Lekker Bros Sonder Olie

Ek was nog nooit een vir enige diepvetgebraaide kosse nie, want ek kon net nie my gewete verby die feit kry dat die kos alles in olie gaargemaak word nie. Ja, die brosserigheid is heerlik, maar die skuldgevoel het die lekkerte oorheers. So vir jare lank het ek enige diesulke geregte bloot net vermy. Maar nou het daar vir my GROOOT uitkoms gekom – ‘n Instant Vortex air fryer, ‘n lekker grootte met ‘n 5.7 liter volume.

Die oulike masjientjie het knus ‘n staanplek tussen die broodrooster en ketel op my werksbank gekry, want anders as so baie ander masjienerige goed, is hierdie vierkantige airfryer mooi sag op die oog en kan maar heeldag lank in die oopte bly staan waar dit handig te pas kom, selfs al wil jy sommer net gou ‘n broodrolletjie opwarm.

En so het my liefdesverhouding begin – ek wat nooit maar nooit tjips wou gaarmaak nie, maak gereeld nou ‘n lekker groot bondel bros tjippes saam met ons Vrydagaand-hamburgers of klein bros aartappeltjies saam met Sondag se braaiboud.

Wat hierdie airfryer anders as ander maak is dat dit ‘n gemaklike reghoekige uittreklaai het, nie ‘n mandjie nie. Nie alleen is dit baie groter nie, dit maak ook soos ‘n droom skoon met glad niks wat vasbrand nie!

Wat my die meeste verbaas het, is die spoed waarteen die braaiertjie voorverhit – 2 min en dis by 205°C en die kos is ook binne ‘n ommesientjie gaar. Waak net daarteen om die laaitjie nie te oorlaai nie, maar regtigwaar, hy vat lekker baie op ‘n slag. Ek gooi deesdae beet en klein uitjies sommer so met skil en al in die laaitjie en binne 20 minute is dit al gaar. Jy het ook glad nie ‘n graad nodig om die airfryer te werk nie – die “touch screen” is eenvoudig en maklik verstaanbaar en daar’s verskeie programme wat jy kan gebruik. Ek het al bykans alles getoets, moet nou nog net ‘n koek of wat daarin ook uitprobeer, want ja, jy kan tot bak daarin. Moet sê, dis net per geleentheid en wanneer ek regtig groot moet kook wat ek deesdae my oond aanskakel. Verder doen ek alles wat voorheen ‘n oond (en diepvetbraaier) benodig het in my nuwe lugbraaiertjie. Teen R2 599 is dit regtig goeie waarde vir geld! Beskikbaar by @Home of Takealot.

%d bloggers like this: