Stadig maar seker word die weer warmer aan die Weskus en op die Langebaanmeer maak die bote weer hul verskyning. Ons hengel meestal op die Langebaanmeer en was al aangenaam verras met ‘n almintige vis of twee wat ons al uitgetrek het. Maar stompneus, die mees algemene vis in die meer, is ook meer dan goed. Die vars vissies gooi ons meestal op die kole en die res se velle trek ons af met ‘n tang, sny dit in mote of filette en vries dit dan. Ideaal vir panbraai of oond toe gaan.
As ek dit panbraai, sny ek ‘n goeie klompie uie en knoffel in die pan saam met olie en botter en braai dit tot lekker sag. Die stukke vis rol ek in gegeurde meel en braai dit dan saam met die gesmoorde uie tot net gaar en die vleis net wit en vlokkig is. Heerlik saam met klein aartappeltjies.
OONDGEBAKTE VIS IN ROMERIGE TAMATIESOUS MET SPEKVLEIS
Stukke vis of selfs ‘n heel vis is heerlik as dit in ‘n romerige tamatiesous gaarbak. Brosgebraaide spekvleis smaak hemels hierby.
Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaak: 15 min
125 g spekvleis, in stukke gesny
125 g kersietamaties
Sout en peper na smaak
30—45 ml elk (2—3 e) botter en olie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 kg vismote of filette (jy kan bevrore vis ook gebruik)
Sap en skil van 1 suurlemoen
Sout en peper na smaak
125 ml (1 k) room
15 g tamatiepasta
3 ml (ruim ½ t) gekapte roosmaryntakkies
Italiaanse pietersielie vir oorsprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C.
1 Pak die spekvleis en tamaties op ‘n bakplaat en bak tot die spek bros en die tamaties net-net wil begin oopbars, so 10 minute. Geur die tamaties met sout en peper. Hou eenkant.
2 Verhit die botter en olie in ‘n pan wat ook kan oond toe gaan en braai die knoffel daarin tot sag.
3 Geur die vis goed met sout en peper en sprinkel die suurlemoenskil oor.
4 Plaas in die pan, en braai tot net effe bruin alkant, maar nie gaar. Giet die suurlemoenskil oor.
5 Meng die room en tamatiepasta, voeg die roosmaryn by, geur met sout en peper.
6 Giet oor die vis, voeg die tamaties en spek by en plaas in die oond.
7 Bak sowat 10-15 minute tot die vis maklik kan vlok met ‘n vurk en nie meer glaserig is nie. Sprinkel Italiaanse pietersielie oor.
8 Sit voor saam met varsgebakte brood of aartappeltjies en ‘n vars groen slaai.
Wenk: Vir heel vis, maak die vis goed skoon, skraap die skubbe af en sny ook die vinne af. Behou die kop en stert. Gaan verder te werk soos beskryf.
Variasie: MEDITERREENSE TAMATIEVIS MET FETA
Braai 1 ui en 2 knoffelhuisies in olie tot sag. Voeg ‘n blik gekapte tamaties, 60 ml (1/4 k) tamatiepasta, 125 ml (1/2 k) wit wyn en groot handvol gekapte kruie soos pietersielie, oregano en roosmaryn by en prut tot geurig, so 10 minute. Voeg 30 ml (2 e) kappertjiesaad, 3 ansjovisfilette en 10 swart olywe by. Giet oor die vis, sprinkel ‘n goeie klompie feta-kaas oor en bak tot die vis gaar is.