Kook slim

Ons steier onder hemelhoë kospryse wat jou soms laat voel om handdoek in te gooi en sommer op ‘n hopie gaan sit, veral as jy van voorneme was om vanjaar gesonder te eet. Maar nee, ons Suid-Afrikaners is nou maar een maal nie so bedraad nie. Soos ons die kragkrisis getakel het, begin ons al hoe slimmer aankoop en kook. As ek so tussen die winkelrakke rondloop, let ek nogals op na wat mense in hulle trollie sit. Deesdae vat mense defnitief nie meer voor die voet nie. Alles word mooi bekyk, pryse vergelyk en oor besin. Dis sommer dan die gulde geleentheid dat mens terselfdertyd kyk na die voedingswaarde van ‘n produk, so lees daardie inligting wat mooi vervat is in die tabel agter op die verpakking. Kyk gerus sommer weer na dit waarmee baie v ons opgegroei het – stampmielies, bone en lensies… voedsaam en bekostigbaar!

Watter heerlike voorreg was dit nou weereens verlede week vir my om die laaste van ‘n reeks gesonder-eet-kookklasse vir ‘n dertigtal plaaswerkers op Citrusdal saam met die Mouton Foundation, Carmién Tea en ‘n oorsese klient, Teekanne, aan te bied, ‘n inisiatief wat ontstaan het nadat vasgestel is dat leefstylsiektes wyd voorkom onder die plaaswerkers.

In ‘n middag van prettige saamkook (spanne van twee het elk hul eie stofie gehad), leer en saamkuier, het ons nie net gekyk na watter produkte gesonder keuses is nie, maar ook eerstehands ervaar van hoe ‘n 300-g-pakkie maalvleis vermeerder kan word om ‘n leërskare kos te gee en terselfdertyd al die boksies tiek van ‘n gesonde bord kos. Saam met die kerriemaalvleis het ons die allerheerlikste stampmielies voorgesit, gekook soos my ma dit altyd gemaak het. En wat is dan nou lekkerder en goedkoper as om ‘n boneslaai van een of ander aard te bedink wat ‘n hele paar dae goed in die yskas kan hou. Destyds se 3-boneslaai het ons sommer met ‘n blik 4-bonemengsel saam met wortel gemaak. Die groot triek was egter die slaaisous waar ons Carmién se rooibos–en-boegoetee as basis gebruik het om die slaaisous mee te maak en geen suiker is bykans nodig nie. Al moet ek dit nou self sê, dis onmenslik lekker!

Om mee af te skop, het ons die bekende ongelooflike muffins wat swem van die semels, gemaak, maar die aanvanklike hemelhoë 750 ml (3 k) suikerinhoud het nou net ‘n skamele 160 ml (⅔k) geword en die botter is met omega 3-ryke canola-olie vervang. Almal het heerlik gesmul en geensins die soet gemis nie. En dan is die groot lekkerte van hierdie resep mos nou dat jy die beslag in die yskas kan hou en gou muffins kan bak vir inpak skool toe of vir ‘n geselligheid soos dit nodig is.

Vir my is dit altyd baie verrykend om saam met hierdie passievolle groep plaaswerkers te kook; daar word ook nie doekies omgedraai of ‘n gereg die tongtippietoets deurstaan het aldan nie. Daarom was dit vir my die grootste riem onder die hart toe een van die saamkokers vir my sê terwyl ons na die tyd heerlik saamkuier om die tafel en die spyse van ons handewerk geniet, dat daar vir haar nou geen omdraai weer is nie. En sy gaan die boodskap van gesonder eet (wat ook baie bekostigbaar is), wyd en syd versprei.

MAALVLEISKERRIE (Akni)

Ek het dit nou al baie keer genoem dat die befaamde kok en Maleise-koskenner, Cass Abrahams my leer kerrie maak het. Nie te sterk nie, maar geurig met die speserye keurig gemeng. Hierdie maalvleiskerrie wat onder die Maleiers as akni bekend staan en sommer ook baie keer armans-birjani genoem word, was geen uitsondering nie. Volgens die resep kom daar baie gemengde groente in maar ek het ook sommer nog ‘n blik lensies bygevoeg (wat so bykans wegkook in die maalvleis in) om die maalvleis verder te rek. Gerasperde patat en appel verleen die nodige soetigheid. Die Focus-rooibostee wemel van speserygeure wat goed pas by hierdie kerrie en rond dit perfek af.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 30 min
Gaarmaaktyd: 30 min

KERRIE-MAALVLEIS
1 ui, in ringe gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk (opsioneel)
7,5 ml (11/2 t) gemmerwortel, gerasper
1 kaneelstokkie
Olie
300 g maalvleis
10 ml (2 t) geroosterde matige kerriepoeier (ek gebruik graag birjani-masala)
5 ml (1 t) fyn komyn
7,5 ml (1½ t) borrie
2,5 ml (½ t) fyn koljander
Helfte van ‘n blik van 400 g gekapte tamaties of ‘n blik tamatie-en-uiesmoor
1 blik (400 g) lensies, voeg die vloeistof ook by
Halwe patat, gerasper
1 klein appel, gerasper
1 pakkie (50 g) tamatiepasta
sowat 125 ml (½ k) Carmién Focus rooibostee (2 sakkies)
Sout en peper
500 g bevrore wortel-en-ertjiemengsel
Knippie suiker
Groot handvol gekapte koljanderblare
VOORSIT
Stampmielies of bruinrys
SAMBAL
1 tamatie, in blokkies gesny
Halwe klein ui, gekap
15 ml (1 e) bruin-asyn
Knippie suiker
Sout en peper

1 KERRIE Roerbraai die uie, knoffel en gemmerwortel saam net die kaneelstokkie in bietjie olie tot sag.
2 Voeg die maalvleis by en braai tot net gaar.
3 Voeg die kerrie, komyn, borrie, koljander en tamatie by en roer 1 minuut.
4 Voeg die lensies, patat en appel by en roer deur.
5 Meng die rooibostee met die tamatiepasta en voeg helfte daarvan by. Geur met sout en peper na smaak. Verlaag die hitte, bedek en laat prut tot gaar en geurig.
6 Voeg die groentemengsel by asook orige teemengsel en laat prut verder tot die groente gaar is. Geur met bietjie suiker asook nog sout en peper indien nodig.
7 Meng ‘n groot hand vol gekapte koljanderblare deur.
8 VOORSIT Sit die maalvleis voor saam met stampmielies of rol toe in ‘n roti. Sit voor saam met die gekapte sambal.

Die resepte vir die roti’s, ongelooflike muffins asook die maklike vierboneslaai met rooibosslaaisous is te kry in my boek, Lekker & Goed, heilsame kos propvol heilsaamheid. Die boek is te kry in vooraanstaande boekwinkels asook aanlyn by Lapa en op die Carmién-webtuiste.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: