Teen die Weskus beleef ons tans die lekkerste weer. Nie te hittig nie en die wind het vir eers bietjie gaan lê. Met die laaste volmaan het die manne besluit om te gaan uitlê vir die nag. Met die visgerei reg en gewapen met genoeg te ete vir die nag se deursit is hulle so laatmiddag vort, eers om te gaan aas trek as die eilande oopmaak. Teen midernag laat hulle van hulle hoor – ‘n video-oproep vanaf die elflyn met die maan wat silwer strepe oor die kalm waters maak; in die verte skyn die liggies van Saldanha, bietjie nader flikker Langebaan s’n. Wat my opval is die absolute geluidlose nagstilte met net die waters wat gloeg-gloeg kap teen die boot. Dis met die draai van die water wat die elwe begin byt en hulle bring ‘n klompie in – dis nou as die hondhaaie nie die vangs verorber voor hulle die boot haal nie. Teen dagbreek steek die boot sy neus weer huis se kant toe, die bemanning vaakmoeg maar tevrede. Dit laat my dink aan die bekende Bybelverhaal van Jesus wat die 5 vissies en 2 broodjies vermeerder het vir die skare.
By die huis word die vis mooi skoongeskraap en die binnegoed netjies uitgehaal. Net reg vir die pangebraaide vis, wat in meel gerol word voor jy dit in ‘n bietjie olie braai en met ‘n Mediterreense salsa en platbroodjies voorsit. Jy kan ook visbrijani maak nes my voormalige kombuis-assistent, Waleed Alexander my geleer het. Dan is daar ook die lekker viskoekies waarmee jy die oorskiet kan wegwerk. Al hierdie resepte is te kry in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid.
Ek het ook nou onlangs ‘n mooie mandjie met heerlike speserye, onder andere ook saffraan, present gekry al die pad van Mauritius af. Dit laat my dink aan die geurige, dog eenvoudige eilandviskerrie wat ek op die Seychelle geproe het. Die sit ek voor met jogurtplatbroodjies of warmwater-roti’s, ‘n resep wat ek nog by die befaamde Boerekos met ‘n Twist-kok, Annelien Pienaar, ontvang het. Die roti-resep is ook te kry in my Lekker & Goed-boek.
EILAND-VISKERRIE
Jare gelede het ek op die Seychelle-eilande die geurigste kerrie, gemaak met die eenvoudigste bestanddele geproe. Hier is my weergawe.
Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 7 min
Marineer: 15 minute
Gaarmaak: 6—10 min
1 ui, gekap
3 knoffelhuisies, fyngedruk
5 cm gemmerwortel, gerasper
30 ml (2 e) olie
5 ml elk (1 t) elk vismasala, borrie en fyn komyn
Knippie fyn saffraan
2—3 brandrissies, ontpit en gekap
750 g vars vis, ontvel en ontgraat en in stukke gesny
Sout
olie
Skil van 2 lemmetjies, sap van een
25 ml (5 t) tamatiepasta of 3 tamaties, ontvel
Groot handvol gekapte koljanderblare
4 kerrieblare (opsioneel)
45 ml (3 e) geroosterde klapper of semsamsaad (opsioneel)
VOORSIT
Jasmynrys of platbrode
komkommerslaai
1 Meng die ui, knoffel, gemmer, olie, borrie, komyn en saffraan. Skep die kerriemengsel oor die vis en laat staan 15 minute.
2 Skep die vis uit. Verhit nog klein bietjie olie in ‘n pan en soteer die uiemengsel tot sag. Voeg die brandrissie, lemmetjiesap en –skil saam met die tamatie, koljander en kerrieblare by. Prut tot souserig en geurig, so 5 minute.
3 Geur die visblokkies met sout, braai apart in bietjie olie tot effe bruin. Verlaag die hitte, voeg die vis by die uiemengsel en prut tot die vis net gaar is, sowat 3—5 minute.
4 Sprinkel die klapper of sesamsade oor indien verkies en sit voor met jasmynrys of platbrode en komkommerslaai (sien resep).
JOGURT-PLATBRODE
Meng 150 g bruismeel, 150 g volgraam meel, 5 ml (1 t) bakpoeier en 2,5 ml (1/2 t) sout. Roer sowat 350 ml ongegeurde jogurt by om ‘n stywe deeg te vorm. Knie liggies en laat 10 minute rus. Verdeel in 10 bolletjies en rol elkeen in ‘n dun sirkelvorm uit. Braai in ‘n verhitte gietysterpan, sowat 2 minute per kant. Verf alkant met gesmelte pietersieliebotter en sit saam met die kerrie voor.
KOMKOMMERSLAAI
Sny ‘n halwe komkommer en 2 wortels in julienne-repies. Voeg ‘n gekapte brandrissie by. Meng 30 ml (2 e) elk suurlemoensap en sesamolie met 5 ml (1 t) heuning of bruinsuiker en giet oor.