Ek is so bly daar is nou ‘n spesiale bewustheid om die eet van groente aan te wakker, want deesdae word dit beslis nie net meer opgekook en as bykos voorgesit nie. Ek geniet dit om met groente te eksperimenteer, die pragtige kleure en bros teksture leen dit darem net te veel tot smaaklike geregte, want die geure werk tog te lekker saam. Aan groen groentes, tamatie, koolsoorte en eiervrug kan mens ook maar weglê, want dit het lekker min koolhidrate en kilojoules, dis nou te sê as jy dit nie verdrink in die olie terwyl jy dit gaarmaak nie. Met ‘n Airfryer in die huis is hierdie probleem ook nou uitgesorteer en die groente is heerlik bros, maar nie olierig nie.
Ek maak dan graag ‘n groentebrood, geskoei op die Franse aartappelgebak, tartiflette, maar ek vervang net die aartappel met eiervrugskrywe.
Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 30 min
Gaarmaak: 45 min
125 ml (1/2 k) sagte broodkrummels
60 ml (1/4 k) fyngerasperde parmesaankaas
Sowat 3 medium eiervrugte, in die lengte in skywe gesny
Sout
olyfolie
2 rooi soetrissies, gehalveer
125 g spekvleis
1 ui, in ringe gesny
4 knoffelhuisies, fyngedruk
4-6 murgpampoentjies, in lang dun repe gesny of 300 g baba-spinasie
Sowat 300 g mozzarella-kaas, in skywe gesny
Paar takkies tiemie
80 ml (⅓ k) witwyn
gelatien
SOUS
250 g baba-tamaties
25 ml (5 t) tamatie-pesto
Voorverhit die oond tot 190°C. Voer ‘n klein broodpannetjie uit met tinfoelie en spuit goed.
1 Meng broodkrummels en parmesaankaas en sprinkel helfte daarvan op die boom en teen die kante van die pannetjie.
2 Sprinkel sout oor eiervrugskywe, laat staan 10 minute in ‘n vergiettes, druk droog en drup ‘n klein bietjie olie oor, vryf in met jou hande en pak in die Airfryer. Rooster sowat 15 minute tot net gaar, maar nie droog nie. (Jy kan dit ook in die oond doen op ‘n bakplaat). Sprinkel bietjie olie oor.
3 Pak soetrissies met velkant na bo in die Airfryer of op ‘n bakplaat, plaas ook die repe spekvleis daarby. Braai tot die soetrissies swart blasies bo-op vorm en die spekvleis gaar maar nie bros is nie.
4 Plaas die soetrissies in ‘n plastieksak om af te koel en trek die velletjies af. Sny in groot stukke.
5 Verhit bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die ui en knoffel daarin tot sag.
6 Pak lae as volg in die broodpannetjie: pak ‘n enkel laag eiervrug onderin die pan, smeer bietjie van die uiemengsel oor en pak ‘n laag kaas bo-op. Pak dan ‘n laag soetrissie en murgpampoentjies of spinasie, gevolg met die spekvleis bo-op. Herhaal die lae. Sprinkel ‘n klein bietjie gelatien oor elke groentelaag. Dit help om dat hulle beter bymekaarhou. Pak tiemietakkies op, giet wyn oor en sprinkel die orige broodkrummelmengsel bo-op.
7 Maak liggies toe met tinfoelie en bak sowat 25—30 minute by 180°C of tot die kaas goed gesmelt is. Rooster vinnig tot effe bruin bo-op.
8 SOUS Roerraai die baba-tamaties tot hulle net begin oopbars. Roer pesto deur en geur met sout en peper.
8 Laat die groentebrood bietjie afkoel sodat die kaas net effe kan stol en keer dan versigtig op ‘n dienbord uit. Skep die tamatiesous bo-oor en rond af met basilieblare.
Dit klink HEERLIK!
LikeLiked by 1 person