‘n Nuwe manier van kook

Ek het julle seker nou lank genoeg aan ‘n lyntjie gehou oor waarmee ek doenig is in die kombuis.

En hier is dit nou – die CARMEN NIEHAUS COOKING TEA COLLECTION.

Twee bokse met my noukeurig uitgesoekte teeseleksie uit die Carmien-teereeks waarmee ek heeldag en aldag lank in die kombuis kook. Ek noem dit my “spice cupboard in a tea bag”!

Pleks van rye botteltjies speserye, staan daar boksies Carmién Tee in my speserykas waarmee ek graag eksperimenteer. Dit vra vir ‘n ietwat nuwe manier van kook met die geur en goedheid wat meestal saam met jou vloeistof by die kos ingemeng word, maar niks weerhou jou ook om die teesakkie se inhoud fyn te maal in ‘n stamper en vysel en dan nes ‘n gewone speserymengsel te gebruik nie.

Met die unieke rooibosteemengsels in die Carmién-teereeks kry mens die lekkerste geure en goedheid uit ‘n sakkie tee gebrou. Ek gebruik dit om vleis in gaar te maak, heerlike soppe mee te kook, selfs ‘n seekossop, in slaaisouse, poedings, noem maar op… ek bak ook al te graag daarmee.

In my reeks is daar tans twee bokse: die Floral & Fruity-boks bevat ‘n verskeidenheid tees met gewilde parfuumagtige blom- en vrugtegeure terwyl die Spice It Up-boks bestaan uit ‘n seleksie tees met sterk speserygeure wat sorg vir oemf en geurontploffings.

Gewapen met hierdie unieke kombinasie tees het jy niks ander geurgoed buiten miskien sout nodig nie. Die goedheid en geurigheid alles knus verpak in ‘n teesakkie.

Om jou touwys te maak hoe om met hierdie tees te kook is daar ook in elke boks ‘n reseptekaart vir elke tee met die allerlekkerste resep wat vir seker deel gaan word van jou “go to” resepversameling.

Beskikbaar by die Carmién Tee tee winkel by De Tol en op hul aanlyn winkel hier.

%d bloggers like this: