Somerkersfees 3

DIE SPYSKAART
Fynbos-volgraan-plaasbroodjies met kaaskersboompies

Gemmer”gammon” met waatlemoen-en-spanspek
Slaphakskeentjies
Koperpennieslaai
Beet-en-aarbeislaai
Broccoli-en-tamatieslaai
Swartwoud trifle-koek

TE DRINKE
WYN

Piekenierskloof Heirloom White
Piekenierskloof Cinsault
Piekenierskloof Chenin Blanc
Piekenierskloof Pinotage (by koek)

TEE
Carmién Floral Berry
Carmién Tropical Burst
Carmién Orange Camomile
Carmién Turkish Delight (by koek)

BêRESLAAIE

Ek het in ‘n huis grootgeword waar daar nie net verwoed konfyt en blatjang gekook is nie, maar ook ingemaak en alle oorskot uit die groentetuin of vrugteboorde ingelê is vir latere gebruik. Ons praat van kerrieperskes, slaphakskeentjies, koperpennie-wortelslaai, beetslaai en selfs op ‘n kol passata toe die tamaties omtrent die groentetuin ingeneem het. Die bottels het elkeen ‘n plakker opgekry met die naam en inmaakdatum, neergepen in my ma se netjiese boekhou-handskrif. Op die boonste rak in die koel inloopspens het hulle staanplek gekry, netjies in gelid; soort by soort. As ‘n vakansie aanbreek of oor die groot dae is daardie bottels dan oopgemaak om saam met die dag se spyse te geniet. Ons het gesmul. Elkeen het ‘n gunsteling gehad. Ek het veral gehou van koperpennie-wortelslaai en slaphakskeentjies. Veral koperpennie-wortelslaai het ek as jong getroude gereeld gemaak en dan sommer in die yskas in ons woonstel gebêre. Dit was dan vir lank ons bykos by aandete.

Altyd was ek egter maar terdeë bewus dat my inmaakgunstelinge maar goed gelaai was met die suiker, ter verdediging die suiker het gehelp met preservering. As kosredakteur het ek by verskeie geleenthede hierdie gewilde slaaie getakel en hulle resepte aangepas, minder suiker bygevoeg en ook ontslae geraak van die pakkies soppoeier wat so baie keer gemaklik bygevoeg is om die sous te verdik. My laaste groot probeerslag was kort voor COVID in 2020. Daarna het die toetskombuis vir lank toegestaan. Die bottels ingemaakte slaaie het verlate op ‘n rak in die kombuis agtergebly. Toe ons vir die eerste keer weer kon terugkeer kantoor toe, het ek heel eerste gaan inspekteer of die inmaakslaaie die toets van tyd deurstaan het – en hulle het. Net ‘n jammerte dat dit ook die laaste keer sou wees dat ek by daardie toetskombuis sou instap, want tydens COVID is die leefstyl-afdeling toegemaak en het my lewe soos ek dit vir 32 jaar geken het, vir altyd verander.

Ek is steeds lief vir koperpennie-wortelslaai en vanjaar het dit sterstatus op my Kerstafel, mooitjies voorgesit in ‘n ou silwerkoekstaander. Ek het ook ‘n spesiale wyn daarvoor uitgekies wat heerlik daarby is – Piekenierskloof se Cinsault met sy bessie en kersienote asook aks swart olyf gaan dit veral lekker by die tamatiesousie waarin die wortels ingemaak word. Speel bietjie rond tussen die verskillende rooibostees, veral die Tropical Burst en Orange Camomile en proe hoe die smake telkens verander soos wat mens ‘n ander tee saam met die kos geniet.

Koperpennie-wortelslaai
Maak sowat 1 liter (4 k) slaai
Bereiding: 20 min
Gaarmaaktyd: 15—20 min

SOUS
180 ml (¾ k) suiker
250 ml (1 k) appelasyn of soesjie-rysasyn
125 ml (½ k) Carmién Rescue rooibostee (rooibos en boegoe), gemaak met 2 sakkies
2 x 50 g tamatiepasta
10 ml (2 t) Worcestersous
15 ml (1 e) aangemaakte mosterd
5 ml (1 t) paprika
Sout en peper na smaak
20 ml (4 t) mielieblom
SLAAI
1 kg wortels, skoongeskraap en in dun skyfies gesny
1 groot ui, in ringe gesny
2 rooi of geel of groen soetrissie, in blokkies gesny
Olie

1 SOUS Plaas al die sousbestanddele in ‘n groot kastrol, verhit en roer tot die suiker opgelos het. Bring tot kookpunt.
2 SLAAI Plaas die wortels in ‘n kastrol, giet kookwater oor en bring vinnig tot kookpunt. Dreineer.
3 Braai intussen die ui en soetrissies in bietjie olie tot sag, voeg by die wortels.
4 Giet die sous oor en bring tot kookpunt.
5 Skep in gesteriliseerde flesse, maak goed vol en verseël.
6 Sit voor as deel van die somerkersfees-ete.

Slaphakskeentjies
Daar is altyd ‘n bottel of meer van hierdie ouwêreldse slaai op my rak. Deesdae kook ek die uitjies in groen rooibostee wat ‘n effense kruiesmaak verleen en bodder ook nie om die uitjies vooraf te skil nie. As die uitjies gaar is, glip die skilletjies sommer af.

Maak sowat 750 m l(3 k)
Bereiding: 30 min
Gaarmaaktyd: 30 min

UIE
1 kg piekeluie
45 ml (3 e) stokkies groenrooibostee van Carmién
Kookwater
SOUS
125 ml (½ k) appelasyn
125 ml (½ k) soesji-rysasyn of vars uitgedrukte suurlemoensap
125—160 ml (½–⅓ k) suiker
4 eiers
25 ml (5 t) mosterdpoeier
Knippie sout

1 UIE Plaas die uie in ‘n kastrol en strooi die stokkiestee oor. Giet kookwater oor tot die uitjies heeltemal bedek is. Kook tot sag.
Dreineer, spoel af en koel effe af tot hanteerbaar en trek die skilletjies af.
2 SOUS Plaas die asyn, en/of suurlemoensap en suiker in ‘n vlekvrye staal kastrol en verhit tot die suiker opgelos het. Verwyder van die hitte.
3 Klits die eiers, mosterdpoeier en sout saam, voeg bietjie van die asynmengsel hierby en klits goed.
4 Voeg by die res van die asynmengsel in die kastrol, roer en verhit oor lae hitte tot die sous verdik. Roer gedurig.
5 Meng die uitjies by en skep in ‘n gesteriliseerde glasbottel. Verseël.
6 Hou in yskas na oopgemaak.

Somerkersfees 2

Ek hou van die woord gammon, want dan weet almal dadelik waarvan jy praat. Varkboud kan enigeiets wees van ‘n gewone varkboud met swoerd aan wat jy in die oond bak tot die swoerd heerlik krakerig is tot een wat gerook en gepekel is. Laasgenoemde is die een wat ons altyd na verwys as gammon. Jare gelede het Laetitia Prinsloo van die welbekende kookskool, ICA, in Stellenbosch ‘n Kersete vir ons daar in die Stellenbosse berge voorgesit. Daar is behoorlik uitgehang – buiten vir eend was daar koue gemmer-gammon met waatlemoen en spanspek in ‘n gemmerstropie gebaai, op die spyskaart. Dit alles spel mos pure somer. Dit het een van my trefferresepte geword en ek maak dit gereeld, nou se dae vervang ek net die gemmerlim met rooibostee wat buiten vir die heerlike sagte geure ook sorg dat die vleis lekker sag en sappig is. Ek kies graag ‘n verskeidenheid Carmién-tees om hierdie boud in gaar te maak – Revive met sy gemmer- en brandrissiesmake, Zesty lemon vir daardie broodnodige surigheid en Orange chai wat sagte speserygeure bied.

Carmién se Floral Berry maak veral ‘n heerlike ystee met bessiegeure. Dit werk net goed saam met waatlemoen en spanspek en maak die gemmer minder sterk. Piekenierskloof se Chenin Blanc se vars vrugtegeure pas goed by die gemmer.

DIE SPYSKAART
Fynbos-volgraan-plaasbroodjies met kaaskersboompies

Gemmer ”gammon” met waatlemoen-en-spanspek
Slaphakskeentjies
Koperpennieslaai
Beet-en-aarbeislaai
Broccoli-en-tamatieslaai

Swartwoud trifle-koek

TE DRINKE

WYN

Piekenierskloof Heirloom White
Piekenierskloof Cinsault
Piekenierskloof Chenin Blanc
Piekenierskloof Pinotage (by koek)

TEE
Carmién Floral Berry
Carmién Tropical Burst
Carmién Orange Camomile
Carmién Turkish Delight (by koek)
Gemmer- gammon

Genoeg vir ongeveer 6 mense
Bereiding: 15 min
Kooktyd: sowat 2 ure afhangende van die grootte van die boud

3—3,5 kg gepekelde, gerookte varkboud, ontbeen
2—3 litres Carmién-rooibostee, gemaak met Revive, Zesty Lemon en Citrus Chai (vir elke 500 ml gebruik 2 sakkies van elk)
1 ui, gesny
Paar lourierblare
1 stuk gemmer, in dun repe gesny
AFRONDING
80 ml (⅓ k) gepreserveerde gemmerstukke, fyner gekap
45 ml (3 e) gemmerstroop

1 Plaas die varkboud in ‘n groot kastrol. Bereken 25 min per elke 500 g kooktyd. Berei die rooibostee en giet oor die boud tot die boud daarin bedek is. Voeg die ui, lourierblare en gemmerstukkies by. Bring tot kookpunt en laat prut tot die boud sag is en ‘n toetspen gemaklik uitkom as jy dit daarin druk.
2 Verwyder die boud uit die tee en laat afkoel Verwyder die swoerd en sny diamantpatrone in die vetrand in (dit kan nou so in die yskas gehou word vir ‘n dag of twee).
3 Voorverhit die oond tot 180°C.
4 Meng die gemmerstukke en stroop en smeer oor die vetkant. Plaas in die oond en oondbraai sowat 40—45 minute tot die vet mooi bruingebraai het.
5 Dien warm of koud op saam met die waatlemoen en spanspek.

WAATLEMOEN-EN-SPANSPEK IN GEMMERSTROOP
Saam met die waatlemoen en spanspek soek mens ‘n vars verfrissende smaak van groen rooibos (Revive en Orange Camomile se basis is groen rooibos), slegs met ‘n tikkie rooi rooibos (Zesty Lemon). Creamy Mint, wat ook met groen rooibos gemaak word, gaan net so lekker hierby werk. Rooi rooibos is te swaar en speseryagtig hierby.

750 ml (3 k) Carmién rooibos tea, gemaak met 4 Revive, 4 Orange Camomile en 1 Zesty lemon sakkies
300 g sugar
Bessie-balsamieke asyn na smaak
Derde van ‘n waatlemoen, in 1 cm-skywe gesny
Halwe spanspek, in 1 cm-skywe gesny
Vars mentblaartjies

1 Laat trek die teesakkies in die water vir sowat 5 minute tot lekker sterk. Verwyder die teesakkies en giet die tee in ‘n kastrol.
2 Voeg die suiker by, roer tot opgelos en laat kook tot ‘n stropie, minstens so 10 minute lank. Voeg asyn na smaak by en laat afkoel.
3 Druk sterretjies of maak bolletjies uit die vrugte en plaas in ‘n bak. Giet die afgekoelde stropie minstens 1—2 ure voor opdiening oor die vrugte en verkoel tot yskoud. Sit voor saam met die gammon.

Somerkersfees 1

Die Feesgety is amptelik hier en op Langebaan is daar ‘n afwagting in die lug. Stadig maar seker begin die besoekers aankom en is dit nou ewe skielik ietwat van ‘n gesukkel om parkeerplek by die mall te kry. Maar ons kla nie, met die weer wat tans so pragtig saamspeel en die lagoon die diepste turkooisblou het Langebaan sy mooiste mooi vir ieder en elk oopgegooi om saam te kom Kersfees vier en die wonder van die Kersverhaal te kom beleef. In die kerk stap die kartonkamele en -herders lewensgroot teen die muur af na die krip voor in die kerk waar daar van nou af elke Sondag ‘n Adventkers aangesteek word tot Kersfees aanbreek. En oraloor hoor ek hoe mense begin regskud en plan maak vir die groot eet op Kersdag.

Ekself het tydens my jare as kosredakteur by Huisgenoot vele Kersfeesetes beplan en geskiet, telkens ‘n groot gedoente. Maar die wat my tot vandag toe bybly is waar ons nostalgie in die mix ingeweef het, hetsy dit die geliefde hoenderpastei of gerookte varkboud, trifle of gestoomde doekpoeding met die sente in is wat al deel van die familie is.

Vanjaar het ek ‘n propperse Somerkersfees vir ons oppistoep-fees beplan, want dis waar ons die tafel gaan dek. Alles is koud en kan vooraf gemaak word – dink slaphakskeentjies tot koperpennie-wortelslaai. Boonop hoef jy eintlik nie eers ‘n oond in te span om die ete klaar gekook te kry nie en almal kan op Kersdag heerlik saam kuier sonder ‘n geskarrel in die kombuis .

By ons in die familie is dit nou al ‘n instelling om nie net ‘n wyntjie saam met ons ete te geniet nie, maar ook ‘n potjie of meer rooibostee. Telkens is dit ‘n belewenis om te ervaar hoe die kos, wyn en tee mekaar aanvul en die beste geure in elk na vore bring. Later verduidelik ek verder hieroor.

DIE SPYSKAART
Fynbos-volgraan-plaasbroodjies met kaaskersboompies

Gemmer ”gammon” met waatlemoen-en-spanspek
Slaphakskeentjies
Koperpennieslaai
Beet-en-aarbeislaai
Broccoli-en-tamatieslaai

Swartwoud trifle-koek
TE DRINKE
WYN

Piekenierskloof Heirloom White
Piekenierskloof Cinsault
Piekenierskloof Chenin Blanc
Piekenierskloof Pinotage (by koek)

TEE
Carmién Floral Berry
Carmién Tropical Burst
Carmién Orange Camomile
Carmién Turkish Delight (by koek)

TOOI DIE TAFEL

Wit en natuurlike groen met ‘n titsel silwer is die tema van my Kerstafel. My blomvriendin, Elmarie van den Berg van Soutbos toor met blomme en sy maak die allermooiste Kerskranse wat by Food Lovers’ Market en ook Woolworths te koop is. Vir my maak sy vinnig twee imposante Kerskranse met coniferloof waarin sy hier en daar ‘n blomtakkie wat kan hou insteek as nodige afronding. Dié hang ek aan die lattedak wat skadu bied oor die stoeptafel.

Sy gee ook ‘n bossie pragtige wit blomme en peonies saam wat saam met takke groen loof (teebos, sandolyf, olien, olyfblare) en woestynrosies uit my tuin as tafelversiering dien. Tussen-in maak ek wit en groen kerse staan en gooi ‘n paar silwer bobbeltjies.

Gooi ‘n wit doek (ek het sommer moeselien gebruik wat mooi sag val) oor jou buitetetafel. Ek gebruik my Nostalgie-teedoeke uit die Carmen Niehausreeks (gaan loer op die Swier-webtuiste daarvoor) om as plekmatjies te dien en dek met my spesiale Mervin Gers Provensale-borde saam met silwer messegoed, kristalwynglase (‘n erfenis van my skoonpa) en dubbelwand-glasies vir tee. Die teepotjies op hul staandertjies (gewoonlik sit ons so 3 soorte voor) maak ‘n mooi prentjie (gaan loer by Carmién Tea daarvoor).

In die middel van die tafel maak ek my Mervin Gers koekstaander staan met ‘n pragtige houtengel onder ‘n glaskoepel daarop. Die peonies en ‘n paar silwerbobbeltjies rond dit af.

As opskepskottels vir die slaai span ek ‘n verskeidenheid koekstaanders in en knoop ‘n Rooi Turksvy-teedoek om elkeen se stoel vas wat as servet moet dien.

Die koek wat as poeding dien, pronk op ‘n aparte tafel.

Fynbos-volgraan-plaasbroodjies met kaaskersboompies

Ek bak die broodjies in groot muffinkoppies om sodoende vir elkeen sy eie broodjie te maak. Die broodjie word met gis gemaak, maar benodig geen kniewerk nie. Maklik! Pleks van botter sit ek kaasdriehoekies daarby voor wat altevol prettig lyk as ‘n Kersboompie. Ek gebruik ‘n kombinasie van groen rooibos en rooibos met boegoe wat ‘n subtiele fynbossmaak aan die broodjie gee.

Maak 18-24 broodjies
Voorbereiding: 5 – 10 min
Baktyd: 50-60 min

BROODMENGSEL
1 kg volkoring- of bruinbroodmeel, verkieslik klipgemaal
80 ml (⅓ k) elk sesam-, lyn-, sonneblom- en pampoensade
10 ml (2 t) sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
VIR BAK
4—5 x 250 ml (4-5 k) louwarm Carmién rooibos met boegoetee en/of groen rooibostee, gebruik 1 sakkie per 250 ml
30 ml (2 e) olie
Ekstra sade vir bo-oor sprinkel

1 BROODMENGSEL Meng al die droë bestanddele baie goed saam in ‘n groot mengbak.
2 Meng die rooibostee en olie en roer by die bakmengsel in. Die beslag is slap.
3 Voorverhit die oond tot 190° C. Spuit die holtes van 24 groot muffinpanne baie goed met kossproei. Skep die holtes goed vol. Sprinkel ekstra sade oor en laat rys tot dubbel die volume op ‘n warm plek.
4 Bak sowat 50-60 minute tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die broodjies kom of tot dit hol klink as jy daarop klop.
5 Lig uit die muffinholtes en laat heeltemal afkoel. Sit voor met kaaskersfeesboompies.

Wenk: Die broodjies vries goed.
Jy kan ook die broodjies in die Airfryer bak.

Kaas-kersfeesboompies
1—2 dosies met 8 elk kaasdriehoekies (ek gebruik The Laughing Cow)
2 sakkies Carmién groen rooibostee of andersins Orange Camomile
Pretzels

1 Verwyder die omhulsel versigtig van die kasies, skeur of knip die teesakkies oop en gooi in ‘n plat bakkie.
2 Rol die kasies in die teemengsel.
3 Druk ‘n Pretzel versigtig onder in elke kasie en druk dan op elk van die volgraan-plaasbroodjies. Plaas op ‘n kleinbordjie.

Op die nippertjie Kerskoekbrood

Nie baie van ons is al hier teen Oktobermaand so in die Kersfeesgees dat ons ‘n Kersfeeskoek of twee gebak kry nie. En dan kan dit ook nogals ‘n gedoente wees en ‘n aardige bedraggie kos.

Ek onthou hoe ons die papier moes knip waarmee die panne gevoer moes word, die kersies kleiner moes sny en selfs die rosyntjies se pitte moes uithaal.

Hierdie Kerskoekbrood is nou weliswaar sekerlik nie die ware Jakob nie, maar dis binne ‘n ommesientjie klaar en ook heelwat gesonder. Dit het nie nodig om ryp te word nie, maar jy kan hom maar dokter met ‘n sopie brandewyn of twee as jy daarna voel.

Aangesien die koek nie veel suiker of botter bevat nie, sal ek sal aanbeveel dat jy die koek so 3 dae laat staan en dan vries anders mag dit droog word.

Ek hou daarvan om die koek te versier met bietjie roomkaasversiersel, maar dis nie nodig nie.

Maak 1 Kerskoekbrood
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 50 min

BROOD
250 g dadels, gekap
80 g gemengde kerskoekdroëvrugtemengsel of slegs rooi glanskersies
80 g botter
180 ml (¾ k) suiker
250 ml (1 k) sterk rooibostee
5 ml (1 t) koeksoda
2 eiers, geklits
500 ml (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) fyn gemmer
5 ml (1 t) fyn kaneel
Knippie sout
100 g okkerneute of pekanneute, gekap
2 x 15 ml (1 e) brandewyn
VERSIERSEL
230 g roomkaas
30 ml (2 e) heuning of versiersuiker
Koekheuning en vrugte (bv. heel vye ) of gedroogde appelskyfies vir bo-op

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n medium broodpan of twee kleineres.
1 BROOD Plaas die dadels, Kerskoekmengsel, botter, suiker, tee water en koeksoda in ‘n kastrol en kook 5 minute saam. Koel af.
2 Voeg die eiers by en sif die droë bestanddele oor. Voeg die neute by en meng liggies.
3 Skep in die voorbereide pan, maak gelyk en bak 50 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom.
4 Laat effe afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel.
5 Giet ‘n sopie brandewyn oor en stoor die afgekoelde koek in ‘n lugdigte houer. Giet weer ‘n sopie oor net voor jy die koek vries.
6 VERSIEREL Ontvries die koek voordat jy dit gaan voorsit en rond af met die versiersel.
7 Meng die roomkaas en heuning en skep oor die brood. Versier met koekheuning en vars vye of gedroogde appelskyfies.

Bak koekies

Desember is nie vakansietyd op ‘n vrugteplaas nie, so die gedagte van blikke vol koekies wat saam gaan op vakansie moes wag tot Aprilmaand wanneer ons vir ‘n week Hartenbos verkas het. Nee, die plaaswerf was een groot gewoel en gewerskaf om die vrugte gepluk, gepak en gedroog te kry en almal se nerwe was klaar. Op die droogbane onder die huis het die rye stallasies oranjerooi geskyn soos die vrugte in die son gebaai het to hulle mooi droog was. Ma het bottels en bottels appelkooskonftyt gekook. Tog is daar êrens ook tyd ingeruim vir koekies bak. Gemmerkoekies, soetkoekies, appelkoosvierkante, brosbrood, Hertzoggies en grondbonekoekies. En ons moes hand bysit.

Tydens my jare as kosredakteur het dubbel spertye vanaf Novembermaand jou so laat les opsê dat koekies bak nie baie hoog op my agenda was nie. Gelukkig het my skoonma en skoonsussie gesorg dat die koekblikke vol kom.

En nou dat ons hier op Langebaan bly en ek my werk- en huistyd beter met mekaar afgewissel kry, ruim ek wel tyd in vir koekies bak. Maar dit moet nou ook nie ure neem nie. Dis dan wanneer hierdie basiese brosbroodresep wat jy vir ‘n hele verskeidenheid koekies kan gebruik, goed te pas kom. Jy maak die deeg sommer in die voedselverwerker aan.

Ek eksperimenteer ook deesdae al hoe meer met glutenvrye gebak en dan is hierdie grondbonekoekie weer ‘n wenner – dit word basies met kakao (nie eers glutenvrye meel nie) en grondboontjiebotter gemaak. Veral kinders is gek daaroor. Wees ook sommer slim en bak hierdie koekies as geskenke.

(Veelsydige brosbrood)
BROSBROOD
250 g yskoue botter, in stukke gesny
250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
500 ml (2 k) koekmeel
80 ml (1/3 k) mielieblom
80 ml (1/3 k) papawersaadjies, of gekapte kruie (opsioneel)

1 BROSBROOD Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker. Verwerk tot die botter goed in die meel ingemeng is en ‘n bol om die lem vorm.
2 Skep uit die voedselverwerker. Vorm in ‘n bol, draai toe in kleefplastiek en verkoel ‘n halfuur lank.

vir brosbrood
Berei die deeg sonder sonder saadjies of kruie. Druk die deeg vas in ‘n gesmeerde 20 cm-vierkantige koekpan. Merk in lang stafies, druk vurkmerke op elke stafie en strooi strooisuiker bo-oor. Bak 10 minute by 200°C, verlaag hitte tot 160°C en bak nog sowat ‘n halfuur of tot ‘n ligte strooikleur. Strooi ekstra strooisuiker oor. Koel af en sny in stafies.

vir kruie-koekies
Berei die deeg. Pak vars kruietakkies op ‘n plat oppervlak, druk die deeg daarop vas, plaas ‘n vel kleefplastiek of bakpapier op en rol die deeg uit tot so 3 mm dik (die kruie sit aan die onderkant vas). Druk koekies, enige vorm uit, pak op bakplaat en bak sowat 8—12 minute by 180°C tot gaar. Sit voor met kaas.

vir hartjie-koekies
Berei die deeg en rol uit. Druk hartjies uit met ‘n koekiedrukker. Pak helfte van die deegharte op die bakplaat, plaas ‘n skeppie roomkaas bo-op met ‘n lepeltjie konfyt op. Smeer die kante met water. Plaas nog ’n deeghartjie bo-op en druk die kante vas met ‘n vurk. Sny ‘n kruisie in die middel. Smeer die bokant met melk en sprinkel suiker oor. Bak sowat 12 – 15 minute by 180°C of tot goudbruin en gaar. Laat effe afkoel op die bakplate en plaas dan op ‘n draarakkie om heeltemal af te koel. Stuif met versiersuiker.

vir konfytkoekies
Berei die deeg, rol uit en druk sirkels uit. Druk klein hartjies of sirkeltjies in die middel van helfte van die sirkels. Pak al die koekies op die bakplaat en bak 8–10 minute of tot gaar by 180°C. Koel af. Plak ‘n hartsirkel en heel sirkel aanmekaar met aarbeikonfyt. Stuif met versiersuiker.
vir hertzoggies
Berei die deeg en rol dun uit. Druk groot sirkels met ‘n koekiedrukker uit en voer die holtes van ‘n kolwyntjiepan daarmee uit. Skep ‘n klontjie appelkooskonfyt in. Klits 3 eierwitte styf, voeg 250 ml (1 k) strooisuiker geleidelik by terwyl jy klits. Roer die klapper by. Skep lepelsvol van die mengsel oor die konfyt tot goed bedek. Bak 20—25 minute lank by 180°C tot die deeg en die kors gaar en goudbruin is.

GRONDBONEBOTTER-KOEKIES
Die lieflike bros koekies bevat net 5 bestanddele en is sonder gluten. Dis binne minute klaar gemeng.
Maak 18—20 koekies
Bereiding 10 min
Baktyd: 15 min

250 g suikerlose grondboontjiebotter
20 g kakao
1 eier
80 g bruinsuiker of helfte versoeter
5 ml (1 t) koeksoda
Versiersuiker om in te rol
Grondbone vir versiering

Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 2 bakplate.
1 Meng al die bestanddele buiten die versiersuiker en die grondbonebotter.
2 Skep 15 ml (1 e) deeg uit met ‘n maatlepel en rol in bolletjies. Rol in versiersuiker.
3 Pak op ‘n bakplaat en druk effe plat met ‘n vurk.
4 Bak 15 minute tot gaar (die koekies sal steeds sag wees). Laat afkoel op die bakplaat, pak dan op ‘n afkoelrak en laat heeltemal afkoel. Bêre in ‘n lugdigte houer.

Weskuslekkerte

Hier teen die Weskus het ons die afgelope tyd ‘n paar liederlike warm dae beleef, maar dan is die weer so genadiglik met ‘n heerlike koel luggie en mistigheid wat so namiddag se kant oorstoot van die see se kant af en ‘n salige lafenis bring. Die tierende suidoostewind wat Desembermaande so die go uit mens kan waai, het ook al ‘n slag of wat tande gewys. Wanneer ek veral besef die vakansie is naby, is as die munisipale werkers die sypaadjies begin skoonmaak, die strate vee en die padtekens ‘n nuwe lagie verf gee, want ja, die dorp se vere word mooi reggeskud om al die besoekers oor die Feestyd te ontvang.

En so met die somer wat uiteindelik aangebreek het, begin ons weer op die stoep kuier. Dan dek ek met my eie stel mooie Provensale-breekware van Mervyn Gers en geniet veral ‘n eenvoudige laatontbyt. Daar sal altyd vars vrugteslaai (baie keer met ‘n geurige speserystropie oor) saam met muesli en jogurt wees.

Ek koop graag deesdae die “Oh my goodness!”-jogurts waarvan jy so 6-bakkies per pak by Checkers kry. Dis ‘n heerlike verskeidenheid geure van vrugte en groente soos perske en appel met pampoen; aarbei en appel met beet asook piesang en appel met patat. Vir my die grootste bonus is dat dit 45% minder suiker bevat en lewendige jogurtkulture in het wat goed is vir jou “gut” gesondheid. Daarmee saam ‘n sprinkel Simple Truth-muesli met gedroogde beet. Lekker gesond! Vervolgens romerige roereier (die geheim is om dit net skrik te maak oor die hitte terwyl jy roer) met balsamieke asyn-sampioene op roosterbrood en vir die wat lus het, is daar tuisgemaakte appelkooskonfyt uit my ma se kombuis. Geuriggetrekte Carmién-rooibostee, gemaak in my mooie Mervyn Gers-teepotjies, rond die eenvoudige ete perfek af. Skemeraand hoef ons eers weer aan eet te dink.

Heelparty vriende was die laaste tyd oor die waters vir vakansie of om by hul kinders te kuier. Met almal weer tuis, het ons nou die dag heerlik gekuier onder die skadu van die manatoka-bome by Abraham en Elsa. Vooraf het ons tog te lekker gesmul aan varsgebakte plaasbrood saam met netjiese vlentertjies skoongemaakte bokkoms, perfek gedroog. En hoe verlang ek toe nie terug na ons Vrydagaandetes op die plaas waar Pa die bokkoms met sy knipmes fyngekerf en vir elkeen sy strepie lekkerte aangebied het nie. By elkeen se plek was ‘n geelbladsy uit die Landbou-Weekblad gedek, want Ma wou nie nog sukkel om die visreuk uit die borde gewas te kry nie.

Abraham maak vir ons paella in ‘n yslike paella-pan oor die vuur gaar. Die vis, wat hy self in die lagoon gevang het, is heerlik daarin. Elsa se appeltert met karamelsousie oor, is die gebruiklike kersie op die koek op ‘n treffer Weskus-ete. Die son trek al goed water toe ons uiteindelik huis toe verkas, maar ons vlees en gees is gevoed. Hieronder is my weergawe van paella.

PAELLA
Genoeg vir sowat 6 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaaktyd: 30–45 min

1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 geel en rooi soetrissie, in blokkies gesny
1 chorizo-worsie, in stukkies gesny (opsioneel)
olie
500 ml (2 k) rou rys, goed afgespoel
3 ml (ruim ½ t) borrie
5-10 ml (2 t) paprika
Sout en peper of visspeserye
Sowat 1 liter groente-aftreksel
Sowat 4—6 skoongemaakte porsies vis, kleiner gesny
Botter en olie
500 g seekosmengsel, krapstokkies verwyder, ontdooi en goed gedreineer (sien ook wenk)
Sap en skil van 1-2 suurlemoene
250 ml (1 k) bevrore ertjies, ontdooi
250 g bevrore mossels in halwe skulpe
200 g steurgarnale in doppe
Botter en olie
Pietersielie en/of koljanderblare en gekapte stingeluie vir bo-oor sprinkel
Suurlemoenskyfies vir voorsit

1 Braai die ui, knoffel en soetrissie (saam met chorizo, indien gebruik) in verhitte olie in ‘n groot pan tot sag. Voeg die rys by en meng deur. Voeg die speserye by en giet die aftreksel oor. Verhit en kook tot die rys bykans sag en meeste vloeistof verdamp het. Voeg meer vloeistof by indien nodig.
2 Geur die vis met sout en peper of visspeserye en voeg by die rysmengsel.
3 Druk die seekosmengsel goed droog met kombuispapier en voeg by. Geur met sout en peper of visspeserrye en suurlemoensap en verhit tot die vis en seekos net gaar en nie meer glaserig is nie. Voeg die ertjies by die rysmengsel en meng liggies deur.
4 Pak die mossels bo-op, maak toe en laat stoom tot die mossels en ertjies warm is.
5 Braai die steurgarnale in bietjie botter en olie in ‘n ander pannetjie tot hulle net pienk verkleur. Geur met ‘n skoot suurlemoensap.
6 Pak die steurgarnale bo-op die paella en sprinkel die kruie bo-oor.
7 Sit voor met ekstra skyfies suurlemoen.

Wenk: Haal die krapstokkies uit as jy seekosmengsel gebruik. Pleks van seekosmengsel kan jy calamaribuise en –tentakels en skoongemaakte steurgarnale gebruik. Onthou net dit word alles blitsig gaar. As die calamari wit verkleur is dit gaar en as die steurgarnale pienk verkleur, is dit gaar.

Nostalgie (en boekweggee!)

Ek kuier bietjie dag terug op Philladelphia saam met Herman Lensing om die bekendstelling van sy nuutste boek ‘Nostalgie‘ te vier. Dis ‘n heerlike makietie en blye weersiens van vriende en bekendes uit die koswêreld. Met hierdie agste boek, die laaste in ‘n trilogie, vertel Herman die storie van sy lewe tot op 36 jaar en hoe die eerste proe of geur van kos jou laat terugdink en verlang… en nostalgie bring. Met kos kry Herman dit telkens reg om mense te laat onthou en om hulle te verenig. Of soos Peter Veldsman in die voorwoord dit so mooi stel: “Herman bied lesers die herlewing van ou gebruike nuut uitgedruk.” Dis presies wat ek ervaar het toe ek die boek die eerste keer deurblaai: hartsgeregte uit sy grootwordjare daar op Upington tot sy ervaringe as student en jong kosredateur wat hom na die uithoeke van die wêreld vat om te proe en te onthou. Aan alles gee hy sy eie twist om dit te vernuwe of te ver-Suid-Afrikaans en skroom ook nie om hier en daar ordentlike klaar produkte in te span om die kosmaakproses makliker te maak nie. Hy praat my taal.

Maar dis veral Herman se vertellings en staaltjies oor sy herinneringe by elke resep waaraan ek so lekker lees. My keuse as resep, Afrika-lamsboud, kom heel gepas uit die vleis, rys en aartappel-hoofstuk. Want hier verwoord Herman presies die herinneringe wat ek as plaaskind aan ‘n Sondagtafel gehad het met lamsboud en braaiaartappels (aan ons tafel is daardie bak aartappels ook met groot oë dopgehou en al was hy meestal tot boordens toe gelaai, het daar nooit ‘n krieseltjie oorgebly nie, daarvoor het my broers gesorg). En nes Herman is ek baie lief vir hierdie kontinent waar ons woon. “Ons moet nooit vergeet hoe waardevol haar skatte en juwele is nie. Ja dis moeilik om hier te woon, maar dis lekker.”

Nostalgie bevat meer as 80 resepte: van bykos tot hoofgeregte, van brood tot kos uit jou yskas, van kos van die kole af tot vleisgeregte en van vakansiekoekies tot nageregte. Hierdie boek is uitgegee deur Penguin en kos sowat R360, is beskikbaar by meeste boekwinkels en sommige supermarkte asook aanlyn.

Een gelukkige persoon kan ook ‘n boek wen. Al wat jy hoef te doen is om my sosiale media blaaie (Instagram: CarmenNiehausSa en Facebook: Carmen Niehaus asook Herman Lensing s’n te “like’ en volg op Instagram asook Facebook, en lewer asb kommentaar op die relevante plasing. Die kompetisie loop tussen die 22ste November, tot Woensdag, die 29ste November. Diegene wat nie albei profiele se blaaie gevolg, ‘like’, en kommentaar gelewer het nie, sal dus nie kwalifiseer vir die wenprys nie.

Seeheim

Ons Namibiese blitsbesoek staan einde se kant toe, van nou af is dit grootpadry via Keetmanshoop op pad na Lüderitz. Oral langs die pad is daar netjiese stilhouplekkies en ons stop vir ‘n vinnige koffietjie en ‘n bröchen. Ek smeer die korserige broodjies dik met mosterdbotter en stapel ham, agurkies en blaarslaai op. Ons smul heerlik aan hierdie tipiese Namibiese lekkerte wat ons terugvat na vele vorige kuiers. My Plaavars-eierkoelsak gedra hom goed as padkossak en na vele ontberings lyk hy steeds spic ‘n span en kan ‘n hele dag se kos gemaklik vat. (Gaan loer op Swier-webtuiste hiervoor).

Ons slaap vanaand in die Seeheim Hotel, ‘n welkome oase tussen die klipkoppies in die middel van die woesyn. Dis ‘n gewilde oorslaappplek vir toeriste op pad na die Visrivier Canyon, Kolmanskop en Lüderitz.

Seeheim het ‘n ryk geskiedenis, is in 1896 gebou met klippe uit die omgewing, hoofsaaklik om die Duitse koloniale magte, die Schutztruppe, te huisves. Oral in die omliggende koppies is herinneringe aan hierdie tydperk steeds te vind. In die middel neëntienhonderds het die dorpie floreer met ‘n spoorwegstasie, verskeie kerke, winkels, 3 hotelle en heelwat inwoners. Teen die einde van die vyftigerjare het die dorp egter leeggeloop. Nadat die hotel 30 jaar toe was, het Zirkie Kloppers die plek gekoop, geboue geresoureer en meubileer met meubels wat hy eiehandig gemaak het.

Ons word hartlik ontvang deur die vriendelike personeel en ook aangenaam verras deur ons Langebaan-buurman wat tydens hul lang Afrika-avontuur ook daarlangs toer. Na ‘n welverdiende bier, is hulle weer fort. Ons slaap vanaand in ‘n bovertrek met ‘n steil stel trappies wat daarna lei en pragtige uitsig oor die koppies.

Vir aandete word ons in tipiese Namibiese styl bederf met ‘n wildschnitzel en geniet ‘n Tafel-bier daarby. Vir poeding is daar heerlike appelkrummel.

Dis vroeg vort die volgende oggend, vir oulaas word daar gestop by die mooi padstal, Gerber en Co op Bitterfontein om ietsie te koop vir ons huismense. Daar is ook ‘n wye verskeidenheid Carmién-tees. Sien my weergawe vir ‘n appelkrummel, gemaak met vars appels en hawermout en wat nie so soet is nie. EK bak hom sommer in die lugbraaier.

APPELKRUMMEL
Die hawermout, neute en klapper maak ‘n heerlike kors en krummel vir hierdie appeltert wat met vars appels berei word.

Maak 1 tert
Bereiding: 20 min
Baktyd: 30—40 min

KORS EN KRUMMEL
125 ml (1/2 k) bruinsuiker
500 ml (2 k) hawermout
125 ml (1/2 k) fyn klapper
50 g gemengde neute, grof gekap of andersins 125 ml (½k) ekstra hawermout
Knippie bakpoeier
Sowat 160 ml (⅓ k) botter
VULSEL
3 klein appels, ontkern, maar ongeskil in dun skywe gesny
1 cm gemmerwortel, gerasper (opsioneel)
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
15 ml (1 e) heuning of bruinsuiker
Sap van 1—2 lemoene
Goeie strooisel fyn kaneel

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n ronde 20-m losboom-koekpan of tertpannetjie.
1 KORS EN KRUMMEL Meng al die droë bestanddele in die voedselverwerker tot die hawermout bykans fyn is, voeg die botter by en pols tot goed ingemeng.
2 Druk sowat twee derdes vas in die pannetjie. Bak 5—10 minute.
3 VULSEL Meng al die bestanddele in ‘n kastrolletjie en kook tot bykans sag. Skep in die gebakte kors.
4 Krummel die res van die hawermoutmengsel oor en bak sowat 30 minute of tot die krummel lekker bros is.

In die lugbraaier
1 Stel die lugbraaier op bak en verhit tot 180°C.
2 Bak die kors vir 5 minute en skep die vulsel in, strooi res van die krummel oor.
3 Stel die temperatuur op 160°C en bak 20 minute of tot die krummel goudbruin is bo-op (bedek met tinfoelie as dit te donker wil bak).

Namibië 2

Ons stoot die bakkie se neus noordwaarts, al teen die Auob-rivier langs, ons bestemming Swartriet. Die meestal droërivierloop skyn mooi groen, maar dis ongelukkig oorgroei van indringerplante. Imposante versamelneste bondel oral in bome langs die goeie grondpad.

Stampriet is ‘n klein oase tussen die dorre duine en is geleë op die Stampriet-waterdraer. Oral word veral groente onder besproeiing verbou. Ons kamp vanaand by die Gondwana Farm Lodge, op groen gras. Op soek na ‘n plek vir iets ligs te ete word ons na !Kharuhase (roots of serenity), ‘n nuwe restaurant op die koppie, verwys. Wat ‘n grootse verrassing:

Die industriële klip-en-staalgeboue is binne stylvol ingeklee in ‘n Franse vintage, tog moderne styl met kandelare en Persiese matte op die sementvloere, die eindresultaat van die fyn oog van die formidabele besigheidsvrou, Alta Thorburn, wat ook stigter en eienares van !Kharuhase is. Ek’s bevoorreg om haar te ontmoet waar sy besig is om ‘n teetafel mooi te maak vir ‘n teeparty. Terstond gaan haal ek al my orige Carmién-teepakkies – dit sal tog altevol mooi en goed inpas by hul keurige teeparty.

Die spyskaart versinnebeeld ‘n Namibiese gourmet-ervaring, berei met plaaslike bestanddele. En as ek so na die opmerkings op hul facebookblad loer, lyk dit asof besoekers hier heerlik smul aan keurige uithalerkos. My pizza spreek ook daarvan. ‘n Verdere uniekheid is hul handgemaakte Petrichor-jenewer, gestook met druiwe uit hul eie wingerd; die Sout&Peper-funskielokaal bly volgeboek; die stylvolle oornag-cottages is pragmooi en daar’s selfs ook ‘n paar kampeerplekke wat uitkyk oor die vlakte. ‘n Ware alles-in-een juweel. Ek kom beslis weer om meer te ervaar.

Na die opwinding van die middag is ons nie juis lus vir kosmaak nie. Bo ons pak die donderwolke belowend saam, so ek raap en skraap vir ‘n ietsie te peusel uit wat orig is in die koskiste.

Ek het ook ‘n paar tot-botteltjies Carmién-gin in my handsak gegooi net voor ons gery het en skink vir oulaas ‘n lekker jenewertjie, onder die Namibiese uitspansel. Dié word opgetop met die laaste van ons Carmién-sprankel-ystees.

PIZZA
My weergawe vanuit my boek, Lekker&Goed hoe mens restaurantpizza in jou eie huis kan berei.
DEEG
5 x 250 ml (5 k) klipgemaalde witbroodmeel
15 ml (1 e) olyfolie
10 ml (2 t) sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
500 ml (2 k) louwarm water
BOLAE
Olyfolie
Mieliemeel om oor te strooi
Tamatiesous (sien resep onder)
Kombinasie van gerasperde mozzarellakaas en wit Cheddarkaas
Bolae van jou keuse (sien lys)

Voorverhit die oond tot 230°C. Plaas ‘n omgekeerde bakplaat (dit help dat dit makliker afgly) in die oond om goed warm te word voordat jy die pizzabasisse oppak.
1 DEEG Plaas al die bestanddele vir die deeg, buiten die louwarm water in die mengbak van ‘n voedselverwerker. Giet die water deur die tuit by en meng tot goed gemeng, so 7–10 minute en die deeg in ‘n bol rondom die lem vassit. Die deeg is effe klewerig. Vewyder uit die bak, vorm in ‘n bol, verf met olyfolie, bedek en laat rys tot dubbel die grootte.
2 Verdeel die deeg in 4 (8 vir kleiner pizzas) bolletjies en rol so dun as moontlik op ‘n meelbestrooide oppervlak uit.
3 Bestrooi die warm bakplaat met mieliemeel en plaas die basis(se) bo-op (dis nie nodig om hul weer te laat rys nie). Plaas die bakplaat so na as moontlik aan die onderste element en bak 5—7 minute tot gaar maar nie bruin nie.
4 Haal uit die oond, en smeer ‘n dun lagie tamatiesous oor. Strooi kaas oor en pak bolae van jou keuse op. (sien variasies).
5 Skakel die boonste roostelement van die oond aan en rooster tot die kaas net gesmelt het.

TAMATIESOUS
750 g pruimtamaties (Roma), ontvel en in klein stukkies gesny
80—125 ml (¼–½k) songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
6 knoffelhuisies, fyngedruk of gerasper
Plaas al die bestanddele in ‘n glasbak en mikrogolf 10 minute by 100-persent-krag tot die sous nie meer waterig is nie. Roer elke 3 minute (jy kan ook die sous in ‘n kastrol op die stoof maak). Laat goed afkoel.

BOLAE
Smeer tamatiesous oor elke basis, strooi gerasperde mozzarella- en wit Cheddarkaas oor en pak enige van die onderstaande op.

1 Fetakaas, tuna of hoenderskaafsels, geroosterde soetrissies, swart olywe en baba-spinasieblare: Bak en stapel skywe avokado op, geur goed met sout en peper. Rond af met roket.
2 Basiliepesto, kersietamaties, swart olywe, sampioene en bocconcini of feta-kaas: Bak tot gaar en stapel basilieblare bo-op.
3 Pikante pepers, rooi uie en oondgebraaide botterskorsie: Bak tot kaas gesmelt is. Rond af met roket.
4 Tuna, murgpampoentjieskaafsels, olywe, rooi uie en kappertjiesaad: Bak tot die kaas gesmelt is en rond af met roket of basilieblare.
5 Kersie-tamaties, broccoli, pynappel, groen olywe en gepluisde gaar hoender gemeng met bietjie geroomde maaskaas met grasuie: Bak tot die kaas gesmelt is. Rond af met roket.

Namibië 1

Ek looove Namibië en kon nie die geleentheid laat glip vir ‘n vinnige draaigooi nie. Ons slaap weer by die Molopo Lodge naby Askam, die keer in ‘n safari-tent waar ons ‘n heerlike warm stort onder die sterrehemel geniet. Ons maak ook alle orige vleis gaar, dit mag nie rou oor die grens nie. Ek voel die bekende opgewondenheid in my opbruis.

Ons staan vir 2 nagte oor by die Kalahari Game Lodge en trek ons voertuig langs die oulike afdakkie onder die groot bome in die droë Auob-rivierloop. Elke kampplek is toegerus met sy eie stortgeriewe en opwasplek. Neffens die afdakkie staan ‘n donkie waar ons self ons warm water moet stook. Ons pak ons tafel en kampstoele onder die afdak uit en skop behaaglik ons skoene uit. Dié kant van die grens waai daar ‘n afkoelluggie wat die hitte draagliker maak.

Ek het ‘n goeie klompie Cold Brew-tees ingepak waarmee ek vinnig ‘n sprankel-ystee maak: sit ‘n sakkie Cold Brew, ek hou van die Cranberry Hibiscus, in ‘n reiskoppie en skink sodawater oor. ‘n Heerlike lafenis. ‘n Vars toebroodjie met blokkiesbrood (dié Squares is ideaal om in te pak op ‘n safari), tuna-mayonnaise met opgekapte agurkies en ‘n suinige handtjievol gekapte rooi uie of ‘n skyfie ham en klompe fyngesnyde blaarslaai, is net die regte kos in die middaghitte.

Die rivierloop is die blyplek van heelwat diere. Rondom ons kampplek wei daar springbokke, laer af in die rivier troppe gemsbokke. Dieper die rooi duine in is die kamp met roofdiere. Hier hoef ons saans nie so op “alert” te leef nie. In die bome wemel dit van voëls en soggens sing hulle ons wakker terwyl die son oranjepienk vanagter die rooi duine kopuitsteek.

Dis ons tweede besoek aan die Kalahari Game Lodge en ons geniet dit om koelte te soek in die lounge met sy keurige, natuurlike dekor. Dan teug ons graag aan hul pittige aanbod shandies: my keuse ‘n Kalahari -shandy.

Teen namiddag hunker ons na ietsie soets en ek onthou van die stokkiestee en kondensmelk wat ek spesiaal ingepak het om oudag se kondensmelktee te brou. By

Mokala Farmers Supplies in Tsobong, Botswana het ek die oulikste teestelletjie raakgeloop, net reg hiervoor. Ek ontdek ook die laaste sjokolade-bolletjies in die padkossak. Dis heerlik saam met die kondensmelktee.

Met die vleis klaar gaar, is kosmaak maklik. Die vuurtjie brand, maar dis vanaand ‘n atmosvuur; die gasbrander kom handig te pas om vinnig die maalvleisvulsel vir tacos aanmekaar te slaan.

TACOS MET MAALVLEISVULSEL
Indien mens oor landsgrense heen reis, moet alle vleis vooraf gaar wees – so maak die maalvleis vooraf gaar, slegs gegeur met bietjie sout en verpak dit in porsies. Dan kan dit vir ‘n verskeidenheid etes ingespan word. Ek is ook altyd gewapen met ‘n verskeidenheid pestos. Dit verander enige basiese gereg telkens in gans iets anders en interressant.
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 20—30 min

500 g maalvleis
4—6 repe spekvleis, gekap
1 ui, gekap
Olie
1 blik (400 g) tamatie-en-uiesmoor
1—2 sakkies (50 g elk) tamatiepasta
1 sakkie (125 g) koljanderpesto
Taco-speserye na smaak
Sout en peper
1 blik (400 g) 4-bonemengsel, gedreineer
VOORSIT
1 rooi ui, fyn gekap
1 blik pitmielies, gedreineer
Halwe blaarslaai, in dun repies gesny
Gerasperde Cheddarkaas indien verkies
1 avokado, in blokkies gesny indien verkies
Sowat 12 taco-doppe

1 Braai die maalvleis en spek in ‘n swartpot tot gaar, voeg die ui en biejie olie by en braai tot die ui sag is.
2 Voeg die blik tamatiesmoor, tamatiepasta en pesto by en meng goed deur. Geur met taco-speserye en sout en peper na smaak.
3 Laat prut tot geurig, voeg die bonemengsel by en laat prut tot lekker warm.
4 VOORSIT Skep die uie, pitmielies, blaarslaai, kaas en avokado in aparte bakkies.
5 Pak die taco-doppe uit op ‘n plat dienbord – ek het sommer ‘n skinkbord gebruik. (moenie die taco’s vooraf vul nie, dit word gou pap).
6 Laat elkeen vir hom van die maalvleisvulsel in die taco-doppe skep en dit dan afrond met ‘n strooisel uie, pitmielies, blaarslaai, kaas en/of avokado.

SJOKOLADE-BOLLETJIES
Die bolletjies bevat heelwat minder suiker as die bekende oorpronklike resep. Vir ‘n gesonder weergawe vervang ek die suiker selfs deesdae met dadels wat ek fynkook saam met die melk. Die dadels het ‘n hoë veselinhoud en lae GI en bevat ook prebiotika wat help met goeie “gut” gesondheid.
Maak sowat 40 bolletjies
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: omenbui 10 min

250 ml (1 k) suiker of vars dadels, ontpit
Knippie koeksoda (as dadels gebruik word)
160 ml (⅔ k) melk, met 4 Carmién Red Mocha of Camomile-teesakkies
80 ml (⅓ k) kakao
80 ml (⅓ k) botter of growwe grondbonebotter sonder sout of suiker
750 ml (3 k) hawermout of 250 ml (1 k) daarvan vervang met grofgekapte neute en sade of grondbone
Fyngekapte pampoenpitte of grondbone om in te rol

1 Plaas die suiker, kakao, melk en botter in ‘n kastrol en roer terwyl verhit word tot die suiker opgelos is. Laat kook dan 5 minute lank.
2 Roer die hawermout en/of neute vinnig by en skep in klein hopies op ‘n gesmeerde skinkbord.
3 Rol in bolletjies en daarna in die gekapte pitte of bone.

As jy dadels gebruik: Plaas die dadels in ‘n kastrol en sprinkel die koeksoda oor.
1 Voeg die melk by en laat kook terwyl geroer word tot die dadels begin opbreek en amper ‘n pasta begin vorm. Maak heeltemal fyn met ‘n stokmenger.
2 Voeg die kakao en botter by en verhit net weer tot die botter gesmelt is.
3 Voeg die hawermout en neute by en meng deur.
4 Skep hopies op ‘n gesmeerde bakplaat, laat effe afkoel en rol dan in bolletjies. Rol daarna in gekapte pampoenpitte of bone.

Springbokke Bo

Dit juig en jubel in my huis, want ons maak dit toe sowaar – vir die vierde keer! Ongelooflik, welgedaan en welverdiend. Met sekerlik die moeilikste pad wat ‘n span nog in ‘n Wêreldbeker moes aandurf en teen al wat topspan is moes speel, het ons dit deurgetrek, een punt op ‘n keer, drie keer in ‘n ry. Dit spreek mannemoed, senuwees van staal en uithouvermoë. ‘n Span wat hul alles gegee het met hoevele plettervatte, manne wat krampe en al aanhou speel het, seer-seer lywe. En soos wat dit telkens in elke onderhoud daarna uitgekom het – ons het dit gedoen vir jou Suid-Afrika.

Soos die weke verloop het ek net al hoe meer bewus geword van die fanatiese ondersteuning wat die span geniet. Oral ‘n see van groen, tot in supermarkte (Checkers spesifiek) het die volkslied ‘n paar maal luid weergalm Saterdagoggend. Selfs in ons huis, is daar nie teruggehou nie en reggemaak vir ‘n trots Suid-Afrika-ete.

Vroegdag is die Springbok- en landsvlae al gedrapeer en ons dek die tafel in groen en goud met proteas en vetplante uit die tuin as versiering. Ongelukkig was alle groen-en-goud ballonne al uitverkoop, so ons moes tevrede wees met ‘n uitspattige geel (tot groot ontsteltenis van my man wat dog ons ondersteun nou die Wallabies).

Teen skemer steek ons die vuur aan, want ons wil klaar geëet wees voor die wedstryd begin. Vriend Abraham bring springbokfilette wat hy spesiaal ingelê het in ‘n onverbeterlike marinade; vir vooraf peusel is daar Boerewors en roosterkoek saam met tuisgemaakte appelkooskonfyt (die laaste wat my ma my nog present gegee het toe ek laas week op die plaas was) en ek maak paptert soortgelyk aan die een wat skoonsus Hannalise vir ons in Botswana voorgesit het. Daarby ‘n slaaitjie of twee.

Die soetigheid is tot na die wedstryd gehou – melktert, spesiaal met ‘n springbokkie op (die het ek by Checkers gekoop) en bokgroen-kolwyntjies wat ons by Langebaan-bakkery aangeskaf het.

Na die laaste 5 minute wat soos ‘n ewigheid gevoel het, is daar chaotiese vreugde toe die eindfluitjie uiteindelik blaas en ons ons sjampanje-glase met Wilhelmina MCC kon lig op nog ‘n Wêreldbekerkroon, ‘n topspan en trotse nasie. Kry die paptert en melktertresep op my blog:

PAPTERT
In die veld gebruik Hannalise koeskoes om die tert mee te maak. Die tuisgemaakte tamatiesmoor maak sy vooraf by die huis. Die geheim is om die smoor lekker lank en stadig te laat prut. Lamstjoppies is ook heerlik saam met hierdie tert. Vir my weergawe het ek egter by mieliepap gehou.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 30 min

TAMATIESMOOR
4—6 uie, fyn gekap
Olie
500 g vars tamaties, in stukke gesny
30—45 ml (2—3 e) blatjang of ‘n handvol bruinsuiker
Spatsel balsamieke asyn
Sout en peper na smaak

TERT
500 g growwe mieliepap
Hoenderaftreksel en/of melk
50 g fyn Parmesaankaas
100 g Mozzarella-kaas, gerasper

1 Braai die ui in ‘n bietjie olie tot lekker sag. Voeg die tamaties by en laat prut stadig vir sowat 20 min tot ‘n geurige smoor, voeg van tyd tot tyd genoegsaam water by om ‘n geurige smoor te maak. Roer blatjang en of bruinsuiker na smaak by en geur met asyn, sout en peper na smaak.
2 Kook die mieliepap in hoederaftreksel en melk tot gaar en sag. Roer die Parmesaankaas deur die mieliepap.
3 Smeer ‘n langwerpige emaljeskottel en skep ‘n laag mieliepap onder in die skottel. Smeer ‘n laag tamatiesous oor en sprinkel ‘n laag kaas oor. Herhaal die lae, eindig met die kaas. Plaas die deksel op.
4 Plaas die skottel hoog oor matigwarm kole met ook ‘n paar kole op die deksel. Verhit tot die kaas gesmelt en die gereg deurwarm is.

Melktert
Vir my weergawe gebruik ek filodeeg as kors.
Maak 1 medium melktert
Bereiding: 25 min
Baktyd: 25 min

KORS
5 velle filodeeg
gesmelte botter of kossproei
VULSEL
625 ml (21/2 k) melk
2 kaneelstokkies
1,25 ml (1/4 t) amandelgeursel
4 eiers
100—125 ml bruinsuiker
30 ml (2 e) koekmeel
30 ml (2 e) mielieblom
15 ml (1 e) vlapoeier
Knippie sout
20 ml (4 t) botter (opsioneel)

AFRONDING
Kaneel

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n losboom-tert- of koekpan goed met kossproei.
1 Smeer elk van die filodeegvelle met botter en rangskik hulle bo-op mekaar in die tert- of koekpan. Frummel die oorhang-kante terug en druk vas langs die rand van die pan om ‘n tipe tertrand te vorm. Verf weer liffies met botter. Bak sowat 15 minute of tot die deeg net gaar is, maar nog nie bruin is nie.
2 VULSEL Plaas die melk met kaneelstokkies of andersins die sitrus chai rooibostee in ‘n glasbak en mikrogolf tot lekker warm, maar dit moenie kook nie. Voeg die amandelgeursel by en laat effe afkoel. Verwyder die kaneelstokkie en goed uitgedrukte teesakkies indien gebruik.
3 Klits die eiers, suiker, koekmeel, mielieblom, vlapoeier en knippie sout saam in ‘n groot mengbak tot goed gemeng en glad.
4 Voeg ‘n klein bietjie van die verhitte melk hierby en meng goed. Giet dan die eiermengsel by die melkmengsel, roer goed en giet in ‘n kastrol. Voeg die botter by indien gebruik. Verhit, terwyl geroer word tot die mengsel kook en verdik.
5 Giet in die tertkors en bak sowat 25 minute of tot die vlavulsel gaar en stewig is. (bedek die tertkorswand met tinfoelie as dit neig om te donker te word).
6 Rond af met gestuifde kaneel.

‘n Aansit-ete in die veld

Ons versit na Mpaya 2, nie ver van ons vorige staanplek nie. Ek het die kamproetines nou al goed onder die knie en weet ook presies waar wat gepak is in die laaisisteem agter in die bakkie. Alhoewel ons meer as genoeg water saamgery het, besluit ons tog om vir die wis en die onwis water te gaan haal by die hek. Telkens word belowe dat die water wel op pad is, hulle moet net die lekplek in die pyp opspoor. Wat ‘n verligting toe daar laatoggend ‘n dun straaltjie lewensgewende water uit die bek van die kraan begin drup. Die diere is ook goed dors – die bye en voëltjies, tarentale, patryse en selfs ‘n meerkat of twee drommel om die kraan.

Met ons gebruiklike draaitjie deur die park word mens deeglik bewus dat die groot katte baas is in hierdie wêreld. Digby ‘n staanplek (waar mense wel kamp opgeslaan het) skuil ‘n maanhaar en sowat 4 leeuwyfies teen die versengende hitte onder ‘n bos (ek wonder of die kampbewoners bewus is van hul gaste).

Teen vroegmiddag is ons terug by ons plek en voordat ons sommerso half traakmynieagtig uitklim, bespied ons ook gou eers die nabye bosse vir moontlike besoekers.

Dis my beurt vir kosmaak vanaand en ons wil hierdie baie spesiale reis afsluit met ‘n behoorlik gedekte aansit-ete. Ons maak die opslaantafel in die middel van die A-raam staan en ek gooi my Apple Crumble-tafeldoek oor – hy werk lekker so in die bos, want die lap kreukel nie en absorbeer nie vuiligheid nie, jy vee alles sommer net so met ‘n klam doekie skoon. Ons dek met emaljeborde en lapservette wat by die tafeldoek pas asook ‘n paar sandkleur-papierservette wat ons sorgeloos in die akriel “kristalglase” druk. ‘n Groen doringtakkie in die middel af, rond die tafel mooi af (gaan kyk op die Swier-webtuiste onder Carmen vir so ‘n tafeldoek en servette en nog vele meer – daar is nuwe ontwerpe!)

Dis nog versengend warm en ek sien nie kans om die hoender-en-pruimedantepot oor die vuur gaar te maak nie. Gelukkig het ons twee gasbottels met plate ingepak en ek maak hulle onder die A-raam staan waar ek rustig in die koeligheid kan werk terwyl die res van die geselskap ‘n uiltjie probeer knip. Die vleis het ek vroegdag al ingelê in wyn saam met baie knoffel en uie. Nadat die vleis goed bruin gebraai is, kom daar net lekker baie pruimedante en koljanderpesto by, laastens ‘n goeie handvol groen olywe. Eenvoudig maar heeeerlik!

Ek maak gou eers die slaai, want die kan maar staan en sal niks oorkom in die hitte nie – beetslaai, die vakuumverpakte beetjies wat mens deesdae oral kry werk soos ‘n bom. Daarby pitmielies, agurkies en fyngekapte rooi uie waaroor ek ‘n mosterd-slaaisousie giet – ‘n bosbessiegegeurde asyn gemeng met goeie olyfolie en Dijonmosted is heerlik geurig hiervoor. Die ander bykos is koeskoes wat ek in Carmién se Energise-rooibostee (die hou ek ook deurentyd in my waterbottel om so tussendeur aan te teug) laat week en waarby ek teen die einde kekererjties en ‘n lekker skoot olyfolie asook skoot bosbessie-asyn inroer (die woudbessies in die tee werk goed saam met die bosbessie-asyn).

Piekenierskloof se vlagskip-Grenachewyne kon nog altyd hul man staan teen redelik gekruide kos, so vanaand drink ons ‘n verskeidenheid – van die Grenache Rosé, ‘n Grenache Blanc sal ook goed werk saam met die olywe in die pot en die rooiwyn met sy sagte tanniene, die Grenache Noir, is net reg om saam met hierdie hoenderpot te geniet.

Teen die sakkende son sit ons aan en geniet vir oulaas die samesyn van familie; ons kry spesiale besoek van ‘n paar silwervosse en jakkalse terwyl ons ore en oë immer gespits bly vir nog onverwagse gaste. Oral in die buitewyke om die ligkring blink groen en geel en selfs rooi ogies. Die diere is hier. Laatnag ontvang ons ‘n grootste bonus: ‘n dorstige luiperd en ‘n drietal hienas kom in die kamp water drink. So stil soos hulle gearriveer het, so stil verdwyn hulle weer die diep donkerte in terwyl ons hulle vanuit ons daktent dophou. Ons dag (nag) is gemaak.

HOENDER-EN-PRUIMEDANTE-POT
Genoeg vir 6 mense
Marineertyd: 1 uur
Gaarmaak: 1 uur of selfs minder

MARINADE
2 bolle vars knoffel
60 ml (¼ k) balsamieke asyn
60 ml (¼ k) olyfolie
1 sakkie (125 g) koljanderpesto
HOENDER
8—12 hoenderporsies, dytjies en boudjies (vel verwyder indien verkies)
Sout en peper
Olie
250 ml (1 k) wit wyn
30 pitlose pruimedante
125 ml (½ k) kappertjiesade
30 pitlose groen olywe

1 Rasper die knoffelbolle fyn in ‘n plastiekbak met stewige deksel.
2 Voeg die asyn, olyfolie en koljanderpesto by.
3 Voeg die hoenderporsies by en meng dit goed deur die vleis. Maak toe en marineer sowat ‘n uur lank.
4 Geur die vleis met sout en peper.
5 Verhit bietjie in ‘n pan en braai die hoenderporsies, ‘n paar op ‘n slag, in die olie tot goudbruin buite-om.
6 Voeg die marinade asook die wyn by en prut tot die hoender sag en gaar is.
7 Voeg die pruimedante halfpad deur die kookproses by sodat dit lekker kan uitplomp.
8 Voeg die kappertjiesade en olywe by en verhit tot warm.
9 Sit voor saam met die koeskoes en slaai.

Ons trotseer die hitte

Die voertuie gedra hul heel goed deur die digte Kalaharisand en teen middag se kant stop ons by die ‘Entrance Gate’ van Mabuasehube. Ons kamp op sekerlik die gewildste staanplekke in die park naamlik Mpaya 1 en Mpaya 2 – hier is geen kampplek omhein nie. Dis op die pan en daars heelwat wild te sien, veral naby die watergat. Kennisse uit die Boland vertel juis opgewonde van die leeumannetjie wat digby die watergat naby Mpaya 1 doenig is en elke nag van hom laat hoor.

Na bietjie kajuitraad hou, besluit ons om die bakkies so half in ‘n laer rondom die A-raam (wat as kombuis en kuierplek dien) staan te maak. Ons is vooraf gewaarsku om genoeg water saam te bring, want hier is water ‘n skaars en kosbare entiteit en soms is daar soos in glad nie water nie – en nou ja, die kraan is kurkdroog…. en so ook ons kele en dis behoorlik warm, sekerlik diep in die dertig grade indien nie hoër nie. Gelukkig het ons heelwat drinkgoed en die Carmién-ystees kom vinnig weer tot ons redding – verfrissend en ‘n heerlike lafenis. Saam met ‘n natgemaakte doekie om die kop is dit ‘n goeie teenvoeter teen die skroeiende son.

Soggens met opstaantyd het ons net gekoffie en beskuit en dan laatoggend iets ligs geniet, want as dit so warm is, is niemand eintlik honger nie. Meestal het ons soggens ‘n entjie deur die park gaan ry en dan gebrunch by ‘n ander onbesette staanplek. Hier het die gasskottelbraai handig te pas gekom vir ‘n reuse-omelet, gevul met gebraaide ui, kaas en fyngekapte agurkies, (jy kan selfs die vorige aand se oorskiet braaivleis fynsny en insit). Romerige fyngedrukte avokado en/of tamatiedadelblatjang (sien resep hier) is heerlik daarby.

‘n Groot bonus is dat jou kombuis en apparate mos heeltyd saam met jou reis, so dis glad nie ‘n probleem om enige plek langs die pad iets te ete aanmekaar te slaan nie. Ek vind dat ‘n vistrommel ideaal is om jou messegoed in te hou saam met ‘n kapplankie en ‘n klein bakkie of ses.

Na nog ‘n paar draaie, verkas ons terug na ons staanplek sodat ons ‘n vinnige ‘sundowner’tjie by die watergat kan gaan geniet. Die yskoue Wilhelmina MCC van Piekenierskloof se vars aarbei- en bessiegeure is verkwikkend en ekstra spesiaal om te geniet hier in die natuur terwyl mens toekyk hoe die diere behoedsaam aangestap kom om hul dors vir oulaas te les voor die donkerte toesak. En ja, ons het akriliese “kristalglase” spesiaal hiervoor ingepak. Ons knibbel tussendeur aan ‘n heerlike verskeidenheid peuselkos wat Lise-Mari saamgebring het (die MCC is ook voortreflik saam met ‘n uitpakbord van saadbeskuitjies met ‘n paar kase, pesto, langsteelkappertjies, olywe en selfs konfyt of enigiets anders wat jy vanuit die koslaaie in jou voertuig kan opdiep).

Voordat die son behoortlik begin water trek, word daar al in die kamp gestort (die water in die waterkanne is so warm gebak in die son, dis nie eers nodig om water oor die vuur warm te maak nie). Na donker beweeg mens nie te veel rond nie en bly naby die voertuie of A-raam.

Skemeraand pak ons die gebruiklike vuurtjie, vanaand braai Calla steak en ons geniet dit saam met ‘n sampioensous en ‘n slaaitjie of twee. Die effens verkoelde Piekenierskloof Grenache Noir se liggehoute bessiegeure met sagte tanniene pas perfek by die rooivleis op so ‘n warm Kalahari-aand.

Dis goed donker toe ons “kombuis” begin opruim en alles wegpak sodat die hiënas en jakkalse dit nie kan bykom nie. Ons hou deurentyd ‘n fyn oog op die buitewyke van ons staanplek, ons weet immers van die maanhaar wat hier in die omtes ronddwaal. Met die blote oog lyk alles oraait toe ons na ons slaapplek verkas, maar toe ek met die spotlig net buite die ligkring lig, sien ek die vinnige beweging nie ver van ons voertuig af nie – dis beslis nie ‘n jakkals nie! Almal is soos blits in hul slaapplekke – ek en Lodewyk klim sommer saam-saam die trappie op na die daktent.

Dis doodstil en donker en vanuit die daktent bespied ons die omgewing, maar geen sien weer van die roofdier nie. Die mooi van die opkomende oranjerooi maan (wat ons aanvanklik laat dink dis ‘n veldbrand) verlig laataand die hemelruim. Ons hoor die maanhaar ook redelik naby brul en die volgende oggend tref ons hom dou voor dag by die watergat aan. Die voetspore by ons staanplek dui egter aan dat ‘n luiperd die kampbesoeker was.

STEAK MET ROMERIGE SAMPIOEN-EN-GROENPEPERSOUS
‘n Alles-in-een-sous smaak lekker saam met die steak.

SAMPIOEN-EN-GROENPEPERSOUS
‘n Pakkie klaarbereide kaassous werk goed in die bos om die nodige romerigheid te verskaf pleks van egte room (of jogurt wat ek meestal gebruik).

Maak sowat 500 ml sous
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 15 min

1 ui, gekap
Olie
250 g bruin sampioene, in skyfies gesny
Spatsel balsamieke asyn
1 pakkie (400 ml) goeie kwaliteit klaarbereide kaassous (ek het Ina s’n gebruik)
Sowat 15-30 ml (1-2 e) groenpeperkorrels

1 Braai die ui in ‘n bietjie verhitte olie in ‘n swartpot tot net sag, voeg die sampioene by en braai tot effe bruin en geurig, sprinkel ‘n spatsel balsamieke asyn oor.
2 Roer die kaassous en groenpeperkorrels by en verhit tot warm.
3 Sit voor saam met die steak.

STEAK
Bereiding: 5 min
Gaarmaak: sowat 5—10 min (afhangende van die verkose gaarheid)

SMEERSEL VIR STEAK
7,5 ml (1½ t) fyn knoffelpoeier
7,5 ml (1½ t) braaivleisspeserye
5 ml (1 t) bruinsuiker
30—45 ml (2—3 e) olyfolie
STEAK
1 steak per persoon soos T-been of kruisskyf
Sout en peper na smaak

1 SMEERSEL Meng al die bestanddele saam.
2 Geur die steaks sowat 10 minute voor die tyd liggies met sout – dit verseker ‘n lekker “bros” lagie buiteom. Verf alkant van die steaks goed met die smeerel.
2 Braai die steaks oor gloeiende warm kole tot gaar volgens elkeen se smaak. (ek begin gewoonlik deur die steaks op hul vetkante staan te maak sodat die vet lekker bros kan braai)
3 Sit die steak voor saam met die sous of andersins ‘n gekookte aartappel en ‘n lekker vars slaai. Ons het sommer fyngesnyde kool met appel en agurkie saam met ‘n strooisel neute en mosterd-slaaisous gemaak.

Op safari 2

Dis vroeg op vir ons en na koffie en beskuit is ons fort, net sowat 5 km vanaf die Molopo Lodge steek ons die grens oor by Boksputs waar ons vriendelik en behulpsaam ontvang word aan beide kante van die grens. Vroegoggend bak die son reeds, ‘n voorsmakie van wat later op ons wag. Al is dit ‘n langnaweek in Botswana is Thabong, die administratiewe “hoofstad” van die Kgalagadi-distrik, steeds lekker bedrywig. Ons ry direk na Mokala Farmers Supplies waar die behulpsame Johan van Zyl reeds ons vleis- en vars groentebestelling vir ons reg het. Ons laai ook hout, klompe daarvan, op die Cruiser se dakrak, want in die “wild” maak mens voortdurend vuur. Ons ruil ook sommer geld. Vinnig-vinnig is ons geholpe en gereed vir die avontuur. Vanaand slaap ons net buite Thabong in die Camel Game Lodge waar klompe kamele (oorblyfsels van die destydse Botswana polisie-patrollies wat die gebied met kamele gepatroleer het) ook in die kampplek kom besoek aflê.
Elke drywer kies vir hom ‘n boom om onder te staan en met die middagson wat nou hittig neerskyn, maak ons ook die afdakkies oop. ‘n Warm briesie help tog dat mens effe afkoel. Ek het vroegdag ook alreeds gesorg dat daar ‘n paar blikkies van Carmién se rooibos-ystees in die yskas is. Die fyn sprankel en vars geure is ‘n heerlike verfrissende lafenis teen die warmte. En omdat hulle baie minder kilojoules as meeste ander ystees bevat, kan mens maar lustig drink sonder om skuldig te voel dat jy onnodig jou kilojoule-inname verhoog.
Skemeraand word die vure aangesteek – dis tyd vir ons eerste pot – ‘n heerlike tamatie-lamskenkelpot met Mediterreense geure saam met koeskoes. Omdat mens nie rou vleis oor die grens mag neem nie, het Hannalise alreeds die skenkels vooraf gaargekook, nou moet net die finale afronding gedoen en groente bygevoeg word wat ons by Mokala ingeskeep het. Terwyl broer Oubaas die vure stook en kyk dat die pot nie aanbrand nie, kom ons agter daar is WIFI-opvangs en kan ons die Wêreldbekerrugby op die rekenaar volg.
‘n Yskoue Piekenierskloof Grenache Blanc is vanaand ons keuse. Ek hou van die volronde mondgevoel met vars sitrusgeure van die wyn saam met die Meditereense kruiegeure van die tamatiepot wat die gereg lekker “lig” eerder as swaar en “vleiserig” maak. Grenache Blanc is uiteraard die ideale pasmaat vir die bekende Franse seekosdis, bouillabaisse, wat ook tamaties as basis het, Ons smul.
Die maan kom op oor die Kalahari en dis tyd vir bed toe gaan. Die houtkapper wat in die boom neffens ons staanplek vir hom ‘n slaapplekkie uitgekap het, protesteer luidkeels omdat hy vanaand sy slaapplek moet deel. Érens in die donkerte blaf die blafgeittjies en maak die kamele onaardse geluide. Hulle is nogals ‘n skrik op die sisteem as hulle jou onverhoeds betrap op pad “ablusie” toe. Vanuit ons daktentvenstertjies wat ons heeltemal oopgerits het, beskou ons die uitspansel se magdom sterre wat skitter blink teen die nagblou hemel. Salig en ons sê “good night” aan dag 1 in Botswana. Dou voor dag môreoggend durf ons die sandpad aan na Mabuasehube.

MEDITERREENSE SKENKELPOT
Hierdie is my weergawe van Hannalise se smullekker skenkelpot — ek prut die vleis en groente soos aartappels en wortel saam in een pot en maak die tamatiesmoor in ‘n ander een wat ek dan net teen die einde by die vleis voeg, want dit sukkel nogals om groente in tamatie saggekook te kry. Vir my potjie het ek die vleis met ‘n Griekse-droësmeersel (rub) ingesmeer voordat ek dit in die pot gebraai het. Die smeersel is van Simple Truth en bevat ‘n heerlike kombinasie van seesout, knoffel, kruie, paprika, mosterdsaadjies en bietjie suiker. Ek gebruik ook van Carmién se Revive rooibostee (met groen rooibosbasis) wat nie net ‘n effense kruiegeur gee nie, maar ook help om die vleis te versag.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 1½uur

Sowat 45—60 ml (3—4 e) Griekse knoffel-en-kruiesmeersel (Simple Truth)
Olie
Sowat 3 kg skaap- of lamskenkels (met lang bene indien verkies) of in stukke gesaag
Paar spatsels balsamieke asyn en sojasous
Sowat 750 ml (3 k) m se Revive rooibostee met brandrissie en gemmer (sowat 4—6 sakkies)
1 bossie wortels, sowat 6—8, skoongeskraap en in stukke gesny
4—6 aartappels, geskil en in stukke gesny
3 uie, gekap
4—6 knoffelhuisies, fyngedruk
2 cm stuk vars gemmer, gerasper
2—3 groen, geel en/of rooi soetrissies, in stukke gesny
1 eiervrug, in stukke gesny (opsioneel)
6 vars tamaties, in stukke gesny
2 blikke tamatie-en-uiesmoor
4 sakkies (50 g elk) tamatiepasta
80 ml (⅓k) gekapte vars kruie soos roosmaryn, tiemie, ment, pietersielie en basilie
60—80 m l(¼–⅓k) blatjang (ek het my dadel-en-tamatieblatjang gebruik – sien resep hier)
Carmién se Revive rooibostee soos nodig
Bietjie suiker
Sout soos nodig
Gerasperde skil van 1 suurlemoen

1 Meng die smeersel met olie tot lekker loperig en vryf die vleis goed daarmee in.
2 Verhit klein bietjie olie in ‘n swartpot (ek het ‘n nommer 12 platpot gebruik) en braai die vleis bietjie-vir bietjie tot lekker bruin.
3 Spat balsamieke asyn en sojasous oor, verlaag die hitte (oor matige kole) en laat prut tot die vleis so te sê sag is. Voeg tee by soos nodig.
4 Voeg die aartappels en wortels by en laat prut tot net sag, maar nie stukkend gekook nie, voeg tee by soos nodig.
5 Braai die ui, knoffel, gemmer en soetrissie in ‘n aparte pot tot sag. Voeg die eiervrug by en braai effe.
6 Voeg dan die tamaties, tamatiesmoor, tamatiepasta en kruie by saam met rooibostee soos nodig.
7 Laat prut tot die eiervrug en tamaties heeltemal saggekook en stukkend is en ‘n lekker smoor gevorm het.
8 Voeg blatjang en suiker asook sout by na smaak en laat prut tot geurig.
9 Voeg die tamatiesmoor by die vleis en groente en laat net lekker deurkook.
10 Rond af met gerasperde suurlemoenskil en sit voor met koeskoes of basmati-rys.

Op safari 1

Ons is weer veilig tuis na ‘n onvergeetlike kuier in die Kalahari van Botswana en oor die volgende week of meer móét ek net die lekker en die mooi met julle deel. Hierdie week oornag en reis ons tot net oor die Botswana-grens.

Dis nog stikdonker toe die bakkie sy neus noorde se kant toe steek, vir oulaas word die lysies afgemerk, die sonpanele en battery is gekoppel; ons het van water tot diesel en genoeg droë proviand vir ‘n week se “wild camping” in Mabuasehube in die suide van Botswana. Vleis en groente het ons vooraf by die vriendelike Johan van Zyl van Mokala Farmers Supplies in Tshabong bestel. By die huis het ek getoets hoe die slapery in die daktent sal werk en is aangenaam verras met die lekker knus blyplekkie wat van pakplek vir ‘n paar goedjies daarbo asook laaiplek vir selfone en kameras het. Die gerief waarmee dit oop- en toeslaan sekerlik die grootste bonus; o ja, die trap na bo is net so gemaklik. Die skadudakkie trek ruim oop rondom die bakkie met die storttent wat vinnig langs die kant van die bakkie neertuimel. Die laaisisteem agter in die bak (wat my man eiehandig met grootste presiesie gebou het) werk soos ‘n droom en alles het ‘n spesiale plekkie. Ek is gerus.

By VanRhynsdorp ry ons die res van die geselskap in en ons reis in konvooi verder. Glo dit as jy wil, maar toe ons VanRhynspas uitklim, begin dit reën en by die gebruiklike stopplek met die pragtige uitsig oor die Knersvlakte is alles dik toegemis. Maar ons pak ons padkos uit en lê weg aan die hardgekookte eiersslaai, frikkadelle, hoenderboudjies en toebroodjies.

Dis skemeraand toe ons goed uitgeput by die Molopo Kalahari Lodge net anderkant Askam/vanZylsrus en net sowat 5 km vanaf die Botswana-grens stilhou. Vernoem na die meestal droë rivierloop wat hier verbyloop, is hierdie ‘n groen oase in die rooi sand van die Kalahari wat hier met reg die groen groen Kalahari genoem word. Ons slaan ons stoele onder die paledak by die lapa op (elke staanplek het een), steek die vuur aan en maak ‘n yskoue wyntjie oop terwyl die Kalaharison agter die duin begin verdwyn. Vanaand braai ons sosaties (wat ons in ons haas vergeet het om in te pak, gelukkig is daar nog ‘n laaste pakkie by die Woolies by die petrolstasie in Upington.)

Die gedagte was ook om die res van ons padkos hier te geniet, maar die Molopo Lodge verras elke kampeerder vanaand met ‘n heerlike warm tuisgebakte brood. My skoonsus diep ‘n bottel tuisgemaakte appelkooskonfyt uit die koslaai van hul Cruiser op en ons bydrae is droëwors en biltong. Net reg om te geniet as versnapering saam met die pragtige ligte pienk Grenache Rosé van Piekenierskloof wat my broer spesiaal al vroegdag in sy kampyskas gepak het. Die aarbei-, kersie- en bessiegeure met ligte roosondertone werk heerlik saam met die soetsuur van die appelkooskonfyt en warm korserige brood en is ‘n lekker kontras met die soutige biltong en droëwors. Ons smul en drink op die avontuur wat voorlê. Vanaand “was” ons vir oulaas in die luukse van ‘n propperse badkamer wat daar by elke kampeerplek is.

Die broodresepte wat ek hier gee, is een vir ‘n volkoringroerbrood asook ‘n bruismeelbrood, albei kan diens doen vir potbrood wat jy oor die vuur kan gaarmaak. Bak die brood oor stadige kole en pa kook ‘n paar op die deksel van die pot om ‘n mooi korsie te gee.

TUISGEBAKTE ROERBROOD

Ek het onlangs ook ‘n navraag ontvang vir tuisgebakte brood. Hier is my weergawe vir ‘n lekker volkoringbrood wat wel met gis gemaak word, maar nie nodig het vir knie nie. Lekker maklik. Ek meng sommer die droë bestanddele vooraf saam (en pak dit in ‘n seëlbare sakkies vir wanneer ons op ‘n tentsafari die binneland invaar), dan’s dit net vir water bygooi as jy wil bak. Jy kan ook potbrood hiermee maak.

Lewer 2 medium brode of 1 potbrood
Voorbereiding: 5 – 10 min
Baktyd: 50-60 min

BAKMENGSEL
1 kg volkoringmeel, verkieslik klipgemaal
250 ml (1 k) semels
80 ml (1/3 k) elk sesam-, lyn-, sonneblom- en pampoensade
10 ml (2 t) sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
VIR BAK
4—5 x 250 ml (4–5 k) louwarm water
30 ml (2 e) olie
Ekstra sade vir bo-oor sprinkel

1 BAKMENGSEL Meng al die droë bestanddele baie goed saam en skep in ‘n lugdigte houer of sakkie. Hou in die koskas.
2 Giet die bakmengsel in ‘n mengbak. Meng die water en olie en roer by die bakmengsel in. Die beslag is slap.
3 Voorverhit die oond tot 190° C. Smeer 2 medium broodpanne of ‘n groot swartpot en sy deksel. Skep die beslag in, sprinkel ekstra sade oor en laat rys tot dubbel die volume op ‘n warm plek. Plaas die deksel op.
4 Bak vir 50-60 minute tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom of tot dit hol klink as jy daarop klop. Keer uit op ‘n bakplaat, plaas terug in die afgeskakelde oond vir nog 15 minute. Dit help dat die binnekant van die brood te klam is.

JAPTRAPBROOD
Die brood word sommer met bruismeel en karringmelk, jy kan selfs bier gebruik, gemaak. Bo-op versier ek dit graag met groente. Vir nog minder moeite kan jy brooddeeg by die winkel koop en ook lekker rondspeel daarmee.
Maak 1 brood
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 1h20 min

500 g bruismeel
Knippie sout
250 ml (1 k) gekapte stingeluie
500 ml (2 k) karringmelk of bier
1 rooi ui, gehalveer of jong beetjies
Paar stingeluie
1 wiel feta-kaas, in growwe stukke gebreek
Peper en seesoutvlokkies

Voorverhit die oond tot 190°C. Smeer ‘n 20 cm-losboomkoekpan.
1 Meng bruismeel, sout, gekapte stingeluie met karringmelk tot ‘n sagte, maar nie slap deeg.
2 Skep in die koekpan.
3 Rangskik die ui bo-op en pak paar stingeluie langsaan. pak stukke peperfeta-kaas op. Sprinkel peper en seesoutvlokkies oor.
4 Bak sowat 1h20 minute tot gaar. Sit voor met ‘n eiervrugsmeer of olyfsalsa.

Vinnige pasta

Spaghetti bly my gunsteling pasta as ek vinnig moet kosmaak en deesdae gebruik ek nogals graag volkoringpasta wat nie net meer veel in het nie maar ook ‘n effense neuterige smaak het wat vir my heerlik is. Hierdie staatmakerresep met my geliefde vars Mediterreense geure van suurlemoen, olywe, balsamieke asyn, basiliekruid en songedroogde tamaties, is een van die staatmaakgeregte van ‘n groot kosvriendin van my, Elmarie Berry. Haar kos-en-wynblog het onlangs ‘n groot prys gewen by die internasionale Gourmand Awards vir kosskrywers en haar kookboek, Kosbaar, wat sy ‘n jaar of wat gelede uitgegee het, het ‘n spesiale staanplek in my kombuis. Die boek is nie net mooi nie, dis inspirenend, maar ook prakties om uit te kook. Sy vertel die resep is deur haar Lebanese ouma, Cedar Brink, geïnspireer. Sy was baie gesondheidsbewus en baie lief vir suurlemoen – buiten dat sy elke oggend ‘n glas suurlemoenwater gedrink het (‘n gebruik wat ek ook nogals deesdae graag doen – help veral om die PH-vlakke te alkaliseer), gebruik sy suurlemoen ruimskoots in haar kos.

MEDITEREENSE HOENDERPASTA

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 20 min.

3 hoenderborsfilette, in blokkies gesny
sout en peper na smaak
1 knoffelhuisie, fyngedruk
olie
30 ml (2 e) Dijonmosterd
160 ml (⅔ k) room of romerige jogurt
5 ml (1 t) mielieblom
60 ml (¼ k) balsemieke asyn
60 ml (¼ k) vars suurlemoensap
125 ml (½ k) sondroë tamaties in vinaigrette, gekap
125 ml (. k) ontpitte swart olywe gedreineer
1 pak 500 g volgraanspaghetti, gaar gekook
2-3 LEbanese komkommers, in linte gesny
’n paar kersietamaties, gehalveer (opsioneel)
vars basilieblare, gekap
vars gerasperde suurlemoenskil van ‘n halwe suurlemoen

1 Geur die hoender met die sout en peper, en braai saam met die knoffel in ’n bietjie olie tot net gaar.
2 Meng die mosterd, room en mielieblom, voeg by die hoender, en roer tot die sous kook en effens verdik.
3 Roer die asyn en suurlemoensap by; laat weer kook.
4 Meng die tamaties en olywe by.
5 Meng die sous deur die pasta en stapel die komkommers en tamaties (indien gebruik) bo-op. Sprinkel die basilieblare en suurlemoenskil oor.
Sit warm voor.
Die byvoeging van mielieblom by die sous keer dat die suurlemoensap die romerige sous laat skif (ek gebruik somtyds romerige jogurt pleks van die room).

Vis uit ‘n blik

Ek sorg deesdae dat daar altyd ‘n blikkie of meer vis in een of ander aard in my koskas is. Dis dan alte gemaklik as jy vinnig iets te ete aanmekaar moet slaan en boonop bevat veral sardyne en sardientjies hope omega 3 vetsure wat goed is vir jou. Met tuna maak ek graag ‘n korlose tunatertjie wat heerlik is vir ‘n ligte middagete en is ook ideale inpakkos. As ek nie nog wil wag vir die bakkery nie, maak ek sommer ‘n tipe frittata wat jy in ‘n groot pan op die stoof gaarmaak of ek skep die tertjies in ramekinbakkies wat ek dan in die Airfryer gaarmaak.

Ek het grootgeword met viskoekies wat met ‘n blik vis gemaak word. In die plaaswinkel was daar altyd blikke “vaalvis”, soos my broers dit genoem het, op die winkelrak. Baie aande as my ma hande in die hare was oor wat om voor te sit vir aandete, het sy ‘n blikkie vis gaan haal uit die winkel. Ma het sommer die mengsel net so in die pan geskep met ‘n lepel, nie eers gebodder met bolletjies rol nie. Ons het dit meestal net so geniet met ‘n skyfie suurlemoen en varsgebakte brood, maar ‘n gebakte patat, sommer in die Airfryer gemaak, is absoluut heerlik hierby. My viskoekies is deesdae heerlik gespesery met komyn, paprika en garam masala en kry ook ‘n lekker handvol gekapte koljanderblare in. Hierdie resep asook vele gesonder resepte vir heerlike huiskos is almal te kry in my boek, Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Kyk by bekende boekwinkels om jou kopie aan te skaf.

MALEISE VISKOEKIES
Lewer sowat 6 – 8 viskoekies
BEREIDING: 15 MIN
GAARMAAK: 20 MIN

2 blikke (400 g elk) sardyne in tamatie- of brandrissiesous of andersins middel-snit makriel
2 snye bruinbrood, korsies verwyder, of sowat 125 ml (½k) hawermout of gaar fyn patat
1 middelslag-ui, fyngekap
’n klein bietjie olie
2–3 knoffelhuisies, fyngedruk
5 ml (1 t) gerasperde gemmerwortel
’n groot hand vol gekapte pietersielie
’n groot hand vol gekapte koljanderblare
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
5 ml elk (1 t) fyn komyn, paprika en garam masala
sout en peper na smaak
1 eier, geklits
Broodkrummels, sesamsaad of witbroodmeel om in te rol

SALSA (OPSIONEEL)
2 wortels, geskil en in klein blokkies gesny
1 klein komkommer, in klein blokkies gesny
1 tamatie, in blokkies gesny
1 peer, in klein blokkies gesny
balsemieke asyn na smaak
koljanderblare vir oorsprinkel

VOORSIT
Suurlemoenskyfies
500 g gaar oranje patats, fyngemaak met bietjie suurlemoenskil

1 VISKOEKIES Dreineer die vis en maak fyn. Behou die sous en giet net genoeg oor die brood of hawemout om dit aan te klam. Laat staan tot sag en maak fyn. Voeg by die vis.
2 Braai die helfte van die ui en knoffel in ’n klein bietjie olie in ’n pan.
3 Vou die gebraaide sowel as die rou ui in die vis.
4 Voeg die kruie asook die suurlemoenskil en sap by en meng. Geur met speserye en sout en peper na smaak. Voeg die eier by en meng deur.
5 Vorm die mengsel in bolletjies en doop in broodkrummels, sesamsaad of meel tot oraloor bedek. Verkoel 30 minute.
5 Verhit ‘n klein bietjie olie in ‘n pan en braai tot alkant bruin. (die kan jy nou ook in die Airfryer doen – plaas die viskoekies in ‘n enkellaag daarin, sprinkel bietjie olie oor en lugbraai tot bruin, sowat 10 minute, draai halfpad om.
6 SALSA Meng al die bestanddele vir die salsa.
7 Voorsit Sit die viskoekies voor op die fyngemaakte patat en skep die salsa oor.

KORSLOSE TUNATERTJIES
Maak sowat 24 tertjies
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: sowat 30–40 min

1 ui, gekap
Olie vir braai
4 x 185 g-blikke tuna in pekel, gedreineer
6 eiers
250 ml (1 k) volroommelk
Sout en peper na smaak
45 ml (3 e) meel
250 ml (1 k) gerasperde Cheddarkaas
375 ml (½k) ertjies
Strooisel fyngerasperde pecorino-kaas vir bo-oor

VOORSIT
Paar kersie-tamaties, in die oond gerooster

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit die holtes van 2 muffinpanne (24 holtes) met kossproei.
1 Braai die ui in bietjie verhitte olie tot sag. Koel af.
2 Meng die tuna en ui.
3 Klits die eiers en melk saam, geur goed met sout en peper. Roer die meel in.
4 Voeg die tunamengsel asook die kaas en ertjies by en meng goed.
5 Skep in die voorbereide holtes en sprinkel bietjie pecorino-kaas oor elk
6 Bak 30—40 minute tot gestol, skep uit en sit voor saam met die tamaties.

Padkos

In my huis heers groot opgewondenheid, want dis byna tyd om te verkas op ‘n lang verdiende vakansie, al die pad Kalahari toe om daar ‘n bietjie te gaan ontspan en die natuur te geniet. Maar soos altyd die geval, is die reistyd vir ons net so lekker en spesiaal en geniet ons die ryery. Dis defnitief nie net ‘n gejaag om tot by ons bestemming te kom nie. Vir my is die mooiste om te sien hoe die natuur verander, die laaste van die Weskus blommeprag (alhoewel baie keer pak ons dié entjie pad in pikdonkerte aan), dan die groen bergagtigheid tot kort voor Vanrhynsdorp waar ons dan die Knersvlakte oor en op met VanRhynspas. Gewoonlik is ons eerste koffiebreek by die uitkykpunt bo-op die pas waar jy so mooi oor die vlakte uitkyk. En dis dan wanneer die padkossak te voorskyn gehaal word (een van my mooi koelsakke is ideaal om hiervoor te gebruik, nie net pragtig nie, maar hou koue en warm geregte ewe goed by die regte temperatuur. En hulle is lekker stewig – kyk op Carmién-webtuiste – hulle is nou beskikbaar teen ‘n spesiale prys).

Padkos is ‘n móét as ons op ‘n lang trippie gaan – buiten vir smaaklike toebroodjies (ek gebruik deesdae graag daardie vierkantige saadbroodjies hiervoor), is ons nogals lief vir ‘n hardgekookte eiertjie (glo dit as jy wil) wat ek saam met ‘n paar slaaigoed wat goed kan hou, inpak en maak ook ‘n suursousie daarby; andersins vorm dit bloot deel van die toebroodjievulsels. Daarby frikkadelle (wat lekker lossies gaargemaak is) – die suursousie is ook heerlik hierby. En dan die gewoontelike biltong en droëwors wat in porsiegrootte sakkies verpak is. Soetigheid bly ook nie agter nie: sjokolade-clusters en hawermoutcrunchies (wat ek intussen ook gesonder gemaak het – sien meer hieroor in volgende post). Ek hou ook daarvan om ‘n sakkie of wat neute-en-sademengsels in te pak, waaraan mens heerlik tussendeur kan peusel – as die tyd my nie inhaal nie verwerk ek dit soms ook in ‘n vinnige cluster deur donker sjokolade te smelt en die neutemengsel daardeur te roer en dit dan weer in hopies te laat hard word. Gewapen met al hierdie heerlike kossies in ons padkossak word die langpad een groot avontuur.

HARDGEKOOKTE EIERSLAAI MET SUURSOUS

Hierdie eenvoudige slaai is onbeskryflik lekker. Vir padkos pak ek die bestanddele apart in meng dit dan wanneer dit by ete kom. Andersins kan jy dit in lagies pak. Die sous, wat ons sommer bloot suursous genoem het, is ‘n ou-ou resep gemaak met eiers, asyn en suiker. Teen die Weskus kry jy dit saam met gebraaide lewertjies vir ontbyt. Ek het die suiker van die oorspronklike resep heelwat verminder en hou daarvan om bietjie jogurt by die sous te voeg om dit lekker romerig te kry, dan is selfs net blaarslaai genoeg daarby.

MOSTERDSLAAISOUS
3 eiers, geklits
60 ml (¼ k) water
60 ml ( ¼ k) appelasyn
60 ml ( ¼ k) suiker
20 ml (4 e) matige mosterdpoeier of 30 ml (2 e) klaarbereide mosterd
2 ml (½ t) sout
Sowat 80 ml (⅓ k) natuurlike jogurt
SLAAI
4 eiers, hardgekook
1 Iceberg (of Cos) blaarslaai, in wiggies gesny
2—3 wortels, in repe geskil met ‘n aartappelskiller
1 avokado, in repies gesny (opsioneel)
Bondel grasuie, gekap of andersins 1 klein rooi ui, in klein blokkies gesny

1 SOUS Plaas al die bestanddele in ’n swaarboomkastrol en klits goed met ‘n draadklitser. Roer aanhoudend oor lae hitte tot die sous glad en dik is. (pas op vir skif).
Laat afkoel en meng die jogurt in.
2 SLAAI Sny 3 van die hardgekookte eiers in skyfies. Skei die ander een se wit en geel en rasper dit apart. Hou eenkant.
3 Pak die blaarslaaiwiggies op ‘n groot slaaibord en skep bietjie van die slaaisous oor.
4 Rangskik die eierskyfies, wortel en avokado bo-op, druppel res van die sous oor en sprinkel die gerasperde eier en grasuie bo-oor.

Lekker los frikkadelle

Vir padkos of handkos kan jy die frikkadelle saam met blaarslaai en miskien ‘n skyfie tamatie en ui in ‘n pita sit en van die suursous oorskep (of andersins skep die jogurtpesto oor.)

Lewer sowat 18 middelslag frikadelle
Bereiding: 20 min
Rustyd: 20 min
Gaarmaak 20 min

FRIKKADELLE
1 kleinerige ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
olie
400 g elk gewone beesmaalvleis en ekstra-maer maalvleis
1—2 wortels, geskraap en gerasper
20 g pietersielie, gekap
1 eier
2,5 ml elk (½ t) komyn, paprika
5 ml (1 t) fyn koljander
15 ml (1 e) Worcestersous
60 ml (¼ k) hawermout
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
Sout en peper na smaak
SOUS (opsioneel)
375 ml (11/2 k) natuurlike jogurt
30 ml (2 e) koljanderpesto

Voorverhit die oond tot 190°C.
1 Braai die ui en knoffel in klein bietjie olie tot sag. Voeg die kruie by. Koel af
2 Meng die maalvleis liggies maar goed – werk met ‘n vurk.
3 Voeg die uiemengsel asook res van frikkadelmengsel by.
4 Vorm middelslag frikkadelletjies. Plaas in ‘n oondbak, giet bietjie water in die bak en verf elkeen liggies met olie.
5 Oondbraai sowat 20 minute of tot net gaar maar nie droog nie.
6 SOUS Meng die jogurt en koljanderpesto en sit voor saam met die frikkadelle indien verkies.

Wenk: Dis belangrik om die vleismengsel bietjie te laat rus sodat die hawermout kan versag.
Wenk: Jy kan die frikkadelle ook in die Airfryer gaarmaak.

Soetigheid vir die pad

Deel van die lekkerte om na jou vakansie-bestemming te reis is mos maar die eetgoed wat saam ingepak word en waaraan almal deurentyd kan peusel. Buiten vir padkos wat moet instaan vir ‘n ete (en waarvoor ons graag stop langs die pad), is dit altyd die houer met soetigheid wat goed aftrek kry. As dit by koekies kom, verkies ek om my eie te bak. Ek neig mos maar altyd na die gesonde kant, so ek bak veral graag koekies met hawermout in. Destyds se crunchies was nog altyd ‘n groot gunsteling, maar oeg, net die blote gedagte aan die baie botter en suiker, het klaar my maag op ‘n knop laat trek. Deesdae meng ek ‘n bietjie gekapte dadels by om soetigheid te gee en gebruik klapperolie vir die bros lekkerte. Vir die kinders is enige iets met bietjie sjokolade in altyd spesiaal en saam met hawermout is dit tog te lekker. Kleintyd het ons altyd self vir ons chocolate clusters gemaak en dis net sulke lekker inpak-soetigheid. Ek sien in een van my vroeëre Wenresepteboeke het ek dit die gepaste Afrikaanse naam van sjokolade-bondeltjies genoem. Die suikerinhoud daarvan was ook maar goed hoog – 2 koppies op 3 koppies hawermout!

Nou het ek dit reggekry om die suikerinhoud daarvan goed af te bring tot net sowat 300 ml en jy kan selfs ‘n suikerplaasvervanger soos eritritol gebruik wat ‘n heerlike brosheid aan die koekie verskaf en heel bekostigbaar is.

Vir drinkgoed is die koffiefles altyd byderhand, maar deesdae is ek net so lief om ‘n sakkie of wat van Carmién se Cold Brews in ‘n waterbottel te gooi en deurentyd daaraan te teug – niks meer is daarby nodig nie, want dis alreeds effe versoet met stevia-blaartjies (nie die poeier wat ‘n bitter nasmaak het nie). Sodoende bly jy lekker gehidreer gedurende die rit. As daar kinders by is, kies ek uit die Kiddies-reeks, want dis ewe lekker vir die kleingoed en grootmense!

DADEL-EN-SAADHAWERMOUTSTAFIES

Ek het ‘n verknogtheid aan oudag se ‘oats crunchies’, maar sjoe, dit wemel van suiker en vet. Hier verleen dadels die meeste soetigheid met net 3 eetlepels suiker en ‘n derde koppie olie wat bykom. Die sade verleen daardie nodige “crunch” aan die stafies. Hierdie en nog vele heerlike gesonder resepte is beskikbaar in my nuutste resepteboek: Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Kyk uit daarvoor in boekwinkels asook op die Carmién-webtuiste.

Maak 18 stafies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 30—45 min

250 g dadels, gekap
125 ml (½ k) warm lemoen-chai-rooibostee (3 sakkies)
1 eier, geklits
250 ml (1 k) hawermout
250 ml (1 k) klapper (helfte hiervan kan met nog hawermout vervang word)
60 ml elk (1/4 k) geroosterde sonneblomsaad, en pampoensaad
125 ml (1/2 k) koekmeel of glutenvrye meelmengsel
5 ml (1 t) koeksoda
5 ml (1 t) kaneel of gemengde speserye
Knippie sout
80 ml (1/3 k) klapperolie of botter
45 ml (3 e) bruinsuiker of heuning

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm-vierkantige koekpan goed.
1 Plaas die dadels in ‘n bak, giet die warm tee oor. Laat staan minstens 5 minute, voeg die eier by.
2 Meng die droë bestanddele saam.
3 Smelt die klapperolie of botter en bruinsuiker of heuning saam. Meng met die dadels.
4 Voeg die droë bestanddele by die dadelmengsel en meng goed.
2 Druk vas in die voorbereide pan en bak 30–45 min tot goudbruin bo-op en stewig.
3 Koel heeltemal af en sny in stafies.
4 Verpak in ‘n lugdigte houer.

Geniet dit

Die rugby-wêreldbeker bou nou lekker momentum op met die laaste wedstryde wat in die onderskeie groepe gespeel word. Wees deel van die pret, pak ‘n uitpakbord met ‘n verskeidenheid happies of bak sommer ‘n heerlike brood en geniet dit saam met ‘n wyntjie of ‘n paar lekker drankies. Maak seker dat jy ‘n paar Piekenierskloof-wyne het wat jy kan oopmaak en wees kreatief met Carmién se heerlike sprankel-ystees, jenewers en hul Cold Brews om smullekker drankies te brou.
 
SMULLEKKER BROOD MET PIEKELTAMATIES
 
Hierdie heerlike tuisgebakte brood is net die ding vir ‘n uitpakbord om saam met ‘n drankie te geniet terwyl julle die rugby geniet.
 
LEWER 2 BRODE
TAMATIES
Bereiding: 5 min.
Bak: sowat 30 min.
BROOD
Bereiding: 20 min.
Rys: 30-45 min. + 20 min.
Bak: 30-35 min.
 
OONDGEDROOGDE TAMATIES
200-250 g vars kersietamaties, gehalveer
15 ml (1 e) seesout
2,5 ml (½ t) vars gemaalde swartpeper
5 ml (1 t) gemengde droë kruie
30 ml (2 e) witasyn
60 ml (¼ k) olyfolie
VIR BÊRE
125 ml (½ k) olyfolie
vars kruie, soos roosmaryn, tiemie, origanum of ’n paar basilieblare
BROOD
750 g witbroodmeel
’n knippie elk sout en suiker
30 ml (2 e) vars roosmaryn, grofgekap
6 knoffelhuisies, fyngedruk
10 g kitsgis
15 ml (1 e) olyfolie
sowat 450 ml warm water
125 ml (½ k) van die gebakte tamaties, gedreineer en grofgekap
ekstra roosmaryn
VIR VOORSIT
ekstra olyfolie en die orige gebakte tamaties
 
Voorverhit die oond tot 120 °C.
1 OONDGEDROOGDE TAMATIES Plaas die gehalveerde tamaties met die oop kant na bo op die bakplaat. Geur met die sout, peper en gemengde kruie.
2 Drup die asyn en olyfolie oor die tamaties. Oondbraai sowat 30 min. tot die tamaties effens ingekrimp en die rande effens verbruin het. Laat dit afkoel.
3 VIR BÊRE Pak in ’n skoon fles, giet die olyfolie oor en voeg die vars kruie by. Maak toe en bêre in die yskas. (Die tamaties sal tot ses maande hou.)
4 BROOD Sif die meel, sout en suiker saam. Roer die roosmaryn, knoffel en gis by en maak ’n holte in die middel van die mengsel.
5 Meng die olie met die warm water en giet dit in die holte. Meng vinnig om ’n sagte deeg te vorm; voeg nog water by, indien nodig.
6 Knie die deeg sowat 7 min. op ’n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties.
7 Plaas die deeg in ’n liggies gesmeerde bak en bedek met ’n skoon, klam lap. Laat staan 30-45 min. of tot die deeg verdubbel het.
8 Voorverhit die oond tot 200 °C.
9 Knie die deeg weer 3 min., knie die tamaties in en verdeel die deeg. Vorm elke stuk in ’n groot, oval vorm en plaas dit op ’n meelbestrooide bakplaat.
Sny kruisies op elke brood indien verkies en sprinkel die ekstra roosmaryn bo-op. Laat rys sowat 20 min. tot die brode verdubbel het. Bak 30-35 min. of tot die brood hol klink wanneer daarop geklop word.
10 VIR VOORSIT Sit voor saam met die ekstra olyfolie en gebakte tamaties.

FOR THE PLATTER
 
2—3 Cheeses: soft: e.g., cream cheese or Chevin goats’ cheese; camembert or brie; semi-hard: e.g., Gouda or matured Cheddar; hard: e.g., Parmesan or pecorino 
Chutney or spreads or pâté
Toasted chunks of French baguette and/or seed crackers
Olive oil and seed confetti (or dukkha)
Biltong and droëwors or a variety of charcuterie
Variety of fruit e.g., strawberries, grapes, and other fruit in season
 
Arrange all the above-mentioned products on a large wooden or glass platter (or bake your own bread – see recipe) and serve with a variety of drinks.
 
FOR THE DRINKS
 
Make sure to stock up on Carmién’s range of sparkling rooibos ice teas and cold brews and you are sorted to impress with a variety of refreshing drinks.
 
For me, the big bonus of Carmién’s sparkling ice teas is that they are low in kilojoules (surprisingly iced teas normally have plenty of sugar). They are also packed with all the added benefits of rooibos and are naturally caffeine-free.  Enjoy as is, serve on ice or mix with your favourite spirit for a refreshing alcoholic option. There are 3 delicious flavours: Geranium Mint, Tangerine Grapefruit and Berry Hibiscus.
 
Carmién’s Cold Brew rooibos teas are specially developed to be used in COLD WATER. Using cold water instead of hot water slowly extracts more flavour, giving you a smooth, sweet, and cleaner-tasting tea – ideal to add (only one bag is needed) to your favourite drink for a touch of extra flavour. Another plus is that no sugar is added to the cold brew tea bags, only natural stevia leaf is used to add a bit of sweetness, making it a much healthier option. Available in 4 delicious flavours: Cranberry HibiscusApple Mint, Coco Pine and Apricot Blossom.
 
CRANBERRY AND BERRY HIBISCUS DRINK WITH BERRY LOLLIES
 
The Cranberry Hibiscus Cold Brew brings a touch of tartness to this delicious drink loaded with berries. The berry lollie adds a nice surprise.
 
FOR THE LOLLIES

125 ml (½c) full-cream yoghurt
250 g frozen strawberries
80 ml (⅓c) raw honey
 
Place all the ingredients in a blender and blend until smooth. Spoon into 5—6 lollie holders and freeze.
 
FOR THE DRINK

Place a bag of Carmién’s Cranberry Hibiscus Cold Brew in a glass and fill it halfway with ice-cold water and ice. Top with Carmién’s Berry Hibiscus Sparkling Rooibos Iced Tea and add a few blueberries and strawberry slices if preferred. Serve with a lollie dunked into the drink.
 
For an alcoholic version: add a tot of Carmién Floral Berry Gin or vodka.
 
APPLE MINT AND GERANIUM DRINK
 
The crispy apple taste and notes of perfumed geranium are a good match.
 
Place a bag of Carmién’s Apple Mint Cold Brew in a glass and fill halfway with ice-cold water and ice. Top with Carmién’s Geranium Mint Sparkling Rooibos Iced Tea. Add a few slices of strawberries and cucumber plus mint and/or basil leaves. Decorate with geranium flowers and leaves. 
 
For an alcoholic option add a tot of Carmién’s Floral Berry Gin or vodka.
 
COCO PINE AND TANGERINE GRAPEFRUIT DRINK
 
Hints of coconut and pineapple and notes of citrus pair beautifully in this drink.
 
Place a bag of Carmién’s Coco Pine Cold Brew in a glass and fill it halfway with ice-cold water and ice. Top with Carmién’s Tangerine Grapefruit Sparkling Rooibos Iced Tea. Add a few lime or lemon slices and decorate with a stalk of lemon grass or sprigs of mint or thyme.
 
For an alcoholic option add a tot of Carmién’s Citrus Chai Gin or vodka.