Appeltertkoek uit die Airfryer

So ja, nou dat ons ons eie krag moet bestuur, werk my Airfryer oortyd. Soos genoem het ek ‘n Instant Vortex 6 van 5,7 liter wat so teen 1450—1700W loop. Verlede week bak ek die malvapoeding uit my Lekker & Goed-boek vir ‘n klompie Japanese teeaankopers en hulle smul omtrent. Gedagtig aan iets om te bak Sondagmiddag vir saam met tee of selfs vir poeding, bly die malvapoeding in my kop, maar ek maak mos nie maklik graag twee goed na mekaar op dieselfde manier nie. Op my eetkamertafel vind ek twee verdwaalde appels tussen ‘n klompie lemoene en dadelik het ek ‘n plan. Daardie malvapoeding kan mos net sowel omskep word in die immergewilde appeltert met die ingedampte melk oor waaraan ons kleintyd so lekker gesmul het.

Maar dié moet ook mos nou gebak word in die Airfryer en my glasbakke is te groot. Toe onthou ek die silikon-Bundt-koekpan onderin my kas. Meet hom, 20 cm al om die bokante, so dit pas perfek. Net om seker te maak, pas ek hom vinnig in die laaitjie – die omtrek is ok, maar dis effe te hoog. Dis toe dat ek onthou dat ek mos maar die rakkie kan uithaal.

SOUSERIGE APPELTERT

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min
Baktyd: 30 min

2 appels, een in papierdun skyfies gesny, ander een geskil en in klein blokkies gesny
BESLAG
1 eier
80 ml (⅓ k) suiker
250 ml (1 k) koekmeel (ek gebruik ook selfs glutenvrye bruismeel, los dan net die bakpoeier uit)
5 ml (1 t) bakpoeier
3 ml (¾ t) koeksoda
1 ml (¼ t) sout
30 ml (2 e) gladde appelkooskonfyt
250 ml (1 k) natuurlike jogurt
15 ml (1 e) appelasyn
STROOP
80 ml (⅓ k) bruinsuiker
4 sakkies vanielje of Earl Grey-rooibostee van Carmién
250 ml (1 k) volroommelk
60 g botter

Spuit die silikonpan met kossproei (jy kan 6 kleiner oondvaste bakkies of ramekins ook gebruik, maar ek het dit nou nie in die Airfryer getoets nie)
1 Pak die skyfies appel onderin die pan.
2 BESLAG Klits die eier en suiker saam tot goed gemeng.
2 Sif die droë bestanddele direk in die eiermengsel in en meng.
3 Roer die konfyt, jogurt of karringmelk, en asyn by en klits tot glad. Meng die blokkies appel by.
4 Giet in die voorbereide pan.
5 Verhit die Airfryer tot 180°C (dit neem minute) en plaas die pan in die Airfryer se laaitjie, sonder die rakkie. Bak sowat 20–25 minute of totdat ‘n toetspen skoon uit die tert kom. (Die koek is geneig om effe donker van bo te bak, so my voorstel is om dit so halfpad deur die baktyd met ‘n velletjie tinfoelie te bedek)
6 STROOP Plaas die suiker, teesakkies en melk in ‘n kastrolletjie en bring stadig tot kookpunt, roer tot die suiker opgelos is en laat 5 minute prut. Druk al die vloeistof uit die teesakkies en verwyder die teesakkies. Voeg die botter by en meng tot gesmelt.
7 Giet die warm stroop oor die poeding(s) sodra die poedings uit die oond kom. Dien op met roomys vir poeding of skeppies ekstra jogurt vir by tee.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: