In my jare as kosredakteur was die spesiale temas wat daar deur die jaar op gefokus was nogals vir my ‘n uitdaging. Een wat my veral soms laat kop krap het was Valentynsdag, want sien, hierdie storie moes alreeds afgehandel en klaar in die sakkie wees voordat ons vir die jaarlikse Kersvakansie gebreek het. Nou wie op dees aarde dink daardie tyd al aan Valentynsdag as al die winkels propvol Kersfees is. Mens se idees met sjokolade raak op ‘n stadium ook maar min.
Selwers het ons graag op Valentynsdag Stellenbosch toe gery, die strate ingevaar en by verskeie straatkafees aangesit vir ietsie lekkers, maar veral om die studente dop te hou – baie verlief en verlore met net oë vir hul beminde. Dan het ons al die bekende plekkies omgery waar ons as studente graag gekuier het. Die soete herinneringe was meer as genoeg vir my.
Hier op Langebaan laat ander dinge ons tiek – die lang soel someraande lewer die mooiste sonsondergange op en die wind het darem nou so ietwat tot bedaring gekom. Dan is daar niks lekkerder om ‘n stappie op die strand te vat of selfs ‘n vinnige draai met die boot op die meer te maak terwyl die seevoëls nes toe keer vir die nag nie. Ons leef baie meer aards, ons kos meer natuurlik, niks fancy of oordadig nie.
Ek blaai deur die resepte wat ek die afgelope tyd geplaas het en dis die waatlemoenresepte wat my oog vang. Die sagte natuurlike pienkrooi gee net die regte gevoel vir Valentynsdag, dis vars en verfrissend en ideaal vir ‘n hittige Valentynsdag hier teen die Weskus. Ek sien ook nog baie waatlemoene in die winkels. Mens kan die aardse feesmaal by jou huis voorsit of ‘n piekniekmandjie pak en na ‘n mooi plekkie verkas waar die natuur die nodige ambiance en romantiek sal skep.
My keuse val koue waatlemoensop, heerlik vars met komkommer, basilie en ment; perfek gebraaide pienk reënboogforel met ‘n bros velletjie en vir ietsie soets pavlova met waatlemoenhartjies. Salige lekkerte!
KOUE WAATLEMOENSOP
Werklik ‘n heerlike verfrissende sop waaraan ek daglank kan teug.
Maak sowat 750 ml
Bereiding: 15 min
Halwe waatlemoen, geskil, ontpit en in stukke gesny (sowat 750 ml/3 k)
Halwe komkommer, saadjies uitgeskep en in stukke gesny
1 geel soetrissie, in stukke gesny
60 ml (1/4 k) basilieblare
2 takkies ment
30 ml (2 e) heuning
60 ml (1/4 k) geroomde maaskaas
30 ml (2 e) wit balsamieke of appelasyn
Sout en varsgemaalde swartpeper
feta-kaas vir bo-op sprinkel
basilieblaartjies vir afronding
1 Plaas die waatlemoen, komkommer, soetrissie en kruie in die voedselverwerker en verwerk tot fyn.
2 Voeg die heuning, maaskaas en asyn by en verwerk tot glad. Geur met sout en peper.
3 GIet in glasies en sprinkel die feta-kaas bo-op. Rond af met basilieblaartjies.
PANGEBRAAIDE REËNBOOG-FOREL MET WAATLEMOENSALSA
Waatlemoenstukkies saam met appel en dille is onverbeterlik saam met vis. Hier wys ek jou hoe om forel perfek gaar te maak met ‘n lekker bros velletjie.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 10 min
SALSA
2 skywe waatlemoen, geskil en in klein blokkies gesny
Handvol dilletakkies, fyn gekap
1 appel, in blokkies dun stokkies gesny
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
5 ml (1 t) heelkorrelmosterd
15 ml (1 e) olyfolie
SMEERSOUS
125 g botter
Sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) fyn appelkooskonfyt
10 ml (2 e) sojasous
1 knoffelhuisie, fyngedruk
Sout en peper
VIS
Sowat 500 g reënboogforelporsies (4)
60 ml (1/4 k) olie
1 SALSA Meng al die bestanddele saam en hou eenkant gereed.
2 SOUS Smelt die botter in ‘n klein kastrolletjie en voeg die suurlemoensap en -skil by asook die konfyt, sojasous en knoffel. Geur na smaak met sout en peper.
3 VIS Geur die visporsies met sout en peper.
4 Verhit die olie in ‘n kleefvrye pan tot warm. Plaas die porsies, velkant na onder, in die pan en braai 4-5 minute of tot die kante van die vis net pienk begin verkleur en die vel bros is (dis belangrik dat die pan kleefvry is anders sit die vel aan die pan vas). Verf die vleiskant met die smeersous, draai die vis vinnig om met ‘n spaan en braai vinnig vir so ‘n minuut of wat tot die vleiskant net effe verkleur en net liggaar is.
5 Plaas op ‘n dienbord, verf nog van die sous oor en skep van die salsa bo-op.
PAVLOVA MET WAATLEMOEN EN GEMMER
Gemmer en waatlemoen is ‘n heerlike kombinasie en sorg vir ‘n perfekte bolaag vir pavlova. Vir die mooi het ek die waatlemoen in hartjies uitgedruk.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 40 min
Gaarmaak: sowat 3 uur
PAVLOVA
6 eierwitte
400 g strooisuiker
10 ml (2 t) appelasyn
15 ml (1 e) mielieblom
5 ml (1 t) vanieljegeursel
125 ml (1/2 k) amandelvlokkies of gekapte amandels of gemengde neute (opioneel)
VULSEL
250 ml (1 c) dubbelroom-jogurt
Sowat 60 ml (1/4 k) gepreserveerde gemmerstukke se stroop
BOLAAG
3 skywe waatlemoen, in stukke gesny of in sterre of hartjies gedruk
125 ml (1/2 k) gepreserveerde gemmerstukke
Ment of basilieblare vir afronding
Voorverhit die oond tot 150°C. Plaas bakpapier op ‘n groot bakplaat, spuit en stuif met mielieblom.
1 Klits die eierwitte in ‘n groot bak tot skuimerig met ‘n elektriese klitster, voeg die strooisuiker lepelsgewys by en klits tot die mengsel styf en glansend is. Vou die asyn in en sif die mielieblom oor. Vou die vanielje en neute liggies in.
2 Skep die meringue op die bakplaat en vorm ‘n rowwe sirkel met ‘n effense holte in die middel. Plaas in die oond en draai die oond af na 120°C. Bak 1 1/4 uur, skakel die oond af en laat afkoel in die oond vir sowat 2 ure. (moenie die deur oopmaak nie).
3 VIR VOORSIT: Trek die papier versigtig af van die onderkant van die meringue en plaas op ‘n dienbord of koekstaander.
4 Meng die jogurt met die gemmerstroop en skep in die holte.
5 Stapel die waatlemoenstukke bo-op en sprinkel die gemmerstukke oor. Rond af met ment- of basilieblare.