Toe ons finaal intrek in ons Weskushuis was die eerste boom wat ek aangeplant het ‘n suurlemoenboom. Nie net om my herkoms te gedenk nie, maar omdat suurlemoen onmisbaar is in enige kombuis.
Die mooi geel vruggies maak ook ‘n tog te mooi prentjie in my ou silwerpot. Met die koms van Covid het almal die waarde van suurlemoen opnuut besef – nie net is dit gelaai met vitamien C nie, maar het ook ‘n alkalliese uitwerking op die liggaam al is hulle opsigself suur. So ja, my waterbottel kry gereeld sy skyfie suurlemoen by. In kos bly dit ‘n staatmaker – vars gerasper oor ‘n sop of bredie, selfs in ‘n groente-souttert en ‘n skyfie by vis verleen net die nodige nodige afronding.
Jare gelede het ek ‘n trefferresep vir ‘n heuning-suurlemoenhoender in Wenresepte 5 gepubliseer. Dit het ‘n staatmaker in my huis geword. Ideaal vir stukke hoender, wat net so lekker is as jy dit oor die kole rooster, maar ek gebruik dit selfs ook nou om hoenderfilette, wat ek in blokkies sny, in te roerbraai. Ek rasper ook deesdae graag ‘n bietjie rou gemmer oor. Ideaal vir voorsit saam met rys waarby jy bietjie kruie ingeroer het.
VIR DIE HEEL HOENDERSTUKKE
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 1-1½uur
1,8 hoenderstukke, dytjies en boudjies
Sout en peper
Koekmeel om in te rol
125 ml (½ k) heuning
125 ml (½k) suurlemoensap
2 cm stuk gemmerwortel, fyn gerasper
60 ml (¼ k) sojasous
Voorverhit die oond tot 180°C.
Geur die hoenderporsies met sout en peper en rol in koekmeel. Skud die meel goed af.
Pak met die velkante na onder in ‘n oondpan.
Meng die res van die bestanddele en giet oor die hoender. Bak 1-1½ uur lank of totdat die hoender gaar en goudbruin is. Bedruip elke nou en dan met van die pansappe en draai die hoenderporsies na die helfte van die baktyd om.
Sit voor met kruie-rys: Meng 500 ml (2 k) gaar basmati-rys met 2—3 gekapte stingeluie, ‘n groot handvol gekapte vars koljander, basilie- en kruisemengblare en die gerasperde skil van 1 suurlemoen.
Vir hoenderfilet-roerbraai:
Sny sowat 6 hoenderporsies in blokkies, geur met sout en peper en rol in meel.
Braai in olie tot effe bruin, meng die res van die bestanddele en giet oor. Prut tot gaar.