Beskuit gelaai met goedheid

My pa het ons altyd kleintyd bederf met varsgebroude opstaankoffie en beskuit in die bed. ‘n Ritueel wat ek tot vandag toe koester. Vandat ek probeer om nie te veel gluten in te neem nie, het ek aanvanklik beskuit maar uitgesny. Deesdae se lae koolhidraatbeskuit-resepte is beslis meer bekostigbaar en heel lekker, so ek het nou opnuut weer ingespring en beskuitresepte begin uittoets. Ek het ook al hoe meer begin oplees oor kosse wat goed is vir jou “gut” en kom maar agter dat ‘n spysverteringstelsel wat goed en gereeld werk, die basis is om die dermkanaal gesond te hou en inflammasie te help beveg. So, veral genoegsame veselinname en die drink van baie water, is ononderhandelbaar.

Klappermeel is ‘n gawe alternatief om beskuit mee te bak, want dis bekostigbaar en propvol vesel en allerlei ander goedhede, maar o vader, dit kan sukkel om die regte verhoudings daarmee uitgewerk te kry, want dit suig vloeistof op soos ‘n spons. So, baie probeerslae het al in die asblik beland, kurkdroog en oneetbaar. Maar stadig maar seker kom ek agter die kap van die byl en hierdie beskuit was ‘n aangename verrassing.

Buiten die klappermeel kry die beskuit ook lekker baie sade en neute in wat beide nie net veselryk is nie, maar ook baie proteiene en goeie vette bevat. Daarby ‘n bietjie veselryke patat asook voedsame olyfolie (of selfs klapperolie) en heelwat eiers. Om die beskuit verder mee aan te klam en te verryk, gebruik ek rooibostee uit Carmién se wellness reeks (Cleanse en Focus) wat buiten vir die antioksidante van die rooibos ook ander aktiewe kruie-bestanddele bevat wat help om jou fisiese welstand te verbeter: die Cleanse, wat buiten groen rooibos ook bietjie senna bevat wat help om die spysverteringskanaal te reining met verder ook ment en gemmer wat opgeblasenheid help verminder; die Focus weer wat ‘n mengsel van rooibos en masala-speserye soos kaneel en borrie bevat, wat ook anti-inflammatories is en help om rumatiek te verlig. Vir soetigheid gebruik ek erythritol (baie goedkoper as xyilotol) en een van die enigste alternatiewe versoeters wat vir jou ‘n bros beskuitjie gee.

Hierdie lewer nie nie ‘n groot mengsel nie, so ek het sommer die beskuit in my Airfryer bebak – perfek in ‘n 20 cm vierkantige koekpan.

Kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus.

LOW CARB KLAPPER-EN-SAADBESKUIT

16—20 stukke
Bereiding: 20 min
Baktyd: sowat 40 min

160 ml (⅔ k) warm water of melk, waarby 3 sakkies elk Focus en Cleanse van Carmién gevoeg is
125 ml (½ k) gekookte oranje patats, fyngedruk
6 eiers
60 ml (¼ k) olyfolie of gesmelte klapperolie
15 ml (1 e) appelasyn
250 ml (1 k) klappermeel
2,5 ml (½ t) koeksoda
7,5 ml (1½ t) kremetart
500 ml (2 k) gemengde sade en neute met bosbessies bestaande uit sonneblomsade, pampoensade, sesamsade, vlassade, amandels, en Brasiliaanse neute
125 ml (½ k) erythritol
30 ml (2 e) psylliumveselpoeier

Voorverhit die oond tot 180°C. (nie nou al nodig vir die Airfryer nie). Spuit ‘n 20 cm vierkantige koekpan met kossproei en voer die bodem uit met bakpapier. Spuit weer.

1 Trek die tee in die water of melk en laat afkoel. Druk die sakkies goed droog en verwyder.

2 Giet die tee in ‘n groot mengbak, voeg die patats, eiers, olie en asyn by. Meng met ‘n staafmenger tot glad.

3 Voeg die res van die bestanddele by (meng die sade apart laaste by) en meng goed met ‘n houtlepel.

4 Skep in die voorbereide pan en bak 25—30 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die gebak kom. Vir die Airfryer: stel op bak en verhit tot 180°C. Plaas die pan in die laaitjie van die Airfryer en bak 40 minute, bedek met tinfoelie na sowat 15 of 20 minute. Verlaag temperatuur na 160°C en bak nog sowat 10 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die gebak kom.

5 Laat afkoel en sny dan in blokkies. Droog uit by 50°C tot droog (dit het ek in die oond gedoen).

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: