Supercool koelsakke

Kry die mense aan die praat – jou piekniek of inkopietog gaan nooit weer so spoggerig lyk nie!

Splinternuut in die Carmen Niehaus Hausware-reeks wat ek saam met Swier uitbring, is hierdie stylvolle en uiters veelsydige koelsakke! Dis nie net mooi vir die oog nie, maar tiek sommer baie boksies: die goed geïsoleerde koelsak se grootste pluspunt (bo meeste ander sagte koelsakke) is dat dit aan die binnekant goed verstewig is met ‘n sterk, verwyderbare plastiekvoering wat help om die koelsak regop en die inhoud netjies in plek te hou en te beskerm.
Die koelsakke is lekker groot, kom in twee groottes en kan as pieknieksak, inkopiesak en vir vele meer doeleindes ingespan word.

Dit hou warm kos warm, koue kos koud, vars goed vars en help om dit te bewaar en nie gou sleg word nie. Jy kan dus van bevrore kos en drankies, roomys, warm geregte en groente daarin pak. Kos bly dus warm en drankies koud – die ideale oplossing in nou se tyd van beurtkrag, veral as jy wil onthaal of op ‘n afgeleë plek wil gaan uitspan!

Die koelsakke word gemaak van plaaslik vervaardigde, duursame en hoë kwaliteit materiale; die nate is stewig en netjies afgewerk en verskaf ‘n uiters proffesionele voorkoms. Dit rits heeltemal toe met ‘n ‘n stewige ritssluiter en het ook sterk handvatsels. Die groot pluspunt is dat die sak ook wasbaar en dus herbruikbaar is; haal net die plastiekvoering uit.

Daar is 2 groottes: klein: 330(L) x 170(W) x 240(H) teen R655 en groot: 390(L) x 260 (W) x 240(H)) teen R765.

Daar is 3 ontwerpe om uit te kies: die kleurvolle Sitrusdal-ontwerp; die meer tradisionele Nostalgie-ontwerp en die plaasgevoel eierontwerp: Plaasvars.

Die sakke is tans beskikbaar by die Swier-winkels asook op hul webtuiste.
Besoek Swier se webtuiste, kliek op Carmen Niehaus vir meer inligting en om jou bestelling te plaas. Gou spring, voorraad is beperk.

Hou ook dop, binnekort is daar ‘n hele verskeidenheid nuwe ontwerpe en produkte beskikbaar. Die huidige reeks teedoeke en tafeldoeke is ook nog beskikbaar. Gaan kyk veral op die Carmién-webtuiste om te bestel.

Super cool (room)ysies

Die polistireenboks daag op ‘n Saterdagoggend hier by my in Langebaan op – geen moeite ontsien en spesiaal afgelewer direk vanaf die produksiekombuis in Soutrivier. Gepak met die nuwe roomys-op-‘n-stok-sensasie, POPCO, wat besig is om soos ‘n warrelwind deur die land te waai.

Die persverklaring, “local popsicle brand is taking SA by storm”, trek dadelik my aandag toe dit einde Februarie in my inboks land. Maar deesdae verlaat ek my my nie sommer net op inligting wat ek via die internet ontvang nie. As dit enigsins moontlik is, wil ek self ervaar en beproef. Wat ek raaklees, val so reg in my kraal. Daar word gepraat van “real-fruit ice-cream and sorbet in 20 flavours with vegan options that are nut-free, low in sugar and calories, zero colourants plus Kosher and Halaal friendly!”

Ek loer na die verskafferlys… en sowaar ja, hulle lewer reeds af hier by ‘n deli op Langebaan. My kop is deur. Die polistireenboks word soos ‘n kleinood dadelik in die vrieskas gebêre. Natuurlik eers nadat ek en my huismense ‘n vinnige loer geneem het van watter heerlikhede ons te wagte kan wees. Die ysies is elkeen afsonderlik en pragtig verpak in deursigtige sakkies. “We want our customers to know that what they see is what they get” vertel Didi. Ons monde water dadelik. Maar om te verhoed dat almal op een slag verwoed inspring en die hele lotjie kafdraf nog voordat ek my heeltemal van alles vergewis het, besluit ons dat dit ons Sondagmiddag-treat sal wees.

Didi en Tim Deane het in 2018 hierdie roomys-en-sorbetreeks begin nadat hulle tydens ‘n vakansie in Suid-Amerika versot geraak het op die egte vrugte-roomysstokkies wat hulle daar om elke hoek en draai kon koop. So iets was nie beskikbaar in Suid-Afrika nie. Terug in die land is Didi se kombuis-voedselverwerker ingespan om ysies te begin maak met vrugte wat hulle op die plaaslike mark gekoop het. Gou was dit ‘n treffer en binne 8 maande moes hul trek na ‘n professionele produksie-kombuis en lewer tans aan sowat 150 handelaars landwyd. Die groot lekkerte egter is dat jyself direk vanaf hul webtuiste kan bestel en ook jou eie boks ysies saamstel.

Die groot volumes het egter nie verhoed dat die ysies nie steeds handgemaak is nie – die waatlemoene se pitte soos ook die ogies van die pynappel word steeds met die hand verwyder en die roomyse word ook steeds handgemaak en een-vir-een met die hand verpak. En hulle gebruik slegs top-kwaliteit natuurlike produkte, geen preserveer- geur- of kleurmiddels nie en probeer die suikerinhoud (en kilojoules) so laag as moontlik hou.

Maar terug by ons spesiale boks. Die keuse is moeilik – daar is 3 reekse: Creamy Decadence; Fruit Sorbets en Creamy Vegan asook ‘n Hot Chocolate-stick.

My man wat maar altyd ietwat skrikkerig is vir iets nuuts, kies die klassieke roomys uit die Creamy Decadence-reeks, my kinders se keuses val op sjokolade, Banana Split (wat glo nes piesangbrood proe) en aarbeiroom. Dié is mooitjies versier met ‘n deursnit van ‘n halwe aarbei, so ook is die kiwi-appel in die vrugte-sorbetreeks ook versier met ‘n snit kiwi. Mooi!

Ek kies ‘n vrugte-sorbet – die mango-aarbei een asook later die suikervrye mango. Een van my kinders geniet die Oranges & Lemons. Die sorbets proe kompleet soos destyds se “suckers”, net lekkerder, sonder “nasties” en heerlik vrugtig, nie te soet nie en natuurlik. Ons is “hooked”!

Die proe van die POPCO’s word hiervandaan streng beheer en is beperk tot klein Saterdagaande en Sondae sodat die lekker langer kan aanhou. Ons beproef die Creamy Vegan-reeks: die Oatmilk Chocolate een wat met hawermoutmelk en donker sjokolade gemaak word, is vir my heerlik en die Coco Pine (gemaak met klapperroom) en sjokolade-lemoen (ook klapperroom en bietjie avo) kry ook ons regmerkies. So ook stel die Neopolitan en Granadilla Cream uit die Creamy Decadence reeks glad nie teleur nie. Al een waaroor ek nie gaande was nie, was die Strawberry/Blueberry Fruit Sorbet.

Vir meer informasie oor POPCO, besoek hul webtuiste:

Website: www.ilovepopco.com
Social media: Facebook & Instagram
For a list of stockists click here.

Spyse vir Pase

Lamsvleis het baie Paasfees-simboliek – nie net was dit deel van Jesus se laaste Avondmaal voor hy gekruisig is nie, maar simboliseer dit ook Jesus wat as Lam van God geoffer is om vir ons sondes aan die kruis te sterf. Tydens my dae as kosredakteur by Huisgenoot het ons elke jaar groot gegaan met ‘n Paasfees-artikel. Jacques Erasmus, befaamde sjef van Hemelhuijs in Kaapstad, het een Pase ‘n lamblad met ‘n Marmite-smeersel ingesmeer en dit lank en stadig in die oond gebak. In die gees van Pase het hy ‘n rooi strik om die skeenbeen gebind en die vleis met granate en dadels voorgesit. Sien die smeersel se resep hier onder.

Ek maak net so ook graag ‘n Midde-Oosterse smeersel van jogurt, oreganum, baie knoffel en komyn wat ek oor die vleis smeer voor ek dit stadig in die oond gaarmaak. Maar dis net so lekker as jy die boud oor die kole braai. Gebraaide eiervrug met granate oorgesprinkel (en ‘n paar vars vye) smaak net so lekker hierby.

Geseënde Paasfees!

MIDDE-OOSTERSE LAM OP TWEE MANIERE

Hier wys ek jou hoe om lamsboud of –blad op twee maniere gaar te maak: gebraai of stadiggebak. Die komyn gee ‘n tipiese Midde-Oosterse geur en is heerlik saam met eiervrug.

Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 10 min
Marineertyd: 12 uur of oornag
Gaarmaak: gerooster: 1—1 1/2 uur; stadiggebak: 4—6 uur

SMEERSEL
80 ml (1/3 k) olyfolie
80 ml (1/3 k) natuurlike jogurt (opsioneel)
50 ml droë oregano
8 knoffelhuisies, fyngedruk
45 ml (3 e) fyn komyn
Sap en skil van 2 suurlemoene
VLEIS
1,8 kg ontbeende lamsblad of –boud, gevlek
VOORSIT
Groente-kebabs of gebraaide eiervrugskywe (sien resep onder)
Natuurlike jogurt met gekapte komkommer, komyn en ment ingeroer

1 MARINADE Meng al die bestanddele saam.
2 VLEIS Keep die vetrand van die vleis in. Plaas in ‘n nie-metaalbak. Marineer oornag of 12 uur
4 Geur die vleis met sout en peper en braai oor matige kole ovir sowat 1 uur tot sag en bruin. Draai gereeld.Bedruip gedurig met marinade. Plaas andersins op die rakkie van ‘n oondbraaipan en oondbraai 20 minute per 500 g vleis by 160° C. Sit voor met groente-kebabs en komkommerjogurt.

STADIGGEBAKTE LAM
Hou die blad of boud aan die been.
Sny 4 uie in stukke en plaas in ‘n oondpan saam met ‘n paar tiemietakkies. Giet genoeg rooibostee (ek gebruik Carmién se rooibostee met boegoe of andersins die groen Earl Grey) hoenderaftreksel oor die uie tot bedek. Smeer die marinade oor die vleis en plaas bo-op die uie. Bedek met tinfoelie en bak 4—6 ure by 120°C tot die vleis murgsag en van die bene afval. Verwyder die bedekking en rooster vinnig onder die roosterelement tot bruin. Trek die vleis in stukke met ‘n lepel. Sit voor met gebakte eiervrugskywe of groente-kebabs en komkommerjogurt.

MARMITE-SMEERSEL
Berei die volgende smeersel, smeer oor die vleis en gaan verder te werk soos by die Midde-Oosterse lam.
Meng 30 ml (2 e) rooiwyn, 30 ml (2 e) Marmite, 30 ml (2 e) Dijonmosterd, 30 ml (2 e) sagte bruinsuiker, 30 ml (2 e) olyfolie en 5 ml (1 t) gekapte vars tiemie saam en vryf die vleis goed daarmee in. Geur met sout en peper.

VIR VOORSIT:
GROENTE-KEBABS
Ryg 12 baba-eiervruggies, gehalveer indien verkies, 2 elk groen en rooi soetrissies wat in groot blokke gesny is en 12 piekeluie wat geskil en gehalveer indien nodig op houtpenne. Marineer saam met die vleis en braai oor die kole tot net gaar.

EIERVRUGSKYWE MET GRANATE
Sny 4 eiervrugte in skywe, besprinkel met sout, 4 fyngedrukte knoffelhuisies en olyfolie oor. Bak by 180°C tot gaar. Sprinkel ‘n handvol elk gekapte pietersielie, basilieblare en mentblare en granaatpitte en pistasieneute oor. Week ‘n knippie saffraandrade in 30 ml (2 e) water. Meng met 250 ml (1 k) Griekse jogurt, skep oor.

Kerrievis vir Paasfees

In die Kaap word daar elke Paasfees ruim kerrievis ingemaak genoeg om die hele Paasnaweek lank te kan hou – ‘n Maleier-gebruik wat ook oorgespoel het na die Christene toe. Dié word dan op Goeie Vrydag geniet saam met Paasbolletjies (hot cross buns) om Jesus se kruisiging te gedenk – die uie-asynsous simboliserend van die asyn wat Jesus aangebied is tydens sy kruisiging en die hot cross buns wat na die kruis verwys.

In my weergawe word die vis nie eers gebraai soos dit gebruiklik gedoen word nie, maar direk in die sous, wat met druiwesap gemaak word, gaargemaak. Niks verhoed jou egter om die vis nie eers te braai nie. Dit doen ek sommer deesdae in die Airfryer.

BOLANDSE KERRIEVIS

LEWER SOWAT 700 G
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 25 min.

15 ml (1 e) matige kerrie of brejani-masala
15 ml (1 e) druiwepit- of olyfolie
3 groot uie, fyn gekap
10 ml (2 t) knoffel-en-gemmerpasta
5 ml (1 t) fyn komyn
5 ml (1 t) elk sout en peper
125 ml (½ k) sultanas
250 ml (1 k) druiwesap
10 ml (2 t) suiker
200 ml bruin- of appelasyn
250 ml (1 k) water
15 ml (3 t) borrie
5 suurlemoenblaregerasperde skil van 1 suurlemoen
’n hand vol vars koljanderblare, gekap
500 g visfilette, ontvel en in groterige stukkies gesny

1 Plaas al die bestanddele buiten die vis in ’n pot, bring tot kookpunt en kook sowat 10-15 min.
Stel die plaat laer en voeg die visstukkies by.
2 Laat prut die vis sowat 10 min. in die sous of tot gaar.
3 Plaas die warm mengsel in ’n glas- of vlekvryestaalbak en laat afkoel.
4 Nadat die vis afgekoel het, bedek dit en plaas vir sowat drie dae in die yskas sodat die sous lekker intrek.
5 Sit voor saam met vars gebakte bakbrood en korrelkonfyt of andersins Paasbolletjies.

Hoe om die vis te braai in die Airfryer: Geur meel goed vooraf met vismasala. Geur die vis met sout en peper. Rol die vis in die meelmengsel en pak in die bak van die Airfryer. Stip liggies met olie en lugbraai sowat 8—10 min by 180°C of tot die vis net gaar is. Pak lae vis en kerrieuie in ‘n bak en verkoel sowat 3 dae voor gebruik.

Kook slim

Ons steier onder hemelhoë kospryse wat jou soms laat voel om handdoek in te gooi en sommer op ‘n hopie gaan sit, veral as jy van voorneme was om vanjaar gesonder te eet. Maar nee, ons Suid-Afrikaners is nou maar een maal nie so bedraad nie. Soos ons die kragkrisis getakel het, begin ons al hoe slimmer aankoop en kook. As ek so tussen die winkelrakke rondloop, let ek nogals op na wat mense in hulle trollie sit. Deesdae vat mense defnitief nie meer voor die voet nie. Alles word mooi bekyk, pryse vergelyk en oor besin. Dis sommer dan die gulde geleentheid dat mens terselfdertyd kyk na die voedingswaarde van ‘n produk, so lees daardie inligting wat mooi vervat is in die tabel agter op die verpakking. Kyk gerus sommer weer na dit waarmee baie v ons opgegroei het – stampmielies, bone en lensies… voedsaam en bekostigbaar!

Watter heerlike voorreg was dit nou weereens verlede week vir my om die laaste van ‘n reeks gesonder-eet-kookklasse vir ‘n dertigtal plaaswerkers op Citrusdal saam met die Mouton Foundation, Carmién Tea en ‘n oorsese klient, Teekanne, aan te bied, ‘n inisiatief wat ontstaan het nadat vasgestel is dat leefstylsiektes wyd voorkom onder die plaaswerkers.

In ‘n middag van prettige saamkook (spanne van twee het elk hul eie stofie gehad), leer en saamkuier, het ons nie net gekyk na watter produkte gesonder keuses is nie, maar ook eerstehands ervaar van hoe ‘n 300-g-pakkie maalvleis vermeerder kan word om ‘n leërskare kos te gee en terselfdertyd al die boksies tiek van ‘n gesonde bord kos. Saam met die kerriemaalvleis het ons die allerheerlikste stampmielies voorgesit, gekook soos my ma dit altyd gemaak het. En wat is dan nou lekkerder en goedkoper as om ‘n boneslaai van een of ander aard te bedink wat ‘n hele paar dae goed in die yskas kan hou. Destyds se 3-boneslaai het ons sommer met ‘n blik 4-bonemengsel saam met wortel gemaak. Die groot triek was egter die slaaisous waar ons Carmién se rooibos–en-boegoetee as basis gebruik het om die slaaisous mee te maak en geen suiker is bykans nodig nie. Al moet ek dit nou self sê, dis onmenslik lekker!

Om mee af te skop, het ons die bekende ongelooflike muffins wat swem van die semels, gemaak, maar die aanvanklike hemelhoë 750 ml (3 k) suikerinhoud het nou net ‘n skamele 160 ml (⅔k) geword en die botter is met omega 3-ryke canola-olie vervang. Almal het heerlik gesmul en geensins die soet gemis nie. En dan is die groot lekkerte van hierdie resep mos nou dat jy die beslag in die yskas kan hou en gou muffins kan bak vir inpak skool toe of vir ‘n geselligheid soos dit nodig is.

Vir my is dit altyd baie verrykend om saam met hierdie passievolle groep plaaswerkers te kook; daar word ook nie doekies omgedraai of ‘n gereg die tongtippietoets deurstaan het aldan nie. Daarom was dit vir my die grootste riem onder die hart toe een van die saamkokers vir my sê terwyl ons na die tyd heerlik saamkuier om die tafel en die spyse van ons handewerk geniet, dat daar vir haar nou geen omdraai weer is nie. En sy gaan die boodskap van gesonder eet (wat ook baie bekostigbaar is), wyd en syd versprei.

MAALVLEISKERRIE (Akni)

Ek het dit nou al baie keer genoem dat die befaamde kok en Maleise-koskenner, Cass Abrahams my leer kerrie maak het. Nie te sterk nie, maar geurig met die speserye keurig gemeng. Hierdie maalvleiskerrie wat onder die Maleiers as akni bekend staan en sommer ook baie keer armans-birjani genoem word, was geen uitsondering nie. Volgens die resep kom daar baie gemengde groente in maar ek het ook sommer nog ‘n blik lensies bygevoeg (wat so bykans wegkook in die maalvleis in) om die maalvleis verder te rek. Gerasperde patat en appel verleen die nodige soetigheid. Die Focus-rooibostee wemel van speserygeure wat goed pas by hierdie kerrie en rond dit perfek af.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 30 min
Gaarmaaktyd: 30 min

KERRIE-MAALVLEIS
1 ui, in ringe gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk (opsioneel)
7,5 ml (11/2 t) gemmerwortel, gerasper
1 kaneelstokkie
Olie
300 g maalvleis
10 ml (2 t) geroosterde matige kerriepoeier (ek gebruik graag birjani-masala)
5 ml (1 t) fyn komyn
7,5 ml (1½ t) borrie
2,5 ml (½ t) fyn koljander
Helfte van ‘n blik van 400 g gekapte tamaties of ‘n blik tamatie-en-uiesmoor
1 blik (400 g) lensies, voeg die vloeistof ook by
Halwe patat, gerasper
1 klein appel, gerasper
1 pakkie (50 g) tamatiepasta
sowat 125 ml (½ k) Carmién Focus rooibostee (2 sakkies)
Sout en peper
500 g bevrore wortel-en-ertjiemengsel
Knippie suiker
Groot handvol gekapte koljanderblare
VOORSIT
Stampmielies of bruinrys
SAMBAL
1 tamatie, in blokkies gesny
Halwe klein ui, gekap
15 ml (1 e) bruin-asyn
Knippie suiker
Sout en peper

1 KERRIE Roerbraai die uie, knoffel en gemmerwortel saam net die kaneelstokkie in bietjie olie tot sag.
2 Voeg die maalvleis by en braai tot net gaar.
3 Voeg die kerrie, komyn, borrie, koljander en tamatie by en roer 1 minuut.
4 Voeg die lensies, patat en appel by en roer deur.
5 Meng die rooibostee met die tamatiepasta en voeg helfte daarvan by. Geur met sout en peper na smaak. Verlaag die hitte, bedek en laat prut tot gaar en geurig.
6 Voeg die groentemengsel by asook orige teemengsel en laat prut verder tot die groente gaar is. Geur met bietjie suiker asook nog sout en peper indien nodig.
7 Meng ‘n groot hand vol gekapte koljanderblare deur.
8 VOORSIT Sit die maalvleis voor saam met stampmielies of rol toe in ‘n roti. Sit voor saam met die gekapte sambal.

Die resepte vir die roti’s, ongelooflike muffins asook die maklike vierboneslaai met rooibosslaaisous is te kry in my boek, Lekker & Goed, heilsame kos propvol heilsaamheid. Die boek is te kry in vooraanstaande boekwinkels asook aanlyn by Lapa en op die Carmién-webtuiste.

Bak ‘n koek en wen ‘n boek

As mens boek skryf is dit lang ure wat jy in ‘n borrel op jou stoel voor jou rekenaar vasgegom sit en resepte skryf waarvan jy hou (hulle word eers later getoets) en wat jy hoop en dink ander mense ook van gaan hou. En as die boek eers op die rak is, begin jy tandekners en hoop dit geval meeste mense en dat hulle die resepte gaan geniet. Met hierdie boek veral was ek nogals ietwat senuweeagtig, want ek het my nek ver uitgesteek om ‘n gesonder aanslag aan die resepte te gee. Jy weet nooit regtig of mense dit aanloklik vind voordat hulle nie van hulle laat hoor nie.

Ja, so vir my is daar niks lekkerder as om terugvoering te kry nie, want dit gee my ‘n goeie indikasie wat mense geniet en wat hul voorkeure is (ek gee ook glad nie om as iemand my laat weet van ‘n resep wat hulle mee gesukkel het of wat hulle nie aangestaan het nie –dit gee my net weer ‘n geleentheid om verder daaraan te werk en weer te toets).

Sowat ‘n week of twee drie terug ontvang ek lekker terugvoering via my skoonsus en sussie van twee mense wat my boek gekoop of present gekry het. Die een al afgetree, die ander ‘n jong pasgetroude bruid wat glukose- en laktose-intolerant is. En wat ‘n riem onder die hart is dit nie dat beide, hoe groot die ouderdomsverskil ook mag wees, die boek baie leersaam vind en daaruit kook! So dit staan nie net op die rak en stof vergaar nie. Hierso hul terugvoering:

“Ek het mos Carmen se nuwe boek gekoop. Dan toets ek altyd resepte. Ek hou baie van haar ingesteldheid oor gesond eet. Sal jy vir haar sê daardie Thai hoenderkerrie met groen mangos is ‘n ongelooflike treffer en ek gaan dit beslis weer maak. Dit was Vrydagaand my kos vir vriende. Gister het ek die appeltert gemaak. Dit was baie lekker. Ek sal nog meer met klappermeel wil eksperimenteer. Het die bestanddele by Checkers gekoop soos sy gesê het. O ja, ‘n vriendin, hoeka van Langebaan, vra of ek nie vir haar ‘n kaaskoekresep het nie. Ek het net die een boek hier en neem Carmen s’n af. Vriendin is in die wolke daaroor.”

My suster se skoondogter is gluten- en laktose-intolerant en sy stuur die volgende boodskap: “Baie dankie Ma vir die amazing boek van Carmen. Ek het nou net weer deur die poedings geblaai en daar is 6 poedings wat almal met glutenvrye meel gemaak kan word. En sy gebruik jogurt en maaskaas in stede van room, en ek kan dit maklik laktosevry kry. So ek kan kaaskoek bak! Sy gebruik ook klappermeel en hawermout wat ek net so maklik glutenvry kan kry. Ek sien so uit daarna om weer ‘n slag gebakte soetgoed te maak. Dit lyk vir my so maklik. Alles word net so moeiteloos vervang sonder om ‘n groot rietmerol daarvan te maak. Sy gebruik net daardie mele in die resep en jy weet dit gaan werk, so jy hoef nie iets in te ruil nie. Daar is baie resepte wat mens baie maklik kan maak wat glutenvry en laktose-vry is. Dis so ‘n oulike boek – van ontbyte, brownies, alles wat mens nodig het.”

So hou ons ook die naweek basaar hier op Langebaan. Een van die voorvatters laat weet my ek moet asseblief tog die rooibos-sjokoladekoek wat ek met patat maak, bak, want dan kan diegene wat minder suiker moet eet, mos ook ‘n snytjie koek geniet. Later hoor ek die versoek kom via een van die mense wat my praatjie verlede jaar by die Saldanha-vrouedag bygewoon en die koek daar geëet en dit so geniet het. En ja, daar het nie ‘n krummeltjie oorgebly nie.

So hier is nou ‘n lekker uitdaging en geleentheid om ‘n Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid -boek, te wen. Al wat jy hoef te doen is om die rooibos-sjokoladekoek te bak en ‘n foto daarvan vir ons aan te stuur na carmen@carmientea.co.za. Dan staan jy ‘n kans om die boek te wen! Kompetisie sluit 21 April.

KLAM ROOIBOS-SJOKOLADEKOEK

Die oorspronklike resep van hierdie koek, wat letterlik binne minute aanmekaar geslaan kan word en nie enige eiers inkry nie, was die koek wat ek altyd vir my kinders se verjaarsdae gebak en saamgestuur het skool toe. Dan het ek dit sommer in ‘n oondpan gebak en in blokkies gesny of soms klein mini-koekies daarvan gemaak.

Karamelkondensmelk, met klompe natuurlike jogurt deurgemeng was al versiersel. Hulle het gesmul. Maar sjoe, daar het baie suiker ingekom – ‘n volle 3 koppies. Om die suiker te verminder, sonder om smaak in te boet het ek op die ou einde gaar patat met die suiker gaargemaak en dit deurgemeng en pleks van die water gebruik ek rooibostee wat ‘n heerlike smaak verleen.

Maak 1 laagkoek of Bundtkoek
Bereiding 20 min
Baktyd: sowat 30 min

500 ml (2 k) koekmeel
250 ml (1 k) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
2,5 ml (1/2 t) sout
500 ml (2 k) Carmién warm rooibostee (gemaak met 6 Red Mocha of Floral Berry-sakkies)
100 ml canola-olie (nie olyfolie)
30 ml (2 T) appelasyn
500 g (2 groot) oranje patats, geskil (nie die rooiskil soort nie)
250–325 ml (1—1⅓k) bruinsuiker (ek gebruik slegs 250 ml)
JOGURT-GANACHE
200 g donker sjokolade, suikervry indien verkies, in blokkies gebreek
Sowat 60—80 ml (¼-⅓k) natuurlike jogurt
OF
VERSIERSEL
250 ml (1 k) versiersuiker
125 ml (1/2 k) kakao
Rooibostee soos nodig
Blommetjies uit die tuin vir bo-op

Voorverhit oond tot 180°C. Spuit 2 koekpanne, 20 cm in deursnee of ‘n Bundt-koekpan goed met kossproei.
Kry twee mengbakke gereed.
1 KOEKBESLAG Sif die koekmeel, kakao, koeksoda en sout saam in ‘n groot mengbak.
2 Druk die teesakkies goed uit, maak seker dat daar 500 ml (2 k) tee is. Meng die tee, olie en asyn, in ‘n groot bak en roer goed tot alles goed gemeng is.
3 Kook die patats in ‘n klein bietjie water tot sag, voeg die suiker by net wanneer die patats begin gaar word. Roer goed tot ‘n gladde puree wanneer sag (Jy kan ook ‘n stokmenger gebruik om die puree fluweelglad te kry).
4 Roer by die vloeistofmengsel in. Voeg die vloeistofmengsel by die meelmengsel en meng goed deur.
5 Skep in die twee koekpanne of Bundt-pan en bak sowat 30 minute of tot net gaar, maar nog baie effens klam in die middel as jy ‘n toetspen indruk.
6 Keer uit en laat heeltemal afkoel.
6 GANACHE Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond, roer gereeld en roer die jogurt vinnig by om ‘n smeerbare mengsel te maak.
7 Smeer oor die een koeklaag en plaas die ander een bo-op. Skep res van ganache oor en viersier met blommetjies of stapel vars bessies en vye bo-op. (Skep die hele mengel oor die Bundt-koek.)
8 Maak andersins die volgende versiersel: Meng kakao en versiersuiker met ‘n bietjie tee tot stywe pasta (pasop vir te veel tee, dit raak gou loperig) en smeer oor die koek. Plaas opmekaar en versier met blommetjies of vrugte.

Wenk: Met hierdie mengsel gaan jy sowat 54 mini-kolwyntjies gebak kry – bak dit dan vir sowat 18—20 minute.

Klop die kragkrisis

Elektrisiteit-loosheid hoef ons nie hande in die hare te laat nie. Dan bedink ons alternatiewe maniere om kos te maak. Ek is daarvan oortuig meeste mense het nou al vir hulle gas in een of ander aard aangeskaf om op te kook. ‘n Gasstoof, al het dit steeds ‘n elektriese oond, is die mees gemaklikste, maar andersins sal ‘n gasbottel met ‘n plaat of skottelskaar daarop vasgeskroef net so goed werk. Skottelkos kan jy net so maklik oor die vuur gaarmaak.

Hierdie hoender met sy ryk Noord-Afrikageure is ideaal om só in ‘n skottel gaar te maak. Ekself gebruik graag die groot LeCreuset-panne met die “glasdeksel” hiervoor. Maar as ons die pad vat boendoes toe, pak ons altyd die gasbraaier met al sy bybehore in, dan werk dit net so goed in die skottelskaar. En natuurlik, niks kom by die samesyn van ‘n vuur wat gesellig knetter waarop mens hierdie skottel net so gemaklik kan gaarkry terwyl jy rustig aan ‘n wyntjie teug nie. By die huis, doen ‘n pot rys hierby sy ding, maar ‘n platbrood (sien hierdie post) is net so lekker daarby om die lekker sousies mee op te vee. Dié bak jy sommer in ‘n goed ingebakte swart pan oor gas of oor die vuur. Klein roosterkoekies is net so geskik.

Noord-Afrika Skottelhoender

Die skottelhoender kry tipiese Afrikageure van kaneel, komyn, kardemon en gemengde speserye in. Om nog meer geurigheid op ‘n subtiele manier in te werk maak ek ook ‘n aftreksel met Carmién se Focus rooibostee met chaigeure en prut die hoender daarin tot sag.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding; 20 min
Gaarmaak: 40 min

12 hoenderporsies (dytjies en boudjies)
Sout na smaak
olie
5 ml (1 t) heel komynsaad
2 uie, in ringe gesny
3 knoffelhuisies, fyngerasper
5 cm gemmerwortel, gerasper
15 ml (1 e) fyn kaneel
5 ml (1 t) gemengde speserye
5 ml (1 t) fyn kardamom
500 ml (2 k) Carmién Focus rooibostee (gemaak met 6 sakkies)
1 blik (400 g) klappermelk
1 suurlemoen se sap en gerasperde skil
Halwe kop broccoli,in blommetjies gebreek (opioneel)
Geroosterde amandelvlokkies
40 g koljanderblare
VOORSIT
rys of platbrood

1 Geur die hoender met sout na smaak.
2 Verhit bietjie olie in ‘n groot pan of skottelskaar en verhit tot effe warm. Voeg die komynsaad by en meng deur.
3 Voeg die hoender by en braai tot effe bruin buite-om. Skep die hoender uit.
4 Voeg die uie, knoffel en gemmer by die olie in die pan en braai tot sag.
5 Roer die fyn speserye by.
6 Giet die rooibostee en klappermelk in en bring tot kookpunt.
7 Voeg die hoender by, verlaag die hitte, plaas die deksel op indien verkies en laat prut tot die hoender sag en gaar is.
8 Geur met suurlemoensap.
9 Voeg die broccoli by indien gebruik en prut tot net sag, maar nog bros.
10 Sprinkel die amandelvlokkies en kolanderblare oor en sit voor saam met rys of platbrood.

Peusel aan platbrood

Vir ‘n geruime tyd begin ek al hoe meer opmerk hoe baie mense weer heerlik saamkuier met ‘n broodjie in die hand. Maar nou het die fokus veral verskuif na platbrode, hetsy bros en brekerig of sag en degerig. Deels kan dit toegeskryf word aan die Meditereense en Midde-Ooserse eetpatrone wat wêreldoor by die dag net meer gewild word. Mense het veral ook ‘n hunkering na samesyn en deelkos. Platbrode verleen hul altevol gemaklik daartoe – dis veelsydig en kan werklik met verskeie bolae en smere voorgesit word. Dit pas my natuurlik soos ‘n handskoen, want vir my is daar niks lekkerder as om te kuier rondom ‘n groooot deelbord gepak met platbrode en allerlei heerlike smere waardeur mens die brood kan trek en peuselgoedjies wat jy daarop kan laai nie. Daarby ‘n goeie bottel wyn of twee en dan is jy reg om ‘n stukkie brood te breek en die sameyn te geniet van goeie vriendskap en lekker stories.

My deelbord sien gewoonlik só daar uit:

  • Platbrode
  • Hoemoes of zhug
  • Falafels (kekerertjie-frikkadelle)
  • 2—3 soorte piekels soos kersie-tamaties, koolpiekel, uiepiekel of ‘n heerlike Midde-Oosterse blomkool-en-broccoli-piekelslaai
  • Groentesalsa of ‘n verskeidenheid vars goed soos blaarslaai, komkommer, kersie-tamaties, skyfies avokado en dik romerige jogurt, gegeur met bietjie komyn

Die platbrood kan wissel van een wat sommer met jogurt gemaak word (sien resep) of een wat amper soos ‘n tipe panpita is, gemaak met gis of vir diegene wat wil wegbly van koring is daar selfs een gemaak met klappermeel. Andersins maak ek sommer baie keer ook die platbrood wat by De Tol-deli so gewild is. Noudat ek geseën is met sorghummeel, vervang ek helfte van die meel in die resep daarmee.

Die hoemoes maak ek graag deels van patat en pleks van tahini (wat aan die duur kant is), braai ek sommer sesamsaad in olie wat ek dan in die hoemoes inwerk.

Die Zhug (‘n hittige Midde-Oosterse sous), word met avokado gemaak om die brand ‘n bietjie uit te balanseer – sien die resep hieronder.

My nuutste kosgier is falafel waarvan ek net nie genoeg kan kry nie. Dié geurige kekerertjie-frikkadel maak ek sommer in die lugbraaier gaar of andersins braai ek dit in vlak olie braai, nie diepvetolie soos die aanvanklike resep vra nie.

Vir die piekels is daar ‘n basiese resep wat jy kan gebruik vir van tamaties tot kool en uie. Maar probeer gerus die Midde-Oosterse blomkool-en-broccolipiekel. Dis werklik spesiaal.

Ek maak ook graag ‘n groentesalsa wat uit avokado en sampioene bestaan. Die sampioene raak sommer so in die geurige sousie “gaar”.

Die resepte vir al hierdie heerlike peuselkos is almal te kry in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Die boek is in vooraanstaande boekwinkels, Checkers asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea te kry.

Avocado Zhug with flatbread and falafel

Serves 4 as a starter
Preparation time: 10 minutes

1 large avocado, peeled and stoned
125 ml (½ c) fresh coriander leaves
125 ml (½ c) fresh flat-leaf parsley leaves
60 ml (¼ c) lemon juice
2 large jalapeños, chopped (deseeded if you don’t want the sauce too spicy)
2 cloves garlic, chopped
Pinch of sea salt
To serve
Flatbread (see recipe) or pita bread
Falafels, pickles, fresh coriander

Quarter the avocado and set aside.
Place the remaining ingredients in a food processor and whizz until smooth, scraping down the sides of the bowl. Add the avocado and blend further until smooth. Transfer to a bowl or store in a jar in the fridge (may store for up to 2-3 days).
Serve with flatbread, falafel and pickles and garnish with fresh coriander.

Recipe for yoghurt flatbread: Mix 150 g self-raising flour, 150 g wholewheat flour, 5 ml (1 t) baking powder and 2,5 ml (½t) salt. Add about 350 ml of plain yoghurt and mix into a stiff dough. Knead well and then rest for 10 minutes. Divide into 10 balls, and roll out each ball into a thin circle. Fry in a heated pan, about 2 minutes per side till just done. Brush with parsley butter while still hot.

Avo’s stap voor

In my huis was daar nog altyd avokado’s – een of twee net reg om te eet (ready to eat) en ‘n paar ander in ‘n kadoessak of in koerantpapier toegedraai saam met ‘n appel of piesang en in ‘n donker kas weggebêre sodat hulle ryp en sag kan word, want ja, ‘n avokado word nie aan die boom sag nie, dit gebeur eers nadat dit gepluk is.

Ek onthou ook hoe ons kleintyd vuurhoutjies deur die pitte gedruk en dit dan in ‘n glasie water staangemaak het sodat dit kan uitloop. Ongelukkig het die plantery nie op veel geluk uitgeloop nie.

Avokado’s is nie net heerlik op roosterbrood of as guacamole nie, dit gaan letterlik by enigeiets. Die het ek onlangs eersdaags ervaar toe ek uitgenooi was na die viering van die nuwe seisoen deur die South African Avocado Growers’ Association (SAAGA) by die trendy Upper Union Restaurant in Kaapstad. En ja, avokado’s slaan ook deesdae die kitaar as dit by stylneigings kom met die dat avokado’s in 2023 aangewys is en deel vorm van die Everyday Health Top 10 Healthy Food trends list vir 2023. (sien die volledige verklaring)

Met hul avokadogroen interieur was die Upper Union restaurant die perfekte keuse om alles avokado te ervaar en te proe en sjef Amori Burger het nie teleurgestel met die deelhappies wat sy uitgestuur het tafel toe nie: Kubaneh (‘n Joodse brood) met avokado en makhani-botter; geposjeerde koningklip met avokado in verskeie vorme met ‘n salami-strooisel; ‘n 42-dae verouderde riboogsteak met swartknoffelbotter en avokado-jus saam met verskeie bykosse en natuurlik poeding.

Toe ek moes kies watter gereg ek by die huis weer wil uitprobeer en op my manier interpreteer het my keuse op die koningklip geval. Dié het my op ‘n manier laat terugdink aan die gewilde Avokado-Ritz soos van ouds waarvoor Suid-Afrikaners so lief was. Gedagtig hieraan en met die wete dat avokado maats maak met verskeie geure en teksture het ek my eie anderste weergawe van ‘n avokado ritz met romerige hoender en ‘n avokado-tamatiesalsa bedink wat ek met koljanderpesto en bros uieringe afrond. Die avo het ek uitgewaaier soos die tendens deesdae neig en die hoender het ek sommer in die lugbraaier gaargemaak met die uieringe wat ek eers in sorghumeel gerol het voordat dit ook in die lugbraaier brosgebraai is. Voedingsgis (nutritional yeast) help gee ekstra geur en voedingswaarde aan die pesto wat ek laastens oorgeskep het.

“AVO RITZ” MET AVOKADO-EN-TAMATIESALSA MET ROMERIGE HOENDER, KOLJANDERPESTO EN BROS UIERINGE

Genoeg vir 3-4 mense (as voorgereg of ligte ete)
Bereiding: 30 min
Gaarmaak: 30 min

AVOKADOSALSA
1 ryp tamatie, in blokkies gesny
30 ml (2 e) kappertjiesaad
20 g basilieblare, gekap
30 ml (2 e) elk natuurlike appelasyn en avokado-olie
1 songedroogde tamatie, gekap
1 avokado, fyn opgekap
Sout en peper na smaak
HOENDER
3 hoenderdye
Portugese speserye na smaak
45 ml ( 3 e) elk mayonnaise en natuurlike jogurt
Sout na smaak
PESTO
40 g koljanderblare
2,5 cm gemmerwortel, fyngerasper
2 knoffelhuisies, fyngerasper
125 ml (½ k) grondbone
30 ml (2 e) voedingsgis
1 suurlemoen se skil en sap
Olyfolie na smaak
Sout
BROS UIERINGE
1 ui, in ringe gesny en gekook in mikrogolfoond tot sag
Sorghummeel of gewone witbroodmeel
Portugese speserye
Avokado-olie
15 min in die Airfryer
AFRONDING
1 avokado, gehalveer, ontpit en geskil

1 SALSA Meng al die bestanddele saam en hou eenkant.
2 HOENDER Geur die hoenderstukke na smaak met die Portugese speserye. Plaas in die lugbraaier en lugbraai sowat 15 minute of tot gaar en die velletjie lekker bros is (pas op vir oorgaarmaak, dan is dit droog). Koel die hoender effe af en pluis die vleis dan in klein stukkies.
3 Meng die hoender met die mayonnaise en jogurt en geur na smaak met sout indien nodig.
4 PESTO Plaas al die bestanddele buiten die olie in die bak ban die voedselverwerker en verwerk tot die grondbone grof opgekap is. Voeg genoeg olie deur die tuit by om ‘n effense loperige mengsel te verkry.
5 UIERINGE Spoel die uieringe onder koue water af en druk droog met handdoekpapier.
6 Geur die sorghummeel met Portugese speserye na smaak en rol die uieringe daarin.
7 Pak die uieringe in ‘n enkellaag in die lugbraaier se mandjie, giet olie oor en lugbraai sowat 15 minute of tot bros. Roer die uieringe ‘n paar keer tussendeur.
8 BYMEKAARSIT Plaas ‘n avokadohelfte met die holte na onder op ‘n bord en sny in dun skyfies. Waaier die skyfies uit oor die bord. Skep van die hoendermengsel bo-op en skep’n paar lepels vol salsa bo-op.
9 Rond af met ‘n skeppie of twee pesto en sprinkel van die uieringe oor.

Avos celebrated on the 2023 food trends list

Over the years, foodies and consumers have been ‘adding an avo’ to their meals. This year avos have also caught the attention of the trendsetters and have been honoured on the Everyday Health Top 10 Healthy Food Trends list for 2023.

Third on the list is the trend, ‘plants in more places’, which refers to the way in which the plant-based eating phenomenon that has swept the globe in recent years, has inspired new ways to eat fruits and vegetables.

In particular, the report notes that people are realising they can add more plants to their plates without necessarily becoming vegans or vegetarians. It cites an ‘upswing in the creative use of vegetables and fruits as people strive to hit that five-a-day recommendation – for example using avocado in the place of butter’. We couldn’t think of a better way for you to prep your sarmies than with avo!

The report goes on to mention other exciting trends where avos tick all the boxes: ‘more plant-based options’, ‘mood-boosting foods’ and ‘food for your gut’.

‘More plant-based options’ speaks to the growing trend of people consciously choosing to eat less meat. As a result, interest in meat alternatives and interesting fruit and veg options is increasing across the globe. This is where avos come into their own as an incredibly versatile fruit. From traditional guacamole (which goes with everything) to ice cream, avos fit squarely into the here-to-stay plant-based eating trend.

Functional foods and beverages that support the body in specific ways have been blipping on the radar for a while, especially around the issue of building immunity. The ‘mood-boosting foods’ trend on the 2023 list refers to feel-good foods that help ward against depression and dementia, and support brain health.

One avocado contains 13g of healthy monounsaturated fatty acids, which have anti-inflammatory and antioxidant properties. Foods higher in good fats may lower the risk of depression, anxiety and other mental disorders. Good fats also facilitate thought-processing, hormone production and stress-reduction mechanisms within the brain. So, when it comes to ‘mood-boosting foods’, avos are right up there!

Finally, caring for the microbiome in the gut as a key to overall improved health has become firmly cemented among consumers in recent years. The ‘food for your gut’ trend predicted for 2023 sees this intensifying, with the focus shifting from supplements like pre-and probiotics to foods that support gut health.

New research shows that eating avos may benefit gut microorganisms, as avos provide a unique mix of insoluble fibre (70%) and soluble fibre (30%), which feed healthy gut flora.

All these food trends reflect the prevailing global theme of sustainability. Avo farmers the world over are actively reducing their ecological and water consumption footprints. This, together with their high nutritional value, makes avocados a sustainable and healthy alternative.

As you can see, there are plenty of reasons to ‘add an avo’ to your meals this year (especially if you like to keep ahead of the trends!).

For further information and avo recipes, visit www.avocado.co.za, like us on Facebook @iloveavocadoSA and follow us on Instagram @iloveavossa

Bobaas Bobotie

Bobotie is net so eie aan ons kultuur en mens sou maklik kon dink dat daar ‘n basiese resep is waarvolgens meeste mense werk. Toe glad nie, daar’s verskeie en elke familie klou vas aan hul resep. So het ek met die jare verskeie werklik lekker bobotie-resepte publiseer, party kry droëperskes, sultanas of selfs Turske appelkosies in, ander ‘n paar vlokkies amandel bo-oor gesprinkel; die een soet, die ander een meer sterk met die kerriemengsel self gemeng in die stamper en vysel. Ekself het heerlik rondgespeel tussen die verskeie resepte. Deesdae rasper ek nie net graag ‘n appel by die mengsel in nie maar selfs ook ‘n patat en wortel of twee. Dit sorg vir ‘n meer “los” bobotie. Seker baie onkonvensioneel, maar ek hou ook daarvan om selfs hoenderlewers by te voeg wat ek laat fynkook saam met die maalvleis.

Om dinge verder interressant te maak, bak ek die boboties graag in ‘n broodpannetjie sodat ek dit maklik in skyfies kan sny, amper soos ‘n maalvleisbrood. Baie keer druk ek sommer die rysmengsel onder in die broodpannetjie vas, so elkeen kry sommer alles in een porsie. Jy kan natuurlik net so maklik individuele boboties vir elkeen op dié manier berei.

Maak 2 bobotie-brode (genoeg vir 6 mense)
Voorbereiding: 30 min
Gaarmaak: 30 min

2 uie, fyn gekap
45 ml (3 e) olie
2—3 knoffelhuisies, fyngedruk
60 ml (¼ k) geroosterde masala of matige kerriepoeier
30 ml (2 e) fyn gemmer
20 ml (4 t) fyn kaneel
20 ml (4 t) fyn koljander
7,5 ml (1½ t) borrie
250 g hoenderlewers, fyner gesny
500-750 g maer maalvleis
Sout na smaak
3 wortels, skoongeskraap en gerasper
1 groot patat, skoongeskrop en gerasper
1 appel, gerasper
250 ml (1 k) groenteaftreksel
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
60 ml (¼ k) fyn appelkooskonfyt of vrugtige blatjang
Sap en skil van 1 suurlemoen
750 ml (3 k) gaar rys, gekook met bietjie borrie en ‘n kaneelstok

EIERVLA
6 eiers
500 ml (2 k) melk
45 ml (3 e) koekmeel
Sout en peper
1 piesang, in lengte gehalveer
4—6 lourierblare

SAMBALS
Gekapte tamaties en uie
Gekapte komkommer en jogurt sambal met fyn komyn

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit twee medium broodpanne goed met kossproei en voer uit met bakpapier. Spuit weer goed.
1 Verhit die olie in ‘n pan en braai die ui daarin tot sag. Voeg die knoffel by en braai tot geurig. Roer die speserye by.
2 Voeg die hoenderlewers en maalvleis by, geur met sout na smaak en braai tot gaar, nie nodig vir bruin nie.
3 Voeg die wortels, patat en appel by, meng deur en voeg die aftreksel en tamatiepasta by. Verlaag die hitte en laat prut tot die groente bykans weggekook en die mengsel lekker geurig is.
4 Roer die appelkooskonfyt en suurlemoensap by en geur met nog sout indien nodig.
5 Druk die rys onderin elk van die pannetjies vas. Verdeel die maalvleismengsel tussen die broodpanne en druk vas.
6 EIERVLA Klits die eiers, melk en meel saam tot glad, geur met sout en peper. Giet oor die mengsel in die panne, laat dit goed intrek in die rys-en-maalvleismengsel.
7 Rangskik die piesang en lourierblare bo-op en bak sowat 30—40 minute of tot die eiervla gestol is. Laat bietjie afkoel in die panne en keer dan versigtig uit. Sny in skywe. Sit voor met sambals.

Sakpaswenk: verminder die maalvleis na 250 g en roer ‘n blikkie of selfs twee lensies by die maalvleismengsel in.

Gaan kyk ook in my boek, Lekker & Goed, heilsame kos propvol heilsaamheid, vir ‘n heerlike lensie-bobotiebrood. My man wat ‘n vurige vleiseter is, smul alte lekker daaraan.

Afrika-geure

Soos wat ek julle vertel het begin Februarie is antieke grane en veral Afrika-grane een van die groot kostendense vir 2023. Ek nader toe vir Local Village Foods om vir my produkte te stuur. Die boks arriveer met heelsorghum, sorghummeel en Bambara-bone in, genoeg om ‘n hele nasie mee te voed! Sorghum is die graan waarmee onder andere Maltabella-pap gemaak word, iets wat ons gereeld as kind op tafel gekry en heerlik aan gesmul het. Die heel graankorrels vat nou wel ‘n tydjie om sag te kook, maar is lekker neuterig. Ek maak dit graag in rooibostee gaar om net nog ‘n vredere skeutjie Afrika-goedheid daarby te voeg. Bambara-bone ken ek as jugo-bone en dit smaak vir my baie na grondbone. Dit word ook nyimo, ditloo en indlubu genoem; het ‘n taamlike hoëproteïen-inhoud (9,4 g per 205 g porsie; die koolhidraat-inhoud is 12,3 g per porsie) en is heerlik in kerries of selfs om hoemoes mee te maak.

Die groot kosfoendi, Renata Coetzee, was die een wat my jare terug aan die Afrika-eetkultuur bekend gestel het en ek bewaar haar boek, Funa, food from Africa, Roots of traditional African food culture, soos ‘n kleinnood. Ek het die boek nog by haar present gekry met dié nota voorin: “Carmen, geniet die kos en kultuur van die etniese Afrikane.” Op ‘n stadium was ek ook betrokke by Drum se kosafdeling en het ek saam met die bekende tv-sjef en restaurateur, Siba Mtongana in die kombuis gewoel en werskaf en onder andere ‘n hele reeks oor die geliefde kosse in elke etniese groep van Suid-Afrika gemaak. So het ek ook by verskeie geleenthede skouers geskuur met Portia Mbau van The Africa Café (in Kaapstad) en het ook haar boek, The Africa Cook Book. So ja, ‘n tekort aan inspirasie om kosse uit Afrika te kook, is daar nie. Ek vind ook dat hierdie produkte net so maklik hul plek in enige kookkultuur kry, lekker eksperimenteer is dus my voorland.

Laas Sondag het ek sommer ‘n slaai berei wat heerlik was saam met die Franse oondhoender, met sy groen olywe, kappertjiesaad en pruimedante in. Die resep daarvoor kan jy in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, kry. Dis beskikbaar by meeste boekwinkels asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea.

Sorghumslaai met Afrikabone

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Kooktyd: sowat 1 uur

375 ml (1½k) heel sorghum
625 ml (2½ k) Carmién-rooibostee, Revive (met gemmer en brandrissie) of Rescue (met boegoe), gemaak van 4 sakkies
sout
1 blik (410 g ) Bambara-bone, gedreineer

SLAAISOUS
80 ml (⅓ k) olyfolie
45—60 ml (3—4 e) natuurlike appelasyn
30 ml (2 e) vars uitgedrukte suurlemoensap
5 ml (1 t) heelkorrelmosterd
5—10 ml (1—2 t) heuning of bruinsuiker
Knippie sout

AFRONDING
2 appels, in dun skyfies gesny
1 peer, in stokkies gesny
Groot handvol rosyne

1 Plaas die sorghum in ‘n kastrolletjie en giet 500 ml (2 k) van die rooibostee oor. Moenie sout nou al byvoeg nie. Kook tot sag, vul aan met kookwater indien nodig en geur met sout aan die einde van die kooktyd. Dreineer.
2 Plaas die gaar sorghum en bone in ‘n bak.
3 SLAAISOUS Klits al die bestanddele goed saam, voeg die orige rooibostee ook by en giet oor die sorghum en bone-mengsel. Verkoel minstens 20 minute (hoe langer hoe beter) sodat die slaaisous lekker in die sorghum en bone kan intrek.
4 Pak die appel en peer in ‘n bak en skep die sorghumengsel bo-op. Sprinkel die rosyne oor.

Die soet van suurlemoen

Toe ons finaal intrek in ons Weskushuis was die eerste boom wat ek aangeplant het ‘n suurlemoenboom. Nie net om my herkoms te gedenk nie, maar omdat suurlemoen onmisbaar is in enige kombuis.

Die mooi geel vruggies maak ook ‘n tog te mooi prentjie in my ou silwerpot. Met die koms van Covid het almal die waarde van suurlemoen opnuut besef – nie net is dit gelaai met vitamien C nie, maar het ook ‘n alkalliese uitwerking op die liggaam al is hulle opsigself suur. So ja, my waterbottel kry gereeld sy skyfie suurlemoen by. In kos bly dit ‘n staatmaker – vars gerasper oor ‘n sop of bredie, selfs in ‘n groente-souttert en ‘n skyfie by vis verleen net die nodige nodige afronding.

Jare gelede het ek ‘n trefferresep vir ‘n heuning-suurlemoenhoender in Wenresepte 5 gepubliseer. Dit het ‘n staatmaker in my huis geword. Ideaal vir stukke hoender, wat net so lekker is as jy dit oor die kole rooster, maar ek gebruik dit selfs ook nou om hoenderfilette, wat ek in blokkies sny, in te roerbraai. Ek rasper ook deesdae graag ‘n bietjie rou gemmer oor. Ideaal vir voorsit saam met rys waarby jy bietjie kruie ingeroer het.

VIR DIE HEEL HOENDERSTUKKE

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 1-1½uur

1,8 hoenderstukke, dytjies en boudjies
Sout en peper
Koekmeel om in te rol
125 ml (½ k) heuning
125 ml (½k) suurlemoensap
2 cm stuk gemmerwortel, fyn gerasper
60 ml (¼ k) sojasous

Voorverhit die oond tot 180°C.
Geur die hoenderporsies met sout en peper en rol in koekmeel. Skud die meel goed af.
Pak met die velkante na onder in ‘n oondpan.
Meng die res van die bestanddele en giet oor die hoender. Bak 1-1½ uur lank of totdat die hoender gaar en goudbruin is. Bedruip elke nou en dan met van die pansappe en draai die hoenderporsies na die helfte van die baktyd om.
Sit voor met kruie-rys: Meng 500 ml (2 k) gaar basmati-rys met 2—3 gekapte stingeluie, ‘n groot handvol gekapte vars koljander, basilie- en kruisemengblare en die gerasperde skil van 1 suurlemoen.

Vir hoenderfilet-roerbraai:
Sny sowat 6 hoenderporsies in blokkies, geur met sout en peper en rol in meel.
Braai in olie tot effe bruin, meng die res van die bestanddele en giet oor. Prut tot gaar.

Smul aan rys

Ek was bevoorreg om laas week die gesprek te lei by een van die boekbekendstellings van Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren se boek, Daar’s ‘n vegan op my VERANDAH (gespel met ‘n H ja!). Geskoei op plantaardige kosse maar beslis nie net vir vegans nie. Daar’s meer as genoeg resepte wat as bykos op tafel of as ligte ete kan dien. En soos ek nou al so baie keer genoem het, plantaardige kosse vra vir heelwat geurgoed en dis wat ek telkens raaklees in elk van die resepte in hierdie boek. Die gevulde pampoen-resep met sy geurige bruinrysvulsel vang my oog en raak die inspirasie op ‘n Sondagmiddag om vinnig iets soortgelyks voor te sit op my stoep onder die lattedak.

‘n Heel pampoen het ek nie, wel ‘n paar botterskorsies wat ek geur gee met uie- en knoffelpoeier voordat ek dit sommer in die lugbraaier gaarmaak. Dis deesdae nog makliker om te doen met die dat mens nou bio-afbreekbare “air fryer liners” kry, so die lugbraaier maak sonder moeite skoon. (Die kan terloops ook in die oond, mikrogolf en stomer gebruik word).

Ek hou my groot versameling Carmién tees in ‘n Franse broodblik wat met sy mooi blou ontwerp pronkerig op my koskas staan. Ek kies die Focus met sy masala chai-speserye van kaneel, kardemom, borrie en gemmer om die rys in gaar te maak. Dit gee ‘n sagte geurigheid aan die rys so mens het nie veel meer nodig nie. Daarby roer ek verskeie groentes na hartelus in.

Dis nou ook al ‘n geruime tyd wat ek verskeie resepte wat voedingsgisvlokkies (nutritional yeast) bevat, raaklees. Maar dis nogals my uitgangspunt dat ek nie resepte plaas as mens nie die bestanddele geredelik in ‘n supermark kan kry nie. Toe ek dus nou die dag my hande op ‘n pak voedingsgisvlokkies kan lê by Food Lovers Market het ek dit dadelik ingespan om die neutparmesaan wat in Louis en Isabella se boek is, uit te probeer. ‘n Strooisel daarvan was net reg om die geurige rys tot nuwe hoogtes te verhef.

ROERBRAAIRYS MET LUGBRAAIER-BOTTERSKORSIE

Genoeg vir 4—6 me
Bereiding: 15 min
Gaarmaak 40 min

BOTTERSKORSIE
5 ml (1 t) elk knoffel- en uiepoeier
20 ml (4 t) olyfolie
2 botterskorsies, in skywe gesny en pitte verwyder (nie nodig vir skil nie)
ROERBRAAIRYS
Olie
2 uie, in ringe gesny
3—4 knoffelhuisies, fyngerasper
375ml (1½ k) Spekko basmati-, Jasmyn of selfs bruinrys
Sowat 625 ml (2½ k) Carmién Focus-rooibostee, gemaak met 4 sakkies
1 stok pypkaneel (opsioneel)
Sout
Halwe kop broccoli en/of blomkool, in blommetjies gebreek
Sowat 4—6 spinasieblare, in dun repe gesny, stele en al
Handvol pampoenpitte
Neutparmesaan (sien resep)

1 BOTTERSKORSIE Meng die knoffel- en uiepoeier met die olyfolie.
2 Pak die botterskorsie in ‘n bak en stip die olyfoliemengsel oor. Vryf die mengsel in die botterskorsieskywe in.
3 Plaas ‘n “air fryer liner” in die bak van die lugbraaier en pak die botterskorsie-skywe in ‘n enkellaag daarin.
4 Lugbraai vir sowat 20 minute of tot die botterskorsie gaar en lekker bros is. Gee die bak ‘n lekker skud of draai die skywe om halfpad deur die proses. Hou eenkant.
5 ROERBRAAIRYS Verhit bietjie olie in ‘n braaipan. Braai die uie en knoffel tot sag. Voeg die rys by en meng goed deur.
6 Giet die tee by en voeg die pypkaneel by indien verkies en geur met sout na smaak. Verlaag die hitte, plaas die deksel op en laat prut tot die rys bykans sag is.
7 Voeg dan die broccoli- en/of blomkoolblommetjies asook die spinasierepies by. Bedek weer en laat prut tot rys heeltemal sag en tee heeltemal verdamp het met die groente steeds lekker bros.
8 Skep uit in groot plat dienbord met die botterskorsie langsaan of bo-op. Sprinkel die pampoenpitte en neutparmesaan oor en rond af met ‘n takkie of wat vars kruie.

NEUTPARMESAAN

250 ml (1 k) rou ongesoute kasjoeneute, amandels, dennepitte of selfs grondbone
60 ml (4 e) voedingsgisvlokkies (nutritional yeast)
3,75 ml (¾ t) gerookte seesout
5 ml (1 t) knoffel- en uiepoeier
Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker en pols tot jy ‘n mengsel met ‘n korrelrige tekstuur het (moenie te lank pols nie, dan maak jy neutbotter). Skep in ‘n skoon fles en hou in die yskas.

Vis en brood

Teen die Weskus beleef ons tans die lekkerste weer. Nie te hittig nie en die wind het vir eers bietjie gaan lê. Met die laaste volmaan het die manne besluit om te gaan uitlê vir die nag. Met die visgerei reg en gewapen met genoeg te ete vir die nag se deursit is hulle so laatmiddag vort, eers om te gaan aas trek as die eilande oopmaak. Teen midernag laat hulle van hulle hoor – ‘n video-oproep vanaf die elflyn met die maan wat silwer strepe oor die kalm waters maak; in die verte skyn die liggies van Saldanha, bietjie nader flikker Langebaan s’n. Wat my opval is die absolute geluidlose nagstilte met net die waters wat gloeg-gloeg kap teen die boot. Dis met die draai van die water wat die elwe begin byt en hulle bring ‘n klompie in – dis nou as die hondhaaie nie die vangs verorber voor hulle die boot haal nie. Teen dagbreek steek die boot sy neus weer huis se kant toe, die bemanning vaakmoeg maar tevrede. Dit laat my dink aan die bekende Bybelverhaal van Jesus wat die 5 vissies en 2 broodjies vermeerder het vir die skare.

By die huis word die vis mooi skoongeskraap en die binnegoed netjies uitgehaal. Net reg vir die pangebraaide vis, wat in meel gerol word voor jy dit in ‘n bietjie olie braai en met ‘n Mediterreense salsa en platbroodjies voorsit. Jy kan ook visbrijani maak nes my voormalige kombuis-assistent, Waleed Alexander my geleer het. Dan is daar ook die lekker viskoekies waarmee jy die oorskiet kan wegwerk. Al hierdie resepte is te kry in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid.

Ek het ook nou onlangs ‘n mooie mandjie met heerlike speserye, onder andere ook saffraan, present gekry al die pad van Mauritius af. Dit laat my dink aan die geurige, dog eenvoudige eilandviskerrie wat ek op die Seychelle geproe het. Die sit ek voor met jogurtplatbroodjies of warmwater-roti’s, ‘n resep wat ek nog by die befaamde Boerekos met ‘n Twist-kok, Annelien Pienaar, ontvang het. Die roti-resep is ook te kry in my Lekker & Goed-boek.

EILAND-VISKERRIE

Jare gelede het ek op die Seychelle-eilande die geurigste kerrie, gemaak met die eenvoudigste bestanddele geproe. Hier is my weergawe.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 7 min
Marineer: 15 minute
Gaarmaak: 6—10 min

1 ui, gekap
3 knoffelhuisies, fyngedruk
5 cm gemmerwortel, gerasper
30 ml (2 e) olie
5 ml elk (1 t) elk vismasala, borrie en fyn komyn
Knippie fyn saffraan
2—3 brandrissies, ontpit en gekap
750 g vars vis, ontvel en ontgraat en in stukke gesny
Sout
olie
Skil van 2 lemmetjies, sap van een
25 ml (5 t) tamatiepasta of 3 tamaties, ontvel
Groot handvol gekapte koljanderblare
4 kerrieblare (opsioneel)
45 ml (3 e) geroosterde klapper of semsamsaad (opsioneel)
VOORSIT
Jasmynrys of platbrode
komkommerslaai

1 Meng die ui, knoffel, gemmer, olie, borrie, komyn en saffraan. Skep die kerriemengsel oor die vis en laat staan 15 minute.
2 Skep die vis uit. Verhit nog klein bietjie olie in ‘n pan en soteer die uiemengsel tot sag. Voeg die brandrissie, lemmetjiesap en –skil saam met die tamatie, koljander en kerrieblare by. Prut tot souserig en geurig, so 5 minute.
3 Geur die visblokkies met sout, braai apart in bietjie olie tot effe bruin. Verlaag die hitte, voeg die vis by die uiemengsel en prut tot die vis net gaar is, sowat 3—5 minute.
4 Sprinkel die klapper of sesamsade oor indien verkies en sit voor met jasmynrys of platbrode en komkommerslaai (sien resep).

JOGURT-PLATBRODE

Meng 150 g bruismeel, 150 g volgraam meel, 5 ml (1 t) bakpoeier en 2,5 ml (1/2 t) sout. Roer sowat 350 ml ongegeurde jogurt by om ‘n stywe deeg te vorm. Knie liggies en laat 10 minute rus. Verdeel in 10 bolletjies en rol elkeen in ‘n dun sirkelvorm uit. Braai in ‘n verhitte gietysterpan, sowat 2 minute per kant. Verf alkant met gesmelte pietersieliebotter en sit saam met die kerrie voor.

KOMKOMMERSLAAI

Sny ‘n halwe komkommer en 2 wortels in julienne-repies. Voeg ‘n gekapte brandrissie by. Meng 30 ml (2 e) elk suurlemoensap en sesamolie met 5 ml (1 t) heuning of bruinsuiker en giet oor.

Weskusjuwele

Die Weskus is ‘n spesiale plek met vele weggesteekte juwele – dié ontdek ons so stelselmatig noudat ons permanent teen die Weskus bly. En wat ‘n verrassing toe ek na The Ultimate Guide to the West Coast kyk wat onlangs op Inside Guide in samewerking met Discover Cape Town and the Western Cape gepubliseer is. Daarin is vele plekkies wat ons gereeld by aandoen, maar soos gewildheid van Weskus by die dag toeneem, skiet daar net so gereeld nuwe plekke op wat ‘n besoek die moeite werd maak.

Langebaan, met sy kosmopolitaanse samestelling, heelparty winkels en besighede vorm die kernpunt waarvandaan mens gemaklik die res van die Weskus kan verken. En natuurlik is die akwablou waters van die Langebaanmeer die groot aantrekkingspunt en laat jou nogals sowaar dink jy span op een of ander Griekse eiland uit, veral as jy jou boot by Kraalbaai vasmeer; die Weskuspark met sy blommeprag is nie net ‘n móét-besoek in die lente nie, wintertye is dit heerlik om daar te gaan piekniek hou teen die Weskuswaters. By die La Petite Maison-restaurant in die historiese Farmhouse Hotel word Weskuskos deesdae met ‘n Franse kinkel voorgesit en net bietjie verder af by die Shark Bay Hotel boek ek gereeld in vir ‘n lekker treat en spa-sessie. Daarvandaan het jy ‘n prentjiemooi uitsig oor die meer.

Daar is nog vele eetplekkies, Die mees bekende sekerlik, Pearly’s, met sy uitsoekstaning daar op die sand langs die meer. Vir ons is daar niks lekkerder om sommer net in te val vir ‘n vinnige koffietjie met iets ligs daarby terwyl ons die sakkende son en voëls wat huiswaarts keer gade slaan nie. Hulle is ook onlangs opgeknap en die spyskaart bietjie vernuwe. Trip Advisor gee jou ‘n goeie oorsig van restaurante in Langebaan waar Thoban Chefs, wat veral bekend is vir hul soesji en Asiatiese geregte, bo-aan die lysie staan.

Saldanhabaai se kant toe weer, sal ons gereeld inloer by Cup of Cake vir die lekkerste verkeidenheid koeke waarvoor Sanet Eigelaar groot bekendheid op Koekedoor verwerf het. By Blue Bay Lodge & Resort waar die ou Wicht-opstal omskep is as gasteblyplek, is die lekker groot leerbanke op die windbestande stoep weer die plekkie waarvandaan ons die meer uit ‘n heel ander hoek kan bekyk met die sagte kabbelende waters net klipgooi ver.

Paternoster het geen bekendstelling nodig wanneer dit kom by oulike eetplekke nie, veral Kobus van der Merwe van Wolfgat, het nuwe sterstatus verleen aan die aardse bestanddele en kosse wat die Weskus bied. As die gewoel in die dorpie ons bietjie voos het, val ons graag in by Mondvol-koffiewinkel in Pelgrimsrus waar ons kan kuier op die stoep en aansit vir ligte eetgoed, vars en keurig voorgesit.

Maar dis veral historiese plekke wat my belangstelling prikkel. Velddrif onthou ek as ‘n windverwaaide Weskusdorpie teen wie ons as kinders rugby en netbal gespeel het. Nie veel om oor huis toe te skryf nie. Nou is dit gans en al ‘n ander storie met eiendom wat net al hoe meer gesog raak. Veral die historiese Bokkomlaan met sy rye vishuisies teen die Bergrivier wat nou allerlei eetplekkies huisves, lok baie besoekers. Buiten vir vis en tjips is daar selfs ‘n plekkie soos AVOO Health Café waar jy heerlike heilsame kosse soos bokkombrood en spekboomkoek kan bestel. Ekself kan nie wag om daar te gaan inloer nie.

Ons hou ook daarvan om al langs die see die pad Verlorenvlei en Elandsbaai toe te vat. Soos mens deur Dwarskersbos ry, kry jy Deli on Main wat nou ons gereeld stopplek geword het vir padkos en proviand. By Die Skooltjie-plaasstal kyk ons graag rond vir lekker konfyte en dan is dit hef aan Verlorenvlei toe – Vensterklip toe waar Jane Louw saam met haar span towerkos in die allermooiste historiese plaasskuur opdis.

Digby Langebaanweg, is daar die Fossielpark wat nou spog met ‘n pragtige moderne besoekersentrum en museum en beslis ‘n besoek werd is. Dan is daar iKhwattu-Nature Reserve, waar mens ‘n leef- tot eetervaring eie aan die San–kultuur kan meemaak. Dit bly my gunsteling afdraaiplek, veral nou dat hul ook spog met ‘n pragtige nuwe gebou en uitstallings wat die San-kultuur uitbeeld. Maar dis veral die San-geïnspireerde etes wat die begeesterde jong sjef, Werlise Rautenbach so kreatief en keurig met “foraged” en plaaslike produkte bymekaarsit, wat my weer en weer sal laat teruggaan om net nog meer en meer te ontdek. Ek heg die huidige spyskaart hierby aan, maar hulle is reeds besig om te werk aan ‘n nuwe herfs-spyskaart, laat weet Werlise my. Later gaan ek ‘n gereg of twee deel.

Daar is nog vele meer juwele, so gaan loer gerus verder op Inside Guide.

Gesonder produkte

In my Lekker & Goed-reis op soek na heilsame kos wat gesonder is maar steeds heerlik smaak, was dit veral my missie om gesonder produkte te gebruik wat maklik verkrygbaar is en jou nie ‘n arm en ‘n been gaan kos nie.

In die verlede het dit my ure in die supermarkgange gekos (soms ook tot groot frustrasie van ander kopers) soos wat ek elke produk op die rak se bestanddelelyste en gesondheidsinfo gefynkam het en produkte met mekaar vergelyk het om uiteindelik ‘n keuse te kon maak; dit het veral ‘n missie begin word as die inligting so klein gedruk is dat jy skaars kan uitmaak wat daarop staan.

Wat ‘n verligting dus toe ek reeds so vroeg soos in 2018 die Simple Truth-reeks op Checkers se rakke begin opmerk. Die enorme reeks produkte wat insluit van geriefsvoedsels tot basiese koskas-bestanddele, daar’sselfs skoonmaakmiddels, bevat voor die voet geen preserveer- of kleurmiddels nie, ook nie bygevoegde MSG of kunsmatige versoeters nie. Elke afsonderlike produk het egter ook verskeie vedere heilsame hoedanighede soos dat dit onder andere vegetaries, vegan en glutenvry kan wees, rou of verminderde suiker het of ‘n hoë proteienproduk is sowel as ekovriendelike opsies.

Simple Truth se prominemte groen kol maak dat jy dit maklik op die winkelrak sal raaksien en elke produk se unieke voordele word duidelik op die voorkant van die produk aangedui. Vir my is dít amper die grootste voordeel, want nou is my winkelbesoek en koop-ervaring soveel makliker en vinniger sonder uitgerekte wik en weeg met die gepaardgaande frustrasies.

Nog beter eintlik is as jy aanlyn na die Simple Truth-produkte gaan soek – daar kan jy mooitjies die etiket met ‘n vergrootglas fynkam om al die nodige inligting te bekom. Buiten vir die amper voor-die-handliggende geen preserveer-, kleur- en geurmiddels, het die Simple Truth-reeks hom tot veel meer as net dit verbind.

Hier is wat gereeld in my winkelmandjie land (en ‘n paar ander waarop ek my oog nog het):

Heel aan die begin het ek eerste die grondboontjiebotter wat geen bygevoegde suiker of sout het nie, maar slegs uit geroosterde grondbone bestaan aangeskaf – ek hou veral van die growwe een. Daarby die vrugte-konfyt wat tot 33% minder suiker bevat en die rou heuning wat nie verhit of gefilter is nie. Op daardie stadium het ek nog verwoed brood probeer uitsny so die saadbeskuitjies het menige dag ook in my mandjie geland. Deesdae is daar ook bruinrys-beskuitjies en verskeie rys-en antieke graan-tjippies wat nie in olie gebraai is nie, maar“air popped” is en sodoende 70% minder vet bevat en ook geskik vir vegansen ook glutenvry is. Heerlik vir op jou kaasbord (as jy vegan is, moenie kommer nie, daar is selfs alternatiewe vegan klapperlolie-kase soos ‘n roomkaas, feta tot bloukaas).

Vir ‘n blitsvinnige ontbyt wat alle boksies tiek, gebruik ek graag die “high protein wholegrain cereal” wat verminderde suiker in het en ook glutenvry is. Ek hou veral van die sjokoladegeur. Selwers het ek nog nie die muesli’s probeer nie, maar hawermout-sorghum-en-sade-muesli met pynappel, piesang en klapper of aarbei-en-beet klink altevol lekker vir my. En dan is daar nog die glutenvrye klapper-en-vlassaadpap wat glutenvry met geen bygevoegde suiker.

Maar dis die koskasbestanddele wat nou gereeld deel van my inkopielys is: soos die klapperolie wat natuurlik, en sonder transvette is en ook’n neutrale smaak het. Die span ek in om in te braai maar veral ook om mee te bak – ek vervang botter of margarien daarmee soos bv in tertkorse hou dit nou die krummel bymekaar, want dit stol ook as dit afkoel. Die klapper-kossproei werk net so goed om panne mee te puit.

Die glutenvrye spaghetti, gemaak met mielieblom/meel het ek al probeer en was aangenaam verras van hoe dit sy vorm behou en nie binne ‘n ommesientjie papkook nie. Die macaroni, gemaak spelt, het ek nog nie probeer nie.

Dan is daar die appelasyn, wat natuurlike gefermenteer is uit fyngedrukte appels en in houtvate verouder het. Dis 100 persent natuurlik en ongefilter,nog met sy “moeder”. Ek kook graag daarmee en hou van die sagte suur smaak. So ‘n spatseltjie oor gebraaide sampioene is heerlik.

Ek staan en kyk vandag weer na al die alternatiewe melksoorte: rys, amandel, soja en hawermout. Geeneen is versoet nie en meeste is geskik vir vegans. En as jy hulle met soortgelykes op die rak vergelyk is hul soort vir soort altyd goedkoper. As jy koeimelk wil uitsny is almal goeie opsies. Ek gebruik graag die hawermoutmelk as ek oornag-hawermout maak (die resep is ook in my Lekker & Goed-boek).

Ek het nog altyd die uitgangspunt gehad dat wanneer ek resepte ontwikkel, gewone mense die produkte sonder te veel sukkel in ‘n supermark moet kan kry – en dan het ek altyd Checkers se rakke dopgehou. So was dit ook die geval toe ek na koringmeel-alternatiewe begin soek het – en sowaar dit was nie lank nie of jy kon onder die Simple Truth-reeks van klappermeel, quinoa, amandelmeel tot ‘n verskeidenheid sade vind. Toe kon ek na hartelus begin eksperimenteer, want ek weet mense hoef nie te ver te soek nie, en meestal was die prys heel gangbaar.

Buiten vir ‘n magdom ander produkte is daar’s nou klaargemaakte kosse wat die stoei uit kosmaak haal. Dis volgende op my probeerlysie.

Valentynsvreugde

In my jare as kosredakteur was die spesiale temas wat daar deur die jaar op gefokus was nogals vir my ‘n uitdaging. Een wat my veral soms laat kop krap het was Valentynsdag, want sien, hierdie storie moes alreeds afgehandel en klaar in die sakkie wees voordat ons vir die jaarlikse Kersvakansie gebreek het. Nou wie op dees aarde dink daardie tyd al aan Valentynsdag as al die winkels propvol Kersfees is. Mens se idees met sjokolade raak op ‘n stadium ook maar min.

Selwers het ons graag op Valentynsdag Stellenbosch toe gery, die strate ingevaar en by verskeie straatkafees aangesit vir ietsie lekkers, maar veral om die studente dop te hou – baie verlief en verlore met net oë vir hul beminde. Dan het ons al die bekende plekkies omgery waar ons as studente graag gekuier het. Die soete herinneringe was meer as genoeg vir my.

Hier op Langebaan laat ander dinge ons tiek – die lang soel someraande lewer die mooiste sonsondergange op en die wind het darem nou so ietwat tot bedaring gekom. Dan is daar niks lekkerder om ‘n stappie op die strand te vat of selfs ‘n vinnige draai met die boot op die meer te maak terwyl die seevoëls nes toe keer vir die nag nie. Ons leef baie meer aards, ons kos meer natuurlik, niks fancy of oordadig nie.

Ek blaai deur die resepte wat ek die afgelope tyd geplaas het en dis die waatlemoenresepte wat my oog vang. Die sagte natuurlike pienkrooi gee net die regte gevoel vir Valentynsdag, dis vars en verfrissend en ideaal vir ‘n hittige Valentynsdag hier teen die Weskus. Ek sien ook nog baie waatlemoene in die winkels. Mens kan die aardse feesmaal by jou huis voorsit of ‘n piekniekmandjie pak en na ‘n mooi plekkie verkas waar die natuur die nodige ambiance en romantiek sal skep.

My keuse val koue waatlemoensop, heerlik vars met komkommer, basilie en ment; perfek gebraaide pienk reënboogforel met ‘n bros velletjie en vir ietsie soets pavlova met waatlemoenhartjies. Salige lekkerte!

KOUE WAATLEMOENSOP

Werklik ‘n heerlike verfrissende sop waaraan ek daglank kan teug.

Maak sowat 750 ml
Bereiding: 15 min

Halwe waatlemoen, geskil, ontpit en in stukke gesny (sowat 750 ml/3 k)
Halwe komkommer, saadjies uitgeskep en in stukke gesny
1 geel soetrissie, in stukke gesny
60 ml (1/4 k) basilieblare
2 takkies ment
30 ml (2 e) heuning
60 ml (1/4 k) geroomde maaskaas
30 ml (2 e) wit balsamieke of appelasyn
Sout en varsgemaalde swartpeper
feta-kaas vir bo-op sprinkel
basilieblaartjies vir afronding

1 Plaas die waatlemoen, komkommer, soetrissie en kruie in die voedselverwerker en verwerk tot fyn.
2 Voeg die heuning, maaskaas en asyn by en verwerk tot glad. Geur met sout en peper.
3 GIet in glasies en sprinkel die feta-kaas bo-op. Rond af met basilieblaartjies.

PANGEBRAAIDE REËNBOOG-FOREL MET WAATLEMOENSALSA

Waatlemoenstukkies saam met appel en dille is onverbeterlik saam met vis. Hier wys ek jou hoe om forel perfek gaar te maak met ‘n lekker bros velletjie.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 10 min

SALSA
2 skywe waatlemoen, geskil en in klein blokkies gesny
Handvol dilletakkies, fyn gekap
1 appel, in blokkies dun stokkies gesny
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
5 ml (1 t) heelkorrelmosterd
15 ml (1 e) olyfolie
SMEERSOUS
125 g botter
Sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) fyn appelkooskonfyt
10 ml (2 e) sojasous
1 knoffelhuisie, fyngedruk
Sout en peper
VIS
Sowat 500 g reënboogforelporsies (4)
60 ml (1/4 k) olie

1 SALSA Meng al die bestanddele saam en hou eenkant gereed.
2 SOUS Smelt die botter in ‘n klein kastrolletjie en voeg die suurlemoensap en -skil by asook die konfyt, sojasous en knoffel. Geur na smaak met sout en peper.
3 VIS Geur die visporsies met sout en peper.
4 Verhit die olie in ‘n kleefvrye pan tot warm. Plaas die porsies, velkant na onder, in die pan en braai 4-5 minute of tot die kante van die vis net pienk begin verkleur en die vel bros is (dis belangrik dat die pan kleefvry is anders sit die vel aan die pan vas). Verf die vleiskant met die smeersous, draai die vis vinnig om met ‘n spaan en braai vinnig vir so ‘n minuut of wat tot die vleiskant net effe verkleur en net liggaar is.
5 Plaas op ‘n dienbord, verf nog van die sous oor en skep van die salsa bo-op.

PAVLOVA MET WAATLEMOEN EN GEMMER

Gemmer en waatlemoen is ‘n heerlike kombinasie en sorg vir ‘n perfekte bolaag vir pavlova. Vir die mooi het ek die waatlemoen in hartjies uitgedruk.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 40 min
Gaarmaak: sowat 3 uur

PAVLOVA
6 eierwitte
400 g strooisuiker
10 ml (2 t) appelasyn
15 ml (1 e) mielieblom
5 ml (1 t) vanieljegeursel
125 ml (1/2 k) amandelvlokkies of gekapte amandels of gemengde neute (opioneel)
VULSEL
250 ml (1 c) dubbelroom-jogurt
Sowat 60 ml (1/4 k) gepreserveerde gemmerstukke se stroop
BOLAAG
3 skywe waatlemoen, in stukke gesny of in sterre of hartjies gedruk
125 ml (1/2 k) gepreserveerde gemmerstukke
Ment of basilieblare vir afronding

Voorverhit die oond tot 150°C. Plaas bakpapier op ‘n groot bakplaat, spuit en stuif met mielieblom.
1 Klits die eierwitte in ‘n groot bak tot skuimerig met ‘n elektriese klitster, voeg die strooisuiker lepelsgewys by en klits tot die mengsel styf en glansend is. Vou die asyn in en sif die mielieblom oor. Vou die vanielje en neute liggies in.
2 Skep die meringue op die bakplaat en vorm ‘n rowwe sirkel met ‘n effense holte in die middel. Plaas in die oond en draai die oond af na 120°C. Bak 1 1/4 uur, skakel die oond af en laat afkoel in die oond vir sowat 2 ure. (moenie die deur oopmaak nie).
3 VIR VOORSIT: Trek die papier versigtig af van die onderkant van die meringue en plaas op ‘n dienbord of koekstaander.
4 Meng die jogurt met die gemmerstroop en skep in die holte.
5 Stapel die waatlemoenstukke bo-op en sprinkel die gemmerstukke oor. Rond af met ment- of basilieblare.

Kweek jou eie groente

Met dié dat plantkosse en groente een van die groot kostendense vir 2023 is, het ek dit goedgedink om weer ‘n groentetuintjie by my Weskushuis aan die gang te kry. Laas toe ek my hand aan ‘n groentetuin gewaag het, het ek sommer die oop stuk grond langs die swembad by ons Kaapse huis ingespan. Gedagtig aan die Weskuswind wat maar tierend om die hoeke kan waai, gaan ek eerder nou ‘n paar potte en plantbokse aanskaf daarvoor. Die ou nerfaf houtwerkbank wat op my buite-kuierstoep staan en tans as bêreplek vir my wye versameling kookboeke dien, gaan net reg wees waar die potte, bakke en bokse ‘n staanplekkie moet kry – knus in die binnehof, verskans teen die wind en ergste son. Dan is dit ook makliker om gereeld ‘n ogie oor hulle te gooi sommer so vanuit die kombuis.

Jare gelede, ook in Februarie, doen ek saam met my tuiniervriend, Cobus Smit, wat ook my Weskustuin vir my uitgelê het, ‘n artikel in Huisgenoot oor hoe om jou eie groente te kweek. Daardie blaaie bewaar ek tot vandag nog soos ‘n kleinnood, nie net vir die lekker groente-resepte nie, maar ook oor die handige wenke en praktiese aanwysings wat Cobus gewys het hoe om die tuintjie te maak, maak nie saak of dit tussen jou blomme staan, in potte of in ‘n goed afgebakende groentetuin aangelêword nie. En hy wys jou ook hoe om natuurlike bemesting te maak, wisselbou toe te pas en jou eie brousels aan te maak om peste mee te bestry. Ek deel dit graag met julle.

Kweek self jou groente:

Bladsy 1
Bladsy 2
Bladsy 3

Eet uit jou tuin:

Bladsy 1
Bladsy 2
Bladsy 3
Bladsy 4

2023 se top kostendense

Volgens my is die beste Suid-Afrikaanse aanlyn-kostydskrif wat daar tans is Crush. Hier kry ek nie net heerlike inspirasie vir resepte nie, maar ook wonderlike addisionele inligting wat alles met kos en nuwe bestanddele te make het. ‘n Paar weke gelede het hulle die top kostendense vir 2023 gedeel en ek kyk graag bietjie dieper daarin.

  • CBD in kos
  • Inheemse Afrika en antieke grane
  • Dadels
  • Nie-alkoholiese drankies
  • Sampioene
  • Blikkies vis “kaasborde”
  • Flexitaries en groente

CBD IN KOS

Die wettige CBD-mark groei by die dag en innoverende vervaardigers vermeng al hoe meer klein hoeveelhede by kos en drankies soos wat die stigma daaraan verbonde besig is om te versag. Carmién Tea het ook nie op hul louere gerus nie en vandat hul Calm-rooibostee (rooibos gemeng met ‘n fraksie CBD met subtiele geure van grenadilla en suurlemoenbalsem) die winkelrakke getref het, was dit ‘n wenner.

Omdat dinge by my maar meestal op ‘n galop gaan, is daar vir my niks beter om so bietjie tot verhaal te kom as om terug te sit en te ontspan met ‘n koppie Carmién-rooibostee nie (ek het dadelik die Calm-rooibostee aangeskaf). Ek het toe ook sommer ‘n stappie verder gegaan en beskuit daarmee gebak. Heerlik neuterig en gesond met baie vesel, lekker min suiker en vet. Net so maklik om te maak – dit kry nie eers eiers of melk in nie, so vegans kan dit ook geniet. Ek het al die resep geplaas, maar dis so lekker ek gee dit sommer weer.

Deluxe nutty wholewheat rusks

These delicious rusks are loaded with nuts and seeds and made with rooibos tea containing CBD (THC free). The rooibos tea adds subtle notes of lemon balm and passionflower to the rusks. The rusks contain no egg or milk, making them suitable for vegetarians and vegans as well.

Makes 60—80 rusks
Preparation time 20 in
Baking time: 50—60 min
Drying time: overnight

375 ml (1½ c) white bread flour
10 ml (2 t) baking powder
5 ml (1 t) bicarbonate of soda
5 ml (1 t) salt
500 ml (2 c) wholewheat flour
250 ml (1 c) oats
160 ml (⅔ c) sugar
125 ml (½ c) sunflower seeds
125 ml (½ c) pumpkin seeds
250 ml (1 c) cranberries
250 ml (1 c) mixed nuts, chopped
250 g coconut oil, melted
375 ml (1½ c) lukewarm Carmién Calm rooibos tea with CBD, passionflower & lemon balm, made with 6 bags
15 ml (1 T) unfiltered apple vinegar

Preheat the oven to 180°C. Spray an oven-roasting pan with spray & cook.
1 Sift the flour, baking powder, and bicarbonate of soda and salt together in a large bowl. Add the rest of the dry ingredients and mix well.
2 Mix together the coconut oil, rooibos tea and vinegar.
3 Add to the dry ingredients and mix well. Turn the dough into the prepared tin and spread evenly.
4 Bake for 50—60 minutes or until a testing skewer comes out clean from the centre of the rusks.
5 Turn out onto a wire rack and leave to cool. Cut into neat fingers and arrange in a single layer onto a baking tray.
6 Dry out in the oven at 90°C until completely dry. Store in an airtight container.
7 Serve with a cup of Carmién’s Calm rooibos tea.

Gaan kyk ook in my boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, uitgegee deur Lapa by Penguin Random House South Africa vir nog ‘n heerlike gesondheidsbeskuit asook ‘n low carb-een gemaak met klapper.

INHEEMSE AFRIKA- EN ANTIEKE GRANE

Antieke grane word net al hoe meer gewild, veral inheemse Afrika-grane soos fonio, teff, bambara-grondbone en sorghum. Ek het via die befaamde kosfoendi, Renata Coetzee, met sorghum kennis gemaak en het jare gelede reeds ‘n heerlike brood daarmee gebak. Deesdae span ek dit gereeld in veral om koeskoes mee te vervang. Koswinkels soos Food Lovers Market, Spar en Checkers hou deesdae ‘n groot verskeidenheid anderste grane aan. Local Village Foods hou veral Afrika-grane aan.

Verder gebruik ek rooibostee om die graan in gaar te maak – as ek met baie speserye gaan werk, is Carmién se Focus met sy heerlike speserygeure net die ding, andersins as jy meer van ‘kruiegeur’ verlang, gebruik ek graag die Rescue van Carmién wat ook bietjie boegoe in het. So ook is die Revive, ‘n groen rooibostee met gemmer en bietjie brandrissie in, net so geskik en gee ‘n lekker, maar nie oordadige skop. Trek ‘n sterk treksel tee en gebruik dit pleks van groenteaftreksel.

ROOIBOS-SORGHUM

Genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 15 min

1 sakkie (500 g) botterskorsie- of pampoenblokkies
1 sakkie (500 g) patatblokkies
1 klein blomkool, in blommetjies gebreek
2 uie, gekap
1 rooi soetrissie, ontkern en in blokkies gesny
60 ml (¼ k) olyfolie
sowat 15 g Carmen Niehaus Masala Chai-sout of andersins geroosterde masala en komyn vir oorsprinkel
1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer
2,5 ml (1/2 t) elk sout, paprika en komyn
250 g sorghum, gaargekook in sowat 1 liter chai-rooibostee, gemaak met 8 sakkies Carmién Focus
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
200 g rugspekvleis, in stukke gesny
Sowat 180 ml (¾ k) Carmen Niehaus fynbosslaaisous of lemoenslaaisous of mosterd-vinaigrette
20 g koljanderblare vir bo-oor sprinkel

Voorverhit die oond tot 190°C.
1 Meng die groente met die olyfolie en vryf goed met jou hande deur. Geur met die Masala Chai-sout of andersins geroosterde masala en komyn en meng weer lekker deur met jou hande. Skep in ‘n enkellaag in ‘n oondpan en oondbraai sowat 30 minute of tot gaar en effe bros. Skep uit.
2 Pak die kekerertjies in ‘n enkellaag in die Airfryer, sprinkel die sout, paprika en komyn oor. Airfry tot bros, sowat 5 minute.
3 Kook die sorghum in die rooibostee tot sag en gaar, sowat 40 minute en dreineer goed.
4 Voeg die groente en kekerertjies by.
5 Braai die spekvleis tot net gaar, kap fyner indien nodig en roer by die sorghum in. Giet die slaaisous oor en laat afkoel.
6 Skep op in ‘n platterige opdienskottel en sprinkel die koljanderblare oor.

Wenk: Verleen verdere Marrokaanse smake aan die gereg deur dadels, bosbessies, Turkse appelkose en rosyne by die koeskoes in te meng. Dan kan jy die groente effe minder maak. Roerbraai sonneblomsade in ‘n droë pan, sprinkel bietjie sojasous oor en braai tot droog. Sprinkel oor die gereg. Andersins kan jy gekapte pekanneute oorsprinkel en inroer.

SLAAISOUSE

LEMOENMOSTERD-SLAAISOUS
250 ml (1 k) lemoensap
Sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene
60 ml (4 e) olyfolie
4 knoffelhuisies, fyngedruk
30 ml (2 e) korrelmosterd
10 ml (2 t) Dijonmosterd
30 ml (2 e) heuning
Sout en peper na smaak

MOSTERD-VINAIGRETTE
6 knoffelhuisies, fyngedruk
100 ml olyfolie
200 ml vars uitgedrukte suurlemoensap of houtverouderde balsamieke asyn
30-40 ml klaarbereide mosterd
Sowat 45—60 ml (3—4 e) heuning of bruinsuiker
sout en peper na smaak
bevat en anti-inflammatories is
Vir beide slaaisouse, meng net al die bestanddele goed saam.

DADELS

Dadels word gesien as die natuur se lekkergoed en buiten vir hul verskeie gesondheidsvoordele soos dat dit baie vesel asook vitamien A en B6 bevat en anti-inflammatories is, word dit veral ingespan as alternatief vir verfynde suiker. In my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid is daar verskeie resepte waar dadels ruimskoots ingespan word – van muffins en koek tot die allerlekkerste dadelballetjies.

NIE-ALKOHOLIESE DRANKIES

Met die alkolholverbod wat tydens die inperking in die land gegeld het, het baie mense begin eksperimenteer met nie-alkoholiese drankies (buiten pynappelbier). Sommige mense het daarna heeltemal ophou alkohol verbruik terwyl andere heelwat minder drink. Nie-alkoholiese drankies word ook al hoe meer gewild, veral agv die groeiende wêreldwye gesondheids bewusteheid wat veral gedryf word deur Gen Z’ers (gebore middel 1990 tot vroeg in 21e eeu). Tee, veral rooibostee is die ideale produk om nie-alolholvrye drankies mee te maak. Veral Carmién Tea se Cold Brews en piramied tees is geskik vir hierdie doel. As ek haastig is, voeg ek net sommer vinnig ‘n sakkie by sodawater, tonikum of lemonade. Gaan kyk op die Carmién webtuiste vir heerlike idees.

KRAG VAN SAMPIOENE

Sampioene word beskou as die nuwe blomkool –met hul heerlike umami-geur en vleiserige tekstuur word hulle veral ruimskoots ingespan as hoofbestanddeel in alternatiewe plantkosse vir vleis. Buiten die bekende wit, bruin en portobello sampioene word meer gesofistikeerde soorte soos oester, chanterelle en porcini ingespan om vleisdisse na te boots terwyl shiitake, shimeji en enoki veral ingespan word in die bereiding van Oosterse geregte.

BLIKKIES VIS VIR “KAASBORDE”

Deesdae pak mense al hoe meer blikkies vis soos sardyne, sardientjies, tuna en mossels net so in die blik op borde uit sodat mense direk daaruit kan peusel saam met ‘n broodjie of beskuitjie. ‘n Bekostigbare alternatief vir kaas en charcuterie. Ekself skaf deesdae nogals gereeld vir my ‘n blikkie of meer van Lucky Star se plat blikkies sardyne aan – en nadat ons die blikkie geledig het, herwin ek dit sommer om dan weer volgende keer ‘n tipe mosselsmeer daarin voor te sit. Daardie retro-blikkies is darem altevol mooi vir my.

FLEXITARIES EN GROENTE

Meatless Mondays het nou oorgespoel na al hoe meer mense wat flexitariese diete volg en plantkosse die hoofdis van die tafel maak. Veral noudat vleispryse die hoogte inskiet, raak plantkosse al hoe meer gewild. Ekself beskou myself ook as ‘n flexitariër wat vir lank sal smul aan heerlike plantkosse, maar ook van tyd tot tyd ‘n vleisie sal geniet soos die geleentheid hom voordoen. Daarom het dit ook een van my missies geword om plantkosse so geurig as moontlik voor te sit. En dis nou net hier waar my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, inkom. Daarin vind jy verskeie plantgebaseerde en groente-resepte wat wissel van pampoentert en patatgnocchi, groentelasagne en ‘n hamburger met groentepatties tot gebakte blomkool met ‘n groente-vinaigrette en spinasiemuffins asook verskeie groentesoppe en plantkosse soos lensie-bobotie, falafelbakkies, dahl en gebakte patats met ‘n geurige nierboontjievulsel. En ek het doodseker gemaak dat elkeen van hul drup van geur en lekkerte. Soos byvoorbeeld die lensie-bobotiebrood – my man wat ‘n vurige vleiseter is, het tydens die fotosessie bykans die hele brood verorber so lekker was dit vir hom. Ekself sal my telkens ooreet aan die dahl om nie te praat van die velerlei lekker slaaie of groentegeregte nie.

Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid is beskikbaar by meeste vooraanstaande boekwinkels, Checkers en ook aanlyn op die Carmién-webtuiste (‘n groot bonus hier is dat dit kosteloos versend word).

En nou is ek in die proses om weer vir my ‘n ordentlike groentetuintjie aan te lê. Volgende keer wys ek julle hoe om te maak om ‘n klein tuintjie aan te lêen ‘n paar heerlike groentegeregte te maak.

Rooibos, die nuwe goudstandaard vir gesonde kinderdrankies

Die Star Saturday berig laas week dat KRUIETEES 2023 se groot gonswoord gaan wees as gesonder alternatiewe drankie, spesifiek vir kinders. Ook dat dit selfs vrugtesappies kan uitkikker as die nuwe goudstandaard vir gesonde kinderdrankies. Vir my is dit nie nuus nie, want ekself het my eie kinders van jongs af op rooibos grootgemaak.

Soos wat ouers al hoe meer bewus raak van die groot hoeveelhede suiker wat hul kinders daagliks inneem, ingeslote vrugtesappies wat ook ‘n hoë natuurlike suikerinhoud het, begin hulle al hoe meer kruietees verkies. Dis veral gegewe die gesondheidswaarde en wye verskeidenheid geure wat deesdae beskikbaar is wat selfs die kieskeurigste fynproewertjies tevrede gaan stel. Dié het ek Saterdag met my eie oë aanskou by ‘n kinderpartytjie waar ek vir ‘n klompie spitsvondige sesjariges leer kolwyntjies maak het. In hul geskenkpakkie het elkeen ook sy eie waterbottel gekry met ‘n verskeidenheid sakkies uit Carmién se cold brew-reeks. Elkeen kon kies watter geur hulle in hul waterbottel kon sit en dis verder aangevul met yskoue water, net dit, geen ekstra suiker of sap nie. Een dogtertjie het selfs haar eie mengsel gemaak met meer as een geur – en ek moes self proe of haar mengsel my goedkeuring wegdra. Tussen die koekies bak deur het hulle heerlik geteug aan die lafende ystee. Nie een het een keer gevra vir koeldrank nie!

Kinders hou van lekkergoed en soetgoed, maar verkies dit deesdae beslis minder soet – die kolwyntjie-resep wat ek hulle laat maak het, het die helfte minder suiker in as die oorspronklike resep en hulle het dit verslind, hulle kon selfs nie eens hul vingers uit die beslag hou voor dit oond toe is nie. Soos wat nog een tereg opgemerk het, “Die versiersel is net te soet, ek hou van my kolwyntjie net so kaal sonder versiersel.” Interressant ook hoe hulle met hul keuse van mooimaakgoedjies meer na die natuurlike geneig het bo die gewoontelike lekkerverskeidenheid – mooi blommetjies sommer uit die tuin gepluk, vars bloubessies en aarbeie, net die appeliefies was darem vir hulle net te suur!

“Kruie-tisanes, waarvan rooibos deel is, diens ‘n groot behoefte van gesondheidsbewuste ouers wat deesdae soek na lae suiker, antioksidantryke drankies vir hul kinders. Buiten dat die tisanes min kilojoules bevat, is dit ook kaffeienvry.” sê Nicie Vorster, ‘n direkteur van die SA Rooibosraad (SARC).

Voorheen was 100%-vrugtesappe die goudstandaard vir gesonde kinderdrankies, maar soos wat ouers meer bewus geword het van die hoë natuurlike suikerinhoud, het hulle begin om dit met water te verdun, maar dan het dit weer die nutrientwaarde verlaag. Vervaardigers het ook sulke alternatiewe begin verskaf, maar dit het nie juis aftrek gekry nie.

“Vir kinders wat meer gewoond is aan ‘n soeter geurprofiel, sal gewone kruietee straks nie so aantreklik wees nie, dan is dit ‘n goeie idee om die kruietee met ‘n bietjie vrugtesap te versoet. Dis steeds ‘n beter alternatief as 100-persent vrugtesap of water-en-vrugtemengsels. Só sny dit van die suiker uit, maar behou steeds al die antioksidante. Tieners wat daarvan hou om te eksprerimenteer, kan tisanes as basis gebruik en dit met natuurlike versoeters, vrugte, kruie en speserye geur gee om daarmee hul dors te les.”

Daar’s niks verkeerd met ‘n soet koeldrankie af en toe nie, maar dit moet nie die norm wees nie, verduidelik Nicie, veral gegewe Suid-Afrika se hoë oorgewigsyfers onder kinders en volwassenes. Buiten oorgewig, kan gereelde verbruik van gaskoeldranke en sportdrankies die risiko van diabetes 2, hoë bloeddruk en tandbederf by kinders verhoog. Kinders moet dus begelei word om meer gebalanseerde koskeuses te maak vir beter oorhoofse gesondheid. Deur daagliks rooibos te drink, gee jy jou immunniteit ‘n hupstoot, verminder die risiko van hartsiektes en cholesterol en dit kan help om inflammasie te bekamp, bloedglukose te beheer asook om angs en depressie te verlig, allergieë teen te werk en te help met vertering.

Kinders hou van rooibos net so op sy eie, veral omdat dit natuurlik soet is. Daar is ook reeds ‘n wye verskeidenheid kindvriendelike produkte op winkelrakke beskikbaar met interressante geurkombinasies.

Carmién Tea is mos bekend daarvoor dat hul aan die voorpunt van innovasie staan en hulle bly voortdurend besig met opwindende projekte, ook wat hul kiddies-reeks betref. So ja, hou dop, die kiddies gaan binnekort lekker bederf word!

Intussen is daar niks mee verkeerd om ‘n paar van hul opwindende cold brews aan te skaf en jou kind se drinkgoed daarmee uit te sorteer nie. Al wat jy hoef te doen is om ‘n sakkie of twee in hul waterbottel te sit en dit te vul met koue water. Pak ook sommer ‘n paar ekstras in hul kossak waarmee hul later hul eie drankie kan maak.

Besoek Carmién Tea vir ‘n wye verskeidenheid rooibosprodukte, insluitende die cold brews en tees in die Kiddies-reeks. Daar is ook oulike resepte, ook vir ystee.