Smul aan rys

Ek was bevoorreg om laas week die gesprek te lei by een van die boekbekendstellings van Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren se boek, Daar’s ‘n vegan op my VERANDAH (gespel met ‘n H ja!). Geskoei op plantaardige kosse maar beslis nie net vir vegans nie. Daar’s meer as genoeg resepte wat as bykos op tafel of as ligte ete kan dien. En soos ek nou al so baie keer genoem het, plantaardige kosse vra vir heelwat geurgoed en dis wat ek telkens raaklees in elk van die resepte in hierdie boek. Die gevulde pampoen-resep met sy geurige bruinrysvulsel vang my oog en raak die inspirasie op ‘n Sondagmiddag om vinnig iets soortgelyks voor te sit op my stoep onder die lattedak.

‘n Heel pampoen het ek nie, wel ‘n paar botterskorsies wat ek geur gee met uie- en knoffelpoeier voordat ek dit sommer in die lugbraaier gaarmaak. Dis deesdae nog makliker om te doen met die dat mens nou bio-afbreekbare “air fryer liners” kry, so die lugbraaier maak sonder moeite skoon. (Die kan terloops ook in die oond, mikrogolf en stomer gebruik word).

Ek hou my groot versameling Carmién tees in ‘n Franse broodblik wat met sy mooi blou ontwerp pronkerig op my koskas staan. Ek kies die Focus met sy masala chai-speserye van kaneel, kardemom, borrie en gemmer om die rys in gaar te maak. Dit gee ‘n sagte geurigheid aan die rys so mens het nie veel meer nodig nie. Daarby roer ek verskeie groentes na hartelus in.

Dis nou ook al ‘n geruime tyd wat ek verskeie resepte wat voedingsgisvlokkies (nutritional yeast) bevat, raaklees. Maar dis nogals my uitgangspunt dat ek nie resepte plaas as mens nie die bestanddele geredelik in ‘n supermark kan kry nie. Toe ek dus nou die dag my hande op ‘n pak voedingsgisvlokkies kan lê by Food Lovers Market het ek dit dadelik ingespan om die neutparmesaan wat in Louis en Isabella se boek is, uit te probeer. ‘n Strooisel daarvan was net reg om die geurige rys tot nuwe hoogtes te verhef.

ROERBRAAIRYS MET LUGBRAAIER-BOTTERSKORSIE

Genoeg vir 4—6 me
Bereiding: 15 min
Gaarmaak 40 min

BOTTERSKORSIE
5 ml (1 t) elk knoffel- en uiepoeier
20 ml (4 t) olyfolie
2 botterskorsies, in skywe gesny en pitte verwyder (nie nodig vir skil nie)
ROERBRAAIRYS
Olie
2 uie, in ringe gesny
3—4 knoffelhuisies, fyngerasper
375ml (1½ k) Spekko basmati-, Jasmyn of selfs bruinrys
Sowat 625 ml (2½ k) Carmién Focus-rooibostee, gemaak met 4 sakkies
1 stok pypkaneel (opsioneel)
Sout
Halwe kop broccoli en/of blomkool, in blommetjies gebreek
Sowat 4—6 spinasieblare, in dun repe gesny, stele en al
Handvol pampoenpitte
Neutparmesaan (sien resep)

1 BOTTERSKORSIE Meng die knoffel- en uiepoeier met die olyfolie.
2 Pak die botterskorsie in ‘n bak en stip die olyfoliemengsel oor. Vryf die mengsel in die botterskorsieskywe in.
3 Plaas ‘n “air fryer liner” in die bak van die lugbraaier en pak die botterskorsie-skywe in ‘n enkellaag daarin.
4 Lugbraai vir sowat 20 minute of tot die botterskorsie gaar en lekker bros is. Gee die bak ‘n lekker skud of draai die skywe om halfpad deur die proses. Hou eenkant.
5 ROERBRAAIRYS Verhit bietjie olie in ‘n braaipan. Braai die uie en knoffel tot sag. Voeg die rys by en meng goed deur.
6 Giet die tee by en voeg die pypkaneel by indien verkies en geur met sout na smaak. Verlaag die hitte, plaas die deksel op en laat prut tot die rys bykans sag is.
7 Voeg dan die broccoli- en/of blomkoolblommetjies asook die spinasierepies by. Bedek weer en laat prut tot rys heeltemal sag en tee heeltemal verdamp het met die groente steeds lekker bros.
8 Skep uit in groot plat dienbord met die botterskorsie langsaan of bo-op. Sprinkel die pampoenpitte en neutparmesaan oor en rond af met ‘n takkie of wat vars kruie.

NEUTPARMESAAN

250 ml (1 k) rou ongesoute kasjoeneute, amandels, dennepitte of selfs grondbone
60 ml (4 e) voedingsgisvlokkies (nutritional yeast)
3,75 ml (¾ t) gerookte seesout
5 ml (1 t) knoffel- en uiepoeier
Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker en pols tot jy ‘n mengsel met ‘n korrelrige tekstuur het (moenie te lank pols nie, dan maak jy neutbotter). Skep in ‘n skoon fles en hou in die yskas.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: