Weskusjuwele

Die Weskus is ‘n spesiale plek met vele weggesteekte juwele – dié ontdek ons so stelselmatig noudat ons permanent teen die Weskus bly. En wat ‘n verrassing toe ek na The Ultimate Guide to the West Coast kyk wat onlangs op Inside Guide in samewerking met Discover Cape Town and the Western Cape gepubliseer is. Daarin is vele plekkies wat ons gereeld by aandoen, maar soos gewildheid van Weskus by die dag toeneem, skiet daar net so gereeld nuwe plekke op wat ‘n besoek die moeite werd maak.

Langebaan, met sy kosmopolitaanse samestelling, heelparty winkels en besighede vorm die kernpunt waarvandaan mens gemaklik die res van die Weskus kan verken. En natuurlik is die akwablou waters van die Langebaanmeer die groot aantrekkingspunt en laat jou nogals sowaar dink jy span op een of ander Griekse eiland uit, veral as jy jou boot by Kraalbaai vasmeer; die Weskuspark met sy blommeprag is nie net ‘n móét-besoek in die lente nie, wintertye is dit heerlik om daar te gaan piekniek hou teen die Weskuswaters. By die La Petite Maison-restaurant in die historiese Farmhouse Hotel word Weskuskos deesdae met ‘n Franse kinkel voorgesit en net bietjie verder af by die Shark Bay Hotel boek ek gereeld in vir ‘n lekker treat en spa-sessie. Daarvandaan het jy ‘n prentjiemooi uitsig oor die meer.

Daar is nog vele eetplekkies, Die mees bekende sekerlik, Pearly’s, met sy uitsoekstaning daar op die sand langs die meer. Vir ons is daar niks lekkerder om sommer net in te val vir ‘n vinnige koffietjie met iets ligs daarby terwyl ons die sakkende son en voëls wat huiswaarts keer gade slaan nie. Hulle is ook onlangs opgeknap en die spyskaart bietjie vernuwe. Trip Advisor gee jou ‘n goeie oorsig van restaurante in Langebaan waar Thoban Chefs, wat veral bekend is vir hul soesji en Asiatiese geregte, bo-aan die lysie staan.

Saldanhabaai se kant toe weer, sal ons gereeld inloer by Cup of Cake vir die lekkerste verkeidenheid koeke waarvoor Sanet Eigelaar groot bekendheid op Koekedoor verwerf het. By Blue Bay Lodge & Resort waar die ou Wicht-opstal omskep is as gasteblyplek, is die lekker groot leerbanke op die windbestande stoep weer die plekkie waarvandaan ons die meer uit ‘n heel ander hoek kan bekyk met die sagte kabbelende waters net klipgooi ver.

Paternoster het geen bekendstelling nodig wanneer dit kom by oulike eetplekke nie, veral Kobus van der Merwe van Wolfgat, het nuwe sterstatus verleen aan die aardse bestanddele en kosse wat die Weskus bied. As die gewoel in die dorpie ons bietjie voos het, val ons graag in by Mondvol-koffiewinkel in Pelgrimsrus waar ons kan kuier op die stoep en aansit vir ligte eetgoed, vars en keurig voorgesit.

Maar dis veral historiese plekke wat my belangstelling prikkel. Velddrif onthou ek as ‘n windverwaaide Weskusdorpie teen wie ons as kinders rugby en netbal gespeel het. Nie veel om oor huis toe te skryf nie. Nou is dit gans en al ‘n ander storie met eiendom wat net al hoe meer gesog raak. Veral die historiese Bokkomlaan met sy rye vishuisies teen die Bergrivier wat nou allerlei eetplekkies huisves, lok baie besoekers. Buiten vir vis en tjips is daar selfs ‘n plekkie soos AVOO Health Café waar jy heerlike heilsame kosse soos bokkombrood en spekboomkoek kan bestel. Ekself kan nie wag om daar te gaan inloer nie.

Ons hou ook daarvan om al langs die see die pad Verlorenvlei en Elandsbaai toe te vat. Soos mens deur Dwarskersbos ry, kry jy Deli on Main wat nou ons gereeld stopplek geword het vir padkos en proviand. By Die Skooltjie-plaasstal kyk ons graag rond vir lekker konfyte en dan is dit hef aan Verlorenvlei toe – Vensterklip toe waar Jane Louw saam met haar span towerkos in die allermooiste historiese plaasskuur opdis.

Digby Langebaanweg, is daar die Fossielpark wat nou spog met ‘n pragtige moderne besoekersentrum en museum en beslis ‘n besoek werd is. Dan is daar iKhwattu-Nature Reserve, waar mens ‘n leef- tot eetervaring eie aan die San–kultuur kan meemaak. Dit bly my gunsteling afdraaiplek, veral nou dat hul ook spog met ‘n pragtige nuwe gebou en uitstallings wat die San-kultuur uitbeeld. Maar dis veral die San-geïnspireerde etes wat die begeesterde jong sjef, Werlise Rautenbach so kreatief en keurig met “foraged” en plaaslike produkte bymekaarsit, wat my weer en weer sal laat teruggaan om net nog meer en meer te ontdek. Ek heg die huidige spyskaart hierby aan, maar hulle is reeds besig om te werk aan ‘n nuwe herfs-spyskaart, laat weet Werlise my. Later gaan ek ‘n gereg of twee deel.

Daar is nog vele meer juwele, so gaan loer gerus verder op Inside Guide.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: