Ons eet gereeld kerrie in die huis – meestal geskoei op die matige aromatiese kerries soos ek by die kosfoendi, Cass Abrahams nog geleer het. By haar het ek ook geleer wat die waarde is om met jogurt te kook – amper om romerigheid by kos te voeg sonder om ‘n gereg ryk te maak. So in my yskas is daar altyd ‘n houer jogurt en ek meng dit ruimskoots by al wat gereg is in, hetsy in ‘n bredie of maak sampioensous daarmee of selfs slaaisous. In hierdie kerrie smaak dit hemels.
ROMERIGE KERRIEHOENDER MET GROEN RYS
Die kerriehoender is so halfwas geskoei op botterhoender. Doodmaklik om te maak, jy kan selfs net alles bymekaargooi, in die oond druk en daarvan vergeet.
Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaak: 20 min
JOGURTMENGSEL
500 ml (1 k) romerige jogurt
45 ml (3 e) aangemaakte nat kerriepasta
5 ml (1t) fyn komyn
15 ml (3 t) tamatiepasta
10 ml (2 t) bruinsuiker
10 ml (2 t) mielieblom
HOENDER
30 ml (2 e) olie
1 ui, fyngekap
3 cm-stuk gemmer, gerasper
3 knoffelhuisies, fyngedruk
1 kaneelstok
2 steranys (opsioneel)
8 hoenderborsfilette, in stukke gesny of hoenderporsies soos dytjies en boudjies
Groot hand vol koljanderblare vir bo-oor
1 JOGURTMENGSEL Meng al die bestanddele saam en hou eenkant.
2 HOENDER Verhit die olie en roerbraai die ui, knoffel en gemmer tot sag en geurig, voeg die heel speserye by.
3 Geur die hoender met sout en peper en braai in sarsies tot bruin.
4 Giet die jogurtmengsel oor, verlaag die hitte en prut tot die hoender sag en gaar en die sous lekker dik is. Sprinkel die koljanderblare oor en sit voor met die groen rys (sien resep onder).
Wenk: Vervang helfte van die jogurt met ‘n klein blikkie klappermelk
Roer ‘n blikkie kekerertjies of botterbone teen die einde by die hoender om dit meer te maak.
GROEN RYS: Meng 500 ml (2 k) gaar basmati-rys met 2—3 gekapte stingeluie, ’n goeie handvol gekapte vars koljander, basiel en ment en die gerasperde skil van 1 suurlemoen
Vinnige kerriemengsel: Meng 10 ml (2 t) garam masala, 15 ml (1 e) blaarmasala, 5 ml (1 t) geroosterde masala of selfs brejani-masala en gebruik dit pleks van die nat kerriepasta.