Spyse vir Pase

Lamsvleis het baie Paasfees-simboliek – nie net was dit deel van Jesus se laaste Avondmaal voor hy gekruisig is nie, maar simboliseer dit ook Jesus wat as Lam van God geoffer is om vir ons sondes aan die kruis te sterf. Tydens my dae as kosredakteur by Huisgenoot het ons elke jaar groot gegaan met ‘n Paasfees-artikel. Jacques Erasmus, befaamde sjef van Hemelhuijs in Kaapstad, het een Pase ‘n lamblad met ‘n Marmite-smeersel ingesmeer en dit lank en stadig in die oond gebak. In die gees van Pase het hy ‘n rooi strik om die skeenbeen gebind en die vleis met granate en dadels voorgesit. Sien die smeersel se resep hier onder.

Ek maak net so ook graag ‘n Midde-Oosterse smeersel van jogurt, oreganum, baie knoffel en komyn wat ek oor die vleis smeer voor ek dit stadig in die oond gaarmaak. Maar dis net so lekker as jy die boud oor die kole braai. Gebraaide eiervrug met granate oorgesprinkel (en ‘n paar vars vye) smaak net so lekker hierby.

Geseënde Paasfees!

MIDDE-OOSTERSE LAM OP TWEE MANIERE

Hier wys ek jou hoe om lamsboud of –blad op twee maniere gaar te maak: gebraai of stadiggebak. Die komyn gee ‘n tipiese Midde-Oosterse geur en is heerlik saam met eiervrug.

Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 10 min
Marineertyd: 12 uur of oornag
Gaarmaak: gerooster: 1—1 1/2 uur; stadiggebak: 4—6 uur

SMEERSEL
80 ml (1/3 k) olyfolie
80 ml (1/3 k) natuurlike jogurt (opsioneel)
50 ml droë oregano
8 knoffelhuisies, fyngedruk
45 ml (3 e) fyn komyn
Sap en skil van 2 suurlemoene
VLEIS
1,8 kg ontbeende lamsblad of –boud, gevlek
VOORSIT
Groente-kebabs of gebraaide eiervrugskywe (sien resep onder)
Natuurlike jogurt met gekapte komkommer, komyn en ment ingeroer

1 MARINADE Meng al die bestanddele saam.
2 VLEIS Keep die vetrand van die vleis in. Plaas in ‘n nie-metaalbak. Marineer oornag of 12 uur
4 Geur die vleis met sout en peper en braai oor matige kole ovir sowat 1 uur tot sag en bruin. Draai gereeld.Bedruip gedurig met marinade. Plaas andersins op die rakkie van ‘n oondbraaipan en oondbraai 20 minute per 500 g vleis by 160° C. Sit voor met groente-kebabs en komkommerjogurt.

STADIGGEBAKTE LAM
Hou die blad of boud aan die been.
Sny 4 uie in stukke en plaas in ‘n oondpan saam met ‘n paar tiemietakkies. Giet genoeg rooibostee (ek gebruik Carmién se rooibostee met boegoe of andersins die groen Earl Grey) hoenderaftreksel oor die uie tot bedek. Smeer die marinade oor die vleis en plaas bo-op die uie. Bedek met tinfoelie en bak 4—6 ure by 120°C tot die vleis murgsag en van die bene afval. Verwyder die bedekking en rooster vinnig onder die roosterelement tot bruin. Trek die vleis in stukke met ‘n lepel. Sit voor met gebakte eiervrugskywe of groente-kebabs en komkommerjogurt.

MARMITE-SMEERSEL
Berei die volgende smeersel, smeer oor die vleis en gaan verder te werk soos by die Midde-Oosterse lam.
Meng 30 ml (2 e) rooiwyn, 30 ml (2 e) Marmite, 30 ml (2 e) Dijonmosterd, 30 ml (2 e) sagte bruinsuiker, 30 ml (2 e) olyfolie en 5 ml (1 t) gekapte vars tiemie saam en vryf die vleis goed daarmee in. Geur met sout en peper.

VIR VOORSIT:
GROENTE-KEBABS
Ryg 12 baba-eiervruggies, gehalveer indien verkies, 2 elk groen en rooi soetrissies wat in groot blokke gesny is en 12 piekeluie wat geskil en gehalveer indien nodig op houtpenne. Marineer saam met die vleis en braai oor die kole tot net gaar.

EIERVRUGSKYWE MET GRANATE
Sny 4 eiervrugte in skywe, besprinkel met sout, 4 fyngedrukte knoffelhuisies en olyfolie oor. Bak by 180°C tot gaar. Sprinkel ‘n handvol elk gekapte pietersielie, basilieblare en mentblare en granaatpitte en pistasieneute oor. Week ‘n knippie saffraandrade in 30 ml (2 e) water. Meng met 250 ml (1 k) Griekse jogurt, skep oor.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: