Smullekker Groentebakkies

Smulkos in ‘n bakkie

Die voorraad peulgroente, sade, pitte, neute, allerhande soorte ryse en grane word by die dag groter in my koskas. So ook die groenteverskeidenheid in die groentelaai. Juis nadat ek dieetkundige, Liezel Engelbrecht se gesondheidsbrokkie oor rooivleis gelees het, het ek opnuut besef dat meeste van ons sal moet afskaal aan die hoeveelheid vleis, rooivleis veral, wat ons eet.

“Flexitarian” is die nuwe gonswoord, maw plantgebaseerde maaltye maak deel uit van jou eetplan en jy eet vleis per geleentheid.

Omdat hierdie neiging net groter en groter word, het ek die afgelope tyd baie geekspreimenteer met plantkosse. En ek geniet dit. Dis so ‘n barmhartige manier van eet, want die kosse is so bereid om hande te vat en is so ontvanklik vir al wat geur is. Die groot geheim is dus dat jy jou geurprofiele moet ken en nie skaam moet wees met geurgoed byvoeg nie. Verder beïndruk die verskillende teksture my ook telkens – die kombinasies van bros met sag en romerig is net ongelooflik. En dan is daar natuurlik die wonderlikste kleure van die groente wat jou net uitnooi om te eet!   

Knus langs my kombuisdeur het daar onlangs ‘n soetrissie-plantjie opgeslaan. Ek het nie gedink dit sou die Weskuswind oorleef nie, maar tog, toe ek my weer kom kry, hang dit vol blinkskil soetrissies. Party het ek groen geoes, ander langer laat hang tot hulle mooi rooi geskyn het. En dan maak dit die lekkerste bakkies waarin jy vir elkeen sy eie etetjie kan berei. Jy kan egter ook tamaties of eiervrug gebruik as bakkies, andersins gewoon net ‘n mooi keramiekbakkie. Hier is drie verskillende vulsels wat jy kan inskep.

RESEP

  • Genoeg vir 4—6 mense
  • Bereiding: 20 min
  • Gaarmaak: 30 min

BESTANDDELE

  • 4—6 rooi soetrissies vir elk van die vulsels

MET GRAANKOS

  • 250-500 ml (1-2 k) kokende groenteaftreksel
  • 250 ml (1 k) koeskoes, bulgur, sorghum of selfs bruin-basmati-rys
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 4 stingeluie, gekap
  • Olie
  • 5 ml (1 t) fyn komyn
  • 2 ml (1/2 t) fyn koljander
  • 125 ml (1/2 k) sultanas of gekapte Turkse appelkosies, geweek
  • 125 ml (1/2 k) gekapte neute
  • 60 ml (1/4 k) gekapte koljanderblare

MET RICOTTA EN SAMPIOENE

  • 230 g gemengde sampioene, opgekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • ¼ rooi ui, gekap
  • Olie
  • 5 ml (1 t) suurlemoesap
  • 225 g ricotta- of geroomde maaskaas
  • Sout en peper na smaak
  • Geroosterde sonneblomsade en mikro-kruie vir oorsprinkel

MET SPINASIE EN KEKERERTJIES

  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • Olie
  • Groot handvol baba-spinasieblare
  • 100 g songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
  • 1 blik (40 g) kekerertjies, gedreineer
  • 10—12 swart olywe, ontpit en grof gekap

VOORSIT

  • Ekstra sade, neute en kruie vir oorsprinkel

VOORBEREIDING

  • Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n bakplaat.
  • Sny die stingelent-kop van die soetrissies af en hou eenkant. Sny die wit kerngedeeltes uit.

GRAANKOS

1 Giet gelyke hoeveelhede aftreksel oor die koeskoes of bulgur en laat staan tot goed uitgeswel, vlok met ‘n vurk. (Kook die sorghum en rys in minstens dubbel die hoeveelheid aftreksel tot sag en dreineer.

2 Roerbraai die knoffel en ui in die verhitte olie tot sag, voeg die speserye by en roerbraai effens tot die geure goed gemeng het.

 3 Voeg die uiemengsel saam met die droëvrugte, neute en kruie by die koeskoes of bulgur. Geur met sout en peper.

MET RICOTTA

1 Roerbraai die sampioene, knoffel en ui in verhitte olie tot sag. Roer by die kaas in en geur met sout en peper.

MET SPINASIE EN KEKERETJIES

1 Roerbraai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag. Voeg die spinasieblare en songedroogde tamatie by en meng. Roerbraai tot die spinasie verwelk is. Roer die kekerertjies en olywe by.

OM TE BAK: Skep enige van vulsels in die soetrissie-magies, plaas die “deksel” terug en pak op die bakplaat. Bak sowat 20—30 minute of tot die soetrissie net sag is. Sprinkel sade, neute en kruie oor soos verkies en sit warm voor.

%d bloggers like this: