Bobotie is net so eie aan ons kultuur en mens sou maklik kon dink dat daar ‘n basiese resep is waarvolgens meeste mense werk. Toe glad nie, daar’s verskeie en elke familie klou vas aan hul resep. So het ek met die jare verskeie werklik lekker bobotie-resepte publiseer, party kry droëperskes, sultanas of selfs Turske appelkosies in, ander ‘n paar vlokkies amandel bo-oor gesprinkel; die een soet, die ander een meer sterk met die kerriemengsel self gemeng in die stamper en vysel. Ekself het heerlik rondgespeel tussen die verskeie resepte. Deesdae rasper ek nie net graag ‘n appel by die mengsel in nie maar selfs ook ‘n patat en wortel of twee. Dit sorg vir ‘n meer “los” bobotie. Seker baie onkonvensioneel, maar ek hou ook daarvan om selfs hoenderlewers by te voeg wat ek laat fynkook saam met die maalvleis.
Om dinge verder interressant te maak, bak ek die boboties graag in ‘n broodpannetjie sodat ek dit maklik in skyfies kan sny, amper soos ‘n maalvleisbrood. Baie keer druk ek sommer die rysmengsel onder in die broodpannetjie vas, so elkeen kry sommer alles in een porsie. Jy kan natuurlik net so maklik individuele boboties vir elkeen op dié manier berei.
Maak 2 bobotie-brode (genoeg vir 6 mense)
Voorbereiding: 30 min
Gaarmaak: 30 min
2 uie, fyn gekap
45 ml (3 e) olie
2—3 knoffelhuisies, fyngedruk
60 ml (¼ k) geroosterde masala of matige kerriepoeier
30 ml (2 e) fyn gemmer
20 ml (4 t) fyn kaneel
20 ml (4 t) fyn koljander
7,5 ml (1½ t) borrie
250 g hoenderlewers, fyner gesny
500-750 g maer maalvleis
Sout na smaak
3 wortels, skoongeskraap en gerasper
1 groot patat, skoongeskrop en gerasper
1 appel, gerasper
250 ml (1 k) groenteaftreksel
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
60 ml (¼ k) fyn appelkooskonfyt of vrugtige blatjang
Sap en skil van 1 suurlemoen
750 ml (3 k) gaar rys, gekook met bietjie borrie en ‘n kaneelstok
EIERVLA
6 eiers
500 ml (2 k) melk
45 ml (3 e) koekmeel
Sout en peper
1 piesang, in lengte gehalveer
4—6 lourierblare
SAMBALS
Gekapte tamaties en uie
Gekapte komkommer en jogurt sambal met fyn komyn
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit twee medium broodpanne goed met kossproei en voer uit met bakpapier. Spuit weer goed.
1 Verhit die olie in ‘n pan en braai die ui daarin tot sag. Voeg die knoffel by en braai tot geurig. Roer die speserye by.
2 Voeg die hoenderlewers en maalvleis by, geur met sout na smaak en braai tot gaar, nie nodig vir bruin nie.
3 Voeg die wortels, patat en appel by, meng deur en voeg die aftreksel en tamatiepasta by. Verlaag die hitte en laat prut tot die groente bykans weggekook en die mengsel lekker geurig is.
4 Roer die appelkooskonfyt en suurlemoensap by en geur met nog sout indien nodig.
5 Druk die rys onderin elk van die pannetjies vas. Verdeel die maalvleismengsel tussen die broodpanne en druk vas.
6 EIERVLA Klits die eiers, melk en meel saam tot glad, geur met sout en peper. Giet oor die mengsel in die panne, laat dit goed intrek in die rys-en-maalvleismengsel.
7 Rangskik die piesang en lourierblare bo-op en bak sowat 30—40 minute of tot die eiervla gestol is. Laat bietjie afkoel in die panne en keer dan versigtig uit. Sny in skywe. Sit voor met sambals.
Sakpaswenk: verminder die maalvleis na 250 g en roer ‘n blikkie of selfs twee lensies by die maalvleismengsel in.
Gaan kyk ook in my boek, Lekker & Goed, heilsame kos propvol heilsaamheid, vir ‘n heerlike lensie-bobotiebrood. My man wat ‘n vurige vleiseter is, smul alte lekker daaraan.