Afrika-geure

Soos wat ek julle vertel het begin Februarie is antieke grane en veral Afrika-grane een van die groot kostendense vir 2023. Ek nader toe vir Local Village Foods om vir my produkte te stuur. Die boks arriveer met heelsorghum, sorghummeel en Bambara-bone in, genoeg om ‘n hele nasie mee te voed! Sorghum is die graan waarmee onder andere Maltabella-pap gemaak word, iets wat ons gereeld as kind op tafel gekry en heerlik aan gesmul het. Die heel graankorrels vat nou wel ‘n tydjie om sag te kook, maar is lekker neuterig. Ek maak dit graag in rooibostee gaar om net nog ‘n vredere skeutjie Afrika-goedheid daarby te voeg. Bambara-bone ken ek as jugo-bone en dit smaak vir my baie na grondbone. Dit word ook nyimo, ditloo en indlubu genoem; het ‘n taamlike hoëproteïen-inhoud (9,4 g per 205 g porsie; die koolhidraat-inhoud is 12,3 g per porsie) en is heerlik in kerries of selfs om hoemoes mee te maak.

Die groot kosfoendi, Renata Coetzee, was die een wat my jare terug aan die Afrika-eetkultuur bekend gestel het en ek bewaar haar boek, Funa, food from Africa, Roots of traditional African food culture, soos ‘n kleinnood. Ek het die boek nog by haar present gekry met dié nota voorin: “Carmen, geniet die kos en kultuur van die etniese Afrikane.” Op ‘n stadium was ek ook betrokke by Drum se kosafdeling en het ek saam met die bekende tv-sjef en restaurateur, Siba Mtongana in die kombuis gewoel en werskaf en onder andere ‘n hele reeks oor die geliefde kosse in elke etniese groep van Suid-Afrika gemaak. So het ek ook by verskeie geleenthede skouers geskuur met Portia Mbau van The Africa Café (in Kaapstad) en het ook haar boek, The Africa Cook Book. So ja, ‘n tekort aan inspirasie om kosse uit Afrika te kook, is daar nie. Ek vind ook dat hierdie produkte net so maklik hul plek in enige kookkultuur kry, lekker eksperimenteer is dus my voorland.

Laas Sondag het ek sommer ‘n slaai berei wat heerlik was saam met die Franse oondhoender, met sy groen olywe, kappertjiesaad en pruimedante in. Die resep daarvoor kan jy in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, kry. Dis beskikbaar by meeste boekwinkels asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea.

Sorghumslaai met Afrikabone

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Kooktyd: sowat 1 uur

375 ml (1½k) heel sorghum
625 ml (2½ k) Carmién-rooibostee, Revive (met gemmer en brandrissie) of Rescue (met boegoe), gemaak van 4 sakkies
sout
1 blik (410 g ) Bambara-bone, gedreineer

SLAAISOUS
80 ml (⅓ k) olyfolie
45—60 ml (3—4 e) natuurlike appelasyn
30 ml (2 e) vars uitgedrukte suurlemoensap
5 ml (1 t) heelkorrelmosterd
5—10 ml (1—2 t) heuning of bruinsuiker
Knippie sout

AFRONDING
2 appels, in dun skyfies gesny
1 peer, in stokkies gesny
Groot handvol rosyne

1 Plaas die sorghum in ‘n kastrolletjie en giet 500 ml (2 k) van die rooibostee oor. Moenie sout nou al byvoeg nie. Kook tot sag, vul aan met kookwater indien nodig en geur met sout aan die einde van die kooktyd. Dreineer.
2 Plaas die gaar sorghum en bone in ‘n bak.
3 SLAAISOUS Klits al die bestanddele goed saam, voeg die orige rooibostee ook by en giet oor die sorghum en bone-mengsel. Verkoel minstens 20 minute (hoe langer hoe beter) sodat die slaaisous lekker in die sorghum en bone kan intrek.
4 Pak die appel en peer in ‘n bak en skep die sorghumengsel bo-op. Sprinkel die rosyne oor.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: