Ek is lief vir rys – basmati saam met kerrie is ‘n moet. Maar dan het ek selfs op ‘n stadium vir my jasmynrys lekker klewerig gekook en dit dan net so saam met ‘n goeie skoot sojasous, sesamsaad en piekelgemmer geniet.
Soesji bly ook ‘n groot gunsteling, veral met al die bestanddele wat deesdae so gemaklik in ons supermarkte beskikbaar is. Maar nes skilferkors gee ek myself glad nie uit as ‘n sjoesji-maker nie. Daarom vind ek hierdie soesji-brood is ‘n lekker maklike uitweg. Die meer verwesterde California-rolletjies is my basiese vertrekpunt en ek gebruik gerookte forelvelletjies saam met komkommer en avokado.
Wees ook op die uitkyk vir Japanese Choice Sushi soy sauce – dis ‘n heerlike, goedkoper alternatief vir Kikkoman.
Kortpadwenk: Niks keer jou egter om ‘n byderwetse soesji-bakkie te pak met al die bestanddele in lae in ‘n klein bakkie gepak nie (jy kan selfs julienne-repies wortel byvoeg). Dis ook heerlike happie-kos vir vooraf peusel as jy vriende oornooi.
Voorbereiding: 20-25 min
Gaarmaaktyd: 25-30 min
625 ml (2½ k) jasmaynrys
30 ml (2 e) soesjirys-asyn (of andersins so 7 ml (1½ t suiker by rysasyn ingeroer)
30 ml (2 e) sesamsaadjies, gerooster
3 velle nori (seeweervelle)
2 avokado’s, in dun skyfies gesny
200 g gerookte forelskyfies
1 komkommer, in dun linte gesny met ‘n aartappelskiller
Kwepie-mayonnaise of andersins romerige ligte mayonnaise (ek verkies Checkers se Lite Mayonnaise)
Piekelgemmer, sojasous vir voorsit
Voer ‘n klein broodpannetjie uit met kleefplastiek en spuit met kossproei.
1 Kook die rys volgens die instruksies op die pakkie. Kook ‘n paar minute langer tot lekker klewerig, dreineer die orige water, maar moet nie afspoel nie. Roer die asyn deur en laat heeltemal afkoel.
2 Sprinkel die sesamsade onder in die pan. Druk ‘n derde van die rys styf vas onder in die pannetjie.
3 Knip die vel nori so groot soos die pannetjie (of andersins kan jy dit sommer in stukkies krummel en oorsprinkel). Pak ‘n vel bo-op die rys.
4 Pak die helfte van die avokadoskyfies bo-op die nori gevolg deur die helfte van die forel en die helfte van die komkommerlinte. Smeer bietjie mayonnaise oor indien verkies.
4 Herhaal die lae rys, nori, avokado, forel en komkommer. Herhaal met nog ‘n laag rys en eindig met ‘n vel nori.
5 Bedek met kleefplastiek en plaas ‘n paar blikkies bo-op om die brood plat te druk. Verkoel vir ten minste 30 minute.
6 Keer uit op ‘n dienbord verwyder die plastiek, sny in skyfies en sit voor met gepiekelde gemmer en sojasous.
Wenk: maak jou vingerpunte nat wanneer jy die rys in die koekpan vasdruk.
Variasie – slaai: sny ‘n mango, spanspek of papaja, in lang repies. Voeg ‘n komkommer wat in lang dun repies gesny is by asook skyfies avokado en repies gerookte salm. Rol die gaar rys (sien gaarmaak by resep) in bolletjies en sprinkel sesamsade oor. Pak op ‘n slaaibord. Meng wasabi met bietjie sojasous en sit voor saam met die slaai en piekelgemmer.