Teen die Weskus is die weer nou koeler en die dae meestal windstil. Skemeraand kan jy jou verkyk aan die mooiste sonsondergange. Dis dan wanneer ons graag saam met ‘n paar vriende op die stoep kuier en ons vergaap aan die son wat sy laaste strale oor die meer gooi voor dit in ‘n diep oranje stralekrans agter die horison verdwyn. Soos altyd sal ons ‘n wyntjie oopmaak, Piekenierskloof van die familie-kelder natuurlik, en stadig daaraan teug terwyl ons ‘n paar versnaperinge geniet.
Vir ietsie te ete bak ek graag ‘n broodjie van een of ander aard. So einde Maart, wanneer parstyd verby is, is dit gepas om ‘n oesbrood te bak. Gewoonlik kry dit rosyntjies binne-in die brood om die ou seisoen te gedenk en vars druiwe bo-op om die nuwe seisoen te vier. Heerlik saam met die vinkelsade en pekanneute wat jy ook bo-oor sprinkel. Goeie olyfolie en balsamieke asyn (met ‘n 4% suurgraad) is meer as genoeg om die stukkies brood wat jy sommer self afbreek, in te doop.
Vir nog iets te peusel, maak ek ook graag ‘n paar frittata-tertjies en ‘n fluweelgladde tamatiesop wat ek sommer in ‘n teepot giet en vir elkeen klein koppietjies vol daarvan skink. (Die resepte hiervoor is te kry in my boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid).
MAKLIKE OESBROOD
Pleks van die gewoontelike swaarder oesbrood met sy laag rosyne in die middel, klop ek ‘n deegbeslag pleks daarvan om dit te knie – maklik, maar ook ligter van tekstuur omdat dit redelike rysgate het. Maar die groot lekkerte is die varsheid wat die druiwe saam met pekanneute en vinkelsaadjies daaraan verleen. Geniet dit saam met geroomde maaskaas met feta-kaas of andersins slegs die olyfolie en balsamieke asyn.
Kitswenk: ek koop ook soms ‘n pak brooddeeg by die winkel, druk dit plat uit en gaan verder te werk volgens die resep.
Bereiding: 20 min
Rystyd: 1½ uur
Baktyd: 15 min
BROOD
250 g klipgemaalde witbroodmeel of helfte bruinbroodmeel
2,5 ml (½ t) strooisuiker
7,5 ml (1½ t) kitsgis
200 ml louwarm water
45 ml (3 e) olyfolie plus ekstra vir bo-oor verf
BOLAAG
1 tros vars druiwe
50 g pekanneuthalwes
15 ml (2 e) vinkelsaad
2,5 ml (½ t) seesoutvlokkies
10 ml (2 t) strooisuiker
VOORSIT
230 g geroomde maaskaas
1 blok fetakaas (met olywe indien verkies) sonder pekel
Goeie balsamieke asyn en olyfolie indien verkies
1 BROOD Plaas al die bestanddele buite die ekstra olyfolie saam in ‘n groot bak en klop goed met ‘n houtlepel tot goed gemeng en glad (die kan jy ook in ‘n elektriese menger met ‘n deeghaak doen), nie nodig vir knie. Maak die bak toe met ‘n doek en laat rys vir 1½ uur.
2 Voorverhit die oond tot 250°C. Plaas ‘n vel bakpapier op ‘n groot bakplaat en bestuif met meel.
3 Plaas die deeg sagkens op die bakplaat en druk effens sodat dit uitsprei na die kante. Laat 20 min rys.
4 Verf liggies met ekstra olyfolie, druk die druiwe en neute vas in die deeg en sprinkel die sout en strooisuiker oor. Bak 15 min lank tot effe bros en gaar.
5 VOORSIT Krummel die fetakaas en roer by die maaskaas in. Sit ook voor met balsamieke asyn en olyfolie.