Elektrisiteit-loosheid hoef ons nie hande in die hare te laat nie. Dan bedink ons alternatiewe maniere om kos te maak. Ek is daarvan oortuig meeste mense het nou al vir hulle gas in een of ander aard aangeskaf om op te kook. ‘n Gasstoof, al het dit steeds ‘n elektriese oond, is die mees gemaklikste, maar andersins sal ‘n gasbottel met ‘n plaat of skottelskaar daarop vasgeskroef net so goed werk. Skottelkos kan jy net so maklik oor die vuur gaarmaak.
Hierdie hoender met sy ryk Noord-Afrikageure is ideaal om só in ‘n skottel gaar te maak. Ekself gebruik graag die groot LeCreuset-panne met die “glasdeksel” hiervoor. Maar as ons die pad vat boendoes toe, pak ons altyd die gasbraaier met al sy bybehore in, dan werk dit net so goed in die skottelskaar. En natuurlik, niks kom by die samesyn van ‘n vuur wat gesellig knetter waarop mens hierdie skottel net so gemaklik kan gaarkry terwyl jy rustig aan ‘n wyntjie teug nie. By die huis, doen ‘n pot rys hierby sy ding, maar ‘n platbrood (sien hierdie post) is net so lekker daarby om die lekker sousies mee op te vee. Dié bak jy sommer in ‘n goed ingebakte swart pan oor gas of oor die vuur. Klein roosterkoekies is net so geskik.
Noord-Afrika Skottelhoender
Die skottelhoender kry tipiese Afrikageure van kaneel, komyn, kardemon en gemengde speserye in. Om nog meer geurigheid op ‘n subtiele manier in te werk maak ek ook ‘n aftreksel met Carmién se Focus rooibostee met chaigeure en prut die hoender daarin tot sag.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding; 20 min
Gaarmaak: 40 min
12 hoenderporsies (dytjies en boudjies)
Sout na smaak
olie
5 ml (1 t) heel komynsaad
2 uie, in ringe gesny
3 knoffelhuisies, fyngerasper
5 cm gemmerwortel, gerasper
15 ml (1 e) fyn kaneel
5 ml (1 t) gemengde speserye
5 ml (1 t) fyn kardamom
500 ml (2 k) Carmién Focus rooibostee (gemaak met 6 sakkies)
1 blik (400 g) klappermelk
1 suurlemoen se sap en gerasperde skil
Halwe kop broccoli,in blommetjies gebreek (opioneel)
Geroosterde amandelvlokkies
40 g koljanderblare
VOORSIT
rys of platbrood
1 Geur die hoender met sout na smaak.
2 Verhit bietjie olie in ‘n groot pan of skottelskaar en verhit tot effe warm. Voeg die komynsaad by en meng deur.
3 Voeg die hoender by en braai tot effe bruin buite-om. Skep die hoender uit.
4 Voeg die uie, knoffel en gemmer by die olie in die pan en braai tot sag.
5 Roer die fyn speserye by.
6 Giet die rooibostee en klappermelk in en bring tot kookpunt.
7 Voeg die hoender by, verlaag die hitte, plaas die deksel op indien verkies en laat prut tot die hoender sag en gaar is.
8 Geur met suurlemoensap.
9 Voeg die broccoli by indien gebruik en prut tot net sag, maar nog bros.
10 Sprinkel die amandelvlokkies en kolanderblare oor en sit voor saam met rys of platbrood.