Mooi mooi

Twee goed wat my sommer baie vreugde verskaf is ‘n vars pluksel blomme en ‘n fraai teepot. My blomvriendin, Elmarie van den Berg, wat genadiglik ook van die Kaap Weskus toe verhuis het en nou die blom-onderneming, Soutbos, in ‘n hoek by Food Lover’s Market in Vredenburg se Weskus Mall bedryf, bless my onlangs met arms vol slangbos, peperboom- en siprestakke. Daarby pragtige proteas uit Piketberg se berge. Sy maak magic met blomme en kan met bykans net loof en ‘n paar blomme die mooiste blomprentjies bou – natuurlik, pure eenvoud maar treffend.

‘n Klompie vriendinne verras my ook met met die mooiste bosse blomme en ‘n roosplantjie asook die pragtigste, fyne Engelse teepotjie – Royal Caldoun, “Victoria” wat met groot sorg spesiaal by ‘n antieke winkel uitgesnuffel is. Die suikerpotjie en peuselbakkie is by asook ‘n melkbekertjie, met die naam onderaan wat lui “Florandona”. Ek ken dit nie, maar die ontwerp pas perfek by die Royal Caldoun.

Die befame pottebakker, Mervyn Gers, het my ook ‘n tydjie gelede uitgenooi om my eie reeks breekware by hom te kom maak. Ons speel tog te lekker en ek besluit om eerder ‘n teeservies as eetstel bymekaar te sit, maar dit gaan ‘n tydjie neem om klaar te kry. Toevallig val my oog by sy studio op die oulikste seegroen teepotjie met groot plat teekoppies met kabouterore. Die kry ek saam huis toe.

Geïnspireerd met al hierdie seëninge om my, is dit tyd om ‘n teetjie te brou – ons kies uit die verskeidenheid Carmién en LMC tees wat ek in die afgewitte houtkas in my leefkamer hou. Soos meermale die geval kies ek Earl Grey, gemaak met groen rooibos, my vriendinne probeer die nuutste geure: die nuwe Passion Peach met sy grenadilla en perskegeure in die Carmién-reeks; asook die Strawberries & Cream en Haselneut & Chocolate in die LMC-reeks.

Daarby sit ek vir ons dadelbolletjies in die Royal Caldoun-bakkie voor en ‘n heerlike kaaskoek. Die bolletjies, wat geskoei is op die oorspronklike dadelballe met baie botter, suiker en Tennisbeskuitjies maak ek deesdae met hawermout sonder enige smeer of suiker. Gemmer sorg vir ‘n tikkie brand op die tong. Die kaaskoek (waarvan ek jul onlangs ook vertel het) is heerlik romerig, alhoewel, dit kry nie ‘n titsel room in nie, net geroomde maaskaas en jogurt met min suiker, selfs die kors is glutenvry. Niks meer is nodig nie, dis pure lekkerte by die unieke maar skoon smake van die rooibostee. Net reg om spesiale oomblikke mee te vier.

Die kaaskoek se resep is te kry in my boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid.

DADELBOLLETJIES

Ek bodder nie eers meer deesdae met die klapperolie in die resep nie, voeg net ‘n bietjie meer tee by.

Maak 50 bolletjies
Bereiding: 20 min

400 g ontpitte dadels, verkieslik Medjool
1,25 ml (¼ t) koeksoda
125 ml (½ k) Carmién Revive rooibos tee (met gemmer en brandrissie), gemaak met 2 sakkies
375 ml (11/2 k) hawermout, gerooster
160 ml (⅔ k) kakao
250 ml (1 k) klapper
80 ml (1/3 k) klapperolie, gesmelt (opsioneel)
30 ml (2 e) fyn gemmer
10 ml (2 t) vanieljegeursel
Klapper en kakao om in te rol

1 Plaas die dadels in ‘n glasbak en sprinkel die koeksoda oor. Giet die warm tee oor en verhit 1 minuut in die mikrogolfoond. Laat afkoel.
2 Plaas die dadels saam met res van die bestanddele buiten die klapper en kakao om in te rol, in die voedselverwerker en maak goed fyn.
3 Skep 12,5 ml (1 dessertlepel) van die mengsel uit en rol in bolletjies. Rol die bolletjies in onderskeidelik klapper en kakao. Sit voor of verpak in ‘n lugdigte houer.

Wenk: Jy kan ook bietjie fyngekapte Turkse appelkose en bosbessies, selfs ‘n bietjie grondbonebotter of sade by die mengsel inmeng vir ‘n heerlike energieballetjie, maak die klapper dan net minder.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: