Na al die jare is dit vir my die lekkerste lekker om saam met my ma ‘n koppie tee in die sonnetjie op haar plaashuis se noordestoep te geniet. Wat ‘n voorreg om dit steeds op amper 87 steeds te kan doen. Die skinkbord netjies gedek met fyn koppetjies, die tee perfek getrek met vars gekookte water. “Mens kook nooit die water twee keer nie, jy kook die suurstof uit” was haar wyse woorde. Daarby bak ek vir haar ‘n koek (deesdae sommer in die Airfryer) waarvoor sy lief is, ‘n kombinasie van ‘n sponskoek en klapperkoek; wat ek verder geur gee met ‘n stropie gemaak met die heerlike nuwe tee, Passion Peach uit Carmién se spesialiteits piramied-rooibostees. Die Passion Peach is ook die tee waaraan ons behaaglik teug terwyl ons klein happies koek geniet. Kosskrywer Mariette Crafford het immers altyd gesê: “skryf liefdesbriewe met kos aan jou geliefdes”. Geseënde Moedersdag!
Kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus.
BLOUBESSIE-KLAPPER-JOGURTKOEK
Die koek is geskoei op ‘n uiters gewilde papawersaad-klapperkoek wat ‘n treffer destyds in Wenresepte was. Deesdae bak ek dit graag net met klapper wat dit dan glutenvry maak, maar jy kan ook bruismeel byvoeg indien jy sou wou. Dié koek bevat ook heelwat minder suiker en vet as die oorspronklike resep en dan natuurlik ook al die goedheid van die bloubessies en rooibos. Heeerlik en heilsaam!
Maak 1 koek
Bereiding: 20 min
Baktyd: 40-45 min
STROOP
125 ml (½ k) Passion Peach-rooibostee van Carmién (4 sakkies)
45 ml (3 e) suurlemoensap
80 m (⅓ k) strooisuiker
KOEK
4 eiers, geskei
125 ml (½ k) strooisuiker
180 ml (¾ k) natuurike volroomjogurt
gerasperde skil van 1 suurlemoen
500 ml (2 k) fyn klapper of 250 ml (1 k) daarvan bruismeel
2,5 ml (½ t) bakpoeier (laat uit indien bruismeel gebruik)
45 ml (3 e) papawersaad
250 ml (1 k) bloubessies, vars of bevrore (moenie ontvries nie)
VERSIERSEL
230 g geroomde maaskaas
30 ml (2 e) versiersuiker
Grenadilla-pulp, bloubessies of appeliefies en eetbare blommetjies
Voorverhit die oond tot 180°C indien jy ‘n oond gaan gebruik. Spuit ‘n 20 cm vierkantige koekpan goed met kossproei. (voer die pan onder uit met bakpapier).
1 STROOP Kook die tee, suurlemoensap en suiker saam vir 5 minute of tot effe strolerig. Koel af.
2 KOEK Klits die eiergele en strooisuiker tot lig.
3 Roer die jogurt en suurlemoenskil in. Vou die klapper (en bruismeel indien gebruik) en papapwersaad in. Vou laastens die bloubessies in.
4 Klits die eierwitte tot dit stywe punte vorm en vou liggies by die mengsel in.
5 Skep die beslag in die voorbereide pan en bak 40-45 minute lank of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat effe afkoel in die pan en giet die stroop oor. Laat intrek en koel heeltemal af.
6 Keer die koek uit op ‘n koekbord.
7 VERSIERSEL Meng die roomkaas en versiersuiker en smeer rofweg oor die koek. Skep die grenadilla-pulp oor en versier met vrugte en blommetjies.
Hoe om die koek in die Airfryer te bak: Skep die beslag in die voorbereide pan. Stel die Airfryer op bak en 180°C. Plaas die vierkantige koekpan binne-in die laaitjie van die Airfryer (hy pas perfek). Bak sowat 15 minute en bedek die bokant dan met tinfoelie, want die koek is geneig om ietwat donker van bo te bak. Bak ‘n verdere 25—30 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Gaan verder te werk soos beskryf.