Geurige Groentebrood

Ek is so bly daar is nou ‘n spesiale bewustheid om die eet van groente aan te wakker, want deesdae word dit beslis nie net meer opgekook en as bykos voorgesit nie. Ek geniet dit om met groente te eksperimenteer, die pragtige kleure en bros teksture leen dit darem net te veel tot smaaklike geregte, want die geure werk tog te lekker saam. Aan groen groentes, tamatie, koolsoorte en eiervrug kan mens ook maar weglê, want dit het lekker min koolhidrate en kilojoules, dis nou te sê as jy dit nie verdrink in die olie terwyl jy dit gaarmaak nie. Met ‘n Airfryer in die huis is hierdie probleem ook nou uitgesorteer en die groente is heerlik bros, maar nie olierig nie.

Ek maak dan graag ‘n groentebrood, geskoei op die Franse aartappelgebak, tartiflette, maar ek vervang net die aartappel met eiervrugskrywe.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 30 min
Gaarmaak: 45 min

125 ml (1/2 k) sagte broodkrummels
60 ml (1/4 k) fyngerasperde parmesaankaas
Sowat 3 medium eiervrugte, in die lengte in skywe gesny
Sout
olyfolie
2 rooi soetrissies, gehalveer
125 g spekvleis
1 ui, in ringe gesny
4 knoffelhuisies, fyngedruk
4-6 murgpampoentjies, in lang dun repe gesny of 300 g baba-spinasie
Sowat 300 g mozzarella-kaas, in skywe gesny
Paar takkies tiemie
80 ml (⅓ k) witwyn
gelatien
SOUS
250 g baba-tamaties
25 ml (5 t) tamatie-pesto

Voorverhit die oond tot 190°C. Voer ‘n klein broodpannetjie uit met tinfoelie en spuit goed.
1 Meng broodkrummels en parmesaankaas en sprinkel helfte daarvan op die boom en teen die kante van die pannetjie.
2 Sprinkel sout oor eiervrugskywe, laat staan 10 minute in ‘n vergiettes, druk droog en drup ‘n klein bietjie olie oor, vryf in met jou hande en pak in die Airfryer. Rooster sowat 15 minute tot net gaar, maar nie droog nie. (Jy kan dit ook in die oond doen op ‘n bakplaat). Sprinkel bietjie olie oor.
3 Pak soetrissies met velkant na bo in die Airfryer of op ‘n bakplaat, plaas ook die repe spekvleis daarby. Braai tot die soetrissies swart blasies bo-op vorm en die spekvleis gaar maar nie bros is nie.
4 Plaas die soetrissies in ‘n plastieksak om af te koel en trek die velletjies af. Sny in groot stukke.
5 Verhit bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die ui en knoffel daarin tot sag.
6 Pak lae as volg in die broodpannetjie: pak ‘n enkel laag eiervrug onderin die pan, smeer bietjie van die uiemengsel oor en pak ‘n laag kaas bo-op. Pak dan ‘n laag soetrissie en murgpampoentjies of spinasie, gevolg met die spekvleis bo-op. Herhaal die lae. Sprinkel ‘n klein bietjie gelatien oor elke groentelaag. Dit help om dat hulle beter bymekaarhou. Pak tiemietakkies op, giet wyn oor en sprinkel die orige broodkrummelmengsel bo-op.
7 Maak liggies toe met tinfoelie en bak sowat 25—30 minute by 180°C of tot die kaas goed gesmelt is. Rooster vinnig tot effe bruin bo-op.
8 SOUS Roerraai die baba-tamaties tot hulle net begin oopbars. Roer pesto deur en geur met sout en peper.
8 Laat die groentebrood bietjie afkoel sodat die kaas net effe kan stol en keer dan versigtig op ‘n dienbord uit. Skep die tamatiesous bo-oor en rond af met basilieblare.

Begrotingsvriendelike gesondheid

Eet jy genoeg groente en vrugte? Van 9 tot 15 Oktober vier Suid-Afrika Nasionale Voedingsweek. Die tema vir 2021 is “Eet meer groente en vrugte elke dag”. Maar is dit moontlik op ‘n knap begroting? Dieetkundige Liezel Engelbrecht gee ‘n paar wenke.

Ek hoor dikwels hoe mense vertel dat dit duur is om gesond te eet. En dit is waar dat sekere produkte wat as “gesondheidskos” bemark word dikwels veel duurder is as die “normale” alternatiewe. Groente en vrugte kán egter nog bekostigbaar wees, as ons slim beplan. Daar word aanbebeel dat ons minstens vyf porsies vrugte en groente per dag eet (ongeveer 400g in totaal), maar as dié mikpunt te ver buite bereikjou huidge gewonntes klink, probeer net om meer te eet van waar jy tans is. Groente en vrugte bevat baie voordelige voedingstowwe, soos vitamiene, minerale en antioksidante, wat ons gesondheid bevorder en beskerming bied teen siektes. Boonop kan dit ook help dat jy ‘n gesonde gewig handhaaf. Hier is ‘n paar wenke om dit meer sakpas te maak:

  • Koop in grootmaat of op spesiale aanbiedinge. Verskeie winkels het deesdae promosies dat jy tot vier sakkies groente of vrugte kan koop vir ongeveer R100 tot R125. Dit is ongeveer die prys van een of twee wegneemetes wat in ‘n japtrap opgeëet word, of gelykstaande aan omtrent vyf koppies wegeneemkoffies deur die loop van die week. As mens dit só begin vergelyk, begin groente na slimmer kopies te lyk (Wenk: botterskorsies, aartappel, mielies en patat word gesien as meer styselagtigte groente. Hoewel dit ook gesonde vitamiene, minerale en vesel bevat, stel riglyne voor dat jy dit eerder as styselporsies geniet. Mik dus om ook meer ander, minder styselagtige groentes, soos wortel, pampoen, tamaties, spinasie, soetrissie, broccoli en beet, te eet as deel van jou groenteporsies).
  • Eet dit as peuselhappies. Hoewel naartjies, appels of piesangs dalk duur mag lyk, maak die som van hoeveel peuselhappies jy daaruit kan kry, en vergelyk dit met die prys van ongesonder peuselhappies soos skyfies of sjokoladestafies deur die week. Jy sal dalk vind dat dit jou goedkoper uitwerk.
  • Moenie mors nie. As jy in grootmaat koop is daar die risiko dat jy nie alles kan opgebruik voor dit bederf nie. ‘n Oplossing hiervoor is om ‘n groentesop of -bredie, of ‘n pastasous met ‘n groentebasis, te maak en dit te vries om later te eet. Sekere groente en vrugte soos piesangs, blomkool en druiwe vries lekker om later in gladdejantjies te gebruik. Nog ‘n idee is om gaar groente en vrugte te kook en te puree, en dit dan in ysblokkievorms te vries vir later gebruik om water geur te gee (vrugteblokkies) of as geur by kookkos (groenteblokkies)
  • Koop gerus bevrore. Studies toon dat die voedingswaarde van vars teenoor bevrore groente en vrugte goed vergelyk met mekaar. Sekere bevrore groente en vrugte toon selfs hoër vlakke van sekere voedingstowwe as hul vars eweknieë, wat toegeskryf kan word aan die vermindering in verliese wat soms met die suboptimale tuisberging of vervoer van vars groente en vrugte gepaard gegaan. Bevrore groente is soms goekoper as vars alternatiewe, veral as jy bang is dat vars groente gaan bederf.
  • Plant jou eie. Die groentetuintendens raak al hoe gewilder. Groente soos spinasie, groenbone, wortels en tamaties is relatief maklik om te groei, en jy het nie ‘n groot stuk grond nodig nie. Dit kan ‘n heerlike projek vir die familie wees en selfs ‘n geleentheid bied vir jou om jou kinders om meer te leer oor die oorsprong van kos.
  • Koop seisoenaal. Groente en vrugte in seisoen is gewoonlik veels goedkoper omdat dit nie hoef ingevoer te word of spesiale verbergingsprosesse moet deurmaak nie. Vind uit wat maklik groei en seisoenaal is in die omgewing waar jy bly om die beste waarde vir geld te kry.

Wenke:

  • Volg die hutsmerk #NNW2021 vir meer wenke.
  • Besoek www.nutritionweek.co.za vir meer inligting, wenke en feite oor vrugte en groente. Daar is opvoedkundige infografikas en uitdeelstukke wat jy kan aflaai om op te plak by jou werkplek, jou kind se kleuterskool of skool, en ook boodskappe met prentjies oor vanjaar se veldtog wat jy op sosiale media te deel.
  • Aanvullende bronne: National Nutrition Week 2021 (verskeie bronne in konsepdokument)
  • Verklaring: Liezel Engelbrecht is ‘n woordvoerder vir die Vereniging vir Dieetkunde in Suid Afrika. Besoek gerus www.adsa.org.za vir ‘n dieetkundige in jou area.

Isabella’s Pork Feast

Ek en Isabella Niehaus deel wel dieselfde van, maar is nie familie nie. Maar ons is “close”, soos sy altyd sê: ons “connect” hier by die heup; ons was beide voorheen in die media betrokke, ek as kosredakteur; sy as mode- en skoonheidsredakteur. Ons bly altwee teen die Weskus en geniet lekker kos en wyn en hou van mooigoed. Isabella is ook ‘n uitstekende kosmaker wat uit haar hart uit kook en nie skroom om nuwe kombinasies uit te probeer nie – ek kon al soveel by haar leer. Sy is veral welbekend vir haar langtafeletes wat sy by haar Duinhuis knus teen die Langebaanmeer hou waar jy heeldag lank kan aansit vir ‘n onvergeetlike feesmaal; haar viskosse is legendaries, maar deesdae ooreet ek my ook aan veral die varkvleisdisse wat sy so keurig en geurig voorsit. Van hierdie heerlike varkresepte het sy nou verpak in ‘n oulike digitale kosboekie, Isabella’s Pork Feast. Elkeen van die 15 resepte bevat ‘n tipiese Isabella kinkel en wissel van ribbetjies tot ‘n varkterrien; maar dis veral die vark-en-mosselkasserol wat my oog gevang het – tipies Weskus en so ‘n goeie samevatting van Isabella se manier van kook. Die boek kan bestel word by www.isabellaniehaus.co.za teen R120.

Airfry your veggies

It is no secret that I am mad about salads – the combination of crispy green leaves, a variety of multicolour fresh veggies and creamy cheese with a dressing that is beautifully complimenting it, just appeals to me. During the week I normally stick to fresh veggies that need no cooking. Salads made with roasted veggies e.g., butternut, sweet potatoes, onions, or beetroot was weekend food. No more. With the Instant Pot Vortex Airfryer these veggies are roasted to perfection within half an hour – giving me just enough time to prep the rest of the veggies and the salad dressing.

Roasted beetroot and pickled onion salad

For this salad the unpeeled onions and beetroot are popped as is in the Instant Pot Vortex Airfryer for just about under half an hour; then they are perfectly cooked and ready to peel.

Serves 4
Preparation time: 15 min
Cooking time: 25—30 min

ROASTED VEGETABLES
About 7 baby beetroots
About 12 pickled onions
VINAIGRETTE
45—60ml (3—4T) olive oil
80ml (⅓c) wood aged balsamic vinegar
Grated zest and juice of 1 lemon
20ml (4t) wholegrain mustard
15ml (1T) sugar
Salt and pepper to taste
REST OF SALAD
1 can (400g) butter beans, drained
Half a head cauliflower, broken into small flowers and blanched
1 wheel feta-cheese
1 Cos lettuce

1 ROASTED VEGETABLES Arrange the beetroots and pickled onions in the drawer of the Instant Pot Vortex Airfryer and airfry for 25—30 minutes till soft. Leave to cool until easy to handle, then peel.
2 VINAIGRETTE Mix all the ingredients, add some water if needed.
3 REST OF SALAD Pour half of the salad dressing over the roasted vegetables while still warm. Leave to cool.
4 Pour the rest of the dressing over the butter beans and cauliflower. Refrigerate till needed.
5 Arrange the Cos lettuce leaves in a salad bowl, add the roasted veggies, cauliflower, and butter beans. Pour over the salad dressing as well.
6 Top with crumbled feta cheese and serve.

Shop the Instant Vortex Airfryer at @Home or Takealot.

Minmoeite Bruintjies

Bruintjies is gemaak om dekadent te wees. Ek verkies egter hierdie resep wat steeds met egte sjokolade, donker sjokolade, gemaak word, minder ryk, maar steeds heerlik klam is. Ek’s veral versot op die lae koolhidraat-variasie.

Maak 16 stukke
Voorbereiding: 10 min
Baktyd: 12 min

150 g donker sjokolade (70%)
100 g botter
3 eiers
250 ml (1 k) strooisuiker
80 ml (1/3 k) koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
80 ml (1/3 k) kakao
Knippie sout
100 g pekanneute, gekap

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n groot plat bakplaat en stuif met kakao.

1 Smelt die sjokolade en botter. Verkoel effe.
2 Klits die eiers en strooisuiker tot lig en vou die sjokolademengsel hierby in.
3 Sif die meel, bakpoeier, sout en kakao saam en vou in by die sjokolademengsel saam met neute.
4 Skep in die voorbereide pannetjie, smeer gelyk en bak 10—12 min tot net gaar.
5 Breek in stukke en sit voor saam met roomys.

Wenk: Roer ‘n bietjie gekapte gemmerstukke by die mengsel in voor jy dit bak.

Patatsjokoladebruintjies: ‘n heerlike lae-koolhiraat variasie.

Meng 750 ml (3 k) gerasperde patat, 2 geklitste eiers, 10 ml (2 t) vanieljegeursel, 125 ml (½ k) versoeter of rou heuning en 125 ml (½ k) gesmelte klapperolie goed saam in ‘n mengbak.
Sif die 250 ml (1 k) kakao, 15 ml (1 e) bakpoeier, 10 ml (2 t) koeksoda by die mengsel en meng 37 ml (2½ e) klappermeel laaste by.
Giet in ‘n gespuite 20 cm-koekpannetjie en bak 25—30 minute tot gaar maar steeds effe sag. Laat 5—10 minute afkoel. Sny in blokkies en skep versigtig uit.

Smul aan soesji

Ek is lief vir rys – basmati saam met kerrie is ‘n moet. Maar dan het ek selfs op ‘n stadium vir my jasmynrys lekker klewerig gekook en dit dan net so saam met ‘n goeie skoot sojasous, sesamsaad en piekelgemmer geniet.

Soesji bly ook ‘n groot gunsteling, veral met al die bestanddele wat deesdae so gemaklik in ons supermarkte beskikbaar is. Maar nes skilferkors gee ek myself glad nie uit as ‘n sjoesji-maker nie. Daarom vind ek hierdie soesji-brood is ‘n lekker maklike uitweg. Die meer verwesterde California-rolletjies is my basiese vertrekpunt en ek gebruik gerookte forelvelletjies saam met komkommer en avokado.

Wees ook op die uitkyk vir Japanese Choice Sushi soy sauce – dis ‘n heerlike, goedkoper alternatief vir Kikkoman.

Kortpadwenk: Niks keer jou egter om ‘n byderwetse soesji-bakkie te pak met al die bestanddele in lae in ‘n klein bakkie gepak nie (jy kan selfs julienne-repies wortel byvoeg). Dis ook heerlike happie-kos vir vooraf peusel as jy vriende oornooi.

Voorbereiding: 20-25 min
Gaarmaaktyd: 25-30 min

625 ml (2½ k) jasmaynrys
30 ml (2 e) soesjirys-asyn (of andersins so 7 ml (1½ t suiker by rysasyn ingeroer)
30 ml (2 e) sesamsaadjies, gerooster
3 velle nori (seeweervelle)
2 avokado’s, in dun skyfies gesny
200 g gerookte forelskyfies
1 komkommer, in dun linte gesny met ‘n aartappelskiller
Kwepie-mayonnaise of andersins romerige ligte mayonnaise (ek verkies Checkers se Lite Mayonnaise)
Piekelgemmer, sojasous vir voorsit

Voer ‘n klein broodpannetjie uit met kleefplastiek en spuit met kossproei.
1 Kook die rys volgens die instruksies op die pakkie. Kook ‘n paar minute langer tot lekker klewerig, dreineer die orige water, maar moet nie afspoel nie. Roer die asyn deur en laat heeltemal afkoel.
2 Sprinkel die sesamsade onder in die pan. Druk ‘n derde van die rys styf vas onder in die pannetjie.
3 Knip die vel nori so groot soos die pannetjie (of andersins kan jy dit sommer in stukkies krummel en oorsprinkel). Pak ‘n vel bo-op die rys.
4 Pak die helfte van die avokadoskyfies bo-op die nori gevolg deur die helfte van die forel en die helfte van die komkommerlinte. Smeer bietjie mayonnaise oor indien verkies.
4 Herhaal die lae rys, nori, avokado, forel en komkommer. Herhaal met nog ‘n laag rys en eindig met ‘n vel nori.
5 Bedek met kleefplastiek en plaas ‘n paar blikkies bo-op om die brood plat te druk. Verkoel vir ten minste 30 minute.
6 Keer uit op ‘n dienbord verwyder die plastiek, sny in skyfies en sit voor met gepiekelde gemmer en sojasous.

Wenk: maak jou vingerpunte nat wanneer jy die rys in die koekpan vasdruk.

Variasie – slaai: sny ‘n mango, spanspek of papaja, in lang repies. Voeg ‘n komkommer wat in lang dun repies gesny is by asook skyfies avokado en repies gerookte salm. Rol die gaar rys (sien gaarmaak by resep) in bolletjies en sprinkel sesamsade oor. Pak op ‘n slaaibord. Meng wasabi met bietjie sojasous en sit voor saam met die slaai en piekelgemmer.

Eer jou erfenis met melktert

Melktert soos van ouds is altyd omring met ‘n vlokkerige skilferkors en is baie keer in ‘n emaljebord gebak. Ek gee myself geensins uit as ‘n skilferkorsmaker nie en het myself eerder gewend tot ‘n broskorstipe deeg. Ek’t verskeie melktertresepte en ek het hulle noukeurig vergelyk. Vir my bly hierdie resep, waarvan ek die resep nog by die kosskrywer, Mariette Crafford, gekry het, my gunsteling. Dit kry ‘n bros amandelkors, maar jy kan ‘n smeerkors of selfs dan gekoopte skilferkorsdeeg gebruik.

AMANDELKORS
180 g botter
125 ml (½ k) strooisuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
70 g fyngemaalde amandels
2 eiergele
380 ml (ruim 1½ k) koekmeel
Knippie sout
VULSEL
150 ml (⅔ k) koekmeel
50 ml (⅓ k) mielieblom
50 ml (⅓ k) vlapoeier
200 ml suiker
1,25 liter (5 k) volroommelk
2 stukke pypkaneel
3 ekstragroot eiers, geskei
50 g botter
7 ml (1½ t) vanielje- of amandelgeursel
Fyn kaneel

Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n 30 cm-veerklampkoekpan of spuit met kossproei (andersins gebruik 2 kleiner tertborde)

1 KORS Verroom die botter en suiker tot lig en romerig. Voeg die vanieljegeursel en fyn amandels by en meng goed. Voeg die eiergele, meel en sout by en meng tot ‘n sagte deeg. Bedek en verkoel10 minute.
2 Rol uit en voer die koekpan uit. Laat 10 minute rus in die yskas, prik die kors en bak tot liggoud, sowat 10 minute. Verwyder uit die oond
3 VULSEL Meng die meel, mielieblom en vla en die helfte van die suiker. Roer 125 ml (½ k) melk by.
4 Verhit die orige melk met die kaneelstokke tot net onder kookpunt.
5 Voeg sowat 125 ml (½ k) van die kookmelk by die meelpasta, meng goed en roer die gladde pasta stadig by die kookmelkmengsel in. Verhit tot die mengsel kook en verdik, roer gedurig. Verwyder die kaneelstokke
6 Klits die eiergele en orige suiker goed saam, voeg bietjie van die warm melkpap by die eiergele en meng. Voeg dan die eiergeelmengsel by die orige melkpap in die kastrol en meng goed. Verhit oor lae hitte en laat net kook, roer gedurig. Roer die botter en geursel by. Laat effens afkoel.
7 Klits die eierwitte styf en vou by die mengsel in. Giet in die kors en bak sowat 30 minute of tot dit hier en daar bruin sproete het bo-op.
8 Bestuif met kaneel en laat staan tot louwarm en stewig.

SMEERKORS: Klits 125 g botter en 80 ml (⅓ k) suiker tot lig en romerig. Voeg 1 eier by en klits goed. Sif 280 ml (1 hoogvol koppie) bruismeel by en meng goed. Smeer dit met ‘n mes op die boom en teen die kante van tertborde.

Korte mette met aanbrandsels

Ek sukkel nou al ‘n geruime tyd met die groot panne wat in my oond pas waaraan die aanbrandsels hardnekkig vasklou.

Toe daag Dr Beckmann se Oven Cleaner Active Gel hier by my op. En ek spuit dit op – die eerste verrassing, geen oordonderende gasse wat jou na jou asem laat snak nie. Die volgende, die jel loop nie af nie.

Ek wag so 20 minute – met die eerste veegslag, sommer met kombuishanddoekpapier, kom die eerste aanbrandsels af, die ouer aanbrandsels klou nog. Ek spuit weer aan en wag nog so 5 ure. Die slag moet ek bietjie harder vee met die sponsie se growwe kant, maar die ou-ou aanbrandsels begin nou besgee. Ek is seker as ek die jel oornag aanlos, het ek weer oondpanne wat soos nuwe sikspense lyk. Intussen het ek nou al die gietysterpan bygedam en die aanbrandsels het sommer met die eerste veeg afgekom. Nou wag die braairoosters nog. Te minste gaan ons vir Braaidag ‘n slag op blinkskoon roosters braai.

Beskikbaar by Dis-Chem, Pick n Pay, Checkers, Spar en Takealot.

Kook saam met ou vriende

Ek en Mari-Louis Guy, Koekedoor-aanbieder, skrywer van verskeie kookboeke, soos onder andere die Cakebreadboeke, wonderlike stilis en “trendsetter”, stap al vir lank ‘n kospad. Ek kan nie onthou hoeveel keer ek al op haar nommer moes druk as ek vashaak met een of ander iets in die kombuis nie… en altyd kon Mari-Louis my uithelp en reghelp. Met ‘n energie wat net nie einde kan kry het ons letterlik honderde geregte saam gekook en gestileer, selfs in ‘n tierende Suidooster staande gebly om braaifoto’s in haar studio se tuin te neem. Met haar verhuising na Montenegro, kon ons ‘n kykie kry in die glanslewe daar.

Maar nou is sy terug in Kaapstad vir eers en die Cakebreadkombuis en studio wat sy saam met haar broer, Callie Maritz in Vredehoek bedryf, is weer oop. In die pragtige moderne, goed toegeruste kombuis en eetarea kon ek nou die dag weer foto’s neem, maar daar was een groot lekkerte by. Ek kon gaan rondsnuffel tussen die meer as 13 000 rekwisiete wat wissel van modern tot vintage wat Mari-Louis oor jare bymekaar gemaak het en nou in haar winkel onder die kombuis te huur aanbied. ‘n Droom vir enige kreatiewe siel wat wil kook en stileer en mooimaak.

Die kombuis en studio is nie net geskik vir fotografie nie, mens kan dit ook huur om funksies en etes aan te bied en as jy wil mooimaak is die rekwisiete-winkel letterlik op jou voorstoep.

Cakebread Studio Interior

Kontakbesonderhede:

Vir studio, email cakebreadct@gmail.com of Whatsapp Callie Maritz op 072 784 1226
Vir huur van rekwisiete, Whatsapp/skakel Susie 083 219 9840 of Callie 072 784 1226
Adres: 13 Yeoville Road, Vredehoek. Rekwisiete winkel ingang op Grisnez Weg.

Cakebread Studio & Props
Facebook – Cakebread Kitchen Studio & Prop Rental
Instagram- @CakebreadCollective

Mari-Louis Guy
Facebook – Mari-Louis Guy & Mari-Louis Guy- Montelagom
Instagram –@marilouisguy & @montelagom

Callie Maritz – Commercial food stylist, cookbook author, recipe developer and food designer.
Facebook – ConsumerCallie
Instagram – @consumercallie
https://vimeo.com/calliemaritzfoodstylist

Heerlike Hoenderschnitzels

Hoenderschnitzels uit die boonste rakke – heerlik bros buite-om en sappig van binne.

Soos gesê, ek het nooit die diepvetbraaiding gedoen nie, maar nou dat ek ontdek het hoe om diepvetbraai met “airfry” en bitter min olie te doen, smul ek tog te lekker saam. En telkens staan ek verras met die eindresultaat. Iets in krummels gerol en gebraai kan maar bitter gou verkeerd uitdraai – kurkdroog met krummels wat afval of ‘n melerige gedoente. Maar na ‘n hele paar eksperimente in die Instant Vortex Airfryer het ek nou die kuns vervolmaak om die perfekte schnitzel binne ‘n ommesientjie te maak. Die geheim is om die filette eers goed te verkoel voordat jy dit gaarmaak sodat die krummels goed kan vaskleef. Dan verf jy dit liggies oraloor met ‘n dun-dun lagie olie. Belangrik ook is dat die filette in ‘n enkellaag in die laaitjie moet lê sodat dit eweredig goudbruin kan braai en vir die res sal die Instant Vortex Airfryer sorg – ‘n brosgebraaide korsie met sappige hoender binne, want binne slegs 10 min (of selfs minder) is die schnitzels gaar, so kans vir uitdroog is min.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Verkoeling: 30 min
Gaarmaak 10 min

HOENDER
4 hoenderborsfilette
Sout en peper
Mengsel van bruismeel en mielieblom
1 eier, geklits
Broodkrummels-en-sesamsaadmengsel
Olie
BYKOS
12—16 baba-aartappels
Gerasperde suurlemoenskil
Baba-tamaties aan die tak, indien verkies

1 HOENDER Sny ‘n paar kepe in die hoenderfilette en kap platter met die agterkant van jou handpalm. Geur met sout en peper. Rol in die meelmengsel, doop in eiergeel en rol dan in die broodmengsel. Plaas die hoender vir te minste ‘n halfuur in die yskas sodat die krummelmengsel goed kan kleef aan die hoender.
2 BYKOS Meng intussen die aartappels met ‘n klein bietjie olie en plaas in die laaitjie van die Instant Vortex Airfryer. “Airfry” vir 20 minute of totdat die aartappels bros en gaar is, draai om in die middel van die gaarmaaktyd. Rasper ‘n suurlemoen se skil oor.
3 Plaas die tamaties vir 2 minute in die Instant Vortex Airfryer en airfry tot ingekrimp en die velletjie net begin bars. Hou eenkant.
4 Verf die hoenderschnitzels alkant met olie en plaas die filette langs mekaar in die laaitjie van die Instant Vortex Airfryer. Airfry vir 10 minute of tot die hoender net gaar en brosbruin buite-om is (draai halfpad om).
5 Sit die hoenderschnitzels voor met die brosgebraaide aartappeltjies en gebarste tamaties.

Wil jy graag jou eie Instant Vortex Airfryer hê? Beskikbaar by @Home of Takealot.

‘n Nuwe manier van kook

Ek het julle seker nou lank genoeg aan ‘n lyntjie gehou oor waarmee ek doenig is in die kombuis.

En hier is dit nou – die CARMEN NIEHAUS COOKING TEA COLLECTION.

Twee bokse met my noukeurig uitgesoekte teeseleksie uit die Carmien-teereeks waarmee ek heeldag en aldag lank in die kombuis kook. Ek noem dit my “spice cupboard in a tea bag”!

Pleks van rye botteltjies speserye, staan daar boksies Carmién Tee in my speserykas waarmee ek graag eksperimenteer. Dit vra vir ‘n ietwat nuwe manier van kook met die geur en goedheid wat meestal saam met jou vloeistof by die kos ingemeng word, maar niks weerhou jou ook om die teesakkie se inhoud fyn te maal in ‘n stamper en vysel en dan nes ‘n gewone speserymengsel te gebruik nie.

Met die unieke rooibosteemengsels in die Carmién-teereeks kry mens die lekkerste geure en goedheid uit ‘n sakkie tee gebrou. Ek gebruik dit om vleis in gaar te maak, heerlike soppe mee te kook, selfs ‘n seekossop, in slaaisouse, poedings, noem maar op… ek bak ook al te graag daarmee.

In my reeks is daar tans twee bokse: die Floral & Fruity-boks bevat ‘n verskeidenheid tees met gewilde parfuumagtige blom- en vrugtegeure terwyl die Spice It Up-boks bestaan uit ‘n seleksie tees met sterk speserygeure wat sorg vir oemf en geurontploffings.

Gewapen met hierdie unieke kombinasie tees het jy niks ander geurgoed buiten miskien sout nodig nie. Die goedheid en geurigheid alles knus verpak in ‘n teesakkie.

Om jou touwys te maak hoe om met hierdie tees te kook is daar ook in elke boks ‘n reseptekaart vir elke tee met die allerlekkerste resep wat vir seker deel gaan word van jou “go to” resepversameling.

Beskikbaar by die Carmién Tee tee winkel by De Tol en op hul aanlyn winkel hier.

Lekker Bros Sonder Olie

Ek was nog nooit een vir enige diepvetgebraaide kosse nie, want ek kon net nie my gewete verby die feit kry dat die kos alles in olie gaargemaak word nie. Ja, die brosserigheid is heerlik, maar die skuldgevoel het die lekkerte oorheers. So vir jare lank het ek enige diesulke geregte bloot net vermy. Maar nou het daar vir my GROOOT uitkoms gekom – ‘n Instant Vortex air fryer, ‘n lekker grootte met ‘n 5.7 liter volume.

Die oulike masjientjie het knus ‘n staanplek tussen die broodrooster en ketel op my werksbank gekry, want anders as so baie ander masjienerige goed, is hierdie vierkantige airfryer mooi sag op die oog en kan maar heeldag lank in die oopte bly staan waar dit handig te pas kom, selfs al wil jy sommer net gou ‘n broodrolletjie opwarm.

En so het my liefdesverhouding begin – ek wat nooit maar nooit tjips wou gaarmaak nie, maak gereeld nou ‘n lekker groot bondel bros tjippes saam met ons Vrydagaand-hamburgers of klein bros aartappeltjies saam met Sondag se braaiboud.

Wat hierdie airfryer anders as ander maak is dat dit ‘n gemaklike reghoekige uittreklaai het, nie ‘n mandjie nie. Nie alleen is dit baie groter nie, dit maak ook soos ‘n droom skoon met glad niks wat vasbrand nie!

Wat my die meeste verbaas het, is die spoed waarteen die braaiertjie voorverhit – 2 min en dis by 205°C en die kos is ook binne ‘n ommesientjie gaar. Waak net daarteen om die laaitjie nie te oorlaai nie, maar regtigwaar, hy vat lekker baie op ‘n slag. Ek gooi deesdae beet en klein uitjies sommer so met skil en al in die laaitjie en binne 20 minute is dit al gaar. Jy het ook glad nie ‘n graad nodig om die airfryer te werk nie – die “touch screen” is eenvoudig en maklik verstaanbaar en daar’s verskeie programme wat jy kan gebruik. Ek het al bykans alles getoets, moet nou nog net ‘n koek of wat daarin ook uitprobeer, want ja, jy kan tot bak daarin. Moet sê, dis net per geleentheid en wanneer ek regtig groot moet kook wat ek deesdae my oond aanskakel. Verder doen ek alles wat voorheen ‘n oond (en diepvetbraaier) benodig het in my nuwe lugbraaiertjie. Teen R2 599 is dit regtig goeie waarde vir geld! Beskikbaar by @Home of Takealot.

Geniet Grenache

Grenache-wyne is tans die wyn van die oomblik, tog was dit vir lank glad nie geag nie. Gepars van druiwe wat afkomstig is van ou bosttokke, sal al wat wynmaker is egter nou hul oogtande gee om van hierdie druiwe in die hande te kry.

Die familie-wynkelder, Piekenierskloofwyne, is bevoorreg om die enigstes te wees wat steeds redelike hektare ou bosstok-grenache het op hul plase, Bergendal en Heidedal wat geleë is in die Piekenierskloofarea. Dié bosstokke is desjare terug nog aangeplant deur my pa, Carel van Zyl. Dit besit nou die prestige status as Ou Wêreldse Wyne. Hiermee word daar tans pryswennerswyne gemaak deur die talentvolle wynmakers, Jaco van Niekerk en Hendrien Vercuiel.

Piekenierskloof het onlangs ‘n heerlike wynproe op Riebeeck-Kasteel gehou waar hulle vir die uitgelese Baronne-wynklub van Gauteng, ‘n unieke Grenache-ervaring gebied het. Ek en die wynmaker, Jaco van Niekerk, het koppe bymekaargesit om vir elke wyn ‘n passende happie te maak wat nie net gespreek het tot die geurprofiel van die wyn nie, maar ook kosbare familie-herinneringe verteenwoordig het.

DIE SPYSKAART

Aarbei-slaai met prosciutto, bokkaas, spekboom en roket met ‘n aarbei-rooibos-vinaigrette en okkerneut-pralienkrummel oorgesprinkel
PIEKENIERSKLOOF GRENACHE WILHELMINA MCC (binnekort beskikbaar op die Piekenierskloof aanlyn winkel.)

Romerige filotertjies met olywe en pietersielie-en-suurlemoen-gremolata, afgerond met gekarameliseerde rooi uie
PIEKENIERSKLOOF GRENACHE BLANC 2021

Waterblommetjie-tempura met Thai-doopsousie
PIEKENIERSKLOOF GRENACHE ROSÉ 2021

Ta Martie’s hoenderpastei
CAREL VAN ZYL GRENACHE NOIR OLD VINE 2018

Marrokaase rafellamsboud op aartappel-rôsti
PIEKENIERSKLOOF TANNAT 2020

Dubbellaag sjokolade-vanielje-kaaskoek met bessiesous
PIEKENIERSKLOOF GRANACHE 2020

‘n Happie en wyn wat veral heelwat kommentaar uitgelok het was die Bolandse lekkerny, waterblommetjies, wat saam met die Grenache Rosé, wat lekker droog is met vars aarbei- en bessiegeure en roosondertone, voorgesit is.

Waterblommetjies het ruimskoots in die damme van die oorspronklike Van Zylplaas, Paardekop gegroei. Destyds is dit fyngekook met baie suurlemoensap en witpeper en voorgesit as toekos op die Sondagtafel. Vir die happie is die waterblommetjies slegs geblasjeer en hierdie varsheid het die varsheid van die Grenache Rosé goed gekomplementeer met die verrassende effense byt in die sousie goed geblus deur die rosé.

WATERBLOMMETJIE-TEMPURA MET THAISE SOUSIE

TEMPURA
250 ml (1 k) bruismeel
Knippie sout
160 ml (⅔ k) koue vonkelwater
10 ml (2 t) olie
2 eierwitte
WATERBLOMMETJIES
500 g waterblommetjies, harde blaartjies en stingel verwyder en geblansjeer
Olie vir diepvetbraai
THAISE SOUSIE
2 knoffelhuisies, gerasper
1—2 ontpitte brandrissies, gekap
15 ml (1 e) suiker
Sap van 1 lemmetjie
50 ml vissous
50 ml water

1 TEMPURA Meng die bruismeel en sout, voeg die water en olie by en klits goed tot glad. Laat een uur staan.
2 Klits die eierwitte styf net voor jy dit benodig en vou dit by die beslag in.
3 WATERBLOMMETJIES Doop die waterblommetjies in die beslag en diepvetbraai in sarsies in warm olie tot goudbruin. Dreineer op haddoekpapier en sit voor saam met die Thaise sousie.
4 THAISE SOUSIE Maak die knoffel en brandrissie fyn saam met die suiker in ‘n stamper met ‘n vysel. Voeg die lemmetjiesap, vissous en water by en meng goed.

Romerige Kerriehoender met Groen Rys

Ons eet gereeld kerrie in die huis – meestal geskoei op die matige aromatiese kerries soos ek by die kosfoendi, Cass Abrahams nog geleer het. By haar het ek ook geleer wat die waarde is om met jogurt te kook – amper om romerigheid by kos te voeg sonder om ‘n gereg ryk te maak. So in my yskas is daar altyd ‘n houer jogurt en ek meng dit ruimskoots by al wat gereg is in, hetsy in ‘n bredie of maak sampioensous daarmee of selfs slaaisous. In hierdie kerrie smaak dit hemels.

ROMERIGE KERRIEHOENDER MET GROEN RYS

Die kerriehoender is so halfwas geskoei op botterhoender. Doodmaklik om te maak, jy kan selfs net alles bymekaargooi, in die oond druk en daarvan vergeet.

Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaak: 20 min

JOGURTMENGSEL
500 ml (1 k) romerige jogurt
45 ml (3 e) aangemaakte nat kerriepasta
5 ml (1t) fyn komyn
15 ml (3 t) tamatiepasta
10 ml (2 t) bruinsuiker
10 ml (2 t) mielieblom
HOENDER
30 ml (2 e) olie
1 ui, fyngekap
3 cm-stuk gemmer, gerasper
3 knoffelhuisies, fyngedruk
1 kaneelstok
2 steranys (opsioneel)
8 hoenderborsfilette, in stukke gesny of hoenderporsies soos dytjies en boudjies
Groot hand vol koljanderblare vir bo-oor

1 JOGURTMENGSEL Meng al die bestanddele saam en hou eenkant.
2 HOENDER Verhit die olie en roerbraai die ui, knoffel en gemmer tot sag en geurig, voeg die heel speserye by.
3 Geur die hoender met sout en peper en braai in sarsies tot bruin.
4 Giet die jogurtmengsel oor, verlaag die hitte en prut tot die hoender sag en gaar en die sous lekker dik is. Sprinkel die koljanderblare oor en sit voor met die groen rys (sien resep onder).

Wenk: Vervang helfte van die jogurt met ‘n klein blikkie klappermelk
Roer ‘n blikkie kekerertjies of botterbone teen die einde by die hoender om dit meer te maak.

GROEN RYS: Meng 500 ml (2 k) gaar basmati-rys met 2—3 gekapte stingeluie, ’n goeie handvol gekapte vars koljander, basiel en ment en die gerasperde skil van 1 suurlemoen

Vinnige kerriemengsel: Meng 10 ml (2 t) garam masala, 15 ml (1 e) blaarmasala, 5 ml (1 t) geroosterde masala of selfs brejani-masala en gebruik dit pleks van die nat kerriepasta.

Veelsydige Biscotti

Ek het nou al vertel van die eindelose teedrinkkuiers wat ons gereeld saam met my ma op die noordestoep van haar huis meemaak. Noudat ek en my gesin teen die Weskus bly en permanent van die huis af werk, knyp ons, soos ons skedules dit toelaat, soms ook graag ‘n tydjie af om op die stoep te sit vir ‘n wyle en die uitsig oor die Langebaanmeer te geniet. Dan maak ons tee in mooi glaspotjies, hou dit warm op ‘n kersie-staander en geniet dit saam met ‘n beskuitjie of wat. Baie keer egter, maak ek sommer die teepot op my lessenaar staan waar ek dan daglank daaraan kan teug. Carmien se Earl Grey, gemaak met groen rooibos is my gunsteling oggendtee-drankie, ek geniet dit selfs ook soms met ‘n bietjie melk. Soos die son begin water trek, slaan ek oor na Carmien se Orange Camomile, ook gemaak van groen rooibos en ideaal om jou te help ontspan. Onthou, dat as jy hierdie tees se subtiele geure ten beste wil geniet, jy dit by 60° moet drink. Heeeerlik! Spesiaal vir ons stoepkuiers, bak ek hierdie biscotti – die resep is lekker veelsydig en jy kan verskeie soorte van sjokolade- amandel – tot gemmerbiscotti maak.

VEELSYDIGE BISCOTTI

Ek hou van biscotti wat sonder botter gemaak word.

Maak 15-20 biscotti
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 25 min
Uitdroogtyd: 20 min

160 ml (⅔ k) suiker
3 ekstragroot eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
5 ml (1 t) bakpoeier
knippie sout
500 ml (2 k) koekmeel

BYVOEGING
100 g pistasieneute, grof gekap
100 g bosbessies

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n bakplaat
1 Klits die eiers en suiker tot lig en romerig. Klits die vanieljegeursel by.
2 Sif die droë bestanddele by en meng goed deur die eiermengsel. Voeg enige van die byvoegings by (sien ook variasies).
3 Vorm in ‘n bol en plaas op ‘n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Werk met klam hande, want die deeg kan effe taai raak.
4 Verdeel die deeg in twee gelyke dele en vorm in twee ovaalvormige broodjies. Plaas op die gesmeerde bakplaat.
5 Bak 25 minute tot effens bruin en ferm. Laat omtrent 10 minute op die bakplaat afkoel.
6 Sny dan in dun diagonale skyfies van omtrent 5 mm met ‘n riffeltandmes.
7 Verlaag die oondtemperatuur tot 160°C. Pak die biscotti-skyfies in ‘n enkellaag op ‘n draadrakkie op ‘n bakplaat. Bak 10 minute aan elke kant tot droog.
8 Laat goed afkoel en bêre in ‘n lugdigte houer.

VARIASIES
Sjokolade-biscotti: Vervang 125 ml (½ k) van die koekmeel met kakao en die pistasieneute en bosbessies met gekapte pekanneute.
Amandelbiscotti: Vervang die totale hoeveelheid neute en bosbessies met heel amandels.
Gemmerbiscotti: Vervang die totale hoeveelheid neute en bosbessies met gekapte ingemaakte gemmer.

Smullekker kaaskoek vir raakvatter vroue

Augustus is vrouemaand en vir al die raakvattervroue in ons land wil ek almal graag bederf met my groot gunsteling: kaaskoek, gebakte kaaskoek. Ek het verskeie gunstelingresepte, maar die een wat ek aan die Weskus geproe het, bly nog my gunsteling. Die koek word lank en stadig gebak wat dit ‘n heerlike romerige tekstuur gee, al kry die koek self nie enige room in nie, ek gebruik ‘n kombinasie van maaskase. Dis ook nie so soet nie. Sedertdien gebruik ek dit as basis vir verskeie maniere van kaaskoek voorsit. Ek geniet veral die variasie met die sjokoladelagie bo-op (sien variasie vir ‘n tweekleurkoek).

KORS
250 ml (1 k) koekmeel
100 g koue botter, gerasper
125 ml (1/2 k) gekapte pekanneute
Bietjie yswater indien nodig

VULSEL
3 bakkies (230 g elk) gladde maaskaas, geroomde maaskaas en roomkaas
25 ml (5 t) mielieblom
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
3 ekstra-groot eiers
2 eiergele
180 ml (3/4 k) suiker
Knippie sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 23 cm losboompan

1 KORS Meng die meel en botter goed in ‘n voedselverwerker tot die soos broodkrummels lyk (of vryf die botter met jou vingerpunte in). Voeg die neute by en voeg net genoeg water by om ‘n stywe deeg te maak. Druk vas onder en halfpad teen die kante van die pan, prik die kors en verkoel. Bak 5 minute.
2 VULSEL Plaas al die bestanddele vir die vulsel in ‘n bak en meng tot glad. Giet in die kors. Verlaag temperatuur tot 100° C. en bak 1½ uur lank tot net gaar, maar steeds effe drillerig in die middel. Skakel die oond af en laat afkoel in die oond. Verkoel tot benodig

Variasie: vir tweekleurkoek: Verdeel die klaargemengde vulselmengsel in twee en voeg 60 ml (¼ k) kakao by een deel. Giet die wit mengsel in die kors en giet die kakaomengsel versigtig bo-op. Bak soos beskryf.

Ander soort kors: Meng 45 m (3 e) bruinsuiker met 250 ml (1 k) fyngekapte neute, 180 ml (3/4 k) hawermout en 125 ml (1/2 k) gesmelte botter en 1 effe geklitste eierwit.

Opgepofde Omelet

‘n Eier ‘n dag, laat die dokter wag – as ek nou maar die gesegde so effe kan verdraai, want die Suid-Afrikaanse department van gesondheid se dieetriglyne ondersteun die feit dat mens eiers daagliks in matige hoeveelhede kan eet. Nie net is dit ‘n goeie bron van kwaliteit-proteiene nie en onversadigde vette nie, dit bevat ook ‘n hele verskeidenheid ander nutriente wat help om die liggaam se immuniteitsisteem te ondersteun.

‘n Paar jaar terug tydens die gewilde realiteits-kookreeks, Kokkedoor, wat op Prins Albert geskiet is, het ek ‘n paar maal as beoordelaar opgetree. Ons het altyd in die prentjiemooi Dennehof-gasteplaas op die buiterant van die dorp oorgebly. Soggens is ons bederf met die heerlikste ontbyt onder die bome op die dek waaronder die leiwater kabbelend deurvloei. Pofferige omelet gemaak met 3 eierwitte met ‘n eiergeel deurgemarmer, was my gunsteling. Op Langebaan sit ons dit baie keer as ‘n groot tafelomelet voor wanneer ons laatoggend op die stoep kuier. Dan gebruik ek sommer eierbokse as plekmatjies as ons die tafel mooi wil dek.

RESEP

Genoeg vir 2 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: 5 min per omelet

VULSEL 1
1 klein ui (rooi of bruin), in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk.
olyfolie
100 g sampioene, in skyfies gesy
15 ml (1 e) basiliepesto
3-4 skyfies camembertkaas of selfs wit Cheddarkaas

VULSEL 2
4 baba-tamaties
olie
Sout en peper
15 ml (1 e) songedroogde tamatiepesto
Groot handvol baba-spinasie en/of gekapte koljanderblare
1 wiel feta-kaas

OMELET
6 eierwitte
olyfollie
2 eiergele
Sout en peper

1 VULSEL 1 Braai die ui en knoffel tot sag en gaar in bietjie olyfolie, voeg die sampioene by en braai tot bruin. Roer die pesto by. Skep uit.
VULSEL 2 Braai die tamaties in bietjie verhitte olie tot net effe gebars, Geur met sout en peper en roer die pesto deur. Skep uit.
2 OMELET Verhit ‘n kleefvrye pannekoekpan, verhit ‘n bietjie olyfolie daarin.
3 Klits die eierwitte styf, skep helfte in die pan en maak gelyk met ‘n spatula. Giet helfte van die eiergeel in ‘n dun straaltjie oor die eierwit.
4 Braai tot die omelet gaar van onder is en nie meer vassit aan die pan nie (die kante sal begin optrek).
5 Keer versigtig om met ‘n eierspaan en braai tot die anderkant ook net gaar is
6 Skep vulsel van jou keuse op, pak kaas op, vou toe en verhit tot net effe gesmelt. Sit dadelik voor.
7 Doen die tweede omelet op dieselfde manier.

Smullekker Groentebakkies

Smulkos in ‘n bakkie

Die voorraad peulgroente, sade, pitte, neute, allerhande soorte ryse en grane word by die dag groter in my koskas. So ook die groenteverskeidenheid in die groentelaai. Juis nadat ek dieetkundige, Liezel Engelbrecht se gesondheidsbrokkie oor rooivleis gelees het, het ek opnuut besef dat meeste van ons sal moet afskaal aan die hoeveelheid vleis, rooivleis veral, wat ons eet.

“Flexitarian” is die nuwe gonswoord, maw plantgebaseerde maaltye maak deel uit van jou eetplan en jy eet vleis per geleentheid.

Omdat hierdie neiging net groter en groter word, het ek die afgelope tyd baie geekspreimenteer met plantkosse. En ek geniet dit. Dis so ‘n barmhartige manier van eet, want die kosse is so bereid om hande te vat en is so ontvanklik vir al wat geur is. Die groot geheim is dus dat jy jou geurprofiele moet ken en nie skaam moet wees met geurgoed byvoeg nie. Verder beïndruk die verskillende teksture my ook telkens – die kombinasies van bros met sag en romerig is net ongelooflik. En dan is daar natuurlik die wonderlikste kleure van die groente wat jou net uitnooi om te eet!   

Knus langs my kombuisdeur het daar onlangs ‘n soetrissie-plantjie opgeslaan. Ek het nie gedink dit sou die Weskuswind oorleef nie, maar tog, toe ek my weer kom kry, hang dit vol blinkskil soetrissies. Party het ek groen geoes, ander langer laat hang tot hulle mooi rooi geskyn het. En dan maak dit die lekkerste bakkies waarin jy vir elkeen sy eie etetjie kan berei. Jy kan egter ook tamaties of eiervrug gebruik as bakkies, andersins gewoon net ‘n mooi keramiekbakkie. Hier is drie verskillende vulsels wat jy kan inskep.

RESEP

  • Genoeg vir 4—6 mense
  • Bereiding: 20 min
  • Gaarmaak: 30 min

BESTANDDELE

  • 4—6 rooi soetrissies vir elk van die vulsels

MET GRAANKOS

  • 250-500 ml (1-2 k) kokende groenteaftreksel
  • 250 ml (1 k) koeskoes, bulgur, sorghum of selfs bruin-basmati-rys
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 4 stingeluie, gekap
  • Olie
  • 5 ml (1 t) fyn komyn
  • 2 ml (1/2 t) fyn koljander
  • 125 ml (1/2 k) sultanas of gekapte Turkse appelkosies, geweek
  • 125 ml (1/2 k) gekapte neute
  • 60 ml (1/4 k) gekapte koljanderblare

MET RICOTTA EN SAMPIOENE

  • 230 g gemengde sampioene, opgekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • ¼ rooi ui, gekap
  • Olie
  • 5 ml (1 t) suurlemoesap
  • 225 g ricotta- of geroomde maaskaas
  • Sout en peper na smaak
  • Geroosterde sonneblomsade en mikro-kruie vir oorsprinkel

MET SPINASIE EN KEKERERTJIES

  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • Olie
  • Groot handvol baba-spinasieblare
  • 100 g songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
  • 1 blik (40 g) kekerertjies, gedreineer
  • 10—12 swart olywe, ontpit en grof gekap

VOORSIT

  • Ekstra sade, neute en kruie vir oorsprinkel

VOORBEREIDING

  • Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n bakplaat.
  • Sny die stingelent-kop van die soetrissies af en hou eenkant. Sny die wit kerngedeeltes uit.

GRAANKOS

1 Giet gelyke hoeveelhede aftreksel oor die koeskoes of bulgur en laat staan tot goed uitgeswel, vlok met ‘n vurk. (Kook die sorghum en rys in minstens dubbel die hoeveelheid aftreksel tot sag en dreineer.

2 Roerbraai die knoffel en ui in die verhitte olie tot sag, voeg die speserye by en roerbraai effens tot die geure goed gemeng het.

 3 Voeg die uiemengsel saam met die droëvrugte, neute en kruie by die koeskoes of bulgur. Geur met sout en peper.

MET RICOTTA

1 Roerbraai die sampioene, knoffel en ui in verhitte olie tot sag. Roer by die kaas in en geur met sout en peper.

MET SPINASIE EN KEKERETJIES

1 Roerbraai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag. Voeg die spinasieblare en songedroogde tamatie by en meng. Roerbraai tot die spinasie verwelk is. Roer die kekerertjies en olywe by.

OM TE BAK: Skep enige van vulsels in die soetrissie-magies, plaas die “deksel” terug en pak op die bakplaat. Bak sowat 20—30 minute of tot die soetrissie net sag is. Sprinkel sade, neute en kruie oor soos verkies en sit warm voor.

Woensdag Wenke: Hoeveel rooivleis eet jy?

Liezel Engelbrecht, geregistreerde dieetkundige, gesels hierdie week oor rooivleisinname en ander proteïenbronne. Besoek haar webtuiste of konnekteer met haar op Facebook en Instagram.

Gesondheidsvraag: Hoeveel rooivleis eet jy?

Hoewel rooivleis ‘n goeie bron van proteïen is (dit bevat ongeveer 21g per 90g gekookte porsie) en ook ander voedingstowwe soos yster, vitamien B12 en sink bevat, beveel die Wêreldkankernavorsingsfonds aan dat ons nie meer as 500 g rooivleis per week eet nie, wat verwerkte vleis (soos wors en kouevleis) insluit.

As jy dus van rooivleis hou kan dit beslis deel vorm van ‘n gesonde eetpatroon, maar navorsing wys dat oormatige inname daarvan die risiko van gesondheidsprobleme soos hartsiektes en kanker kan verhoog. Boonop weet ons almal teen die tyd dat dit ook sleg is vir die planeet om oormatige hoeveelhede vleis en ander dierprodukte te eet. Gelukkig is daar ‘n wonderlike verskeidenheid van hoë-proteïen kosse om van te kies.

Hier is ‘n paar plantbronne* om te probeer:

  • 1 koppie gekookte lensies = 16g
  • 1 koppie gekookte bone (bv. kekerertjies) = 14g
  • 2 eetlepels (30g) hempsade = 12g
  • 1 koppie gekookte quinoa = 10g
  • 100g tofu = 8g
  • 2 eetlepels (30g) lynsade = 7g
  • 2 plat eetlepels (30g) grondboontjiebotter = 7g
  • 1 koppie ertjies = 7g
  • 30g neute (bv. amandels) = 6g

Ander dierbronne van proteïene*:

  • 90g gekookte hoender = 21g
  • 90g gekookte vis = 21g
  • 1 blikkie gevlokte tuna = 24g
  • 1/2 koppie (125ml) maaskaas = 14g
  • 1 koppie jogurt (250ml) = 12g
  • 1 koppie melk (250 ml) = 8g
  • 1 eier = 7g

Het jy geweet?

  • Lensies en boontjies word beskou as styselagtige proteïene, maar dit is uitstekende veselbronne, iets waarvan die meeste van ons nie genoeg kry nie. Dit help boonop om jou meer versadig te laat voel.
  • Buiten proteïene bevat neute en sade ook vet, maar wees gerus dat dit onversadigde vette is, dus dié tipe wat as gesonder beskou word as versadigde vette van diere. Beide neute en sade is ook goeie bronne van vesel.
  • Die meeste groente en stysel bevat klein hoeveelhede proteïene (2-3 g per porsie), so saam met die ander plantproteïenbronne is dit is dus beslis uitvoerbaar om genoeg proteïene in te neem met eetpatroon oorwegend plantaardige dieet.

*Benaderde waardes. Kan verskil van tussen handelsmerke en variante.

Sjokoladerol

Ek is altyd daarop uit om te kyk hoe ek resepte gesonder maar steeds lekker kan maak – maw om meeste sleg uit ‘n gereg te haal sonder om die lekker op te offer. Hierdie sjokoladerol is eintlik te goed om waar te wees – dis koringvry, suikervry en bykans vetvry, maar smaak hemels, ‘n tipiese lekkergoed-resep (maw dis lekker, maar ook goed vir jou).

Deesdae verkies ek erythritol, ‘n suiker-alkohol wat nie in die bloedstroom opgeneem word nie, maar bykans net so uitgeskei word en ook in die keto-dieet gebruik kan word, as suiker-plaasvervanger. Dit werk goed in gebak. Andersins gebruik xylitol of as suiker jou nie pla nie, gebruik dieselfde hoeveelheid strooisuiker.

SJOKOLADEROL SONDER SONDE
Maak 12-15 snytjies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 20 min

VIR DIE SJOKOLADEROL
6 groot eiers, geskei
150 g erythritol (lae kilojoule suiker-plaasvervanger)
50 g kakao
Knippie sout
125 ml (½k) fyn amandels

VIR DIE VULSEL
375 ml (1½ k) natuurlike jogurt
50 g suikervrye donker sjokolade (80 %), gesmelt
100 g vars bessies

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n rolkoekpannetjie met kossproei en voer uit met bakpapier. Spuit weer en stuif liggies met kakao.

1 Klits die eiergeel en erythritol saam tot lig en romerig.

2 Vou die kakao, sout en fyn amandels in.

3 Klits die eierwit in ‘n skoon bak met ‘n skoon eierklitster tot styf, roer bietjie by die eiergeelmengsel in en vou die eiergeelmengsel dan by die eierwit in.

4 Giet in die rolkoekpan, maak gelyk en bak 20 minute tot sponserig in die middel.

5 Keer uit op ‘n vadoek, trek die papier af en rol op in die vadoek. Koel af.

6 VULSEL Meng 60–125 ml van die jogurt by die sjokolade in en meng goed.

7 Smeer die sjokoladesmeer oor die rolkoek en smeer van die jogurt bo-op. Pak van die bessies op en rol weer op.

8 Rond af met ‘n smeersel sjokoladesmeer bo-op en versier met bessies. Stuif kakao oor.