Veelsydige Biscotti

Ek het nou al vertel van die eindelose teedrinkkuiers wat ons gereeld saam met my ma op die noordestoep van haar huis meemaak. Noudat ek en my gesin teen die Weskus bly en permanent van die huis af werk, knyp ons, soos ons skedules dit toelaat, soms ook graag ‘n tydjie af om op die stoep te sit vir ‘n wyle en die uitsig oor die Langebaanmeer te geniet. Dan maak ons tee in mooi glaspotjies, hou dit warm op ‘n kersie-staander en geniet dit saam met ‘n beskuitjie of wat. Baie keer egter, maak ek sommer die teepot op my lessenaar staan waar ek dan daglank daaraan kan teug. Carmien se Earl Grey, gemaak met groen rooibos is my gunsteling oggendtee-drankie, ek geniet dit selfs ook soms met ‘n bietjie melk. Soos die son begin water trek, slaan ek oor na Carmien se Orange Camomile, ook gemaak van groen rooibos en ideaal om jou te help ontspan. Onthou, dat as jy hierdie tees se subtiele geure ten beste wil geniet, jy dit by 60° moet drink. Heeeerlik! Spesiaal vir ons stoepkuiers, bak ek hierdie biscotti – die resep is lekker veelsydig en jy kan verskeie soorte van sjokolade- amandel – tot gemmerbiscotti maak.

VEELSYDIGE BISCOTTI

Ek hou van biscotti wat sonder botter gemaak word.

Maak 15-20 biscotti
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 25 min
Uitdroogtyd: 20 min

160 ml (⅔ k) suiker
3 ekstragroot eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
5 ml (1 t) bakpoeier
knippie sout
500 ml (2 k) koekmeel

BYVOEGING
100 g pistasieneute, grof gekap
100 g bosbessies

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n bakplaat
1 Klits die eiers en suiker tot lig en romerig. Klits die vanieljegeursel by.
2 Sif die droë bestanddele by en meng goed deur die eiermengsel. Voeg enige van die byvoegings by (sien ook variasies).
3 Vorm in ‘n bol en plaas op ‘n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Werk met klam hande, want die deeg kan effe taai raak.
4 Verdeel die deeg in twee gelyke dele en vorm in twee ovaalvormige broodjies. Plaas op die gesmeerde bakplaat.
5 Bak 25 minute tot effens bruin en ferm. Laat omtrent 10 minute op die bakplaat afkoel.
6 Sny dan in dun diagonale skyfies van omtrent 5 mm met ‘n riffeltandmes.
7 Verlaag die oondtemperatuur tot 160°C. Pak die biscotti-skyfies in ‘n enkellaag op ‘n draadrakkie op ‘n bakplaat. Bak 10 minute aan elke kant tot droog.
8 Laat goed afkoel en bêre in ‘n lugdigte houer.

VARIASIES
Sjokolade-biscotti: Vervang 125 ml (½ k) van die koekmeel met kakao en die pistasieneute en bosbessies met gekapte pekanneute.
Amandelbiscotti: Vervang die totale hoeveelheid neute en bosbessies met heel amandels.
Gemmerbiscotti: Vervang die totale hoeveelheid neute en bosbessies met gekapte ingemaakte gemmer.

%d bloggers like this: