Ek is onlangs uitgenooi deur Mosselbaai se fynproewersgilde om ‘n bietjie daar te gaan kook. En watter heerlike kuieroggend was dit nie. Marencia Gouws en haar span het omtrent uit hul pad gegaan om ‘n wonderlike geleentheid op te tower daar by die Diaz-hotel waar bykans 80 vrouens tog te lekker saamgekuier het.
Die oggend het afgeskop met almal wat verskeie Carmien-tees uit klein glasies kon proe. Daarby het Marencia spesiaal vir hulle biscotti gebak. Heerlik.
En toe was dit my beurt om die gaste bietjie touwys te maak hoe maklik dit inderdaad is om gesonder te kook, maar steeds smullekker. Met my resepte in die hand het die baie bekwame sjefspan van die Diaz-hotel behoorlik gekook. Uiteraard het elke gereg ‘n goeie skoot Carmien-tee ingekry. Ek het veral met die splinternuwe Cooking Bags gekook. Dis ‘n groter teesakkie met meer tee daarin en wat lekker sterk trek sodat mens dit soos ‘n aftreksel in kos kan gebruik. Die Masala Chai Cooking Bag met sy speserygeure is veral gewild en ek gebruik dit van in soppe en kerries tot om slaaisouse mee te maak. Die Combo-boks bevat Pure-rooibostee asook groen-rooibostee, wat ek weer gebruik om soutige geregte in te kook, bv om rys of aartappels gaar te maak. Soos wat ek gewoonlik sê, eniggeiets waar jy water byvoeg, kan jy met rooibos vervang, veral groen rooibos, wat ‘n effense fynbosgeur het. Op die spyskaart was: Bokkomslaai met aarbei-vinaigrette; kragsop; Lamskenkels met knoffelaartappel en rooiuiepiekel en voorgesit met quinoa-en-bulgurslaai vir die tafel met ‘n rooibosslaaisous en broccoli-piekel. Ter afsluiting ‘n proteienryke bruintjie met rooibos-roomys.
Ons skop af met ‘n bietjie Weskuslekkerte, ‘n bokkomslaai met ‘n aarbei-vinaigrette, gemaak met Carmien se Menopause-rooibostee wat ook ‘n bessie-geurprofiel het en wat fantasties kombineer met Piekenierskloof se grenache-rosé met sy aarbei- en roosblaargeure. Net reg vir die die koms van die lente. As dorslesser is Carmien se Cranberry Hibiscus-Cold Brew op tafel.
Daarna kry almal klein kommetjies geurige kragsop, gemaak van die lamskenkelbene wat uit die hoofgereg gekom het (ja, daar word niks vermors nie)
Saam met die hoofgereg is daar ‘n heerlike quinoa-slaai: quinoa en bulgurkoring, wat gaargemaak is in die Masala Chai Cooking bags. Daaroor kom ‘n geurige rooibosslaaisous. ‘n Broccolipiekel met soetrissie en bosbessies rond die slaai lekker af (dis nogals handig om van hierdie piekel in die yskas te hê, want net so is dit heerlik saam met braaivleis).
Vir hoofgereg is daar geurige lamskenkels wat in ‘n tamatiesous gestowe is tot smulsagte lekkerte, geniet met fynaartappel waarby lekker baie knoffel ingemeng is.
En dan die kersie op die koek – ‘n bruintjiekoek waaraan mens maar sonder sonde kan smul – dis propvol proteien en vesel met min suiker en vet en word voorgesit met ‘n rooibos-roomys, my ma se legendariese resep wat ek aangepas het.
Vir ons was dit ‘n heerlike kuier wat ons teruggevat na ons kinderdae toe ons gereeld op Hartenbos vakansie gehou het en op Mosselbaai gaan dans het. Dankie Mosselbaai.
MEDITERREENSE LAMSKENKELS
Langbeen skenkels kan ook gebruik word, dan kry elkeen ‘n skenkel.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding; 20 min
Gaarmaak: sowat 2 uur
6–8 lamsskenkels
Olyfolie
Sowat 30 ml (2 e) balsamieke asyn
2 takkies roosmaryn
6 heel knoffelhuisies, gerasper
Sout en peper
olie
500 g Roma-tamaties, grofweg opgekap
2 Wildeklawer-uie, geskil en gekap
1 Wildeklawer wortel, geskraap en in stukkies gesny
15 ml (1 e) elk gekapte basilie- en pietersielieblare
7,5 ml (½ e) elk gekapte oregano en tiemie
2 lourierblare
Olyfolie
Sout en peper na smaak
Suiker na smaak
65 g tamatiepasta
125 ml (½ k) Piekenierskloof-pinotage
Goeie hoeveelheid Carmien groen rooibostee, gemaak met’n Cooking Bag
VOORSIT
1 bol heel knoffel
8 aartappels, geskil
Olyfolie
AFRONDING
Rooi piekeluie (sien resep) vir oorsprinkel indien verkies
1 Vryf die lamskenkels in met olyfolie en balsamieke asyn en plaas in ‘n metaalvrye bak. Voeg die roosmaryn en knoffel by. Marineer oornag.
2 Geur die skenkels met sout en peper en verbruin die skenkels bietjie in olie in ‘n groot swartpot. Skep uit.
3 Plaas die tamaties in die pot, voeg die ui, wortel en die kruie by. Sprinkel olyfolie oor en geur goed met sout en peper asook bietjie suiker. Braai tot lekker geurig en die tamaties sag is.
4 Voeg die tamatiepasta en wyn ook by en meng goed.
5 Voeg die vleis weer by die tamatiesmoor in die pot, maak toe en laat stowe tot die vleis murgsag is en bykans van die been afval. Voeg van die groen rooibostee by om die mengsel lekker souserig te maak en prut tot geurig. Geur met nog sout en peper soos nodig asook knippie suiker.
Laat effe afkoel, verwyder al die bene en pluis die vleis fyner.
(die sous kan effe afgekook word indien te loperig).
7 VOORSIT Draai die heel bol knoffel in tinfoelie toe en bak in die oond of in die lugbraaier tot lekker sag.
Kook die aartappels sag en maak fyn.
Druk die sagte puree uit die knoffelhuisies en meng met genoeg olyfolie by die fynaartappel in.
8 Skep ‘n hoop fynaartappel op ‘n bord, smeer ligweg oor bord en sit ‘n goeie skep vleis bo-op. Rond af met ‘n skeppie piekel.
GUTZY UIEPIEKELS
Maak 1 bottel (750 ml) piekel
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 6 min
500 ml (2 k) rou appelasyn
500 ml (2 k) water
15 ml (1 e) sout
125 ml (1/2 k) suiker
7,5 ml (11/2 t) heel koljandersaad
5 ml (1 t) heel vinkelsaad
5 ml (1 t) mosterdsaad
1 sakkie elk Carmien GUT en Carmien groen rooibostee
GROENTE
6 rooi uie (nie te groot), in ringe gesny saam met 5 knoffelhuisies, geskil
1 Was en steriliseer glasflesse en deksels.
2 Giet die bestanddele vir die basiese piekelsous, buiten die teesakkies, in ‘n kastrol en bring tot kookpunt en kook 5 minute. Voeg die teesakkies by, laat trek so 2 minute en verwyder die teesakkies.
4 Pak intussen die uie en knoffel in die voorbereide flesse en giet die piekelmengel oor die groente, maak seker dat die groente heeltemal bedek is. Maak flesse toe en seël. Keer onderstebo en laat afkoel.
PROTEIEN-BRUINTJIEKOEK MET ROOIBOS EN ASHWARGHANDA
Hierdie bruintjiekoek is heerlik klam, bevat baie proteien en vesel met min koolhidrate, suiker en vet en is ook glutenvry. Carmien se ashwarghanda-rooibostee help om stres en kortisolvlakke te beheer, beter te slaap asook om bloedsuikervlakke in toom te hou en dis propvol antioksidante en is natuurlik kaffeinvry. Dit het ‘n heerlike chai-speserygeur. Mens kan dit ook met ‘n Carmien se Masala Chai Cooking Bag vervang. Dis heerlik saam met rooibos-roomys.
Lewer sowat 16 dun snytjies per koek
Bereiding: 20 min
Baktyd: 50 min
125 ml (½ k) of meer Carmien-rooibostee met ashwarghanda (2 sakkies) of 1 Masala Chai Cooking Bag
500 g (2 groot) oranje patat, geskil en in skyfies gesny
80 ml (⅓ k) elk) bruinsuiker en eritritol
100 ml olyf- of canolaolie
500 ml (2 k) amasi, goed gedreineer, dit sal sowat 375 ml (11/2 k) gedreineerde amasi lewer
3 groot eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
125 ml (½ k) klappermeel
125 ml (½ k) soja-proteienpoeier
125 ml (½ k) kakao
7,5 ml (1½ t) bakpoeier
1, 25 ml (¼ t) sout
AFRONDING
1 plak (80 g) donkersjokolade, gesmelt saam met bietjie melk tot redelik loperig
Vars frambose
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n 20 cm-losboompan met kossproei en voer die bodem uit met bakpapier.
1 Kook die tee en patat saam tot die patat sag is en die vloeistof heeltemal verdamp is. Voeg die suikermengsel by. Druk goed fyn en verpulp met ‘n stokmenger of in die voedselverwerker tot fluweelglad.
2 Klits die amasi, olie, eiers, en vanieljegeursel saam in ‘n groot bak tot gemeng.
3 Voeg die patatpuree by en meng deur.
4 Sif die klappermeel, proteienpoeier, kakao, bakpoeier en sout bo-oor en klits met ‘n draadmenger tot goed gemeng en glad. Maak seker dat daar geen klonte is nie.
5 Giet in die voorbereide pan en bak sowat 40–50 minute lank of tot stewig en ‘n toetspen net nog effe klam wys aan die punt. Pas op vir te lank bak, dan word dit droog. (As jy dit in ‘n langwerpige pan bak, gaan dit korter bak).
