Woensdag Wenke: Hoeveel rooivleis eet jy?

Liezel Engelbrecht, geregistreerde dieetkundige, gesels hierdie week oor rooivleisinname en ander proteïenbronne. Besoek haar webtuiste of konnekteer met haar op Facebook en Instagram.

Gesondheidsvraag: Hoeveel rooivleis eet jy?

Hoewel rooivleis ‘n goeie bron van proteïen is (dit bevat ongeveer 21g per 90g gekookte porsie) en ook ander voedingstowwe soos yster, vitamien B12 en sink bevat, beveel die Wêreldkankernavorsingsfonds aan dat ons nie meer as 500 g rooivleis per week eet nie, wat verwerkte vleis (soos wors en kouevleis) insluit.

As jy dus van rooivleis hou kan dit beslis deel vorm van ‘n gesonde eetpatroon, maar navorsing wys dat oormatige inname daarvan die risiko van gesondheidsprobleme soos hartsiektes en kanker kan verhoog. Boonop weet ons almal teen die tyd dat dit ook sleg is vir die planeet om oormatige hoeveelhede vleis en ander dierprodukte te eet. Gelukkig is daar ‘n wonderlike verskeidenheid van hoë-proteïen kosse om van te kies.

Hier is ‘n paar plantbronne* om te probeer:

  • 1 koppie gekookte lensies = 16g
  • 1 koppie gekookte bone (bv. kekerertjies) = 14g
  • 2 eetlepels (30g) hempsade = 12g
  • 1 koppie gekookte quinoa = 10g
  • 100g tofu = 8g
  • 2 eetlepels (30g) lynsade = 7g
  • 2 plat eetlepels (30g) grondboontjiebotter = 7g
  • 1 koppie ertjies = 7g
  • 30g neute (bv. amandels) = 6g

Ander dierbronne van proteïene*:

  • 90g gekookte hoender = 21g
  • 90g gekookte vis = 21g
  • 1 blikkie gevlokte tuna = 24g
  • 1/2 koppie (125ml) maaskaas = 14g
  • 1 koppie jogurt (250ml) = 12g
  • 1 koppie melk (250 ml) = 8g
  • 1 eier = 7g

Het jy geweet?

  • Lensies en boontjies word beskou as styselagtige proteïene, maar dit is uitstekende veselbronne, iets waarvan die meeste van ons nie genoeg kry nie. Dit help boonop om jou meer versadig te laat voel.
  • Buiten proteïene bevat neute en sade ook vet, maar wees gerus dat dit onversadigde vette is, dus dié tipe wat as gesonder beskou word as versadigde vette van diere. Beide neute en sade is ook goeie bronne van vesel.
  • Die meeste groente en stysel bevat klein hoeveelhede proteïene (2-3 g per porsie), so saam met die ander plantproteïenbronne is dit is dus beslis uitvoerbaar om genoeg proteïene in te neem met eetpatroon oorwegend plantaardige dieet.

*Benaderde waardes. Kan verskil van tussen handelsmerke en variante.

%d bloggers like this: