Stroopsoet

Ek het nog nooit veel soetgoed in my huis gehad nie, want dit lei almal net onnodig in die versoeking. Dis juis oor die bygevoegde suiker in kos waaroor die groot suikerbohaai deesdae mos gaan aangesien dit so verslawend en tot vele leefstylsiektes kan lei. Maar by tye hou mens tog van ‘n lekker bederf. Dis toe dat ek dit my missie begin maak het om soetgoed gesonder te maak sodat mens darem so dan en wan ‘n klein happie of twee kan geniet sonder om te veel skuldig te voel. Ek het werklik wyd en baie geeksperimenteer – baie pogings is direk drom toe, maar net so baie het die toets deurstaan. Dink aan gesonder weergawes vir sjokoladekoek en melktert of suurlemoenmeringue en ook aan “growwer” groentekoeke soos wortelkoek en pampoenkoek. Groente soos patat en vrugte soos appel en dadels span ek veral in om soetigheid te verleen, maar jy word ook geseën met ekstra vesel. Dit verskaf ook ‘n lekker sagte krummel aan die gebak, so mens kan terselfdertyd ook aan die vetinhoud sny.

Ek was nog nooit een wat graag met room gekook of gebak het nie, daarom vervang ek room graag met natuurlike jogurt en gebruik baie maaskaas vir versiering, wat dit nie net gesonder as gewone versiersels maak nie, maar terselfdertyd “tone” dit die soetigheid ook bietjie af en maak ek selfs ganache met jogurt wat ek oor sjokoladekoek smeer. Vir vet gebruik ek meestal olie, of andersins klapperolie en partykeer botter, maar nooit meer margarien nie! Omdat ek deesdae meestal “bymekaargooi” koeke bak en nooit meer begin met so iets soos “room die botter en suiker” nie, gebruik ek ook eerder witbroodmeel as koekmeel – net daardie bietjie minder geprosesseer.

Ek sny nooit die suiker heeltemal uit nie, maar maak dit genoegsaam minder sonder om smaak in te boet. So byvoorbeeld kon ek die sjokoladekoek se suikerinhoud van 3 koppies tot 1 koppie verminder kry deur patat by te voeg. Hierdie blink plan het ek een nag in die middernagtelike ure bedink toe ek so aan my nuwe boek, Lekker & Goed geskawe het.

Versoeters soos erythritol werk net so goed in gebak en is heelwat meer bekostigbaar as xylitol, so mens kan dit enige tyd inspan pleks van die suiker. Vir porsiebeheer bak ek koek baie keer in klein klein patty panpannetjies – so ‘n klein happie is net genoeg om daardie soettand te bevredig, want mettertyd, dit kan ek jou belowe, soos wat mens leer om minder soet te eet, raak die lus daarna ook minder.

KLAM ROOIBOS SJOKOLADEKOEK

Die oorspronklike resep van hierdie koek, wat letterlik binne minute aanmekaar geslaan kan word en nie enige eiers inkry nie, was die koek wat ek altyd vir my kinders se verjaarsdae gebak en saamgestuur het skool toe. Dan het ek dit sommer in ‘n oondpan gebak en in blokkies gesny of soms klein mini-koekies daarvan gemaak. Karamelkondensmelk, met klompe natuurlike jogurt deurgemeng was al versiersel. Hulle het gesmul. Maar sjoe, daar het baie suiker ingekom – ‘n volle 3 koppies. Om die suiker te verminder, sonder om smaak in te boet het ek op die ou einde gaar patat met 1 koppie suiker gaargemaak en dit deurgemeng en pleks van die water in die oorspronklike resep gebruik ek rooibostee wat nie net ‘n heerlike smaak verleen nie maar ook ekstra goedheid verleen. As versiersel kan jy ‘n ganache maak met jogurt of meng sommer kakao en versiersuiker met bietjie rooibostee en drup oor die koek. Al wat dan nog nodig is, is blommetjies uit die tuin en ‘n lekker koppie tee om daarby te geniet.

Maak 1 laagkoek
Bereiding 20 min
Baktyd: sowat 30 min

500 ml (2 k) koekmeel
250 ml (1 k) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
2,5 ml (1/2 t) sout
500 ml (2 k) warm rooibostee met sjokolade en koffiebone in (gemaak met 6 Carmién Red Mocha-sakkies)
100 ml canola-olie (nie olyfolie)
30 ml (2 T) appelasyn
500 g (2 groot) oranje patats, geskil
250–325 ml (1—1⅓k) bruinsuiker
JOGURT-GANACHE
200 g donker sjokolade, suikervry indien verkies, in blokkies gebreek
Sowat 60—80 ml (¼-⅓k) natuurlike jogurt
JOGURT-GANACHE
200 g donker sjokolade, suikervry indien verkies, in blokkies gebreek
Sowat 60—80 ml (1/4—1/3 k) ongegeurde jogurt
VERSIERSEL
250 ml (1 k) versiersuiker
125 ml (1/2 k) kakao
Rooibostee soos nodig
Blommetjies uit die tuin vir bo-op

Voorverhit oond tot 180°C. Spuit ‘n silicon-Bundtpan of andersins 2 koekpanne, 20 cm in deursnee met kossproei.
Kry twee mengbakke gereed.
1 KOEKBESLAG Sif die koekmeel, kakao, koeksoda en sout saam in ‘n groot mengbak.
2 Druk die teesakkies goed uit, maak seker dat daar 500 ml (2 k) tee is. Meng die tee, olie en asyn, in ‘n groot bak en roer goed tot alles goed gemeng is.
3 Kook die patats in bietjie water tot sag, voeg die suiker by net wanneer die patats begin gaar word. Roer goed tot ‘n gladde puree wanneer sag.
4 Roer by die vloeistofmengsel in. Voeg die vloeistofmengsel by die meelmengsel en meng goed deur.
5 Skep in die Bundtpan of twee koekpanne en bak sowat 22—30 minute of of tot net gaar maar nog baie effens klam in die middel as jy ‘n toetspen indruk.
6 Keer uit en laat heeltemal afkoel
6 GANACHE Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond, roer gereeld en roer die jogurt vinnig by om ‘n smeerbare mengsel te maak.
7 Drup oor die koek of smeer oor die een koeklaag en plaas die ander een bo-op. Skep res van ganache oor en viersier met blommetjies of stapel vars bessies en vye bo-op.
8 Maak andersins die volgende VERSIERSEL Meng die versiersuiker en kakao met ‘n bietjie tee tot stywe pasta (pasop vir te veel tee, dit raak gou loperig) en drup oor die Bundtkoek of smeer oor die koeklae. Plaas opmekaar en versier met blommetjies of vrugte.

Wenk: met hierdie mengsel gaan jy sowat 54 mini-kolwyntjies gebak kry – bak dit dan vir sowat 18—20 minute. Hierdie resep is te kry in my nuwe boek, Lekker & Goed wat by meeste boekwinkels asook Checkers en binnekort ook op die Carmién-webtuiste beskikbaar sal wees. Die boek word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Kuier in Saldanha

Ek raak net al hoe meer ingeburger hier op die Weskus en leer net meer en meer lekker mense ken. Hoe spesiaal was dit nie om te kon saamkuier met die vroue van die NG Kerk Saldanha by ‘n heerlike vroueoggend nie. Esther van Houwelingen en haar span het omtrent uitgehaal en gewys – en hulle het gekook uit my nuwe boek: Lekker & Goed. Die vroue kon peusel aan die appel-dadelmuffins en daarby saam van Carmién se geurige Cold Brew-tees geniet. Die mengelslaai met piekelgemmer het Esther opgezhuzh met die variasie wat ek voorgestel het en ‘n heerlike romerige kerriehoender daarby gevoeg en dit as hoofgereg voorgesit. Die vroue het omtrent gesmul. Tussendeur kon ek vertel van hoe om gesonder en heilsamer te kook sonder om lekkerte in te boet, soos wat ek dit ook in my boek verduidelik.

Die groot verrassing van die oggend vir my was egter toe ek die ander gasspreker, Elmarie van den Berg ontmoet… net om vas te stel ons ken mekaar eintlik al lank. Sy is ‘n blommevrou van formaat en kan letterlik toor met blomme. Deesdae bly sy ook teen die Weskus daar op Jacobsbaai waarvandaan sy haar nuwe blommebesigheid, Soutbos, bedryf. Hoe inspirend was haar praatjie nie van hoe sy gewys het om van ‘n monochrome natuurlike beige en grys palet met klein byvoegings soomloos te kan oorspoel na swart, dan groen en dan uitspattige kleure nie – alles met dit wat jy sommerso in die verbygaan optel of afknip. Net daar span sy toe sommer ook van my doeke in – Plaasvars met sy eierontwerp pas pragtig by die natuurlike palet; Erfgoed met die veelvoud messegoed op ‘n donker agtergrond maak mooi saam met ‘n swart blokkiesdoek en ‘n foto van haar dogtertjie in ‘n swart raam; Paddastoel met sy spatsels groen bring groenigheid saam met bosse kruie terwyl Sitrusdal met sy uitspattige oranje en geel mooi maak saam met suurlemoene en spinasie. ‘n Melkbeker hier, ‘n paar glaspotte of glaskoepels daar, is al wat jy eintlik addisioneel nodig het. Die lappe is beskikbaar op die Swier-webtuiste en sal binnekort ook saam met die Lekker & Goed-boek op Carmién se webtuiste beskikbaar wees. Die boek is uiteraard ook vanaf 12 November beskikbaar in alle toonaangewende boekwinkels asook Checkers.

Toe almal klaar geluister het, was dit tyd vir ietsie soet en my ou-ou staatmaker rooibos-sjokoladekoek, wat ek na vele probeerslae sover kon kry om die suiker van drie tot ‘n halfkoppie suiker verminder te kry met patat wat help om soetigheid en klammigheid te verskaf laat almal heerlik smul sonder om vir ‘n oomblik skuldig te voel. Daarby ‘n heerlike koppie Carmién-rooibostee – die vroue kon self kies of hulle Citrus Chai, Turkish Delight of Creamy Mint daarby wou geniet.

As julle wil hê ek moet ook vir julle kom kuier, laat weet my gerus. Dit sal vir my lekker wees om by julle ‘n draai te kom gooi. Kyk uit vir Vrydag om die sjokoladekoek se resep te kry.

Lekker & Goed – dis (amper) hier!

Uiteindelik is die lang wag verby en kan ek die eerste kopie van my nuutste boek, Lekker & Goed styf teen my vasdruk. Versigtig nou, want die blaaie is handgebind en die voorblad nog nie eers gelamineer nie. Uiters spesiaal vir my! Julle sal straks dink dat ek nou na al die jare en vele boeke al gewoond moes raak hieraan. Maar geensins is dit die geval nie. Telkens is dit vir my ‘n traanafvee oomblik om te aanskou waaraan ek nou bykans ‘n jaar lank onverpoos en bitterlik hard gewerk het. Lang ure voor my rekenaar tot diep in die nag, skryf en herskryf, resepte insit en uithaal, toets en weer toets, net om seker te maak dit wat ek nou beet het, is reg. En toe die fotografie, die uitpak van die mooie handgemaakte keramiekware van Mervyn Gers saam met my bestaande props wat ek oor jare versamel het, die lappe uit my Carmen Niehaus Hausware Kollection en blommetjies uit my tuin. Sorgvuldig kies ek die geregte wat sal pas by elk. My geoefende assistent van Huisgenoot se jare, Waleed Alexander is agter die stoof en my jarelange fotograaf, David Briers agter die kamera. Hoe gelukkig kan mens wees. ‘n Telefoonoproep ver, die bekwame bladuitlegkunstenaar, Helen Henn, wat moet leiding gee of ‘n foto pas op die blad aldan nie. Ons skuif hier, ons skuif daar, beurtkrag blus nie eers ons gees en spoed nie.

Lekker & Goed is my tong-in-die-kies-naam wat ek gekies het vir ‘n resepteboek gelaai met lekker resepte wat ook gesonder is, want meeste mense lief mos lekkergoed en soetgoed, so waarom dan nie ook lief wees vir geregte wat lekker en goed is vir jou nie. In geen opsig is dit ‘n dieetboek propvol moets en moenies nie. Dis die een resepteboek wat ek nog altyd graag wou uitgee en waarvoor ek al jare lank resepte bymekaarmaak, ontwikkel en uittoets. Nog altyd was dit my grootste uitdaging om deursnee Suid-Afrikaners touwys te maak oor hoe lekker dit kan wees om gesonder te kook. Want menige dag, selfs in my dae as kosredakteur, is daar neusoptrek gekyk as ek aan ‘n storie gewerk het oor gesonder resepte. Dit was egter van korte duur net totdat hulle die kos geproe het. Vir eens en vir altyd wil ek die juk wat gesonder kos nou al vir so lank dra as sou dit geurloos en nie lekker wees nie of selfs duur wees, afgooi en verkeerd bewys.

Die resepte in hierdie boek is ‘n konglomerasie van nostalgiese resepte waarmee ek opgegroei het en waarna ek terughunker, nou net gesonder gemaak; ander meer moderne maniere van kook met inspirasie verkry uit letterlik die honderde resepteboeke wat my hele huis vol staan, veral die vars Mediterreense kookstyl en malse Midde-Oosterse geure geval my en is ek veral ‘n groot aanhanger van die befaamde restaurateur en kookboekskrywer, Yotam Ottolengi. Aan baie resepte het ek oor jare getimmer tot ek gevoel het, die verhoudings is nou reg – gelukkig het ek ‘n wetenskap-agtergrond so dit het baie gehelp in die ontwikkeling, aanpassing en uittoets van die resepte. Baie probeerslae het in die drom beland, ander het die toets deurstaan. My huismense moes maar geduldig proefkonyn speel. Omdat ‘n mens so graag jou geliefdes met soetgoed bederf, het ek veral gepoog om dit gesonder te maak met minder suiker en vet sodat mense nie ingedoen voel nie.

In my ontdekkingsreis na gesonder kook het ek die wonderwêreld van Suid-Afrika se eiesoortige produk, rooibostee, ontdek. Dis veral Carmién Tea met hul unieke rooi en groen rooibosmengsels gekombineer met natuurlike geurgoed, speserye, kruie, blomme, vrugte en ander botanicals wat my beïndruk het. Dit het in ‘n groot mate my speserykas in ‘n teesakkie geword, want dit kan op soveel maniere ingespan word om goedheid en spesiale geure aan kos te verleen wat jy nie andersins sou kon verkry nie. Met Carmién Tea se rooibostees kon ek toe ook my eiesoortige slaaisouse ontwikkel wat nie net heerlik gegeur is nie, maar ook veel minder olie en suiker as gewone slaaisouse bevat – unieke produkte soos woudbessies (forest berries), boegoe en bergamot maak nou deel uit van hierdie slaaisouse. Daarmee saam ‘n spesiale reeks soute, soos braaisout, masala chai en fynbos, gemaak met die Weskus se eie sout en groen rooibostee saam met ander unieke speserymengsels. Dit span ek deesdae ruimskoots in wanneer ek kosmaak.

Ek was nog nooit een wat spesifieke kosgiere slaafs nagevolg het nie, maar al die verskillende eetpatrone het my oor die jare interresseer en lees ek graag meer daaroor op. En hoe meer ek gelees het, hoe meer het dit my verwar, want nog nooit het ek soveel weerspreking teëgekom in die koswêreld soos nou nie. Daarom het ek dit goedgedink om ‘n dieetkundige te raadpleeg om alle voedinginligting wat ek hier neergepen het met ‘n arendsoog deur te gaan om toe te sien dat alles korrek is. Hier is dus ook heelwat resepte vir van lae koolhidraat tot glutenvrye en vegetariese geregte. Ekself neig na ‘n flexitariër, want vir dae lank kan ek lewe op geurige vegetariese geregte en veral groentegeregte, maar geniet ook ‘n vleisie op sy tyd.

Ek hoop jy put hope inspirasie en baie genot daaruit om uit dié boek te kook, so kry nou jou kopie.

Die boek is beskikbaar by alle goeie boekwinkels onder andere Bargain Books, Exclusive Books, Wordsworth Books, PNA, Graffiti Books & Stationery, The Book Keeper Shop, Takealot en Loot asook direk op LAPA se webtuiste. Hou ook die Carmién-webtuiste dop vir dié boek saam met ander verrassings wat jy kan aankoop.

Voorafbestellings is beskikbaar by Bargain Books, Exclusive Books, Wordsworth Books, PNA en Graffiti Books & Stationery.

Sondag-feesmaal

In my grootwordhuis was daar elke Sondag braaiboud op tafel. Heerlik sag potgebraai. Die skenkelvleisies was my gunsteling. Daarby altyd gebraaide aartappels, vars uit die grond. Mettertyd het Sondagetes egter ‘n kuier om die braaivleisvuur geword. Nou die dag ontdek ek weer ‘n boudjie onder in die vrieskas en besluit dis weer tyd vir ‘n ordentlike Sondagete met lamsboud roast. My Smeg-oond is lekker groot so daar is ook plek vir braai-aartappels en ‘n bak met oondgroente. Ek kook ook weer rys, heerlike basmati, en maak ‘n lekker vars tamatieslaai met die oes uit die tuin. Toe kon ons aansit vir ‘n ware Sondag-feesmaal soos van ouds, tog met ‘n paar kinkels by.

Die boud stop ek met ‘n paar repies knoffel, maar dan gee ek hom goed geur met my Fynbos-sout, gemaak met Weskussout waarby groen rooibos en bietjie boegoe gevoeg is. ‘n Paar uie kom onder in die roaster en bo-op lê ek die boud neer. Toe maak ek groenrooibostee waarby bietjie mint (Carmién se Creamy Mint) gevoeg is aan en die sorg nie net vir klammigheid in die pot nie maar ook ‘n heerlike subtiele kruie en mentsmakie. Deksel op en so laat ek toe die boud stadig gaarword in die oond – die beste deel van 3—4 ure lank tot murgsag en die vleis van die bene afval. Later van tyd pak ek die jong aartappeltjies in ‘n ander emajebak, maal ruimskoots van my braaisout oor en beprinkel met olyfolie. In die groentebak kom daar skywe botterskorsie, sommer net so met skil en al, patat, wat ook net goed geskrop is en rooi uie. Nou is dit die kruiepesto se beurt om die nodige wondere te verrig en en meng ‘n goeie paar skeppe deur. So ‘n uur of wat voor die boud uit die oond moet kom, sit ek die lotjie ook by en daar bak hulle saam tot ‘n heerlike feesmaal. Hierby saam geniet ek graag ‘n glasie wyn uit die Piekenierskloof-familiekelder. Hul grenache-wyne is veral gesog. Gaan kyk op hul webtuiste om jou te vergewis van hul wye reeks pryswennerswyne.

Ek dek tafel en maak vir elkeen ‘n servet uit my Carmen Niehaus Hausware reeks staan op sy bord. My man kry vir Erfgoed, die een met sy ma se stel messegoed op; my dogter Ouma Susie, met die helder geel almanaklappie uit haar huis en aliminiumpot waaruit die brooddeeg so oordadig peul terwyl Rooi Turksvy met die vurige sterk rooi en purperkleure my keuse vir my seun se eetplek is. Ek sit tussen drie vure oor waarmee ek my eetplek mooi gaan maak – daar is Nostalgie met die kleinood ou resepteboeke en ou silwer; of moet dit eerder Nagmaal met die koperbak en ou silwer nagmaalbeker wees. Uiteindelik val my keuse op Koester, in eenvoud met sy brood en koringare. En ek dink terug aan Santie se preek van die oggend waar saameet, hoe eenvoudig dit ook mag wees, gaan oor samesyn met God, jou geliefdes en jy ook ander innooi om saam brood te breek, om te gee en mekaar te koester. Die lappe asook tafeldoeke en -lopers, voorskote, glaskapplanke en kussings is beskikbaar op die Swier-webtuiste.

Sondag-braaiboud

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 3—4 ure

1 lamsboud, steeds op die been
Sowat 8 knoffelhuisies, in dun repies gesny
Carmen Niehaus Fynbossout
swartpeper
3—4 uie, in stukke gesny
375 ml (11/2 k) kookwater
4 sakkies Carmién Creamy Mint

Voorverhit die oond tot 160°C.
1 Vee die boud af met ‘n klam lappie en maak gaatjies oraloor in die boud met ‘n skerp messie. Steek knoffel in die gaatjies. Gee mildadig geur met die fynbossout en swartpeper.
2 Pak die ui in die roasterbak en plaas die boud bo-op.
3 Giet die kookwater oor die tee en laat trek so 3 minute. Giet die tee dan al om die boud in die bak en sit die deksel op.
4 Plaas in die oond en bak 3—4 ure of tot die vleis lekker sag en van die bene afval. (Sit die aartappels en groente sowat ‘n uur voor die boud gaar is in die oond) Maak die bak oop en oondbraai tot die vetkant mooi bruin is.
5 Plaas die boud in ‘n dienbord (Mervyn Gers se handgemaakte keramiekbak is vir my wondermooi om te gebruik) en pak die groente rondom. Sit voor saam met ‘n var tamatieslaai en rys.

Trek ‘n vissie uit

Stadig maar seker word die weer warmer aan die Weskus en op die Langebaanmeer maak die bote weer hul verskyning. Ons hengel meestal op die Langebaanmeer en was al aangenaam verras met ‘n almintige vis of twee wat ons al uitgetrek het. Maar stompneus, die mees algemene vis in die meer, is ook meer dan goed. Die vars vissies gooi ons meestal op die kole en die res se velle trek ons af met ‘n tang, sny dit in mote of filette en vries dit dan. Ideaal vir panbraai of oond toe gaan.

As ek dit panbraai, sny ek ‘n goeie klompie uie en knoffel in die pan saam met olie en botter en braai dit tot lekker sag. Die stukke vis rol ek in gegeurde meel en braai dit dan saam met die gesmoorde uie tot net gaar en die vleis net wit en vlokkig is. Heerlik saam met klein aartappeltjies.

OONDGEBAKTE VIS IN ROMERIGE TAMATIESOUS MET SPEKVLEIS

Stukke vis of selfs ‘n heel vis is heerlik as dit in ‘n romerige tamatiesous gaarbak. Brosgebraaide spekvleis smaak hemels hierby.

Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaak: 15 min

125 g spekvleis, in stukke gesny
125 g kersietamaties
Sout en peper na smaak
30—45 ml elk (2—3 e) botter en olie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 kg vismote of filette (jy kan bevrore vis ook gebruik)
Sap en skil van 1 suurlemoen
Sout en peper na smaak
125 ml (1 k) room
15 g tamatiepasta
3 ml (ruim ½ t) gekapte roosmaryntakkies
Italiaanse pietersielie vir oorsprinkel

Voorverhit die oond tot 180°C.
1 Pak die spekvleis en tamaties op ‘n bakplaat en bak tot die spek bros en die tamaties net-net wil begin oopbars, so 10 minute. Geur die tamaties met sout en peper. Hou eenkant.
2 Verhit die botter en olie in ‘n pan wat ook kan oond toe gaan en braai die knoffel daarin tot sag.
3 Geur die vis goed met sout en peper en sprinkel die suurlemoenskil oor.
4 Plaas in die pan, en braai tot net effe bruin alkant, maar nie gaar. Giet die suurlemoenskil oor.
5 Meng die room en tamatiepasta, voeg die roosmaryn by, geur met sout en peper.
6 Giet oor die vis, voeg die tamaties en spek by en plaas in die oond.
7 Bak sowat 10-15 minute tot die vis maklik kan vlok met ‘n vurk en nie meer glaserig is nie. Sprinkel Italiaanse pietersielie oor.
8 Sit voor saam met varsgebakte brood of aartappeltjies en ‘n vars groen slaai.

Wenk: Vir heel vis, maak die vis goed skoon, skraap die skubbe af en sny ook die vinne af. Behou die kop en stert. Gaan verder te werk soos beskryf.

Variasie: MEDITERREENSE TAMATIEVIS MET FETA

Braai 1 ui en 2 knoffelhuisies in olie tot sag. Voeg ‘n blik gekapte tamaties, 60 ml (1/4 k) tamatiepasta, 125 ml (1/2 k) wit wyn en groot handvol gekapte kruie soos pietersielie, oregano en roosmaryn by en prut tot geurig, so 10 minute. Voeg 30 ml (2 e) kappertjiesaad, 3 ansjovisfilette en 10 swart olywe by. Giet oor die vis, sprinkel ‘n goeie klompie feta-kaas oor en bak tot die vis gaar is.

Hey Pesto

Ek sit gereeld met ‘n goeie klompie kruie in my yskas, veral na ‘n fotosessie of wanneer die kruieplantjies in die tuin so dankbaar begin dra aan hul nuwe vrag. Dis dan wanneer ek wat ook al ek beskikbaar het, omskep in ‘n heerlike pesto. Ek probeer so min of meer by ‘n basiese resep hou, maar laat my maar lei na wat tot my beskikking is. So bv sal ek soms ‘n bietjie gemmer en ‘n brandrissie bysit as ek met heelwat koljander in die pesto sit en ‘n Thaise geurtjie daaraan wil verleen. Saam met basiliekruid hou ek van ‘n skoner palet van net die knoffel en suurlemoen. Pietersielie is neutraal en verskaf lekker lyf wat werk van saam met basilie, roket of koljander. Ek het ook al lankal weggedoen met dennepitte in die pesto – heelwat goedkoper sonneblomsade of pampoenpitte verskaf net so ‘n lekker brosserigheid aan die pesto. Ek bodder ook nie sommer aldag eers met kaas nie en dan sal ek ook rondspeel daarmee. ‘n Goed verouderde Cheddar gaan vir my goed saam met die pietersielie-basis terwyl pecorino weer goed sal werk saam met die basiliekruid.

Die veelsydigheid van hierdie pesto ken nie perke nie – roer dit by pasta in en rasper pecorino-kaas oor of skep dit oor geroosterde groente voor dit oond toe gaan; smeer dit oor vis of vleis voor jy dit braai. Saam met gebraaide eiervrug is dit heerlik. Die tamatieplant neffens my agterdeur se oes hou net nie op nie en net skrikgemaak in bietjie olyfolie is dis heerlik saam met die eiervrug.

Kruiepesto

Maak sowat 750 ml pesto
Bereiding: 10 min

3 pakke (20 g elk) Italiaanse pietersielie en of roket
Groot handvol elk basiel, ment en koljanderblare
3—4 knoffelhuisies, fyngedruk
Sap en gerasperde skil van 3 suurlemoene
Sowat 125 ml (1/2 k) olyfolie
180 ml (3/4 k) geroosterde sonneblomsaad of pampoenpitte
50 g verouderde Cheddarkaas of pecorino-kaas (opsioneel)
5 ml (1 t) Dijonmosterd (opsioneel)

1 Plaas die kruie en knoffel in die bak van ‘n voedselverwerker en kap goed fyn.
2 Voeg die suurlemoensap en -skil asook die olyfolie stadig deur die tuit by en verwerk tot ‘n loperige pasta.
3 Voeg die sade, kaas en mosterd (indien gebruik) by en verwerk tot nog effens grof.
4 Skep in ‘n skoon houer en hou in die yskas.

Eiervrug-en-tamatie met kruiepesto

Ek is gek na eiervrug veral omdat jy dit so lekker geur kan gee met wat jy bysit. Pesto is ideaal om daardie geure te verskaf.

4—5 eiervrugte, in skywe gesny
Sout
Olyfolie
Kruiepesto na smaak
150 g baba-tamaties
Olyfolie
Spatsel balsamieke asyn
Sprinkel suiker
Feta-kaas vir oorsprinkel

Voorverhit die oond tot 190 °C.
1 Sout die eiervrug en laat staan so 10 minute. Spoel af en druk droog.
2 Pak in ‘n oondbak en druppel olyfolie oor. Bak sowat 20 minute of tot net gaar, maar nie droog nie.
3 Roerbraai intussen die tamaties in ‘n bietjie verhitte olyfolie in ‘n pan tot die tamatietjies net begin oopbars, drup bietjie balsamieke asyn oor en sprinkel suiker oor. Braai sowat 1 minuut lank.
4 Rangskik die eiervrugskywe op ‘n dienbord en skep ruimskoots van die pesto oor terwyl nog warm. Skep die tamaties bo-op en sprinkel feta-kaas oor. Sit warm of koud voor.

Super Smoothie

Jy koop my enige dag om met ‘n lekker smoothie, veral as ons haastig inval by ‘n eetplekkie tydens een of ander inkopietog of ‘n wegneemglasie so in die verbygaan gryp. Maar nou dat dit weer regtig somer se kant toe staan, is dit gereeld weer op ons ontbyttafel. Dan snuffel ek in die yskas rond en maak smoothies gelaai met lekkerte maar ook goedheid.

Met die warmer weer kon ek ook nou weer die ou blou Nerfaf-tafeltjie tot in die quad uitskuif waar ons teen die wind kan skuil en onder die sambreel kuier. Dan gooi ek een van my oorgoot teedoeke vanuit my Carmen Niehaus Hausware Kollection oor, sit heerlik agteroor en verlustig ons aan die lekkerte in ons glas. In my nuwe boek, Lekker&Goed, uitgegee deur Penguin Random Struik, wat teen die einde van die maand verskyn, is daar ook ‘n heerlike verskeidenheid smoothies saam met allerhande ander smulkos. So hou jou oë oop daarvoor. Gaan loer ook op Swier se webtuiste waar om die teedoeke wat baie veeldoelig is en waarmee mens die mooiste tafels kan dek, asook tafeldoeke, lopers, kussings, voorskote en kapplanke in my reeks beskikbaar is.

Alles-in-een-smoothie

Die smoothie staan sommer pa vir baie goed – help as jy bietjie wil detoks, ‘n skoot of wat kollageen wil inkry of as teenmiddel teen verkoue. Hier teen die Weskus (en dit klink my die hele land oor) sukkel een en almal tans met een of ander amborstigheid. Daarom het ek hierdie smoothie ‘n lekker hupstoot gegee met ‘n lepel of twee Carmién-rooibospoeier waarby Echinacea & Baobab saam met kollageen ingemeng is. Die Echinacea saam met die sitrus en gemmer help veral verkoues hokslaan en die sitrus help ook met die absorpsie van yster vanuit die spinasie.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min

1 pynappel, in stukke gesny (en bevries indien daar tyd was)
1 piesang, in skyfies gesny (en bevries indien daar tyd is)
100 g gekleurde jong spinasieblare of baba-spinasieblare
Kwart komkommer, in stukkies gesny
1 lemoen, diep afgeskil en in skyfies gesny
1 suurlemoen se sap en gerasperde skil
5 cm stuk gemmer, in klein stukkies gesny
Handvol mentblare
5—10 ml (1—2 t) Carmién-rooibospoeier met Enchinacea & Baobab
Sowat 125 ml (1/2 k) natuurlike volroom-jogurt
5—15 ml (1—3 t) heuning
Knippie seesout

1 Plaas die vrugte, groente, gemmer en kruie in ‘n voedselverwerker en kap goed fyn.
2 Sprinkel die rooibospoeier oor en voeg die jogurt, heuning en seesout by.
3 Verwerk tot goed gemeng.
4 Giet in ‘n glas en rond af met ‘n takkie ment, suurlemoenblare of spekboom.

Smul heerlik sonder skuldig voel

Lus vir sjokolade, kaaskoek of Turkish Delight, maar jou kop wil jou nie toelaat om jou te verlustig aan hierdie lekkerkry nie? Wel dis nie meer nodig nie. ‘n Tydjie gelede stuur Lancewood vir my al die pad Langebaan toe ‘n pragtig verpakte geskenkpak met hul nuutste jogurts in: hul Double Cream Indulgent Yoghurt – en watse heerlike treat was dit nou nie – daar’s Lemon Cheesecake, Chocolate with choc chips en my gunsteling, Turkish Delight. ‘n Regte mmmm moment sonder ‘n oomlik se skuldig voel, want daardie jogurts bied jou eintlik die beste van twee wêrelde – heeeerlike verleiding saam met pure gesondheid, die ideale heilsame alternatief vir roomys, sjokolade of koek. Dit bevat maar 5,4% vet (al is die jogurt dubbelroom) teenoor die 36% vet van room en slegs 9% koolhidrate waarvan 7% suiker is. Natuurlik het ons ons daar en dan daaraan verlustig soveelso dat daar nie eers oor was wat ek in een of ander resep kon gebruik nie, maar nou dat ek bietjie meer tyd gehad om my kop aan die dink te kry, besef ek dis net die regte jogurts om sonder moeite en skuldigvoel ‘n lekker yskas-kaaskoek of selfs Peppermint Crisp tert mee maak en dit pas perfek by my nuwe motto van lekker & goed (ook my nuwe boek se naam), waar ek lekker kos met ‘n heilsamer aanslag voorop stel!

SMUL AAN YSKASTERT

Met Lancewood se verleidelike dubbelroom-jogurts, Lemon Cheesecake, Turkish Delight en Chocolate with chocolate chips is dit doodmaklik om vinnige ‘n smullekker yskasttert op te tower. Wat meer is, jy het regtig net 4 bestanddele nodig, want meeste lekkerte is reeds vervat in die jogurt.

TWEEKLEUR-YSKASTERT

Hierdie is ‘n aanpassing op ‘n tipe Bannoffee-tert, net sonder die karamelkondensmelk. Maar ek mis dit glad nie. Die tert is eerder geurig en romerig as wat dit soet is. Om seker te maak jy kan ‘n netjiese snytjies sny, moet jy die tert verkieslik oornag of te minste 6 ure in die yskas hou. Hierdie maak ‘n klein tert, as jy een wil maak soos op die foto, verdubbel die bestanddele.

Maak ‘n klein tert
Bereiding: 20 min
Verkoeltyd: 6—12 uur

KORS
1 pakkie (200 g) veselryke, suikervrye, indien verkies, semelkoekies
Ekstra hawermout
Sowat 125 g klapperolie, gesmelt
VULSEL
1 houer (230 g) geroomde maaskaas
250 ml (1 k) Lemon Cheesecake dubbelroom-jogurt
250 ml (1 k) Chocolate with Chocolate Chips dubbelroom-jogurt
2 piesangs

Spuit ‘n klein losboom-tertpan goed met kossproei.
1 Maak die veselkoekies goed fyn in die voedselverwerker, gooi bietjie hawermout ook by om dit bietjie meer te maak.
2 Verdeel die maaskaas in twee in twee bakke.
3 Klits die Lemon Cheesecake jogurt by een deel maaskaas en die Chocolate-jogurt by die ander.
4 Smeer die sjoolade op die boom an die tertkors.
5 Sny die piesangs in skyfies en pak bo-op.
6 Smeer die Lemon Cheesecake jogurt bo-oor.
7 Verkoel minstens 6 uur of oornag tot lekker stewig om te sny.

Skoffel in die tuin

Op Sondag 9 Oktober is dit Tuindag – tyd om jou blommekroon op te sit en die dag in jou tuin te geniet, hetsy met ‘n stukkie koek saam met tee of lekker mengeldrankie.

Teen die Weskus sukkel dit maar om ordentlik tuin te maak – nie net is dit die tierende wind wat jy in ag moet neem nie, maar die grond is ook maar arm, pure sandgrond. Toe ons Weskushuis nog net ‘n wegbreekplekkie was, het ons volstaan met ‘n paar riete wat spontaan die hele erf vol was en oorleef het na die bouery en daarby net ‘n lappie of wat buffelsgras. Maar die verskriklike droogte het destyds goed verwoesting gesaai met letterlik net die rietbosse wat weereens oorleef het. Ons het nog altyd geweet die Weskus so eens op ‘n tyd ons blyplek word, Covid het dit net verhaas en toe ons weer kon rondgaan het ons dadelik permanent hierheen verkas.

My voorwaarde was net – die tuin moet dringend aandag geniet. So ja, nog voor ons nog eers die planne vir aanbou kon bedink het ek al my tuingenoot, Cobus Smit nadergehark om my Weskustuintjie te kom regruk. En so het my Weskustuin tot stand gekom – oor naweke het Cobus kom oorbly en sy towerhand oor die tuin geswaai. Vragte en vragte kompos ingery en toe geplant, al om die riete, en net inheemse Weskusplante – sandolyf (wat later as skild moet dien teen die tierende wind), soutbos, vygies, salie saam met verskeie soorte aalwyne, vetplante en natuurlik spekboom… en die tuintjie gedy en verskaf baie genot, nie net vir ons nie maar ook verbygangers. En dis ook die mooiste agtergronde vir van my kosfoto’s wat fotograaf, Daniela Louw so mooi vasvang.

In die fantastiese tydskrif, Country Cooking, met sy Weskusaanslag, vind ek ‘n resep van die Weskuskos-ikoon, Rina Theron, vir wortelkoek met spekboom in, doodreg vir nog gebruike van die spekboom wat so geil groei in my Weskustuin. My weergawe van ‘n Weskus-wortelkoek soos wat ek dit hier aan die Weskus geniet en toe tot ‘n gesonder weergawe aangepas het, sal julle vind in my nuwe boek, Lekker & Goed, wat einde van Oktober uitkom. So hou dop!

SPEKBOOM-WORTELKOEK

Vir die versiersel meng ek net ‘n klein bietjie versiersuiker by geroomde maaskaas in. Gee meer as genoeg soetigheid. Spesiaal vir tuindag versier ek dit met Weskusblommetjies uit my tuin.

3 groot eiers
250 ml (1 k) sonneblomolie
250 ml (1 k) bruinsuiker
100 ml melk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
5 ml (1 t) bakpoeier
5 ml (1 t) koeksoda
5 ml (1 t) sout
500 ml (2 k) koekmeel of witbroodmeel
30 ml (2 e) kaneel
Handvol elk rosyntjies en neute
500 ml (2 k) fyngekapte spekboom
VERSIERSEL
230 g geroomde maaskaas
30—45 ml (2—3 e) versiersuiker

Voorverhit die oond tot 160°C. Spuit ‘n koekpan met kossproei.
1 Verroom die eiers, olie en suiker tot skuimerig. Voeg die melk en vanieljegeursel by.
2 Sif die droë bestanddele saam en meng die nat bestanddele in.
3 Voeg die rosyntjies, neute en spekboom by en meng deur.
4 Skep in die voorbereide pan en bak tot gaar.
5 Koel af.
6 Meng die maaskaas en versiersuiker saam en smeer rofweg oor die koek. Versier met ‘n takkie spekboom.

WEST COAST GIN & TONIC

The West Coast’s distinctive flora serves as inspiration for unique cocktails made with Carmién’s Floral Berry and Citrus Chai gins. Adding a bag of Carmién’s Pyramid Rooibos Tea Blends or even a Cold Brew one makes for an interesting twist and an unforgettable G&T experience. Ideal for the Festive Season.

FLORAL BERRY G&TEA

For the gin, the popular Floral Berry Rooibos Pyramid Tea Blend has been distilled into a light Floral Berry gin which has a beautifully aromatic, sweet floral nose and a classic initial top note of juniper ending with a lingering berry flavour. The gin is available in a beautiful 500 ml bottle or in a 50 ml Mini Gin Taster Bottle, which is just enough for a generous one shot.

1 tot of Carmién Floral Berry Gin
1 Carmién Turkish Delight Pyramid bag or Cranberry Hibiscus Cold Brew bag
Ice
Pink Indian Tonic water (sugar-free if preferred)
Soda water (if preferred)
Spekboom or geranium sprigs
Variety of West Coast flowers

Pour a tot of gin into a glass and add your preferred tea bag. Infuse for 2 minutes, remove the bag if preferred (I keep the bag in), top with ice and add the tonic water. (For a less sweet taste you can have half tonic water and half soda water). Arrange a spekboom or geranium sprig in the glass and garnish with some West Coast flowers. Serve immediately.

Aardse kleure en eiervrugbrood

Nou die dag sit ek by die haarkapper en blaai ‘n slaggie weer ‘n paar tydskrifte deur. En hoe lekker ontspanne is dit nie, die gevoel van die blaai en omblaai en terugblaai van ‘n tydskrif nie. Nee kyk, ek sal altyd ‘n “papier”-tydskrifmens bly, dit bied my net veel meer genot as om dit aanlyn te bestudeer, want dan voel dit altevol mos na werk. So, tydskrif in die een hand, koppie tee in die ander, is dit al wanneer ek werklik lekker kan ontspan.

So tussen al die mooi en brokkies lees ek weer ‘n paar goed raak, wat ek lankal eintlik weet, maar net lekker is om opnuut weer van kennis te neem. Soos dat terracotta, die kleur van klei en grond, ‘n warm kleur is wat jou geanker en na aan die aarde laat voel. Hulle praat my taal, want hoe nader aan die aarde, hoe meer gemaklik voel ek. Terug by die huis besluit ek om al daardie hordes kleipotte wat ek oor jare van oral versamel het, opnuut met nuwe respek te hanteer. Op die voorstoep staan die tafeltjie wat my man eens op ‘n tyd uit ‘n stoorkamer of iets gered het, vol boormerke en krapmerke… en hy word terstond die uitstalkas vir ‘n paar – die wonki-rondes wat ek naas die pad in Namibië aangeskaf het en die grondpadrit deur die woestyn deurstaan het; die gegrafeerde kruik, ‘n aangee-stuk van my skoonpa saam met ‘n klip en verweerde stok of twee wat ek maar so oral optel; daarby die dankbare spekboom, wat help asem gee en lugskoonmaak en my aan die Oos-Kaap, my ma se grootwordplek herinner.

As dit dan by eetgenot kom, is daar niks beter om dit mee te vier as een of ander groentegereg, reg uit die aarde nie. Ek kies ‘n eiervrugbrood, die resep wat ek aangepas het van die Franse aartappelgebak, Tartiflette, maar net die aartappel hier vervang met eiervrug. Die resep kry spek en gelatien in, maar as jy in styl wil wees om die onlangse wêreldwye vegetariese dag te vier, kan jy dit gewoon net weglaat of andersins vervang met ‘n sprinkel neute of sade.

EIERVRUGBROOD

Jy kan hierdie in ‘n broodpan of andersins ‘n koekpan bak. Heerlike bykos of as vegetariese opsie.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 30 min
Gaarmaak: 45 min

125 ml (½ k) sagte broodkrummels
60 ml (¼ k) fyngerasperde pecorino-kaas
Sowat 3 medium eiervrugte, in die lengte in skywe gesny, skil en al
Sout
olyfolie
2 rooi soetrissies, gehalveer
125 g spekvleis (opsioneel)
1 ui, in ringe gesny
4 knoffelhuisies, fyngedruk
4-6 murgpampoentjies, in lang dun repe gesny of 300 g baba-spinasie
Sowat 300 g mozzarella-kaas, in skywe gesny
Paar takkies tiemie
80 ml (⅓ k) witwyn
Gelatien (opsioneel)
SOUS
250 g baba-tamaties
25 ml (5 t) tamatie-pesto

Voorverhit die oond tot 190°C. Voer ‘n klein broodpannetjie uit met tinfoelie en spuit goed (andersins gebruik ‘n losboom-koekpan).
1 Meng broodkrummels en parmesaankaas en sprinkel helfte daarvan op die boom en teen die kante van die pannetjie.
2 Sprinkel sout oor eiervrugskywe, laat staan 10 minute in ‘n vergiettes, druk droog en pak op ‘n bakplaat. Sprinkel bietjie olie oor. Oondbraai sowat 15 minute tot net gaar maar nie droog nie.
3 Pak soetrissies met velkant na bo op ‘n ander bakplaat, plaas ook die repe spekvleis daarby. Oondbraai tegelykertyd met die eiervrug tot die soetrissies swart blasies bo-op vorm en die spekvleis gaar maar nie bros is nie.
4 Verwyder uit die oond, plaas die soetrissies in ‘n plastieksak om af te koel en trek die velletjies af en verwyder die pitte. Sny in groot stukke.
5 Verhit bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die ui en knoffel daarin tot sag.
6 Pak lae as volg in die broodpannetjie: pak ‘n enkel laag eiervrug onderin die pan, smeer bietjie van die uiemengsel oor en pak ‘n laag kaas bo-op. Pak dan ‘n laag soetrissie en murgpampoentjies of spinasie, gevolg met die spekvleis bo-op. Herhaal die lae. Sprinkel ‘n klein bietjie gelatien oor elke groentelaag. Dit help om dat hulle beter bymekaarhou, maar is heeltemal opsioneel, laat uit as jy ‘n vegetarier is. Pak tiemietakkies op, giet wyn oor en sprinkel die orige broodkrummelmengsel bo-op.
7 Maak liggies toe met tinfoelie en bak sowat 25—30 minute of tot die kaas goed gesmelt is. Rooster vinnig tot effe bruin bo-op.
8 SOUS Roerbraai die baba-tamaties tot hulle net begin oopbars. Roer pesto deur en geur met sout en peper.
8 Laat bietjie afkoel sodat die kaas net effe kan stol en keer dan versigtig op ‘n dienbord uit. Skep die tamatiesous bo-oor en rond af met basilieblare.

Wenk – Jy kan ook eiervrugskywe vir ‘n paar minute net so in die mikrogolf verhit tot dit goed sag is. Druk fyn en werk by ‘n tamatiesmoor in om ‘n lekker dik smoor te verkry. Nou kan jy enige ander groente soos murgpampoentjies, baba-mielies of selfs olywe daarby voeg.

Nog Weskusdinge

Ek het nou genoem van die heerlike brood en plaasbotter wat ons altyd by Die Weskus-padstal net neffens die Vredenburg-afdraai op die R27 koop, maar hier op Langebaan val ek deesdae net so gereeld in by die Langebaan Bakery in Die Tuinsentrum in Oostewalstraat vir die lekkerste suurdeegbrood maar veral vir ‘n heerlike volkoring-hawermout-sadebrood en natuurlik ‘n soetigheidjie of twee. Net buitekant Hopefield op die R45 vind mens die kleine gehuggie, Koperfontein met nie veel meer as ‘n paar silos nie. Desjare was daar ook ‘n meul en dié het nou weer oopgemaak waar Gideons-mele hul klipgemaalde mele maal. Wat ‘n ontdekking vir my. En dan is daar natuurlik die mooie klein eetplekkie, The Copper Kettle, waar ek dan aansit vir ‘n goeie koppie koffie met interresante broodjies en gebak. Die spyskaart klein, maar keurig.

SAADBROOD

Ek’t ‘n swak vir brood, buiten Ma se varsgebakte plaasbrood, is bruinbrood wat wemel van die sade my groot gunsteling. Hierdie een word met gis gemaak, maar hoef nie geknie te word nie. Ek meng sommer die droë bestanddele vooraf saam (en pak dit in ‘n seëlbare sakkies vir wanneer ons op ‘n tentsafari die binneland invaar), dan’s dit net vir water bygooi as jy wil bak. Jy kan ook potbrood hiermee maak.

Lewer: 2 medium brode of 1 potbrood
Voorbereiding: 5 – 10 min
Baktyd: 50-60 min

BAKMENGSEL
1 kg volkoringmeel, verkieslik klipgemaal (of 250 g daarvan hawermout)
250 ml (1 k) semels
80 ml (⅓ k) elk sesam-, lyn-, sonneblom- en pampoensade
10 ml (2 t) sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
VIR BAK
4—5 x 250 ml (4-5 k) louwarm water
30 ml (2 e) olie
Ekstra sade vir bo-oor sprinkel

1 BAKMENGSEL Meng al die droë bestanddele baie goed saam en skep in ‘n lugdigte houer of sakkie. Hou in die koskas.
2 Giet die bakmengsel in ‘n mengbak. Meng die water en olie en roer by die bakmengsel in. Die beslag is slap.
3 Voorverhit die oond tot 190° C. Smeer 2 medium broodpanne of ‘n groot swartpot en sy deksel. Skep die beslag in, sprinkel ekstra sade oor en laat rys tot dubbel die volume op ‘n warm plek.
4 Bak vir 50-60 minute tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom of tot dit hol klink as jy daarop klop. Keer uit op ‘n bakplaat, plaas terug in die afgeskakelde oond vir nog 15 minute. Dit help dat die binnekant van die brood te klam is.

Pure Weskus

Ek het mos op die rand van die Weskus grootgeword – bo-op die Olifantsrivierberge waarvandaan jy op ‘n mooi dag die son oor die see by Elandsbaai kan sien blink. Maar nou bly ek midde-in die Weskus hier op Langebaan en die ontdekking van Weskusjuwele hou net nie op nie. Daarom toe ek die nuutste uitgawe van Country Cooking op die rak sien opgedra aan die Weskus moes ek dit net dadelik aanskaf. En die deurblaai het nie teleurgestel nie. So baie bekende mense en plekke wat nou al ons gereelde aandoenplekke hier teen die Weskus geword het.

Die mooie Kraaibaai, waarheen ons menige dag verkas as die wind jou uit Langebaan waai waar Esther Malan, my voormalige kollega in Huisgenoot se toetskombuis, se familie nou knus teen die koraalblou waters woon – die heerlike spread wat hulle opdis, pure Weskus met van harders tot varknek met patats en mosterdsous en ‘n aarbei-trifle, elkeen met daai lekker kinkel wat net Esther daaraan kan gee. Vensterklip net buitekant Elandsbaai met sy eeuoue geboue wat Jane Louw so mooi bewaar en deesdae Weskuskos met ‘n lekker Mexikaanse kinkel voorsit, Langebaan se Langtafel op die duin met Isabella Niehaus aan die stuur, Weskusspens Padstal waar tannie Annemarie Thom die lekkerste brode bak en waar ek my kooksel heerbone en plaasbotter kry, dan het ons nog nie eers by die mossels, harders en snoek uitgekom nie. Ek begin ook al hoe meer leer oor die Weskus se veldkosse. By vriende, Abraham en Elsa Singels het ek nou die dag die heerlikste slaai met veldkool in geniet en spekboom groei soos bossies in my Weskustuin. En dan is daar natuurlik die Weskus se eie Khoisan-sout wat digby Dwarskersbors geoes word en wat ook die basis vorm van my eie Carmen Niehaus-rooibossoute.

Sommer so op die ingewing van die oomblik bedink ek toe hierdie bymekaargooi slaai wat ek dan voorsit met my eie Carmen Niehaus-fynbos-slaaisous, gemaak met rooibostee en titsel boegoe by.

Die slaaisouse en soute is te kry by die De Tol-deli buitekant Citrusdal of andersins ook op die Carmién-webtuiste.

BYMEKAARGOOI SLAAI

Die vorige aand se oorskiet oondgebraaide groente, goed geurgegee met Carmen Niehaus-fynbossout vorm die basis van die slaai Die spekboomblaartjies is tog te lekker hierin. Ongelukkig het ek nie ‘n kooksel heerboontjies byderhand gehad om by te voeg nie. so ‘n blik kekerertjies moes maar die ding doen. As ek die heerboontjies kook om in slaai te gebruik, giet ek graag een van my slaaisouse oor terwyl dit nog warm is, dan trek dit so lekker in die heerboontjies in. Mens het nie veel meer as ‘n paar tjoppies (of daardie lekker gemarineerde hoender van verlede week) en braaibroodjies hierby nodig nie. Vir poeding, vars aarbeie met jogurt – eenvoudig, maar hemels.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min

Verskeidenheid slaaiblare
250 g oondgebraaide groente (patat, botterskorsie, broccoli en sampioene)
1 rooi ui, fyn opgesny
Halwe komkommer, in klein blokkies gesny
1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer of andersins 250 ml gaar heerboontjies
2—3 piesangs, in skyfies gesny
Groot handvol bosbessies
Groot handvol pampoensade
1 wiel feta-kaas, in stukke gebreek (opsioneel)
Paar takkies spekboom se blaartjies wat afgebreek is
Gekarameliseerde sonneblomsade vir bo-oor sprinkel
Carmen Niehaus-fynbosslaaisous

1 Plaas die slaaiblare in ‘n bak en voeg die groente by.
2 Sprinkel die ui, komkommer, kekeretjies of heerboontjies en piesangs by en meng liggies.
3 Sprinkel dan die bosbessies, pampoensade, fetakaas en spekboomblaartjies oor.
4 Rond af met gekarameliseerde sonneblomsade.
5 Giet ‘n goeie skoot van die slaaisous oor net voor opdiening.

Hoe om sonneblomsade te karameliseer: Plaas groot handvol sonneblomsade in ‘n droë, verhitte pan en braai tot dit net begin verbruin. Sprinkel bietjie bruinsuiker oor en skudbraai tot die suiker gesmelt is. Giet dadelik uit op ‘n gesmeerde oppervlak om af te koel. Breek in stukkies.

Aarbeie met volroomjogurt

Vir nagereg het ek hierdie eenvoudige dog lekker vars aarbeie gemaak. Peter Veldsman het my die triek geleer om swartpeper oor aarbeie te maal om die geur uit te bring. Strooi die suiker oor en laat staan so lank as kan sodat so ‘n lekker stropie vorm. Ek sit graag volroomjogurt pleks van room hierby voor.

750 g aarbeie, gehalveer
Suiker vir bo-oor sprinkel
Swartpeper
Volroomjogurt gemeng met bietjie versiersuiker om mee voor te sit

Slaai by die braai

Vir braaidag moet daar darem ‘n slaai of twee op tafel wees waarmee jy die nodige varsheid en vrolikheid na die tafel kan bring om so ook die koms van die somer te vier. Hier is twee heerlike (en doodmaklike) slaaie waarvoor jy net een tipe slaaisous benodig en wat ‘n wonderlike geur aan beide verleen. Dis ‘n rooibos-slaaisous wat nie net ‘n eg Suid-Afrikaanse geurtjie gee nie, maar ook help om jou gesondheid ‘n lekker hupstoot te gee deur die nodige goedheid en ekstra anti-oksidante daaraan te verleen.

OOSTERSE SLAAISOUS

Maak sowat 250 ml (1 k) slaaisous
Bereiding: 10 min

80 ml (1⁄₃ k) kanola-olie
45-60 ml (3-4 e) rysasyn
80-100 ml Carmién-rooibostee met gemmer en brandrissie (Revive), gemaak met 2—3 sakkies
sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
15 ml (1 e) heuning of bruinsuiker
80 ml (1⁄₃ k) sojasous
1 knoffelhuisie, geskil en in vlokkies gesny
30 ml (2 e) sesamsaad

1 Meng al die bestanddele saam.

SLAAI: Komkommer-carpaccio

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 15 min

1 komkommer, in papierdun skyfies gesny
1-2 avokado’s, ontpit en in bolle uitgeskep met ‘n lepel
250 g aarbeie, in stukke gesny
1 bos stingeluie, grof gekap
Oosterse slaaisous (sien resep)
1 bos koljanderblare, goed afgespoel
Handvol piekelgemmer (opsioneel)
50 g grondbone

1 Pak die komkommer op ‘n dienbord en rangskik die avodado, aarbeie en stingeluie bo-op.
2 Giet die slaaisous oor en verkoel tot net voor opdiening.
3 Stapel die koljanderblare en piekelgemmer bo-op en sprinkel die grondbone oor.

Variasie: gebruik dungesnyde kopkool pleks van die avokado en Turkse appelkose pleks van die aarbeie.

SLAAI: Pruim-lensieslaai

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 10 min

500 ml (2 k) klaargekookte lensies
Oosterse slaaisous (sien resep)
125 ml (1/2 k) mengsel van grofgekapte pietersielie, koljanderblare en ment
6 ryp swart pruime, in skywe gesny
Koljanderblare vir bo-oor sprinkel

1 Meng die lensies met die slaaisous en gekapte kruie. Skep in ‘n slaaibak.
2 Rangskik die pruime bo-op en sprinkel die koljanderblare oor.

Braaisous vir braaidag

Ons kan ons erfenis met niks lekkerder vier as om ‘n vuurtjie aan te steek en ‘n vleisie oor die kole te gooi nie nie. Beter nog as jy ‘n braaisous met eg Suid-Afrikaanse bestanddele soos rooibostee maak. Carmién se verskeidenheid rooibostees met die lekkerste geurkombinasies verleen ‘n heerlike eg Suid-Afrikaanse smaak daaraan. Boon-op help die rooibos om die vleis heerlik sag te maak. Loer ook later vir die lekkerste slaaie wat jy saam met jou braaivleis kan bedien.

ROOIBOS BRAAI SAUCE

The combination of various Carmién Tea infused rooibos teas helps to create an interesting flavour profile to this versatile braai sauce that is ideal to use over chicken as well as pork and lamb. Apart from the rooibos, it has subtle notes of ginger and chilli, fenugreek and fennel as well as lemon. The rooibos in the sauce also serves as a tenderizer and makes it ideal to marinade tougher meat cuts in. The sauce can be used in a potjie as well. To add a more unique flavour to your braaivleis, season the meat with one of the Carmen Niehaus salt and rooibos combos. I have used the Fynbos salt (green rooibos with a hint of buchu in the mix) on our meat. You can also use the Carmen Niehaus Braai salt.

BRAAI SAUCE
8 Carmién Revive (green rooibos with ginger & chilli)
5 Carmién Nursing (rooibos with fenugreek & fennel)
4 Carmién Zesty Lemon (rooibos with lemon)
750 ml (3 c) boiling water
80 ml (⅓ c) oil
1 onion, chopped
3 cloves garlic, crushed
60 ml (¼ c) apple cider vinegar
4 sachets (50 g each) tomato paste
100 ml brown sugar
15 ml (1 T) mustard powder
10 ml (2 t) Worcestershire sauce
Salt to taste
CHICKEN
12 chicken pieces
Carmen Niehaus Braai or Fynbos salt

1 SAUCE Place the tea bags in a large mixing bowl, add boiling water and infuse for about 5 minutes; squeeze the bags to remove all liquid and remove the bags.
2 Heat the oil in a large pot, add the onion and garlic and stir till soft. Add the rest of the ingredients, including the tea. Stir well and bring to a boil. Lower the heat and simmer for 15 minutes till the sauce has reduced and a nice flavoursome sauce has formed. Let cool.
3 Arrange the chicken pieces in a single layer in a large dish. Season with salt. Pour over the marinade. Leave to marinade for at least 1 hour but preferably overnight.
4 CHICKEN Arrange the chicken on a braai grid and braai over moderate coals till done, about 30—40 minutes or until the juices run clear. Brush frequently with the braai sauce.
5 Pour the leftover marinade into a small saucepan and bring to a boil. Boil until reduced to a thick sauce. Serve the chicken with bread rolls or pap and spoon over some of the sauce.

HINTS
1. Store any of the left-over sauce (that had been properly cooked after marinating the meat in it) in the fridge for a week or two and use it for your next braai.
2. If you want a more fiery sauce just add more Carmién Revive green rooibos (with ginger & chilli) when making the tea.

Kampioen van kampioene

Vanjaar was ek weereens bevoorreg om deel te wees van die paneel beoordelaars wat jaarliks die nuwe Championship Boerewors van Checkers en Shoprite moet aanwys. Die dertigte jaar van die kompetisie en ek kan met trots sê dat ek van heel van die begin af deel was daarvan. Toe ek vir die soveelste keer die beoordelingsleêr vashou met kriteria wat ek nog help opstel het, het ek net weereens besef hoe wonderlik dit is dat ons as Suid-Afrikaners weet die oomblik as ons ‘n Boerewors braai, dit nie enige snaaksighede gaan bevat nie, maar pure vleis is, want daar is wetgewing wat bepaal wat alles in ‘n Boerewors mag wees – 90 persent vleis waarvan nie meer as 30 persent vet mag wees nie. Jy kan bees, vark of lamsvleis gebruik of ‘n kombinasie daarvan. Vir my moet ‘n Boerewors lekker sappig wees en nie te vetterig nie; maar dis veral die kombinasie van ‘n noukeurige mengsel speserye wat vir my die knoop deurhaak. Mens kan nie dink dat ‘n basiese mengsel speserye soos koljander, sout, peper en bietjie naeltjies met miskien ‘n titsel tiemie by, soveel gedaantes kan aanneem nie.

Die beoordelingsproses van Checkers se Championship Boerewors is ‘n ernstige storie en daar is ‘n lang stel kriteria waaraan die rou sowel as gaar wors moet voldoen en die hele proses word noukeurig geoudit. Elke wors het ‘n nommer, en dit is wat ons beoordeel, nie die deelnemer nie. Vir ons as beoordelaars is dit net so ‘n verrassing wie die wenner is.

Oor die jare het ek ook nou al geleer om so langs die kant aantekeninge te maak oor watter wors my smaakkliere prikkel en dan is dit baie interressant om te kyk of die rou wors wat jou oog gevang het, wel tot die reg gekom het nadat dit gebraai is en inderdaad toe die paal gehaal het.

Vanjaar was dit die perfek gebalanseerde kombinasie van speserye asook net die regte verhouding vet tot vleis, wat gesorg het dat die 23 jarige Welcome Magoso van Umlazi in KwaZulu-Natal as Championship Boereworswenner aangewys is.

Die Checkers-span laat ook nie op hul wag nie en die 2022 Championship Boerewors is reeds in die winkels beskikbaar en gereed om op Braaidag saam met jou vleisie oor die kole te gooi.

Hoe hou ek van my boerewors?

Net-net gaar gebraai, met ‘n lekker bros buitekant, maar sappig binne en daarmee saam ‘n geurige tuisgemaakte tamatiesous, oftewel sheba. Hier is my weergawe van sheba wat ek graag ook saam met phutu-pap voorsit. Dit gaan julle in my nuwe boek wat binnekort op die rakke gaan wees kry.

SHEBA
1 groot ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
60 ml (¼ k) olie
250 ml (1 k) kombinasie van 1 eiervrug, 1 soetrissie en 2 klein wortels, in klein blokkies gesny
750 g ryp rooi tamaties, grof gekap
Paprika en rooipeper
50 ml appelkooskonfyt of suiker na smaak
Sout en skootjie rooiwyn en asyn na smaak

SOUS Braai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag, voeg die groente by en braai tot sag. Voeg die tamaties by, geur met sout, bietjie paprika en rooipeper, verlaag die hitte en prut tot ‘n geurige sous. Roer die appelkooskonfyt of suiker by en geur na smaak met sout, rooiwyn en asyn en prut tot geurig.

Smul aan varkvleis

Vark as my voorkeurvleis is alombekend. Verlede week het ek tog te lekker geëksperimenteer met varkvleis daar in Herman Lensing se studio en verskeie videos vir Media24 geskiet. Die crew het heerlik gesmul aan van rafelvleispakkies tot roerbraai-soetsuurvark en varksteaks, selfs hamburgers en spaghetti bolognaise, om maar ‘n paar te noem. Dit het net weereens bewys hoe lekker en veelsydig varkvleis kan wees. Hier is ‘n lusmakertjie vir ‘n heerlike resep met soetsuursmake wat jy kan inspan vir van varkribbetjie tot tjoppies, steaks en heel varkfilet, selfs heel varklende. As ek haastig is, kook ek die ribbetjie vooraf eers in ‘n aftreksel gemaak van so 4 sakkies van Carmién se groen rooibostee met gemmer en brandrissie (Revive) op 750 ml (3 k) water. Die aftreksel kan jy ook in die pan giet as jy ‘n heel lende gaarmaak. Die rooibostee help om die vleis heerlik sag te kook, maar die gemmer en bietjie brandrissie verleen ‘n heerlike smaak wat lekker pas by varkvleis.

SOETSUUR VARKRIBBETJIES OF -TJOPS

Nes soet en suur werk Oosterse smake baie goed saam met vark. Die doodmaklike smeerselresep van gelyke hoeveelhede heuning en suurlemoensap met helfte sojasus is geskik vir van ribbetjies tot varktjops en heel snitte soos lende.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaak: 30—40 min

SMEERSEL
90 ml (6 e) suurlemoensap en skil van 1 suuremoen
90 ml (6 e) heuning
45 ml (3 e) sojasous
6—8 knoffelhuisies, gekneus
2 brandrissies, ontpit en gekap
3—5 ml (ruim ½-1 t) 5/7-spesery Chinese poeier
VARK
1 varkribbetjie van sowat 1,5 kg of 6 varkneksteaks
Sout en peper
VIR VOORSIT
4 Granny Smith appels, gekap
45 ml (3 e) suiker
125 ml (½ k) water
60 ml (¼ k) botter
3 suurlemoene of lemmetjies vir voorsit
15 ml (2 e) Szechaun- of swartpeperkorrels

Voorverhit die oond tot 180°C.
1 SMEERSEL Meng al die bestanddele saam.
2 VARK Geur die ribbetjie met sout en peper en smeer die smeersel oor. Marineer 3—4 uur. Oondbraai 30—40 minute tot sag en gaar. (braai 45—60 minute oor matige kole). Smeer gereeld met die smeersel. Sny in ribbetjies, smeer die vleiskante ook met die smeersel en oondbraai vinnig tot bros.
3 VOORSIT Kook die appels, suiker en water saam tot sag. Plaas saam met botter en peper in ‘n voedselverwerker en maak fyn.
4 Sit appelmoes en lemmetjies voor saam met ribbetjies.

VIR HEEL VARKFILET Verf die smeersel oor die varkfilet en braai vinnig in ‘n verhitte riffelpan tot geseël buite-om. Plaas dan op ‘n bakplaat en sit vir 10 minute in ‘n 200°C oond en oondbraai tot die vleis bleek van binne, maar nie droog is nie, meestal duur dit so 10 minute afhangende van die grootte van die vleis. Sny in stukke en sit voor met ‘n patatpuree, roerbraaigroente indien verkies en ‘n vars vrugtesalsa soos appelliefies, gekapte perskes of mango, 1 klein gekapte rooi ui, gekapte koljanderblare en spatsel balsamieke asyn.

Mooi en veeldoelig

Ek is superopgewonde oor die Hausware-reeks wat ek saam met Swier, die lap-koningin van Moorreesburg, bymekaar gesit het en wat wissel van tafeldoeke, in verskeie groottes, tafellopers, pragtige kussings, oorgroot teedoeke, voorskote en selfs glasplanke en glasstoof-spatplanke. Wat my die meeste opgewonde maak en baie na aan die hart lê is die spesiale ontwerpe wat ek saam met hulle gestileer het en wat hul fotograaf, Daniela Louw so pragtig afgeneem het.

Op ‘n bloedig warm dag in die laatsomer het ons begin speel met breekgoed, messegoed en emaljegoed uit my huis wat ek oor jare as stilis bymekaar gemaak het. Daarby saam kleurvolle vars goed om die mooi van seisoene uit te beeld. Daardie ontwerpe is nie net gewoon mooi nie, maar ook baie spesiaal vir my en bring baie lekker onthoue terug. Jy kan amper sê “Carmen in portret”. Daarom het ek elk van die ontwerpe ‘n spesiale naam gegee: Sitrusdal vir die sitrusvrugte met die pragtigste vars kleure; Bergendal vir die een met perskes en Plaasvars vir die mooi eierontwerp – alles om my afkoms te gedenk. Dan is daar Nostalgie vir die prent met die ou boeke en silwergoed; Erfgoed vir die ou dienbord van Renate Coetzee en die messegoed uit my skoonma se huis; Ouma Suzie vir die een met die gerysde brooddeeg en spesiale kalenderlappie uit haar huis; Nagmaal vir die silwerkraffie met druiwe en Sjiek enamel vir die een met my spesiale versameling emaljeware saam met die sagte blomme.

Ek het egter nie net gepoog om dit pragtig en mooi te maak nie – dit moet prakties en veelsydig ook wees.

Die oorgroot teedoeke is geskik om van servet (hulle staan tog te mooi op ‘n bord) tot plekmatjie gebruik te word, selfs om breekware in toe te draai as jy dek. Maar jy kan ook jou brood daarin toevou of dit gebruik as vatlap om jou warm skottels mee vas te vat, selfs as vadoek, want die materiaal absorbeer goed vloeistof.

Die tafeldoeke weer se materiaal is supersterk en van so ‘n aard dat dit nie maklik vuiligheid gaan aantrek of kreukel nie. Dis ook ideaal is vir buite dek, want dit gaan nie gou uitbleik met jou ontwerpe wat in die niet verdwyn nie. Dit behou dus vir lank hul glans en mooi.

Die voorskote is van ‘n materiaal wat maklik skoon afvee, en wys nie gou vuil, so jy kan maar jou hande daaraan afsmeer sonder om die ontwerp te beskadig. Dit was ook goed. ‘n Ander groot lekkerte is die spesiale “plastieksakkie” wat daarop aangebring is waarin jy jou selfoon kan bêre en gemaklik naby jouk an hou sonder dat dit vuil of beskadig word. (Hopelik is die soektog na my selfoon wanneer ek besig raak nou iets van die verlede).

En dan is daar die glaskapplanke – supersterk en jy gaan hulle nie sommer gou gebreek kry nie – ideaal om op te sny, maar net so lekker om te gebruik as voorsitplank – ek pak van broodborde, pizzas en happies daarop uit of gebruik dit as skinkbord vir ontbyt of koffie en tee. Die gebruike is eindeloos.

Die stoofspatplanke is soortgelyk aan die kapplanke, maar groter om agter jou stoof te pas en jou kombuis ‘n ektra hupstoot in mooi te gee!

Gaan loer op Swier se webblad www.swier.co.za om te bestel; dis ook beskikbaar by verskeie winkels landwyd.

Van 8—11 September is ons ook by die Moorreesburgskou, so kom maak ‘n draai by die Swier-stalletjie en vanaf 17 Oktober tot 5 November 2022 by Stellenberg-kersmark.

Vir verdere navrae skakel: 083 409 6788

Lus vir soet

Ek kan nie eintlik my vinger daarop lê nie, maar die afgelope tyd oorval ‘n lus vir ietsie soets my nogals van tyd tot tyd. Eintlik het ek besluit dis die naderende lente wat seker die oorsaak is. Want soos ek die Weskus se blommeprag aanskou wat oral te bespeur is, is dit ook asof daar ‘n soet bloeiselgeur in die lug hang. Dis toe wat ek ‘n vorige boek van my nader trek en die koekhoofstuk van naderby beskou. Die maklike sjokoladekoek het ek anderdag gebak, so ook die rooi fluweel een en ook die kaaskoek. Net voor ek die boek wil toeslaan, val my oog op ‘n klapperkoek wat toentertyd baie gewild was in die toetskombuis. Buiten vir klapper in die koek, kry dit ook so ‘n tipe klapperstrooisel oor wat jy dan rooster onder die roosterelement van die oond. Soet, maar tog word dit in bedwang gehou deur die klappersmakie en jogurt wat dit inkry. ‘n Maklike koek om te maak en ek bak dit sommer in ‘n vierkantige pannetjie. Daar is wel heelwat suiker in, maar jy kan versoeter gebruik. Die koek is egter ook op my lysie om te kyk of mens hom dalk met klappermeel kan bak, maar ek weet dit gaan ‘n paar probeerslae verg, want klappermeel is moeilik om mee te werk. Sodra ek dit egter onder die knie het, deel ek die resep met julle. Maar vir nou kan ons maar klein blokkies sny en heerlik smul om die koms van die lente te gedenk.

PAPAWERSAAD-KLAPPERKOEK

Die klapperstrooisel wat na die tyd oorgesprinkel en geskroei word smaak hemels op hierdie klapperkoek wat met jogurt gemaak word.

Maak 1 groot vierkantige koek
Voorbereiding 20 min
Baktyd: 50 min

KOEK
3 ekstragroot eiers
375 ml (1 1/2 k) suiker
125 ml (1/2 k) olie
40 g papawersaad
100 g klapper
250 ml (1 k) bruismeel
Knippie sout
250 ml (1 k) natuurlike jogurt
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
STROOISEL
60 ml (1/4 k) room
80 ml (1/3 k) botter
125 ml (1/2 k) sagte bruinsuiker
160 ml (2/3 k) klapper
80 ml (1/3 k) pekanneute, gekap

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm vierkantige koekpan goed met botter of spuit met kossproei. Stuif met meel.
1 KOEK Klits die eiers en suiker goed saam.
2 Voeg die res van die bestanddele by en klits goed.
3 Giet in die voorbereide pan. Bak 40—45 minute lank of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
4 STROOISEL Verhit al die bestanddele vir die strooisel in ‘n kastrolletjie. Kook 1 minuut lank.
5 Keer die koek op ‘n bakplaat uit en skep die strooisel oor. Rooster onder die roosterelement van die oond tot die stooisel net effe verbruin.

Eiers tot die redding

My ma het altyd gesê: as daar eiers in die huis is, het jy kos op die tafel – van vroeg tot laat, ontbyt tot aandete en tussendeur, kan dit deel vorm van jou van jou spyse. Soveel meer so, noudat voedingskenners dit eens is dat een tot twee eiers maar daagliks deel kan uitmaak van jou dieet.

Eggs can be enjoyed with any mealtime: as a main dish, as an accompaniment to other meals or as a part of a recipe. The versatility of the egg places it amongst the top items required in basic culinary preparation, after all what other ingredient forms the base of so many recipes – from sauces to sweet treats, fish cakes to frittatas and not forgetting eggs as the perfect topping to a juicy steak or sandwich filler extraordinaire.

So, the deliciousness of eggs is confirmed, but how do they rate on the nutritional scale? Eggs contain protein and just the right mix of essential amino acids needed by humans to build tissues. This high-quality protein found in eggs makes them one of the most affordable substitutes for more expensive proteins in these tough financial times.

Next to affordability, another scarce luxury must be time. Rushing to work, fetching kids, helping with homework, how is one expected to produce nutritious and delicious meals for the family at any time of the day – not just breakfast? Including eggs is a good way to start, when all else fails who doesn’t enjoy a hearty frittata loaded with all those leftover veggies and rotisserie chicken sitting in the fridge? Or how about an onion tart – you have no idea how truly delicious it is!

Like EGGcellentFood on Facebook and follow us on Instagram @eggcellentfoodsa, for further information and recipes visit www.sapoultry.co.za

ONION TART

Serves 6- 8
Preparation time: 20 minutes
Cooking time: 30 – 35 min

INGREDIENTS
125 g butter
250 g bacon, cubed
4 onions, peeled and sliced
60 ml (4 tbsp.) flour
500 ml (2 cups) milk, lukewarm
4 large eggs
Salt and freshly ground pepper
150 g (about 1 ½ cups) grated cheddar cheese
Green salad and crusty bread to serve

  • In a large pan melt the butter, add the bacon and onions and fry until soft, about 6 minutes.
  • Stir in the flour to make a paste, and slowly pour in the milk stirring continuously.
  • Whisk the eggs and add to the milk mixture, stir well. Add the cheese and seasoning.
  • Pour the mixture into a pie dish and allow to stand until settled and at room temperature, about 20 minutes.
  • Preheat the oven to 200°C and bake until set, about 30 – 35 minutes.
  • Serve sliced with a green salad and crusty bread for lunch or a light meal.

Vinkel en koljander

Ek neem die spreekwoord, vinkel en koljander vandag sommer baie letterlik op – want vinkel en koljander pas soos ‘n bom by varkvleis. As die lus vir ‘n stukkie filet jou oorval, maar jy kan nie oor dit kom hoe duur beesfilet deesdae kos nie, is varkfilet jou antwoord. Ek gebruik dit baie graag, want ek hoef glad nie te kommer dat dit straks aan die taai kant gaan wees nie, dis altyd sag en baie bekostigbaar.

Sappig is dit wel, maar soms kan dit doen met ‘n bietjie ekstra geur, en dis dan waar die Carmen Niehaus-slaaisouse so handig te pas kom – hier kies ek die Zesty Fennel, want soos genoem, die geurprofiel pas perfek by vark. Geniet dit saam met ‘n patatpuree waarby jy ook bietjie rooi rooibospoeier met kollageen en kaneel van Carmién Tea gevoeg het.

Gaan so te werk:

  • Giet van die slaaisous oor die varkfilet en marineer so 20—30 minute sodat die geure lekker kan intrek.
  • Net voor jy braai kan jy dit dan kwistig geur met die Carmen Niehaus-braaisout, dit het weer lekker koljander in.
  • Sprinkel ook bietjie fyn broodkrummels oor en braai in ‘n verhitte pan, met ‘n oondvaste handvatsel, in bietjie olie tot alkant bruin.
  • Plaas die pan sowat 10 minute in die oond by 160°C sodat die vleis net-net gaar kan word van binne – dit moet net af van pienk af wees, maar nog sappig.
  • Berei intussen die patatpuree: Bak die heel patats met skil en al in die Airfryer tot sag, so 30—40 minute. Haal uit, skep die vleis uit die skille en maak fyn in die voedselverwerker, voeg die rooibospoeier by.
  • Skep die puree op ‘n dienbord, sny die filet in dik skywe en plaas bo-op. Geniet met slaai.

Die Carmen Niehaus-slaaisouse sowel as die soute is beskikbaar op die Carmién-webtuiste asook by die Carmién winkels by De Tol en Feines Deli in Seepunt asook by verskeie uitgesoekte winkels in die Wes-Kaap.