Bak ‘n koek en wen ‘n boek

As mens boek skryf is dit lang ure wat jy in ‘n borrel op jou stoel voor jou rekenaar vasgegom sit en resepte skryf waarvan jy hou (hulle word eers later getoets) en wat jy hoop en dink ander mense ook van gaan hou. En as die boek eers op die rak is, begin jy tandekners en hoop dit geval meeste mense en dat hulle die resepte gaan geniet. Met hierdie boek veral was ek nogals ietwat senuweeagtig, want ek het my nek ver uitgesteek om ‘n gesonder aanslag aan die resepte te gee. Jy weet nooit regtig of mense dit aanloklik vind voordat hulle nie van hulle laat hoor nie.

Ja, so vir my is daar niks lekkerder as om terugvoering te kry nie, want dit gee my ‘n goeie indikasie wat mense geniet en wat hul voorkeure is (ek gee ook glad nie om as iemand my laat weet van ‘n resep wat hulle mee gesukkel het of wat hulle nie aangestaan het nie –dit gee my net weer ‘n geleentheid om verder daaraan te werk en weer te toets).

Sowat ‘n week of twee drie terug ontvang ek lekker terugvoering via my skoonsus en sussie van twee mense wat my boek gekoop of present gekry het. Die een al afgetree, die ander ‘n jong pasgetroude bruid wat glukose- en laktose-intolerant is. En wat ‘n riem onder die hart is dit nie dat beide, hoe groot die ouderdomsverskil ook mag wees, die boek baie leersaam vind en daaruit kook! So dit staan nie net op die rak en stof vergaar nie. Hierso hul terugvoering:

“Ek het mos Carmen se nuwe boek gekoop. Dan toets ek altyd resepte. Ek hou baie van haar ingesteldheid oor gesond eet. Sal jy vir haar sê daardie Thai hoenderkerrie met groen mangos is ‘n ongelooflike treffer en ek gaan dit beslis weer maak. Dit was Vrydagaand my kos vir vriende. Gister het ek die appeltert gemaak. Dit was baie lekker. Ek sal nog meer met klappermeel wil eksperimenteer. Het die bestanddele by Checkers gekoop soos sy gesê het. O ja, ‘n vriendin, hoeka van Langebaan, vra of ek nie vir haar ‘n kaaskoekresep het nie. Ek het net die een boek hier en neem Carmen s’n af. Vriendin is in die wolke daaroor.”

My suster se skoondogter is gluten- en laktose-intolerant en sy stuur die volgende boodskap: “Baie dankie Ma vir die amazing boek van Carmen. Ek het nou net weer deur die poedings geblaai en daar is 6 poedings wat almal met glutenvrye meel gemaak kan word. En sy gebruik jogurt en maaskaas in stede van room, en ek kan dit maklik laktosevry kry. So ek kan kaaskoek bak! Sy gebruik ook klappermeel en hawermout wat ek net so maklik glutenvry kan kry. Ek sien so uit daarna om weer ‘n slag gebakte soetgoed te maak. Dit lyk vir my so maklik. Alles word net so moeiteloos vervang sonder om ‘n groot rietmerol daarvan te maak. Sy gebruik net daardie mele in die resep en jy weet dit gaan werk, so jy hoef nie iets in te ruil nie. Daar is baie resepte wat mens baie maklik kan maak wat glutenvry en laktose-vry is. Dis so ‘n oulike boek – van ontbyte, brownies, alles wat mens nodig het.”

So hou ons ook die naweek basaar hier op Langebaan. Een van die voorvatters laat weet my ek moet asseblief tog die rooibos-sjokoladekoek wat ek met patat maak, bak, want dan kan diegene wat minder suiker moet eet, mos ook ‘n snytjie koek geniet. Later hoor ek die versoek kom via een van die mense wat my praatjie verlede jaar by die Saldanha-vrouedag bygewoon en die koek daar geëet en dit so geniet het. En ja, daar het nie ‘n krummeltjie oorgebly nie.

So hier is nou ‘n lekker uitdaging en geleentheid om ‘n Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid -boek, te wen. Al wat jy hoef te doen is om die rooibos-sjokoladekoek te bak en ‘n foto daarvan vir ons aan te stuur na carmen@carmientea.co.za. Dan staan jy ‘n kans om die boek te wen! Kompetisie sluit 21 April.

KLAM ROOIBOS-SJOKOLADEKOEK

Die oorspronklike resep van hierdie koek, wat letterlik binne minute aanmekaar geslaan kan word en nie enige eiers inkry nie, was die koek wat ek altyd vir my kinders se verjaarsdae gebak en saamgestuur het skool toe. Dan het ek dit sommer in ‘n oondpan gebak en in blokkies gesny of soms klein mini-koekies daarvan gemaak.

Karamelkondensmelk, met klompe natuurlike jogurt deurgemeng was al versiersel. Hulle het gesmul. Maar sjoe, daar het baie suiker ingekom – ‘n volle 3 koppies. Om die suiker te verminder, sonder om smaak in te boet het ek op die ou einde gaar patat met die suiker gaargemaak en dit deurgemeng en pleks van die water gebruik ek rooibostee wat ‘n heerlike smaak verleen.

Maak 1 laagkoek of Bundtkoek
Bereiding 20 min
Baktyd: sowat 30 min

500 ml (2 k) koekmeel
250 ml (1 k) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
2,5 ml (1/2 t) sout
500 ml (2 k) Carmién warm rooibostee (gemaak met 6 Red Mocha of Floral Berry-sakkies)
100 ml canola-olie (nie olyfolie)
30 ml (2 T) appelasyn
500 g (2 groot) oranje patats, geskil (nie die rooiskil soort nie)
250–325 ml (1—1⅓k) bruinsuiker (ek gebruik slegs 250 ml)
JOGURT-GANACHE
200 g donker sjokolade, suikervry indien verkies, in blokkies gebreek
Sowat 60—80 ml (¼-⅓k) natuurlike jogurt
OF
VERSIERSEL
250 ml (1 k) versiersuiker
125 ml (1/2 k) kakao
Rooibostee soos nodig
Blommetjies uit die tuin vir bo-op

Voorverhit oond tot 180°C. Spuit 2 koekpanne, 20 cm in deursnee of ‘n Bundt-koekpan goed met kossproei.
Kry twee mengbakke gereed.
1 KOEKBESLAG Sif die koekmeel, kakao, koeksoda en sout saam in ‘n groot mengbak.
2 Druk die teesakkies goed uit, maak seker dat daar 500 ml (2 k) tee is. Meng die tee, olie en asyn, in ‘n groot bak en roer goed tot alles goed gemeng is.
3 Kook die patats in ‘n klein bietjie water tot sag, voeg die suiker by net wanneer die patats begin gaar word. Roer goed tot ‘n gladde puree wanneer sag (Jy kan ook ‘n stokmenger gebruik om die puree fluweelglad te kry).
4 Roer by die vloeistofmengsel in. Voeg die vloeistofmengsel by die meelmengsel en meng goed deur.
5 Skep in die twee koekpanne of Bundt-pan en bak sowat 30 minute of tot net gaar, maar nog baie effens klam in die middel as jy ‘n toetspen indruk.
6 Keer uit en laat heeltemal afkoel.
6 GANACHE Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond, roer gereeld en roer die jogurt vinnig by om ‘n smeerbare mengsel te maak.
7 Smeer oor die een koeklaag en plaas die ander een bo-op. Skep res van ganache oor en viersier met blommetjies of stapel vars bessies en vye bo-op. (Skep die hele mengel oor die Bundt-koek.)
8 Maak andersins die volgende versiersel: Meng kakao en versiersuiker met ‘n bietjie tee tot stywe pasta (pasop vir te veel tee, dit raak gou loperig) en smeer oor die koek. Plaas opmekaar en versier met blommetjies of vrugte.

Wenk: Met hierdie mengsel gaan jy sowat 54 mini-kolwyntjies gebak kry – bak dit dan vir sowat 18—20 minute.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: