‘n Bordjie sout

Die versoek om ‘n bordjie eetgoed na die een of ander byeenkoms te bring, land nogals deesdae gereeld op my telefoon. Iets wat ek amper as vanselfsprekend beskou het toe ons nog op Stellenbosch en later jare in die Strand gewoon het. Maar met ons verhuising Kaap toe, het daardie versoeke skraps geword – alles net vinnig afgehandel en klaar, miskien ‘n koppie koffie met ietsie te ete vinnig by die winkel opgeraap en dis klaar. Wat ek destyds soms as ‘n onnodige irritasie gesien het, is nou vir my spesiaal, maar oe, partykeer ontgaan dit my ook dat ek ingestem om iets te maak totdat my telefoon my daaraan herinner.

So is dit toe nou ook weer die geval laas week en met ‘n paar lastige take wat moet klaar en spertye wat jaag, kom ek eers donkeraand by die bordjie sout uit. Ek gaan staan voor my yskas en weet hier moet ek nou vinnig iets uittoor met die bestanddele wat beskikbaar is. Die pakkie spinasie vang my oog en ek onthou vaagweg die treffer spinasie-muffinresep wat ek desjare terug by een van die vroegste padstalle (nog in Tokai) gekry het. Ek gaan diep die resep op en gaan my bestanddele na wat ek in die ou Nerf-af afgewitte koskas in my kombuis hou. Watter verligting, alles is daar, dit kan werk.

Destyds se resep was vir oorgroot muffins, nes die muffins wat ons toe by al wat padstal te koop kon kry. Deesdae neig ons na piepklein happies wat ons gemaklik met die hand kan hanteer sonder te veel sukkel. Gelukkig het ek onlangs ook heelwat patty pan-pannetjies aangeskaf en dis net hierin waarin ek oorgroot muffins nou in piepklein mini’s gaan verander. Die resep maak lekker vinnig aan en in die patty pan-pannetjies bak dit vinnig klaar. Vir opdien sny ek hulle bo-op in die lengte halfpad oop en spuit ‘n bietjie avokadosmeer in. Ek pak hulle netjies in my mooi handgemaakte Mervyn Gers-bak en maak dit stewig toe – reg om die trippie vergadering toe te deurstaan en ‘n heerlike happie waaraan jy behaaglik kan smul sonder om skuldig te voel.

SPINASIEMUFFINS

Maak sowat 50 piepklein happies
Bereiding: 20 min
Bak: 18—20 min

625 ml (2½k) koekmeel
22,5 ml (4½t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
375 ml (1½k) sterk Cheddarkaas, gerasper
200 g spinasie, dun opgesny
100 g botter, gesmelt
125 ml (½k) melk
125 ml (½k) water
3 eiers
AFRONDING
Paar swart ontpitte olywe, in dun skyfies gesny
Gerookte paprika vir bo-oor sprinkel
Avokado-en-geroomde maaskaassmeer om mee voor te sit
Paar takkies pietersielie of tiemie vir garnering

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit die holtes van patty pan-panne goed met kossproei.

1 Sif die droë bestanddele saam.
2 Meng die gerasperde kaas en spinasie by en meng goed.
3 Klits die botter, melk, water en eiers saam tot goed gemeng en voeg by die droë bestanddele.
4 Meng tot al die bestanddele ingemeng is, moenie oormeng nie.
5 Skep eetlepelsvol van die mengsel in elke holte en plaas ‘n olyfskyfie bo-op.
6 Bak 18—20 minute of tot uitgerys en effe goudbruin bo-op.
7 Verwyder uit die oond, laat effe afkoel in die pannetjies en keer dan uit op ‘n draadrakkie om heeltemal af te koel.
8 VOORSIT: Sny ‘n gleuf bo-op oor elke muffin en spuit van die avokadosmeer daarin. Sprinkel bietjie paprika oor.
9 Pak in ‘n mooi bord en rond af met takkies kruie. Maak stewig toe.

Wenk: Die muffins vries ook goed.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: