Oukersaand Paella

Ek weet eintlik nie hoe dit gebeur het nie, maar op Oukersaand was daar altyd paella op die spyskaart in ons huis op my opgroeiplaas, Bergendal, op die berg by Citrusdal.

Ons het eers om die kersboom vergader, my pa het die kersverhaal gelees (ek onthou van een jaar wat ons kinders selfs ‘n moedige poging aangewend het om die kersverhaal op te voer, nogals met ‘n ster aan ‘n draad wat gespan was oor die lengte van die sitkamer en moeisaam getrek is om die plek waar Jesus gebore was, aan te dui.

In ons sitkamer was dit digby die kersboom, langs die klavier). Stille Nag is gesing en dan was dit tyd vir presente oopmaak. Kort duskant middernag het ons eers eetkamer toe verkas vir die paella.

Vandag nog is dit ‘n instelling in ons huis. Toentertyd het al die seekos uit ‘n blik gekom, vandag maak ek dit met vars vis en seekos, behalwe dat ek vind dat ‘n blikkie of twee gerookte mossels tog ‘n heerlike geur gee aan die paella.

Genoeg vir sowat 6 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaaktyd: 30–45 min

1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 geel en rooi soetrissie, in blokkies gesny olie
500 ml (2 k) rou rys, goed afgespoel
3 ml (ruim ½ t) borrie
5–10 ml (2 t) paprika
Sout en peper
Sowat 1 liter (4 k) hoenderaftreksel
1 chorizo-worsie, in stukkies gesny
2 hoenderborsies, in stukkies gesny
Botter en olie
500 g seekosmengsel, ontdooi en goed gedreineer (sien ook wenk)
Sap en skil van 1 suurlemoen
2 blikkies gerookte mossels
250 ml (1 k) bevrore ertjies, ontdooi
200 g steurgarnale (opsioneel)
250 g vars mossels

1 Braai die ui, knoffel en soetrissie in verhitte olie in ‘n groot kastrol of pan tot sag. Voeg die rys by en meng deur. Voeg die speserye by en giet die aftreksel oor. Verhit en kook tot die rys bykans sag en meeste vloeistof verdamp het. Voeg meer vloeistof by indien nodig.

2 Verhit bietjie botter en olie in ‘n pan en braai die worsie en hoender tot sag en gaar, geur met sout en peper. Voeg by die rysmengsel.

3 Verhit nog olie in die pan, druk die seekosmengsel goed droog en roerbraai tot net gaar. (ek gebruik altyd twee Chinese stokkies om mee te roer, dit voorkom dat die seekos onnodig stukkend steek). Geur met sout en peper en suurlemoensap. Voeg by die rysmengsel. Voeg die gerookte mossels met olie en al asook die ertjies by die rysmengsel en meng liggies deur.

4 Braai die steurgarnale indien verkies in dieselfde pan tot hulle net pienk verkleur. Geur met ‘n skoot suurlemoensap.

5 Pak saam met die mossels in halwe skulpe op die rysmengsel, bedek, verlaag die hitte en stoom tot die ertjies en mossels warm is.

Wenk: Haal die krapstokkies uit as jy seekosmengsel gebruik. Pleks van seekosmengsel kan jy vars calamaribuise en –tentakels gebruik. Onthou net dit word blitsig gaar.

Speserykoekies

Vroeër die week kom laai die koerier ‘n pakkie by my huis in Langebaan af. Binne-in ‘n bruinkartondoos mooi toegebind met lint en tou. Ek herken dadelik die netjiese handskrif. Dié van Arina du Plessis. Jare lank al kosredakteur van die uiters gewilde kostydskrif, Landbouweekblad Boerekos.

Saam met die nuuste steruitgawe gelaai met resepte en informasie wat alles handel oor hoe om geur in jou kos te sit , is daar klein pakkies vol speserye: kardemom, neutmuskaat, wonderpeper, heel kaneelstokke en borriewortel. Maar dis die bakkie keurig verpakte koekies daarby wat my oog vang – speserykoekies. My mond water dadelik, want ek weet mos Arina is ‘n baasbakster van formaat – dié het sy al deur en deur bewys toe ons nog sy aan sy in Huisgenoot se toetskombuis gewerskaf het.

Ons deel dieselfde liefde vir die plaaslewe en het ‘n diepe respek vir alles wat van die plaas af kom. In haar kombuis toor sy met die rou bestanddele en skep keer op keer wonderlike geregte, lekker en geurig, maar ook maklik om te maak. Daarvoor het sy einde verlede jaar die toonaangewende Galliova-toekenning as kosskrywer van die jaar ontvang. Welgedaan Arina!

My speserykoekies pak ek uit op ‘n kaasbord met verskeie kase, charcuterie, vars vrugte (van die plaas natuurlik) en heel vrugtekonserf om voor te sit vir gaste wat vinnig inloer vir ‘n glasie wyn terwyl ons die mooi sonsondergang wat so eie is aan die Weskus, bewonder. Laataand kruip ek in die bed met die LandbouBoerekos in die hand.

Ek lees van ou kosvriendinne, geurplekke soos Atlas Trading, die Weskus se eie Khoisan-sout en talle passievolle boere wat sorg vir geurgewers in ons kombuise. Maar dis veral die afdeling oor geur op jou speseryrak wat Arina bymekaar gesit het, wat my aandag trek.
Landbou Boerekos is by meeste kettingwinkels beskikbaar teen R140 (met rasper) of R80 (sonder rasper).

Baie naeltjies (of kruienaeltjies) in kos val nie in almal se smaak nie. As jy al op ’n heel naeltjie in ’n happie hoenderpastei gebyt het, sal jy weet! Maar as naeltjies met sorg in kos of gebak gebruik word, gee dit die heerlikste geur. Soos in hierdie resep, my ouma Minnie se speserykoekies.

As kind het ek niks van die geur van naeltjies gehou nie. Juis oor die einste ouma lief was om dit met ‘n milde hand by haar hoenderpastei- of wildspasteivulsels te voeg.

Ek het die pastei geëet agter haar heerlike tuisgemaakte skilferkorsdeeg aan, maar die fynvleisvulsel moes jy baie versigtig kou, want die kanse dat jy op ‘n heel naeltjie sou byt, was groot!

Ouma Minnie het heerlike boerekos gemaak en in die kas bo die broodblik in haar kombuis, was daar altyd ‘n propvol koekieblik. Sy’t die beste lepelsteeltjies gemaak en ook graanvlokkiekoekies en sulke knewels van soetkoekies wat soos wawiele gelyk en ‘n halwe glas koeldrank kon opsuig as jy dit daarin gedoop het. En dan was daar hierdie speserykoekies. In die winter, wanneer dit grys en koud was, en dikwels spierwit gesneeu op die berge rondom Ceres, was daar min dinge so lekker soos ‘n groot beker warm, melkerige tee met Ouma se speserykoekies daarby. Sy’t dikwels die koekies bestuif met ‘n mengsel van versiersuiker en fyn, gemengde speserye, pleks van kaneelsuiker. As ek die koekies vir my eie gesin bak, doen ek dieselfde.

Speserykoekies

Lewer 4 dosyn koekies.

375 ml (1½ k) koekmeel
3 ml (ruim ½ t) fyn kaneel
3 ml (ruim ½ t) fyn naeltjies
2 ml (½ t) fyn gemmer
1 ml (¼ t) fyn neutmuskaat
2 ml (½ t) sout
125 g sagte botter
180 ml (¾ k) witsuiker
1 ekstragroot eier, teen kamertemperatuur
kaneelsuiker (gemaak met strooisuiker), opsioneel

1 Sif die meel, speserye en sout saam in ’n mengbak.
2 Verroom die botter en suiker in ’n ander mengbak tot lig en romerig.
3 Voeg die eier by en klits goed.
4 Voeg die meelmengsel by en meng tot ’n deeg vorm.
5 Druk die deeg bymekaar in ’n bol en druk die bol deeg plat. Draai die deeg in kleefplastiek toe en verkoel vir minstens 2 uur of oornag.
6 Wanneer jy reg is om die koekies te bak, voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n paar bakplate met bakpapier uit.
7 Rol die deeg versigtig op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot ongeveer 3 mm dik. Druk vorms van jou keuse uit die deeg en lig dit met ’n spaan of slaplemmes tot op die bakplate.
8 Bak die koekies vir ongeveer 10 minute, tot liggoudbruin.
9 Haal die koekies uit die oond en sprinkel ’n bietjie kaneelsuiker oor die warm koekies, indien verkies.
10 Laat die koekies vir ’n paar minute op die bakplate afkoel en lig dit dan af tot op draadrakke om verder af te koel tot kamertemperatuur.

Woensdag Wenke: Chuck

Chuck is my gunsteling snit… hoe kan ek dit geuriger maak, as die gewone potkos asb?” – Hettie Botha

Hoe kan ek steak /chuck gaarmaak sonder speserye en dit nog smaaklik sal wees asb?” – Agnesia Van Greunen

Ek het nie grootgeword met beesslag op die plaas nie. My pa se beeste was sy heiligdom en hy het hulle by die naam geken, so ook hul geite en dinge. As hy met die bakkie die beeskamp ingery het, het hulle nadergestap en kom hello sê. Nodeloos om te sê, maar veilingdag was ‘n droewige dag op die plaas.

Met die beeste op die lorrie is my pa in sy bakkie agterna veiling toe, nog op Gouda dink ek. Daar aangekom, het hy dan al die kampies omgestap. Dit was nie nodig om hulle te soek nie. Soos hy aangestap gekom het, was daar ‘n uitbundige gebulk wanneer hulle hom herken het. Ek wil my verstout om te sê dat hy een slag die beeste net daar en dan weer gelaai en teruggery het plaas toe.

Maar ek was gelukkig genoeg toe ek as jong twintigjarige by Huisgenoot as kosredakteur ingestap het, om saam met die legendariese Sannie Smit van die destydse Vleisraad te kon werk. ‘n Klein vroutjie, maar dinamies en wat graag haar kennis gedeel het. Sy het my geleer hoe om vleis korrek en uit die teksboek gaar te maak – by 160°C in die oond, die tyd baie spesifiek: 20—25 minute per 500 g vleis plus 20 minute en dan vir 10 minute rus. So het sy na vele eksperimente bevind, bly die vleissappe die beste behoue in die vleis en dis minder droog en lekker sappig. (Die wenke wat ek ook vandag deurgee kom uit een van haar vleis-kookboeke wat ek soos ‘n kleinood bewaar.)

Beesvleis is van die moeilikste vleise om ordentlik gaar te maak en mens moet weet met watter vleissnit jy werk om die regte gaarmaakmetode toe te pas. Die karkas word in ‘n voor- en agterkwart verdeel en elk het verskillende gaarmaakmetodes.

Die agterkwart bevat die fyner sagte vleis en dis waaruit steaks gesny word. Hierdie snitte is ideaal vir ‘n droëhitte-gaarmaakmetode soos braai en rooster en oondbraai, waar die vleis oop en sonder byvoeging van enige vloeistof gaargemaak word.

Die voorkwart, (waaronder die dikrib ook val) bevat egter meer been en bindweefsel met ‘n growwer vleistekstuur en is minder sag, maar baie geurig. Daarom is dit merendeels geskik vir klamhitte-gaarmaakmetodes soos stowegeregte of potbraai waar die vleis in ‘n pot met ‘n deksel gaargemaak word en vloeistof bygevoeg word om te help om die vleis sagter te maak en die kollageen af te breek.

Die dikrib (chuck) is ‘n veelsydige vleissnit wat op ‘n verskeie maniere gaargemaak kan word. Dit bestaan uit 6 deurgesaagde rugwerwels, 6—7 ribbebene, die bladbeen, kambeen, geel bindweefsel en verskeie klein spiere wat in verskillende rigtings lê. Die tekstuur wissel van grof tot fyn met verskillende grade van sagtheid.

GEBRUIKE
Heel en/of ontbeen: potbraai of gaarmaak in ‘n baksakkie (klamhitte)

  • Riboogsteaks (25–30 mm dik gesaag): gerooster (droëhitte) Baie gewild deesdae omdat dit so geurig is, al is dit nie murgsag nie
  • Kitsskywe (minute steaks) (5 mm dik): vlakvetbraai (droëhitte)
  • Repies: roerbraai (kombinasie van droë en klam hitte)
  • Blokkies en skyfies: stowegeregte (klamhitte)

Hettie, as jy nie die gewone potbraai of stowegeregte wil doen nie, stel ek voor dat jy dit in ‘n baksakkie doen. Die grootste lekkerte hiervan is dat jy nie met vuil oondpanne sit nie.

En Agnesia, as speserye nie jou ding is nie, gebruik dan soppoeier en mosterd. Ja, ek weet, vir jare predik ek nou al dat pakkies en sakkies nie deel van regte kosmaak moet wees nie, maar hier werk dit soos ‘n bom.

So maak mens:

BAKSAKKIEVLEIS

  1. Smeer die heel vleisstuk, nie meer as 1,5 kg, met klaar aangemaakte mosterd en strooi dan mildelik sampioensoppoeier oor.
  2. Plaas die vleis in ‘n baksakkie, bind liggies vas met tou, prik ‘n paar gaatjies in en plaas die baksakkie in ‘n oondpan. Bak 45 minute lank by 160°C per 500 g vleis.
  3. Maak die sakkie oop (pasop vir die stoom wat jou kan brand) en voeg 10 piekeluie en ‘n suurlemoen wat in stukke gesny is by.
  4. Bind weer toe en bak nog 45 minute of tot die vleis sag is.
  5. Heerlik met gebakte aartappels.

Lekker kook!

Gemmer Varkboud

Op ons Kerstafel is varkboud ‘n jaarlikse instelling in ons huis. En al lees ek wyd en het verskeie resepte vir varkboud en gammon, is dit op hierdie varkboud wat in gemmerlim gaargebak word, waarop ek telkens terugval.

Jare terug het Laetitia Prinsloo, eienares van die bekende ICA-kookskool op Stellenbosch, dit vir ons by haar huis gaargemaak vir ‘n Kersfeesstorie. Die waatlemoen en spanspek met die kruisement-en-gemmersuiker oorgesprinkel, is hemels hierby.

BOUD
3—5 kg gerookte varkboud (gammon)
2—3 liter gemmerlim
1 mediumgroot ui, gesny
1 suurlemoen se skil in lang repe gesny
4 cm stuk gemmer, in lang repe gesny

GLANSLAAG
80 ml (1/3 k) gepreserveerde gemmerstukke in stroop, in skywe gesny
30 ml (2 e) gemmerstroop

VIR VOORSIT
45—60 ml (3—4 e) suiker
10 ml (2 t) gekapte kruisement
10 ml (2 t) gekapte piekelgemmer
Waatlemoen en spanspek of pynappel, in repe of skywe gesny

1 BOUD Week die boud 3—4 uur voor gaarmaaktyd in koue water. Plaas die boud in ‘n groot kastrol en giet die gemmerlim oor en voeg die res van die bestanddele by.
2 Laat opkook, verlaag die hitte en laat kook. Bereken die kooktyd as volg: 25 minute per 500 g vleis. Verwyder uit die vloeistof en laat afkoel. Verwyder die swoerd.
3 GLANSLAAG Voorverhit die oond tot 180°C. Plaas die boud op ‘n bakplaat. Meng die gemmerstukke en stroop en smeer oor die vetlaag. Oondbraai sowat 30—40 minute of tot bruin buite-om. Sit warm of koud voor.
4 VOORSIT Meng die suiker met die kruisement en piekelgemmer. Sprinkel oor die vrugte en sit voor met die boud.

30 Dae Muffins

Almal ken die immerbekende 30-dae-muffin resep waarvan jy die mengsel aanmaak en in die yskas hou en dan net daarvan bak soos jy nodig kry. Die aanvanklike resep het gewemel van die suiker en die olie. Ek het oor jare rondgespeel met die resep, die suiker en olie verminder en ook bietjie hawermout ingewerk by die mengsel. Vir ekstra goedheid gebruik ek Carmién se Citrus Chai rooibostee pleks van die oorspronklike kookwater. Dit gee tegelykertyd ook ‘n sagte spesery- en sitrusgeur aan die muffin.

Pleks van middelslag muffins bak maak ek baie keer superkleintjies en bak dit in patty pan pannetjies. ‘n Strooisel neute bo-op verrig wonders en maak ‘n heerlike proehappie daarvan.

Carmién, in samewerking met die Mouton foundation en internasionale tee-maatskappy, Teekanne, het ook verlede jaar ‘n gesonder leef-program, Taste the Good Life, kook gesond, leef gesond, aan plaaswerkers uitgerol. Ek was bevoorreg om deel te wees van die span en het ‘n reeks kookklasse aangebied waar almal tog te lekker saamgekook het. Hierdie muffinresep was ‘n treffer onder die deelnemers.

30 Dae Muffins

Maak 40 middelslag muffins
Bereiding: 15 min
Baktyd: 15—20 min

BAKMENGSEL
6 x 250 ml (6 k) semels
250 ml (1 k) hawermout
500 ml (2 k) sterk Carmién-Citrus Chai rooibostee, gemaak met 4 sakkies
250 ml (1 k) olie
160 ml (⅔ k) bruinsuiker
4 eiers, geklits
1 liter (4 k) laevet natuurlike jogurt
25 ml (5 t) koeksoda
500 ml (2 k) verkieslik klipgemaalde koekmeel
500 ml (2 k) verkieslik klipgemaalde volkoringmeel
10 ml (2 t) sout
BYVOEGINGS
Gekapte gemengde droévrugte, gekapte neute, grof gekapte appel, piesangs, of gerasperde wortels

1 BAKMENGSEL Meng die semels en hawermout met tee. Voeg die olie by en laat effens afkoel. Voeg dan die suiker, eiers en 750 ml (3 k) van die jogurt by meng.
2 Meng die res van die jogurt met die koeksoda en voeg by.
3 Voeg die droë bestanddele by en meng deur.
4 Skep die mengsel in ‘n groot bak of skoon flesse, maak toe en plaas in die yskas tot benodig.
5 VIR BAK Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 12 holtes van ‘n muffinpan goed.
6 Voeg sowat 80 ml (⅓ k) van enige van die byvoegings by 500 ml (2 k) van die beslag en skep die muffinholtes twee derdes vol.
7 Bak sowat 20-30 minute tot gaar, afhangende van die grootte van die muffin. Laat effens afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel. Sit voor met gerasperde kaas of biltong.

Trek jou suikertand

Geregistreerde dieetkundige Liezel Engelbrecht het onlangs ‘n artikel vir Rapport geskryf oor suiker. Ek het haar gevra om van haar wenke te deel. Hier volg ‘n aangepaste weergawe. Gaan lees gerus die volle artikel op Netwerk24.

Hoekom het suiker ‘n slegte reputasie?

Suiker se slegte reputasie is nie onverdiend nie. As ons te veel daarvan inneem, kan dit bydra tot gewigstoename en ons kanse om siektes soos diabetes, hartsiekte en beroertes te kry, verhoog. Gaskoeldranke, energiedrankies en ander versoete drankies (selfs sap) is hier van die grootste sondebokke – daar is sterk navorsing wat dui op die skakel tussen versoete drankies en metaboliese sindroom (‘n ongewenste kombinasie van simptome ondermeer hoë bloeddruk, hoë cholesterol en verhoogde vastende bloedsuikervlakke). Ultraverwerkte kos (soos lekkers, sjokolade en snoepgoed) is ook dikwels hoog in suiker, en kan ook hoog wees in vet, sout en kilojoules.

So moet ek dit heeltemal vermy?

Suiker opsigself is nie gif nie. Glukose (die mees eenvoudigste vorm van suiker) is jou brein se hoofbron van energie, en dit is noodsaaklik om optimaal te funksioneer. Dit is egter belangrik om te onthou dat jy suikers uit ‘n klomp ander kosse kan kry: alle koolhidrate (byvoorbeeld te kry in ondermeer graanprodukte, styselagtige groente, vrugte en lensies) word in suikers afgebreek en kan jou liggaam van glukose voorsien. Dit is dus selde nodig om bygevoegde suiker in te neem vir optimale energie.

Hoekom bevat so baie kos bygevoegde suikers?

Suiker het ook ander funksionele eienskappe gebruike, en word gebruik byvoorbeeld as preserveermiddel om die rakleeftyd van sekere produkte te verhoog, om vog te behou, om kleur by te voeg, volume by te voeg, of die tekstuur van sekere kosprodukte te verbeter. Suiker het ook die vermoë om die smaakpersepsie van sekere bestanddele te verhoog, en die smaakpersepsie van ander (soos suur en bitterheid) te onderdruk, en word dus ook dikwels om dié rede by produkte gevoeg.

Is sekere suikers beter as ander?

Bruinsuiker is nie beter as witsuiker nie, en heuning, esdoringstroop, klappersuiker en molasse bestaan alles steeds uit eenvoudige suikers (mono- en dissakkariedes). Dit word alles steeds as bygevoegde suikers geklassifiseer, en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel aan dat, vir die meeste gesondheidsvoordele, bygevoegde en vrye suikers (dus dit wat jy byvoeg by jou kos asook dit wat voorkom in produkte soos in lekkernye en koeldrank, en produkte soos sap) nie meer as 5% van jou totale energie moet uitmaak nie. Vir volwassenes werk dit uit op ongeveer 26 g suiker, of 6 teelepels, per dag (1 teelepel suiker is ongeveer 4g suiker). Sien die onderstaande lysie om dit in perspektief te sit.

Slotsom

Geniet gerus die versoeter waarvan jy hou, en die sny koek of sjokolade elke nou en dan, maar wees ekstra versigtig vir versoete drankies. As jy vermoed jy oorskry gereeld die aanbevole hoeveelheid suiker per dag, is dit dalk ‘n goeie gewoonte om die voedingstabelle te begin lees om jou inname te bestuur. En dit is dalk nie altyd nodig vir die ekstra suiker by die pampoen-, mielie-, of patatgereg nie.

Aanvullende bron: Deshpande et al. Frequent Sugar-Sweetened Beverage Consumption and the Onset of Cardiometabolic Diseases: Cause for Concern?, Journal of the Endocrine Society, 2017 Nov 1.

Suiker in produkte

Hier is ‘n kort lys om ‘n vinnige idee te gee waar bygevoegde en “vry” suikers te kry is in algemene produkte. Suiker per 100g of 100ml*.

Drankies
Gaskoeldrank – 11 g (2,75 teelepels)
Energiedrankies – 6 g (1,5 teelepels)
Sap – 8 g (2 teelepels)

Suiwel
Gegeurde melk – 9 g (2,25 teelepels)
Jogurtdrankie – 12 g (3 teelepels)
Gegeurde jogurt (bv vrugte jogurt) – 6g (1,5 teelepels)
Vanielje roomys – 16 g (4 teelepels)
Vla – 13 g (3,25 teelepels)

Souse
Tamatiesous – 21 g (5,25 teelepels)
Blatjang – 34 g (8,5 teelepels)
Soetrissie (“sweet chili”) sous – 38 g (9,5 teelepels)
Mosterd – 12 g (3 teelepels)

Lekkergoed
Jellie-lekkers – 48 g (12 teelepels)
Melksjokolade – 52 g (13 teelepels)

*Afgeronde benaderde hoeveelhede van bekende handelsmerke is gebruik. Sekere handelsmerke mag egter minder of meer suiker bevat, en suiker kan ook tussen die produkreekse verskil. Hierdie is slegs ‘n aanduiding. Lees die voedseltabel op die produk om seker te maak.
*Let ook daarop dat porsies groter of kleiner mag wees is as dit. Gaskoeldranke, jogurtdrankies, gegeurde melk en sap word tipies in 200 ml tot 300 ml porsies geniet (dit sal dus meer suiker bevat), terwyl souse tipies in 15 ml tot 30 ml (1-2 eetlepels) geniet word, so die hoeveelheid suiker wat jy inneem sal minder wees. Sjokolade en jellie-lekkers kom in verskeie verpakkings.

Wenke

  • Lees voedingstabel op kosprodukte en drankies om te sien hoeveel suiker die produk wat jy koop bevat. Kies meestal produke met minder as 5 g suiker (kos) per 100 g of 2,5 g suiker (drankie) per 100 ml bevat. Probeer om jou inname van hoë suikerprodukte te verminder, en let op jou porsiegroottes as jy dit wel geniet.
  • As dit vir jou moeilik is om jou suikerinname te beperk, probeer gerus die “lite”, “zero” of “reduced sugar” weergawes van tyd tot tyd. Die produkte is gewoonlik kunsmatig versoet of het minder suiker as die oorspronklike eweknie. Wees egter steeds versigtig – dit maak die produk nie outomaties gesond nie, en soms kan die produkte selfs hoër in vet wees. Soos met alles moet kunsmatige versoeters ook liefs ook nie in oormaat ingegeem.

Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en kan nie ‘n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige vervang nie.

  • Besoek www.adsa.org.za vir ‘n dieetkundige in jou omgewing.
  • Liezel Engelbrecht is ‘n geregistreerd dieetkundige van Kaapstad. Besoek gerus haar webtuiste, en volg haar op Facebook en Instagram.
  • Lees die res van die storie gerus op Netwerk24 waar sy ook inligting oor klappersuiker en suikervervangers deel.

Sjokoladerol Sonder Sonde

Ek is altyd daarop uit om te kyk hoe ek resepte gesonder maar steeds lekker kan maak – maw om meeste sleg uit ‘n gereg te haal sonder om die lekker op te offer. Hierdie sjokoladerol is eintlik te goed om waar te wees – dis koringvry, suikervry en bykans vetvry, maar smaak hemels, ‘n tipiese lekkergoed-resep (maw dis lekker, maar ook goed vir jou).

Deesdae verkies ek erythritol, ‘n suiker-alkohol wat nie in die bloedstroom opgeneem word nie, maar bykans net so uitgeskei word en ook in die keto-dieet gebruik kan word, as suiker-plaasvervanger. Dit werk goed in gebak. Andersins gebruik xylitol of as suiker jou nie pla nie, gebruik dieselfde hoeveelheid strooisuiker.

SJOKELADEROL SONDER SONDE
Maak 12 – 15 snytjies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 20 min

VIR DIE SJOKOLADEROL
6 groot eiers, geskei
150 g erythritol (lae kilojoule suiker-plaasvervanger)
50 g kakao
Knippie sout
125 ml (½k) fyn amandels

VIR DIE VULSEL
375 ml (1½ k) natuurlike jogurt
50 g suikervrye donker sjokolade (80 %), gesmelt
100 g vars bessies

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n rolkoekpannetjie met kossproei en voer uit met bakpapier. Spuit weer en stuif liggies met kakao.

  1. Klits die eiergeel en erythritol saam tot lig en romerig.
  2. Vou die kakao, sout en fyn amandels in.
  3. Klits die eierwit in ‘n skoon bak met ‘n skoon eierklitster tot styf, roer bietjie by die eiergeelmengsel in en vou die eiergeelmengsel dan by die eierwit in.
  4. Giet in die rolkoekpan, maak gelyk en bak 20 minute tot sponserig in die middel.
  5. Keer uit op ‘n vadoek, trek die papier af en rol op in die vadoek. Koel af.
  6. VULSEL Meng 60–125 ml van die jogurt by die sjokolade in en meng goed.
  7. Smeer die sjokoladesmeer oor die rolkoek en smeer van die jogurt bo-op. Pak van die bessies op en rol weer op.
  8. Rond af met ‘n smeersel sjokoladesmeer bo-op en versier met bessies. Stuif kakao oor.