Beurtkrag gaan nog vir lank met ons wees, want die probleme met elektrisiteit gaan allermins oornag verdwyn. Ons het dus geen keuse as om na alternatiewe kragbronne te kyk nie. Op die lang termyn gaan dit nie nou net meer oor lig nie, maar ook hoe gemaak in die kombuis as dit by kosmaak kom.
By ons huis het ons aanvanklik batterye gebruik, maar aangesien ek taamlik bak en kook, het die lang ure sonder krag my produktiwiteit redelik ingekort. Laas naweek is ons sonkrag/batterystelsel geïnstalleer en as ons alles mooi bestuur, gebruik ons nou minimum Eskomkrag. Dit vra natuurlik nou ‘n bietjie dinkwerk en goed meet en pas oor wat jy alles op een slag aan kan hê en ook dat jy meeste werk wat heelwat krag oor ‘n langer tydperk benodig, tydens 10 en so 3 of 4 uur se kant in die dag inpas.
In die nuutste Tuis-tydskrif van Mei/Junie 2023 is daar ‘n goeie inliggewende artikel oor beurtkrag – jou tienpuntplan. My oog val op die planne vir die kombuis. Huishoudelike toestelle soos oonde gebruik baie krag – wat beteken selfs al is jou rugsteunstelsel sterk genoeg om jou oond aan te sit, gaan dit die batterye baie vinnig uitput. Daarom kies meeste mense om van meet af oonde (asook warmwaterstelsels) heeltemal uit die prentjie te hou as hulle na alternatiewe kragbronne kyk. Gasbranders bly die heel maklikste oplossing om die pot letterlik aan die kook te hou. Baie mense, ek inkluis, het deesdae stowe met gasbranders maar steeds ‘n elektriese oond. Stowe wat geheel en al gas is, is ook ‘n opsie, maar ek kon nog nie genoegsame inligting bymekaar kry om die uitwerking, veral op bakwerk, te verstaan nie.
Tot tyd en wyl, bly ‘n lugbraaier (Airfryers) vir my ‘n gawe oplossing. Die toestel kan jy met gemak gebruik met rugsteun-batterye (en sonkrag) as energiebron. Hou maar net in gedagte om jou krag goed te bestuur en nie te veel ander toestelle soos ‘n ketel, tuimeldroër, wasmasjien en mikrogolfoond terselfdertyd te gebruik nie. Afhangende van die sterkte van jou kragbron, wil dit vir my voorkom asof so 3 toestelle wat gesamentlik aan is, werk. So my nuutste missie is nou om die Airfryer in te span om in te bak. Ek het dadelik gaan kyk na watter bestaande bakpanne ek het wat ek daarin sal kan gebruik – My Instant Vortex 6 Airfryer van 5,7 liter gebruik so 1450-1700 Watt. In sy laaitjie pas ‘n 20 cm-losboomkoekpan gemaklik. Dis daarin waarin ek besluit om my hoenderpastei te bak.
Broccoli-hoenderpastei
Die resep is geskoei op die gewilde broccoli-hoenderresep van destyds wat onder andere ook ‘n blik sampioensop ingekry het. Om dinge vir my nog makliker te maak, het ek sommer ‘n klaargaar rotisserie-hoender by die supermark gekoop. My huismense het gesmul.
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 20min
Gaarmaak: 20 min
1 ui, gekap
1 rooi soetrissie, ontpit en gekap
3 knoffelhuisies, fyngedruk
olie
125 g sampioene, in skyfies gesny
1 heel hoender, alle bene en vel verwyder en in stukkies gesny
1 kop broccoli, in stukkies gesny
Hoenderspeserye en groentespeserye na smaak
Handvol basilieblare
180 ml (¾ k) volroommelk
30—45 ml (2—3 e) mielieblom
4 velle filodeeg
Kossproei
1 Braai die ui, soetrissie en knoffel in bietjie olie in ‘n pan oor ‘n gasbrander tot net sag. Voeg die sampioene by en braai tot effe sag.
2 Roer die hoenderstukkies by en braai 2—3 minute lank.
3 Voeg die broccoli-stukkies by en meng deur. Geur na smaak met hoender- en groentespeserye en voeg ook die basilieblare by. Verhit tot die broccoli net effe sag, maar nog baie bros is.
4 Meng die melk met die mielieblom en roer by die hoendermengsel in. Roer tot die mengsel kook en effe verdik.
5 Spuit intussen elke vel filodeeg met kossproei en pak opmekaar. Plaas in ‘n 20 cm-losboomkoekpan wat goed met kossproei gespuit is sodat die kante van die velle deeg oor die rante hang.
6 Skep die vulsel in die deeg.
7 Vou die oorhangstukke deeg toe oor die vulsel. Spuit goed met kossproei.
8 Stel die Airfryer op bak en verhit tot 180°C (dis binne minute gereed).
9 Plaas die pan met hoender in die Airfryer en bak 20 minute of tot die deeg goudbruin is bo-op en die vulsel lekker warm is.
10 Verwyder die pan uit die Airfryer en ontvorm op ‘n dienbord.
11 Sny in skyfies en sit voor saam met slaai.