Geniet Grenache

Grenache-wyne is tans die wyn van die oomblik, tog was dit vir lank glad nie geag nie. Gepars van druiwe wat afkomstig is van ou bosttokke, sal al wat wynmaker is egter nou hul oogtande gee om van hierdie druiwe in die hande te kry.

Die familie-wynkelder, Piekenierskloofwyne, is bevoorreg om die enigstes te wees wat steeds redelike hektare ou bosstok-grenache het op hul plase, Bergendal en Heidedal wat geleë is in die Piekenierskloofarea. Dié bosstokke is desjare terug nog aangeplant deur my pa, Carel van Zyl. Dit besit nou die prestige status as Ou Wêreldse Wyne. Hiermee word daar tans pryswennerswyne gemaak deur die talentvolle wynmakers, Jaco van Niekerk en Hendrien Vercuiel.

Piekenierskloof het onlangs ‘n heerlike wynproe op Riebeeck-Kasteel gehou waar hulle vir die uitgelese Baronne-wynklub van Gauteng, ‘n unieke Grenache-ervaring gebied het. Ek en die wynmaker, Jaco van Niekerk, het koppe bymekaargesit om vir elke wyn ‘n passende happie te maak wat nie net gespreek het tot die geurprofiel van die wyn nie, maar ook kosbare familie-herinneringe verteenwoordig het.

DIE SPYSKAART

Aarbei-slaai met prosciutto, bokkaas, spekboom en roket met ‘n aarbei-rooibos-vinaigrette en okkerneut-pralienkrummel oorgesprinkel
PIEKENIERSKLOOF GRENACHE WILHELMINA MCC (binnekort beskikbaar op die Piekenierskloof aanlyn winkel.)

Romerige filotertjies met olywe en pietersielie-en-suurlemoen-gremolata, afgerond met gekarameliseerde rooi uie
PIEKENIERSKLOOF GRENACHE BLANC 2021

Waterblommetjie-tempura met Thai-doopsousie
PIEKENIERSKLOOF GRENACHE ROSÉ 2021

Ta Martie’s hoenderpastei
CAREL VAN ZYL GRENACHE NOIR OLD VINE 2018

Marrokaase rafellamsboud op aartappel-rôsti
PIEKENIERSKLOOF TANNAT 2020

Dubbellaag sjokolade-vanielje-kaaskoek met bessiesous
PIEKENIERSKLOOF GRANACHE 2020

‘n Happie en wyn wat veral heelwat kommentaar uitgelok het was die Bolandse lekkerny, waterblommetjies, wat saam met die Grenache Rosé, wat lekker droog is met vars aarbei- en bessiegeure en roosondertone, voorgesit is.

Waterblommetjies het ruimskoots in die damme van die oorspronklike Van Zylplaas, Paardekop gegroei. Destyds is dit fyngekook met baie suurlemoensap en witpeper en voorgesit as toekos op die Sondagtafel. Vir die happie is die waterblommetjies slegs geblasjeer en hierdie varsheid het die varsheid van die Grenache Rosé goed gekomplementeer met die verrassende effense byt in die sousie goed geblus deur die rosé.

WATERBLOMMETJIE-TEMPURA MET THAISE SOUSIE

TEMPURA
250 ml (1 k) bruismeel
Knippie sout
160 ml (⅔ k) koue vonkelwater
10 ml (2 t) olie
2 eierwitte
WATERBLOMMETJIES
500 g waterblommetjies, harde blaartjies en stingel verwyder en geblansjeer
Olie vir diepvetbraai
THAISE SOUSIE
2 knoffelhuisies, gerasper
1—2 ontpitte brandrissies, gekap
15 ml (1 e) suiker
Sap van 1 lemmetjie
50 ml vissous
50 ml water

1 TEMPURA Meng die bruismeel en sout, voeg die water en olie by en klits goed tot glad. Laat een uur staan.
2 Klits die eierwitte styf net voor jy dit benodig en vou dit by die beslag in.
3 WATERBLOMMETJIES Doop die waterblommetjies in die beslag en diepvetbraai in sarsies in warm olie tot goudbruin. Dreineer op haddoekpapier en sit voor saam met die Thaise sousie.
4 THAISE SOUSIE Maak die knoffel en brandrissie fyn saam met die suiker in ‘n stamper met ‘n vysel. Voeg die lemmetjiesap, vissous en water by en meng goed.

%d bloggers like this: