‘n Eier ‘n dag, laat die dokter wag – as ek nou maar die gesegde so effe kan verdraai, want die Suid-Afrikaanse department van gesondheid se dieetriglyne ondersteun die feit dat mens eiers daagliks in matige hoeveelhede kan eet. Nie net is dit ‘n goeie bron van kwaliteit-proteiene nie en onversadigde vette nie, dit bevat ook ‘n hele verskeidenheid ander nutriente wat help om die liggaam se immuniteitsisteem te ondersteun.
‘n Paar jaar terug tydens die gewilde realiteits-kookreeks, Kokkedoor, wat op Prins Albert geskiet is, het ek ‘n paar maal as beoordelaar opgetree. Ons het altyd in die prentjiemooi Dennehof-gasteplaas op die buiterant van die dorp oorgebly. Soggens is ons bederf met die heerlikste ontbyt onder die bome op die dek waaronder die leiwater kabbelend deurvloei. Pofferige omelet gemaak met 3 eierwitte met ‘n eiergeel deurgemarmer, was my gunsteling. Op Langebaan sit ons dit baie keer as ‘n groot tafelomelet voor wanneer ons laatoggend op die stoep kuier. Dan gebruik ek sommer eierbokse as plekmatjies as ons die tafel mooi wil dek.
RESEP
Genoeg vir 2 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: 5 min per omelet
VULSEL 1
1 klein ui (rooi of bruin), in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk.
olyfolie
100 g sampioene, in skyfies gesy
15 ml (1 e) basiliepesto
3-4 skyfies camembertkaas of selfs wit Cheddarkaas
VULSEL 2
4 baba-tamaties
olie
Sout en peper
15 ml (1 e) songedroogde tamatiepesto
Groot handvol baba-spinasie en/of gekapte koljanderblare
1 wiel feta-kaas
OMELET
6 eierwitte
olyfollie
2 eiergele
Sout en peper
1 VULSEL 1 Braai die ui en knoffel tot sag en gaar in bietjie olyfolie, voeg die sampioene by en braai tot bruin. Roer die pesto by. Skep uit.
VULSEL 2 Braai die tamaties in bietjie verhitte olie tot net effe gebars, Geur met sout en peper en roer die pesto deur. Skep uit.
2 OMELET Verhit ‘n kleefvrye pannekoekpan, verhit ‘n bietjie olyfolie daarin.
3 Klits die eierwitte styf, skep helfte in die pan en maak gelyk met ‘n spatula. Giet helfte van die eiergeel in ‘n dun straaltjie oor die eierwit.
4 Braai tot die omelet gaar van onder is en nie meer vassit aan die pan nie (die kante sal begin optrek).
5 Keer versigtig om met ‘n eierspaan en braai tot die anderkant ook net gaar is
6 Skep vulsel van jou keuse op, pak kaas op, vou toe en verhit tot net effe gesmelt. Sit dadelik voor.
7 Doen die tweede omelet op dieselfde manier.