Nes ek dog die warmer weer is uiteindelik hier, tref die ergste storms denkbaar groot dele van die land. Langebaan het die omgekrapte weer grotendeels vrygespring met slegs ‘n stewige wind en ‘n sagte reëntjie wat vir ‘n tydjie neergesif het. Wel lekker koud en dit gaan nog vir ‘n wyle so wees. Dis toe dat ek besluit daar’s steeds tyd vir sop kook, weliswaar sekerlik nou nie meer dik bonkige bone- of ertjiesop nie, maar ‘n geurige tamatievissop is net wat mens nodig het terwyl die koue vir oulaas sy kloue inslaan.
TAMATIE-SOP
Dié geurige vissop is binne ‘n ommesientjie klaar.
GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 15-20 min.
SOP
60 ml (¼ k) suurlemoensap
500 g stewige wit vis soos geelstert, grate verwyder en in stukkies gesny
3 knoffelhuisies, fyngekap
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
’n bietjie olyfolie
250 ml (1 k) ui, gekap
1 rooi soetrissie, gekap
1 klein brandrissie, pitte verwyder en gekap
5 ml (1 t) paprika
500 ml (2 k) gekerfde vars tamaties
30 g koljanderblare, gekap (hou ’n bietjie vir garnering)
1 blik (400 g) ligte klappermelk
KAMMANAAN
1 kg winkelbrooddeeg
knoffelbotter
1 SOP Sprinkel die suurlemoensap oor die vis tot dit bedek is, en sprinkel die knoffel oor. Geur na smaak met sout en swartpeper. Verkoel.
2 Giet ’n bietjie olyfolie in ’n groot kastrol; verhit oor lae hitte tot warm.
3 Voeg die ui by; roerbraai tot sag. Voeg die soet- en brandrissie by en geur met die paprika. Roerbraai tot sag.
4 Voeg die tamaties by, kook 5 min. en voeg die koljanderblare by.
5 Skep die helfte van die groente uit, rangskik die vis in die kastrol op die oorblywende groente en geur met nog sout en swartpeper indien nodig.
6 Voeg die klappermelk by en laat prut 5 min. Voeg die orige groente weer by en laat prut tot warm.
7 Giet in ’n opdienbak en garneer met die orige koljanderblare.
8 KAMMANAAN Verdeel die deeg in 8 bolletjies en rol sowat 2 mm dik in ’n traanvorm uit.
9 Bespuit ’n gietysterpan met kossproei, verhit en braai 1-2 min. per kant tot bruin kolle verskyn.
10 Smeer die knoffelbotter oor en sit voor saam met die sop.
Varknek-vleisstukke & Slaai
Steeds in die gees van Braaidag, is dit seker net gepas dat ons ook ‘n tjoppie of wat op die vuur gooi. Iemand vra my juis nou die dag of ons dan nooit braai by die huis nie. Sjoe, dit het my nogals laat wonder of dit lyk of ons nie juis ‘n vuurtjie pak nie, want eintlik is die teendeel so waar. Ons hou daarvan om kos oor die kole gaar te maak en kuier dat tog te gesellig op die agterste stoep terwyl ons wag dat die stompies kole maak. Dan dek ek ook sommer net daar op die ou houttafel neffens die vuur en geniet ons spyse saam met ‘n Piekenierskloofwyntjie. (Spesiaal vir daardie buitetafel se dek het ek nou juis ook ‘n paar tafeldoeke, met passende servette gemaak wat ideaal werk vir buitedek – die materiaal is van so ‘n aard dat dit nie net maklik afvee nie maar ook die buite-elemente kan weerstaan). Vir meer detail gaan besoek Swier se webblad.
VARKNEK-VLEISSTUKKE MET BLOUKKAASSOUS
Wanneer ons braai, geniet ek veral ‘n varktjoppie – veral ‘n varknetktjoppie geval my nogals want agv. die lekker marmering is dit altyd sappig. Maak dit spoggerig met ‘n heerlike bloukaassous daarby, want bloukaas en vark is lekker maats.
GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 5-8 min.
(Sous)
Braai: 10 min. (vleisstukke)
BLOUKAASSOUS
250 ml (1 k) vars room
70 g bloukaas, gekrummel
2 knoffelhuisies, fyngerasper
15 g groen swartpeperkorrels
Swartpeper na smaak
VLEISSTUKKE
4-6 varknek-vleisstukke, lekker dik gesny
Olyfolie
Vars gemaalde pienksout en swartpeper na smaak
SLAAI
’n Paar roketblare
50 g bosbessies
100 g feta
’n Paar babatamaties
1 avokado, met ’n lepel in bolle geskep
olyfolie
Balmasieke asyn
15 ml Dijon-mostert
15 ml (1 e) heuning
Sout en peper
50 g geroosterde sade
1 SOUS Verhit die room in ’n klein kastrol oor lae hitte. Voeg die bloukaas, knoffel en peper by.
2 Laat prut sowat 5-8 min tot geurig en lekker dik. Hou eenkant.
3 VLEIS Sorg dat die kole lekker warm is (Andersins verhit ’n riffelpan oor hoë hitte tot rookwarm.)
4 Vryf die steaks alkant in met olyfolie, besprinkel met sout en peper.
5 Braai eers op die vetkant tot bruin en braai dan alkant tot mooi bruin en net-net gaar (nuwerwetse vark kan nou ook effe aan die pienk kan binne bedien word).
In die riffelpan braai aan een kant tot die steaks loskom van die pan; draai om en braai weer tot dit loskom.
6 Laat rus sowat 3 min. en sit voor saam met die sous.
7 SLAAI Rangskik al die slaaibestanddele op ’n bord.
8 Maak ‘n vinnige slaaisous deur helfte-helfte olyfolie en balsamieke asyn te meng met die mosterd en heuning. Geur goed met sout en peper en meng goed saam. Giet oor die slaai en sprinkel die saadmengsel oor. Sit voor saam met die vleissukke.
Trots Suid-Afrikaans (en ons cheer vir die Bokke)
In ons jonger dae het ons luidkeels saamgesing as die gewilde kar-advertensie op TV of oor die radio gespeel is: Braaivleis, rugby, sonneskyn en Rover Defender was toe baie gepas en is eintlik meer so vandag, veral nou wanneer ons een en almal bankvas agter die Bokke staan tydens die Wêreld-rugbybeker. September is ook Erfenismaand waartydens ons met trots oor alle groepe heen ons afkoms gedenk. Die maklikste manier sekerlik is om dit met kos te vier. Aangesien dit terselfdertyd ook Braaidag is, steek ek graag ‘n vuurtjie aan en braai ‘n worsie – die Championship Boerewors van Checkers, want waarlik vanjaar se wors is werklik tops.
Pleks van paptert maak ek klein mini-happies met die tert, smeer ‘n tuisgekookte blatjang oor met bo-op die worsie – Hemels en net reg om aan te peusel terwyl mens die rugby geniet, want ja, weet nie of dit by julle ook die geval is nie – daar moet nie te veel steurnisse wees tydens die game nie.
Terug na die blatjang – ek het die laaste tyd nogals weggeskram van blatjang aangesien dit so baie suiker in kry, maar by die een gee dadels meeste van die soetheid en voeg jy verhoudelik bitter min suiker by, veral as jy dit begin vergelyk met oorspronklike blatjangresepte. Om die dadels in sag te kook gebruik ek die Revive van Carmien wat ook brandrissie en gemmer inkry – dan hoef jy glad nie nog daarmee ook te staan en sukkel nie. Dit vra dan net alles bymekaargooi en meng om te verhoed dat dit aanbrand. So op die ingewing van die oomblik het ek teen die einde bietjie gekapte koljanderblare bygeroer wat vir my die kersie op die koek was.
Heerlik saam met pap en wors of op ‘n braaibroodjie of selfs ‘n toebroodjie saam met kaas of ham.
TOMATO CHUTNEY
Dates are the main sweetener in this chutney, meaning that you can cut back hugely on added sugar. Boil the dates in Carmién’s Revive rooibos tea to soften them before adding the rest of the ingredients. The ginger and chilli in the tea adds more than enough flavour, all it still needs is some mustard seeds, salt and pepper and yes, I love to add a good handful of chopped coriander at the end. Ideal to serve on mealie pap bites, a braaibroodjie or on a sandwich with a piece of ham.
Makes about 1 litre of chutney
Preparation time: 15 min
Cooking time: about 11/2 hours
500 ml (2 c) chopped dates
Pinch of bicarbonate of soda
500 ml (2 c) strong Revive rooibos tea from Carmién with ginger & chilli, made with 12 tea bags
1 kg ripe tomatoes, chopped
4 onions, finely chopped
15 ml (1 T) grated garlic
10 ml (2 t) salt
5 ml (12 t) black pepper
15 ml (1 T) yellow mustard seeds or mustard powder
160 ml (⅔c) brown sugar
375 ml (1½ c) apple vinegar
5—10 ml (1—2 t) soy sauce
20 g chopped coriander leaves
1 Place the dates in a large saucepan, sprinkle with bicarbonate of soda and add the warm rooibos tea. Bring to the boil and cook until the dates is almost cooked in a puree.
Then add the rest of the ingredients except the coriander leaves and bring to the boil while continuously stirring making sure all the sugar is dissolved before the mixture starts to boil.
2 Lower the heat and cook for about 60-90 minutes until the mixture thickens and is no longer watery or runny when dripped from a spoon. Stir every now and then to prevent the mixture from burning and catching on the bottom of the pot. Stir in the coriander leaves about 10 minutes before the end of the cooking time.
3 Spoon into sterilized jars and seal.
4 Serve with mealie pap and boerewors bites or use as a braai sauce for chicken wings.
MEALIE PAP BITES WITH TOMATO CHUTNEY AND BOEREWORS
Cooking mealie meal in green rooibos tea (available at Carmién) adds a nice herbal taste to the pap. Spoon the ‘stywe pap’ in small muffin tins to make small bites. Top it with chutney and serve with a bite of boerewors – I just love the 2023 Championship Boerewors of Checkers/Shoprite.
Makes about 32 bites
Preparation time: 30 min
Cooking time: 20—30 min
MEALIE PAP BITES
1 litre water
6 bags Carmién green rooibos tea
375 ml (1½c coarse mealie pap or braaipap)
Salt to taste
30 ml (2 T) butter
100 g medium hard cheese eg pecorino, grated
1 tin (400 g) whole kernel corn, drained
TO SERVE 500 g Championship Boerewors
Basil leaves or Italian parsley
PAP
1 Bring the water to the boil in a large pot, add the green rooibos tea bags and let steep for 3 minutes. Remove the bags.
2 Add the mealie pap in a thin stream while whisking with a wire whisk. Cook slowly over medium heat with the lid half on for about 15 minutes, stir occasionally.
3 Stir in the butter, grated cheese and whole kernel corn.
4 Oil the hollows of about 2 mini- muffin pans and fill the hollows generously with the pap mixture. Leave to stand overnight or for a couple of hours until firm.
5 TO SERVE Braai the boerewors over medium hot coals till just done and still juicy. Allow to cool, then slice in bite-size pieces.
6 Remove the tartlets from the pan and turn them upside down.
7 Spread with a layer of tomato chutney, top with a basil or parsley leaf and finish with a piece of boerewors.
8 Arrange the bites on a large serving platter and enjoy with drinks. Serve at room temperature.
CHICKEN WINGS ON STICKS
Makes 8—12 bites
Preparation time: 10 min
Cooking time: 15—20 min
8—12 chicken wings
salt
Tomato chutney
1 “Thread” a chicken wing on a sosatie stick and season with salt.
2 Mix the chutney with a little bit of water and brush over the wings.
3 Braai over medium coals till cooked and brown. Repeat with the chutney from time to time and turn frequently.
4 Serve with extra chutney.
Dis rugby-wêreldbekertyd
In my huis heers daar ‘n groot opgewondenheid, uiteindelik is die wag verby en het die groot oomblik aangebreek – die langverwagte rugby-wêreldbeker! Ons almal is vurige rugby- en veral Springbok-ondersteuners en veral nadat ons die All Blacks onlangs so ‘n goeie drag slae gegee het, is ons vol hoop dat die wêreldbeker weer vanjaar sy staan in Suid-Afrika mag kry. Maar ja, baie kan gebeur, al wat ek nou weet is sedert die afskop laas Vrydagaand word alle aktiwiteite in ons huis rondom die wedstrydskedules geskeduleer. Want ja, daar word nie net hard en luid vir die Springbokke geskree nie, ALLE wedstryde word bekyk om jou in detail te vergewis van alle teenstand. Hier in die middel van die stryd, is ons nou vir ‘n wyle weg Botswana toe, maar ek hoor alreeds hoe word daar plan gemaak om êrens ‘n plek te kry om te minste die Springbokke in aksie te sien. Ons is darem betyds weer terug wanneer die aksie nou rerig begin.
Om almal in die gees te kry, maak ek graag ietsie om tydens rustyd te geniet of sommer ook vir wanneer die senuwees bietjie erg te begin knaag tydens die wedstryd.
KOFTAS MET UIE-HUMMUS EN PLATBRODE
Hierdie langwerpige frikadelle kan jy ook op ‘n stokkie ryg en selfs oor die kole te rooster. As jy so wil maak, sal ek voorstel dat jy die frikkadelmengsel aanmaak, aan die stokkies ryg en dan in die yskas sit vir ‘n wyle. Sodoende kan jy verhoed dat hulle nie onnodig breek tydens die omdraaiery op die rooster nie. Maar jy kan die stokkies ook in ‘n toeklaprooster pak. Dis heerlik geurig en die ideale peuselkos saam met hummus en ‘n tuisgemaakte platbrood wat jy sommer in ‘n riffelpan op die stoof gaarmaak.
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 30 min
Gaarmaak: 30 min
PLATBRODE
150 g bruismeel
150 g volgraanmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
2 ml (½ t) sout
Sowat 350 ml natuurlike jogurt
Pietersielieknoffelbotter vir oorverf
FRIKKADELLE/KOFTAS
500 g beesmaalvleis
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 eier
5 ml (1 t) elk fyn kaneel, koemyn en paprika
Sout en peper na smaak
20 ml (4 t) worcestersous
60 ml (4 e) vars broodkrummels, geweek in 60 ml (4 e) water
30 ml (2 e) gekapte platblaarpietersielie
60 ml (¼ k) gekapte koljanderblare
olie om in te braai
HUMMUS
1 ui, gekap
olie
1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer
2 knoffelhuisies, fyngedruk
50 ml olyfolie
25 ml (5 t) suurlemoensap
60 ml (¼ k) tahini (sesamsaadpasta)
5 ml (1 t) fyn komyn
sout en peper
60 ml (¼ k) kookwater
VIR VOORSIT
roket
olywe en lemmetjies
1 Platbrode Meng die droë bestanddele; roer net genoeg jogurt by om ’n stywe deeg te vorm. Knie liggies en laat dit 10 min. rus.
2 Verdeel in 10 bolletjies en rol elkeen in ’n dun sirkel uit. Braai in ’n verhitte gietyster-riffelpan, sowat 2 min. per kant. Verf alkant met gesmelte botter.
3 Frikkadelle Meng al die bestanddele en vorm langwerpige frikkadelle. Braai in ’n bietjie verhitte olie tot bruin, plaas die deksel op en verhit tot gaar. Ryg elkeen aan ’n stokkie.
4 Hummus Braai die ui stadig in ’n bietjie verhitte olie tot goed gekaramelliseer. Laat effens afkoel en verwerk in ’n voedselverwerker saam met die res van die bestanddele tot ’n gladde, romerige pasta.
5 Vir voorsit Pak die frikkadelle saam met die platbrode op ‘n groot bord of houtplank uit en sit voor saam met hummus, roket, olywe en skyfies lemmetjies om bo-oor te drupel.
MAAK SPORE KERAMIEK
Dierespore is uniek van die Napierse beeldhouer, Nelis Singels, se reeks handgemaakte keramiekware wat hy heel gepas “Maak spore” gedoop het. Dié ekoloog gebruik sy ruim kennis van die natuur- en dierelewe om sy stempel op sy eiesoortige kunswerke af te druk. Diere soos ystervark, skilpaaie, groot grys muishond en duiker pronk statig op die borde saam met inheemse plante, baie keer dit wat die spesifieke dier eet. Maar die uniekheid van hierdie borde lê veral in die voetspore wat saam met die lynsketse van die diere op die borde pryk. Nelis is veral lief vir spoorsny (waarvan mens veral ook afleidings kan maak wat help om diere se gedrag te bepaal). Vir sy kunswerke maak hy gipsafdrukke van die spore wat hy in die veld rondom Napier vind. Dit dra hy dan op die “regte manier” (bv van hoe die dier sal loop) op keramiek oor – nogals ‘n ingewikkelde proses wat baie presiesheid en kundigheid verg as ek hom reg beluister.
Dié borde is almal uitstalmooi, maar net so ideaal om jou geregte pragtig in voor te sit en sal beslis ‘n tafelgesprek of twee ontlok. Ekself gebruik graag die borde om veral groentegeregte in voor te sit, want dit voel vir my gepas saam met die natuurlike elemente. Buiten vir die resep vir die filogroentetert wat ek hier verskaf, is die ander heerlike groenteresepte almal te kry in die uitgawe van 31 Augustus 2023 van Huisgenoot en YOU.
Ook in die reeks is koffie- en espressobekers asook melkbekers en vase, veral die renosterveld-reeks is baie indrukwekkend met plantegroei en lyntekeninge van tipiese voëls en diere wat jy in die Napier-omgewing sal vind. Op die nuutste borde is daar ook plantegroei-afdrukke saam met die spore.
Nelis het ‘n boetiekstudio in Sarel Cilliersstraat in Napier waar mens sy werke (ook unieke beeldhouwerke) kan besigtig of gaan loer op sy webblad: ReWildArt. Hy hou ook verskeie uitstallings elders soos by Imoff-plaas in Kommetjie asook in Rondebosch, Greyton Art Walk en Creative Napier Pop-up Art en is veral opgewonde oor die uitstalling by die bekende Glen Carlou-wynplaas buitekant Klapmuts teen die einde van die jaar waar hy van sy keramiekborde sowel as beeldhouwerke gaan uitstal.
‘n Heerlike nuutjie is ‘n unieke geleentheid om op Saterdag 16 September saam met Nelis die natuur in te vaar en eiehands te ervaar hoe hy afdrukke van die voetspore vir sy keramiekware maak en dit dan omskep in kuns. Vir meer inligting skakel Nelis by +27 79065 8664 of besoek sy webblad ReWildArt.
FILOGROENTETERT
Slegs die kors, waarvoor ek sommer filodeeg gebruik, word gebak. Vinnig en maklik om te maak vir wanneer gaste onverwags opdaag en ideaal saam met ‘n skemeraand wyntjie of by ‘n vinnige koffie.
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 20—30 min
FILOGROENTETERT
4 velle filodeeg
Gesmelte botter of kossproei
VULSEL
Sowat 100 g sterk Cheddarkaas, gerasper
Olie
1 rooi ui, gekap
125 g spekvleis, in stukkies gekap
250 g sampioene, kleiner gesny
1 eiervrug, in klein stukkies gesny
4 gepiekelde songedroogde tamaties, opgekap
Handvol vars kruie soos basilie en platblaar-pietersielie
Spatsel balsamieke asyn en sojasous
Groot handvol swart en groen olywe
Paar langsteel kappertjiesade
Vars basilieblare vir afronding
Voorverhit die oond tot 180°C. Suit ‘n langwerpige losboom-tertpan met kossproei.
1 Smeer elke vel filodeeg met botter of spuit met kossproei en plaas binne-in die voorbereide tertpan. Bak sowat 15—20 minute lank of tot gaar en goudbruin. Sprinkel die kaas oor die kors.
2 Verhit bietjie olie in ‘n pan ben braai die spekvleis, sampioene en eiervrug tot gaar en bruin.
3 Voeg die tamaties en kruie by en meng deur, geur met ‘n spatsel asyn en sojasous.
4 Meng die olywe by en verhit tot warm.
5 Skep die groentemengsel op die kaas in die filotertkors en plaas net weer vinnig in die oond tot die kaas gesmelt is, sowat 10 minute lank.
6 Rond af met kappertjiesade en basiliekruidblare.
Kook met kruie
Dit bly steeds vir my ‘n wonderwerk hoe alles in die planteryk baldadig aan die groei gaan sodra die lente aanbreek. Deur die winter moes ek my maar grotendeels verlaat op sakkies winkelkruie, maar nou het ek opnuut weer vir my ‘n lekker lot basiese kruieplantjies aangeskaf waarmee ek tog alte lekker in die kombuis woeker. Deesdae hou ek hulle sommer in potte wat ek op die kombuisvenster staanmaak, lekker naby vir wanneer ek kook. En soos ek alreeds voorheen genoem het, hou ek veral daarvan om verskillende soorte pesto’s daarmee te maak, want ja, die moontlikhede raak net nie op van hoe jy dit kan afwissel na gelang van watter soort kruie jy gebruik nie.
So kry ek ook mos gereeld sulke bevliegings waar ek my vir lang tye omtrent sal vergryp aan een tipe kos – my nuuste gier is ‘n tipe Caprese saad-volkoringbroodjie — dikgesmeer met basiliepesto en gelaai met skyfies tamatie, miskien ‘n slaaiblaar of roket met skyfies kaas en afgerond met ‘n basilieblaartjie of twee. My mond water sommer al weer soos ek hier skryf.
Die pesto’s kan egter met groot sukses ingespan word om vinnig geur te gee as jy kook. Ek is juis nou besig om ‘n paar resepte uit te toets vir wat ons wil maak tydens ons Botswana-trip einde van die maand waar alles of gebraai, of in ‘n pot gaargemaak moet word. My uiters gewilde oondgebakte Franse hoender het ek juis toe verwerk dat hy net so goed in ‘n pot werk deur pesto saam met die wyn te meng waarin die hoender dan moet marineer. Toe ek egter die pesto wil maak, kon ek nêrens koljander op kort kennisgewing opspoor nie (dit is nou een ding wat ek nie tuis gekweek kan kry nie, al het Cass Abrahams altyd gesê dit groei soos hare op ‘n hond se rug). Gekoopte koljanderpesto is toe maar al uitweg.
Maar pesto wil ek maak – my NutriBullet staan nie verniet permanent op die kombuistafel slaggereed vir gebruik nie. Ek werk vinnig deur my lot kruie en besluit om ‘n tipe Thaise pesto te maak met ment en pietersielie – en hoe lekker is dit toe nie – net reg om hoenderfilette mee geur te gee, maar van lamstjoppies of vark tot verskeie groentes soos groot bruinsampioene sal net so goed daarmee werk.
THAISE PESTO
3 knoffelhuisies, geskil
3 cm stuk gemmerwortel, fyngerasper
1 suurlemoen se gerasperde skil en sap
Sowat 20 g pietersielie (hoef nie Italiaanse platblaar te wees nie)
10 g mentblaartjies
Goeie skoot soesjie-asyn (rys-asyn)
Sowat 30—45 ml (2—3 e) sojasous
100 g sonneblomsade
Sowat 100 ml (of meer) olyfolie
1 Plaas al die bestanddele buiten die sonneblomsade en olyfolie in die NutriBullet en verwerk tot goed fyn.
2 Voeg die sonneblomsade en olie by en verwerk tot die sade bykans fyngekap is maar steeds effe grof.
3 Geur met sout indien nodig en skep in ‘n skoon botteltjie. Hou verkoel.
EENSKOTTEL-PESTOHOENDER
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20 min
4 hoenderborsies, ontbeen en velletjies verwyder
Sowat 250 ml (1 k) Thaise pesto
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
olie
450 g vars jong groenbone of 200 g baba-spinasieblare
250 g kersietamaties, gehalveer indien verkies
parmesaankaas vir bo-oor sprinkel (opsioneel)
1 Sny die hoenderborsies in repies en plaas in ‘n mengbak. Voeg die pesto by en meng deur. Laat staan te minste ‘n halfuur lank.
2 Geur met sout en peper.
3 Verhit bietjie olie in ‘n groot pan en braai die hoenderrepies vinnig daarin tot net gaar.
4 Voeg die groenbone of spinasie saam met die tamaties by en roerbraai tot goed warm en die tamaties effe oopgebars het. Geur met nog sout en peper soos nodig.
5 Skep op in ‘n bak en rond af met skaafsels parmesaan indien verkies. Sit voor met stywe mieliepap of polenta of selfs pasta.
Dis lente
Uiteindelik is dit September en amptelik lente! Hier teen die Weskus is die weer nog maar deurmekaar, en ons het alreeds ‘n paar hittige dae beleef net om dan weer opgevolg te word met yskoue reëndae of ‘n vinnige buitjie teen so laataand se kant. Rondom my, in die oop veldjie oorkant die huis en teen die koppie op, is die veld oortrek met ‘n blommekleed. Oranje, goudgeel; met spatsels pers en blou tussen-in. Jy kan nie ophou kyk na die mooi nie (ons het nie eens nodig om ‘n tree te ry om die blommeskouspel te beleef nie). Selfs my vetplant-tuintjie voor die huis is uitspattig getooi in veral bondels pers met die olyfbome en lourierboom wat baldadig hul nuwe groei wys. Vroegoggend kuier die voëls reeds in die tuin en as ek die agterdeur oopskuif, begroet ‘n pienk-oranje ligskynsel vanuit die ooste my. Dan weet ek, nou kan ek maar weer begin slaai maak – van altyd af mos nog een van my gunsteling kosse en tog so maklik om aanmekaar te timmer.
Lenteslaai
Hierdie eenvoudige slaai met lekker baie groenigheid smaak heerlik met ‘n sitrusslaaisous (ek het juis oor die naweek nog die lekkerste lemoene en sagtesitrus van die plaas af gekry). As jy wil, kan jy ‘n paar skyfies lemoen ook by die slaai inmeng.
Dis tog alte maklik om krakelinge te maak met sade en neute in – saam met ‘n kasie rond dit die slaai perfek af en is net reg vir ‘n ligte middagete.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 10 min
LEMOENMOSTERD-SLAAISOUS
125 ml (1/2 k) lemoensap
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) soesji-asyn
30 ml (2 e) olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) korrelmosterd
5 ml (1 t) Dijonmosterd
15 ml (1 e) heuning
45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment (opsioneel)
Sout & varsgeknakte peper na smaak
KRAKELING
125 ml (½ k) sonneblomsade
125 ml (½ k) pampoensade of amandelvlokkies
Groot handvol bruinsuiker
Spatsel balsamieke asyn
SLAAI
250 g vars jong groenbone, gehalveer indien nodig
1 pak (250 g) baba-spinasie en/of roketblare
Paar gekleurde jong bete en/of radyse, in dun skyfies gesny of andersins ‘n paar lemoensegmente
Halwe wiel camembertkaas of ‘n rol roomkaas, in wiggies of skyfies gesny
1 SLAAISOUS Plaas al die bestanddele in ’n beker en meng goed met ‘n staafmenger.
2 KRAKELINGE Plaas die sonneblom- en pampoensade saam met amandelvlokkies in ‘n droë pan en braai tot dit net-net ‘n ligte goudbruin kleur het – skud die pan gereeld en pasop vir aanbrand.
3 Sprinkel die suiker en asyn oor en verhit tot die suiker net-net gesmelt het.
4 Giet die mengsel op ’n silikoonmat of met oliegesmeerde pannetjie uit en laat afkoel tot hard.
5 Giet kookwater oor die bone en verhit tot effens versag maar nog baie bros. Verfris onder koue water. Giet bietjie van die slaaisous oor.
6 Rangskik die blare en groenbone op ’n opdienbord.
7 Sprinkel van die beet- en/of radysskyfies oor.
8 Plaas die camembert of roomkaas bo-op.
9 Kraak die krakeling in stukke en sprinkel oor die slaai.
11 Sprinkel van die slaaisous oor en sit voor met res van die slaaisous.
Kampioen van kampioene
Vir ‘n volle 31 jaar is ek nou al bevoorreg om deel te wees van die paneel beoordelaars wat jaarliks die nuwe Championship Boerewors van Checkers en Shoprite moet aanwys. Toe ek vir die soveelste keer die nou al bekende beoordelingsleêr vashou met kriteria wat ek nog help opstel het, het ek net weereens besef hoe wonderlik dit is dat ons as Suid-Afrikaners weet die oomblik as ons ‘n Boerewors braai, dit nie enige snaaksighede gaan bevat nie, maar pure vleis is, want daar is wetgewing wat bepaal wat alles in ‘n Boerewors mag wees – 90 persent vleis waarvan nie meer as 30 persent vet mag wees nie. Jy kan bees, vark of lamsvleis gebruik of ‘n kombinasie daarvan. Vir my moet ‘n Boerewors lekker sappig wees en nie te vetterig nie; maar dis veral die kombinasie van ‘n noukeurige mengsel speserye wat vir my die knoop deurhaak. Mens kan nie dink dat ‘n basiese mengsel speserye soos koljander, sout, peper en bietjie naeltjies met miskien ‘n titsel tiemie by, soveel gedaantes kan aanneem en die keurige verhouding daarvan ‘n groot rol speel in die wenwors aldan nie.
Vir ons beoordelaars, Zanele van Zyl, Martin Cobald, Zola Nene, Jeff Schueremans en James Koza, president van die chefs assosiasie, en myself is die beoordelingsproses ‘n ernstige storie en daar is ‘n lang stel kriteria waaraan die rou sowel as gaar wors moet voldoen en die hele proses word noukeurig geoudit. Elke wors het ‘n nommer, en dit is wat ons beoordeel, nie die deelnemer nie. Vir ons as beoordelaars is dit net so ‘n verrassing wie die wenner is.
Oor die jare het ek ook nou al geleer om so langs die kant aantekeninge te maak oor watter wors my smaakkliere prikkel en dan is dit baie interressant om te kyk of die rou wors wat jou oog gevang het, wel tot die reg gekom het nadat dit gebraai is en inderdaad toe die paal gehaal het.
Vanjaar se wennerswors het in alle opsigte weer alle boksies getiek. Die wenner, die 31-jarige Tyron Adams, ‘n boorling van Wellington, is immers ook ‘n sjef wat sy sjefskunsies en geurprofiele ken. Tweede was Eddie Hawkes van Brackenfell en in die derde plek Gustav Piek van Wellington. Die bemarkingsbestuurder, Ilze Bylos, het hul pryse oorhandig.
Nog ‘n verrassing by vanjaar se kompetisie was dat die Suid-Afrikaanse sjefs-assosiasie wat die beoordelingsproses en braaiery koordineer, Pieter Engelbrecht, Shoprite Checkers se uitvoerende hoof, as erelid ingelyf het van die assosiasie.
Shoprite Checkers laat ook nie op hul wag nie – teen so vroeg as 8 September kan julle al die nuwe wenwors op die winkelrakke verwag, net betyds om ‘n worsie op die kole te gooi as die Springbokke in die Wêreldbeker speel.
Hoe hou ek van my boerewors?
Net-net gaar gebraai, met ‘n lekker bros buitekant, maar sappig binne en daarmee saam ‘n geurige tuisgemaakte tamatiesous, oftewel sheba. Hier is my weergawe van sheba wat ek graag ook saam met phutu-pap voorsit.
SHEBA
1 groot ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
60 ml (¼ k) olie
250 ml (1 k) kombinasie van 1 eiervrug, 1 soetrissie en 2 klein wortels, in klein blokkies gesny
750 g ryp rooi tamaties, grof gekap
Paprika en rooipeper
50 ml appelkooskonfyt of suiker na smaak
Sout en skootjie rooiwyn en asyn na smaak
SOUS Braai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag, voeg die groente by en braai tot sag. Voeg die tamaties by, geur met sout, bietjie paprika en rooipeper, verlaag die hitte en prut tot ‘n geurige sous. Roer die appelkooskonfyt of suiker by en geur na smaak met sout, rooiwyn en asyn en prut tot geurig.
Super Smoothies
My liefde vir ‘n lekker smoothie is nou reeds alombekend, veral as die weer eers gedraai het. Met my eerste kuiertjie by Andriette Norman waar ons meer gesels het oor gutgesondheid, het sy ons bederf met ‘n groen sappie – so verfrissend en lekker en dis toe dat ek opnuut weer my groen smoothie gaan afstof het en het dit toe sommer tydens my gutgesondheid-demonstrasie by die Evolve20-studion vinnig gedemonstreer het. Veral vandat uiteindelik vir my ‘n NutriBullet aangeskaf het, is dit eintlik supermaklik en vinnig om te maak. ‘n Lepel of wat groen rooibos en kollageen daarby ingemeng, sorg vir nog ekstra goedheid, Carmién Tea se smoothie blend het dit sommer alles-in-een.
Ek en Andriette beoog nog verskeie praatjies en demonstrasies oor gutgesondheid. So hou ons sosiale media-platforms dop waar julle meer inligting kan kry.
Sien ook sommer die hele verskeidenheid smoothies wat ek gereeld maak en wat ook te siene is in my Lekker & Goed-boek, heerlike kos propvol heilsaamheid. Mens kan die smoothies in ‘n glas voorsit, lekker romerig om te drink of in bakkies saam met nog bietjie vars vrugte of selfs granola of ‘n saadmengsel oorgesprinkel. Ek voeg soms ‘n lepel of 3 Glutamine by die smoothie as ek nogals intens oefen, want dit help met weefselherstel.
Die boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, is te kry by boekwinkels asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea.
ALLES-IN-EEN-GROEN SMOOTHIE
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 19 min
Halwe pynappel, in stukke gesny (en bevries indien daar tyd was)
1 piesang, in skyfies gesny (en bevries indien daar tyd is)
Halwe groen appel, in stukkies gesny
Handvol gekleurde jong spinasieblare of baba-spinasieblare
Paar stukkies komkommer
1 cm stuk gemmer, fyngerasper (opsioneel)
125 ml (½ k) boegoe-en-rooibostee (Carmién Rescue)
5—10 ml (1—2 t) Carmién green rooibos smoothie blend with Enchinacea & Baobab
Sowat 125 ml (1/2 k) natuurlike volroom-jogurt of amandelmelk
5—15 ml (1—3 t) heuning
Knippie seesout
1 Plaas die vrugte, groente en gemmer in die beker van die NutriBullet, voeg ‘n goeie skoot van die tee by en kap goed fyn (die tee help dat die groente beter fynkap).
2 Voeg die res van die bestanddele by en verwerk tot goed gemeng.
3 Giet in glasies en geniet.
SMOOTHIE VERSKEIDENHEID
Genoeg vir 2 mense
Bereiding: 10 min
4 rooibosteesakkies
250 ml (1 k) kookwater
250 ml bevrore vrugte (sien variasies)
80 ml (1/3 k) natuurlike volroom jogurt of andersins lactolite laevet jogurt
5 ml (1 t) heuning of versoeter
1 Trek die rooibostee in die kookwater tot lekker sterk, druk die vloeistof uit die sakkies en verwyder die sakkies.
2 Plaas die bevrore vrugte in ‘n voedselverwerker, giet die tee oor en verwerk tot opgekap.
3 Voeg die jogurt en versoeter by en verwerk tot glad. Giet in ‘n glas of bakkie en geniet dadelik.
Voorgestelde kombinasies:
(1) vir bessie-smoothie gebruik ‘n bessiemengsel of bevrore aarbeie of bloubessies saam met ‘n bessie-rooibostee of andersins ‘n Carmién Energise-rooibostee wat guarana, hoodia en boegoe bevat
(2) vir ‘n tropiese smoothie gebruik pynappel, papaja en/of mangoblokkies asook piesang. Gebruik ‘n rooibos met tropiese geure. Saam met ‘n rooibos wat vlassaad en vinkel in het, kan dit help om hardlywigheid te verlig.
(3) vir ‘n groen detox-smoothie voeg sowat 180 ml (2/3 k) baba-spinasieblare saam met bietjie ment en suurlemoensap by bevrore pynappel en piesang. Gebruik ‘n groen rooibosteemengsel met groen heuningbos, suurlemoengras, gemmer, spearment en Senna (Carmién Cleanse) of andersins ‘n groen rooibos met bietjie ment in.
(4) vir ‘n espresso-sjokolade-smoothie: gebruik rooibostee met kakao en koffiebone in (Carmién Red Mocha) en maak yskoud. Gebruik saam met sowat 30-45 ml (2-3 e) kakao. 5 gekapte dadels, 1 bevrore piesang en vermeerder die jogurt na 250 ml (1 k).
Kortpad in die kombuis
Ek het laas naweek tog te lekker gekuier saam met die vroue uit die wynlande by Beyerskloof buitekant Stellenbosch tydens ‘n geldinsameling vir die Faith Fund van Beyers Truter wat fetale alkohol-sindroom onder plaaswerkers aanspreek.
Weer het ek ‘n gaar hoender ingepak om vir die vroue te wys hoe moeiteloos mens dit kan inspan om ‘n verskeidenheid heerlike geregte wat ook voedsaam is, binne ‘n ommesientjie te maak. Gekoopte gaar hoenders is nie net hier by ons gewild nie, maar ek het onlangs ook ‘n video gesien van ‘n Costco-werknemer wat binne minute die heel gaar hoender ontvel en ontbeen het. (ek demonstreer dit toe ook sommer vinnig by die vroueoggend) Ons het nou al geroerbraai, ‘n heerlike kerriehoenderslaai/waldorfslaai gemaak, thaise kerrie met ‘n klappermelksous, gebakte koljanderpesto-hoender en so kan die lysie aangaan en aangaan. Ek het toe ook sommer die geleentheid gebruik om hulle te wys hoe maklik ‘n mens jou eie pesto aanmekaar kan slaan.
Tuis by die huis bak ek weer die hoenderpastei waarvan ek die resep met julle vroeg Mei-maand gedeel het – die een wat jy sommer in die Airfryer maak (kry die resep hier). Maar omdat ek nooit ‘n resep mos twee maal dieselfde maak nie, braai ek eiervrug saam met die sampioene, meng ook ‘n handvol spinasie by en bak dit dan in ‘n filodeegkors. Binne ‘n ommesientjie is die ete klaar.
Ek sorg ook altyd dat daar ‘n boks of twee filodeeg in my vrieskas is, want dis darem net te maklik (en gesonder) as jy gou ‘n smullekker tert wil maak. Al wat jy hoef te doen om te keer dat die dun velletjies deeg breek, is om dit onder ‘n klam doen te hou terwyl jy daarmee werk. Dan droog dit nie uit nie en word ook nie bros nie. Ek gebruik dit ook graag wanneer ek groenteterte maak. Veral noudat ek na beter gutgesondheid kyk, verskyn dié deesdae gereeld in alle gedaantes op my etenstafel.
Beet is so ‘n gewillige groente en jy hoef glad nie net soetsuuur-beetslaai daarvan te maak nie. Ek sien ook deesdae klaargaar beet wat lugdig verpak is op die winkelrakke. Dié span ek graag in om ‘n vinnige beetslaai saam met feta en ‘n rooibos-lemoenslaaisous te maak – heerlik by braaivleis. Maar beet is net so lekker as jy ‘n souttert daarvan maak. ‘n Streepsel pesto daardeur gemeng, verhef dit tot nuwe hoogtes.
BEET-SOUTTERT
GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 30 min.
Bak: 25-30 min.
4 velle filodeeg, elk gesmeer met gesmelte botter of klapperolie en op mekaar gepak
VULSEL
420 g ingemaakte beet of beetslaai
olie
sout en vars gemaalde peper
1 rooi-ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
400 g baba-spinasie
2 wiele fetakaas
250 ml (1 k) romerige jogurt
3 eiers
30—45 ml (2—3 e) koljanderpesto (sien resep)
Voorverhit die oond tot 180 °C.
1 Voer ’n losboom-tertpan uit met die filodeeg. (As jy in die Airfryer wil bak, sal ‘n ronde een wat 20 cm in deursnee is, inpas)
2 Vulsel Dreineer die beet goed en sny in dun skyfies.
3 Braai die ui en knoffel in ’n bietjie olie tot sag. Voeg die spinasie by en verhit tot verwelk. Laat effens afkoel.
4 Skep die spinasiemengsel in die bereide tertpan, rangskik die beetskyfies bo-op en sprinkel die fetakaas oor.
5 Klits die jogurt en eiers saam, geur met die sout en vars gemaalde peper, meng ‘n lepel of wat pesto deur indien verkies) en giet in die tertkors.
6 Bak 25-30 min. of tot die vulsel gestol en die filodeeg ’n ligte goudbruin is.
KOLJANDERPESTO
3 x 20 g koljanderblare
2—3 knoffelhuisies, fyngerasper
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
100 ml olyfolie
100 g papmpoenpitte
Plaas alles in die NutriBullet en kap fyn.
Velddrif vroueaand
Ek kyk met nuwe oë en groot waardering na Velddrif en sy mense. Op 8 Augustus het ons die mees ongelooflike vroue-kuieraand gehad by Soverby-lapa, net duskant Velddrif op pad Dwarskersbos toe. Knus teen die water sit die klipstruktuur met die houtpaadjie wat jou lei tot waar die branders breek. Die Velddrifvrouens het pragtig mooi gemaak met bosse en bosse proteas saam met ander fynbos – treffend in sy natuurlike eenvoud. Oral op die tafels potjies Carmién tee en Six Hats-wyne van Piekenierskloof Wine Company wat die gaste saam met hul kos kon geniet.
Ek en my tweelingsus, Mientjie Mouton, stigter en CEO van Carmién Tea, het ook bietjie gesels oor ons wedervaringe en ek het ook ‘n gereg of twee demonstreer. Die spyskaart saamgestel met geregte uit my boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, wat sjef, Charldo en sy span werklik geurig voorberei het.
Met die aankoms is botterskorsiesop geskink uit die vroue se eetservies-teepotte; vir peusel tussendeur die nou reeds gewilde hawermoud-saadbrood met ‘n spesiale Sandveld-heerbone-hoemoes. Die hoofgereg voorgesit in buffet-to-the-table-styl waar elkeen hulself gehelp het uit borde kos op elke tafel – my treffer Franse hoenderresep met groen olywe en pruimedante wat gereeld op my eie kuiertafel verskyn saam met groente-koeskoes, aangeklam met ‘n boegoe-slaaisous. Vir poeding het Charldo vir elkeen ‘n malvapoedinkie berei, heelwat gesonder met sy vanielje-rooibosstropie oorgegiet. Ons het werklik so spesiaal en gewaardeerd gevoel met die vroue wat lustig meegedoen het in die unieke proe-ervaring van kos en wyn saam met ‘n glasie tee, nie net om die palet skoon te maak nie, maar ook om telkens ander geure van beide die kos en die wyn na vore te bring.
Die boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, is te kry by boekwinkels asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea.
FRANSE OONDHOENDER
Vir hierdie resep gebruik ek deesdae swart knoffel, wat verouder is en pleks van slegs pruimedante gebruik ek ‘n verskeidenheid droëvrugte soos sultanas en Turkse appelkose saam met die pruimedante. Die kombinasie saam met die groen olywe is onverbeterlik.
Genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Marineertyd:
Gaarmaak: 11/2 uur
MARINADE
2 bolle knoffel of andersins swart knoffel
60 ml (1/4 k) olyfolie
60 ml (1/4 k) houtverouderde balsamieke asyn
80 ml (1/4 k) basilieblare of oreganum
HOENDER
12 hoenderporsies (dytjies en boudjies maar nie borsies), helfte se velle verwyder
Sout en peper
250 ml (1 k) wit wyn
125 ml (1/2 k) kappertjiesaad (verkieslik met lang stele)
30 groen olywe
125 ml (1/2 k) veelkleur-sultanas (opsioneel)
100 g Turkse appelkose, gekap (opsioneel)
12 pruimedante
40 g vars koljanderblare
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n oondbak.
1 MARINADE Mikrogolf die knoffelbolle, skil en al, vir 3-5 minute of tot hulle sag is, (die swart knoffel kan jy net so gebruik), druk die puree uit en meng met res van die bestanddele vir die marinade.
2 HOENDER Pak die hoender in ‘n nie-metaal oondbak, giet die marinade oor die hoender en marineer vir ‘n uur of twee. Geur met sout en peper, voeg die wit wyn oor en voeg die kappertjiesaad, olywe en droëvrugte by asook helfte van die koljanderblare.
3 Bedek en bak 11/4 uur tot die hoender sag en gaar en goudbruin is. Sprinkel die orige koljanderblare oor en sit voor met gestampte koring of koeskoes en slaai.
Lekker kuier by Beyerskloof
Ek sien so uit na my kuier op die bekende wynlandgoed, Beyerskloof, komende Saterdagoggend en kan veral ook nie wag om te kan aansit by die heerlike ontbyt wat die Red Leaf-restaurant vir ons gaan berei nie. Behalwe dat ek gaan wys hoe maklik dit is om ‘n gesonde gereggie of twee aanmekaar te slaan is my bydrae tot die spyskaart daardie ongelooflike muffinresep wat al wat leef en beef desjare terug so graag gebak het – al verskil is dat ek in die tussentyd heelwat getimmer het aan die resep en kon na vele probeerslae die suiker- en vetinhoud dramaties verminder kry sonder dat jy die lekkerte inboet. Byvoegings soos bosbessies, sultanas of dadels saam met neute en sade maak dit onbeskryflik lekker. Net soos van ouds, kan jy die mengsel aanmaak en in jou yskas hou en dan muffins bak soos jy benodig. Wat ek deesdae doen is om die muffins in miniatuur klein pannetjies te bak. Dan kry elkeen so ‘n lekker proehappie.
Hierdie is werklik ‘n trefferresep, my Crossfit-pelle, Christa en Peet, het altyd ‘n baksel daarvan in die vrieskas en vertel gereeld hoe hulle dit geniet as die lus vir ‘n lekker gesonder peuseldingetjie hul van tyd tot tyd oorval. Intussen sien ek baie uit na ‘n heerlike trippie Botswana toe einde September en ek begin ook al hoe meer wonder of ek nie maar ‘n klompie van die mini-muffins onder in die vrieskassie moet gooi vir tussen-in geniet en vir ‘n blitsige ontbyt nie. Maklik en sonder moeite.
ONGELOOFLIKE MINI-MUFFINS
Maak 32-40 klein muffins
Bereiding: 15 min
Baktyd: 15—20 min
BAKMENGSEL
6 x 250 ml (6 k) semels
500 ml (2 k) warm Carmién Citrus Chai-rooibostee (ek gebruik so 4 sakkies)
250 ml (1 k) saadmengsel-olie
160 ml (⅔ k) bruinsuiker
4 eiers, geklits
1 liter (4 k) natuurlike jogurt
25 ml (5 t) koeksoda
500 ml (2 k) klipgemaalde witbroodmeel
500 ml (2 k) klipgemaalde volkoringmeel
10 ml (2 t) sout
BYVOEGINGS
250 ml (1 k) bosbessies of sultanas of fyngekapte dadels
250 ml (1 k) geroosterde sonneblomsade of neute
125 ml (½ k) elk sesamsade en pampoensade
AFRONDING
Gekarameliseerde sonneblomsade vir oorsprinkel (sien wenk)
1 BAKMENGSEL Meng die semels met die tee. Voeg die olie by en laat effens afkoel. Voeg dan die suiker, eiers en 750 ml (3 k) van die jogurt by meng.
2 Meng die orige 250 ml (1 k) jogurt met die koeksoda en voeg by.
3 Voeg die droë bestanddele by en meng deur.
4 Skep die mengsel in ‘n groot bak of skoon flesse, maak toe en plaas in die yskas tot benodig.
5 BYVOEGINGS Voeg die byvoegings by net voor jy dit gaan bak – onthou as jy net helfte van die mengsel gaan gebruik om net helfte van die byvoegings by te voeg
5 VIR BAK Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 12 holtes van klein patty pan pannetjies goed. Skep van die mengel in elk en sprinkel van die gekarameliseerde sade oor.
7 Bak sowat 15—20 minute tot gaar. Laat effens afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel. Sit voor met gerasperde kaas indien verkies.
HOE OM GEKARAMELISEERDE SONNEBLOMSADE TE MAAK:
Plaas sowat 250 ml (1 k) sade in ‘n warm pan en sprinkel sowat 30 ml (2 e) bruinsuiker oor. Roer totdat die suiker gesmelt het en om die sade vaskleef.
Giet dadelik uit op ‘n gesmeerde bakplaat of stuk marmer en laat afkoel. Breek in stukkies en gebruik soos nodig.
My eie teestel
Jare lank gebruik ek al die unieke keramiekware van die befaamde en bekroonde pottebakker, Mervyn Gers. Telkens het ek my vergaap aan hoe treffend en uniek dit enige foto laat lyk nie, maar ook hoe die kos ook sommer mooier en lekkerder daarin vertoon. Wat die lekkerste is, is dat ek vir enige fotografiedag net kon gaan kies uit die kleurryke verskeidenheid wat daar in sy studio en fabriek in Paarden Eiland is. Vir my nuutste kookboek het ek al die breekware daar gaan haal en hoe mooi het dit nie ingepas by my lapversameling en ‘n paar ougoed uit my eie huis nie. Modern en nostalgies mooi vermeng om unieke foto’s te maak.
Ek kon my geluk dus nie glo toe ek vroeër vanjaar die uitnodiging ontvang om my eie stel breekware te kom saamstel by Mervyn Gers nie. Na ‘n taamlike heen en weer, het my keuse uiteindelik op ‘n teestel geval, want daar is vir my niks lekkerder om ‘n mooi teetafel te dek en ‘n verskeidenheid tees saam met lekker eetgoed voor te sit nie.
Nou die dag kon ek die teestel gaan afhaal – ek, kinderlik opgewonde, het die pad Kaap toe gevat, die kar gelaai met sjokoladekoek, groentetert, saadbrood en hoemoes saam met ‘n verskeidenheid Carmién tees. Want ons gaan teepartytjie hou, alles mooi voorgesit in my nuwe teestel, net daar in Mervyn se dakstudio bokant sy fabriek in Paarden Eiland.
Met my aankoms is die stilis en befaamde redakteur, Sumien Brink, reeds daar. Die teestel staan ook netjies uitgepak – ek het die Provenςal-ontwerp met sy baldadige blou blompatroon gekies. Die koekstaander, hoog en statig, twee teepotte, bordjies en my gunsteling, die teekoppietjies sonder ore, met pierings wat ook as klein bordjies kan dien. Uniek en veelsydig. Ek gooi my nuwe tafeldoek, Mosbolletjies oor ‘n tafel in die studio en Sumien vind vir elke bordjie en koppietjie saam met die koekstaander en teepotte, ‘n spesiale staanplekkie. Mooi, mooi, mooi! Ek staar en kan nie ophou kyk nie, vir my is die eetgoed nou amper bysaak. Nadat ons ‘n paar mooi prentjies gemaak het, kan ons begin smul.
Mervyn, ek weet nie hoe om dankie te sê vir hierdie wonderlike geskenk nie.
Noudat ek heelwat kookklasse begin aanbied en die mooi blommeprag van die naderende lente mens weer lus maak om mense oor te nooi vir ‘n samekoms met lekker kos en wyn en tee, gaan julle hierdie unieke ware sommer nog baie sien. Die resep vir die sjokoladekoek en saadbrood het ek al verskaf, so hier is die een vir die groentetert. Die, en nog meer resepte is te kry in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, beskikbaar by meeste boekwinkels en aanlyn by Lapa of Carmién Tea.
GROENTETERT IN BAIE GEDAANTES
Jare terug het ek ‘n groentetert met ‘n broodkrummelkors in Wenresepte 6 gepubliseer met basiese groentes soos wortel en kool as vulsel. ‘n Ware wenner vir heerlike aandetekos, wat dit inderdaad toe op my tuistafel geword het. Ek het die resep weer gaan afstof en dit tot al gemaak vir ‘n funksie op George waar die Van Kervel-skool ons gul ontvang het. En ek speel heerlik rond met vulsels – sit botterskorsie en patat in wat ek sommer in die Airfryer gaarmaak. Wanneer ek die ui braai gooi ek so teen die einde ‘n goeie skoot ongefiltreede appelasyn by – dit verleen ‘n heerlike smaak aan die uie en jy kry ook ‘n goeie skoot goedheid in. Die groot geheim egter vir my bly die songedroogde tamaties wat ek by die vulsel insny. Die eiervlavulsel maak ek met natuurlike jogurt, nie room nie. Sien ook die resep vir die koolvariasie – werklik heerlik saam met die boontjiespruite.
KORS
3 uie, gekap
Sowat 15 ml (1 e) ongefiltreerde appelasyn met heuning en gemmer (ek gebruik Safari s’n)
Olie
6 snye volkoringbrood, in stukke gebreek, korsies en al
Sowat 30 ml (3 e) botter
VULSEL
2 medium botterskorsies, geskil, ontpit en in blokke gesny
2 patats, skoongeskrop en in blokke gesny
Soutsprinkel vir groente (ek gebruik Ina Paarman s’n)
Olyfolie
200 g maer spekvleisstukkies
1—2 rooi of geel soetrissies, in blokkies gesny
100 g klaargewaste spinasie, in stukke gebreek
6 songedroogde tamaties in vinaigrette, kleiner gesny plus van die vinaigrette
EIERVLA
6 eiers
500 ml (2 k) volroom of andersins Lactolite ongegeurde jogurt
125 ml (1/2 k) melk
30 ml (2 e) mielieblom
Sout en peper
150 g wit Cheddarkaas, gerasper
Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit 2 losboom-tertpanne, onderskeidelik 20 en 25 cm in deursnee goed met kossproei.
1 KORS Braai die ui in bietjie olyfolie tot sag, voeg teen die einde die appelasyn by en verhit tot verdamp. (hou twee derdes van die ui eenkant vir die vulsel).
2 Plaas die ander ui saam met die broodstukke in die bak van die voedselverwerker en kan goed fyn tot krummels, voeg die botter by en verwerk tot dit ietwat aanmekaar begin kleef.
3 Druk die krummels slegs op die bodem van die tertpanne vas en verkoel.
4 Meng die botterskorsie en patats, geur kwistig met die soutsprinkel en sprinkel bietjie olie oor. Werk die olie deur met jou hande.
5 Pak die groentemengsel in ‘n enkellaag in die bakkie van die Airfryer en braai sowat 30—40 minute lank of tot sag en bruingebraai buite-om.
6 Braai intussen die spekvleisstukkies in ‘n pan tot gaar, voeg die soetrissie by en braai effens. Voeg die spinasie by en verhit tot effe verwelk.
7 Meng die botterskorsie- en spekmengsel en verdeel tussen die tertpanne. Maak gelyk.
8 Klits die eiers, voeg die jogurt en mielieblom by, geur met sout en peper en klits goed. Roer die kaas by.
9 Giet oor die vulsel in die tertkorse en laat dit tussen die vulsel inloop.
10 Bak sowat 30—40 minute of tot die eiervla gestol is. Laat afkoel en sit voor saam met slaai.
Variasie: KOOLVULSEL Braai 2 gekapte uie saam met 4 fyngedrukte knoffelhuisies tot sag. Voeg 2 soetrissies, wat in blokkies gesny is by en braai effe. Voeg 250 ml (1 k) fyngekerfde kool en 3 grofgerasperde wortels asook 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil by en meng goed. Skep in die voorbereide korse en sprinkel 100 g boontjiespruite oor. Berei die vlavulsel soos beskryf en giet bo-oor. Bak tot gaar.
Wenk: Maak die quiches mooi met bondels vars kruie, radyse en mini-groente aan takkies, selfs spekboomtakkies kan bo-op gesit word.
Faith Fund
Plaaswerkers lê my baie na aan die hart en is ek graag betrokke by eniggeiets om hulle meer te bemagtig. So het ek al verskeie kookklasse saam met die Mouton Foundation aangebied vir ‘n veeltal plaaswerkers om hul meer te leer oor gesonder eet en kook.
Nou het ‘n wonderlike geleentheid my weereens toegeval om te help om fondse in te samel vir die FAITH FUND, ‘n inisiatief wat die befaamde wynboer, Beyers Truter begin het. Ek haal Beyers aan: “As wynmaker put ek soveel vreugde uit wyn. Ek geniet die maak van wyn, die vriende wat dit oor my pad bring, die reise oorsee en die kos en wyn aande wat dit oplewer. Maar op my 50ste verjaardag het ek besef dat wyn n negatiewe effek het as dit oormatig en verkeerd gebruik word. Ek het toe besluit dat ek graag n verskil wil maak in die lewens van ander, veral die wat deur die misbruik van alkohol geraak wod. Die oormatige gebruik van alkohol het baie gevolge, maar ek het besluit om my op Fetale Alkoholsindroom toe te spits. Fetale Alkoholsindroom (FAS) ontstaan wanneer vroue alkohol tydens hul swangerskap gebruik. Alkohol beinvloed die ontwikkeling van die ongebore baba en kan tot breinskade en groeivertraging lei. Kinders met FAS het min of geen oordeelsvermoe. Wat is n kind sonder n droom? Ek het dus besluit om die Beyers Truter FAITH FUND te stig. Die FAITH FUND samel geld in om mense in landelike gebiede in te lig oor die gevare van die gebruik van alkohol tydens swangerskap. Die fondse word aangewend by skole om leerders te ondersteun en vir bewusmakingsveldtogte. Elke swanger vrou wat bewus is van die gevaar wat alkohol vir haar kind inhou en dit vermy kan n kind sonder FAS in die wereld bring. ‘n Kind wat n droom oor die toekoms kan koester. ‘n Droom om ‘n onderwyser, ‘n dokter, ‘n landbouer of selfs ‘n Pinotage wynmaker te word. Ek hoop om so n verskil te maak.”
Die Faith Fund doen uitreike na plase en landelike gemeenkappe met hul Klop-Klop projek en ook inligtingsessies. Met die omgeedag wat op 19 Augustus plaasvind, word daar fondse ingesamel om die werk van die Faith Fund asook om 2 klassies vir leerders wat spesiale onderrig benodig, te help befonds. Kom geniet ‘n feestelike kuier-en-ontbytoggend by die Red Leaf-restaurant op Beyerskloof waar ek ‘n paar heerlike geregte gaan demonstreer en julle gaan toelig hoe maklik dit eintlik is om gesond en steeds smullekker te eet. Sien die kontakbesonderhede op die kaartjie.

Kuieroggend saam met Andriette Norman
Laas Saterdag het ek die lekkerste kuieroggend saam met befaamde sanger Andriette Norman en so ‘n 13-tal vroue gehad by die Evolve20-studio in Durbanville.
Nadat die dames vinnig opgewarm het saam met een van Evolve20 se afrigters, het hulle aangesit vir ‘n heerlike ontbyt, alles gemaak volgens die riglyne vir beter “gut” gesondheid. Die sprankelende Andriette het hulle meer vertel van haar eie reis tot beter “gut” gesondheid en hoe sy uiteindelik by die wenresep uitgekom het om gesonder te eet en te leef met uitstekende resultate.
Syself, ‘n gekwalifiseerde voedingkundige, kan met gesag praat oor wat kan en wat nie en eetplanne opstel. Tussendeur kon die vroue teug aan ‘n vars groen sappie en peusel aan groente-frittata-tertjies gemaak met bekostigbare bestanddele soos kool, wortels, groen soetrissies en boontjiespruite wat ek gemaak het. Ook op die tafel was ook daardie heerlike hawermout-saadbrood waarvan ek julle nou al so baie maal vertel het, daarby my treffer patathoemoes, ‘n heerlike kombinasie. Toe was dit tyd dat ek die dames vinnig kon touwys maak hoe maklik dit is om ‘n skudomelet te maak, gevul met ‘n heerlike tamatiegroentevulsel. Iets wat jy tot kan gebruik om ‘n groente-lasagne mee te maak.
In die NutriBullet maak ek ook deesdae graag my eie pesto’s – van basilie tot koljanderpesto en self sook die hoemoes. Ek gebruik glad nie meer kaas in my pesto’s nie en maak van bekostigbare sade soos sonneblomsade en pampoensade gebruik pleks van duur pistasieneute.
Ter afsluiting het ek hulle ook vinnig gewys hoe om ‘n groen detox-smoothie te maak – verspot maklik om te maak in die NutriBullet en heerlik verfrissend, gemaak met ‘n handvol baba-spinasie, dik skyf pynappel en halwe groen appel en stukkie piesang. Daarby die sap van ‘n halwe suurlemoen en ‘n goeie skoot Revive en Rescue-rooibostee van Carmién Tea. Dit help baie dat die bestanddele makliker fynkap in die NutriBullet en die geure van die boegoe, brandrissie en gemmer glad nie te skerp nie. As jy wil, ‘n skeppie of wat volroom natuurlike jogurt (deesdae is dit my go-to ontbyt).
Lees ook meer oor die beste en slegste kosse vir “gut” health hier.
SKUDOMELET
‘n Gesondheidskommel-maker kan vir meer as net gesondheidskommels ingespan word. Doodmaklik om te gebruik om ‘n pofomelet in te maak. Vul dit met allerlei groentes en slaai en dit kan instaan vir van ontbyt tot ‘n heerlike aandete.
GENOEG VIR 2 MENSE
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 10 min.
OMELET
5 eiers (3 eierwitte en 2 heel eiers)
knoffel-en-kruie-speserye; sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
VULSEL
Tamatiegroente (sien resep)
½ wiel swartpeperfeta
¼ avokado, in stukke geskep met ‘n lepel
Basiliepesto (sien resep)
roketblare
1 OMELET Plaas die eiers, melk, speserye en sout en peper in ’n plastiekhouer met ’n deksel (‘n gesondheidskommel-maker werk ideaal). Skud baie goed tot lekker skuimerig.
2 Bespuit ’n kleefvrye pan (ek het my groot LeCreuset-pan gebruik) met kossproei of smelt klapperolie daarin en giet die mengsel daarin. Plaas ’n deksel op en verhit tot die omelet lekker hoog gepof en gaar is. Dis onnodig om die omelet om te draai, maar lig net van tyd tot tyd die kante sodat die rou eier onder kan inloop.
3 VULSEL Skep van die tamatiegroente op nadat die omelet halfpad gaar is en maak verder gaar tot die eier nie meer loperig van bo vertoon nie.
4 Sprinkel feta-kaas oor en streep basiliepesto oor.
5 Gly die omelet nou uit op ‘n bord en pak die avokado bo-op. Rond af met roketblare.
6 Sny in skywe en sit dadelik voor.
TAMATIEGROENTE
Die tamatiegroente is baie veelsydig. Maak sommer ‘n hele klompie op ‘n slag en hou in die yskas. Gebruik dit as vulsel vir omelette of maak ‘n groente-lasagne daarmee deur eiervrugskywe te braai en as “pasta” te gebruik. Die witsous maak ek deesdae met chana-meel oftewel lensiemeel. Dan is dit ook glutenvry.
klapperolie
1 eiervrug, in baie klein blokkies gesny
1 pakkie (400 g) gemengde gekapte sampioene
4 knoffelhuisies, fyngedruk
1 rooi soetrissie, ontkern en in blokkies gesny
200 g spinasie, goed afgespoel en in stukkies gesny of so 6 gerasperde murgpampoentjies
8 sondroë tamaties in vinaigrette, gekap
50 g tamatiepasta
20 g basilieblare, in stukkies geskeur
Sout en peper na smaak
1 Smelt die klapperolie in ‘n pan en braai die eiervrug daarin tot lekker sag.
2 Voeg die sampioene, knoffel en soetrissie by en braai tot net sag en geurig.
3 Voeg die spinasie by en verhit tot verwelk.
4 Roer die res van die bestanddele by, geur met sout en peper na smaak en prut tot geurig en nie meer waterig.
BASILIEPESTO
Maak sowat 125 ml (½ k) pesto
2-3 knoffelhuisies, fyngerasper
40 g pietersielie en basilieblare
30-50 g sonneblomsade, effe gerooster
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
Sout na smaak
Olyfolie soos nodig
Plaas al die bestanddele vir die pesto buiten die olyfolie in die voedselverwerker (of NutriBullet) en verwerk tot grofweg glad. Voeg die olyfolie deur die tuit by om ‘n loperige mengsel te maak.
Lensiesop teen die koue
Op Langebaan het die blommetjies al mooi begin gesig wys, maar tans is dit steeds snerpend koud – net weer ‘n bewys dat Augustusmaand nog diep winter is en ons ons nog maar kus kan toevou in dik baadjies en serpe, ons knus onder komberse kan toewikkel en aan lekker warm eetgoed weglê.
Op my stoof is die soppot steeds langdurend aan die prut – my man is die expert as dit kom by ‘n lekker dik bonkige ertjie- of gortsop, terwyl ek weer daarvan hou om ‘n geurige fluweelagtige sop met baie groente in te maak. Toe ek hierdie lensie-en-patatsop raaklees in een van my vele kookboeke wat veral oor beter gutgesondheid gaan, het ek dit dadelik uitprobeer. Deesdae bodder ek ook glad nie meer met gekoopte aftreksel-konsentrate of dies meer nie.
Rooibostee maak regtigwaar die lekkerste aftreksel. Ek het mos nou al lankal vertel dat ek by tye so kan vashaak op een spesifieke produk en dit dan by alles inwerk, bloukaas was dit op ‘n stadium, nou is ek weer verknog aan die lekker vars kruiesmaak van boegoe. Nou die dag ontdek ek toe weer een van Carmién Tea se wellness tees in my kas: RESCUE, wat ‘n mengel van rooibos en boegoe is en terstond het ek geweet, dit sal alte lekker werk by hierdie sop wat ook ‘n goeie skoot spinasie inkry. Daarmee saam hul REVIVE, wat weer ‘n mengsel van groen rooibos, brandrissie en gemmer is. Dit pas nie net heerlik by die speseryagtige geurprofiel van kaneel, komyn en masala nie, maar is ook propvol goedheid – van boegoe wat help met waterretensie en arthritis tot die gemmer en brandrissie wat sirkulsie verbeter en boonop bevat dit hope anti-oksidante – net die ding wat jy nou nodig het wanneer die koue met mening sy kloue inslaan.
Kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus.
PATAT-EN-LENSIESOP MET SPINASIESOP
Maak sowat 2 liter sop
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 30—40 min
30 ml (2 T) klapperolie
1 groot ui, gekap
4 knoffelhuisies, fyngerasper
125 ml (½k) rooi lensies, oornag geweek indien verkies
3 groot oranje soetpatats, gerasper
10 ml (2 t) borrie
5 ml (1 t) fyn kokmyn
5 ml ( 1 t) garam masala of brejani masala
2,5 ml (½ t) fyn kaneel
1,5-2 liter (6-8 k) rooibos tea stock, gemaak met 8 sakkies Revive & 6 sakkies Rescue van Carmién
500—750 ml (2—3 k) spinasie, gekap, sommer stingels en al
Sout en peper na smaak
Bietjie volroomjogurt, opsioneel
Basielieolie gemaak deur ‘n handvol basilieblare met olyfolie fyn te kap tot ‘n loperige mengsel saam met ‘n knippie voedingsgis.
1 Smet die klapperolie in ‘n groot kastrol en soteer die ui en knoffel tot sag.
2 Voeg die (gedreineerde) lensies, patats en spesery by en soteer nog sowat ‘n minuut of wat of tot geurig.
3 Voeg die teeaftrekel by, verlaag die hitte en laat prut tot die lensies en patas sag is, voeg die spinasie by en prut nog sowat 15 minute of tot die groente lekker sag is.
4 Maak fyn met ‘n stokmenger tot glad en romerig en geur met sout en peper.
5 Roer ‘n lepel of wat jogurt by indien verkies en drupel van die basilieolie oor. Sit warm voor.
Kyk blomme en geniet ‘n unieke wyn-en-teeproe
Die naweek tydens die Rooibos MTB-bergfietsry-byeenkoms wat by De Tol Deli op die Piekenierskloofpas net voor Citrusdal aangebied is, was dit vir my een groot lekkerte om saam met die befame keldermeester van Piekenerskloof Wines, Alecia Boshoff en hul wynmaker, Wouter Loubscher, te proe en ervaar hoe interresant die wêreld van happies kos saam met ‘n sippie wyn en rooibostee kan wees en hoe wyn en tee telkens ander geure en teksture in kos na vore bring.
‘n Unieke ervaring, eie aan Piekenierskloof Wines en Carmién Tea, want volgens my is dit die enigste plek waar jy happies kos saam met wyn en ‘n glasie rooibostee kan proe wat nie net help as paletskoonmaker tussen die verskillende proeë deur nie, maar ook help met hidrering (waar wyn, nes koffie, ‘n dehidreerder is).
Hier is ‘n riglyn van hoe om te maak.
Watter wyn en watter tee pas by watter kos?
Vir beide wyn en tee geld dieselfde beginsel – die wyn en tee kan KOMPLIMENTEREND of KONTRASTEREND wees.
KOMPLIMENTEREND
- Kos, tee en wyn het dieselfde geurintensiteit bv chai-tee saam met vrugte in ‘n spesrystroop of vars somervrugte met ‘n wit wyn met vrugtige tone
- Romerige/botterige kos met romerige mondgevoel in tee (bv vanielje) en volronde gehoute smaak in wyn bv chardonnay
- Soet saam met soet – bv koek of nagereg saam met tee en soetwyn eg sjerrie
KONTRASTEREND
- Soet saam met sout – dink bv mosbolletjies saam met coppa of rooi wyn met baie tanniene saam met bruintjies of sjokoladekoek
- Vetterige vleis versus surigheid in bv wit wyn of die fynbossmaak van bv ‘n groen tee of boegoe-tee
- Speserysmake versus kruiesmake – dink bv sagte spesery-tone van ‘n Grenache Noir of in ‘n chai-tee saam met ‘n soutige kruie-beskuitjie
Die basiese beginsels van proe, hetsy vir wyn of tee bly maar dieselfde: kyk, ruik en dan proe.
En as jy die wyn, kos en tee kombineer, doen ek dit graag as volg:
Stap 1: Ruik die tee en wyn, neem dan ‘n slukkie tee, dan wyn. Rooibostee is ‘n natuurlike paletskoonmaker, bring geure na vore of versag dit.
Stap 2: Neem nog ‘n slukkie wyn en dan ‘n happie kos, daarna weer ‘n slukkie tee. Proe hoe die geure met mekaar praat. Herhaal indien verkies (ek vind by die tweede proeslag kom jy eers rerig agter hoe hulle aanklank vind by mekaar en verskillende geure en teksture na vore bring).
Stap 3: Herhaal met elk van die volgende wyne, tees en happie kos. Wat veral interressant is, is die versagtende effek wat die tee en happies kos op die suur, tanniene, gehoutheid en spesery-tone van die wyn het.
Ek verkies ook ‘n tee met ‘n groen rooibosbasis saam met wit wyne en ‘n tee met ‘n rooi rooibosbasis saam met die swaarder rooi wyne. ‘n Ligter rooi wyn soos Grenache werk met beide. Daar is egter geen reëls nie, eksperimenteer is die wagwoord. Al een wat ek nogals uitdagend vind is tamaties – onthou om daar suur met suur te ontmoet – dus ‘n surige wit wyn saam met die tamatie, nie ‘n gehoute chardonnay of swaar rooi wyn nie. Onthou ook om nie sterk kosse, soos iets wat met rissie gegeur is, te vroeg te geniet nie – dit verhoed dat jy verder enige ander geurnuanses kan optel. Hoe jy dit wel kan regstel is om ‘n paar slukke tee te neem – dit maak die palet weer skoon.
So het ons gemaak:
Op ons tafel het ons ‘n kaasbord in die kleine gehad met ‘n lekker verouderde, dog romerige Dalewood-Bolandkaas, botterige kaasstrooitjies, ‘n paar lappies Coppa van Richard Bosman en die heerlikste swart olywe. Daarby 4 wyne van Piekenierskloof en 4 potjies blom-rooibostees van Carmién Tea wat mooi op hul teekersies net warm genoeg was om hul unieke geure na vore te bring. Die tee is by 60°C bedien sonder suiker of melk; die wit wyne verkoel en die rooies by kamertemperatuur, maar vooraf oopgemaak om bietjie asem te haal.
Proe 1
Happie: verouderde Dalewood Boland-kaas
Wyn: Piekenierskloof Chenin Blanc
Tee: Carmién Orange Camomile-rooibostee (groen rooibos)
Proe-notas: Die vars surigheid en mineraliteit maar veral die vrugtige tone van steenvrugte op die palet het die soutigheid van die kaas na vore gebring terwyl die sagte sitrusgeure van die tee weer die romerigheid daarvan uitgebring het. Die sitrustone in beide die wyn en tee het mekaar goed gekomplimenteer.
Proe 2
Happie: kaasstrooitjies, gemaak met egte botter
Wyn: Piekenierskloof Chardonnay
Tee: Carmién Creamy mint-rooibostee (groen rooibos)
Proe-notas: Die botterigheid in die kaastrooitjies het goed na vore gekom en goed gekombineer met die subtiele rokerige tone van die gehoute Chardonnay. Die romerigheid van die vanielje in tee (met ‘n baie sagte mentgeur) het alles mooi bymekaargebring. Alles het mekaar uitstekend aangevul.
Proe 3
Happie: Coppa
Wyn: Piekenierskloof Grenache Noir
Tee: Carmién Citrus Chai
Proenotas: Die Grenache Noir, wat ook terloops Piekenierskloof se “signature wine” is, is ‘n elegante dog komplekse en goed gebalanseerde wyn met sagte tanniene wat veral sy man kan staan teenoor sterk speserye soos in Marrokaanse kos. Die speserye in die Citrus Chai-rooibostee het die wyn goed gekomplimenteer terwl die aarbeitone en efense peper in die wyn mooi maats gemaak het met die saggepekelde coppa. Interressant het die tee die effense vetterigheid van die coppa na vore gebring.
Proe 4
Happie: Calamata olywe in roosmarynvinaigrette
Wyn: Piekenierskloof Heirloom Red Blend
Tee: Carmién Floral Berry
Proenotas: Die surige tone in die Floral Berry, afkomstig van die woudbessies kontrasteer goed met die soutige olywe terwyl die olywe goed kombineer met die rokerige tone van swart vrugte en swart olywe in hierdie komplekse, maar nie te swaar (medium bodied) en elegante rooiwyn met sy gladde en goed geintegreerde tannienstruktuur. Die soetigheid van die bessies in die tee komplimenteer die swartvrgte in die wyn. ‘n Wyn en tee wat so veelsydig is dat dit ook heerlik sal smaak saam met ietsie soets soos bruintjies of sjokoladekoek.
Nou is die tyd om die N7 te vat en die blommeprag te gaan aanskou. Stop by De Tol en ervaar hierdie unieke proe-ervaring. Bespreek jou tafel hier.
VRUGTEPIZZA MET GROENSLAAI
‘n Chenin Blanc of Grenache Blanc sal heerlik wees by die pizza met sy interressante kombinasie van soetsout geure.
GENOEG VIR 6-8 MENSE
Bereiding: 15 min.
Bak: 8 min.
SOET PIZZAKORS
250 g yskoue botter, in stukke gesny
250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
500 ml (2 k) koekmeel
80 ml ( k) mielieblom
’n groot hand vol gekapte kruie soos tiemie en roosmaryn
5-10 ml (1-2 t) seesoutvlokkies
BOLAAG
1 brie of camembert, in skyfies gesny
’n verskeidenheid vars vrugte, soos nektariens, pruime en vye
SLAAISOUS
60 ml (¼ k) druiwe of appelasyn
30 ml (2 e) olie
15 ml (1 e) heuning
7 ml (1½ t) Dijonmosterd
SLAAI
’n verskeidenheid slaaiblare, soos roket en jong spinasie
ekstra vars vrugte, in skyfies gesny
Voorverhit die oond tot 180 °C.
1 Soet pizzakors: Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker. Verwerk tot die botter goed in die meel ingemeng is en ’n bol om die lem vorm.
2 Skep uit die voedselverwerker. Vorm in ’n bol, draai toe in kleefplastiek en laat ’n halfuur rus.
3 Sny in 6-8 stukke en rol rof uit, sowat 4 mm dik. Plaas op ’n meelbestrooide bakplaat.
4 Bolaag Pak skywe kaas en vrugte bo-op en bak sowat 8 min. tot die deeg gaar is.
5 Slaaisous: Meng al die sousbestanddele.
6 Slaai: Plaas ’n hopie slaaiblare bo-op elke pizza en rangskik die ekstra vars vrugte bo-op. Sit voor saam met die slaaisous.
WENK: Maak soet bolletjies met die deeg: Voeg 125 g gekapte neute by die deeg, rol in bolletjies en bak sowat 11 min. tot gaar. Rol in versiersuiker terwyl dit nog warm is.
SAGGEBAKTE LAMSBOUD MET AARTAPPELSOSATIES
Soos genoem sal Grenache Noir sy man staan teen speserysmake soos in hierdie lamsboud. Geniet dit saam met ‘n Creamy Mint-rooibostee van Carmién.
GENOEG VIR 6 MENSE
Bereiding: 20 min.
Staan: 4 uur of oornag
Gaarmaak: 2½-3 uur
GROEN SOUS
500 ml (2 k) romerige jogurt
1 bossie vars koljander, goed afgespoel en fyn gekap
halwe bossie ment, gekap
15 ml (1 e) gekapte knoffel
1 suurlemoen se sap en skil
sout en vars gemaalde peper na smaak
10 ml (2 t) fyn komyn
10 ml (2 t) bereide mosterd
olyfolie
VLEIS
1 lamsboud, ontbeen
ekstra sout en vars
gemaalde peper
rooi- of witwyn
ekstra koljanderblare en ment vir bo-oor
DROËVRUGTE-ATJAR
500 g gemengde droëvrugte, soos nektariens en pere, gekap
15-20 ml (3-4 t) garam masala
2 knoffelhuisies, gekap
80 ml ( k) olyfolie
30-45 ml (2-3 e) wit balsemieke asyn
1 Groen sous: Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad.
2 Vleis: Vlek die boud en vryf die sous oor die vleiskant. Laat staan minstens 4 uur of oornag.
3 Voorverhit die oond tot 160 °C.
4 Plaas die boud in ’n oondpan, vleiskant na bo. Geur met die sout en peper. Giet kookwater (of helfte daarvan rooi- of witwyn) in die oondbak tot die boud sowat ’n kwart daarin lê. Bedek met tinfoelie en bak sowat 3 uur tot die vleis doeksag is en met ’n lepel in stukke gebreek kan word.
5 Verwyder die tinfoelie net voor opdiening, verhoog die hitte tot 200 °C en oondbraai tot die vleis lekker bruin is.
6 Kook die pansappe af tot geurig en dik.
Plaas die boud op ’n opdienbord, sprinkel die koljanderblare en ment ruimskoots oor en sit voor saam met die sous en atjar.
7 Droëvrugte-atjar: Meng al die bestanddele en laat staan minstens oornag sodat die geure goed kan meng. Sit voor saam met die boud en aartappels.
Rooibos MTB by Carmién
Die afgelope naweek het die eerste Carmién Rooibos MTB-bergfiets-wedren in sy nuwe formaat by die De Tol Deli, bo-op die Piekenierskloofpas teen die N7 naby Citrusdal plaasgevind. Self ‘n kranige fietsryer vir lank en plaaskind van daar, kon ek nie anders as om te gaan inloer nie. Drie sirkelroetes van verskillende afstande en uitdagings het die ryers deur asemrowende natuurtonele geneem, van indrukwekkende rotsformasies wat plek-plek nes kastele lyk, deur wingerde, vrugte-en-sitrusboorde of goudgeelblommende kanolalande en groen graanlande tot op die rand van ‘n plato waarvandaan jy ver oor die vlakte kon kyk en miskien selfs die see kon sien, of dalende in die diep klowe van die ontsagwekkende Olifantrivierberge met waterstroompies en pragtige plantegroei (ook reeds blomme) wat jou ooparms begroet, veral na die goeie reëns van die afgelope tyd.
Soos jy oor die nek van die Piekenierskloofpas gekom het, is jy geesdriftig begroet deur wapperende baniere en ‘n meer dan lewensgroot Carmién-wegspring “blok” waar die fietsryers kon aantree vir die verskillende roetes. Onder die bome en opgeslane tent op die groot grasperk het die vure gesellig gebrand met hope plek waar fietsryers en besoekers kon kuier en geniet wat alles oral by die veeltal stalletjies te ete aangebied is: De Tol se bekende roosterkoeke en hamburgers (met ‘n roosterkoekbun), sosaties, pannekoek wat die kerk se vrouens kom maak het, heerlike pizzas en natuurlik vir my die lieflike verskeidenheid gesonder eetgoed wat gewissel het van slaaie en wraps met groente tot kekerertjie-patties en smoothies wat Piekenierskloof Mountain Resort gemaak het. Om jou dors te les was daar velerei om van te kies: koffie in al sy formate, tee en rooibos cuppaccinos, en natuurlik van Piekenierskloof se pryswennerswyne.
En natuurlik kon jy gaan snuffel in Carmién Tea se oulike teewinkel waar al hul 40 plus tees, teepotte en allerlei ander toepaslike ware wat jou teedrink-ervaring net in iets unieks kan omskep, te koop is. My nuutste kookboek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, is ook daar te koop asook heelparty van my teelappe, voorskote en tafeldoeke. Langsaan, is die oudste wynkeldertjie in die vallei nou pragtig gerestoureer in ‘n proelokaal waar jy heerlike Piekenierskloofwyne kon proe en koop. Voor teen die pad, die ou tolhuisie waar jy nou heerlike plaasprodukte, tot vryloop steaks, droëvrugte en sitrusvrugte, varsgebak en konfyte kan kry.
Tussendeur kon jy meedoen aan ‘n verskeidenheid unieke ervarings: daar was tee-en-nibbelproeë, ginproeë en die kinders kon selfs ook tee proe saam met heerlike eetgoedjies. Ekself het ‘n wyn, tee en happieproe aangebied met Carmién-tee, Piekenierskloofwyne en De Tol-happies, alles verbou en gemaak op die familieplase en iets wat jy nie sommer êrens anders gaan ervaar nie.
Behalwe dat ek ‘n taamlike koffie-en-tee-rekening teen die einde van die naweek gehad het, kon ek nie wegbly van die heerlike eetgoed wat die stalletjies aangebied het nie. Die roosterkoek onverbeterlik – lekker lig en goed deurgebak, heerlik saam met ‘n pattie of die sosatie, die pizzas varsgebak net daar op die perseel en die gesondheidshappies almal lieflik vars. Terug by die huis gaan diep ek my souttertresep, wat as piekniekkos of selfs kosblikkos kan dien, op. En as ek terugverlang na die lekker van so ‘n onvergeetlike naweek, maak ek ‘n Piekenierskloofwyntjie, ‘n wittetjie, oop, brou daarby my gunsteling Carmién tee, en gaan sit op my stoep met ‘n souttertjie in die hand en terugdink aan die lekker terwyl ek die blomme geniet wat al om my Weskushuis baldadig hul gesiggies son se kant toe wys.
Volgende jaar se Rooibos MTB datum is reeds vasgemaak: 27 & 28 Julie 2024. Teken dit solank in jou dagboek aan en moenie uitmis op die mooi en fun nie!
SOUTTERTJIES
LEWER 5-6 MIDDELSLAG- OF 12 KLEIN TERTE
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: ongeveer 40 min.
VULSEL
500 ml (2 k) botterskorsie, in blokkies gesny
250 ml (1 k) patat, in blokkies gesny
1 ui, grofgekap
1 rooi soetrissie, in klein blokkies gekap
250 g spek, in stukkies gesny
sout en vars gemaalde peper na smaak
’n paar takkies tiemie, blaartjies afgestroop
45 ml (3 e) olie
15 ml (1 e) suurlemoensap
KORS
½ ui, fyngekap
45 ml (3 e) botter
6 snye volgraansaadbrood, verkrummel
EIERVLA
6 eiers
500 ml (2 k) volroom natuurlike jogurt
125 ml (1/2 k) volroommelk
30 ml (2 e) mielieblom
Paprika, sout en peper
SAMESTELLING
250 ml (1 k) verouderde cheddarkaas, gerasper
Voorverhit die oond tot 200 °C. Bespuit 4-6 middelslag-losboomtertpanne met kossproei of 12 holtes van ’n muffinpan.
1 Vulsel Plaas die botterskorsie, patat, ui, soetrissie en s pek in ’n oondpan.
2 Geur na smaak met die sout en peper en sprinkel die tiemieblaartjies oor.
3 Meng die olie en suurlemoensap en meng deur. Bak 15-20 min. tot die groente se puntjies net-net swart verkleur. Laat afkoel.
4 Kors Braai die ui in die botter in ’n pan tot sag. Voeg die broodkrummels by en braai ’n paar minute tot effens bruin.
5 Verdeel die krummels tussen die pannetjies en druk op die bodem vas. Laat afkoel.
6 Eiervla Plaas die eiers,jogurt, melk en mielieblom in ’n mengbak en klits tot gemeng. Maak seker jy het 1 liter vloeistof.
Indien te min, voeg nog melk by. Geur na smaak met die paprika, sout en peper.
7 Samestelling Verdeel die groente tussen die pannetjie se holtes. Giet die eiervla bo-oor. Sprinkel die gerasperde kaas bo-oor.
Verlaag die temperatuur tot 180 °C en bak 20-25 min. of tot die vla gestol het.
8 Haal uit die oond, laat ’n bietjie afkoel en haal uit die pan.
9 Sit voor as ’n ligte ete saam met ’n slaai of gebruik as piekniekkos of inpakkos.
Spanakopita met oorskiet
Na ‘n paar wonderlike fotosessies en kookklas of twee die afgelope tyd, was daar heelwat oorskiet bestanddele in my yskas wat vir my loer, al wagtende om verwerk te word in een of ander dis. So ‘n paar lang dae agter die kospotte en letterlik op jou voete dink terwyl jy mooi kosprentjies maak, bly een van my lekkerste lekkers en oorlaai my telkens met hope inspirasie. Maar die teenpool is dat alles na die tyd weer opgeruim, skoongemaak, opgepak en weer op hul plekke moet kom, om nie te praat van al die oorskiet wat ook ‘n plekkie moet vind nie. So ja, so opwindend soos dit is, tap dit nogals mens se energie. Dis daarom wat ek weekliks probeer om ‘n paar goeie oefenklasse in te kry om die fiksheidvlakke hoog te hou – net die ding om te help om hierdie wonderlike kook-en-fotografie-sessies met geesdrif te kan kafdraf.
Met die gaar oorskietkos is daar gewoonlik nie ‘n probleem nie, maar die bietjies rou oorskiet kan nogals baie gou jou yskas en koskaste tot boordens toe vol maak. Ek lê gewoonlik so ‘n dag of wat laag en doen net die nodigste in die kombuis (gewoonlik jaag die spertyd vir inhandiging van kopie my dan nogals rond). Met die kopie in die sakkie, kan ek daarna weer opnuut weer my fokus na die kombuis verskuif.
So wat was my ontdekking toe ek die yskas oopmaak: ‘n halwe pak filodeeg, halwe bakkie ricotta-kaas, ‘n pak gekapte spinasie, halwe pak koljanderblare, 2 of meer soetrissies en ‘n eiervrug of twee. In die mandjie neffens die yskas is daar ook altyd uie en baie knoffel met ja, ook ‘n suurlemoen of twee. Ek was nog altyd gek na spinasie en het reeds toentertyd al wat deeg is met filodeeg verruil. Nie net is dit heelwat gesonder met geen vet in die deeg nie, maar die superdun deegvelletjies bak wonderlik bros wat in dun-dun vlokkies breek as jy ‘n eerste happie vat, geen wonder sy naam beteken eintlik “blaar” nie. Dis toe wat ek besluit om ‘n weergawe van die Griekse lekkerny, Spanakopita te maak.
SPANAKOPITA
‘n Heerlike happie.
Maak sowat 10—12 happies
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20—30 min
1 ui, verkieslik rooi, gekap
Sowat 4 knoffelhuisies, fyngerasper
1 of 2 soetrissies, in klein blokkies gesny
olie
1 eiervrug, in klein blokkies gesny, skil en al
200—300 g gekapte spinasie, goed afgespoel
30—40 g koljanderblare, gekap
1 suurlemoen se sap en fyngerasperde skil
Sout en peper na smaak
12 velle filodeeg, ontdooi
300 g ricotta-kaas
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n bakplaat.
1 Braai die ui in ‘n bietjie verhitte olie in ‘n pan tot sag, voeg die knoffel en soetrissie by en braai effe. Voeg dan die eiervrug by en braai tot die eiervrug bykans opgebreek het.
2 Voeg die spinasie, koljanderblare en suurlemoensap by, verlaag die hitte en prut tot die spinasie verwerk is en al die vog verdamp het.
3 Sprinkel die gerasperde skilo or, geur met sout en peper en laat afkoel tot minstens louwarm.
4 Spuit elke vel filodeeg met kossproei en plaas twee-twee opmekaar. Sny elke pakkie in 4 lang repe.
5 Gebruik een lang reep per spanakopita: Plaas ‘n lepel van die spinasiemengsel met ‘n lepel ricotta bo-op op die onderste ent van die reep deeg en vou die punt oor sodat dit ‘n driehoekige sakkie maak. Vou die deeg nou al om en om sodat dit ‘n driehoekige pakkie maak. Smeer ‘n bietjie water aan die entpunt en plak vas teen die pasteitjie. Plaas eenkant. Herhaal met orige deegrepe en vulselmengsel.
6 Plaas die deegpakkies op ‘n bakplaat, spuit goed met kossproei en bak sowat 20—30 minute of totdat die deeg goudbruin is. Geniet louwarm of koud.
Wenk: Dis maklik om ook ‘n spanakopita-pastei te maak: Plaas 4 velle gespuite deeg in ‘n langwerpige pasteibak en skep die spinasievulsel in, vervolg met die ricotta-kaas. Plaas nog 3—4 velle gespuite filodeeg bo-op en spuit die bokors met kossproei. Bak en sny in vierkante of in diamante (soos mens baklava sal sny).
Groentekerrie goed vir jou “gut”
Verskoon my, maar “gut” is vir my so ‘n lekker woord, so amper asof dit ‘n gevoel weerspieël – dink nou maar aan “ek het so ‘n gut feeling…” of die uitdrukking om op te tree volgens jou “gut”. Ek vertrou nogals my “gut” en is baie min kere verkeerd. Maar nou is ek op ‘n ander “gut” reis – die een van goeie gesondheid wat vanuit jou “gut” oftewel spysverterings-sisteem begin, maar spysvertering doen dit net nie vir my nie, so vir my sal dit “gut” wees. Gut-gesondheid is deesdae groot nuus op die gesondheidsfront met pre- en probiotika op almal se lippe. So my nuutste missie is om ‘n goedvoel “gut” te hê wat sommer ‘n wye spektrum gesondheids-voordele het.
Immers was goeie gesondheid en gesonder eet nog van altyd af een van my groot prioriteite. My nuutste boek, Lekker & Goed, heilsame kos propvol heilsaamheid is juis daarop geskoei om gesonde kos steeds superheerlik te laat smaak. En hoe lekker en inspirerend was dit nie toe ek die storie van die befaamde sangeres, Andriëtte Norman, raaklees op verskeie platforms en tydskriftfe van hoe sy deesdae groot sukses behaal met ‘n “gut friendly” leef-en-eetstyl nie en absoluut wonderlik lyk en voel.
Sowat anderhalf maand gelede het ek toe een van haar inligtingsessies bygewoon, wat terloops gehou is by haar ewe inspirerende man, Glynn Moolman, ‘n biogenetikus, se splinternuwe Evolve 20-gimnasium in die Cobble Walk-sentrum in Sonstraal Heights, Durbanville. Wat ‘n groot lekkerte is dit nou vir my om saam met haar hande te kan vat en gesonde vroueoggende aan te bied waar ek ‘n paar “gut”-vriendelike groentegeregte gaan demonstreer terwyl sy almal meer vertel en motiveer om “gut” vriendelik te eet en te leef. (Ons gaan sommer bietjie oefen ook).
Die volgende oggend is om die draai: 29 Julie by die Evolve 20 gimnasium in Cobble Walk in Sonstraal Heights. Daar is twee sessies. Sien die uitnodiging en kontak vir Andriëtte Norman by andriettenorman@gmail.com. Intussen ‘n lusmakertjie.

GROENTEKERRIE MET KEKERERTJIES EN LENSIES
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 20 min
250 ml (1 k) rooilensies
1 kaneelstok
sout
1 ui, gekap
4 knoffelhuisies, fyngerasper
1 cm stuk gemmer, gerasper
Olie of klapperolie
2 soetrissies, in stukkies gesny
1 eiervrug, in klein blokkies gesny
100 g sampioene, in skyfies gesny
5—10 ml (1—2 t) brejani-masala of matige kerriepoeier
2,5 ml (1/2 t) elk fyn komyn en paprika, gerooster, indien verkies
1 blik (400 g) kekerertjies
Spatsel sojasous
1 suurlemoen se sap en fyngerasperde skil
30ml (2 e) gekapte ment en/of koljanderblare
VOORSIT
Basmati-rys, verkieslik bruin
Romerige natuurlike jogurt
Kwart komkommer, saadjies verwyder en in klein blokkies gesny
handvol fyngekapte ment
fyn komyn vir oorsprinkel
1 Kook die rooilensies in genoeg water waarby die kaneelstok gevoeg is tot lekker sag en amper moeserig. Geur teen die einde met sout. Hou eenkant.
2 Braai die ui, knoffel en gemmer in ‘n bietjie verhitte olie of klapperolie tot sag. Voeg die soetrissies, eiervrug en sampioene by en roerbraai tot die eiervrug lekker sag is.
3 Sprinkel die masala of kerriepoeier, komyn en paprika oor en meng deur.
4 Voeg die kekerertjies saam met die kekerertjie-water by, voeg ook die lensies by en laat prut tot lekker geurig.
5 Rond af met ‘n spatsel sojasous, suurlemoensap en -skil asook kruie.
6 Sit voor met basmati-rys en jogurt waarby jy komkommer en fyngekapte ment ingeroer het. Rond af met ‘n knippie fyn komyn bo-oor gesprinkel.


