Hoenderschnitzels uit die boonste rakke – heerlik bros buite-om en sappig van binne.
Soos gesê, ek het nooit die diepvetbraaiding gedoen nie, maar nou dat ek ontdek het hoe om diepvetbraai met “airfry” en bitter min olie te doen, smul ek tog te lekker saam. En telkens staan ek verras met die eindresultaat. Iets in krummels gerol en gebraai kan maar bitter gou verkeerd uitdraai – kurkdroog met krummels wat afval of ‘n melerige gedoente. Maar na ‘n hele paar eksperimente in die Instant Vortex Airfryer het ek nou die kuns vervolmaak om die perfekte schnitzel binne ‘n ommesientjie te maak. Die geheim is om die filette eers goed te verkoel voordat jy dit gaarmaak sodat die krummels goed kan vaskleef. Dan verf jy dit liggies oraloor met ‘n dun-dun lagie olie. Belangrik ook is dat die filette in ‘n enkellaag in die laaitjie moet lê sodat dit eweredig goudbruin kan braai en vir die res sal die Instant Vortex Airfryer sorg – ‘n brosgebraaide korsie met sappige hoender binne, want binne slegs 10 min (of selfs minder) is die schnitzels gaar, so kans vir uitdroog is min.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Verkoeling: 30 min
Gaarmaak 10 min
HOENDER
4 hoenderborsfilette
Sout en peper
Mengsel van bruismeel en mielieblom
1 eier, geklits
Broodkrummels-en-sesamsaadmengsel
Olie
BYKOS
12—16 baba-aartappels
Gerasperde suurlemoenskil
Baba-tamaties aan die tak, indien verkies
1 HOENDER Sny ‘n paar kepe in die hoenderfilette en kap platter met die agterkant van jou handpalm. Geur met sout en peper. Rol in die meelmengsel, doop in eiergeel en rol dan in die broodmengsel. Plaas die hoender vir te minste ‘n halfuur in die yskas sodat die krummelmengsel goed kan kleef aan die hoender.
2 BYKOS Meng intussen die aartappels met ‘n klein bietjie olie en plaas in die laaitjie van die Instant Vortex Airfryer. “Airfry” vir 20 minute of totdat die aartappels bros en gaar is, draai om in die middel van die gaarmaaktyd. Rasper ‘n suurlemoen se skil oor.
3 Plaas die tamaties vir 2 minute in die Instant Vortex Airfryer en airfry tot ingekrimp en die velletjie net begin bars. Hou eenkant.
4 Verf die hoenderschnitzels alkant met olie en plaas die filette langs mekaar in die laaitjie van die Instant Vortex Airfryer. Airfry vir 10 minute of tot die hoender net gaar en brosbruin buite-om is (draai halfpad om).
5 Sit die hoenderschnitzels voor met die brosgebraaide aartappeltjies en gebarste tamaties.
Wil jy graag jou eie Instant Vortex Airfryer hê? Beskikbaar by @Home of Takealot.