In my grootwordhuis is koekiesbak gehou vir wanneer ons April-maande see toe vertrek het. Kersvakansies is die koekieblikke ook darem volgemaak met veral gemmerkoekies. Maar hawermoutcrunchies is deurentyd gebak, veral as ons moes begin studeer vir eksamens is daar ook ‘n blik daarvan saamgestuur koshuis toe.
Dan het ons skaamteloos gesmul, want daar kom mos gesonde goed in. Tot ek uitgevind het dis maar goed gelaai met suiker en smeer. Dis toe dat ek hierdie gesonder weergawe bedink, want vir hierdie gunsteling koekies kon ek nie sommer so vir eens en altyd koebaai sê nie – vir soetigheid kry dit dadels in en die smeer is heelwat minder gemaak. Nou is dit propvol vesel en goedheid, maar beslis nog net so lekker.
Ideaal vir daardie tussen-in happie saam met tee of om laataand aan te peusel wanneer die lus vir ietsie soets groot raak. En nou gaan dit beslis nie sleg doen om eksamendruk mee te verlaag nie.
Maak 18 stafies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 30—45 min
250 g dadels, gekap of vervang 50 g daarvan met bosbessies
125 ml (½ k) warm Carmién Tea Focus rooibostee, gemaak met 2 sakkies
5 ml (1 t) koeksoda
375 ml (1½ k) hawermout
250 ml (1 k) klapper
125 ml (½ k) koekmeel of glutenvrye meelmengsel
5 ml (1 t) kaneel of gemengde speserye
Knippie sout
30 ml (2 e) canola-olie
30 ml (2 e) heuning of bruinsuiker
60 ml (¼ k) botter
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm-vierkantige koekpan goed.
1 Meng die dadels en tee en sprinkel die koeksoda oor.
2 Voeg die droë bestanddele by, meng die nat bestanddele saam en voeg by.
Meng goed saam.
3 Druk in die voorbereide pan en bak 30-45 min tot goudbruin bo-op en stewig.
4 Merk in stafies, koel heeltemal af en sny dan in stafies.
4 Verpak in ‘n lugdigte houer.
Wenk: Voeg sowat 2,5 ml (1/2 t) phyllium husk by die droëbestanddele om die mengsel beter te bind as dit te bros is na jou smaak.
As jy lus voel, vervang 125 ml (1/2k) van die hawermout met gemengde sade.