Lekker & Goed – dis (amper) hier!

Uiteindelik is die lang wag verby en kan ek die eerste kopie van my nuutste boek, Lekker & Goed styf teen my vasdruk. Versigtig nou, want die blaaie is handgebind en die voorblad nog nie eers gelamineer nie. Uiters spesiaal vir my! Julle sal straks dink dat ek nou na al die jare en vele boeke al gewoond moes raak hieraan. Maar geensins is dit die geval nie. Telkens is dit vir my ‘n traanafvee oomblik om te aanskou waaraan ek nou bykans ‘n jaar lank onverpoos en bitterlik hard gewerk het. Lang ure voor my rekenaar tot diep in die nag, skryf en herskryf, resepte insit en uithaal, toets en weer toets, net om seker te maak dit wat ek nou beet het, is reg. En toe die fotografie, die uitpak van die mooie handgemaakte keramiekware van Mervyn Gers saam met my bestaande props wat ek oor jare versamel het, die lappe uit my Carmen Niehaus Hausware Kollection en blommetjies uit my tuin. Sorgvuldig kies ek die geregte wat sal pas by elk. My geoefende assistent van Huisgenoot se jare, Waleed Alexander is agter die stoof en my jarelange fotograaf, David Briers agter die kamera. Hoe gelukkig kan mens wees. ‘n Telefoonoproep ver, die bekwame bladuitlegkunstenaar, Helen Henn, wat moet leiding gee of ‘n foto pas op die blad aldan nie. Ons skuif hier, ons skuif daar, beurtkrag blus nie eers ons gees en spoed nie.

Lekker & Goed is my tong-in-die-kies-naam wat ek gekies het vir ‘n resepteboek gelaai met lekker resepte wat ook gesonder is, want meeste mense lief mos lekkergoed en soetgoed, so waarom dan nie ook lief wees vir geregte wat lekker en goed is vir jou nie. In geen opsig is dit ‘n dieetboek propvol moets en moenies nie. Dis die een resepteboek wat ek nog altyd graag wou uitgee en waarvoor ek al jare lank resepte bymekaarmaak, ontwikkel en uittoets. Nog altyd was dit my grootste uitdaging om deursnee Suid-Afrikaners touwys te maak oor hoe lekker dit kan wees om gesonder te kook. Want menige dag, selfs in my dae as kosredakteur, is daar neusoptrek gekyk as ek aan ‘n storie gewerk het oor gesonder resepte. Dit was egter van korte duur net totdat hulle die kos geproe het. Vir eens en vir altyd wil ek die juk wat gesonder kos nou al vir so lank dra as sou dit geurloos en nie lekker wees nie of selfs duur wees, afgooi en verkeerd bewys.

Die resepte in hierdie boek is ‘n konglomerasie van nostalgiese resepte waarmee ek opgegroei het en waarna ek terughunker, nou net gesonder gemaak; ander meer moderne maniere van kook met inspirasie verkry uit letterlik die honderde resepteboeke wat my hele huis vol staan, veral die vars Mediterreense kookstyl en malse Midde-Oosterse geure geval my en is ek veral ‘n groot aanhanger van die befaamde restaurateur en kookboekskrywer, Yotam Ottolengi. Aan baie resepte het ek oor jare getimmer tot ek gevoel het, die verhoudings is nou reg – gelukkig het ek ‘n wetenskap-agtergrond so dit het baie gehelp in die ontwikkeling, aanpassing en uittoets van die resepte. Baie probeerslae het in die drom beland, ander het die toets deurstaan. My huismense moes maar geduldig proefkonyn speel. Omdat ‘n mens so graag jou geliefdes met soetgoed bederf, het ek veral gepoog om dit gesonder te maak met minder suiker en vet sodat mense nie ingedoen voel nie.

In my ontdekkingsreis na gesonder kook het ek die wonderwêreld van Suid-Afrika se eiesoortige produk, rooibostee, ontdek. Dis veral Carmién Tea met hul unieke rooi en groen rooibosmengsels gekombineer met natuurlike geurgoed, speserye, kruie, blomme, vrugte en ander botanicals wat my beïndruk het. Dit het in ‘n groot mate my speserykas in ‘n teesakkie geword, want dit kan op soveel maniere ingespan word om goedheid en spesiale geure aan kos te verleen wat jy nie andersins sou kon verkry nie. Met Carmién Tea se rooibostees kon ek toe ook my eiesoortige slaaisouse ontwikkel wat nie net heerlik gegeur is nie, maar ook veel minder olie en suiker as gewone slaaisouse bevat – unieke produkte soos woudbessies (forest berries), boegoe en bergamot maak nou deel uit van hierdie slaaisouse. Daarmee saam ‘n spesiale reeks soute, soos braaisout, masala chai en fynbos, gemaak met die Weskus se eie sout en groen rooibostee saam met ander unieke speserymengsels. Dit span ek deesdae ruimskoots in wanneer ek kosmaak.

Ek was nog nooit een wat spesifieke kosgiere slaafs nagevolg het nie, maar al die verskillende eetpatrone het my oor die jare interresseer en lees ek graag meer daaroor op. En hoe meer ek gelees het, hoe meer het dit my verwar, want nog nooit het ek soveel weerspreking teëgekom in die koswêreld soos nou nie. Daarom het ek dit goedgedink om ‘n dieetkundige te raadpleeg om alle voedinginligting wat ek hier neergepen het met ‘n arendsoog deur te gaan om toe te sien dat alles korrek is. Hier is dus ook heelwat resepte vir van lae koolhidraat tot glutenvrye en vegetariese geregte. Ekself neig na ‘n flexitariër, want vir dae lank kan ek lewe op geurige vegetariese geregte en veral groentegeregte, maar geniet ook ‘n vleisie op sy tyd.

Ek hoop jy put hope inspirasie en baie genot daaruit om uit dié boek te kook, so kry nou jou kopie.

Die boek is beskikbaar by alle goeie boekwinkels onder andere Bargain Books, Exclusive Books, Wordsworth Books, PNA, Graffiti Books & Stationery, The Book Keeper Shop, Takealot en Loot asook direk op LAPA se webtuiste. Hou ook die Carmién-webtuiste dop vir dié boek saam met ander verrassings wat jy kan aankoop.

Voorafbestellings is beskikbaar by Bargain Books, Exclusive Books, Wordsworth Books, PNA en Graffiti Books & Stationery.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: