Vis & Tjips

Ek het nooit gehou van diepgebraaide kosse nie. Maar jy kon my nog altyd omkoop met gebakte vis. Ek dink daardie verknogtheid het kleintyd al ontstaan. Op ‘n inkopietog Kaap toe, is daar altyd met die terugkomslag by ‘n viswinkeltjie in Malmesbury se hoofstraat gestop vir vis & tjips. Die reuse visporsies is mooi in groot velle witpapier toegedraai en daarmee is ons vort – dit was dan aandete. Ons kinders was in die hemel. Toe mens vir ‘n eerste slag weer effe kon beweeg na die inperking, verhuis ons permanent Langebaan toe. Dis ‘n dolle gejaag om alles betyds afgepak te kry en kos is die minste waaraan ons dink.

My liewe vriendin, Isabella Niehaus laat weet sy kom maak ‘n draai en sy bring sommer vis & tjips saam. En so is ‘n nuwe tydperk in ons lewens ingewy – met ‘n pakkie vis & tjips wat ons op ons stoep eet terwyl ons uitkyk oor die meer. As ekself vis in ‘n degie gaarmaak, gebruik ek ‘n lekker ligte beslag waarby jy geklitste eierwit inroer en dan sit ek ‘n soetsuursousie daarby voor. En noudat my Airfryer steeds lekker knus op my werksbank staan, maak ek die tjippies sommer daarin gaar – heerlik bros maar glad nie olierig nie.

SOETSUURVIS

Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 20 min
Gaarmaak: 30 min
Staantyd: 1 uur

TEMPURA-BESLAG
250 ml (1 k) bruismeel
Knippie sout
160 ml (2/3 k) koue vonkelwater
10 ml (2 t) olie
2 eierwitte

SOUS
Olie
125 g wortels, skoongeskraap en in julienne-repies gesny
Halwe rooi en groen soetrissie elk, in julienne-repies gesny
3 knoffelhuisies, in dun repies gesny
3 cm stuk gemmerwortel, in julienne-repies gesny
2 brandrissies, gekap
30 ml (2 e) sesamolie
60 ml (1/4 k) rysasyn
60 ml (1/4 k) sojasous
5 ml (1 t) vissous
60 ml (1/4 k) bruinsuiker
15—30 ml (1—2 e) suurlemoensap
Handvol gekapte koljanderblare

VIS
600 g stokvis, in blokkies gesny
Sout en peper
Olie vir diepvetbraai

VOORSIT
Jasmynrys met sesamsaad
mango-en-komkommersalsa

1 TEMPURA Meng die bruismeel en sout saam, voeg die water en olie by en klits goed tot glad. Laat staan ‘n uur.
2 Klits die eierwitte net voor jy dit benodig sty fen vou by die beslag in.
3 SOUS Verhit bietjie olie en roerbraai die wortels, soetrissie, knoffel, gemmerwortel en brandrissie effe tot net sag maar nog baie bros.
4 Voeg die res van die sousbestanddele buiten die suurlemoensap en koljanderblare by en bring tot kookpunt. Prut sowat 5—10 minute tot stroperig en geurig. Voeg die suurlemoensap en koljander by.
5 VIS Geur die vis met sout en peper en doop die visblokkies daarin.
Verhit genoeg olie in diep kastrol en braai die visblokkies in sarsies tot goudbruin en gaar. Dreineer op handdoekpapier.
6 Skep lae vis en sous in ‘n vlak opskepskottel en sprinkel nog koljanderblare oor.
7 Sit voor met jasmynrys waarby sesamsaad ingeroer is en gekapte mango en komkommerblokkies.

GEWONE BAKVIS: Vervang die vonkelwater met bier en doop groot stukke vis in die beslag. Diepvetbraai en sit voor met tjips en suurlemoenskyfies.
GESONDER WEERGAWE: Rol die vis in mielieblom, dan in geklitste eierwit en dan weer in mielieblom en braai in vlakolie tot gaar.
Wenk: Jy kan ook groentestukkies in die tempura-beslag doop en braai.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: