Soos ek verlede week genoem het, lees ek deesdae nogals baie op oor kosse wat goed is vir jou “gut” oftewel spysverteringstelsel, want solank jy jou derms gelukkig hou, verhoed jy dat inflammasie opbou en voel jy sommer perdfris en propvol energie.
Lensies is geen vreemdeling vir meeste van ons nie en is al van die vroegste tye deel van die daaglikse spyse – die bekendste seker maar Esau se pot lensiesop uit die Bybelse tyd. Maar met lensies kan ons deesdae veel meer vermag as bloot net sop kook. Ek maak onder andere die lekkerste bobotie-resep met lensies (tot my man wat ‘n vurige vleiseter is, het daaraan gesmul – die resep daarvoor kan jy in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, kry) en ek span dit baie gereeld in vir slaai.
Jare terug het Jacques Erasmus vir my die lekkerste der lekker lensieslaai gemaak met vars pruime in met piekelgemmer en gekapte koljanderblare wat hy by die lensies inmeng saam met ‘n heerlike vars slaaisous. Die resep pas ek deesdae op allerlei maniere aan en het dit selfs nou die dag voorgesit aan ‘n groep Japanese teekopers wat aangesit het vir ‘n Suid-Afrikaanse braai en het hulle nou lekker gesmul.
Gebruik vars bestanddele soos wat in jou yskas beskikbaar is. Die slaaisous slaan ek deesdae sommer vinnig aanmekaar met ‘n boegoe-rooibostee (Rescue van Carmién Tea) wat perfek is om ontslae te help raak van toksiene in jou sisteem en ook om waterretensie teen te werk. Helfte van die slaaisous giet ek oor die warm lensies om geur daaraan te gee, en die res sit ek apart saam met die slaai voor.
Vir die Japanese het ons die tafel dramaties gedek met die rooi turksvy-tafeldoek uit my Carmen Niehaus Hausware-reeks wat by Swier beskikbaar is en het dit nou nie komplimente uitgelok nie! Kyk ook op die Carmién-webtuiste vir nog Carmen Niehaus Hausware soos teedoeke (wat ek ook as oorgroot servette inspan) asook die nuutste – die pragtige, veelsydige en stewige koelsak!
LENSIESLAAI
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 30 min
SLAAISOUS
80 ml (⅓ k) olyfolie
250 ml (1 k) groen rooibostee met boegoe, gemaak met 3 sakkies (ek gebruik Carmién Tea se Rescue)
Sap en fyngerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen
30-45 ml (2-3e) ongefilterde appelasyn
1,25 ml (1/4 t) seesoutvlokkies
30-45 ml (2-3e) heuning
SLAAI
750 ml (3 k) gaar bruinlesies
Groot handvol piekelgemmer, gekap
1 klein rooikool, in dup repies gesny
1 rooi ui, in dun skyfies gesny
2 wortels, grof gerasper
Handvol spinasie, grof opgesny of baba-spinasie
Halwe kop broccoli, in klein blommetjies gebreek
1-2 appels, in stokkies gesny
60 ml (¼ k) bosbessies of gekapte dadels (ek gebruik Medjool)
Groot handvol gekapte kruie soos ment, tiemie, pietersielie en koljander (ment veral lekker)
80 ml (⅓ k) geroosterde sonneblomsade
60 ml (¼ k) grofgekapte pekanneute
1 SLAAISOUS Meng al die bestanddele saam.
2 SLAAI Skep die gaar, warm lensies in ‘n slaaibak en giet helfte van die slaaisous oor. Laat afkoel. Meng die piekelgemmer by.
3 Pak die, ui, wortels, spinasie, broccoli en appels in hopies bo-op en sprinkel die bosbessies of dadels, kruie, sade en neute oor. Sit voor saam met die res van die slaaisous.