Eet jy genoeg groente en vrugte? Van 9 tot 15 Oktober vier Suid-Afrika Nasionale Voedingsweek. Die tema vir 2021 is “Eet meer groente en vrugte elke dag”. Maar is dit moontlik op ‘n knap begroting? Dieetkundige Liezel Engelbrecht gee ‘n paar wenke.
Ek hoor dikwels hoe mense vertel dat dit duur is om gesond te eet. En dit is waar dat sekere produkte wat as “gesondheidskos” bemark word dikwels veel duurder is as die “normale” alternatiewe. Groente en vrugte kán egter nog bekostigbaar wees, as ons slim beplan. Daar word aanbebeel dat ons minstens vyf porsies vrugte en groente per dag eet (ongeveer 400g in totaal), maar as dié mikpunt te ver buite bereikjou huidge gewonntes klink, probeer net om meer te eet van waar jy tans is. Groente en vrugte bevat baie voordelige voedingstowwe, soos vitamiene, minerale en antioksidante, wat ons gesondheid bevorder en beskerming bied teen siektes. Boonop kan dit ook help dat jy ‘n gesonde gewig handhaaf. Hier is ‘n paar wenke om dit meer sakpas te maak:
- Koop in grootmaat of op spesiale aanbiedinge. Verskeie winkels het deesdae promosies dat jy tot vier sakkies groente of vrugte kan koop vir ongeveer R100 tot R125. Dit is ongeveer die prys van een of twee wegneemetes wat in ‘n japtrap opgeëet word, of gelykstaande aan omtrent vyf koppies wegeneemkoffies deur die loop van die week. As mens dit só begin vergelyk, begin groente na slimmer kopies te lyk (Wenk: botterskorsies, aartappel, mielies en patat word gesien as meer styselagtigte groente. Hoewel dit ook gesonde vitamiene, minerale en vesel bevat, stel riglyne voor dat jy dit eerder as styselporsies geniet. Mik dus om ook meer ander, minder styselagtige groentes, soos wortel, pampoen, tamaties, spinasie, soetrissie, broccoli en beet, te eet as deel van jou groenteporsies).
- Eet dit as peuselhappies. Hoewel naartjies, appels of piesangs dalk duur mag lyk, maak die som van hoeveel peuselhappies jy daaruit kan kry, en vergelyk dit met die prys van ongesonder peuselhappies soos skyfies of sjokoladestafies deur die week. Jy sal dalk vind dat dit jou goedkoper uitwerk.
- Moenie mors nie. As jy in grootmaat koop is daar die risiko dat jy nie alles kan opgebruik voor dit bederf nie. ‘n Oplossing hiervoor is om ‘n groentesop of -bredie, of ‘n pastasous met ‘n groentebasis, te maak en dit te vries om later te eet. Sekere groente en vrugte soos piesangs, blomkool en druiwe vries lekker om later in gladdejantjies te gebruik. Nog ‘n idee is om gaar groente en vrugte te kook en te puree, en dit dan in ysblokkievorms te vries vir later gebruik om water geur te gee (vrugteblokkies) of as geur by kookkos (groenteblokkies)
- Koop gerus bevrore. Studies toon dat die voedingswaarde van vars teenoor bevrore groente en vrugte goed vergelyk met mekaar. Sekere bevrore groente en vrugte toon selfs hoër vlakke van sekere voedingstowwe as hul vars eweknieë, wat toegeskryf kan word aan die vermindering in verliese wat soms met die suboptimale tuisberging of vervoer van vars groente en vrugte gepaard gegaan. Bevrore groente is soms goekoper as vars alternatiewe, veral as jy bang is dat vars groente gaan bederf.
- Plant jou eie. Die groentetuintendens raak al hoe gewilder. Groente soos spinasie, groenbone, wortels en tamaties is relatief maklik om te groei, en jy het nie ‘n groot stuk grond nodig nie. Dit kan ‘n heerlike projek vir die familie wees en selfs ‘n geleentheid bied vir jou om jou kinders om meer te leer oor die oorsprong van kos.
- Koop seisoenaal. Groente en vrugte in seisoen is gewoonlik veels goedkoper omdat dit nie hoef ingevoer te word of spesiale verbergingsprosesse moet deurmaak nie. Vind uit wat maklik groei en seisoenaal is in die omgewing waar jy bly om die beste waarde vir geld te kry.
Wenke:
- Volg die hutsmerk #NNW2021 vir meer wenke.
- Besoek www.nutritionweek.co.za vir meer inligting, wenke en feite oor vrugte en groente. Daar is opvoedkundige infografikas en uitdeelstukke wat jy kan aflaai om op te plak by jou werkplek, jou kind se kleuterskool of skool, en ook boodskappe met prentjies oor vanjaar se veldtog wat jy op sosiale media te deel.
- Aanvullende bronne: National Nutrition Week 2021 (verskeie bronne in konsepdokument)
- Verklaring: Liezel Engelbrecht is ‘n woordvoerder vir die Vereniging vir Dieetkunde in Suid Afrika. Besoek gerus www.adsa.org.za vir ‘n dieetkundige in jou area.