Lekker verrassingspakkie

Dis altyd ‘n groot verrassing as hier ‘n pakkie van die befaamde kosskrywer en -redakteur, Arina du Plessis by my opdaag. Want ja, dan weet ek die nuutste Landbou Boerekos het so pas gearriveer. Dit bly beslis een van my gunsteling kostydskrifte, tot boordens toe gevul nie net met lekker resepte nie, maar ook inligting en lekkerlees-artikels!

En soos altyd die geval, oortref die inhoud van die pakkie weereens al my verwagtinge. Buiten die nuutste Boerekos, die hersfuitgawe, met veral koningskos vir die koue maande, is daar nog ‘n verrassing, ‘n spesiale Landbou Boerekos wat slegs oor vleis en vleisbraai gaan. Daarmee saam ‘n oulike roostertjie; ook ‘n pakkie met die keurigste lekkernye soos Stroopwafels, Bokkenpootjes en Vlinders van die Holland Bakery en my eie houertjie met speculaas-speserye. My speculaas-plankie wat ek nog van my Hollandse ouma, Ouma Carmen, geërf het, het pragtige uitgekerfte patrone en nou kry dit weer ‘n slaggie werk, want nou kan ek sonder moeite speculaaskoekies bak.

Soos voorheen, kuier Arina by verskeie boere op hul plase en maak dan kos met die produk – kook met van avokado, pampoen, varkvleis, sitrus, suiwel, rosyne en eiervrug, daar’s tot idees hoe om beurtkrag te fnuik met spyskaarte vir Moedersdag en Vadersdag, sonder Eskom!

Buiten vir die heerlike artikel oor die kookegpaar wat agter die kookervaring en spysenierings-onderneming, Tamatiestraat in Stellenbosch staan, vang die storie oor die Holland Bakery ook my oog waar Karike Norval, wat Hollandse bloed in haar are het, so entoesiasties oor hul Nederlandse ervaringe gesels hoe hulle die land per fiets verken het. Iets wat beslis hoog op my doenlysie staan, want immers het my voorvaders ook ‘n bakkery in Utrecht bedryf.

Landbou-Boerekos is in meeste supermarkte beskikbaar en kos R95.

Maak jou eie speculaas-speserymengsel

75 ml fyn kaneel
5 ml gemaalde neutmuskaat
5 ml fyn gemmer
5 ml fyn kardemom
3 ml fyn naeltjies
3 ml fyn anys
2 ml witpeper

Meng die speserye goed saam, skep in ‘n fles en verseel lugdig. Bêre op ‘n droë, donker plek en gebruik binne 6 maande. Lewer ongeveer 100 ml speculaasmengsel.

BLITS-SPESERYBLONDIES
Lewer 4 porsies.

’n Blondie is ’n bruintjie wat met witsjokolade en sonder kakao gemaak word. Hierdie blitsige weergawe word wel nie met sjoko- lade gemaak nie, maar met kondensmelk, en bevat slegs drie bestanddele. Dit is nogtans smullekker. Bros buite, klam en taai binne – nes dit moet wees. Net die resep wat jy moet nader trek as die lus vir iets soets jou oorval, maar jou koskaste leeg is.

1 blik (385 g) volroomkondensmelk
250 ml bruismeel
5-7 ml speculaas-speserymengsel

Voorverhit die oond tot 180 °C en spuit ’n vierkantige pan van 20 cm met kleefwe- rende kossproei. Voer uit met bakpapier en spuit weer goed.
Meng die kondensmelk, meel en speserye saam tot ’n gladde beslag vorm. Skep in die pan en smeer dit gelyk bo-op. Bak die blondies vir 12-15 minute (dit is gereed wanneer die kante liggoudbruin is). Druk liggies met jou vinger in die middel van die blondie – as dit sag voel, maar effens terugspring, is dit perfek. Haal uit die oond en laat rus vir 20 minute voor dit uit die pan gehaal word.
Sit die blondies louwarm voor met ’n skep vanieljeroomys en ’n groot lepel vol speculaas-karamelsous.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: