‘n Bordjie sout

Die versoek om ‘n bordjie eetgoed na die een of ander byeenkoms te bring, land nogals deesdae gereeld op my telefoon. Iets wat ek amper as vanselfsprekend beskou het toe ons nog op Stellenbosch en later jare in die Strand gewoon het. Maar met ons verhuising Kaap toe, het daardie versoeke skraps geword – alles net vinnig afgehandel en klaar, miskien ‘n koppie koffie met ietsie te ete vinnig by die winkel opgeraap en dis klaar. Wat ek destyds soms as ‘n onnodige irritasie gesien het, is nou vir my spesiaal, maar oe, partykeer ontgaan dit my ook dat ek ingestem om iets te maak totdat my telefoon my daaraan herinner.

So is dit toe nou ook weer die geval laas week en met ‘n paar lastige take wat moet klaar en spertye wat jaag, kom ek eers donkeraand by die bordjie sout uit. Ek gaan staan voor my yskas en weet hier moet ek nou vinnig iets uittoor met die bestanddele wat beskikbaar is. Die pakkie spinasie vang my oog en ek onthou vaagweg die treffer spinasie-muffinresep wat ek desjare terug by een van die vroegste padstalle (nog in Tokai) gekry het. Ek gaan diep die resep op en gaan my bestanddele na wat ek in die ou Nerf-af afgewitte koskas in my kombuis hou. Watter verligting, alles is daar, dit kan werk.

Destyds se resep was vir oorgroot muffins, nes die muffins wat ons toe by al wat padstal te koop kon kry. Deesdae neig ons na piepklein happies wat ons gemaklik met die hand kan hanteer sonder te veel sukkel. Gelukkig het ek onlangs ook heelwat patty pan-pannetjies aangeskaf en dis net hierin waarin ek oorgroot muffins nou in piepklein mini’s gaan verander. Die resep maak lekker vinnig aan en in die patty pan-pannetjies bak dit vinnig klaar. Vir opdien sny ek hulle bo-op in die lengte halfpad oop en spuit ‘n bietjie avokadosmeer in. Ek pak hulle netjies in my mooi handgemaakte Mervyn Gers-bak en maak dit stewig toe – reg om die trippie vergadering toe te deurstaan en ‘n heerlike happie waaraan jy behaaglik kan smul sonder om skuldig te voel.

SPINASIEMUFFINS

Maak sowat 50 piepklein happies
Bereiding: 20 min
Bak: 18—20 min

625 ml (2½k) koekmeel
22,5 ml (4½t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
375 ml (1½k) sterk Cheddarkaas, gerasper
200 g spinasie, dun opgesny
100 g botter, gesmelt
125 ml (½k) melk
125 ml (½k) water
3 eiers
AFRONDING
Paar swart ontpitte olywe, in dun skyfies gesny
Gerookte paprika vir bo-oor sprinkel
Avokado-en-geroomde maaskaassmeer om mee voor te sit
Paar takkies pietersielie of tiemie vir garnering

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit die holtes van patty pan-panne goed met kossproei.

1 Sif die droë bestanddele saam.
2 Meng die gerasperde kaas en spinasie by en meng goed.
3 Klits die botter, melk, water en eiers saam tot goed gemeng en voeg by die droë bestanddele.
4 Meng tot al die bestanddele ingemeng is, moenie oormeng nie.
5 Skep eetlepelsvol van die mengsel in elke holte en plaas ‘n olyfskyfie bo-op.
6 Bak 18—20 minute of tot uitgerys en effe goudbruin bo-op.
7 Verwyder uit die oond, laat effe afkoel in die pannetjies en keer dan uit op ‘n draadrakkie om heeltemal af te koel.
8 VOORSIT: Sny ‘n gleuf bo-op oor elke muffin en spuit van die avokadosmeer daarin. Sprinkel bietjie paprika oor.
9 Pak in ‘n mooi bord en rond af met takkies kruie. Maak stewig toe.

Wenk: Die muffins vries ook goed.

Goedhartige lensieslaai

Soos ek verlede week genoem het, lees ek deesdae nogals baie op oor kosse wat goed is vir jou “gut” oftewel spysverteringstelsel, want solank jy jou derms gelukkig hou, verhoed jy dat inflammasie opbou en voel jy sommer perdfris en propvol energie.

Lensies is geen vreemdeling vir meeste van ons nie en is al van die vroegste tye deel van die daaglikse spyse – die bekendste seker maar Esau se pot lensiesop uit die Bybelse tyd. Maar met lensies kan ons deesdae veel meer vermag as bloot net sop kook. Ek maak onder andere die lekkerste bobotie-resep met lensies (tot my man wat ‘n vurige vleiseter is, het daaraan gesmul – die resep daarvoor kan jy in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, kry) en ek span dit baie gereeld in vir slaai.

Jare terug het Jacques Erasmus vir my die lekkerste der lekker lensieslaai gemaak met vars pruime in met piekelgemmer en gekapte koljanderblare wat hy by die lensies inmeng saam met ‘n heerlike vars slaaisous. Die resep pas ek deesdae op allerlei maniere aan en het dit selfs nou die dag voorgesit aan ‘n groep Japanese teekopers wat aangesit het vir ‘n Suid-Afrikaanse braai en het hulle nou lekker gesmul.

Gebruik vars bestanddele soos wat in jou yskas beskikbaar is. Die slaaisous slaan ek deesdae sommer vinnig aanmekaar met ‘n boegoe-rooibostee (Rescue van Carmién Tea) wat perfek is om ontslae te help raak van toksiene in jou sisteem en ook om waterretensie teen te werk. Helfte van die slaaisous giet ek oor die warm lensies om geur daaraan te gee, en die res sit ek apart saam met die slaai voor.

Vir die Japanese het ons die tafel dramaties gedek met die rooi turksvy-tafeldoek uit my Carmen Niehaus Hausware-reeks wat by Swier beskikbaar is en het dit nou nie komplimente uitgelok nie! Kyk ook op die Carmién-webtuiste vir nog Carmen Niehaus Hausware soos teedoeke (wat ek ook as oorgroot servette inspan) asook die nuutste – die pragtige, veelsydige en stewige koelsak!

LENSIESLAAI

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 30 min

SLAAISOUS
80 ml (⅓ k) olyfolie
250 ml (1 k) groen rooibostee met boegoe, gemaak met 3 sakkies (ek gebruik Carmién Tea se Rescue)
Sap en fyngerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen
30-45 ml (2-3e) ongefilterde appelasyn
1,25 ml (1/4 t) seesoutvlokkies
30-45 ml (2-3e) heuning
SLAAI
750 ml (3 k) gaar bruinlesies
Groot handvol piekelgemmer, gekap
1 klein rooikool, in dup repies gesny
1 rooi ui, in dun skyfies gesny
2 wortels, grof gerasper
Handvol spinasie, grof opgesny of baba-spinasie
Halwe kop broccoli, in klein blommetjies gebreek
1-2 appels, in stokkies gesny
60 ml (¼ k) bosbessies of gekapte dadels (ek gebruik Medjool)
Groot handvol gekapte kruie soos ment, tiemie, pietersielie en koljander (ment veral lekker)
80 ml (⅓ k) geroosterde sonneblomsade
60 ml (¼ k) grofgekapte pekanneute

1 SLAAISOUS Meng al die bestanddele saam.
2 SLAAI Skep die gaar, warm lensies in ‘n slaaibak en giet helfte van die slaaisous oor. Laat afkoel. Meng die piekelgemmer by.
3 Pak die, ui, wortels, spinasie, broccoli en appels in hopies bo-op en sprinkel die bosbessies of dadels, kruie, sade en neute oor. Sit voor saam met die res van die slaaisous.

Beskuit gelaai met goedheid

My pa het ons altyd kleintyd bederf met varsgebroude opstaankoffie en beskuit in die bed. ‘n Ritueel wat ek tot vandag toe koester. Vandat ek probeer om nie te veel gluten in te neem nie, het ek aanvanklik beskuit maar uitgesny. Deesdae se lae koolhidraatbeskuit-resepte is beslis meer bekostigbaar en heel lekker, so ek het nou opnuut weer ingespring en beskuitresepte begin uittoets. Ek het ook al hoe meer begin oplees oor kosse wat goed is vir jou “gut” en kom maar agter dat ‘n spysverteringstelsel wat goed en gereeld werk, die basis is om die dermkanaal gesond te hou en inflammasie te help beveg. So, veral genoegsame veselinname en die drink van baie water, is ononderhandelbaar.

Klappermeel is ‘n gawe alternatief om beskuit mee te bak, want dis bekostigbaar en propvol vesel en allerlei ander goedhede, maar o vader, dit kan sukkel om die regte verhoudings daarmee uitgewerk te kry, want dit suig vloeistof op soos ‘n spons. So, baie probeerslae het al in die asblik beland, kurkdroog en oneetbaar. Maar stadig maar seker kom ek agter die kap van die byl en hierdie beskuit was ‘n aangename verrassing.

Buiten die klappermeel kry die beskuit ook lekker baie sade en neute in wat beide nie net veselryk is nie, maar ook baie proteiene en goeie vette bevat. Daarby ‘n bietjie veselryke patat asook voedsame olyfolie (of selfs klapperolie) en heelwat eiers. Om die beskuit verder mee aan te klam en te verryk, gebruik ek rooibostee uit Carmién se wellness reeks (Cleanse en Focus) wat buiten vir die antioksidante van die rooibos ook ander aktiewe kruie-bestanddele bevat wat help om jou fisiese welstand te verbeter: die Cleanse, wat buiten groen rooibos ook bietjie senna bevat wat help om die spysverteringskanaal te reining met verder ook ment en gemmer wat opgeblasenheid help verminder; die Focus weer wat ‘n mengsel van rooibos en masala-speserye soos kaneel en borrie bevat, wat ook anti-inflammatories is en help om rumatiek te verlig. Vir soetigheid gebruik ek erythritol (baie goedkoper as xyilotol) en een van die enigste alternatiewe versoeters wat vir jou ‘n bros beskuitjie gee.

Hierdie lewer nie nie ‘n groot mengsel nie, so ek het sommer die beskuit in my Airfryer bebak – perfek in ‘n 20 cm vierkantige koekpan.

Kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus.

LOW CARB KLAPPER-EN-SAADBESKUIT

16—20 stukke
Bereiding: 20 min
Baktyd: sowat 40 min

160 ml (⅔ k) warm water of melk, waarby 3 sakkies elk Focus en Cleanse van Carmién gevoeg is
125 ml (½ k) gekookte oranje patats, fyngedruk
6 eiers
60 ml (¼ k) olyfolie of gesmelte klapperolie
15 ml (1 e) appelasyn
250 ml (1 k) klappermeel
2,5 ml (½ t) koeksoda
7,5 ml (1½ t) kremetart
500 ml (2 k) gemengde sade en neute met bosbessies bestaande uit sonneblomsade, pampoensade, sesamsade, vlassade, amandels, en Brasiliaanse neute
125 ml (½ k) erythritol
30 ml (2 e) psylliumveselpoeier

Voorverhit die oond tot 180°C. (nie nou al nodig vir die Airfryer nie). Spuit ‘n 20 cm vierkantige koekpan met kossproei en voer die bodem uit met bakpapier. Spuit weer.

1 Trek die tee in die water of melk en laat afkoel. Druk die sakkies goed droog en verwyder.

2 Giet die tee in ‘n groot mengbak, voeg die patats, eiers, olie en asyn by. Meng met ‘n staafmenger tot glad.

3 Voeg die res van die bestanddele by (meng die sade apart laaste by) en meng goed met ‘n houtlepel.

4 Skep in die voorbereide pan en bak 25—30 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die gebak kom. Vir die Airfryer: stel op bak en verhit tot 180°C. Plaas die pan in die laaitjie van die Airfryer en bak 40 minute, bedek met tinfoelie na sowat 15 of 20 minute. Verlaag temperatuur na 160°C en bak nog sowat 10 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die gebak kom.

5 Laat afkoel en sny dan in blokkies. Droog uit by 50°C tot droog (dit het ek in die oond gedoen).

‘n Koekliefdesbrief vir Ma

Na al die jare is dit vir my die lekkerste lekker om saam met my ma ‘n koppie tee in die sonnetjie op haar plaashuis se noordestoep te geniet. Wat ‘n voorreg om dit steeds op amper 87 steeds te kan doen. Die skinkbord netjies gedek met fyn koppetjies, die tee perfek getrek met vars gekookte water. “Mens kook nooit die water twee keer nie, jy kook die suurstof uit” was haar wyse woorde. Daarby bak ek vir haar ‘n koek (deesdae sommer in die Airfryer) waarvoor sy lief is, ‘n kombinasie van ‘n sponskoek en klapperkoek; wat ek verder geur gee met ‘n stropie gemaak met die heerlike nuwe tee, Passion Peach uit Carmién se spesialiteits piramied-rooibostees. Die Passion Peach is ook die tee waaraan ons behaaglik teug terwyl ons klein happies koek geniet. Kosskrywer Mariette Crafford het immers altyd gesê: “skryf liefdesbriewe met kos aan jou geliefdes”. Geseënde Moedersdag!

Kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus.

BLOUBESSIE-KLAPPER-JOGURTKOEK

Die koek is geskoei op ‘n uiters gewilde papawersaad-klapperkoek wat ‘n treffer destyds in Wenresepte was. Deesdae bak ek dit graag net met klapper wat dit dan glutenvry maak, maar jy kan ook bruismeel byvoeg indien jy sou wou. Dié koek bevat ook heelwat minder suiker en vet as die oorspronklike resep en dan natuurlik ook al die goedheid van die bloubessies en rooibos. Heeerlik en heilsaam!

Maak 1 koek
Bereiding: 20 min
Baktyd: 40-45 min

STROOP
125 ml (½ k) Passion Peach-rooibostee van Carmién (4 sakkies)
45 ml (3 e) suurlemoensap
80 m (⅓ k) strooisuiker
KOEK
4 eiers, geskei
125 ml (½ k) strooisuiker
180 ml (¾ k) natuurike volroomjogurt
gerasperde skil van 1 suurlemoen
500 ml (2 k) fyn klapper of 250 ml (1 k) daarvan bruismeel
2,5 ml (½ t) bakpoeier (laat uit indien bruismeel gebruik)
45 ml (3 e) papawersaad
250 ml (1 k) bloubessies, vars of bevrore (moenie ontvries nie)
VERSIERSEL
230 g geroomde maaskaas
30 ml (2 e) versiersuiker
Grenadilla-pulp, bloubessies of appeliefies en eetbare blommetjies

Voorverhit die oond tot 180°C indien jy ‘n oond gaan gebruik. Spuit ‘n 20 cm vierkantige koekpan goed met kossproei. (voer die pan onder uit met bakpapier).
1 STROOP Kook die tee, suurlemoensap en suiker saam vir 5 minute of tot effe strolerig. Koel af.
2 KOEK Klits die eiergele en strooisuiker tot lig.
3 Roer die jogurt en suurlemoenskil in. Vou die klapper (en bruismeel indien gebruik) en papapwersaad in. Vou laastens die bloubessies in.
4 Klits die eierwitte tot dit stywe punte vorm en vou liggies by die mengsel in.
5 Skep die beslag in die voorbereide pan en bak 40-45 minute lank of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat effe afkoel in die pan en giet die stroop oor. Laat intrek en koel heeltemal af.
6 Keer die koek uit op ‘n koekbord.
7 VERSIERSEL Meng die roomkaas en versiersuiker en smeer rofweg oor die koek. Skep die grenadilla-pulp oor en versier met vrugte en blommetjies.

Hoe om die koek in die Airfryer te bak: Skep die beslag in die voorbereide pan. Stel die Airfryer op bak en 180°C. Plaas die vierkantige koekpan binne-in die laaitjie van die Airfryer (hy pas perfek). Bak sowat 15 minute en bedek die bokant dan met tinfoelie, want die koek is geneig om ietwat donker van bo te bak. Bak ‘n verdere 25—30 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Gaan verder te werk soos beskryf.

Appeltertkoek uit die Airfryer

So ja, nou dat ons ons eie krag moet bestuur, werk my Airfryer oortyd. Soos genoem het ek ‘n Instant Vortex 6 van 5,7 liter wat so teen 1450—1700W loop. Verlede week bak ek die malvapoeding uit my Lekker & Goed-boek vir ‘n klompie Japanese teeaankopers en hulle smul omtrent. Gedagtig aan iets om te bak Sondagmiddag vir saam met tee of selfs vir poeding, bly die malvapoeding in my kop, maar ek maak mos nie maklik graag twee goed na mekaar op dieselfde manier nie. Op my eetkamertafel vind ek twee verdwaalde appels tussen ‘n klompie lemoene en dadelik het ek ‘n plan. Daardie malvapoeding kan mos net sowel omskep word in die immergewilde appeltert met die ingedampte melk oor waaraan ons kleintyd so lekker gesmul het.

Maar dié moet ook mos nou gebak word in die Airfryer en my glasbakke is te groot. Toe onthou ek die silikon-Bundt-koekpan onderin my kas. Meet hom, 20 cm al om die bokante, so dit pas perfek. Net om seker te maak, pas ek hom vinnig in die laaitjie – die omtrek is ok, maar dis effe te hoog. Dis toe dat ek onthou dat ek mos maar die rakkie kan uithaal.

SOUSERIGE APPELTERT

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min
Baktyd: 30 min

2 appels, een in papierdun skyfies gesny, ander een geskil en in klein blokkies gesny
BESLAG
1 eier
80 ml (⅓ k) suiker
250 ml (1 k) koekmeel (ek gebruik ook selfs glutenvrye bruismeel, los dan net die bakpoeier uit)
5 ml (1 t) bakpoeier
3 ml (¾ t) koeksoda
1 ml (¼ t) sout
30 ml (2 e) gladde appelkooskonfyt
250 ml (1 k) natuurlike jogurt
15 ml (1 e) appelasyn
STROOP
80 ml (⅓ k) bruinsuiker
4 sakkies vanielje of Earl Grey-rooibostee van Carmién
250 ml (1 k) volroommelk
60 g botter

Spuit die silikonpan met kossproei (jy kan 6 kleiner oondvaste bakkies of ramekins ook gebruik, maar ek het dit nou nie in die Airfryer getoets nie)
1 Pak die skyfies appel onderin die pan.
2 BESLAG Klits die eier en suiker saam tot goed gemeng.
2 Sif die droë bestanddele direk in die eiermengsel in en meng.
3 Roer die konfyt, jogurt of karringmelk, en asyn by en klits tot glad. Meng die blokkies appel by.
4 Giet in die voorbereide pan.
5 Verhit die Airfryer tot 180°C (dit neem minute) en plaas die pan in die Airfryer se laaitjie, sonder die rakkie. Bak sowat 20–25 minute of totdat ‘n toetspen skoon uit die tert kom. (Die koek is geneig om effe donker van bo te bak, so my voorstel is om dit so halfpad deur die baktyd met ‘n velletjie tinfoelie te bedek)
6 STROOP Plaas die suiker, teesakkies en melk in ‘n kastrolletjie en bring stadig tot kookpunt, roer tot die suiker opgelos is en laat 5 minute prut. Druk al die vloeistof uit die teesakkies en verwyder die teesakkies. Voeg die botter by en meng tot gesmelt.
7 Giet die warm stroop oor die poeding(s) sodra die poedings uit die oond kom. Dien op met roomys vir poeding of skeppies ekstra jogurt vir by tee.

Klop beurtkrag met hoenderpastei

Beurtkrag gaan nog vir lank met ons wees, want die probleme met elektrisiteit gaan allermins oornag verdwyn. Ons het dus geen keuse as om na alternatiewe kragbronne te kyk nie. Op die lang termyn gaan dit nie nou net meer oor lig nie, maar ook hoe gemaak in die kombuis as dit by kosmaak kom.

By ons huis het ons aanvanklik batterye gebruik, maar aangesien ek taamlik bak en kook, het die lang ure sonder krag my produktiwiteit redelik ingekort. Laas naweek is ons sonkrag/batterystelsel geïnstalleer en as ons alles mooi bestuur, gebruik ons nou minimum Eskomkrag. Dit vra natuurlik nou ‘n bietjie dinkwerk en goed meet en pas oor wat jy alles op een slag aan kan hê en ook dat jy meeste werk wat heelwat krag oor ‘n langer tydperk benodig, tydens 10 en so 3 of 4 uur se kant in die dag inpas.

In die nuutste Tuis-tydskrif van Mei/Junie 2023 is daar ‘n goeie inliggewende artikel oor beurtkrag – jou tienpuntplan. My oog val op die planne vir die kombuis. Huishoudelike toestelle soos oonde gebruik baie krag – wat beteken selfs al is jou rugsteunstelsel sterk genoeg om jou oond aan te sit, gaan dit die batterye baie vinnig uitput. Daarom kies meeste mense om van meet af oonde (asook warmwaterstelsels) heeltemal uit die prentjie te hou as hulle na alternatiewe kragbronne kyk. Gasbranders bly die heel maklikste oplossing om die pot letterlik aan die kook te hou. Baie mense, ek inkluis, het deesdae stowe met gasbranders maar steeds ‘n elektriese oond. Stowe wat geheel en al gas is, is ook ‘n opsie, maar ek kon nog nie genoegsame inligting bymekaar kry om die uitwerking, veral op bakwerk, te verstaan nie.

Tot tyd en wyl, bly ‘n lugbraaier (Airfryers) vir my ‘n gawe oplossing. Die toestel kan jy met gemak gebruik met rugsteun-batterye (en sonkrag) as energiebron. Hou maar net in gedagte om jou krag goed te bestuur en nie te veel ander toestelle soos ‘n ketel, tuimeldroër, wasmasjien en mikrogolfoond terselfdertyd te gebruik nie. Afhangende van die sterkte van jou kragbron, wil dit vir my voorkom asof so 3 toestelle wat gesamentlik aan is, werk. So my nuutste missie is nou om die Airfryer in te span om in te bak. Ek het dadelik gaan kyk na watter bestaande bakpanne ek het wat ek daarin sal kan gebruik – My Instant Vortex 6 Airfryer van 5,7 liter gebruik so 1450-1700 Watt. In sy laaitjie pas ‘n 20 cm-losboomkoekpan gemaklik. Dis daarin waarin ek besluit om my hoenderpastei te bak.

Broccoli-hoenderpastei

Die resep is geskoei op die gewilde broccoli-hoenderresep van destyds wat onder andere ook ‘n blik sampioensop ingekry het. Om dinge vir my nog makliker te maak, het ek sommer ‘n klaargaar rotisserie-hoender by die supermark gekoop. My huismense het gesmul.

Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 20min
Gaarmaak: 20 min

1 ui, gekap
1 rooi soetrissie, ontpit en gekap
3 knoffelhuisies, fyngedruk
olie
125 g sampioene, in skyfies gesny
1 heel hoender, alle bene en vel verwyder en in stukkies gesny
1 kop broccoli, in stukkies gesny
Hoenderspeserye en groentespeserye na smaak
Handvol basilieblare
180 ml (¾ k) volroommelk
30—45 ml (2—3 e) mielieblom
4 velle filodeeg
Kossproei

1 Braai die ui, soetrissie en knoffel in bietjie olie in ‘n pan oor ‘n gasbrander tot net sag. Voeg die sampioene by en braai tot effe sag.
2 Roer die hoenderstukkies by en braai 2—3 minute lank.
3 Voeg die broccoli-stukkies by en meng deur. Geur na smaak met hoender- en groentespeserye en voeg ook die basilieblare by. Verhit tot die broccoli net effe sag, maar nog baie bros is.
4 Meng die melk met die mielieblom en roer by die hoendermengsel in. Roer tot die mengsel kook en effe verdik.
5 Spuit intussen elke vel filodeeg met kossproei en pak opmekaar. Plaas in ‘n 20 cm-losboomkoekpan wat goed met kossproei gespuit is sodat die kante van die velle deeg oor die rante hang.
6 Skep die vulsel in die deeg.
7 Vou die oorhangstukke deeg toe oor die vulsel. Spuit goed met kossproei.
8 Stel die Airfryer op bak en verhit tot 180°C (dis binne minute gereed).
9 Plaas die pan met hoender in die Airfryer en bak 20 minute of tot die deeg goudbruin is bo-op en die vulsel lekker warm is.
10 Verwyder die pan uit die Airfryer en ontvorm op ‘n dienbord.
11 Sny in skyfies en sit voor saam met slaai.

Mooi mooi

Twee goed wat my sommer baie vreugde verskaf is ‘n vars pluksel blomme en ‘n fraai teepot. My blomvriendin, Elmarie van den Berg, wat genadiglik ook van die Kaap Weskus toe verhuis het en nou die blom-onderneming, Soutbos, in ‘n hoek by Food Lover’s Market in Vredenburg se Weskus Mall bedryf, bless my onlangs met arms vol slangbos, peperboom- en siprestakke. Daarby pragtige proteas uit Piketberg se berge. Sy maak magic met blomme en kan met bykans net loof en ‘n paar blomme die mooiste blomprentjies bou – natuurlik, pure eenvoud maar treffend.

‘n Klompie vriendinne verras my ook met met die mooiste bosse blomme en ‘n roosplantjie asook die pragtigste, fyne Engelse teepotjie – Royal Caldoun, “Victoria” wat met groot sorg spesiaal by ‘n antieke winkel uitgesnuffel is. Die suikerpotjie en peuselbakkie is by asook ‘n melkbekertjie, met die naam onderaan wat lui “Florandona”. Ek ken dit nie, maar die ontwerp pas perfek by die Royal Caldoun.

Die befame pottebakker, Mervyn Gers, het my ook ‘n tydjie gelede uitgenooi om my eie reeks breekware by hom te kom maak. Ons speel tog te lekker en ek besluit om eerder ‘n teeservies as eetstel bymekaar te sit, maar dit gaan ‘n tydjie neem om klaar te kry. Toevallig val my oog by sy studio op die oulikste seegroen teepotjie met groot plat teekoppies met kabouterore. Die kry ek saam huis toe.

Geïnspireerd met al hierdie seëninge om my, is dit tyd om ‘n teetjie te brou – ons kies uit die verskeidenheid Carmién en LMC tees wat ek in die afgewitte houtkas in my leefkamer hou. Soos meermale die geval kies ek Earl Grey, gemaak met groen rooibos, my vriendinne probeer die nuutste geure: die nuwe Passion Peach met sy grenadilla en perskegeure in die Carmién-reeks; asook die Strawberries & Cream en Haselneut & Chocolate in die LMC-reeks.

Daarby sit ek vir ons dadelbolletjies in die Royal Caldoun-bakkie voor en ‘n heerlike kaaskoek. Die bolletjies, wat geskoei is op die oorspronklike dadelballe met baie botter, suiker en Tennisbeskuitjies maak ek deesdae met hawermout sonder enige smeer of suiker. Gemmer sorg vir ‘n tikkie brand op die tong. Die kaaskoek (waarvan ek jul onlangs ook vertel het) is heerlik romerig, alhoewel, dit kry nie ‘n titsel room in nie, net geroomde maaskaas en jogurt met min suiker, selfs die kors is glutenvry. Niks meer is nodig nie, dis pure lekkerte by die unieke maar skoon smake van die rooibostee. Net reg om spesiale oomblikke mee te vier.

Die kaaskoek se resep is te kry in my boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid.

DADELBOLLETJIES

Ek bodder nie eers meer deesdae met die klapperolie in die resep nie, voeg net ‘n bietjie meer tee by.

Maak 50 bolletjies
Bereiding: 20 min

400 g ontpitte dadels, verkieslik Medjool
1,25 ml (¼ t) koeksoda
125 ml (½ k) Carmién Revive rooibos tee (met gemmer en brandrissie), gemaak met 2 sakkies
375 ml (11/2 k) hawermout, gerooster
160 ml (⅔ k) kakao
250 ml (1 k) klapper
80 ml (1/3 k) klapperolie, gesmelt (opsioneel)
30 ml (2 e) fyn gemmer
10 ml (2 t) vanieljegeursel
Klapper en kakao om in te rol

1 Plaas die dadels in ‘n glasbak en sprinkel die koeksoda oor. Giet die warm tee oor en verhit 1 minuut in die mikrogolfoond. Laat afkoel.
2 Plaas die dadels saam met res van die bestanddele buiten die klapper en kakao om in te rol, in die voedselverwerker en maak goed fyn.
3 Skep 12,5 ml (1 dessertlepel) van die mengsel uit en rol in bolletjies. Rol die bolletjies in onderskeidelik klapper en kakao. Sit voor of verpak in ‘n lugdigte houer.

Wenk: Jy kan ook bietjie fyngekapte Turkse appelkose en bosbessies, selfs ‘n bietjie grondbonebotter of sade by die mengsel inmeng vir ‘n heerlike energieballetjie, maak die klapper dan net minder.

Peuselgoed

Teen die Weskus is die weer nou koeler en die dae meestal windstil. Skemeraand kan jy jou verkyk aan die mooiste sonsondergange. Dis dan wanneer ons graag saam met ‘n paar vriende op die stoep kuier en ons vergaap aan die son wat sy laaste strale oor die meer gooi voor dit in ‘n diep oranje stralekrans agter die horison verdwyn. Soos altyd sal ons ‘n wyntjie oopmaak, Piekenierskloof van die familie-kelder natuurlik, en stadig daaraan teug terwyl ons ‘n paar versnaperinge geniet.

Vir ietsie te ete bak ek graag ‘n broodjie van een of ander aard. So einde Maart, wanneer parstyd verby is, is dit gepas om ‘n oesbrood te bak. Gewoonlik kry dit rosyntjies binne-in die brood om die ou seisoen te gedenk en vars druiwe bo-op om die nuwe seisoen te vier. Heerlik saam met die vinkelsade en pekanneute wat jy ook bo-oor sprinkel. Goeie olyfolie en balsamieke asyn (met ‘n 4% suurgraad) is meer as genoeg om die stukkies brood wat jy sommer self afbreek, in te doop.

Vir nog iets te peusel, maak ek ook graag ‘n paar frittata-tertjies en ‘n fluweelgladde tamatiesop wat ek sommer in ‘n teepot giet en vir elkeen klein koppietjies vol daarvan skink. (Die resepte hiervoor is te kry in my boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid).

MAKLIKE OESBROOD

Pleks van die gewoontelike swaarder oesbrood met sy laag rosyne in die middel, klop ek ‘n deegbeslag pleks daarvan om dit te knie – maklik, maar ook ligter van tekstuur omdat dit redelike rysgate het. Maar die groot lekkerte is die varsheid wat die druiwe saam met pekanneute en vinkelsaadjies daaraan verleen. Geniet dit saam met geroomde maaskaas met feta-kaas of andersins slegs die olyfolie en balsamieke asyn.

Kitswenk: ek koop ook soms ‘n pak brooddeeg by die winkel, druk dit plat uit en gaan verder te werk volgens die resep.

Bereiding: 20 min
Rystyd: 1½ uur
Baktyd: 15 min

BROOD
250 g klipgemaalde witbroodmeel of helfte bruinbroodmeel
2,5 ml (½ t) strooisuiker
7,5 ml (1½ t) kitsgis
200 ml louwarm water
45 ml (3 e) olyfolie plus ekstra vir bo-oor verf
BOLAAG
1 tros vars druiwe
50 g pekanneuthalwes
15 ml (2 e) vinkelsaad
2,5 ml (½ t) seesoutvlokkies
10 ml (2 t) strooisuiker
VOORSIT
230 g geroomde maaskaas
1 blok fetakaas (met olywe indien verkies) sonder pekel
Goeie balsamieke asyn en olyfolie indien verkies

1 BROOD Plaas al die bestanddele buite die ekstra olyfolie saam in ‘n groot bak en klop goed met ‘n houtlepel tot goed gemeng en glad (die kan jy ook in ‘n elektriese menger met ‘n deeghaak doen), nie nodig vir knie. Maak die bak toe met ‘n doek en laat rys vir 1½ uur.
2 Voorverhit die oond tot 250°C. Plaas ‘n vel bakpapier op ‘n groot bakplaat en bestuif met meel.
3 Plaas die deeg sagkens op die bakplaat en druk effens sodat dit uitsprei na die kante. Laat 20 min rys.
4 Verf liggies met ekstra olyfolie, druk die druiwe en neute vas in die deeg en sprinkel die sout en strooisuiker oor. Bak 15 min lank tot effe bros en gaar.
5 VOORSIT Krummel die fetakaas en roer by die maaskaas in. Sit ook voor met balsamieke asyn en olyfolie.

Lekker verrassingspakkie

Dis altyd ‘n groot verrassing as hier ‘n pakkie van die befaamde kosskrywer en -redakteur, Arina du Plessis by my opdaag. Want ja, dan weet ek die nuutste Landbou Boerekos het so pas gearriveer. Dit bly beslis een van my gunsteling kostydskrifte, tot boordens toe gevul nie net met lekker resepte nie, maar ook inligting en lekkerlees-artikels!

En soos altyd die geval, oortref die inhoud van die pakkie weereens al my verwagtinge. Buiten die nuutste Boerekos, die hersfuitgawe, met veral koningskos vir die koue maande, is daar nog ‘n verrassing, ‘n spesiale Landbou Boerekos wat slegs oor vleis en vleisbraai gaan. Daarmee saam ‘n oulike roostertjie; ook ‘n pakkie met die keurigste lekkernye soos Stroopwafels, Bokkenpootjes en Vlinders van die Holland Bakery en my eie houertjie met speculaas-speserye. My speculaas-plankie wat ek nog van my Hollandse ouma, Ouma Carmen, geërf het, het pragtige uitgekerfte patrone en nou kry dit weer ‘n slaggie werk, want nou kan ek sonder moeite speculaaskoekies bak.

Soos voorheen, kuier Arina by verskeie boere op hul plase en maak dan kos met die produk – kook met van avokado, pampoen, varkvleis, sitrus, suiwel, rosyne en eiervrug, daar’s tot idees hoe om beurtkrag te fnuik met spyskaarte vir Moedersdag en Vadersdag, sonder Eskom!

Buiten vir die heerlike artikel oor die kookegpaar wat agter die kookervaring en spysenierings-onderneming, Tamatiestraat in Stellenbosch staan, vang die storie oor die Holland Bakery ook my oog waar Karike Norval, wat Hollandse bloed in haar are het, so entoesiasties oor hul Nederlandse ervaringe gesels hoe hulle die land per fiets verken het. Iets wat beslis hoog op my doenlysie staan, want immers het my voorvaders ook ‘n bakkery in Utrecht bedryf.

Landbou-Boerekos is in meeste supermarkte beskikbaar en kos R95.

Maak jou eie speculaas-speserymengsel

75 ml fyn kaneel
5 ml gemaalde neutmuskaat
5 ml fyn gemmer
5 ml fyn kardemom
3 ml fyn naeltjies
3 ml fyn anys
2 ml witpeper

Meng die speserye goed saam, skep in ‘n fles en verseel lugdig. Bêre op ‘n droë, donker plek en gebruik binne 6 maande. Lewer ongeveer 100 ml speculaasmengsel.

BLITS-SPESERYBLONDIES
Lewer 4 porsies.

’n Blondie is ’n bruintjie wat met witsjokolade en sonder kakao gemaak word. Hierdie blitsige weergawe word wel nie met sjoko- lade gemaak nie, maar met kondensmelk, en bevat slegs drie bestanddele. Dit is nogtans smullekker. Bros buite, klam en taai binne – nes dit moet wees. Net die resep wat jy moet nader trek as die lus vir iets soets jou oorval, maar jou koskaste leeg is.

1 blik (385 g) volroomkondensmelk
250 ml bruismeel
5-7 ml speculaas-speserymengsel

Voorverhit die oond tot 180 °C en spuit ’n vierkantige pan van 20 cm met kleefwe- rende kossproei. Voer uit met bakpapier en spuit weer goed.
Meng die kondensmelk, meel en speserye saam tot ’n gladde beslag vorm. Skep in die pan en smeer dit gelyk bo-op. Bak die blondies vir 12-15 minute (dit is gereed wanneer die kante liggoudbruin is). Druk liggies met jou vinger in die middel van die blondie – as dit sag voel, maar effens terugspring, is dit perfek. Haal uit die oond en laat rus vir 20 minute voor dit uit die pan gehaal word.
Sit die blondies louwarm voor met ’n skep vanieljeroomys en ’n groot lepel vol speculaas-karamelsous.

Supercool koelsakke

Kry die mense aan die praat – jou piekniek of inkopietog gaan nooit weer so spoggerig lyk nie!

Splinternuut in die Carmen Niehaus Hausware-reeks wat ek saam met Swier uitbring, is hierdie stylvolle en uiters veelsydige koelsakke! Dis nie net mooi vir die oog nie, maar tiek sommer baie boksies: die goed geïsoleerde koelsak se grootste pluspunt (bo meeste ander sagte koelsakke) is dat dit aan die binnekant goed verstewig is met ‘n sterk, verwyderbare plastiekvoering wat help om die koelsak regop en die inhoud netjies in plek te hou en te beskerm.
Die koelsakke is lekker groot, kom in twee groottes en kan as pieknieksak, inkopiesak en vir vele meer doeleindes ingespan word.

Dit hou warm kos warm, koue kos koud, vars goed vars en help om dit te bewaar en nie gou sleg word nie. Jy kan dus van bevrore kos en drankies, roomys, warm geregte en groente daarin pak. Kos bly dus warm en drankies koud – die ideale oplossing in nou se tyd van beurtkrag, veral as jy wil onthaal of op ‘n afgeleë plek wil gaan uitspan!

Die koelsakke word gemaak van plaaslik vervaardigde, duursame en hoë kwaliteit materiale; die nate is stewig en netjies afgewerk en verskaf ‘n uiters proffesionele voorkoms. Dit rits heeltemal toe met ‘n ‘n stewige ritssluiter en het ook sterk handvatsels. Die groot pluspunt is dat die sak ook wasbaar en dus herbruikbaar is; haal net die plastiekvoering uit.

Daar is 2 groottes: klein: 330(L) x 170(W) x 240(H) teen R655 en groot: 390(L) x 260 (W) x 240(H)) teen R765.

Daar is 3 ontwerpe om uit te kies: die kleurvolle Sitrusdal-ontwerp; die meer tradisionele Nostalgie-ontwerp en die plaasgevoel eierontwerp: Plaasvars.

Die sakke is tans beskikbaar by die Swier-winkels asook op hul webtuiste.
Besoek Swier se webtuiste, kliek op Carmen Niehaus vir meer inligting en om jou bestelling te plaas. Gou spring, voorraad is beperk.

Hou ook dop, binnekort is daar ‘n hele verskeidenheid nuwe ontwerpe en produkte beskikbaar. Die huidige reeks teedoeke en tafeldoeke is ook nog beskikbaar. Gaan kyk veral op die Carmién-webtuiste om te bestel.

Super cool (room)ysies

Die polistireenboks daag op ‘n Saterdagoggend hier by my in Langebaan op – geen moeite ontsien en spesiaal afgelewer direk vanaf die produksiekombuis in Soutrivier. Gepak met die nuwe roomys-op-‘n-stok-sensasie, POPCO, wat besig is om soos ‘n warrelwind deur die land te waai.

Die persverklaring, “local popsicle brand is taking SA by storm”, trek dadelik my aandag toe dit einde Februarie in my inboks land. Maar deesdae verlaat ek my my nie sommer net op inligting wat ek via die internet ontvang nie. As dit enigsins moontlik is, wil ek self ervaar en beproef. Wat ek raaklees, val so reg in my kraal. Daar word gepraat van “real-fruit ice-cream and sorbet in 20 flavours with vegan options that are nut-free, low in sugar and calories, zero colourants plus Kosher and Halaal friendly!”

Ek loer na die verskafferlys… en sowaar ja, hulle lewer reeds af hier by ‘n deli op Langebaan. My kop is deur. Die polistireenboks word soos ‘n kleinood dadelik in die vrieskas gebêre. Natuurlik eers nadat ek en my huismense ‘n vinnige loer geneem het van watter heerlikhede ons te wagte kan wees. Die ysies is elkeen afsonderlik en pragtig verpak in deursigtige sakkies. “We want our customers to know that what they see is what they get” vertel Didi. Ons monde water dadelik. Maar om te verhoed dat almal op een slag verwoed inspring en die hele lotjie kafdraf nog voordat ek my heeltemal van alles vergewis het, besluit ons dat dit ons Sondagmiddag-treat sal wees.

Didi en Tim Deane het in 2018 hierdie roomys-en-sorbetreeks begin nadat hulle tydens ‘n vakansie in Suid-Amerika versot geraak het op die egte vrugte-roomysstokkies wat hulle daar om elke hoek en draai kon koop. So iets was nie beskikbaar in Suid-Afrika nie. Terug in die land is Didi se kombuis-voedselverwerker ingespan om ysies te begin maak met vrugte wat hulle op die plaaslike mark gekoop het. Gou was dit ‘n treffer en binne 8 maande moes hul trek na ‘n professionele produksie-kombuis en lewer tans aan sowat 150 handelaars landwyd. Die groot lekkerte egter is dat jyself direk vanaf hul webtuiste kan bestel en ook jou eie boks ysies saamstel.

Die groot volumes het egter nie verhoed dat die ysies nie steeds handgemaak is nie – die waatlemoene se pitte soos ook die ogies van die pynappel word steeds met die hand verwyder en die roomyse word ook steeds handgemaak en een-vir-een met die hand verpak. En hulle gebruik slegs top-kwaliteit natuurlike produkte, geen preserveer- geur- of kleurmiddels nie en probeer die suikerinhoud (en kilojoules) so laag as moontlik hou.

Maar terug by ons spesiale boks. Die keuse is moeilik – daar is 3 reekse: Creamy Decadence; Fruit Sorbets en Creamy Vegan asook ‘n Hot Chocolate-stick.

My man wat maar altyd ietwat skrikkerig is vir iets nuuts, kies die klassieke roomys uit die Creamy Decadence-reeks, my kinders se keuses val op sjokolade, Banana Split (wat glo nes piesangbrood proe) en aarbeiroom. Dié is mooitjies versier met ‘n deursnit van ‘n halwe aarbei, so ook is die kiwi-appel in die vrugte-sorbetreeks ook versier met ‘n snit kiwi. Mooi!

Ek kies ‘n vrugte-sorbet – die mango-aarbei een asook later die suikervrye mango. Een van my kinders geniet die Oranges & Lemons. Die sorbets proe kompleet soos destyds se “suckers”, net lekkerder, sonder “nasties” en heerlik vrugtig, nie te soet nie en natuurlik. Ons is “hooked”!

Die proe van die POPCO’s word hiervandaan streng beheer en is beperk tot klein Saterdagaande en Sondae sodat die lekker langer kan aanhou. Ons beproef die Creamy Vegan-reeks: die Oatmilk Chocolate een wat met hawermoutmelk en donker sjokolade gemaak word, is vir my heerlik en die Coco Pine (gemaak met klapperroom) en sjokolade-lemoen (ook klapperroom en bietjie avo) kry ook ons regmerkies. So ook stel die Neopolitan en Granadilla Cream uit die Creamy Decadence reeks glad nie teleur nie. Al een waaroor ek nie gaande was nie, was die Strawberry/Blueberry Fruit Sorbet.

Vir meer informasie oor POPCO, besoek hul webtuiste:

Website: www.ilovepopco.com
Social media: Facebook & Instagram
For a list of stockists click here.

Spyse vir Pase

Lamsvleis het baie Paasfees-simboliek – nie net was dit deel van Jesus se laaste Avondmaal voor hy gekruisig is nie, maar simboliseer dit ook Jesus wat as Lam van God geoffer is om vir ons sondes aan die kruis te sterf. Tydens my dae as kosredakteur by Huisgenoot het ons elke jaar groot gegaan met ‘n Paasfees-artikel. Jacques Erasmus, befaamde sjef van Hemelhuijs in Kaapstad, het een Pase ‘n lamblad met ‘n Marmite-smeersel ingesmeer en dit lank en stadig in die oond gebak. In die gees van Pase het hy ‘n rooi strik om die skeenbeen gebind en die vleis met granate en dadels voorgesit. Sien die smeersel se resep hier onder.

Ek maak net so ook graag ‘n Midde-Oosterse smeersel van jogurt, oreganum, baie knoffel en komyn wat ek oor die vleis smeer voor ek dit stadig in die oond gaarmaak. Maar dis net so lekker as jy die boud oor die kole braai. Gebraaide eiervrug met granate oorgesprinkel (en ‘n paar vars vye) smaak net so lekker hierby.

Geseënde Paasfees!

MIDDE-OOSTERSE LAM OP TWEE MANIERE

Hier wys ek jou hoe om lamsboud of –blad op twee maniere gaar te maak: gebraai of stadiggebak. Die komyn gee ‘n tipiese Midde-Oosterse geur en is heerlik saam met eiervrug.

Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 10 min
Marineertyd: 12 uur of oornag
Gaarmaak: gerooster: 1—1 1/2 uur; stadiggebak: 4—6 uur

SMEERSEL
80 ml (1/3 k) olyfolie
80 ml (1/3 k) natuurlike jogurt (opsioneel)
50 ml droë oregano
8 knoffelhuisies, fyngedruk
45 ml (3 e) fyn komyn
Sap en skil van 2 suurlemoene
VLEIS
1,8 kg ontbeende lamsblad of –boud, gevlek
VOORSIT
Groente-kebabs of gebraaide eiervrugskywe (sien resep onder)
Natuurlike jogurt met gekapte komkommer, komyn en ment ingeroer

1 MARINADE Meng al die bestanddele saam.
2 VLEIS Keep die vetrand van die vleis in. Plaas in ‘n nie-metaalbak. Marineer oornag of 12 uur
4 Geur die vleis met sout en peper en braai oor matige kole ovir sowat 1 uur tot sag en bruin. Draai gereeld.Bedruip gedurig met marinade. Plaas andersins op die rakkie van ‘n oondbraaipan en oondbraai 20 minute per 500 g vleis by 160° C. Sit voor met groente-kebabs en komkommerjogurt.

STADIGGEBAKTE LAM
Hou die blad of boud aan die been.
Sny 4 uie in stukke en plaas in ‘n oondpan saam met ‘n paar tiemietakkies. Giet genoeg rooibostee (ek gebruik Carmién se rooibostee met boegoe of andersins die groen Earl Grey) hoenderaftreksel oor die uie tot bedek. Smeer die marinade oor die vleis en plaas bo-op die uie. Bedek met tinfoelie en bak 4—6 ure by 120°C tot die vleis murgsag en van die bene afval. Verwyder die bedekking en rooster vinnig onder die roosterelement tot bruin. Trek die vleis in stukke met ‘n lepel. Sit voor met gebakte eiervrugskywe of groente-kebabs en komkommerjogurt.

MARMITE-SMEERSEL
Berei die volgende smeersel, smeer oor die vleis en gaan verder te werk soos by die Midde-Oosterse lam.
Meng 30 ml (2 e) rooiwyn, 30 ml (2 e) Marmite, 30 ml (2 e) Dijonmosterd, 30 ml (2 e) sagte bruinsuiker, 30 ml (2 e) olyfolie en 5 ml (1 t) gekapte vars tiemie saam en vryf die vleis goed daarmee in. Geur met sout en peper.

VIR VOORSIT:
GROENTE-KEBABS
Ryg 12 baba-eiervruggies, gehalveer indien verkies, 2 elk groen en rooi soetrissies wat in groot blokke gesny is en 12 piekeluie wat geskil en gehalveer indien nodig op houtpenne. Marineer saam met die vleis en braai oor die kole tot net gaar.

EIERVRUGSKYWE MET GRANATE
Sny 4 eiervrugte in skywe, besprinkel met sout, 4 fyngedrukte knoffelhuisies en olyfolie oor. Bak by 180°C tot gaar. Sprinkel ‘n handvol elk gekapte pietersielie, basilieblare en mentblare en granaatpitte en pistasieneute oor. Week ‘n knippie saffraandrade in 30 ml (2 e) water. Meng met 250 ml (1 k) Griekse jogurt, skep oor.

Kerrievis vir Paasfees

In die Kaap word daar elke Paasfees ruim kerrievis ingemaak genoeg om die hele Paasnaweek lank te kan hou – ‘n Maleier-gebruik wat ook oorgespoel het na die Christene toe. Dié word dan op Goeie Vrydag geniet saam met Paasbolletjies (hot cross buns) om Jesus se kruisiging te gedenk – die uie-asynsous simboliserend van die asyn wat Jesus aangebied is tydens sy kruisiging en die hot cross buns wat na die kruis verwys.

In my weergawe word die vis nie eers gebraai soos dit gebruiklik gedoen word nie, maar direk in die sous, wat met druiwesap gemaak word, gaargemaak. Niks verhoed jou egter om die vis nie eers te braai nie. Dit doen ek sommer deesdae in die Airfryer.

BOLANDSE KERRIEVIS

LEWER SOWAT 700 G
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 25 min.

15 ml (1 e) matige kerrie of brejani-masala
15 ml (1 e) druiwepit- of olyfolie
3 groot uie, fyn gekap
10 ml (2 t) knoffel-en-gemmerpasta
5 ml (1 t) fyn komyn
5 ml (1 t) elk sout en peper
125 ml (½ k) sultanas
250 ml (1 k) druiwesap
10 ml (2 t) suiker
200 ml bruin- of appelasyn
250 ml (1 k) water
15 ml (3 t) borrie
5 suurlemoenblaregerasperde skil van 1 suurlemoen
’n hand vol vars koljanderblare, gekap
500 g visfilette, ontvel en in groterige stukkies gesny

1 Plaas al die bestanddele buiten die vis in ’n pot, bring tot kookpunt en kook sowat 10-15 min.
Stel die plaat laer en voeg die visstukkies by.
2 Laat prut die vis sowat 10 min. in die sous of tot gaar.
3 Plaas die warm mengsel in ’n glas- of vlekvryestaalbak en laat afkoel.
4 Nadat die vis afgekoel het, bedek dit en plaas vir sowat drie dae in die yskas sodat die sous lekker intrek.
5 Sit voor saam met vars gebakte bakbrood en korrelkonfyt of andersins Paasbolletjies.

Hoe om die vis te braai in die Airfryer: Geur meel goed vooraf met vismasala. Geur die vis met sout en peper. Rol die vis in die meelmengsel en pak in die bak van die Airfryer. Stip liggies met olie en lugbraai sowat 8—10 min by 180°C of tot die vis net gaar is. Pak lae vis en kerrieuie in ‘n bak en verkoel sowat 3 dae voor gebruik.

Kook slim

Ons steier onder hemelhoë kospryse wat jou soms laat voel om handdoek in te gooi en sommer op ‘n hopie gaan sit, veral as jy van voorneme was om vanjaar gesonder te eet. Maar nee, ons Suid-Afrikaners is nou maar een maal nie so bedraad nie. Soos ons die kragkrisis getakel het, begin ons al hoe slimmer aankoop en kook. As ek so tussen die winkelrakke rondloop, let ek nogals op na wat mense in hulle trollie sit. Deesdae vat mense defnitief nie meer voor die voet nie. Alles word mooi bekyk, pryse vergelyk en oor besin. Dis sommer dan die gulde geleentheid dat mens terselfdertyd kyk na die voedingswaarde van ‘n produk, so lees daardie inligting wat mooi vervat is in die tabel agter op die verpakking. Kyk gerus sommer weer na dit waarmee baie v ons opgegroei het – stampmielies, bone en lensies… voedsaam en bekostigbaar!

Watter heerlike voorreg was dit nou weereens verlede week vir my om die laaste van ‘n reeks gesonder-eet-kookklasse vir ‘n dertigtal plaaswerkers op Citrusdal saam met die Mouton Foundation, Carmién Tea en ‘n oorsese klient, Teekanne, aan te bied, ‘n inisiatief wat ontstaan het nadat vasgestel is dat leefstylsiektes wyd voorkom onder die plaaswerkers.

In ‘n middag van prettige saamkook (spanne van twee het elk hul eie stofie gehad), leer en saamkuier, het ons nie net gekyk na watter produkte gesonder keuses is nie, maar ook eerstehands ervaar van hoe ‘n 300-g-pakkie maalvleis vermeerder kan word om ‘n leërskare kos te gee en terselfdertyd al die boksies tiek van ‘n gesonde bord kos. Saam met die kerriemaalvleis het ons die allerheerlikste stampmielies voorgesit, gekook soos my ma dit altyd gemaak het. En wat is dan nou lekkerder en goedkoper as om ‘n boneslaai van een of ander aard te bedink wat ‘n hele paar dae goed in die yskas kan hou. Destyds se 3-boneslaai het ons sommer met ‘n blik 4-bonemengsel saam met wortel gemaak. Die groot triek was egter die slaaisous waar ons Carmién se rooibos–en-boegoetee as basis gebruik het om die slaaisous mee te maak en geen suiker is bykans nodig nie. Al moet ek dit nou self sê, dis onmenslik lekker!

Om mee af te skop, het ons die bekende ongelooflike muffins wat swem van die semels, gemaak, maar die aanvanklike hemelhoë 750 ml (3 k) suikerinhoud het nou net ‘n skamele 160 ml (⅔k) geword en die botter is met omega 3-ryke canola-olie vervang. Almal het heerlik gesmul en geensins die soet gemis nie. En dan is die groot lekkerte van hierdie resep mos nou dat jy die beslag in die yskas kan hou en gou muffins kan bak vir inpak skool toe of vir ‘n geselligheid soos dit nodig is.

Vir my is dit altyd baie verrykend om saam met hierdie passievolle groep plaaswerkers te kook; daar word ook nie doekies omgedraai of ‘n gereg die tongtippietoets deurstaan het aldan nie. Daarom was dit vir my die grootste riem onder die hart toe een van die saamkokers vir my sê terwyl ons na die tyd heerlik saamkuier om die tafel en die spyse van ons handewerk geniet, dat daar vir haar nou geen omdraai weer is nie. En sy gaan die boodskap van gesonder eet (wat ook baie bekostigbaar is), wyd en syd versprei.

MAALVLEISKERRIE (Akni)

Ek het dit nou al baie keer genoem dat die befaamde kok en Maleise-koskenner, Cass Abrahams my leer kerrie maak het. Nie te sterk nie, maar geurig met die speserye keurig gemeng. Hierdie maalvleiskerrie wat onder die Maleiers as akni bekend staan en sommer ook baie keer armans-birjani genoem word, was geen uitsondering nie. Volgens die resep kom daar baie gemengde groente in maar ek het ook sommer nog ‘n blik lensies bygevoeg (wat so bykans wegkook in die maalvleis in) om die maalvleis verder te rek. Gerasperde patat en appel verleen die nodige soetigheid. Die Focus-rooibostee wemel van speserygeure wat goed pas by hierdie kerrie en rond dit perfek af.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 30 min
Gaarmaaktyd: 30 min

KERRIE-MAALVLEIS
1 ui, in ringe gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk (opsioneel)
7,5 ml (11/2 t) gemmerwortel, gerasper
1 kaneelstokkie
Olie
300 g maalvleis
10 ml (2 t) geroosterde matige kerriepoeier (ek gebruik graag birjani-masala)
5 ml (1 t) fyn komyn
7,5 ml (1½ t) borrie
2,5 ml (½ t) fyn koljander
Helfte van ‘n blik van 400 g gekapte tamaties of ‘n blik tamatie-en-uiesmoor
1 blik (400 g) lensies, voeg die vloeistof ook by
Halwe patat, gerasper
1 klein appel, gerasper
1 pakkie (50 g) tamatiepasta
sowat 125 ml (½ k) Carmién Focus rooibostee (2 sakkies)
Sout en peper
500 g bevrore wortel-en-ertjiemengsel
Knippie suiker
Groot handvol gekapte koljanderblare
VOORSIT
Stampmielies of bruinrys
SAMBAL
1 tamatie, in blokkies gesny
Halwe klein ui, gekap
15 ml (1 e) bruin-asyn
Knippie suiker
Sout en peper

1 KERRIE Roerbraai die uie, knoffel en gemmerwortel saam net die kaneelstokkie in bietjie olie tot sag.
2 Voeg die maalvleis by en braai tot net gaar.
3 Voeg die kerrie, komyn, borrie, koljander en tamatie by en roer 1 minuut.
4 Voeg die lensies, patat en appel by en roer deur.
5 Meng die rooibostee met die tamatiepasta en voeg helfte daarvan by. Geur met sout en peper na smaak. Verlaag die hitte, bedek en laat prut tot gaar en geurig.
6 Voeg die groentemengsel by asook orige teemengsel en laat prut verder tot die groente gaar is. Geur met bietjie suiker asook nog sout en peper indien nodig.
7 Meng ‘n groot hand vol gekapte koljanderblare deur.
8 VOORSIT Sit die maalvleis voor saam met stampmielies of rol toe in ‘n roti. Sit voor saam met die gekapte sambal.

Die resepte vir die roti’s, ongelooflike muffins asook die maklike vierboneslaai met rooibosslaaisous is te kry in my boek, Lekker & Goed, heilsame kos propvol heilsaamheid. Die boek is te kry in vooraanstaande boekwinkels asook aanlyn by Lapa en op die Carmién-webtuiste.

Bak ‘n koek en wen ‘n boek

As mens boek skryf is dit lang ure wat jy in ‘n borrel op jou stoel voor jou rekenaar vasgegom sit en resepte skryf waarvan jy hou (hulle word eers later getoets) en wat jy hoop en dink ander mense ook van gaan hou. En as die boek eers op die rak is, begin jy tandekners en hoop dit geval meeste mense en dat hulle die resepte gaan geniet. Met hierdie boek veral was ek nogals ietwat senuweeagtig, want ek het my nek ver uitgesteek om ‘n gesonder aanslag aan die resepte te gee. Jy weet nooit regtig of mense dit aanloklik vind voordat hulle nie van hulle laat hoor nie.

Ja, so vir my is daar niks lekkerder as om terugvoering te kry nie, want dit gee my ‘n goeie indikasie wat mense geniet en wat hul voorkeure is (ek gee ook glad nie om as iemand my laat weet van ‘n resep wat hulle mee gesukkel het of wat hulle nie aangestaan het nie –dit gee my net weer ‘n geleentheid om verder daaraan te werk en weer te toets).

Sowat ‘n week of twee drie terug ontvang ek lekker terugvoering via my skoonsus en sussie van twee mense wat my boek gekoop of present gekry het. Die een al afgetree, die ander ‘n jong pasgetroude bruid wat glukose- en laktose-intolerant is. En wat ‘n riem onder die hart is dit nie dat beide, hoe groot die ouderdomsverskil ook mag wees, die boek baie leersaam vind en daaruit kook! So dit staan nie net op die rak en stof vergaar nie. Hierso hul terugvoering:

“Ek het mos Carmen se nuwe boek gekoop. Dan toets ek altyd resepte. Ek hou baie van haar ingesteldheid oor gesond eet. Sal jy vir haar sê daardie Thai hoenderkerrie met groen mangos is ‘n ongelooflike treffer en ek gaan dit beslis weer maak. Dit was Vrydagaand my kos vir vriende. Gister het ek die appeltert gemaak. Dit was baie lekker. Ek sal nog meer met klappermeel wil eksperimenteer. Het die bestanddele by Checkers gekoop soos sy gesê het. O ja, ‘n vriendin, hoeka van Langebaan, vra of ek nie vir haar ‘n kaaskoekresep het nie. Ek het net die een boek hier en neem Carmen s’n af. Vriendin is in die wolke daaroor.”

My suster se skoondogter is gluten- en laktose-intolerant en sy stuur die volgende boodskap: “Baie dankie Ma vir die amazing boek van Carmen. Ek het nou net weer deur die poedings geblaai en daar is 6 poedings wat almal met glutenvrye meel gemaak kan word. En sy gebruik jogurt en maaskaas in stede van room, en ek kan dit maklik laktosevry kry. So ek kan kaaskoek bak! Sy gebruik ook klappermeel en hawermout wat ek net so maklik glutenvry kan kry. Ek sien so uit daarna om weer ‘n slag gebakte soetgoed te maak. Dit lyk vir my so maklik. Alles word net so moeiteloos vervang sonder om ‘n groot rietmerol daarvan te maak. Sy gebruik net daardie mele in die resep en jy weet dit gaan werk, so jy hoef nie iets in te ruil nie. Daar is baie resepte wat mens baie maklik kan maak wat glutenvry en laktose-vry is. Dis so ‘n oulike boek – van ontbyte, brownies, alles wat mens nodig het.”

So hou ons ook die naweek basaar hier op Langebaan. Een van die voorvatters laat weet my ek moet asseblief tog die rooibos-sjokoladekoek wat ek met patat maak, bak, want dan kan diegene wat minder suiker moet eet, mos ook ‘n snytjie koek geniet. Later hoor ek die versoek kom via een van die mense wat my praatjie verlede jaar by die Saldanha-vrouedag bygewoon en die koek daar geëet en dit so geniet het. En ja, daar het nie ‘n krummeltjie oorgebly nie.

So hier is nou ‘n lekker uitdaging en geleentheid om ‘n Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid -boek, te wen. Al wat jy hoef te doen is om die rooibos-sjokoladekoek te bak en ‘n foto daarvan vir ons aan te stuur na carmen@carmientea.co.za. Dan staan jy ‘n kans om die boek te wen! Kompetisie sluit 21 April.

KLAM ROOIBOS-SJOKOLADEKOEK

Die oorspronklike resep van hierdie koek, wat letterlik binne minute aanmekaar geslaan kan word en nie enige eiers inkry nie, was die koek wat ek altyd vir my kinders se verjaarsdae gebak en saamgestuur het skool toe. Dan het ek dit sommer in ‘n oondpan gebak en in blokkies gesny of soms klein mini-koekies daarvan gemaak.

Karamelkondensmelk, met klompe natuurlike jogurt deurgemeng was al versiersel. Hulle het gesmul. Maar sjoe, daar het baie suiker ingekom – ‘n volle 3 koppies. Om die suiker te verminder, sonder om smaak in te boet het ek op die ou einde gaar patat met die suiker gaargemaak en dit deurgemeng en pleks van die water gebruik ek rooibostee wat ‘n heerlike smaak verleen.

Maak 1 laagkoek of Bundtkoek
Bereiding 20 min
Baktyd: sowat 30 min

500 ml (2 k) koekmeel
250 ml (1 k) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
2,5 ml (1/2 t) sout
500 ml (2 k) Carmién warm rooibostee (gemaak met 6 Red Mocha of Floral Berry-sakkies)
100 ml canola-olie (nie olyfolie)
30 ml (2 T) appelasyn
500 g (2 groot) oranje patats, geskil (nie die rooiskil soort nie)
250–325 ml (1—1⅓k) bruinsuiker (ek gebruik slegs 250 ml)
JOGURT-GANACHE
200 g donker sjokolade, suikervry indien verkies, in blokkies gebreek
Sowat 60—80 ml (¼-⅓k) natuurlike jogurt
OF
VERSIERSEL
250 ml (1 k) versiersuiker
125 ml (1/2 k) kakao
Rooibostee soos nodig
Blommetjies uit die tuin vir bo-op

Voorverhit oond tot 180°C. Spuit 2 koekpanne, 20 cm in deursnee of ‘n Bundt-koekpan goed met kossproei.
Kry twee mengbakke gereed.
1 KOEKBESLAG Sif die koekmeel, kakao, koeksoda en sout saam in ‘n groot mengbak.
2 Druk die teesakkies goed uit, maak seker dat daar 500 ml (2 k) tee is. Meng die tee, olie en asyn, in ‘n groot bak en roer goed tot alles goed gemeng is.
3 Kook die patats in ‘n klein bietjie water tot sag, voeg die suiker by net wanneer die patats begin gaar word. Roer goed tot ‘n gladde puree wanneer sag (Jy kan ook ‘n stokmenger gebruik om die puree fluweelglad te kry).
4 Roer by die vloeistofmengsel in. Voeg die vloeistofmengsel by die meelmengsel en meng goed deur.
5 Skep in die twee koekpanne of Bundt-pan en bak sowat 30 minute of tot net gaar, maar nog baie effens klam in die middel as jy ‘n toetspen indruk.
6 Keer uit en laat heeltemal afkoel.
6 GANACHE Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond, roer gereeld en roer die jogurt vinnig by om ‘n smeerbare mengsel te maak.
7 Smeer oor die een koeklaag en plaas die ander een bo-op. Skep res van ganache oor en viersier met blommetjies of stapel vars bessies en vye bo-op. (Skep die hele mengel oor die Bundt-koek.)
8 Maak andersins die volgende versiersel: Meng kakao en versiersuiker met ‘n bietjie tee tot stywe pasta (pasop vir te veel tee, dit raak gou loperig) en smeer oor die koek. Plaas opmekaar en versier met blommetjies of vrugte.

Wenk: Met hierdie mengsel gaan jy sowat 54 mini-kolwyntjies gebak kry – bak dit dan vir sowat 18—20 minute.

Klop die kragkrisis

Elektrisiteit-loosheid hoef ons nie hande in die hare te laat nie. Dan bedink ons alternatiewe maniere om kos te maak. Ek is daarvan oortuig meeste mense het nou al vir hulle gas in een of ander aard aangeskaf om op te kook. ‘n Gasstoof, al het dit steeds ‘n elektriese oond, is die mees gemaklikste, maar andersins sal ‘n gasbottel met ‘n plaat of skottelskaar daarop vasgeskroef net so goed werk. Skottelkos kan jy net so maklik oor die vuur gaarmaak.

Hierdie hoender met sy ryk Noord-Afrikageure is ideaal om só in ‘n skottel gaar te maak. Ekself gebruik graag die groot LeCreuset-panne met die “glasdeksel” hiervoor. Maar as ons die pad vat boendoes toe, pak ons altyd die gasbraaier met al sy bybehore in, dan werk dit net so goed in die skottelskaar. En natuurlik, niks kom by die samesyn van ‘n vuur wat gesellig knetter waarop mens hierdie skottel net so gemaklik kan gaarkry terwyl jy rustig aan ‘n wyntjie teug nie. By die huis, doen ‘n pot rys hierby sy ding, maar ‘n platbrood (sien hierdie post) is net so lekker daarby om die lekker sousies mee op te vee. Dié bak jy sommer in ‘n goed ingebakte swart pan oor gas of oor die vuur. Klein roosterkoekies is net so geskik.

Noord-Afrika Skottelhoender

Die skottelhoender kry tipiese Afrikageure van kaneel, komyn, kardemon en gemengde speserye in. Om nog meer geurigheid op ‘n subtiele manier in te werk maak ek ook ‘n aftreksel met Carmién se Focus rooibostee met chaigeure en prut die hoender daarin tot sag.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding; 20 min
Gaarmaak: 40 min

12 hoenderporsies (dytjies en boudjies)
Sout na smaak
olie
5 ml (1 t) heel komynsaad
2 uie, in ringe gesny
3 knoffelhuisies, fyngerasper
5 cm gemmerwortel, gerasper
15 ml (1 e) fyn kaneel
5 ml (1 t) gemengde speserye
5 ml (1 t) fyn kardamom
500 ml (2 k) Carmién Focus rooibostee (gemaak met 6 sakkies)
1 blik (400 g) klappermelk
1 suurlemoen se sap en gerasperde skil
Halwe kop broccoli,in blommetjies gebreek (opioneel)
Geroosterde amandelvlokkies
40 g koljanderblare
VOORSIT
rys of platbrood

1 Geur die hoender met sout na smaak.
2 Verhit bietjie olie in ‘n groot pan of skottelskaar en verhit tot effe warm. Voeg die komynsaad by en meng deur.
3 Voeg die hoender by en braai tot effe bruin buite-om. Skep die hoender uit.
4 Voeg die uie, knoffel en gemmer by die olie in die pan en braai tot sag.
5 Roer die fyn speserye by.
6 Giet die rooibostee en klappermelk in en bring tot kookpunt.
7 Voeg die hoender by, verlaag die hitte, plaas die deksel op indien verkies en laat prut tot die hoender sag en gaar is.
8 Geur met suurlemoensap.
9 Voeg die broccoli by indien gebruik en prut tot net sag, maar nog bros.
10 Sprinkel die amandelvlokkies en kolanderblare oor en sit voor saam met rys of platbrood.

Peusel aan platbrood

Vir ‘n geruime tyd begin ek al hoe meer opmerk hoe baie mense weer heerlik saamkuier met ‘n broodjie in die hand. Maar nou het die fokus veral verskuif na platbrode, hetsy bros en brekerig of sag en degerig. Deels kan dit toegeskryf word aan die Meditereense en Midde-Ooserse eetpatrone wat wêreldoor by die dag net meer gewild word. Mense het veral ook ‘n hunkering na samesyn en deelkos. Platbrode verleen hul altevol gemaklik daartoe – dis veelsydig en kan werklik met verskeie bolae en smere voorgesit word. Dit pas my natuurlik soos ‘n handskoen, want vir my is daar niks lekkerder as om te kuier rondom ‘n groooot deelbord gepak met platbrode en allerlei heerlike smere waardeur mens die brood kan trek en peuselgoedjies wat jy daarop kan laai nie. Daarby ‘n goeie bottel wyn of twee en dan is jy reg om ‘n stukkie brood te breek en die sameyn te geniet van goeie vriendskap en lekker stories.

My deelbord sien gewoonlik só daar uit:

  • Platbrode
  • Hoemoes of zhug
  • Falafels (kekerertjie-frikkadelle)
  • 2—3 soorte piekels soos kersie-tamaties, koolpiekel, uiepiekel of ‘n heerlike Midde-Oosterse blomkool-en-broccoli-piekelslaai
  • Groentesalsa of ‘n verskeidenheid vars goed soos blaarslaai, komkommer, kersie-tamaties, skyfies avokado en dik romerige jogurt, gegeur met bietjie komyn

Die platbrood kan wissel van een wat sommer met jogurt gemaak word (sien resep) of een wat amper soos ‘n tipe panpita is, gemaak met gis of vir diegene wat wil wegbly van koring is daar selfs een gemaak met klappermeel. Andersins maak ek sommer baie keer ook die platbrood wat by De Tol-deli so gewild is. Noudat ek geseën is met sorghummeel, vervang ek helfte van die meel in die resep daarmee.

Die hoemoes maak ek graag deels van patat en pleks van tahini (wat aan die duur kant is), braai ek sommer sesamsaad in olie wat ek dan in die hoemoes inwerk.

Die Zhug (‘n hittige Midde-Oosterse sous), word met avokado gemaak om die brand ‘n bietjie uit te balanseer – sien die resep hieronder.

My nuutste kosgier is falafel waarvan ek net nie genoeg kan kry nie. Dié geurige kekerertjie-frikkadel maak ek sommer in die lugbraaier gaar of andersins braai ek dit in vlak olie braai, nie diepvetolie soos die aanvanklike resep vra nie.

Vir die piekels is daar ‘n basiese resep wat jy kan gebruik vir van tamaties tot kool en uie. Maar probeer gerus die Midde-Oosterse blomkool-en-broccolipiekel. Dis werklik spesiaal.

Ek maak ook graag ‘n groentesalsa wat uit avokado en sampioene bestaan. Die sampioene raak sommer so in die geurige sousie “gaar”.

Die resepte vir al hierdie heerlike peuselkos is almal te kry in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Die boek is in vooraanstaande boekwinkels, Checkers asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea te kry.

Avocado Zhug with flatbread and falafel

Serves 4 as a starter
Preparation time: 10 minutes

1 large avocado, peeled and stoned
125 ml (½ c) fresh coriander leaves
125 ml (½ c) fresh flat-leaf parsley leaves
60 ml (¼ c) lemon juice
2 large jalapeños, chopped (deseeded if you don’t want the sauce too spicy)
2 cloves garlic, chopped
Pinch of sea salt
To serve
Flatbread (see recipe) or pita bread
Falafels, pickles, fresh coriander

Quarter the avocado and set aside.
Place the remaining ingredients in a food processor and whizz until smooth, scraping down the sides of the bowl. Add the avocado and blend further until smooth. Transfer to a bowl or store in a jar in the fridge (may store for up to 2-3 days).
Serve with flatbread, falafel and pickles and garnish with fresh coriander.

Recipe for yoghurt flatbread: Mix 150 g self-raising flour, 150 g wholewheat flour, 5 ml (1 t) baking powder and 2,5 ml (½t) salt. Add about 350 ml of plain yoghurt and mix into a stiff dough. Knead well and then rest for 10 minutes. Divide into 10 balls, and roll out each ball into a thin circle. Fry in a heated pan, about 2 minutes per side till just done. Brush with parsley butter while still hot.

Avo’s stap voor

In my huis was daar nog altyd avokado’s – een of twee net reg om te eet (ready to eat) en ‘n paar ander in ‘n kadoessak of in koerantpapier toegedraai saam met ‘n appel of piesang en in ‘n donker kas weggebêre sodat hulle ryp en sag kan word, want ja, ‘n avokado word nie aan die boom sag nie, dit gebeur eers nadat dit gepluk is.

Ek onthou ook hoe ons kleintyd vuurhoutjies deur die pitte gedruk en dit dan in ‘n glasie water staangemaak het sodat dit kan uitloop. Ongelukkig het die plantery nie op veel geluk uitgeloop nie.

Avokado’s is nie net heerlik op roosterbrood of as guacamole nie, dit gaan letterlik by enigeiets. Die het ek onlangs eersdaags ervaar toe ek uitgenooi was na die viering van die nuwe seisoen deur die South African Avocado Growers’ Association (SAAGA) by die trendy Upper Union Restaurant in Kaapstad. En ja, avokado’s slaan ook deesdae die kitaar as dit by stylneigings kom met die dat avokado’s in 2023 aangewys is en deel vorm van die Everyday Health Top 10 Healthy Food trends list vir 2023. (sien die volledige verklaring)

Met hul avokadogroen interieur was die Upper Union restaurant die perfekte keuse om alles avokado te ervaar en te proe en sjef Amori Burger het nie teleurgestel met die deelhappies wat sy uitgestuur het tafel toe nie: Kubaneh (‘n Joodse brood) met avokado en makhani-botter; geposjeerde koningklip met avokado in verskeie vorme met ‘n salami-strooisel; ‘n 42-dae verouderde riboogsteak met swartknoffelbotter en avokado-jus saam met verskeie bykosse en natuurlik poeding.

Toe ek moes kies watter gereg ek by die huis weer wil uitprobeer en op my manier interpreteer het my keuse op die koningklip geval. Dié het my op ‘n manier laat terugdink aan die gewilde Avokado-Ritz soos van ouds waarvoor Suid-Afrikaners so lief was. Gedagtig hieraan en met die wete dat avokado maats maak met verskeie geure en teksture het ek my eie anderste weergawe van ‘n avokado ritz met romerige hoender en ‘n avokado-tamatiesalsa bedink wat ek met koljanderpesto en bros uieringe afrond. Die avo het ek uitgewaaier soos die tendens deesdae neig en die hoender het ek sommer in die lugbraaier gaargemaak met die uieringe wat ek eers in sorghumeel gerol het voordat dit ook in die lugbraaier brosgebraai is. Voedingsgis (nutritional yeast) help gee ekstra geur en voedingswaarde aan die pesto wat ek laastens oorgeskep het.

“AVO RITZ” MET AVOKADO-EN-TAMATIESALSA MET ROMERIGE HOENDER, KOLJANDERPESTO EN BROS UIERINGE

Genoeg vir 3-4 mense (as voorgereg of ligte ete)
Bereiding: 30 min
Gaarmaak: 30 min

AVOKADOSALSA
1 ryp tamatie, in blokkies gesny
30 ml (2 e) kappertjiesaad
20 g basilieblare, gekap
30 ml (2 e) elk natuurlike appelasyn en avokado-olie
1 songedroogde tamatie, gekap
1 avokado, fyn opgekap
Sout en peper na smaak
HOENDER
3 hoenderdye
Portugese speserye na smaak
45 ml ( 3 e) elk mayonnaise en natuurlike jogurt
Sout na smaak
PESTO
40 g koljanderblare
2,5 cm gemmerwortel, fyngerasper
2 knoffelhuisies, fyngerasper
125 ml (½ k) grondbone
30 ml (2 e) voedingsgis
1 suurlemoen se skil en sap
Olyfolie na smaak
Sout
BROS UIERINGE
1 ui, in ringe gesny en gekook in mikrogolfoond tot sag
Sorghummeel of gewone witbroodmeel
Portugese speserye
Avokado-olie
15 min in die Airfryer
AFRONDING
1 avokado, gehalveer, ontpit en geskil

1 SALSA Meng al die bestanddele saam en hou eenkant.
2 HOENDER Geur die hoenderstukke na smaak met die Portugese speserye. Plaas in die lugbraaier en lugbraai sowat 15 minute of tot gaar en die velletjie lekker bros is (pas op vir oorgaarmaak, dan is dit droog). Koel die hoender effe af en pluis die vleis dan in klein stukkies.
3 Meng die hoender met die mayonnaise en jogurt en geur na smaak met sout indien nodig.
4 PESTO Plaas al die bestanddele buiten die olie in die bak ban die voedselverwerker en verwerk tot die grondbone grof opgekap is. Voeg genoeg olie deur die tuit by om ‘n effense loperige mengsel te verkry.
5 UIERINGE Spoel die uieringe onder koue water af en druk droog met handdoekpapier.
6 Geur die sorghummeel met Portugese speserye na smaak en rol die uieringe daarin.
7 Pak die uieringe in ‘n enkellaag in die lugbraaier se mandjie, giet olie oor en lugbraai sowat 15 minute of tot bros. Roer die uieringe ‘n paar keer tussendeur.
8 BYMEKAARSIT Plaas ‘n avokadohelfte met die holte na onder op ‘n bord en sny in dun skyfies. Waaier die skyfies uit oor die bord. Skep van die hoendermengsel bo-op en skep’n paar lepels vol salsa bo-op.
9 Rond af met ‘n skeppie of twee pesto en sprinkel van die uieringe oor.

Avos celebrated on the 2023 food trends list

Over the years, foodies and consumers have been ‘adding an avo’ to their meals. This year avos have also caught the attention of the trendsetters and have been honoured on the Everyday Health Top 10 Healthy Food Trends list for 2023.

Third on the list is the trend, ‘plants in more places’, which refers to the way in which the plant-based eating phenomenon that has swept the globe in recent years, has inspired new ways to eat fruits and vegetables.

In particular, the report notes that people are realising they can add more plants to their plates without necessarily becoming vegans or vegetarians. It cites an ‘upswing in the creative use of vegetables and fruits as people strive to hit that five-a-day recommendation – for example using avocado in the place of butter’. We couldn’t think of a better way for you to prep your sarmies than with avo!

The report goes on to mention other exciting trends where avos tick all the boxes: ‘more plant-based options’, ‘mood-boosting foods’ and ‘food for your gut’.

‘More plant-based options’ speaks to the growing trend of people consciously choosing to eat less meat. As a result, interest in meat alternatives and interesting fruit and veg options is increasing across the globe. This is where avos come into their own as an incredibly versatile fruit. From traditional guacamole (which goes with everything) to ice cream, avos fit squarely into the here-to-stay plant-based eating trend.

Functional foods and beverages that support the body in specific ways have been blipping on the radar for a while, especially around the issue of building immunity. The ‘mood-boosting foods’ trend on the 2023 list refers to feel-good foods that help ward against depression and dementia, and support brain health.

One avocado contains 13g of healthy monounsaturated fatty acids, which have anti-inflammatory and antioxidant properties. Foods higher in good fats may lower the risk of depression, anxiety and other mental disorders. Good fats also facilitate thought-processing, hormone production and stress-reduction mechanisms within the brain. So, when it comes to ‘mood-boosting foods’, avos are right up there!

Finally, caring for the microbiome in the gut as a key to overall improved health has become firmly cemented among consumers in recent years. The ‘food for your gut’ trend predicted for 2023 sees this intensifying, with the focus shifting from supplements like pre-and probiotics to foods that support gut health.

New research shows that eating avos may benefit gut microorganisms, as avos provide a unique mix of insoluble fibre (70%) and soluble fibre (30%), which feed healthy gut flora.

All these food trends reflect the prevailing global theme of sustainability. Avo farmers the world over are actively reducing their ecological and water consumption footprints. This, together with their high nutritional value, makes avocados a sustainable and healthy alternative.

As you can see, there are plenty of reasons to ‘add an avo’ to your meals this year (especially if you like to keep ahead of the trends!).

For further information and avo recipes, visit www.avocado.co.za, like us on Facebook @iloveavocadoSA and follow us on Instagram @iloveavossa

Bobaas Bobotie

Bobotie is net so eie aan ons kultuur en mens sou maklik kon dink dat daar ‘n basiese resep is waarvolgens meeste mense werk. Toe glad nie, daar’s verskeie en elke familie klou vas aan hul resep. So het ek met die jare verskeie werklik lekker bobotie-resepte publiseer, party kry droëperskes, sultanas of selfs Turske appelkosies in, ander ‘n paar vlokkies amandel bo-oor gesprinkel; die een soet, die ander een meer sterk met die kerriemengsel self gemeng in die stamper en vysel. Ekself het heerlik rondgespeel tussen die verskeie resepte. Deesdae rasper ek nie net graag ‘n appel by die mengsel in nie maar selfs ook ‘n patat en wortel of twee. Dit sorg vir ‘n meer “los” bobotie. Seker baie onkonvensioneel, maar ek hou ook daarvan om selfs hoenderlewers by te voeg wat ek laat fynkook saam met die maalvleis.

Om dinge verder interressant te maak, bak ek die boboties graag in ‘n broodpannetjie sodat ek dit maklik in skyfies kan sny, amper soos ‘n maalvleisbrood. Baie keer druk ek sommer die rysmengsel onder in die broodpannetjie vas, so elkeen kry sommer alles in een porsie. Jy kan natuurlik net so maklik individuele boboties vir elkeen op dié manier berei.

Maak 2 bobotie-brode (genoeg vir 6 mense)
Voorbereiding: 30 min
Gaarmaak: 30 min

2 uie, fyn gekap
45 ml (3 e) olie
2—3 knoffelhuisies, fyngedruk
60 ml (¼ k) geroosterde masala of matige kerriepoeier
30 ml (2 e) fyn gemmer
20 ml (4 t) fyn kaneel
20 ml (4 t) fyn koljander
7,5 ml (1½ t) borrie
250 g hoenderlewers, fyner gesny
500-750 g maer maalvleis
Sout na smaak
3 wortels, skoongeskraap en gerasper
1 groot patat, skoongeskrop en gerasper
1 appel, gerasper
250 ml (1 k) groenteaftreksel
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
60 ml (¼ k) fyn appelkooskonfyt of vrugtige blatjang
Sap en skil van 1 suurlemoen
750 ml (3 k) gaar rys, gekook met bietjie borrie en ‘n kaneelstok

EIERVLA
6 eiers
500 ml (2 k) melk
45 ml (3 e) koekmeel
Sout en peper
1 piesang, in lengte gehalveer
4—6 lourierblare

SAMBALS
Gekapte tamaties en uie
Gekapte komkommer en jogurt sambal met fyn komyn

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit twee medium broodpanne goed met kossproei en voer uit met bakpapier. Spuit weer goed.
1 Verhit die olie in ‘n pan en braai die ui daarin tot sag. Voeg die knoffel by en braai tot geurig. Roer die speserye by.
2 Voeg die hoenderlewers en maalvleis by, geur met sout na smaak en braai tot gaar, nie nodig vir bruin nie.
3 Voeg die wortels, patat en appel by, meng deur en voeg die aftreksel en tamatiepasta by. Verlaag die hitte en laat prut tot die groente bykans weggekook en die mengsel lekker geurig is.
4 Roer die appelkooskonfyt en suurlemoensap by en geur met nog sout indien nodig.
5 Druk die rys onderin elk van die pannetjies vas. Verdeel die maalvleismengsel tussen die broodpanne en druk vas.
6 EIERVLA Klits die eiers, melk en meel saam tot glad, geur met sout en peper. Giet oor die mengsel in die panne, laat dit goed intrek in die rys-en-maalvleismengsel.
7 Rangskik die piesang en lourierblare bo-op en bak sowat 30—40 minute of tot die eiervla gestol is. Laat bietjie afkoel in die panne en keer dan versigtig uit. Sny in skywe. Sit voor met sambals.

Sakpaswenk: verminder die maalvleis na 250 g en roer ‘n blikkie of selfs twee lensies by die maalvleismengsel in.

Gaan kyk ook in my boek, Lekker & Goed, heilsame kos propvol heilsaamheid, vir ‘n heerlike lensie-bobotiebrood. My man wat ‘n vurige vleiseter is, smul alte lekker daaraan.

Afrika-geure

Soos wat ek julle vertel het begin Februarie is antieke grane en veral Afrika-grane een van die groot kostendense vir 2023. Ek nader toe vir Local Village Foods om vir my produkte te stuur. Die boks arriveer met heelsorghum, sorghummeel en Bambara-bone in, genoeg om ‘n hele nasie mee te voed! Sorghum is die graan waarmee onder andere Maltabella-pap gemaak word, iets wat ons gereeld as kind op tafel gekry en heerlik aan gesmul het. Die heel graankorrels vat nou wel ‘n tydjie om sag te kook, maar is lekker neuterig. Ek maak dit graag in rooibostee gaar om net nog ‘n vredere skeutjie Afrika-goedheid daarby te voeg. Bambara-bone ken ek as jugo-bone en dit smaak vir my baie na grondbone. Dit word ook nyimo, ditloo en indlubu genoem; het ‘n taamlike hoëproteïen-inhoud (9,4 g per 205 g porsie; die koolhidraat-inhoud is 12,3 g per porsie) en is heerlik in kerries of selfs om hoemoes mee te maak.

Die groot kosfoendi, Renata Coetzee, was die een wat my jare terug aan die Afrika-eetkultuur bekend gestel het en ek bewaar haar boek, Funa, food from Africa, Roots of traditional African food culture, soos ‘n kleinnood. Ek het die boek nog by haar present gekry met dié nota voorin: “Carmen, geniet die kos en kultuur van die etniese Afrikane.” Op ‘n stadium was ek ook betrokke by Drum se kosafdeling en het ek saam met die bekende tv-sjef en restaurateur, Siba Mtongana in die kombuis gewoel en werskaf en onder andere ‘n hele reeks oor die geliefde kosse in elke etniese groep van Suid-Afrika gemaak. So het ek ook by verskeie geleenthede skouers geskuur met Portia Mbau van The Africa Café (in Kaapstad) en het ook haar boek, The Africa Cook Book. So ja, ‘n tekort aan inspirasie om kosse uit Afrika te kook, is daar nie. Ek vind ook dat hierdie produkte net so maklik hul plek in enige kookkultuur kry, lekker eksperimenteer is dus my voorland.

Laas Sondag het ek sommer ‘n slaai berei wat heerlik was saam met die Franse oondhoender, met sy groen olywe, kappertjiesaad en pruimedante in. Die resep daarvoor kan jy in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, kry. Dis beskikbaar by meeste boekwinkels asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea.

Sorghumslaai met Afrikabone

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Kooktyd: sowat 1 uur

375 ml (1½k) heel sorghum
625 ml (2½ k) Carmién-rooibostee, Revive (met gemmer en brandrissie) of Rescue (met boegoe), gemaak van 4 sakkies
sout
1 blik (410 g ) Bambara-bone, gedreineer

SLAAISOUS
80 ml (⅓ k) olyfolie
45—60 ml (3—4 e) natuurlike appelasyn
30 ml (2 e) vars uitgedrukte suurlemoensap
5 ml (1 t) heelkorrelmosterd
5—10 ml (1—2 t) heuning of bruinsuiker
Knippie sout

AFRONDING
2 appels, in dun skyfies gesny
1 peer, in stokkies gesny
Groot handvol rosyne

1 Plaas die sorghum in ‘n kastrolletjie en giet 500 ml (2 k) van die rooibostee oor. Moenie sout nou al byvoeg nie. Kook tot sag, vul aan met kookwater indien nodig en geur met sout aan die einde van die kooktyd. Dreineer.
2 Plaas die gaar sorghum en bone in ‘n bak.
3 SLAAISOUS Klits al die bestanddele goed saam, voeg die orige rooibostee ook by en giet oor die sorghum en bone-mengsel. Verkoel minstens 20 minute (hoe langer hoe beter) sodat die slaaisous lekker in die sorghum en bone kan intrek.
4 Pak die appel en peer in ‘n bak en skep die sorghumengsel bo-op. Sprinkel die rosyne oor.