Smullekker kaaskoek vir raakvatter vroue

Augustus is vrouemaand en vir al die raakvattervroue in ons land wil ek almal graag bederf met my groot gunsteling: kaaskoek, gebakte kaaskoek. Ek het verskeie gunstelingresepte, maar die een wat ek aan die Weskus geproe het, bly nog my gunsteling. Die koek word lank en stadig gebak wat dit ‘n heerlike romerige tekstuur gee, al kry die koek self nie enige room in nie, ek gebruik ‘n kombinasie van maaskase. Dis ook nie so soet nie. Sedertdien gebruik ek dit as basis vir verskeie maniere van kaaskoek voorsit. Ek geniet veral die variasie met die sjokoladelagie bo-op (sien variasie vir ‘n tweekleurkoek).

KORS
250 ml (1 k) koekmeel
100 g koue botter, gerasper
125 ml (1/2 k) gekapte pekanneute
Bietjie yswater indien nodig

VULSEL
3 bakkies (230 g elk) gladde maaskaas, geroomde maaskaas en roomkaas
25 ml (5 t) mielieblom
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
3 ekstra-groot eiers
2 eiergele
180 ml (3/4 k) suiker
Knippie sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 23 cm losboompan

1 KORS Meng die meel en botter goed in ‘n voedselverwerker tot die soos broodkrummels lyk (of vryf die botter met jou vingerpunte in). Voeg die neute by en voeg net genoeg water by om ‘n stywe deeg te maak. Druk vas onder en halfpad teen die kante van die pan, prik die kors en verkoel. Bak 5 minute.
2 VULSEL Plaas al die bestanddele vir die vulsel in ‘n bak en meng tot glad. Giet in die kors. Verlaag temperatuur tot 100° C. en bak 1½ uur lank tot net gaar, maar steeds effe drillerig in die middel. Skakel die oond af en laat afkoel in die oond. Verkoel tot benodig

Variasie: vir tweekleurkoek: Verdeel die klaargemengde vulselmengsel in twee en voeg 60 ml (¼ k) kakao by een deel. Giet die wit mengsel in die kors en giet die kakaomengsel versigtig bo-op. Bak soos beskryf.

Ander soort kors: Meng 45 m (3 e) bruinsuiker met 250 ml (1 k) fyngekapte neute, 180 ml (3/4 k) hawermout en 125 ml (1/2 k) gesmelte botter en 1 effe geklitste eierwit.

%d bloggers like this: