamgesit word om spesifieke geure te skep.

Die een geurprofiel waarop ek bykans daagliks terugval omdat ek so baie daarvan hou om met speserye te kook (en te bak) is die aardse dog aromatiese geure van Afrika en die Midde-Ooste. Speserye, neute en droëvrugte word ruimskoots gebruik in Arabiese, Turkse en Marrokaanse kos en vorm die basis van hierdie geurprofiel. As mens in hierdie geurbane kook, hoef jy jou nie te verlaat op die rigiede gebruik van resepte uit verskillende lande nie, maar kombineer die bestanddele in die verskillende afdelings, van proteiene, stysel, groente en vrugte na hartelus en geur dit vernuftig met die geure uit hierdie ryk speserykas.

PROTEÏEN
Rooivleis: lam, vark, maalvleis, wild en afval
Vars vis en seekos
Pluimvee: hoender, eend, wilde voëls, hoenderlewers
Suiwel: maaskaas, fetakaas, jogurt, labneh (vars jogurtkaas)
Hoendereiers

STYSEL
langkorrelrys, bulgurkoring, koeskoes, quinoa, semolina, fillodeeg, platbrode, pitabrode

GROENTE EN VRUGTE
Groente: botterskorsie, pampoen, wortels, beet, patats, aartappels, soetrissies, eiervrugte, artisjokke, uie, radyse, kopkool, murgpampoentjies, uie, preie, tamaties, Libanese komkommers, blaarslaai
Vrugte: sitrusvrugte, appelkose, perskes, granate, dadels, vye, waatlemoene, kwepers

KOSKAS
Peulgroente: kekerertjies, botterbone, rooi nierbone, lensies
Sade en neute: pampoenpitte, sonneblompitte, papawersade, sesamsade, amandels, okkerneute, pistachioneute, dennepitte
Geurmengsels van speserye en/of kruie: za’atar, chermoula, harissa, ras el hanout
Ander: druiwe- en wynasyn, olyfolie, heuning, olywe, ingemaakte pekelsuurlemoene, dadels, rosyne, korente, droëappelkose, droëvye, pruimedante, bosbessies, hummus, tahini, lemoenbloeiselwater en rooswater, granaatstroop

KRUIE
pietersielie, ment, koljanderblare, knoffel, brandrissie, roosmaryn

SPESERYE
kaneel, koljander, komyn, anys, gemmer, mosterd, kardamom, saffraan, sumak (dit het ’n suurderige smaak)

Ribbetjie

Ribbetjie, stadig oor die kole gerooster spel vir my ontspan uit. Dan skink jy vir jou ‘n glasie van Piekenierskloof Wines se Six Hats Shiraz daarby en geniet die oomblik. Six Hats chiraz is ‘n fantastiese braaiwyn en die volryp pruim-, swartbessie-, speserygeure en varsgemaalde swartpeper pas veral lekker by hierdie ribbetjie met sy donker soetsuursous.

In my jare as kosredakteur by die land se grootste tydskrif, het ek ‘n meningte der menigte resepte vir braairibbetjie ontvang. Varkribbetjie bly my gunsteling, veral as dit kwistig gesmeer word met hierdie soetsuursous gemaak met basies net drie bestanddele: suurlemoen, heuning en sojasous.

Selfs tydens die inperking kan jy Piekenierskloof se wyne aanlyn bestel en dit sal nadat die inperking opgehef is, afgelewer word. Piekenierskloof het egter ook nie-alkoholiese wyn, Six Hats de-alcholised red, wat net so lekker by hierdie ribbetjie sal gaan en dis dadelik beskikbaar.

SOETSUUR-BRAAIRIBBETJIE MET SIX HATS
Genoeg vir 4—6 mense

SMEERSEL
90 ml (6 e) suurlemoensap
gerasperde skil van 1 suurlemoen
90 ml (6 e) heuning
45 ml (3 e) sojasous
6—8 knoffelhuisies, fyngedruk
3—5 ml (1/2 – 1 t) Chinese 5-speseyepoeier (opsioneel)

VARKRIB
1 groot varkrib van sowat 2 kg
3 uie, geskil en in stukke gesny

suurlemoenskyfies om mee voor te sit
1 SMEERSEL Meng al die bestanddele.
2 RIBBETJIE Vra die slagter om waar nodig deur die been te saag sodat jy die rib in ribbetjies kan sny.
3 Sny ook die swoerd van die ribbetjie af indien dit nog aan is. Keep die vetkant in ‘n diamantpatroon in. Geur die ribbetjie alkant met sout en peper en smeer die smeersel oor. Marineer 2—4 ure.
4 Pak die uie in ‘n oondpan en plaas die ribbetjie bo-op.
5 Voorverhit die oond tot 190°C en oondbraai sowat 45 minute lank tot sag en gaar. (Braai 45—60 minute oor matige kole) Smeer gereeld met die smeersel en draai om.
6 Sny in ribbetjies, smeer die vleiskante ook met smeersel en oondbraai vinnig tot bros by 230°C of braai vinnig die sykante oor die kole. Sit voor saam met baie suurlemoen en geniet ‘n glasie Six Hats Chiraz of de-alcholised red daarby. Ekself verkies om die Six Hats de-alcholized red verkoel te drink.

Speedy Stirfry

Na jare as bekroonde kosredakteur by die vrouetydskrif, Rooi Rose, het Vickie de Beer en haar gesin na Nederland verhuis na die dorpie, Woerden. Loer vandag na my stories waar sy meer vertel oor haar nuwe lewe in Nederland, haar dagverloop en loopbaan as kosskrywer, stilis en fotograaf. Sy deel ook graag ‘n heerlike resep uit haar nuutste boek, Low Carb Express.

“You can use any combination of vegetables. I sometimes buy a packet of pre-cut stir-fry veggies to save time. A few carrots here and there will not push the carb count up too significantly, so it is a great solution for a quick dinner.” – Vickie De Beer

Woensdag Wenke: Outydse Bonesop

Hier is die bonesop waarvoor julle gevra het. Gaan kyk ook in Huisgenoot, 1 Julie 2021 vir nog 7 heerlike soppe. Wintertyd is daar altyd verskeie sakkies droë bone in my koskas om sop mee te kook, maar as ek haastig is, gebruik ek sommer gebliktes.

OUTYDSE BONESOP
Lewer 3,5 – 4 liter sop
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 1½ uur

• 500 g beesstowevleis, in stukke gesaag
• Sout en peper
• olie
• 1 ui, grof gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 1 prei, in ringe gesny
• 2 groot wortels, geskil en in ringe gesny
• 10 ml (2 t) wonderpeperkorrels (piment)
• 10 ml (2 t) heel geroosterde koljandersaad (of 5 ml (1 t) fyn)
• 5 ml (1 t) heel naeltjies
• 2—3 lourierblare
• 2 blikke (400 g) botterbone
• 2 blikke (400 g) rooibone
• 2 L (8 k) beesvleisaftreksel
• sout en vars gemaalde swartpeper
• gerasperde skil van 1-2 suurlemoene
• groot handvol gekapte pietersielie

1 Geur die stowevleis met sout en peper en braai bietjie vir bietjie tot bruin in ‘n groot pot. Skep uit.
2 Braai die ui, knoffel, prei, wortel en speserye in bietjie olie in dieselfde pot. Voeg die vleis weer by asook die lourierblare.
3 Giet die vleisaftreksel oor en kook tot geurig en tot die vleis murgsag is.
4 Voeg soos nodig aftreksel of water by. Voeg die bone saam met hul vloeistof die laaste halfuur by.
5 Geur ruimskoots met die sout, peper. Sprinkel lekker baie suurlemoenskil en pietersielie oor.

Wenk: Week 500 ml (2 k) droë bone (suikerbone en nierbone) in kookwater vir ‘n uur of oornag in koue water, dreineer. Plaas in ‘n pot, bedek met koue water en kook tot sag. Voeg by die groentemengsel en gebraaide vleis en kook verder tot ‘n geurige dik sop.

30 Dae Muffins

Almal ken die immerbekende 30-dae-muffin resep waarvan jy die mengsel aanmaak en in die yskas hou en dan net daarvan bak soos jy nodig kry. Die aanvanklike resep het gewemel van die suiker en die olie. Ek het oor jare rondgespeel met die resep, die suiker en olie verminder en ook bietjie hawermout ingewerk by die mengsel. Vir ekstra goedheid gebruik ek Carmien Tea se Citrus Chai rooibostee pleks van die oorspronklike kookwater. Dit gee tegelykertyd ook ‘n sagte spesery- en sitrusgeur aan die muffin.

Pleks van middelslag muffins bak maak ek baie keer superkleintjies en bak dit in patty pan pannetjies. ‘n Strooisel neute bo-op verrig wonders en maak ‘n heerlike proehappie daarvan.

Carmién, in samewerking met die Mouton Foundation en internasionale tee-maatskappy, Teekanne, het ook verlede jaar ‘n gesonder leef-program, Taste the Good Life, kook gesond, leef gesond, aan plaaswerkers uitgerol. Ek was bevoorreg om deel te wees van die span en het ‘n reeks kookklasse aangebied waar almal tog te lekker saamgekook het. Hierdie muffinresep was ‘n treffer onder die deelnemers.

30 DAE MUFFINS
Maak 40 middelslag muffins
Bereiding: 15 min
Baktyd: 15—20 min

BAKMENGSEL
• 6 x 250 ml (6 k) semels
• 250 ml (1 k) hawermout
• 500 ml (2 k) sterk Carmién-Citrus Chai rooibostee, gemaak met 4 sakkies
• 250 ml (1 k) olie
• 160 ml (⅔ k) bruinsuiker
• 4 eiers, geklits
• 1 liter (4 k) laevet natuurlike jogurt
• 25 ml (5 t) koeksoda
• 500 ml (2 k) verkieslik klipgemaalde koekmeel
• 500 ml (2 k) verkieslik klipgemaalde volkoringmeel
• 10 ml (2 t) sout

BYVOEGINGS
• Gekapte gemengde droévrugte, gekapte neute, grof gekapte appel, piesangs, of gerasperde wortels

1 BAKMENGSEL Meng die semels en hawermout met tee. Voeg die olie by en laat effens afkoel. Voeg dan die suiker, eiers en 750 ml (3 k) van die jogurt by meng.
2 Meng die res van die jogurt met die koeksoda en voeg by.
3 Voeg die droë bestanddele by en meng deur.
4 Skep die mengsel in ‘n groot bak of skoon flesse, maak toe en plaas in die yskas tot benodig.
5 VIR BAK Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 12 holtes van ‘n muffinpan goed.
6 Voeg sowat 80 ml (⅓ k) van enige van die byvoegings by 500 ml (2 k) van die beslag en skep die muffinholtes twee derdes vol.
7 Bak sowat 20–30 minute tot gaar, afhangende van die grootte van die muffin. Laat effens afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel. Sit voor met gerasperde kaas of biltong.

Hoenderschnitzel

In my huis is hoenderschnitzel gereeld op tafel. Selfs Vrydagaande wat tradisioneel hamburgeraand is, maak ek ‘n hoenderschnitzel vir my dogter wat sy dan saam met skywe pynappel en gekarameliseerde uie op ‘n hamburgerbroodjie geniet.

In my jare as Huisgenoot se kosredakteur het ek die land deurkruis. Een onvergeetlike reis was ‘n weeklange besoek aan die wildlodges net buite die Kruger-wildtuin. Ons is soos konings getrakteer en ek het selfs die voorreg gehad om in ‘n mikroligte vliegtuig (microlite) al oor die Klaseri-wildreservaat te vlieg. Jy sien die seekoeie in die rivier baai en kyk ver in die niet.

Dis ‘n belewenis om so half van oor jou voete wat hier langs die tuig afhang, te sien hoe die son in ‘n vuurbol agter die horison sak. Nie dat ons juis foto’s van hierdie uitstappie gehad het nie. Die fotograaf se kamera het by foto 3 besluit genoeg is genoeg en net daar gevries!

By ‘n wildlodge buite Phalaborwa is hierdie heerlike gereg aan ons voorgesit waar die schnitzels in ‘n tamatiesmoor gebak is met lekker baie kaas bo-oor.

SCHNITZEL
8 hoenderborsfilette
Suurlemoensap
Sout en peper na smaak
Helfte mielieblom en koekmeel
Geklitste eier
Droë broodkrummels en/of sesamsade
Botter en olie gemeng

GROENTE
2—3 eiervrugte, in lang skywe gesny
8 murgpampoentjies, in lang skywe gesny
olie

SOUS
2 rooiuie, gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
1 blik (400 g) gekapte tamaties
50 ml tamatiepesto of tamatiepasta
125 ml (1/2 k) wit wyn
gerasperde skil van 1 suurlemoen
knippie suiker
20 swart olywe

AFRONDING
250 ml (1 k) suurroom of Griekse jogurt
250 ml (1 k) gerasperde Mozzarella-kaas

Voorverhit die oond tot 200°C (400°C).

1 Plaas die hoenderborsfilette tussen 2 velle kleefplastiek en kap platter met die agterkant van jou handpalm. Besprinkel liggies met suurlemoensap en geur met sout en peper.
2 Meng die mielieblom en koekmeel in ‘n plat bord. Plaas die eier in ‘n ander bord en die broodkrummelmengsel in ‘n ander.
3 Rol die hoender in die mielieblommengsel, dan in eier en dan in die broodkrummelmengsel. Plaas in die yskas en verkoel 20 min.
4 Smeer ‘n bakplaat met bietjie botter en olie en pak die hoender bo-op. Verf met olie bo-oor en bak tot bruin sowat 10 min.
5 GROENTE Pak die eiervrug en murgpampoentjies op ‘n bakplaat, verf met olie en bak tot net gaar.
6 Soteer die ui in bietjie olie tot sag, voeg res van die sousbestanddele buiten die olywe by en prut tot geurig.
7 AFRONDING Giet die sous in ‘n bak, voeg die groente en olywe by en pak die hoender bo-op.
8 Meng die suurroom of jogurt en kaas, giet oor en bak sowat 20 minute of tot deurwarm en die kaas gesmelt is. Sit voor met ‘n groenslaai.

FluweelPoeding

Dis min dat mens kon sê dat jy van koshuiskos gehou het, maar soms het ons in Huis Brandwag op Citrusdal fluweelpoeding op ‘n PostToastie-kors vir poeding gekry. Hemels! (sien die wenk hoe om te maak)

My skoonma, Suzie Niehaus, was ‘n skoonma duisend met ‘n ruimhartige hart. In die outehuis waar sy haar laaste jare deurgebring het, is al die inwoners gereeld trakteer met ‘n tuisgebakte broodjie van haar. Ons self is ook telkens verras met ‘n vars gebakte brood wat ons ingewag het as ons laataand saans van die werk af tuis gekom het.

So kom dit toe ook dat sy elke Sondag by ons kom eet…en sy bring die poeding. Geen spesiale reëlings of wat nie, sy trotseer self die stadsverkeer en bring waarop sy besluit het. Sy het elkeen se smake so goed geken, dat daar tot afsonderlik vir elkeen poeding gemaak is, net soos hy of sy daarvan hou.

My man hou bv. nie juis van gebakte bruinpoedings nie, so fluweelpoeding met sy melkpapbasis was ‘n gewilde keuse. Ons het gesmul. Sagopoeding en ryspoeding het net so gereeld van onder daardie bekende bruin-en-geel geblomde doek verskyn, gemaak in ‘n liggroen erdeskottel, al vol krakies binne van ouderdom.

Ek het vandag nog daardie skotteltjie en bewaar dit soos ‘n kleinood.

Genoeg vir 6—8 mense
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 25 min

125 ml (½ k) suiker
200 ml koekmeel
2 ml (½ t) sout
4 eiers, geskei
1 liter (4 k) warm volroommelk
10 ml (2 t) vanieljegeursel
25 ml (5 t) appelkooskonfyt
125 ml (½ k) strooisuiker

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n groterige oondvaste bak met botter of spuit met kossproei. (Andersins spuit 6—8 oondvaste bakkies).
1 Meng die suiker, koekmeel en sout.
2 Klits die eiergele tot lig, voeg die melk en geursel by, voeg die koekmeelmengsel bietjie vir bietjie by en klits tot goed gemeng.
3 Giet in ‘n dikboomkastrol en verhit oor lae hitte terwyl gedurig geroer word tot die mengsel begin prut en gaar is.
4 Giet in die voorbereide bak of bak(kies) en maak gelyk bo-op. Bak 15—20 minute.
5 Smelt die konfyt in die mikrogolfoond en smeer bo-oor.
6 Klits die eierwitte tot skuimerig, voeg die strooisuiker lepelsgewys by en klits tot styf.
7 Skep bolle oor die gebakte vla en bak sowat 5 minute by 220°C of tot die meringue net effe verbruin bo-op.

Wenk: Berei ‘n kors met 200 g PostToasties wat fyngedruk is en met sowat 100 g gesmelte botter gemeng is. Druk vas onderin die bak(kies).

VARIASIE: Sagopoeding: week 200 ml sago in bietjie water tot sag. Kook in 750 ml (3 k) melk tot sag. Laat effe afkoel en roer die suiker, sout en eiergele by. Skep in die bak(kies) en berei verder soos beskryf.

Ryspoeding Gebruik 500 ml (2 k) melk en 250 ml (1 k) room. Los die meel uit en voeg die suiker, ongeskeide eiers en 2 ektstra eiergele, sout by en klits goed. Voeg 500 ml (2 k) gaar rys en 3 ml (ruim ½ t) kaneel of die gerasperde skil van 1 lemoen by. Skep in bakkies en bak sowat 40 minute tot gestol. Sit voor met heuning of stroop. Selfs vrugte wat in ‘n ligte speserystroop gestowe is, sal lekker hierby smaak.