Eer jou erfenis met melktert

Melktert soos van ouds is altyd omring met ‘n vlokkerige skilferkors en is baie keer in ‘n emaljebord gebak. Ek gee myself geensins uit as ‘n skilferkorsmaker nie en het myself eerder gewend tot ‘n broskorstipe deeg. Ek’t verskeie melktertresepte en ek het hulle noukeurig vergelyk. Vir my bly hierdie resep, waarvan ek die resep nog by die kosskrywer, Mariette Crafford, gekry het, my gunsteling. Dit kry ‘n bros amandelkors, maar jy kan ‘n smeerkors of selfs dan gekoopte skilferkorsdeeg gebruik.

AMANDELKORS
180 g botter
125 ml (½ k) strooisuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
70 g fyngemaalde amandels
2 eiergele
380 ml (ruim 1½ k) koekmeel
Knippie sout
VULSEL
150 ml (⅔ k) koekmeel
50 ml (⅓ k) mielieblom
50 ml (⅓ k) vlapoeier
200 ml suiker
1,25 liter (5 k) volroommelk
2 stukke pypkaneel
3 ekstragroot eiers, geskei
50 g botter
7 ml (1½ t) vanielje- of amandelgeursel
Fyn kaneel

Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n 30 cm-veerklampkoekpan of spuit met kossproei (andersins gebruik 2 kleiner tertborde)

1 KORS Verroom die botter en suiker tot lig en romerig. Voeg die vanieljegeursel en fyn amandels by en meng goed. Voeg die eiergele, meel en sout by en meng tot ‘n sagte deeg. Bedek en verkoel10 minute.
2 Rol uit en voer die koekpan uit. Laat 10 minute rus in die yskas, prik die kors en bak tot liggoud, sowat 10 minute. Verwyder uit die oond
3 VULSEL Meng die meel, mielieblom en vla en die helfte van die suiker. Roer 125 ml (½ k) melk by.
4 Verhit die orige melk met die kaneelstokke tot net onder kookpunt.
5 Voeg sowat 125 ml (½ k) van die kookmelk by die meelpasta, meng goed en roer die gladde pasta stadig by die kookmelkmengsel in. Verhit tot die mengsel kook en verdik, roer gedurig. Verwyder die kaneelstokke
6 Klits die eiergele en orige suiker goed saam, voeg bietjie van die warm melkpap by die eiergele en meng. Voeg dan die eiergeelmengsel by die orige melkpap in die kastrol en meng goed. Verhit oor lae hitte en laat net kook, roer gedurig. Roer die botter en geursel by. Laat effens afkoel.
7 Klits die eierwitte styf en vou by die mengsel in. Giet in die kors en bak sowat 30 minute of tot dit hier en daar bruin sproete het bo-op.
8 Bestuif met kaneel en laat staan tot louwarm en stewig.

SMEERKORS: Klits 125 g botter en 80 ml (⅓ k) suiker tot lig en romerig. Voeg 1 eier by en klits goed. Sif 280 ml (1 hoogvol koppie) bruismeel by en meng goed. Smeer dit met ‘n mes op die boom en teen die kante van tertborde.

%d bloggers like this: