Kerrievis vir Paasfees

In die Kaap word daar elke Paasfees ruim kerrievis ingemaak genoeg om die hele Paasnaweek lank te kan hou – ‘n Maleier-gebruik wat ook oorgespoel het na die Christene toe. Dié word dan op Goeie Vrydag geniet saam met Paasbolletjies (hot cross buns) om Jesus se kruisiging te gedenk – die uie-asynsous simboliserend van die asyn wat Jesus aangebied is tydens sy kruisiging en die hot cross buns wat na die kruis verwys.

In my weergawe word die vis nie eers gebraai soos dit gebruiklik gedoen word nie, maar direk in die sous, wat met druiwesap gemaak word, gaargemaak. Niks verhoed jou egter om die vis nie eers te braai nie. Dit doen ek sommer deesdae in die Airfryer.

BOLANDSE KERRIEVIS

LEWER SOWAT 700 G
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 25 min.

15 ml (1 e) matige kerrie of brejani-masala
15 ml (1 e) druiwepit- of olyfolie
3 groot uie, fyn gekap
10 ml (2 t) knoffel-en-gemmerpasta
5 ml (1 t) fyn komyn
5 ml (1 t) elk sout en peper
125 ml (½ k) sultanas
250 ml (1 k) druiwesap
10 ml (2 t) suiker
200 ml bruin- of appelasyn
250 ml (1 k) water
15 ml (3 t) borrie
5 suurlemoenblaregerasperde skil van 1 suurlemoen
’n hand vol vars koljanderblare, gekap
500 g visfilette, ontvel en in groterige stukkies gesny

1 Plaas al die bestanddele buiten die vis in ’n pot, bring tot kookpunt en kook sowat 10-15 min.
Stel die plaat laer en voeg die visstukkies by.
2 Laat prut die vis sowat 10 min. in die sous of tot gaar.
3 Plaas die warm mengsel in ’n glas- of vlekvryestaalbak en laat afkoel.
4 Nadat die vis afgekoel het, bedek dit en plaas vir sowat drie dae in die yskas sodat die sous lekker intrek.
5 Sit voor saam met vars gebakte bakbrood en korrelkonfyt of andersins Paasbolletjies.

Hoe om die vis te braai in die Airfryer: Geur meel goed vooraf met vismasala. Geur die vis met sout en peper. Rol die vis in die meelmengsel en pak in die bak van die Airfryer. Stip liggies met olie en lugbraai sowat 8—10 min by 180°C of tot die vis net gaar is. Pak lae vis en kerrieuie in ‘n bak en verkoel sowat 3 dae voor gebruik.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: