Die polistireenboks daag op ‘n Saterdagoggend hier by my in Langebaan op – geen moeite ontsien en spesiaal afgelewer direk vanaf die produksiekombuis in Soutrivier. Gepak met die nuwe roomys-op-‘n-stok-sensasie, POPCO, wat besig is om soos ‘n warrelwind deur die land te waai.
Die persverklaring, “local popsicle brand is taking SA by storm”, trek dadelik my aandag toe dit einde Februarie in my inboks land. Maar deesdae verlaat ek my my nie sommer net op inligting wat ek via die internet ontvang nie. As dit enigsins moontlik is, wil ek self ervaar en beproef. Wat ek raaklees, val so reg in my kraal. Daar word gepraat van “real-fruit ice-cream and sorbet in 20 flavours with vegan options that are nut-free, low in sugar and calories, zero colourants plus Kosher and Halaal friendly!”
Ek loer na die verskafferlys… en sowaar ja, hulle lewer reeds af hier by ‘n deli op Langebaan. My kop is deur. Die polistireenboks word soos ‘n kleinood dadelik in die vrieskas gebêre. Natuurlik eers nadat ek en my huismense ‘n vinnige loer geneem het van watter heerlikhede ons te wagte kan wees. Die ysies is elkeen afsonderlik en pragtig verpak in deursigtige sakkies. “We want our customers to know that what they see is what they get” vertel Didi. Ons monde water dadelik. Maar om te verhoed dat almal op een slag verwoed inspring en die hele lotjie kafdraf nog voordat ek my heeltemal van alles vergewis het, besluit ons dat dit ons Sondagmiddag-treat sal wees.
Didi en Tim Deane het in 2018 hierdie roomys-en-sorbetreeks begin nadat hulle tydens ‘n vakansie in Suid-Amerika versot geraak het op die egte vrugte-roomysstokkies wat hulle daar om elke hoek en draai kon koop. So iets was nie beskikbaar in Suid-Afrika nie. Terug in die land is Didi se kombuis-voedselverwerker ingespan om ysies te begin maak met vrugte wat hulle op die plaaslike mark gekoop het. Gou was dit ‘n treffer en binne 8 maande moes hul trek na ‘n professionele produksie-kombuis en lewer tans aan sowat 150 handelaars landwyd. Die groot lekkerte egter is dat jyself direk vanaf hul webtuiste kan bestel en ook jou eie boks ysies saamstel.
Die groot volumes het egter nie verhoed dat die ysies nie steeds handgemaak is nie – die waatlemoene se pitte soos ook die ogies van die pynappel word steeds met die hand verwyder en die roomyse word ook steeds handgemaak en een-vir-een met die hand verpak. En hulle gebruik slegs top-kwaliteit natuurlike produkte, geen preserveer- geur- of kleurmiddels nie en probeer die suikerinhoud (en kilojoules) so laag as moontlik hou.
Maar terug by ons spesiale boks. Die keuse is moeilik – daar is 3 reekse: Creamy Decadence; Fruit Sorbets en Creamy Vegan asook ‘n Hot Chocolate-stick.
My man wat maar altyd ietwat skrikkerig is vir iets nuuts, kies die klassieke roomys uit die Creamy Decadence-reeks, my kinders se keuses val op sjokolade, Banana Split (wat glo nes piesangbrood proe) en aarbeiroom. Dié is mooitjies versier met ‘n deursnit van ‘n halwe aarbei, so ook is die kiwi-appel in die vrugte-sorbetreeks ook versier met ‘n snit kiwi. Mooi!
Ek kies ‘n vrugte-sorbet – die mango-aarbei een asook later die suikervrye mango. Een van my kinders geniet die Oranges & Lemons. Die sorbets proe kompleet soos destyds se “suckers”, net lekkerder, sonder “nasties” en heerlik vrugtig, nie te soet nie en natuurlik. Ons is “hooked”!
Die proe van die POPCO’s word hiervandaan streng beheer en is beperk tot klein Saterdagaande en Sondae sodat die lekker langer kan aanhou. Ons beproef die Creamy Vegan-reeks: die Oatmilk Chocolate een wat met hawermoutmelk en donker sjokolade gemaak word, is vir my heerlik en die Coco Pine (gemaak met klapperroom) en sjokolade-lemoen (ook klapperroom en bietjie avo) kry ook ons regmerkies. So ook stel die Neopolitan en Granadilla Cream uit die Creamy Decadence reeks glad nie teleur nie. Al een waaroor ek nie gaande was nie, was die Strawberry/Blueberry Fruit Sorbet.
Vir meer informasie oor POPCO, besoek hul webtuiste:
Website: www.ilovepopco.com
Social media: Facebook & Instagram
For a list of stockists click here.