Staatmaker kerrie

In my huis gaan dinge maar meestal op ‘n gelop en is daar altyd ‘n klomp goed wat tegelykertyd moet klaar. So tyd vir lang ure in die kombuis spandeer is daar bloot net nie. Daarom het resepte wat jy binne ‘n ommesientjie en sonder te veel moeite aanmekaar kan slaan, my nog altyd geval, die enigste voorwaarde dat dit steeds gesond en voedsaam moet wees.

Hierdie Thaise kerrie is een van my groot staatmakers as dinge nou rerig bietjie dol begin gaan. Die resep is lekker veelsydig – soms gebruik ek varkfiletrepies pleks van hoender en as jy die dis vegetaries wil maak, kan jy patat-en botterskorsie pleks van die vleis gebruik. Verder kan jy enige jong groente onder die son insit, ek is veral lief om Chinese blaarkool of selfs baba-spinasie te gebruik. Ek gooi partykeer ook net ‘n klein blikkie klappermelk in en vul die sous dan verder aan met natuurlike jogurt. Die klein tamatietjies wat teen die einde bykom, verleen ‘n heerlike vars smaak.

Soms het dit ook al gebeur dat my Thaise groenkerrie gedaan was – dan maak ek sommer net ‘n sterk aftreksel met ‘n kombinasie van Carmién se rooibostees (2 sakkies Focus met masala chai speserye, 2 sakkies Nursing met fenugriek en vinkel en soms ook 2 sakkies Cookies & Cream met klapper in en trek dit in 500 ml kookwater, nie te lank, want dan word die mengsel bitter) en gebruik dit saam met ‘n lepeltjie of wat geroosterde masala.

As bonus gee ek julle ook ‘n vinnige resep vir ‘n roerbraai.

Thaise Kerrie

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: 10-12 min

30 ml (2 e) olie
15 ml (1 e) gerasperde vars gemmerwortel
3-4 knoffelhuisies, fyngedruk
2 stingeluie of klein ui, gekap
30-45 ml (2—3 e) Thaise groen-, rooi of geel kerriepasta
1 blik (400 g) klappermelk of vervang helfte daarvan met natuurlike jogurt
4 hoenderborsfilette of ontbeende, ontvelde dye, in stukke gesny
125 g Chinese blaarkool, in dun repies gesny of jong groenbone, in stukke gesny
Handvol gekapte koljanderblare
30 ml (2 e) sojasous
Paar druppels vissous
Sowat 30 ml (2 e) lemmetjie- of suurlemoensap
5 ml (1 t) bruinsuiker
Koljanderblare en sessamsade vir oorsprinkel
Jasmynrys vir voorsit

1 Verhit die olie in ‘n pan en roerbraai die gemmerwortel, knoffel en ui tot sag en geurig.
2 Voeg die kerriepasta en sesamolie by en roer deur.
3 Voeg die klappermelk (en jogurt indien gebruik) by en bring tot kookpunt. Laat goed kook.
4 Voeg die hoenderstukkies by en prut sowat 5 minute tot bykans gaar.
5 Voeg die groente en gekapte koljanderblare by en prut tot die groente net-net gaar, maar nog baie bros is, 3—5 minute.
6 Roer die soja- en vissous saam met die lemmetjiesap en bruinsuiker by. Meng deur.
7 Voeg die tamaties by, moenie verder verhit nie en strooi die koljanderblare en sesamsade oor.
8 Sit voor met jasmynrys.

VIR ROERBRAAI: Sny die hoenderborsfilette in repies, geur met sout en peper, doop in geklitste eierwit, dan in mielieblom of mieliemeel en braai in bietjie olie tot bros. Bedek en stoombraai, nie te lank, tot gaar. Skep uit. (ek doen die sommer deesdae ook in die Airfryer).

Roerbraai dan groentes soos soetrissierepies en broccoli of blomkool saam met 2 gekapte knoffelhuisies en 5 ml (1 t) gerasperde gemmerwortel tot net sag, maar nog baie bros. Geur met 30 ml (2 e) elk sojasous, teriyaki-sous en ‘n paar druppels vissous. Skep die hoenderstukkies terug in die pan en meng deur. Sit voor met basmati-rys en sprinkel gekapte kasjoeneute en gekapte koljanderblare oor.

Kosbaar

Elmarie Berry, bekende kos-en-wynblogger, se eerste kookboek, Kosbaar, is onlangs bekend gestel. Ons twee het ontmoet op die Jy het ‘n Wenresep-stel en dadelik het ek aanklank gevind by hierdie borrelende swartkopmeisie wat ook mede-eienaar is van die pragtige kosfotografie-linneware-reeks, Samesyn. Haar kookboek, is nie sommer net so ‘n kookboek nie, dis ‘n besonderse verhaal van om in absolute geloofsvertroue te handel, om haar kruik te vul met haar olyfolie en te gaan uitdeel – haar spesiale gawe om te kan kosmaak, nie net lekker nie maar ook mooi voorgesit. Met ‘n Libanese ouma is haar geregte ‘n goeie mengsel van boerekos met sterk Libanese invloed. Daar is ou gunstelinge soos roosterkoek en nostalgiese melktert met party wat ‘n nuwe baadjie kry soos stadig geroosterde lamskouer met jogurtplatbrood en malvalpoeding met ‘n pinotagesous asook heelwat glutenvrye resepte aangesien Elmarie self allergies is vir graan. En nou is al daardie wonderlike resepte vervat in hierdie kosbare boek met afdelings genaamd: kosbaar, koningskos, samesyn, dankbaarheid, reisontdekkings, nuwe seisoene, moenie jouself vergeet nie en heel gepas ‘n hoofstuk genaamd, die laaste maal, wat handel oor Sondagkos.
Kosbaar is in meeste boekwinkels beskikbaar teen sowat R380.

BASTILLA

Elmarie Berry se Bastilla

Hierdie speseryagtige hoendergereg is ’n heerlike, maklike resep propvol interessante geure. Terwyl Elmarie in ’n restaurant gewerk het, het sy dit dikwels gemaak.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 1 uur

100 g botter
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
15 ml (1 e) gerasperde vars gemmer
15 ml (1 e) fyn kaneel
15 ml (1 e) gemengde speserye
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
5 ml (1 t) borrie
5 ml (1 t) fyn kardemom
1 heel hoender
500 ml (2 k) hoenderaftreksel
250 ml (1 k) room
200 g amandelvlokkies, gerooster
‘n hand vol vars kruisement, gekap

1 Smelt die botter in ’n groot swaarboomkastrol en braai die ui tot sag. Voeg die knoffel, gemmer, kaneel, gemengde speserye, sout en peper, borrie en kardemom by.
2 Voeg die hoender by en giet die hoenderaftreksel oor. Prut sowat ’n uur tot die hoender baie sag is.
3 Skep die hoender uit die kastrol en laat effens afkoel. Verwyder die vel en die bene en pluis die vleis fyn.
4 Kook die vloeistof af tot dit met die helfte verdamp het en voeg die room by. Voeg die gepluiste hoender by en prut vir 10 minute.
5 Strooi die amandelvlokkies en kruisementblare oor en sit voor op rys.

LET WEL: Jy kan ook 6 hoenderfilette gebruik en dit vir sowat 30 minute prut.

Regte Egte Suurlemoenlekkerte

My kombuis is nooit sonder vars suurlemoene nie. Ek kan bloot nie daarsonder kook nie – ‘n skeutjie sap saam met varsgerasperde skil rond van ‘n bredie tot groente of slaaisous net te lekker af. Ja, as ek vasdraai met geur, sit ek suurlemoen by.

En dan is daar natuurlik suurlemoentert. Vir die bekende suurlemoenmeringuetert sal niemand ooit nee dankie sê nie – die soetsuur geure saam met die pofferige meringue is maar net te lekker.

Hierdie suurlemoentert is egter ‘n smaaksensasie van ietwat ‘n ander gedaante – eg en vars met dubbeldoor suurlemoenlekkerte: die romerige vulsel gemaak met vars uitgedrukte suurlemoensap en vars room word afgerond met ‘n sagte suurlemoenmousse. Iets waaraan jy langsamerhand in klein happies smul.

Maak 1 groot tert of 4—6 keintjies
Voorbereiding: 30 min
Baktyd: 30 min

KORS
250 g yskoue botter, in stukke gesny
250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
500 ml (2 k) koekmeel
80 ml (⅓ k) mielieblom
VULSEL
250 ml (1 k) strooisuiker
4 ekstragroot eiers
250 ml (1 k) room
250 ml (1 k) vars uitgedrukte suurlemoensap
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
MOUSSE
10 ml (2 t) gelatien
45 ml (3 e) water
3 ekstra-groot eiers, geskei
150 g strooisuiker
2 suurlemoene se sap en skil
250 ml (1 k) room, liggies geklits
AFRONDING
Bessies en diepgebraaide suurlemoenskilrepies (sien wenk)

Voorverhit die oond tot 200°C.
1 KORS Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker. Verwerk tot die botter goed in die meel ingemeng is en ‘n bol om die lem vorm.
2 Skep uit die voedselverwerker. Vorm in ‘n lang rol, draai toe in kleefplastiek en verkoel ‘n halfuur lank. Sny in skyfies en voer ‘n middelslag-tertpan of 5—6 klein tertpannetjies (sowat 10 cm in deursnee) daarmee uit – pak die skyfies teenmekaar in die panne en druk vas met jou vingers (glad nie nodig vir uitrol nie). Voer die panne uit met bakpapier, vul met bone en bak sowat 10 minute of tot gaar maar nie bruin nie. Verwyder die papier en die bone.
2 Verlaag die temperatuur na 140°C.
3 VULSEL Klits die strooisuiker, eiers, room, suurlemoensap en –skil goed saam. Giet in die voorbereide korse(e) en bak 10 minute. Verlaag die hitte tot 90°C en bak verder tot die vulsel net gestol, maar steeds binne nog effe sag is, sowat 20—30 minute. Verwyder uit die oond en laat afkoel.
4 MOUSSE Spons die gelatien in die water. Klits die eiergele en strooisuiker saam tot lig en dik. Voeg die suurlemoensap by en hou aan met klits.
5 Verhit die gelatien tot net gesmelt in die mikrogolfoond, moenie dit laat kook nie. Meng bietjie van die eiergeelmengsel met die gelatienmengsel en voeg dit dan alles by die orige eiergeelmengsel. Meng goed.
6 Kllits die eierwitte styf en vou by die mengsel in. Laat staan tot dit net wil begin stol. Skep in ‘n spuitsak met ‘n ronde spuitpunt en spuit op die tertjies. Verkoel tot gestol.
7 Versier met bessies en suurlemoenskilrepies.

Hoe om diepgebraaide suurlemoenskil te maak: trek die suurlemoenskil met ‘n sitrusskiller af. Sprinkel strooisuiker oor en laat ‘n halfuur staan. Verwyder die skil uit die stropie en dievetbraai in warm olie tot krakerig.

Wenk: Indien die dubbeldoor lekkerte vir jou altevol na ‘n gedoente klink, kan jy die twee ook afsonderlik berei. Gaan dan so te werk: Maak die tertjies en sprinkel strooisuiker oor die afgekoede tertjies pleks van die mousse. Skroei met ‘n blaasvlam. Skep die suurlemoenmousse in klein koppetjies, verkoel tot gestol en rond af met die diepgebraaide skil.

Appelvrugtetert vir koeler weer

Op Langebaan kan mens begin voel die jaar het gedraai. Nie net wys die son heelwat later soggens sy gesig nie, maar die luggie is skielik sommer heelwat koeler. Vir my is hierdie herfsweer sinoniem met appeltert – ietwat swaarder van lyf en vol van geur.

Pleks van oudag se soet appeltert meng ek graag deesdae ‘n verskeidenheid vars vrugte by die tertappels in. As tyd ‘n faktor is of vir ‘n gesonder weergawe vervang ek die brosdeeg baie keer ook met ‘n vinnige hawermoutkrummel. Dan is dit ook nie nodig om die bak uit te voer met deeg nie. Ek is gek na gemmer, so daarom voeg ek ook graag bietjie ingemaakte gemmer by. En moenie dink die vars kruie is uit pas by hierdie tert nie, dit verleen ‘n heerlike andersheid aan die tert, maar daarsonder is dit net so lekker.

Maak 1 groot tert
Voorbereiding: 30 min
Baktyd: 50 min

KORS
375 g koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
250 g suiker
375 g koue botter
30-45 ml (2—3 e) yswater
VULSEL
1 blik (400 g) tertappels of 2 appels, in skyfies of blokkies gesny
30 g appelliefies en/of halwe pynappel, in bokkies gesny
4 pruime, ontpit en in wiggies gesny
4 nektariens, in skywe van die pit gesny (opsioneel)
2-3 perskes, geskil, ontpit en gehalveer (jy kan ‘n blik ingemaakte perskes ook gebruik)
45 ml (3 e) gekapte ingemaakte gemmerstukke
125 ml (½ k) gekapte pekanneute
10 ml (2 t) roosmaryntakkies of selfs tiemie, fyner gekap (opsioneel)
Fyn kaneel en suiker na smaak
Geklopte room of dik volroomjogurt vir voorsit

Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n groot tertbord of –pan.
1 KORS Plaas die koekmeel en bakpoeier in die bak van ‘n voedselverwerker en voeg die suiker by. Meng. Voeg die botter by en verwerk tot ‘n sagte deeg. Voeg bietjie yswater deur die tuit by indien nodig. Druk in ‘n bol. Verkoel 15 min.
2 Sny twee derdes af, rol in ‘n rolletjie en sny die rolletjie in skyfies. Druk die skyfies vas op die bodem en teen die kante van die tertbord of pan. Prik die kors. Verkoel die res van die deeg.
3 VULSEL Pak die vrugte in die tertkors. Sprinkel die gemmerstukkies oor, giet ook van die gemmerstroop oor en sprinkel die neute en roosmaryn oor. Stuif kaneel en ekstra suiker oor.
4 Rol die orige deeg uit, druk vormpies uit met ‘n koekiedrukker en rangskik op die vrugte. Sprinkel bietjie ekstra suiker oor en bak sowat 55 minute of tot die kors goudbruin en gaar is. Sit voor met room.

Wenk: Pleks van vormpies uitdruk, sny die deeg in repe en pak kruis en dwars oor die vulsel. Druk die kante in en bak soos beskryf.

Wenk: Andersins kan jy sommer ‘n hawermoutkrummel oor die vulsel sprinkel: Meng 60 ml (¼k) bruinsuiker, 2 ml (½ t) bakpoeier, 60 ml (¼ k) hawermout, 125 ml (½ k) koekmeel saam en vryf 50 g botter hierby in met jou vingers. Voeg 50 g gekapte gemengde neute by. Sprinkel oor die vrugte en bak tot goudbruin.

8 Redes om avokado’s lief te hê

Ons kosskrywers looove ‘n lekker get-together. Onlangs was dit weer so toe ‘n paar van ons mekaar vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer kon sien en opvang wat intussen in elkeen se lewens gebeur het. Die South African Avocado Growers’ Association het vir hierdie heerlike samekoms gesorg.

Dis bykans deesdae heeljaar deur avokado-seisoen met die botterige, romerige groenskil avo’s soos Fuerte, Edranol, Ryan, Reed en Pinkerton wat van Maart tot Oktober beskikbaar is terwyl die ryk, neuterige donkerskil avokado’s soos Hass, Maluma Hass en Lamb Hass van Maart tot November in seisoen is.

As mens kyk na al die wonderlike voordele wat avokado’s bied, is dit net reg (en ook lekker) dat ons gereeld daarvan geniet – sekerlik die gewildste is op roosterbrood, maar ek hou net so baie daarvan in slaai of as ‘n salsa saam met Mexikaanse geregte of ‘n peuseldingetjie. Ook ideaal om deel te maak van ‘n Spaanse tapasbord of Griekse meze-bord. Beide die groen en donkerskil avokado’s is geskik vir hierdie peuselhappies. Onthou die groenskil avokado’s bly groen as hulle ryp is terwyl die donkerskil avokado’s in ‘n persswart verkleur as hulle gereed is om te eet.

8 Reasons to love avocado’s

For the heart

Published in The American Journal of Clinical Nutrition *1, a 2018 study found that those who eat avocados (compared to those who don’t) had higher levels of good HDL cholesterol. This is likely due to the higher levels of monounsaturated fat found in avocados. Avocados are also naturally cholesterol-free, an added bonus in heart health.

For healthy blood pressure

Avocados contain potassium, a mineral that when included as part of a healthy diet contributes to normal blood pressure. Avocados are also naturally free from sodium which may increase the risk of high blood pressure if consumed in excess.

For the eyes

Published in the scientific journal Nutrients *2 in 2017, researchers in America found that people who ate one avocado a day over six months had higher levels of lutein in the blood. Avocados are a source of lutein, a phytochemical that accumulates in the eye. Lutein, along with another phytochemical called zeaxanthin, has been found to be protective against a common eye disorder in the elderly called age-related macular degeneration.

For the brain

In the same study mentioned above, people who ate an avocado daily also had significant improvements in their memory, cognition and problem-solving abilities. The lutein in avocados, along with monounsaturated fats, fibre and other bioactive compounds, make this fruit particularly attractive for a healthy brain.

For pregnancy

A mother’s diet during pregnancy plays a crucial role in influencing the growth of her baby and healthy birth. Avocados are a nutrient-dense food consisting of a unique combination of dietary fibre, healthy fats, and vitamins and minerals such as potassium, magnesium, vitamin E, vitamin K and folate, all-important as part of a healthy diet for both mom and growing baby.

For the gut

The fibre in avocados is a unique combination of ¾ insoluble fibre and ¼ soluble fibre. Our gut needs different types of fibres to keep it healthy, each of which has different jobs in the gut. Soluble fibre acts like a mop and helps absorb fluid in the gut, forming a soft gel-like substance that helps the stool pass easily through the gut. Insoluble fibre acts like a broom, roughly sweeping through the length of the gut to remove waste. But fibre does far more than just keep us regular and may play a role in preventing colon cancer, lowering cholesterol, and even helping with weight loss.

For the waistline

Avocados can be helpful as a part of a successful energy-controlled diet for weight loss. Researchers have found that the monounsaturated fats in avocado give a quicker feeling of fullness which reduces overeating. The richness may also help make the diet more appetising, reducing the temptation to binge on foods high in sugar and bad fats.

For hair and skin

Avocados are high in a B-vitamin called biotin which contributes to the maintenance of normal hair and skin. Nourish your hair and skin from the inside out by adding avocado to your meals.

Information from the South African Avocado Growers’ Association.

References:
*1. Mahmassani HA, Avendano EE, Raman G, Johnson EJ. Avocado consumption and risk factors for heart disease: a systematic review and meta-analysis. American Journal of Clinical Nutrition. 2018;107(4): 523–536. https://doi.org/10.1093/ajcn/nqx078.
*2. Scott TM, Rasmussen HM, Chen O, Johnson EJ. Avocado Consumption Increases Macular Pigment Density in Older Adults: A Randomized, Controlled Trial. Nutrients.2017; 9, 919. Doi:10.3390/nu9090919

Filo tot die redding

Daar is altyd maar altyd ‘n boks filodeeg in my vrieskas, want daarmee tower mens in ‘n ommesientjie ‘n heerlike verskeidenheid geregte op – soet of sout. Eniggeiets wat jy voorheen met skilferkorsdeeg gemaak het, kan jy ook met filo doen. Terte, tertjies, rolletjies… noem maar op. Ek is gek na die dun-dun velletjies deeg waarmee jy so lekker kan speel – frommel die deeg op en stapel bo-op ‘n tert of pak ‘n klompie velle opmekaar en hulle bak heerlik bros. Aanvanklik het ek gesmelte botter oor die rou velle geverf voor ek hulle opmekaar gestapel het, nou kom ek hulle sommer by met kossproei – vir groenteterte werk die olyfoliesproei veral lekker.

Die belangrikste is dat jy die rou deeg onder ‘n klam teedoek hou sodat die velle nie uitdroog nie, want dan raak dit bros en moeilik om mee te werk.

Hier maak ek 3 plat groeteterte wat jy sommer in ‘n bakplaat doen. Sit dit dan voor soos pizza, in lekker groot blokke gesny.

BASIESE RESEP
4-8 filodeegvelle, elk gespuit met kossproei
250 g geroomde maaskaas
125 ml (½ k) melk
4 eiers
Sout en peper
VULSEL 1
16 murgpampoentjies, gerasper
Sout
200 g fetakaas, grof gekrummel
10 g vars dille vir bo-op
VULSEL 2
60 g songedroogde tamatiepesto of koljanderpesto
2 bakkies (125 g elk) baba-roma-tamaties
1 eiervrug, in skywe gesny en gebraai tot net gaar
150 g swart olywe, gehalveer
1 rooi soetrissie, in blokke gesny
100 g baba-spinasieblare
200 g mozzarella-kaas, in skywe gesny of gerasper
2 chorizo-worsies of spekveis, gebraai (opsioneel)
Basilieblare vir garnering
VULSEL 3
4 groot rooi uie, in wiggies gesny
3 knoffelhuisies, in repies gesny
250 g botterskorsie, in lang dun repe gesny
15 ml (2 e) bruinsuiker
Paar takkies vars tiemie
150 g bloukaas, gekrummel

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n groot bakplaat (1 per vulsel).

BASIESE RESEP
1 Spuit elke vel filodeeg met kossproei en pak opmekaar (2 velle langs mekaar indien dit ‘n groot pan is) – daar moet minstens 4 velle opmekaar wees. Hou eenkant.
2 Klits die maaskaas, melk en eiers saam en hou eenkant.
Berei die vulsels:
MURGPAMPOENTJIE:
1 Sprinkel sout oor gerasperde murgpampoentjies en laat staan minstens 15 minute in ‘n vergiettes om meeste waterigheid uit te trek. Spoel af en druk droog.
2 Versprei op die kors, giet die maaskaasmengsel oor, sprinkel die fetakaas oor en sprinkel die dille oor.
TAMATIEVULSEL:
1 Smeer die pesto oor die kors, pak die vulselbestanddele op.
2 Giet die maaskaasmengsel oor, besprinkel met kaas en basilie.
UIE-BOTTERSKORSIEVULSEL:
1 Pak die uie, knoffel, botterskorsie in ‘n oondbak, sprinkel suiker en bietjie olie oor en oondbraai by 200°C tot puntjies net effe geskroei is en groent net gaar, maar nog baie bros is. Laat afkoel.
2 Pak op die kors, giet die maaskaasmengsel oor, sprinkel die kaas en tiemie oor.
3 HOE OM TE BAK Plaas in die oond en bak sowat 30—40 minute of tot die vulsel gestol en die kors goudbruin is.

Kitsvariasie: Smeer songedroogde tamatiepesto oor die filodeegkors. Pak skywe ryp Roma tamaties afgewissel met skywe mozzarella-kaas bo-op. Geur goed met sout en peper, sprinkel oregano oor en rangskik swart olywe tussen-in. Bak sowat 20 minute tot gaar. Sprinkel basilieblare.

Smul aan Spaghetti

Toe ons kinders was het ons dit slangetjies genoem en sommer sulke vurke vol van die toutjies spaghetti opgeslurp – partykeer sommer net so, ander kere miskien met ‘n bietjie kaas oorgerasper. Eenvoud op sy lekkerste.

Vir my is ‘n goeie-kwaliteit pasta, gemaak met durumkoring, heel goed genoeg, veral as jy vinnig iets te ete moet prakseer want in ons huishouding gebeur alles maar meestal op ‘n drafstap. Die belangrikste is dat jy die pasta net nie oorgaar moet maak nie – slegs al dente – maw sag, maar tog nog met ‘n effense byt. Om dit goed reg te kry moet jy sorg dat die kastrol waarin jy die pasta kook lekker groot is met lekker baie kookwater in, minstens twee keer die hoeveelheid pasta. Ek giet ook graag ‘n skoot olyfolie oor die pasta nadat ek dit gedreineer het, dan kleef dit nie aanmekaar vas nie.

Ek het al vertel hoe my skoonma, Suzie Niehaus, ons baie keer op ‘n Vrydagaand met ‘n bak gebakte macaroni-en-kaas verras het, net met ‘n eiervlasous en baie kaas oor, niks meer nie. Gou het dit ook ons gereelde Vrydagaandete geword. Saterdae-middae weer, is ‘n groot bak spaghetti met net bietjie pesto deurgeroer, baie keer ons ligte middagete. Maar ons is net so lief vir ‘n passata saam met vars tamaties en parmesaankaas by die spaghetti ingeroer. Ek maak graag my eie passata waarby jy lekker baie vars kruie kan voeg. Die sous is net so lekker oor polenta. Vir die wis en die onwis hou ek egter altyd ‘n bottel of twee Napolitaanse sous in my koskas.

Genoeg vir 6-8 mense
Bereiding: 15-20 minute
Gaarmaaktyd: 10-15 minute

TUISGEMAAKTE PASSATA
2 kg ryp tamaties, met skil en al (roma of konfyttamaties werk goed)
4-6 knoffelhuisies, fyngerasper
goeie hand vol origanum
2-3 lourierblare en/of ’n takkie roosmaryn
goeie handvol basilieblare
goeie handvol pietersielie
125 ml (½ k) water
1 of 2 sakkies (50 g elk) tamatiepasta
sout en vars gemaalde swartpeper
10 ml (2 t) bruinsuiker
60 ml (1/4 k) olyfolie
VARS TAMATIESOUS
200 g verskeidenheid tamaties, verskeie kleure en ook heirloom, in stukke gesny
6 takkies oregano, gekap
30 g basilieblare, geskeur
Olyfolie, net genoeg vir aanklam
SPAGHETTI
500 g spaghetti
Sowat 500 ml (2 k) van die passata-sous
Sout en peper
parmesaan- of pecorino-kaas, gerasper
basilieblare en parmesaankaasskaafsels

1 PASSATA Plaas die tamaties, knoffel en kruie saam met die water en tamatiepasta in ’n dieperige kastrol en kook sowat ’n halfuur oor stadige hitte tot die tamaties sag en geurig is en die meeste water verdamp het. Geur na smaak met sout en peper en bruinsuiker. Verwyder die lourierblare en roosmaryntakkie en plaas alles in ’n voedselverwerker. Pols tot goed fyn. Giet die olyfolie deur die tuit by en pols tot fyn en romerig. Skep in skoon bottels en hou in die yskas.
2 VARS TAMATIES Meng die vars tamaties, oregano en basilieblare met die olyfolie en parmesaankaas.
2 Kook die spaghetti en dreineer.
3 Verhit die passata-sous tot warm en meng deur die pasta.
4 Meng die vars tamaties deur, sprinkel ekstra basilieblare en parmesaan- of pecotino-kaas oor. Sit dadelik voor.

Koue Kerriehoenderslaai

Februarie se hittige dae laat mens allermins lus voel vir warm kos, wat nog te sê lang ure voor die stoof spandeer. Dis dan wanneer hierdie variasie op kroningshoender wat ek desjare terug op Heidelberg in die Wes-Kaap geniet het so handig te pas kom, veral omdat Februarie ook mos druiwetyd is. Die slaai vra nie veel moeite nie en is regtig binne ‘n japtrap klaar, veral as jy die hoender sommer in die Airfryer gaarmaak. Vir iets meer spesiaal gebruik ek lietjies, heerlik om voor te sit wanneer jy vriendinne oornooi vir iets te ete. Die masala-rooibossout gee ‘n lieflike geur aan die hoender.

Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 15—20 min
Gaarmaak: 30 min

HOENDER
1 kg hoenderborsfilette
Sout en peper of die Carmen Niehaus-masala rooibossout
olyfolie
KERRIESOUS
Olie
2 klein uie, gekap
30—45 ml (2 –3 e) geroosterde kerriepoeier
5 ml (1 t) fyn komyn
Sap en skil van 1 suurlemoen
125 ml (½ k) goeie kwaliteit minder-olie mayonnaise (ek gebruik sommer Checkers se Lite-mayonnaise)
125 ml (½ k) romerige natuurlike jogurt
SLAAI
1 groot tros swart of groen druiwe of 1 blik lietjies, gedreineer
30 g roketblare of jong spinasieblare
1—2 stele seldery, in stukke gesny
1 groen appel, in dun skyfies gesny
Groot handvol okkerneute, gekap

Voorverhit die oond tot 180°C.
1 HOENDER Geur die hoender met sout en peper, pak in ‘n enkellaag in ‘n oondbak, giet olie oor en oondbraai tot net gaar en sag, sowat 30 min. (ek doen dit sommer in die Airfryer, sowat 15—20 min). Sny of breek in stukke.
2 Verhit bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die ui daarin tot sag. Voeg die
kerriepoeier en komyn by en meng deur. Verwyder van die hitte en roer die mayonnaise en jogurt deur.
3 Voeg by die hoender en roer deur en koel af.
4 Meng die lietjies of druiwekorrels by die hoender in.
6 Rangskik die blare, seldery en appel op ‘n bord, skep die hoendermengsel bo-op en sprinkel die okkerneute bo-op.
Sit koud voor.

Wenk: Ek het al selfs ‘n piesang of selfs skyfies nektariens ook hierby ingemeng.

Piekelgroente

Bietjie dag terug daag daar ‘n pakkie by my huis op hier in Langebaan – en wat ‘n heerlike verrassing, Safari Vinegar se nuutste premium reeks asyne, alles natuurlik gefermenteer. Ek het nog altyd graag Safari se asyne gebruik maar hierdie is sommer hoërgraad. Daar’s balsamieke asyne – Cape, Cape Rosa en Cape Apple met ‘n suurheidsgraad wat wissel van 4—5%, en dit word ook op die bottel aangedui. Die rooi en wit druiwe-asyne is organies so ook die appel-asyne (daar’s selfs een met heuning en gemmer). Die appel-asyne is ook ongefiltreer en dus propvol goedheid. Alles word plaaslik gemaak en is verpak in ‘n mooie stylvolle bottel, al is dit plastiek.

safari vinegars range

Ek het nog altyd graag ‘n skoot of wat asyn gebruik wanneer ek kook, want dit bring geure so lekker uit veral van sampioene of groenbone en ek gebruik dit graag pleks van mirin of sjerrie in roerbraaie en dis ideaal om piekelgroente mee te maak. Vir slaaisous verkies ek die asyn met die laer suurheidsgraad en my waterbottel kry nou daagliks sy skoot appelasyn met heuning en gemmer.

PIEKELGROENTE

Dis al te voordelig om ‘n fles of wat piekelgroente op hande te hê vir wanneer jy gou iets te ete moet prakseer. Ons hou veral daarvan om oor naweke sommer net ‘n groot dienbord te pak met rotisserie-hoender of skywe oorskiet braaiboud en dit dan saam met kase en piekelgroente te geniet. Ek verkies om met ‘n sagter asyn soos Cape Rosa of Cape Apple te werk. Jy kan die piekelmengsel ook varieer en met gemmer en steranys geur daaraan gee. Dan werk dit veral goed as jy vrugte soos perskes, pruime of selfs pynappel daarin inlê.

Maak sowat 750 g piekels
Voorbereiding: 20—20 minute
Gaarmaaktyd: 10 min

PIEKELMENGSEL
500 ml (2 k) water of jy kan selfs hier ‘n flou rooibostee met boegoe gebruik (so 2 sakkies)
250 ml (1 k) Safari Cape Rosa of Cape Apple asyn
180 ml (¾ k) suiker
15 ml (1 e) geel mosterdsaadjies
6 takkies vars tiemie
Repe skil van 1 suurlemoen
GROENTE
1 elk geel, rooi en groen soetrissies, ontkern en in vingerdik repe gesny
125 g langsteel-broccoli
125 g jong groenbone
1 bos stingeluie, in stukkies gesny

1 PIEKELMENGSEL Plaas al die bestanddele in ‘n groot kastrol en bring tot kookpunt.
2 GROENTE Spoel die groente goed af en plaas afsonderlik in die kokende piekelmengsel. Bring net vining tot kookpunt, verwyder dadelik uit die mengsel met ‘n gaatjieslepel en plaas in ‘n bak of pak in gesteriliseerde flesse.
3 Bring die piekelmengsel weer tot kookpunt en giet oor die groente tot bedek en verseël. Andersins plaas in die yskas.

Variasie: Vervang die mosterd, tiemie en suurlemoen met 1 cm stuk vars gemmer wat in dun skywe gesny is, 2 steranys en 3 heel brandrissies. Sny 2—3 pynappels in dun skywe en pak in flesse en giet die warm sous oor. Verseël. Andersins skil en kook pitperskes tot sag in die piekelmengsel, skep in flesse en verseël.

VINNIGE PIEKELKOMKOMMER: Kook net die water asyn en suiker saam. Sny 4—6 Israeliese komkommers in stukke en giet die piekelmengsel oor.

Spesiale Sjokoladekoek

Koek, sjokolade, bessies en vye is sinoniem met die liefde. In hierdie doodmaklike sjokoladekoek kry jy alles in een met op die koop toe karamelkondensmelk – iets waarmee jy my altyd sal omkoop! Ek maak ook die koek met afgekoelde rooibostee – Red Mocha van Carmién Tea – dit het egte koffiebone in en verleen ‘n heerlike geur aan die koek.

Maak 2 ronde koeke of 24 kolwyntjies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 22—30 minute

KOEKMENGSEL
750 ml (3 k) koekmeel
350—500 ml tsuiker
80—125 ml (⅓ –½ k) kakao
10 ml (2 t) koeksoda, gesif
160 ml (⅔ k) olie
30 ml (2 e) asyn
10 ml (2 t) vanieljegeursel
500 ml (2 k) mocha-rooibostee, gemaak met 4 sakkies Carmién Tea Red Mocha rooibostee, afgekoel
GANACHE
200 g donke sjokolade
30—45 ml (2—3 e) room of melk
AFRONDING
1 blik (387 g elk) karamelkondensmelk
Paar skeppe natuurlike jogurt
Vars bessies en vye
Versiersuiker vir oorstuif

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit 2 koekpanne met kossproei of pak papierkoppietjies in muffinpannetjies.
1 Sif die droë bestanddele saam in ‘n mengbak.
2 Klits die olie, asyn, vanieljegeursel en afgekoelde tee saam.
3 Giet oor die droë bestanddele en meng goed.
4 Verdeel tussen die koekpanne of skep die papierkoppietjies driekwart vol.
5 Bak 22—30 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koeke kom. Laat afkoel. Deel elke koeklaag in twee. (as jy tyd het, vries die koek, dan sny dit makliker)
6 GANACHE Smelt die sjokolade en room of melk in ‘n glasbak oor kookwater of in die mikrogolfoond tot gesmelt. Roer elke nou en dan.
7 Meng die karamelkondensmelk met bietjie jogurt om dit meer smeerbaar te maak.
8 Plak die lae opmekaar met die karamelkondensmelk-versiersel.
9 Skep die ganache oor die hele koek en laat oor die kante afloop.
10 Versier met bessies en vye en stuif bietjie versiersuiker oor.

Liefdeskoekies

Makrolletjies, sjokolade en malvalekkers praat die taal van die liefde. Hier kombineer ek dit, maar jy kan hulle gerus maar net enkel-enkel maak. Vir beide die makrolletjies en malvalekkers hoef jy nie te staan en sukkel om eers ‘n suikerstroop te kook nie. Speel rond met kleure en vulsels. Malvalekkers maak ‘n interresante vulsel vir pienk makrolletjies. Ligte bloues is bv heerlik as dit met suurlemoensmeer aanmekaargeplak word.

MAKROLLETJIES
Maak sowat 40
Bereiding: 20—30 min
Baktyd: 20 min
Staantyd: 20—30 min

BESTANDDELE
225 g versiersuiker
130 g fyngemaalde amandels, nog fyner gemaal in die voedselverwerker
3 eierwitte
60 g (4 e) strooisuiker
‘n paar druppels voedselkleursel van jou keuse
AANMEKAARSIT
100 g gesmelte donker sjokolade of botterversiersel of suurlemoensmeer OF malvalekkers (sien resep)

Voorverhit die oond tot 120°C. Voer ‘n bakplaat uit met bakpapier en spuit met kossproei. Bestuif met mielieblom (skud die oortollige mielieblom af).
1 Sif die versiersuiker en amandels drie keer saam.
2 Kits die eierwitte tot ‘n sagtepuntskuim. Voeg die strooisuiker lepel vir lepel by en klits tot styf en blink. Voeg die kleursel by en klits tot deurgemeng.
3 Skep ‘n paar lepels van die amandelmengsel op ‘n slag by en vou in met ‘n deegskraper of metaallepel.
4 Skep die mengsel in ‘n groterige spuitsak met ‘n ronde spuitstuk en spuit kolle van 2—3 cm groot op die voorbereide bakplaat. Kap die bakplaat om enige lugblasies te verwyder. Doop ‘n lepel in water en vryf oor die bokant om die puntjie plat te maak. Laat staan 30 minute om ‘n velletjie te maak.
5 Bak sowat 20 minute of tot die makrolletjies met ‘n paletmes van die bakplaat gelig kan word.
6 Plak twee-twee opmekaar met gesmelte sjokolade, suurlemoensmeer of malvalekkers.

MALVALEKKERS

30 ml (2 e) gelatien
125 ml (1/2 k) koue water
500 ml (2 k) strooisuiker
125 ml (1/2 k) kookwater
Sowat 12 druppels voedselkleursel van jou keuse

1 Spons die gelatien in die koue water. Verhit tot gesmelt, moenie kook nie.
2 Voeg die strooisuiker en kookwater by en klits 7—10 minute tot die mengsel verdik en wit verkeur het. Voeg voedselkleursel by en klits goed.
3 Smeer dik op een makrolletjie en plak die ander een bo-op. Laat staan tot die malvalekkers heeltemal gestol is.

SUURLEMOENSMEER

Hierdie resep van kookboekskrywer, Ilse van der Merwe, is die beste resep vir suurlemoensmeer wat ek nog teëgekom het. Ek maak dit soms ook in die mikrogolfoond aan – roer net elke minuut of wat en toets vir die regte dikte.

Maak sowat 500 ml (2 k)

200-250 ml suiker
250 ml (1 k) vars uitgedrukte suurlemoensap en 20 ml (4 t) fyngerasperde suurlemoenskil
160 g
4 heel eiers

1 Verwerk suiker en suurlemoenskil tot fyn in ‘n voedselverwerker, voeg die botter by en verwerk tot romerig. Voeg eiers by en verwerk tot goed gemeng, skraap die kante af. Voeg die suurlemoensap by en verwerk tot glad.
2 Skep in kastrolletjie en verhit oor baie lae hitte tot dit glansend en dik is, roer aanhoudendend. Andersins plaas in ‘n glasbak oor ‘n pot met kookwater. Verhit stadig terwyl aanhoudend geroer word met ‘n draadklitser tot die mengsel verdik, sowat 10 minute. Moenie dat dit kook nie. Koel af. (Toets vir die regte dikte deur ‘n bietjie op ‘n piering uit te skep en te verkoel.)

Wenk: Skep die oorskiet malvalekkers in gesmeerde silikonvormpies en plaas in die yskas tot gestol. Rol in klapper of doop in gesmelte sjokolade. Sit voor saam met die makrolletjies.

Vier romanse met roulade

Februarie is die maand van liefde en romanse. Vier dit met ‘n happie roulade waarin lappies forel in toegerol is. Nie net heerlik en verleidelik nie, maar ook doodmaklik en vinnig om te maak want dit vra nie dat jy eers witsous hoef te maak nie. Koud of warm smaak dit ewe lekker. Met dieselfde mengsel kan jy selfs ‘n klein omelet maak.

ROULADE
200 g spinasie, gaargestoom en vloeistof goed uitgedruk
60 ml (1/4 k) koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
2 ml (1/2 t) neutmuskaat
30 ml (2 e) gekapte grasuie
Sout en peper
4 eiers, geskei
VULSEL
230 g-houer geroomde maaskaas
45 ml (3 e) koljanderpesto
1 pakkie gerookte forel
Halwe komkommer, in linte gesny met ‘n aartappelskiller

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n 33 x 23 cm bakplaat met kossproei en voer uit met bakpapier.
1 ROULADE Plaas die spinasie, meel, neutmuskaat, grasuie en sout en peper in ‘n voedselverwerker en verwerk tot glad. Voeg die eiergele by en klits goed.
2 Klits die eierwitte in ‘n aparte bak tot styf. Vou by die spinasiemengsel in.
3 Giet die spinasiemengsel in ‘n uitgevoerde bakplaat en bak 10–15 min lank tot gaar. Keer uit op ‘n skoon doek en rol versigtig op terwyl nog warm.
4 Rol af om te vul. Meng die maaskaas en pesto en smeer oor die spinasierol. Pak die forel en komkommerlinte op en rol weer stewig op. Sit voor met suurlemoenskyfies.

Nostalgie met Peppermint Crisptert

Ek onthou die Peppermint Crisptert wat my ma altyd in ‘n Pyrexbak gemaak het vir talle Sondagmiddagkuiers. Een van daai terte wat jy nie kan ophou eet as jy eers begin het nie. Ook my man se gunsteling. Maak dit in ‘n broodvorm sodat mens dit makliker kan sny of maak weer ‘n slag ‘n driehoektert, die treffer uit die tagtigs.

Maak 1 medium tert
Voorbereiding: 20 min
Verkoeltyd: oornag

  • 1 blik (360 g) karamelkondensmelk
  • 250 ml (1 k) geroomde maaskaas
  • 6 Peppermint Crisp-sjokolades
  • 1 pak (200 g) Tennisbeskuitjies
  • 300 ml (1¼ k) room, verkoel
  • Mentblaartjies vir versiersel

Voer ‘n mediumgroot broodpannetjie met kleefpastiek uit, groot genoeg sodat dit ook oor die kante hang.

1 Meng die kondensmelk en maaskaas saam tot goed gemeng.
2 Plaas 4 van die sjokolades in ‘n plastieksak en maak fyn met ‘n rolstok.
3 Pak ‘n laag Tennisbeskuitjies op die boom van die voorbereide broodpan.
4 Skep ‘n laag karamelmengsel oor en smeer gelyk oor die beskuitjies.
5 Klits 250 ml (1 k) van die room styf en smeer ‘n laag oor die karamelmengsel. Sprinkel ‘n laag van die sjokolade oor.
6 Herhaal die lae, eindig met ‘n laag beskuitjies.
7 Vou die kleefplastiek toe oor die tert en verkoel oornag in die yskas.
8 Ontvorm op ‘n dienbord, verwyder die plastiek.
9 Smelt die orige 2 Peppermint Crisp-sjokolades saam met die orige room in die mikrogolfoond of in ‘n glasbak oor kookwater.
10 Giet die gesmelte sjokolademengsel oor die tert. Laat staan tot die versiersel stewig is. Versier met mentblaartjies.

VARIASIE: PEPPERMINT CRISP-DRIEHOEKTERT

Gebruik 2 pakkies (200 g elk) Tennisbeskuitjies. Lê die beskuitjies in drie rye van vier elk op ‘n groot vel tinfoelie uit. Meng die kondensmelk, maaskaas en 250 ml (1k) styfgeklopte room saam. Smeer ‘n lagie oor die Tennisbeskuitjies. Pak nog ‘n laag Tennisbeskuitjies op. Vou die gekapte Peppermint Crisp sjokolade by die orige roommengsel in en skep dit oor die middel van die beskuitjies. Gebruik die foelie en vou die buitenste lae oor die vulsel toe om ‘n driehoek te vorm. Maak die foelie toe en vries 6 uur. Haal uit vrieskas en bedek met die gesmelte sjokolade. Laat hard word. Sny in skywe en versier met ment.

Oondgeroosterde Groente

EET VARS EN GESOND: Eet meer vars vrugte en groente

Ek hou van my slaai, groentes en die heerlike verskeidenheid somervrugtes wat tans beskikbaar is. Waar moontlik verkies ek om dit rou te geniet en ook ongeskil waar moontlik, maar maak doodseker dat jy dit baie baie goed afwas.

Vrugte, soos veral appels, wat ek fyn rasper of ‘n gekookte appelpuree, werk ook baie goed in gebak as jy die suikerinhoud en selfs smeerinhoud van koek wil verminder en ek eksperimenteer deesdae graag daarmee om van die lekkerste sjokoladekoeke tot klapperkoeke mee te maak. Meer daaroor later.

Vars vrugte en groente is propvol goedheid soos vitamiene en minerale. Die vesel daarin hou ook die mikrobiome van goeie bakterieë in jou spysverteringstelsel gelukkig. So verminder dit die risiko vir die infeksies wat onderliggend is van vandag se chroniese siektes.

OONDGEROOSTERDE GROENTE

Vir my is dit die heel maklikste om groente in die oond te druk as ek dit as bykos wil berei. Deesdae gebruik ek natuurlik my Instant Vortex AirFryer daarvoor. Die belangrikste is is dat jy die laaitjie van die airfryer nie te vol moet pak nie en hou die groente eweredig gesny. Daarna gee ek dit geur met slaaisouse, of deur selfs ‘n neutkonfetti oor te sprinkel.

GROENTE
4 x 250 ml (4 k) groente, geskil waar nodig en in linte, lang skywe of wiggies gesny
Groep 1: wortel, botterskorsie, patat, rooi en bruin uie
Groep 2: eiervrug, rooikool, blomkool, broccoli, murgpampoentjies, rooi soetrissie en bruinsampioene
45 ml (3 e) olyfolie per oondpan
2 heel knoffelbolle, gehalveer
Paar roosmaryn- en tiemietakkies
Seesoutvlokkies en varsgemaalde swartpeper
SLAAISOUS
Neuterige slaaisous (sien resep onder)
AFRONDING
Paar roketblare of heel stingeluie wat in diepvet gebraai is
VOORSIT
250 ml (1 k) Quiona, bulgurkoring of koeskoes
250—500 ml (1—2 k) groenteaftreksel
Koljander of pampoenpitpesto (opsioneel)

Voorverhit die oondpan tot 200°C. Smeer 2 oondpanne.

1 GROENTE Pak die groente uit groep een eerste in die oondpan, voeg olyfolie by en meng deur met jou hande. Voeg die knoffelbolle by en pak die kruietakkies bo-op. Geur met sout en peper. Bak sowat 30 minute tot die groente sag en gaar, maar nie pap is nie.
2 Pak die groente uit groep 2 na sowat 15 minute in enkellaag in ‘n ander oondpan, giet olyfolie oor en meng deur met jou hande. Pak kruietakkies op, geur met sout en peper. Oondbraai sowat 15 minute tot net gaar.
3 Pak die groentes op ‘n groot dienbord en giet die neuterige slaaisous of die salsa verde oor.
4 Sprinkel die roket of stingeluie net voor opdiening oor.
5 VOORSIT Vir quinoa: Spoel die quinoa goed af en kook in 500 ml (2 k) groenteaftreksel vir 15 minute of tot sag.
Vir koeskoes en bulgur: Giet 250 ml (1 k) kokende groenteaftreksel oor die koeskoes of bulgur en laat staan tot sag en uitgepof. Maak los met ‘n vurk.

NEUTERIGE SLAAISOUS

Lieflik om oor vars blare of oondgroente te gooi. Maak sowat 180 ml (3/4 k).

  • 125 ml (1/2 k) amandels, pekan- of kasjoeneute
  • 30 ml (2 e) sonneblomsaad, gerooster
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 2 stingeluie, gekap
  • 45 ml (3 e) sterk groen rooibostee, gemaak met 1 Carmien Tea-sakkie (kan boegoegeur ook wees)
  • 60 ml (1/4 e) olyfolie
  • 15 ml (1 e) suurlemoensap

Meng al die bestanddele saam in ‘n voedselverwerker en verwerk tot growwerig fyn.

NEUTKONFETTI
Ek sprinkel hierdie neutmengsel oor enigiets van slaaie tot oondgeroosterde groente. Dit verleen nie net geur nie, maar verleen ook ‘n heerlike krakerigheid daaraan.

Maak sowat 250 ml (1 k)

  • 5 ml (1 t) elk fyn koljander en komyn
  • 15 ml (1 e) sesamsade
  • 80 ml (1/3 k) elk gekapte amandels, okkerneute en pekanneute
  • 30 ml (2 e) bruinsuiker
  • 5 ml (1 t) soutvlokkies
  • 2 ml (1/2 t) sumac (opsioneel)

Meng al die bestanddele saam en hou in ‘n lugdigte houer.

Variasie – SOET OONDGEROOSTERDE GROENTE: Sny botterskorsie, wortel, en patats in skywe, sprinkel sout oor. Meng 5 cm stuk gerasperde gemmerwortel, 2 fyngekapte knoffelhuisies en gerasperde skil en sap van 2 lemoene met 20 ml (4 t) gekapte mentblare en 30—45 ml (2—3 e) bruinsuiker of heuning en meng deur die groente. Versprei in enkellaag in die oondpan en oondbraai tot sag.

Veelsydige Quinoa Slaai

Ek het verlede jaar ‘n groot skrik gekry met ‘n taamlike hoë cholesterol-telling. Ek het dadelik werk gemaak en my leefstyl-patrone nogals dramaties aangepas. Nie net het ek my oefenprogram goed opgeskerp deur aan te sluit by Crossfit nie, maar het ook goed begin kyk na wat ek eet – net vleis (vark of hoender) per geleentheid, baie groente en meer peulgroentes soos kekerertjies, lensies en quinoa en ook heelwat jogurt. Om gehidreer te bly natuurlik ook minstens 8 glase water en/of rooibostee per dag. En nou kan ek getuig dat my cholesteroltelling nou goed onder beheer is met ‘n telling van onder 3. Ek voel energiek en gesond en ek verbeel my al my klere sit heelwat losser en gemakliker. Net reg en vol lus om die uitdagings van 2022 te pak!

As mens té veel rooivleis inneem, loop jy die risiko om gesondheidsprobleme soos hartsiektes en kanker te verhoog. Dis dus ‘n goeie idee om ‘n vleislose dag of twee per week in te werk. Gelukkig is daar heelwat alternatiewe hoë-proteïenbronne om van te kies. Plantbronne soos lensies, bone, hempsade, lynsade, quinoa, ertjies, neute en grondbonebotter is goeie voorbeelde. Ander verstandiger vleiskeuses sluit in hoender, vis, maaskaas, jogurt, melk en eiers. Selfs meeste groente en stysel bevat ook klein hoeveelhede proteïene. Bowendien verskaf lensies en bone asook sade en neute baie vesel en jy voel ook langer versadig. Neute en sade bevat ook vet, maar dis onversadigde vette wat as gesonder beskou word as versadigde vette in diere. Dis dus heeltemal haalbaar om genoegsaam proteïene in te neem uit alternatiewe bronne soos bv. plantbronne.

Die grootste bonus vir my is dat al hierdie kosse gretig is om geur op te neem. Mens kan dus lekker rondspeel met slaaisouse en ander geurmiddels om ‘n heerlike eetervaring te verseker.

VEELSYDIGE QUINOA-SLAAI

Hierdie is ‘n heerlike vleislose slaai wat heelwat proteien bevat met die dat dit quinoa, kekerertjies en neute inkry. Bv. 1 k gaar quinoa bevat 10 g proteïen, 30 g neute bevat 6 g proteïen terwyl 1 k gaar kekerertjies soveel as 14 proteïen bevat, Gee die slaai geur met ‘n geurige pesto of my gunsteling, lemoen-mosterdslaaisous. Wat die groente aanbetref kan jy rondspeel met dit wat jy tot jou beskikking het.

Genoeg vir 4 mense

  • 375 ml (11/2 k) quinoa
  • 750 ml (3 k) groen rooibostee (van Carmien Tea) of andersins groente-aftreksel
  • 180 ml (⅔ k) kruie-pesto soos koljanderpesto of andersins lemoen-mosterdslaaisous (sien resep)
  • 1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer (opsioneel)
  • 100 g groenbone, effe gestoom en/of ‘n halwe elk rooi, geel en groen soetrissie, ontkern en in klein blokkies gesny
  • 3 radyse, dun gesny (opsioneel)
  • 1 klein rooi ui, in dobbelsteentjies gesny of 2 gekapte stingeluie
  • 2 stukke peperfeta-kaas, in stukke gebreek
  • Groot handvol bosbessies
  • Handvol elk amandels of pekanneute of pistasieneute en pampoenpitte
  • Handvol roketblare of baba-spinasieblare

1 Spoel die quinoa goed af onder lopende water (dis belangrik, anders is dit geneig om bitter te wees) en kook 15 minute in groenteaftreksel tot die quinoa uitgeswel en gaar is. Dreineer.
2 Meng net genoeg van die pesto of slaaisous deur om dit goed aan te klam.
3 Voeg die groente en fetakaas by en sprinkel die bosbessies, neute en pampoenpitte oor.
4 Rond af met die roketblare of spinasieblare.

LEMOENMOSTERD-SLAAISOUS

Lewer sowat 180 ml (¾ k) slaaisous

  • 125 ml (1/2 k) lemoensap
  • Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 15 ml (1 e) korrelmosterd
  • 5 ml (1 t) Dijonmosterd
  • 15 ml (1 e) heuning
  • 45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment
  • Sout en peper na smaak

1 Meng al die bestanddele saam en giet oor slaaie of hou in die yskas.

Wenk: Hier gee ek ‘n resep vir ‘n slaaisous wat jy kan oorgiet, maar enige van die Carmen Niehaus-slaaisouse, veral die Zesty Fennel of Fynbos-slaaisous gaan heerlik werk by hierdie slaai.

Vermy kitskos, maak dit self

Sekerlik die belangrikste aspek vir my as mens gesonder en skoner wil eet, is om kitskos en geprosesseerde kosse te beperk. Maar jy kan steeds jou geliefde pizza of hamburger geniet – die geheim – maak dit self.

Wanneer dit by skoner eet kom, moet jy kosse vermy wat baie suiker, verfynde grane en gehidrogeneerde olies bevat en ook ‘n lang lys van meestal onherkenbare bestanddele. Hieronder tel veral kitskos en wegneemetes. Gaan ook matig te werk met koue vleise. Jy kan jou eie slaaisouse, pesto’s en hummus self maak, maar daar is ook goeie produkte in winkels beskikbaar – lees net die bestanddelelys! Natuurlike jogurt en ongeprosesseerde kaas kan in gematigde hoeveelhede ingesluit word by ‘n gebalanseerde eetplan.

Vrydagaande is baie keer pizza-aand by ons en met ‘n deeg wat ek sommer in die voedselverwerker aanmaak is dit glad nie moeite om dit sommer self aanmekaar te slaan nie. Jy weet ook presies wat alles daar inkom. Ek maak my deeg met klipgemaalde meel, bietjie olyfolie en groen rooibostee (nie net werk dit ekstra goedheid by die deeg in nie, dit gee ook ‘n subtiele kruiesmaak daaraan). Die tamatiesous is ‘n mengsel van songedroogde en vars tamaties. Die sous maak ek sommer in die mikrogolfoond. Heerlik. Ek gaan liggies te werk met die kaas – gebruik ‘n mengsel van ongeprosesseerde wit Cheddarkaas en mozzarella. En dan vir bolae hou ek van vars goed soos spinasie, broccoli, baba-tamaties, soms pynappel en selfs rou beet of oondgeroosterde botterskorsie, die maak ek sommer in die Airfryer gaar.

PIZZA UIT DIE BOONSTE RAKKE

Die pizzakors is lekker bros en jy kan hom dun uitrol. Hier’s ook ‘n resep vir ‘n kors met blomkool gemaak.

DEEG
5 x 250 ml (5 k) witbroodmeel
15 ml (1 e) olyfolie
10 ml (2 t) sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
500 ml (2 k) flou groen rooibostee, gemaak met 1 sakkie en afgekoel tot louwarm

BOLAE
Olyfolie
Mieliemeel om oor te strooi
Tamatiesous (sien resep onder)
Kombinasie van gerasperde mozzarellakaas en wit Cheddarkaas
Bolae van jou keuse (sien lys)

  1. Voorverhit die oond tot 230°C. Plaas ‘n omgekeerde bakplaat (dit help dat dit makliker afgly) in die oond om goed warm te word voordat jy die pizzabasisse oppak.
  2. DEEG Plaas al die bestanddele vir die deeg, buiten die louwarm tee in die mengbak van ‘n voedselverwerker. Giet die tee deur die tuit by en meng tot goed gemeng, so 7–10 minute en die deeg in ‘n bol rondom die lem vassit. Die deeg is effe klewerig. Vewyder uit die bak, vorm in ‘n bol, verf met olyfolie, bedek en laat rys tot dubbel die grootte.
  3. Verdeel die deeg in 4 (8 vir kleiner pizzas) bolletjies en rol so dun as moontlik op ‘n meelbestrooide oppervlak uit.
  4. Bestrooi die warm bakplaat met mieliemeel en plaas die basis(se) bo-op (dis nie nodig om hul weer te laat rys nie). Plaas die bakplaat so na as moontlik aan die onderste element en bak 5—7 minute tot gaar maar nie bruin nie.
  5. Haal uit die oond, en smeer ‘n dun lagie tamatiesous oor. Strooi kaas oor en pak bolae van jou keuse op. (sien variasies).
  6. Skakel die boonste roostelement van die oond aan en rooster tot die kaas net gesmelt het.

TAMATIESOUS
750 g pruimtamaties (Roma), ontvel en in klein stukkies gesny
80—125 ml (¼-½k) songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
6 knoffelhuisies, fyngedruk of gerasper
15—30 ml (1—2 e) songedroogde tamatiepesto (opsioneel)
5 ml (1 t) droë oreganum

Plaas al die bestanddele in ‘n glasbak en mikrogolf 10 minute by 100-persent-krag tot die sous nie meer waterig is nie. Roer elke 3 minute. (jy kan ook die sous in ‘n kastrol op die stoof maak). Laat goed afkoel.

BOLAE

  • Smeer tamatiesous oor elke basis, strooi gerasperde mozzarella- en wit Cheddarkaas oor en pak enige van die onderstaande op.
  • Fetakaas, gaar spekvleis, geroosterde soetrissies, swart olywe en baba-spinasieblare. Bak en stapel skywe avokado op, geur goed met sout en peper. Rond af met roket.
  • Basiliepesto, kersietamaties, swart olywe, sampioene en bocconcini of feta-kaas. Bak tot gaar en stapel basilieblare bo-op.
  • Pikante pepers, rooi uie en oondgebraaide botterskorsie. Bak tot kaas gesmelt is. Rond af met roket.
  • Parmaham, murgpampoentjieskaafsels, rooi uie en kappertjiesaad. Bak tot die kaas gesmelt is en rond af met roket of basilieblare.
  • Kersie-tamaties, broccoli, pynappel, groen olywe en tuna of gepluisde gaar hoender. Bak tot die kaas gesmelt is. Rond af met roket.

MEELLOSE PIZZAKORS
Kap ‘n halwe blomkoolkop fyn en mikrogolf tot sag. Roer ‘n fyngekapte knoffelhuisie, 250 ml (1k) gerasperde Mozzarella-kaas, 1 geklitste eier, 5 ml (1 t) droë basilie en oregano in die voedselverwerker. Smeer die blomkoolpasta op ‘n uitgevoerde gesmeerde bakplaat, sowat 1 cm dik. Bak sowat 20 minute by 180°C tot stewig en effe bruin om die kante.

Eet vars en gesond

Daar is deesdae so baie eetplanne oor gesonder eet dat dit mens meestal goed deurmekaar maak. Ek het nou al bykans na almal geloer en meeste beproef en op die ou einde het ek volstaan by gebalanseerd eet met die volgende 6 riglyne as basis:

Eet volgraan, beperk suiker, eet meer vars vrugte en groente, eet minder vleis, beperk geprosesseerde en kitskosse en verminder jou soutinsname.

Ons kyk na die eerste twee naamlik eet volgraan en beperk suiker en ek gee ‘n heerlike beskuit- en dadelbolletjie-resep wat ideaal is vir ‘n vinnige happie saam met jou oggendkoffie voor werk of skool of as inpakkos saam werk of skool toe.

Eet volgraan

Die natuurlikste volgrane is die wat die minste deur prosessering geraak is en grotendeels lyk soos net nadat dit geoes is. Hawermout, quinoa, wilderys, klipgemaalde volgraanmele en -pasta of -brood is goeie voorbeelde. Volgraankosse bevat meer vesel en dit word nie tydens vertering afgebreek nie. Semels, onverfynde rys en die skil van groente en vrugte bevat baie onoplosbare vesel, terwyl droëpeulgroente, neute, hawermout en vrugte soos appels ryk is aan oplosbare vesel. ‘n Produk met ‘n kort lys herkenbare bestanddele waar volgraan onder die eerstes gelys is en wat min of geen suiker bevat nie, sal ook deug. Ek eksperimenteer nou al ‘n geruime tyd om ‘n lekker volgraan en veselryke beskuit wat mens met of sonder suiker kan maak, te bak en hier’s hy nou.

Gesondheidsbeskuit

Semels bevat 40-50% vesel en is spotgoedkoop. Ek gebruik net dadels of sultanas om die nodige soetigheid te verskaf in hierdie beskuit, maar jy kan ook bietjie suiker bygooi. Ek maak die beskuit met olyfolie, nie botter of margarien nie. Die hoeveelheid wat ek gebruik verskaf net genoegsame brosheid sonder om die beskuit hard te maak. Pleks van karringmelk gebruik ek natuurlike jogurt, ek gebruik gewoonlik die lactolite-vrye een. Groen rooibostee, spesifiek die Carmien Tea Earl Grey, help om die beskuit aan te klam. Die Earl Grey gee ‘n heerlike ligte lemoengeurtjie aan die beskuit.

Lewer 60 stukkies beskuit
Bereiding: 20 min
Baktyd: 20 min
Uitdroog: 3—4 ure of oornag

750 ml (3 k) klipgemaalde witbroodmeel
750 ml (3 k) semels
125-250 ml (½-1 k) klapper
250 ml (1 k) hawermout
250 ml (1 k) bruinsuiker (opsioneel)
5 ml (1 t) sout
30 ml (2 e) bakpoeier
250 ml (1 k) lynsaad
250 ml (1 k) geroosterde sonneblomsade of helfte daarvan pampoensade
250 g fyngekapte dadels of sultanas
250 ml (1 k) olyfolie
500 ml (2 k) natuurlike jogurt
2 eiers
Carmien Tea Earl Grey groen rooibostee, aangemaak met 2 sakkies per 250 ml kookwater, soos nodig
sade vir bo-oor sprinkel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n oondpan goed of bespuit met kossproei.
1 Meng die meel, semels, klapper, hawermout, suiker, indien gebruik, sout en bakpoeier goed. Voeg die lynsaad, sonneblomsaad en of pampoensade
dadels of sultanas by en meng goed deur.
2 Klits die olyfolie, jogurt en eiers saam en voeg by die droë bestanddele.
Meng goed en voeg die groen rooibostee by soos nodig totdat jy ‘n stewige mengsel het. Skep in die pan en maak gelyk. Sprinkel sade bo-oor indien verkies.
3 Bak 50 min. of tot ’n toetspen skoon uitkom.
4 Laat effens in die pan afkoel en keer dan uit op ’n draadrak om heeltemal af te koel.
5 Sny in klein stukkies en pak op ’n bakplaat. Verlaag die oondtemperatuur tot sy laagste en laat droog die beskuit 3-4 uur in die oond uit of tot heeltemal droog. Laat afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.

Beperk suiker

Suiker is deesdae die groot vloekwoord. My filosofie is om nie soseer alle suiker uit te sny nie, maar om dit te verminder en deels te vervang met suiker-alternatiewe. Ek verkies natuurlike suikers soos mens dit kry in vrugte, want dit bevat ook ekstra vesel wat die effek van die suiker op insulienvlakke teenwerk. Bv. droëvrugte se suiker is baie gekonsentreerd, maar bevat ook hope vesel. As jy dus skoner wil eet, kan jy ook aan onversoete droëvrugte soos dadels, gojibessies, rosyne en bosbessies peusel, maar hou matigheid voor oë. Ek’s gek na dadels in enige vorm en dis ideaal om ‘n heerlike peuselhappie mee te maak.

Dadelbolletjies

Wie van ons is dan nou nie gaande oor daardie outydse dadelbolletjies waarby daar ook fyngekapte Mariebeskuitjies ingemeng was nie. Dié is soortgelyk, buiten dit word nie gemaak met die suiker-en-botter stropie (die vervang ons met rooibostee) nie en het neute pleks van die Mariebeskuitjies in. Dis heerlike inppakkos en ideaal om jou soettand in bedwang te hou.

Maak sowat 28 balletjies
Bereidingstyd: 30 minute
Gaarmaaktyd: 5-10 minute

500 g dadels, fyn gekap
180 ml (¾ k) rooibostee gemaak met 1 sakkie Carmien Tea Red Mocha (‘n mengsel van roobos en koffiebonestukkies en egte sjokolade)
150 ml (½ k) fyn klapper
60 ml (¼ k) kakao
15 ml (1 e) rou heuning (opsioneel)
100 g rou heel amandels, fyner gekap
kakao, of klapper of amandelbrokkies om balletjies in te rol

1 Kook die dadels in die rooibostee tot sag en die vloeistof bykans weggekook het. Kap fyn in die voedselverwerker.
2 Voeg die klapper, kakao en net genoeg heuning by indien verkies om ’n stywe pasta te maak. Roer die gekapte amandels by en vorm in klein balletjies.
4 Rol in die kakao, kakao of amandelbrokkies en verkoel tot stewig.

Gee jou gesondheid ‘n verdere hupstoot met ‘n vinnige teatox

Carmien Tea maak dinge sommer supermaklik met hul teatox-combo om jou te help om jou Nuwejaars-gesondheidsdoelwitte te bereik. Dit bestaan uit ‘n pak Energise (‘n mengsel van rooibos, boegoe, hoodia en guarana) en ‘n pak Cleanse (‘n mengsel van natuurlike kruie, senna, suurlemoengras, gemmer, spearment en groen rooibos).

Die teatox is net twee stappe: skop die dag af met 1 tot 2 koppies Energise om jou energievlakke ‘n hupstoot te gee. Die hoodia help ook om eetlus te onderdruk terwyl die boegoe waterretensie verminder en help om toksiene uit die liggaam te spoel. Eindig die die dag met 1 tot 2 koppies Cleanse om sodoende die kruie kans te gee om hul reiniging te doen. Senna is ‘n matige natuurlike lakseermiddel terwyl die suurlemoengras, gemmer en ment sal help met vertering en ook om van ‘n opgeblase gevoel ontslae te raak.

GROEN SMOOTHIE

Kry jou detox aan die gang met hierdie groen smoothie, terselfdertyd kry jy sommer ook jou daaglikse kwota Energise in. Die pynappel verleen ‘n heerlike vars smaak.

Maak sowat 750 ml (3 k)
Bereiding: 10 min

2 sakkies Carmien Energise-rooibostee
180 ml (¾ k) kookwater
500 ml (2 k) baba-spinasieblare of krulkool
500 ml (2 c) pynappelblokkies, gevries
Bietjie heuning indien verkies

  1. Trek die rooibostee in die kookwater tot sterk. Druk vloeistof uit sakkie. Hou eenkant, dis nie nodig om heeltemal af te koel nie.
  2. Plaas die spinasieblare of krulkool in die voedselverwerker, voeg die pynappelblokkies by en kap fyn. Voeg die tee deur die tuit by terwyl die voedselverwerker loop. Voeg bietjie heuning by indien verkies.
  3. Kap fyn tot glad.
  4. Giet in glase en geniet dadelik.

STAAN ‘N KANS OM ‘N DETOKS-GESKENKPAK TER WAARDE VAN R850 TE WEN!

Die geskenkpak bevat:

  • Carmien waterbottel
  • Carmien gesondheids-tees: Cleanse, Energise, Delight, Relax, Boost, Revive, Restore, Focus
  • Carmien rooibos poeiers (perfek vir smoothies!)
  • Carmen Niehaus rooibos slaai souse en soute

Volg die stappe op hierdie Facebook en/of Instagram post om in aanmerking te kom vir die prys. Die kompetisie sluit Vrydag 21 Januarie 12:00.

Eet skoner en varser

‘n Goeie afskop om gestalte aan gesonder eetgewoontes te gee is om vir ‘n week of wat skoner te eet met lekker baie vars kosse, want ‘n mens hoef geensins net van water en groentestokkies te leef as jy bietjie wil detoks nie. Dieetkundiges beveel aan dat mens sowat 3—7 dae detoks, maar moenie vas nie, want dit vertraag die metabolisme.

  • Detoks deur sekere kossoorte soos suiker, sout, koring, kafeïen, alkohol, tabak, melk en verfynde kosse uit te sny.
  • Eet slegs natuurlike, nie-geprosesseerde kosse – vra die vraag: “is dit van ‘n boom of ‘n fabriek?.”
  • Eet soveel as moonlik vars of rou kos soos baie groente en vrugte. ‘n Lekker vars slaai of ‘n smoothie is ideaal.
  • Sorg dat jy genoegsaam water of kruietees soos rooibos, heuningbos en boegoe (Carmién Tea se detoxtees is ideaal – meer hieroor Vrydag) inneem, want dit sal meehelp om ontslae te raak van die onsuiwerhede in die liggaam, help met hidrasie asook om hardlywigheid te voorkom.
  • Sorg ook dat jy wel maer proteïen inneem, want dit help om nuwe weefsel te genereer.
  • Eet meer hiervan: amandels, appels, avokado’s bloubessies, beet, granate, gemmer, roket, suurlemoen, kruietee, knoffel, kool, blomkool, quinoa, pietersielie, vlassade en vinkel.
  • Eet minder hiervan: suiwelprodukte en eiers, gluten- en koringprodukte soos brood en pasta, suiker en versoeters, sojaprodukte, kafeïendrankies soos koffie, tee en gaskoeldrank, diereprodukte en seekos, geursouse soos blatjang, margarien, gis en alkohol.

KLEURVOLLE MENGELSLAAI

My buurvrou en oefenmaat, Louise Brand is bekend vir haar kleurvolle mengelslaaie. Soos wat sy gereeld sê, “ek meng sommer heelwat bestanddele saam, want dis wat dit ‘n mengelslaai maak.” Nie net is dit lekker vars nie, maar ook heerlik (my man wat hom glad nie uitgee vir ‘n slaaieter nie, smul telkens tog te lekker daaraan.)

Hier is wat sy bymekaarvoeg – die hoeveelhede kan jy aanpas soos wat jy beskikbaar het:

  • Cos-blaarslaai, fyn opgesny
  • Komkommer, in dun repies gesny
  • Baba-tamaties, gehalveer
  • Pink Crispp-appel, in klein blokkies gesny (met skil en al)
  • Aarbeie, gehalveer
  • Bloubessies
  • Avokado, in blokkies gesny
  • Rooi ui, in dun repies gesny
  • Swartpeper-fetakaas, in growwe blokkies gebreek
  • Stewige handvol gedroogde bosbessies
  • Goeie sprinkel sade soos pampoensade en geroosterde sonneblomsade
  • Goeie handvol neute soos amandels en/of pekanneute

Hierdie word dan so in lagies in ‘n bak gepak en net liggies deurgemeng. Sy sit nie ‘n slaaisous by nie, maar ‘n goeie skoot van een van my Carmen Niehaus-slaaisouse soos die Fynbos of selfs die Zesty Fennel-slaaisous sal heerlik wees hieroor. Dit bevat min olie en suiker en dra boonop by tot ekstra goedheid.

Skud reg vir 2022

Ek hoop van harte julle het die uitspantydjie geniet en dat julle weer propvol planne en nuwe idees is om die uitdagings van 2022 aan te pak. Net so vertrou ek dat julle ook weer propvol energie is om 2022 sommer van maand een vir ‘n ses te slaan. Ek weet ook dat meeste van ons goeie Nuwejaarsvoornemens het om 2022 gesonder te eet. Daarom het ek besluit om die hele Januarie af te staan aan gesonder eet idees met lekker, maklike resepte. So, hou dop.

ENERGIEKE SMOOTHIE

Die beste manier vir my om my dag reg te begin is met ‘n lekker(goed) smoothie, want meeste van ons het bloot net nie die tyd om soggens aan te sit vir ‘n ordentlike ontbyt nie. Hierdie smoothie kan jy regtig binne minute in die voedselverwerker aanmaak. Dit bevat ‘n goeie skoot goedheid wat jou energievlakke (sonder onnodige kilojoules) die nodige hupstoot te gee. Boonop is dit heeerlik – wie gaan dan nee sê vir “strawberries & cream”.

Die basis van hierdie smoothie is Carmien se Energise-rooibostee wat ook guarana, hoodia en boegoe bevat. Guarana help die metabolisme aan en verminder moegheid, terwyl boegoe help om waterretensie te beveg en hoodia die eetlus help demp op ‘n natuurlike manier. Die wilde bessies in die Carmien Energise-rooibostee werk ook baie lekker saam met enige kombinasie van bessies soos aarbeie, frambose en selfs bloubessies. Bessies is gelaai met vesel en superkos-goedheid. As ek nie genoegsaam tyd het om my eie vrugte op te sny en te vries nie, gebruik ek graag deesdae die Früzo flash frozen fruit. Daar is verskeie soorte beskikbaar, van bessies tot pynappel en tropiese vrugte.

Om die nodige romerigheid te verskaf, voeg ek graag ‘n paar lepels jogurt by – omdat dit reeds gefermenteer is, verteer jogurt beter as melk. Jy kan ‘n romerige jogurt (verkieslik met lewende kulture) gebruik, maar ek verkies om ‘n Lactolite lae-vet jogurt te gebruik wat veral ook geskik is vir mense wat laktose intolerant is. Diegene wat nie suiwel gebruik nie, kan amandelmelk gebruik. As jy ‘n redelike soettand het, voeg klein bietjie heuning of versoeter by.

Omdat ek nie juis ‘n groot vleiseter is nie en sukkel om my daaglikse hoeveelheid proteien in te kry, voeg ek ook graag ‘n skep of twee wei-proteien by, veral as ek ‘n strawwe oefensessie het wat wag. Tans gebruik ek USN se Ultralean weiproteïenpoeier. Daar is 3 smake – sjokolade, aarbei en vanielje.

Nota: Ek voeg ook graag ‘n sakkie van die Carmien Energise-rooibostee in my waterbottel. Heerlik om tydens ‘n oefensessie aan te teug of sommer net so gedurende die dag. Dit maak dit soveel smaakliker om jou daaglikse 8 glase water in te neem.

RECIPE

Makes 1 large serving
Preparation time: 3 minutes

4 Carmien Energise (with guarana, hoodia & buchu) teabags
250 ml (1 c) boiling water
250 ml (1 c) frozen berry mix or frozen strawberries, raspberries and or blueberries (I usually use Früzo flash-frozen fruit)
1-2 scoops (50—100 ml) Ultralean whey protein powder (I use USN low GI Dietfuel nutrition shake)
80-160 ml (⅓—⅔c) natural plain yoghurt (can be creamy or Lactolite low fat)
5 ml (1 t) raw honey or sweetener (optional)

1 Place 4 tea bags in a cup of boiling water and steep for 2 minutes.
2 Place the frozen berries in a blender or the jug of the stick blender.
3 Pour the hot tea over the berries.
4 Add the whey protein, yoghurt and honey/sweetener as preferred.
5 Blend or insert the stick blender into the jug and puree until smooth.
6 Pour into a glass and enjoy.