6 Laat afkoel in die pan en ontvorm. Sny in skyfies.
7 Smelt die sjokolade saam met ‘n bietjie melk in ‘n glasbakkie oor ‘n pot met kookwater, roer elke nou en dan of andersins in die mikrogolfoond.
8 Plaas ‘n snytjie koek op ‘n kleinbordjie saam met ‘n skeppie roomys
7 Giet van die sjokoladesous oor die snytjie koek en sprinkel paar frambose op.
In die lugbraaier: Plaas die pan in die lugbraaier en bak by 180°C vir sowat 40 minute of tot stewig en ‘n toetspen skoon uitkom. Keer uit en laat afkoel.
ROOIBOS- ROOMYS
My ma se tuisgemaakte roomys was ‘n treffer en tog so maklik om te maak – sy het onder andere ‘n blik kondensmelk gebruik wat sy by die styfgeklopte room in gemeng het. Hierdie is my weergawe om daardie roomys na te maak, maar minder soet en ryk – die vanielje- of karamelrooibos verleen ‘n heerlike geur daaraan.
Maak sowat 750 ml (3 k) roomys
Bereiding: 15 min
Bevriesing: oornag
2 sakkies Carmien vanielje- of karamelroobostee
125 ml (½ k) versoeter soos eritritol of helfte daarvan suiker
125 ml (½ k) skinkroom
500 ml (2 k) volroomjogurt
1 Voeg die rooibossakkies en versoeter of suiker by die room en verhit tot net onder kookpunt, roer sodat die suiker kan oplos en verwyder van die hitte. Laat 5 minute trek. Druk die vloeistof uit die sakkies en verwyder die teesakkies.
2 Voeg die jogurt by en meng deur.
3 Giet in ‘n plastiekbak en vries.
4 Roer ‘n paar keer tydens die vriesproses sodat die yskristalle kan opbreek en jy ‘n romerige mengsel het.(doen dit gereeld anders skei die room en die teemengsel).
BOKKOMLSLAAI MET AARBEI-ROOIBOSVINAIGRETTE
AARBEI-VINAIGRETTE
Maak sowat 350 ml
180 ml (¾ k) Carmien Menopause of Kiddies Berry Boost (gemaak met 4 sakkies) (trek kort)
125 g aarbeie (bevrore sal ook werk)
25 ml (5 t) strooisuiker
60 ml (¼ k) appelasyn
60–80 ml (¼–⅓ k) olyfolie
Paar druppels vissous
Sout en peper na smaak
1 Plaas al die bestanddele vir die slaaisous in die NutriBullet of voedselverwerker en verwerk tot glad. Giet in ‘n bekertjie.
SLAAI
Genoeg vir 6–8 mense
Bereiding: 15 min
SLAAI
250 g vars aarbeie, gehalveer indien nodig
1 pakkie (40 g) vars roket
1 rol (100 g) bokkaas of swartpeper-roomkaas, in skyfies gesny
8 repies bokkom, in dun julienne-repies gesny
PRALIEN/VERSUIKERDE NEUTE
125 ml (½ k) suiker
50 g amandels of okkerneute, selfs grondbone
AFRONDING
Aarbei-vinaigrette
1 Pak die roket op ‘n bord in ‘n ronde sirkel.
2 Rangskik die aarbeie en kaasskyfies bo-op en sprinkel die bokkomrepies oor.
3. PRALIEN Verhit die suiker in ‘n pan oor matige hitte tot dit begin smelt en karameliseer. (Skud die pan ban tyd tot tyd, maar moenie roer nie)
Voeg die neute by en giet onmiddelik uit op ‘n bakplaat wat goed met kossproei gespuit is. Laat afkoel en kap grof op.
VERSUIKERDE NEUTE: Smelt die suiker soos beskryf, voeg die neute by en roer tot die suiker rondom die neute gekarameliseer het. Giet in ‘n bakkie om af te koel.
4 AFRONDING Giet van die vinaigrette oor slaai en sprinkel die neute bo-op.
BONE BROTH
Makes about 4 litres
1 kg (about 6 thick slices) beef shank, bone in
Salt to taste
About 65 g tomato paste
45 ml (3 T) olive oil
3 medium carrots
3 leeks, well washed
3 short celery sticks
3 big zucchini’s
2 onions, sliced (with skin)
1 small cabbage, chopped
2 big handfuls of baby spinach
2 litres water
A few sprigs of thyme, bay leaves, big bunch of parsley, tied together
Bread and or Parmesan cheese for serving (optional)
Preheat the oven to 190° C.
1 Season the meat with salt and pepper and arrange in a large oven pan. Paint each with tomato paste and oven-roast till flavoursome, about 30 minutes. Transfer to al large pot.
2 In the meantime, run the vegetables through the coarse grater of your food processor or grate and chop by hand.
3 Add the veggies to the meat in the pot, also add the water and herbs.
Season with salt and pepper and bring to the boil.
Turn the heat down and simmer for at least 3 hours until flavoursome.
Remove the bones if preferred, check the seasoning. Simmer for 10 more minutes and serve with bread and/or parmesan cheese if preferred.







